Volg ons op Facebook

Hermanus - meer vlees as net vis

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| December 12, 2014

Vra vir die man op straat wat assosieer hy met Hermanus en die antwoord is waarskynlik walvis-kyk, maar die omgewing is baie meer vlees as net vis.

Dit het ondermeer in die vroeë 1800’s Suid-Afrika se eerste melaatskolonie gehuisves en ek vermoed dit is dalk waar die help-mekaar-kultuur wat ek hier ontdek het, reeds gevestig is. Inwoners is nogal gesteld op omgewingsbewaring en gemeenskapshulp, en van alle plekke vir ʼn ruimteweerstasie!

Ruimteweer hier bekyk

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (SANSA) se ruimteweerstasie hier op die dorp is my eerste besoek. Ek is nuuskie-rig om te weet hoekom nou eintlik Hermanus? Skynbaar moet ʼn ruimteweerstasie ‘magneties skoon’ wees, so daar moet weggebly word van enige bronne van magnetiese steurings. Elektriese treine is veral ʼn probleem en Hermanus het geen treine of treinspore nie. Dr. Gert Lamprecht is tans die waarne-mende hoof van SANSA se fasiliteit op

hermanus-dec-1

Hermanus en hy verduidelik dat die ruimte-weerstasie veral sonuitbarstings dophou. Dié sonstorms gebeur deurlopend, so die monitering daarvan is ʼn voltydse werk. Wanneer sulke storms kwaai intensief is, kan hulle GPS-akkuraatheid met tot 5 meter beïnvloed. Hy noem dat dit ook die akkuraatheid van presisie-boerdery raak. Presisie-boerdery is waar boere met GPS-gedrewe toerusting saai, besproei en diesmeer. So ja, ruimteweer kan selfs ʼn uitwerking op boerdery hê, maar grootliks lewer die ruimteweerstasie terugvoer aan regeringsinstansies, en vors ondermeer die uitwerking van sonstorms op kommunikasienetwerke en navigasiestelsels na.  Die publiek kan die fasiliteit elke Woensdag besoek. Gert voeg by dat hulle gereeld in die gemeenskap werk om jong mense se belangstelling in die wetenskap te prikkel. Vir dié doeleinde is daar ook ʼn Ruimtewetenskap-sentrum by die Hermanus-fasiliteit, waar opvoedingsessies met praktiese aktiwiteite gehou word. Ek verlaat SANSA en verkyk my ʼn laaste keer aan die klomp radio-antennes waarmee metings uit die ruimte geneem word.

hermanus-dec-2

My volgende stop is by Andries Schreüder, Bestuurder van Agrimark se Hermanus-tak. Hy is ʼn besige man en daar is deurgaans kliënte wat by sy kantoor inloer. Een van hulle is Johan Montgomery, wingerd bestuurder by Hamilton Russel. Ons begin gesels en hy noem dat Ha-milton Russel die eerste wynplaas in die Hemel en Aarde-vallei was. Hulle was ook vir lank die wynplaas wat die verste suid geleë was in Afrika. Deesdae is wingerde die grootste gewas in die vallei en die omgewing is wêreldbekend vir sy Pinot Noir-druiwe en -wyne.

hermanus-dec-3

Hemel op Aarde

Later neem ek die R320 deur die Hemel en Aarde-vallei en dit is duidelik waar die naam vandaan kom. Dit is laatmiddag en die natuur is op haar mooiste. Ek stop by die Plaaskombuis wat die afgelope twee jaar ʼn landmerk op dié pad geword het. Die padstal en eetplek behoort aan Jadri en Nita Lötter. Jadri is ʼn groenteboer en van al die boere in die Hemel en Aarde-vallei is hy die langste hier. Ek loop ook weer vir Andries van Agrimark hier raak. Hy en Jadri skerts oor die ja-en-amen-pad wat deur die Hemel en Aarde-vallei na Caledon loop (deel van die R320). Ek sê ja-en-amen want die pad se teerwerk word al vir jare begin en dan vertraag, en die verleggings het almal in die vallei al grys hare gegee. Jadri is skepties optimisties, maar skynbaar sal die pad teen 2015 klaar wees. Terwyl ek vir die langspeelplaat-plekmatjies sit en kyk, merk ek ʼn Woolies-trok teen die bult opkom. Madron Farming se pakhuis is hier langs die Plaaskombuis en hulle is een van die grootste verskaffers van blaarslaai en kruie aan Woolworths, Pick ‘n Pay en Checkers. Ek reël dadelik om ook by hulle besoek te gaan aflê.

