Volg ons op Facebook

Montagu, O Montagu!

Written by  Debbie Loots
| in Dorp
| October 8, 2014

Dit is spesiaal om laat op ’n Sondagmiddag in Montagu aan te kom. Dalk is dit die onwerklike prentjie van die swerm skreeuende Ibis-voëls wat in ’n hoë boom op die dorp nesmaak, of dalk is dit die imposante NG-kerk se klok wat elke halfuur lui om die dorp se mense by groot, oop deure in te nooi.

         Of miskien is dit die lug wat pienk raak soos die son agter die dorp se Langeberge in die verte sak. Hoe dit ook al sy, om laat op ’n Sondagmiddag in Montagu aan te kom is spesiaal.
        Alles wat mens in die lewe nodig het, is op Montagu. Regtig. Die mooiste Victoriaanse en Kaap-Hollandse huisies pronk in rye af al langs die breë strate. Die gewilde R62 loop deur die dorp Barrydale en Ladismith toe, die pad wat reisigers weglei van die soete Muskadel wat soos die dorp ’n soete nasmaak in die mond laat wanneer jy hom vat. Dan is daar gedroogde vrugte,  warmwaterbronne… en nog vele meer.
        Die Langeberge is ver genoeg uit die dorp om jou nie engtevrees te gee nie, jy’s in die lieflike Karoo die oomblik as jy deur die gat ry wat Thomas Bain in 1877 deur die berg laat skiet het om Montagu meer bereikbaar van die Kaap af te maak. Daar is bloeisels op al die perske- en peerbome wat in pienk en wit stroke reg rondom die dorp lê.
        Dis steen- en kernvrugte wêreld dié. Met volop son en water, danksy die twee riviere, die Keisie en Kinga, is die klimaat geskik vir  verskillende boerderye, en hier word ook met alles geboer; die boere hier is nie bang nie.
opreis-montagu        Die Koo-vallei is noord van die dorp geleë, bietjie hoër op, en loop oor van appels, pere en selfs perske- en appelkoosboorde wat eintlik laer in die vallei aard omdat dit warmer daar is.   Wingerde is volop hier, en sitrusboerdery is ook besig om al hoe meer uit te brei. Om nie te praat van soetrissies, brandrissies, pampoene en byeboere nie.  
        In die klein restaurantjie, Ye Olde Tavern, hoor jy alles oor Montagu se doen en late. Ek is blykbaar ’n week te vroeg aan die kuier hier, die mense sê ek gaan die groot Montagu Makiti-fees mis wat die volgende naweek gebeur, en ek is jammer. Want van olywe en muskadel proe, tot ’n uitstappie op ’n plaastrekker en selfs ’n kattebak-uitverkoping by die museum, word belowe.
        Gelukkig is hier ander lekker goed om te doen. Soos rotsklim byvoorbeeld. Hulle sê jy hoef nie die wêreld se beste klimmer te wees om Montagu se groot verskeidenheid rotswande aan te durf nie. Ervare, plaaslike klimmers maak jou gou touwys, letterlik! Rotsklim is nie my ding nie, maar ek sal beslis kom fietsry hier.  Agrimark se bestuurder op die dorp, Frans Louw, is ’n kranige bergfietsryer en hy sê jy klim net op, vat die naaste grondpad, en jy sal vir lank die berge en dale om die dorp kan verken.
opreis-montagu2        Omdat hy in ’n kloof geleë is, was Montagu vir baie jare redelik afgesonder. Voor die pad deur Cogmanskloof in 1877 voltooi is, het mense met ossewaens agt keer die rivier oorgesteek voor hulle die berge moes trotseer om maande later hulle gedroogde vrugte in die binneland te kon verkwansel. Montagu het toe bekend gestaan as die dorpie agter die
Cogmanskloof.
opreis-montagu3        Omdat die grond so vrugbaar is, het al hoe meer boere hulle hier kom vestig en van die omgewing se kruie as medisyne gebruik omdat dit so lank gevat het vir ’n dokter om in Montagu te kom. Vandag is daar ’n kruietuin agter die oudste huis op die dorp, Huis Joubert (1853), aangelê en is van die omgewing se gedroogde kruie daar te koop. Buiten die pragtige, gerestoureerde kamers, is die versameling antieke, handgemaakte en genommerde porseleinpoppe in die huis veral indrukwekkend. Elke detail van hulle klere is histories korrek, self onderklere en skoene!
