Volg ons op Facebook

'n Reis na groener weivelde

Written by  Staff
| in Dorp
| August 5, 2014

Dis bibberend koud toe ons die dag die pad Bredasdorp toe vat.

Ons vat die pad oor Sir Lowry’s Pas, en kort duskant Botrivier word ons ingesluk deur die Overberg se golwende landskappe, kanariegeel kanola en grasgroen koringlande.
          Die winterlammers is al stewig op hul voete, en kuddes staan en herkou in die bietjie son wat daar is. Ons probeer tussen vinnig bewegende wolke die lig in foto’s vasvang, maar dis n vergeefse taak.
Wintertyd is tyd vir mense op die platteland wat heel jaar hard werk om ’n vakansie te vat. Talle winkels is gesluit in prentjiesmooi Napier. Die eienaars weg op welverdiende vakansies. Asemskep en vere regskud vir die seisoen wat voorlê.  
        Want somermaande is ’n ander storie. Dán stroom toeriste na die omgewing om die mees suidelike punt van Afrika by Kaap Agulhas te besigtig, te gaan visvang op
bredas1Struisbaai, of Waenhuiskrans, andersins bekend as Arniston, te besoek.
        “Mens sal seker nooit in ’n verkeersknoop sit in dié deel van die wêreld nie;” dink ek by myself toe ons in Bredasdorp aankom.
        Maar kom September, dan is al wat ’n boer en ’n verskaffer is, egter op Bredasdorp vir die groot Agri Mega week. Hierdie jaar word die wêreld se eerste Dorper-kongres aangebied. Die Nasionale en Witdorper Kampioenskappe word ook tydens dié week aangebied. (Sien kalender op die laaste bladsy van Plaastoe!)
        Ek is nuuskierig om te sien hoe dié dorp aan die uitbrei is, en kan Pa staan vir so ’n groot geleentheid. Daar is ook aan die einde van Junie maand ’n perdeuithourit gehou genaamd die “Tip of Africa Endurance Race”.
        Bredasdorp self spog met een van die mees bekoorlike kerkies wat ek nog gesien het. Die klein Anglikaanse kerkie, in 1863 gebou, staan steeds sterk teen wind en weer, ’n toevlugsoord vir gemeentes deur die eeue.
        Die Overberg Distriksmunisipaliteit is in Bredasdorp gesetel. Danksy sterk onlangse groei spog die dorp nou ook met met ’n nuwe inkopiesentrum, en takke van die mees bekende kettingwinkelgroepe. Ook landbougroepe soos Kaap Agri, wat onlangs sy tak se deure geopen het.
        Hier kry mens steeds jou goeie dorp-slaghuis, en vars groente - vanoggend nog gepluk -  staan die rakke vol by die plaaslike mark. En op dié dorp groet mense mekaar nog op die voornaam, en besighede bly geslagte lank in families. Amper soos plase.
bredas4        Die Agulhas-plein is welbekend vir sy fynbos-biodiversiteit, en so gaan kuier ons by Tolbos Farm/Floraland Fresh. Soos die meeste ander boere, is die eienaar, Dennis Visser, tans besig om ’n welverdiende blaaskansie voor die oes te geniet. Maar sy entoesiastiese plaasbestuurder, Chris Watson, willig in om ons gids te wees. Chris is duidelik ’n man wat sy werk ken en lief is daarvoor. Floraland Fresh kweek reeds meer as twintig jaar proteas, tolbosse en speldekussings vir die uitvoermark, en het tans 30 ha se boorde onder verbouing. Hulle is die land se voorste produsent van speldekussings, en het selfs ’n paar van hulle eie kultivars ontwikkel. Hul het ’n sterk omgewingsetiek, en alles wat gepluk word, word gebruik. Indringerbestryding vind op ’n gereelde grondslag plaas. Skoongemaakte veld word met fynbos teruggesaai.
        ’n  Nuwe ontwikkeling is die aanplant van tien hektaar heuningbos-tee, met ’n verwerkingsaanleg in die pyplyn. Ek was baie beïndruk deur Chris se “common sense”-benadering tot boerdery, en hulle uiters doeltreffende metodes – soos byvoorbeeld die aanplant van blom-kultivars wat op verskillende tye van die jaar geoes kan word, en sodoende verseker dat produksie ononderbroke kan voortgaan.