hermanus-dec-4

Nuwe toevlug vir groot katte

Die volgende oggend pik ek vir Cathrine Nyquist by ‘n plaaslike bandeplek in Hermanus op, en dan gaan wys sy my sommer waar sy en haar vennoot druk besig is om draadkampe te bou op hulle nuwe plaas in Stanford. Cathrine is een van twee stigterslede van Panthera Africa Big Cat Sanctuary, en hoe die idee tot stand gekom het, is ‘n fassinerende storie.
Terwyl ons teen die see af die sowat 25km na Stanford ry, merk ek Cathrine se vreemde aksent op. Ek vra haar waar sy vandaan kom. Sy is van Noorweë en was ‘n suksesvolle kommersiële eiendomsagent. Sy het baie onlangs haar tuisland en haar voormalige lewe oorboord gegooi en boonop haar spaarvarkie verniel om Panthera Africa saam met Lizaene Cornwall te begin. Brawe en dalk effe koekoe vrou, dink  ek toe by myself. Maar by die plaas ontmoet ek vir Lizaene, en dit is duidelik dat hierdie twee vroue op ‘n missie is en dat niks hulle van stryk gaan bring nie. Lizaene werk sedert 2009 met groot katte en was voorheen betrokke by ‘n groot-kat teelprojek in Bloemfontein. Dit is hier waar sy vir Cathrine (Cat soos hulle haar noem) ontmoet het. Lizaene kon egter nooit vrede maak met die teel van groot katte in aanhouding nie. “Hierdie diere moet vry en wild wees. Om ‘n leeu, of ‘n luiperd in ‘n hok groot te maak en hulle dan net vry te laat sodat mense hulle kan jag of in dieretuine kan aanhou, is iets waarmee ek nie kon saamleef nie,” vertel Lizaene.

hermanus-dec-5

“Cat was ‘n vrywilliger wat kom uithelp het by die projek (waar Lizaene gewerk het), en sy het dadelik geheg geraak aan Oliver, een van die leeus wat ons op die perseel gehad het.”
Cat beaam dat sy haar hart verloor het, nie net op Oliver nie, maar ook later op die jong swartluiperdwyfie Pardus. Na Pardus was die koeël deur die kerk en het sy geweet haar lewe gaan ‘n onverwagse rigting inslaan. Die gebruik van oorsese vrywilligers by wildprojekte is ‘n algemene praktyk.  Vrywilligers betaal gewoonlik om vir ‘n paar weke op die projekte te werk en so samel die projekte geld in. Panthera Africa sal ʼn soortgelyke vrywilligerstelsel gebruik, en hulle het reeds ‘n paar vrywilligers wat help om die nuwe kampe in te rig. Voorts beoog Lizaene en Cat ook om korporatiewe spanbou en opvoedkundige praatjies aan te bied. Volgens Lizaene is dit baie belangrik dat katte wat in aanhouding is stimulasie kry sodat hulle kan ontwikkel en nie verveeld raak nie. Die spanbou sal fokus op hierdie tipe stimulasie. Dit sal egter nie die troetel van die katte insluit nie.

hermanus-dec-6

“Dit is een van die grootste probleme wat ons met die rehabilitasie van wilde katte het. Hulle word in aanhouding fisies aangeraak en dit vernietig hulle vrees vir mense, wat dodelik is in die natuur.” Lizaene voel sterk oor die aangeleentheid en is opgewen soos ‘n kat wat regmaak om te spring. Sy laat my nogal aan ‘n rooikat dink, een van die tipe wilde katte wat Panthera Africa sal aanhou.
“Katte wat in aanhouding geteel word, kan nooit in die natuur vrygelaat word nie, dit is waarom ons Panthera Africa begin het. Ons wil nie net katte red wat in aanhouding mishandel word nie, ons wil ook vir katte uit teelprogramme ‘n heenkome bied sodat hulle in ‘n vryer omgewing hulle dae kan uitleef.”
Ons begin gesels oorsamewerking met ander organisasies, want sonder samewerking is bewaring maar ‘n onbegonne taak. Panthera Africa se slagspreuk is juis: “In unity there is strength.”
“Met klomp harte en koppe saam kan ons meer diere red as net ‘n enkel persoon,” glo Lizaene. Sy noem dat hulle weens ‘n gelukskoot reeds ʼn samewerkingsooreenkoms met ʼn bekende dierewelsynsorganisasie gesluit het, en dat hulle binnekort bekend sal maak wie die organisasie is.