        Genoeg dorpspraatjies, dis nou eers tyd om uit te wyk plaas toe, en te gaan kuier by Kierie van Deventer en sy seun JT. Hulle spog nie net met ’n steen- en kernvrugtekwekery nie, hulle boer ook met pere, perskes, appelkose, pruime, amandels en vye. Maar ek is hier om meer te leer oor die brandrissies waarmee hulle vier jaar gelede begin het.
opreis-montagu4        Ek het nooit geweet ’n rooi brandrissie begin sy lewe as n groen jalapeno nie. En, dat as hy volgroei is en begin verouder, en nie gepluk word nie, dat hy dan rooi en geweldig warm raak. Ek weet wel die vet, oranje habanero is ’n rissie wat sommer vir homself voorbrand maak. Hy’s in sy eie klas. Hiervan plant JT-hulle maar min aan.
Maar, JT wil nie hê te veel jalapeno’s moet rooi raak nie, want die rooi-mark is op die oomblik ’n bietjie swak.
        “Jalapeno’s is ons eintlike ding,” vertel hy. “Verlede seisoen het ons so 60 ton groenes gelewer en van die rooies, seker net so 10 ton.”
        Hy sê om brandrissies te kweek, is maklik. Kunsmis is belangrik, maar daar word nie veel gespuit nie – nou en dan ’n insek- of  ’n swamdodertjie. Maar mens kry tog jou voor-op-die-wa bolwurm wat dink ’n habanero is lekker kos.
         Plastiekseile word op die land gebruik om die jong plantjies teen onkruid te beskerm omdat daar min geregistreerde chemikalieë vir brandrissies is.
        “Maar ons hou hom gesond,” sê hy. “Ons gebruik nie elke keer dieselfde stuk grond nie, daar’s eers ’n rustyd. Ons plant elke eerste September, en nou ja, dan is  dit kos en water gee, aanmekaar, en pluk, aanmekaar. Hoe meer jy pluk, hoe meer blom hy. Dan is dit bietjie voeding spuit dat hy vinnig kan grootraak. Ons oes een maal ’n week van Desember tot Junie.”
        Vanaf die tweede week in Desember lewer hulle by die Bushman’s Chilli Company in die Kaap af, elke week, waar die jalapeno’s ingelê word om chilli poppers en souse mee te maak. Habanero's word in vate verouder vir souse.
        Sjoe, na al die brandrissiestories is dit tyd vir ’n ou soetrissietjie, en ek gaan maak ’n draai by Koos Hugo op sy familieplaas, Rietvlei. Ek is veral nuuskierig om sy spoggerige nuwe tonnel wat hy spesiaal vir sy soetrissies gekoop het, te bekyk. En ek was nie teleurgesteld nie.
opreis-montagu6“Ons het so sewe jaar gelede met groenrissies begin boer, en doen ook bietjie geles en rooies, en die kleiner sweet baby peppers,” vertel Koos.
        Met dié dat sonbrand hulle grootse risiko is, het hulle onlangs ’n tonnel uit Kanada vir die rissies laat opsit, die eerste van sy soort in Afrika.
        Die tonnel is van ’n digte plastiek gemaak en baie warmer as hulle nethuis, wat winterproduksie nou moontlik maak. Die tonnel en nethuis beslaan elk 2ha terwyl die oop grond 6.5 ha is.
        “Die rissiemark is baie klein en mens voel die skommelinge, dis daarom goed om aan ’n groot supermark soos Freshmark te verskaf,” sê Koos.
        Wat van besproeiing? “Freshmark het redelike streng standaarde. Ons voer nou predatoriese insekte in deur ’n oorsese maatskappy, in plaas daarvan om ons landerye chemies te behandel. Insekte word vrygelaat en beheer die plantetende insekte. Party kom in eierstadium hier aan en die oomblik as hulle hitte kry, broei hulle uit. Mens kry dieselfde vir swamme.”
        Dit is maklik gedaan in sy tonnel en nethuis, maar moeilik vir die oopland-rissies want mens verloor die insekte deur die wind. “Maar, ons spuit glad nie meer nie, en pluk nou die heel jaar soetrissies.”
opreis-montagu7        Alhoewel die oop land ook na elke oes rustyd kry, is dit nie die geval met die tonnel en nethuis nie. Hulle bewerk die grond heeljaar binne die strukture. “Die trekker ry sommer in. Dis baie meer produktief. Maar ons moet baie mooi kyk watse kos ons insit. Hoeveel kunsmis, mens kan nie te veel nie,” sê Koos.