           Kevin Snyman van die plaas Vierfontein naby Napier is nog een van die streek se innoverende boere. Hy het nuwe gewasse soos vye, granate en wingerde hier gevestig. Vierfontein verbou die Evita vye-kultivar – ’n soet, persswart vy wat vir die uitvoermark bestem is, maar ook plaaslik aan Woolworths verskaf word. Ander gewasse soos proteas en Rhône-tipe-wyn-druifkultivars word ook verbou om te verseker dat tien maande uit elke jaar op Vierfontein geoes kan word.
bredas2        Vierfontein moet nog sy eie kelder kry. Op die oomblik word hul wynmakery uitgekontrakteer. Hul eie Mèthode Cap Classique (MCC), ’n versnit van chardonnay en pinot noir, gaan eersdaags bekend gestel word. Vierfontein se planne sluit ’n bemagtigingsprojek vir sy werkers in. Die Napier Workers’ Trust is reeds op die been, en 25 hektaar is geoormerk vir die bemagtigingsprojek. Wat die projek interessant en volhoubaar maak, is dat dit as ’n “gesamentlike onderneming” tussen die gevestigde plaas en sy werkers aangepak word. Vierfontein en die werkers sal saam die onderneming besit. Nuwe werksgeleenthede sal ook geskep word.
        Dan is daar Elim. ’n Weggesteekte klein nedersetting met kleurvolle huisies langsmekaar ingeryg op sy hoofstraat, ’n geproklameerde nasionale monument. Op die voorstoepies is die stowwerige chaos van padwerke aan die ou grondpad wat binnekort geteer sal wees al die pad Gansbaai toe.  Die kerk staan groot en imposant in die middel van die dorp, die oorsprong en spilpunt van die nedersetting en sy mense.
        “Toeriste kom gereeld in busse hier aan,” sê Emil Richter. “Sodra die teerpad voltooi is, hoop ons egter om heelwat meer besoekers te kry”. Emile is toergids, meule-operateur, agent vir rietdakdekkers, entrepreneur, bakker en kenner van alles Elim. Vriendelik en entoesiasties kry hy die meul aan die gang om te wys hoe dit werk terwyl hy dié se storie vertel.
        “Dié besondere meul is in 1824 gebou, en is een van die laaste van sy soort in die land. Reeds in 1974 as ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar, het die meul vir jare lank in ’n uiters verwaarloosde toestand gestaan, totdat dit danksy ’n skenking van die Rupert Foundation uiteindelik tot sy vorige glorie herstel kon word”.
          “Nou wat doen mense vir ’n lewe in Elim?” vra ek. “Omtrent 75% van die mans in die dorp is rietdakdekkers.” Ek kyk op en kom agter dat die mooi huisies inderdaad indrukwekkende dakke dra. Later vind ek uit dat Elim se mense wyd bekend is as vakkundige dekkers. Ondertussen gee Emile prontuit vir my ’n kaartjie met hul kontakbesonderhede. “Ons werk enige plek in die land en sal jou dak kom dek waar jy ookal is”. Tot my verbasing hoor ek dat die gras wat hulle gebruik van bredas3Calvinia af kom. Ek spreek rietdakdekkers vinnig uit en dink ek moet dit onthou wanneer ek ’n woord soek om my tong los mee te kry.
         Daar is ook ’n Elim-wynroete wat kronkel deur die fynbos met die berge wat ver in die agtergrond lê. Name soos Strandveld Wines, Home of First Sighting, Black Oystercatcher, The Berrio, Jean Daneel naby Napier se name duik op wanneer oor die streek se unieke terroir en sy wyne gepraat word.  
        Na ’n paar dae van rondry, baie koudkry en aande ompraat langs die kaggelvuur van ons oorblyhuisie se kombuis, is dit weer tyd om die terugpad te vat. Dié keer kuslangs om, oor Stanford. En ek sit so en dink by myself “groener weivelde is net minder as ’n dagrit ver ...”