Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Vredenburg - Sakehart van die Weksus

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| November 7, 2014

Laatmiddag kom ek Vredenburg binnegery. Dis klaar weer droog. Die reënval is gemiddeld 250 mm per jaar en dit reën net in die winter. Dis die derde week in Oktober en boere maak reg vir oes.

Hier saai hulle koring en voergraansoorte soos hawer, gars, lupiene en korog. Ek het nog nooit van laasgenoemde twee gewasse gehoor nie, maar ek kom daarby.
’n Mens kan sien aan die omgewing dat die aarde suinig is met haar oorvloed. As jy hier wil boer, moet jy, soos die vee, gehard wees.
Vredenburg is die sake-hart van die landboudistrik wat onder beheer van die Saldanhabaai-munisipaliteit val. Die munisipale gebied loop al die pad van Langebaan af deur Saldanha na Paternoster en dan verder tot by St. Helena-baai. In die binneland draai hy by Hopefield.

Uit die geel-bruin-grys landskap diep die Weskus Mall op die horison op. Ek kom oorspronklik van Gauteng, waar besoeke aan sulke winkelsentrums ’n naweeksport is en hierdie een kan kers vashou by die bestes.
Die sentrum lê langs die Jesus-klip, so gedoop weens die graffiti teen sy wand. Die ysterklipformasie laat my aan die Paarlberg dink. Dis imposant en die boorlinge op die dorp moet my vergewe, maar ek wil graag die rooi verfkwas se skryf-skade met terpentyn en ’n skropborsel bykom.

vredenburg1

Ek moet die volgende oggend douvoordag die bestuurder van die Agrimark-tak op Vredenburg ontmoet en ek het deurgery om te meet hoe ver die dorp is. Ek gaan in Saldanha se Blue Bay Lodge tuis en as ’n inkommer (dis hoe vreemdes hier bekend staan) wil ek nie ’n slegte indruk skep deur laat te wees weens verdwaal nie. Ek is verbaas hoe naby Vredenburg aan die see is. Minder as 15 km. Jacobsbaai, waar Steve Hofmeyr se bekende Weskusplek is, is om die draai, asook Tie-tiesbaai , Trekoskraal en Brittania-baai. G’n wonder plaaslike inwoners se gunsteling tyd-verdryf is visvang en braai langs die see nie. Ook natuurlik stories vertel.

vredenburg2

Hulle roep hom ’n graaf

As ek iets moet uitsonder van my drie dag lange besoek, is dit die stories. Die kontrei se mense is lief vir stories en ek het ’n swetterjoel gehoor. Die omgewing het ’n eiesoortige dialek. Dis vinnig, soms behoorlik gekrui, met so ’n lekker rollende rasperigheid wat hom nie aan ’n afrondingskool verleen nie. Dit maak die stories nog beter in die vertelling.  
Terwyl Peter Steynberg van Agrimark my die Maandagoggend die omgewing wys, ry ons verby ’n lendelam windpomp. ’n Advertensiebord pryk onderaan: “moertoegepomp”. Ek dink toe; daar het jy dit, uit die perd se bek.  
So gepraat van perde. Ek maak die middag ’n draai by Hannes Ehlers op Phillipskraal, so ’n paar kilometer van Vredenburg af op die pad na Jacobsbaai. Hy het jare terug met saalperde geboer. Foto’s van sy statige  skouperde pryk oral op sy kothuis se mure. Hannes se familie was van die eerste boere in die omgewing. Die ou familieplaas, Oranjesig, is net oor die pad van waar hy nou afgetree is.
Hannes vertel oor ’n koppie koffie van die Sadies, die Loubsers en die Pienaars. Almal stigter-families van dié omgewing wat reeds in die 1800’s hier begin boer het. Só baie
Loubsers was daar in ʼn stadium dat hulle byname gehad het na gelang van die plaas waar hulle geboer het. So was daar Jan Patrys van Patrysberg en ook Piet Holvlei.  Die plaas Holvlei behoort steeds aan ’n Loubser. Klasie Loubser is ’n groot Angus-man en hy is op my lys van boere wat ek gaan sien tydens my besoek.  
Hannes noem ook dat die Sadies op ’n kol 14 jong manne in een rugbyspan gehad het!  