        Maar, as daar nou ’n man is wat nie terughou as dit by kunsmis kom nie, of varkmis of beesmis, of wat ook al nodig is om te verseker dat sy pampoene elke jaar vreeslik groot raak nie, is dit Gert van Deventer, Kierie se broer, wat oorkant die pad op Vredehoek boer. Hy bestel pampoenpitte uit Amerika, plant hulle so  einde Oktober en kyk dan na die maan. Ja.
“Die ou mense het mos gesê vir goed wat bo die grond dra, moet jy met die opgaan van die maan plant, en andersom vir dié wat jy nou weer onder die grond plant. En ek doen dit maar elke jaar,” sê hy met ’n laggie. “En dit werk.”
        Sy pampoene is nie vir eet nie – alhoewel hulle al probeer het – of vir verkoop op die mark nie, dis sy stokperdjie, om te kyk hoe groot hy elke jaar ’n pampoen kan kweek.
        En hy kry dit reg; hy het al menige pryse gewen vir sy pampoene. Maar wat vat dit om so groot pampoen te groei?
        “Dit vat baie kunsmis en water.” En? Hy lag. “Varkmis is die beste. Te veel kunsmis laat hom bars. Stikstof, fosfaat en kalsium, daai is die belangrikste. En, te veel stikstof nou weer, laat hom sag raak. Jy moet die verhouding reg kry. Partykeer grawe muise ’n gat van onder af, en broei daar binne.”
        Die eerste pampoene begin so middel Desember aankom, en as die kleintjies blom dan bestuif hy hulle self. So kies hy die bestes uit vyf, wag dat hulle amper  rugbybal-grootte is, en kies dan sy beste pampoen. “Ek kyk na sy vorm, hoe vinnig hy gegroei het en dan hou ek net daai een. Elke week spuit ek vir vrugtevlieë, gooi groei-middels, en pas hom op. En dan, die 15de Maart, pluk ek hom vir die kompe-tisie. Ek neem elke jaar aan die Suid-Kaap-kompetisie deel, en die Transvaalse Landbou Unie het ’n pampoen-kompetisie vir die grootste pampoen van die jaar.”
        Hierdie jaar was sy pampoen die 2de grootse in die land en het hy 422½ kilogram geweeg. “Hy pas nie eers agterop my Isuzu-bakkie nie,” lag hy.
Wat maak hy as hy nie pampoen oppas nie?
opreis-montagu8        “Ek het ’n vrugteboomkwekery,” sê hy, “druiwe en appelkose.” Hy kyk na sy seun, ook Gert, wat ingekom en op die stoel oorkant gaan sit het. “Ek is hier gebore, in 1956, die derde geslag en my seun is die vierde geslag. Hy’s ’n byeboer.”
        Die jong Gert glimlag skaam en sê, “Ja, ek het met een korf begin, in standerd ses al, toe raak dit 15 en nou ja, vandag is dit oor die vyftig.”
        Hy vertel my hy doen bestuiwing met bye vir die vrugteboere, verhuur die byekorwe en verskuif dit so van plaas tot plaas.
        “Soos die kultivars blom, vat ons hulle uit. Dis groot werk,” sê hy, “mens kry min slaap. Die rondskuiwe van die korwe moet jy in die nag doen. Al die bye wat in die veld was in die dag, is in die nag weer terug in die korf. Elke 14 dae blom daar maar ’n ander soort variëteit. Die bye bly vir vier dae by elke variëteit, van die vroeër seisoen, dan die middel seisoen, en dan is dit appels en pere wat later blom.”
        Word hy nie gesteek nie?
“In die begin van die seisoen, as jy die korwe voorberei, word jy maklik 30 keer op ’n dag gesteek. Jy kry kwaai bye, die in die heide en kanola is aggressief, en van hulle in die bloekombosse jaag jou ook so bietjie rond van tyd tot tyd.”
        Gert maak ook sy eie heuning op die plaas en verpak en versprei alles self.
“Ek verskaf bloekombosheuning aan Montagu- gedroogte vrugte, maar dis ook nou landswyd te kry. Kyk maar uit vir Vredehoek Byeboerdery!”
        En dit is toe nou hoe ver ek kom. Hopelik is daar ’n volgende keer tyd om by die Koo-vallei ’n draai te gaan gooi, outydse ingelegde perskes te gaan eet, en ’n bietjie by die warmwaterbronne te gaan leeglê.