vredenburg3

Mis en nóg mis

Ek groet vir Hannes en ry aan op die Jacobs-  baai-pad. Van die oudste kontreiplase grens aan dié pad. Ek wil foto’s neem en is gewaarsku oor die mis. Ek is skertsend vertel dat kinders op Vredenburg elke oggend met baadjies skool toe gaan. So by 10 uur trek hulle die baadjies uit en laatmiddag is dit weer aan, want dan kom die mis en die koeligheid daarmee saam.
Die natuur gaan dié middag uit haar pad om die mis-staaltjie te bevestig. Ek stop om ’n padteken af te neem. Pasop vir skilpaaie. Die Rooipens-skilpad kom in dié omgewing voor en ’n mens moet versigtig wees ingeval hulle die pad kruis.
Ek sien die digte mis-strook oor Jacobs-baai. Dit is ʼn hele paar kilometer ver maar dit kom teen ʼn ratse pas nader. Minder as 20 minute later stop ek in die baai en die wit gepleisterde huisies op die duine lyk soos iets uit ’n spookstorie. Ek gryp na my donsveer-baadjie.
Die mis bring beide voordele en uitdagings vir boere. Koring word hier plat gesny voordat dit gestroop word. Dit is om te verhoed dat die koring te nat word. Hoe nader die gesnyde koring aan die grond lê hoe warmer is dit, en jy wil droë koring by die silo’s in Vredenburg aflaai. As daar meer as 13% vog in die koring is, word die hele vrag afgekeur.
Vir vee is die mis egter ’n seëning. Dit hou die temperature matig. By Hopefield (sowat 40 kilometer dieper in die binneland), kan die temperatuur tot 10 grade warmer wees.  
Die meeste plase rondom Vredenburg is gemengde boerderye. Buiten koring, is hierdie ook skaap- en beeswêreld. Om voldoende veevoer te kan verskaf, word boere genoodsaak om voergewasse aan te plant.  Wissel- en ander gewasse help ook om die grond gesond te hou en weiding te verbeter.
Gesonde grond is belangrik, want van water is hier nie veel sprake nie. Boere moet water aankoop en die Saldanha-munisipaliteit se water is blykbaar die tweede duurste in die land. Net Springbok se water is duurder.
Die volgende oggend is ek vroeg op die spoor van die Pienaars op Swartriet, ook ’n stigtersfamilie van die area.  Hannes Pie-naar se hele gesin is betrokke by landbou. Dis buitengewoon, sê sy vrou Ohna, wat vroeërjare ’n plantviroloog was. Hul dogter Johanni is ’n Wes-Kaapse landbou-ekonoom en hul seun Altus boer op Swartriet saam met sy pa. Die Pienaars se brood en botter is koring, voergrane, Bonsmara-beeste en SA Merino-skape.
vredenburg4Tans is Ohna aan die stuur van die plaas se administrasie en het sy haar ook in die toerisme en gasvryheidsbedryf begeef.  “Dit was nogal vreesaanjaend, want ek het niks daarvan geweet nie,” sê sy.
Swartriet was een van die eerste Weskusplase om oor te skakel na landboutoerisme. In 1981 is daar begin om van die ou geboue op die plaas te omskep in strandhuise. “Jare gelede was hier ʼn soutmakery,” sê Ohna, en die twee oorblywende huisies van die soutmakery was van die eerste gaste-akkommodasie op Swartriet.
Vandag is daar 29 soortgelyke huisies en hulle is baie gewild, nie net vir gaste van Kaapstad en Gauteng nie, maar ook vir plaaslike besoekers. Later toe ek my besoek aan Swartriet noem, fluister die dorpsbewoners dat nommer 15 die beste eenheid is.
Swartriet se privaat kuslyn is 2,3 km lank en grens aan Jacobsbaai. Die Pienaars het deel van dié kuslyn, wat nooit bewei is nie, in ’n bewaringsgebied omgeskep en op die oomblik is daar vier broeipare swarttobies (oystercatchers)  op dié strook. Die voëls is die tweede skaarsste voëls in Suid-Afrika volgens die internet se Wikipedia.  
Die kuslyn lok ook jaarliks verskeie seilplankvervaardigers uit Europa. My ore spits dadelik toe ek dié brokkie inligting hoor. “Hoe so?”, vra ek vir Ohna. 
“Dit het iets te doen met die hoek van die kuslyn, die wind en die seestrome,” verduidelik sy. “Dit veroorsaak dat daar in November die perfekte toestande is vir die toetsing van hierdie seilplanke.”
As seilplankry jou nie aanstaan nie, kan jy versoek om van die plaas se bedrywighede te besigtig. Skaapskeerdery kry baie aftrek en hulle wys ook vir mense hoe hulle koringbale rol en in plastiek omhulsels plaas. Op Swart-riet word dié bale  ‘olifant-eiers’ genoem en dis ooglopend waar die naam vandaan kom as ’n mens die rye bale op die plaas teëkom.
Hannes en sy seun boer nie net op Swatriet nie, maar ook op twee ander plase in die area. Ek hoor deur die riemtelegram dat een van dié plase geoormerk is vir ’n nuwe wind-plaasontwikkeling. Die Pienaars mag egter niks hieroor sê nie, hulle kontrak verbied dit. Maar ander bronne verklap dat dié ontwikkeling uiteindelik 47 turbines sal hê wat dit die grootste windplaas in die Wes-Kaap sal maak. Hopefield is op die oomblik die grootste met 37 turbines.
Omdat Hannes nie oor die windplaas mag praat nie, gesels ons verder oor nuwe uitdagings wat deesdae boere se pad kruis. Ek noem die negatiewe mediaberigte oor boere se behandeling van hul plaaswerkers en Hannes raak sommer dadelik driftig oor die onder-werp.
vredenburg5Hy nooi my op die ingewing om saam te ry na een van sy plaaswerkers se huise, sodat daar nie vooraf geskarrel kan word om alles in orde te kry nie. Die huis is ’n pragstuk, ’n voorbeeld van hoe daar op Swartriet na werkers gekyk word.  In die kleurvolle tuintjie is daar verskeie voorbeelde van Randall, die werker wie se huis dit is, se kunssinnigheid. ’n Antieke grassnyer is in ’n fokuspunt omskep en ou rubberstewels (gumboots) maak unieke vetplanthouers.  
Ek groet die Pienaars en maak ’n nota om beslis in die toekoms weer op Swartriet te kom ontspan vir ’n naweek.
Van daar is ek vort na Klasie Loubser se plaas Holvlei. Soos Swartriet is Holvlei ’n gemengde boerdery, maar Klasie se eerste passie is Angus-beeste. Hy is ’n bekende stoetteler en voorsitter van die SA Angus-genootskap. Die Angus-ras was bykans onbekend in die Wes-Kaap toe Klasie in die 2000’s met dié beeste begin teel het en vandag is dit een van die gewildste beesrasse in die provinsie.
Soos ander veeboere in die omgewing plant Klasie ook voergewasse en koring aan. Lupiene kom baie aan die Weskus voor en word as ’n wisselgewas aangeplant omdat dit baie stikstof in die grond vrystel.
vredenburg6Aan die begin van die artikel het ek genoem dat ek nog nooit van lupiene gehoor het nie. Mens noem dit lupiene in Afrikaans, maar plaaslik praat die boere van lupino. Ek voel darem nie so sleg nie, want ’n mens kan dit nie eet nie. “Dis baie bitter,” sê Klasie, “maar die beeste hou daarvan.”
Ek ry saam met Klasie in sy 4x4-bakkie deur sy lande. Een van sy stropers staan. Die een of ander pompie het gebreek. Hy skerts dat jy as boer allerhande vaardighede moet hê en soms moet jy ook werktuigkundige speel.
Die stroper staan op ’n korog-land. Hiervan het ek ook nog nooit gehoor nie. Korog is ’n hibried tussen koring en rog en is geskik vir veevoer en wisselbou. Veral in hierdie omgewing is dit ʼn goeie keuse, want dit kan in marginale grond geplant word. Vir ons leke is dit grond wat nie te geil is nie.
vredenburg7Ons rits die heelmiddag rond tussen Klasie se landerye, veekampe en ook huurgrond waar hy sy stoetbeeste aanhou. Buiten vir sy rooi en swart Angus-beeste teel hy ook met Tuli’s.
“Angus-beeste kom van Skotland af en ek wou ook ’n eg Afrika-ras aanhou,” sê Klasie. Tulibeeste kom uit die ou Rhodesië en aard goed in gebiede waar weiding nie volop is nie, dus was die Tuli’s ’n vanselfsprekende  keuse.”
Teen dié tyd is my nota-hand naby aan afval soos ek krabbel om by te hou. Diversifikasie is die wagwoord as ’n mens wil oorleef as ’n Weskus-boer, so my middag saam met Klasie is ’n warrelwind van aktiwiteit. Hy boer ook met Merino-skape en ek merk op dat daar donkies in baie van sy skaapkampe is.
Rondloperhonde veroorsaak jaarliks duisende rande se skade vir boere in die omgewing. Nie net byt die honde lammers en skape dood nie, hulle veroorsaak ook dat ooie gedurende lamtyd hul lammers verwerp weens skok.
Soos van ouds af bewys ʼn donkie weer hy’s ʼn wonderlike ding. “Die donkies is aggressief en ʼn hond sal nie sommer naby kom as hy ’n donkie gewaar nie,” sê Klasie.
Aan die einde van my besoek is ek vol stof en stokflou en ek vra vir hom of dit altyd so gaan. “Met oestyd vir ’n paar maande is mens altyd so aan die gang,” erken Klasie en omdat hierdie omgewing moeilik is om te boer moet mens jou hande ook die heeltyd op jou onderneming hou.
My beeld van die besadigde boer wat sit en pyp rook op die stoep begin vinnig vervaag. Ek vra vir elke boer op my pad hoekom hulle dan hier bly. Almal se antwoord is min of meer dieselfde. Dit is moeilik, maar dit bly maar lekker.   
Klasie het ’n vakansieplek by Lambertsbaai. “Ek kon seker al afgetree het, maar daardie whisky wat ek geniet wanneer ek daar langs die see sit, proe net altyd beter as ek van die plaas af op Lambertsbaai aankom.”
Hierdie wêreld het sy eie bekoring en dit word vasgevang in nog ’n sê-ding wat ek in my omswerwinge gehoor het. “Mens huil as jy hier aankom, en dan huil jy as jy hier moet weggaan.”