Panthera Africa hoop om in die laaste week in Desember vir die publiek te open en sal aanvanklik 17 katte huisves, waaronder 2 Bengaalse tiere, leeus, luiperds en rooikatte.
Cat en Lizaene doen ook ʼn beroep op boere in die omgewing om karkasse aan hulle te skenk.       Om die katte te voer gaan een van Panthera se grootste onkostes wees en hulle sal self die karkasse binne ʼn sekere radius gaan haal, solank die diere nie uitgesit is, of onlangs antibiotika gehad het nie. Daar is ʼn paar vereistes waaraan die karkasse moet voldoen, so dit is die beste om die dames by Panthera ʼn lui te gee.  Lizaene se nommer is 084 866 2665.

hermanus-dec-8Inheemse kwekery

Oppad terug na Hermanus dink ek hoe asemrowend die omgewing is met die berge wat aan die eenkant oor jou toring en die see wat aan die anderkant vir jou wink. Dit is asof die natuur ʼn klomp tjoklitboks-prentjies opdis en elkeen wil die vorige een met sy indrukwekkendheid uitstof. Binne die Hermanus-dorpsgrens sien ek ʼn bordjie vir ʼn inheemse kwekery.  Ek val toe sommer op die ingewing daar in. Die Fern-kloof-inheemse kwekery is binne die Fernkloof-natuurreservaat geleë en word die afgelope 14 jaar deur Jack en Kathy Bold bestuur. Die kwekery is meer as 20 jaar gelede deur vrywilligers van die Hermanus Botaniese Vereniging begin, met plante wat hulle self in hulle tuine gekweek het. Vandag is die kwe-kery ʼn bron van inkomste vir die vereniging en word opbrengste ondermeer aangewend om die natuurreservaat in stand te hou.Terwyl ek deur die kwekery stap en plante gewaar met amusante name soos Mickey Mouse Bush sien ek ʼn skilpad met ‘n groot rooi vlek op sy dop. Dis die eerste keer wat ek so skilpad sien en ek begin foto’s neem. Kathy waai vir my uit die kantoor en vra dat ek nie die skillie moet afneem nie. Dit is ʼn gewone rooipensskilpad, maar ʼn ontstelde Kathy vertel dat ʼn padwerker skynbaar die skilpad opgetel en geverf het. Sy wil graag sy velle aftrek en ek verwonder my aan die onnoselheid van sommige mense. Kathy is baie behulpsaam en hou daarvan om mense touwys te maak, so jy kan nie verkeerd gaan as jy hier kom inligting soek oor ʼn inheemse tuin nie. En die beste rede om ʼn inheemse tuin in hierdie omgewing aan te plant, is dat veral fynbos-tipe plante meer teen brande bestand is. Elders in hierdie uitgawe kyk ons in diepte na die brandgevaar van indringerplante in die Overberg-streek.

Madron se blare

My laaste besoek vir die dag is aan Madron Farming CC in die Hemel en Aarde-vallei. Ek wil op niemand se tone trap nie, maar dit was beslis vir my die coolste plaas in die kontrei. Ek hou van gadgets, groot masjiene, en sulke goed, so ʼn produksielyn is vir my soos lekkergoed vir ʼn kind. Hierdie produksielyn is superdoeltreffend, want blaarslaai- en kruieboer, is een van die intensiefste boerderye waarin jy jou kan begewe. Daar word 7 dae ʼn week geoes en aanplantings moet so beplan word dat daar voortdurend oesbare plante beskikbaar is.
Immers is ons Suid-Afrikaners slaai-mal en koop ons hordes van hierdie pofpakkies gemengde blaarslaai. As jy so ʼn pakkie by ʼn supermark-ketting in die Wes-Kaap koop, is die kanse goed dat die blare van Madron af kom. Die meeste van Madron se blaarslaai en kruie word in Stanford aangeplant en dan in die Hemel en Aarde-vallei verpak. Die blare word uitgesoek, gekeur en in die gewilde pofpakkies verseël. Selfs die kleinhandelaars soos Pick ʼn Pay se etikette word in die produksie lyn op die pakkies aangebring, om voedselveiligheid te verseker. Madron se mense is kwaai gesteld op higiëne en die verpakking vind in ʼn steriele omgewing plaas waar ek nie toegelaat word nie. Ek neem egter kiekies met die entoesiasme van ʼn Japanese toeris deur die beheerkamer se venster.  Selfs vir die laerisiko-area, waar ongewenste blare van die slaai verwyder word, moet ek deur ʼn hele sanitasieproses gaan, en is ek getooi in rubberstewels, ʼn haarnet en ʼn veiligheidsoorbaadjie. Dit is nie verniet dat Madron ʼn FSSC 22000-sertifikaathouer is nie. Dié internasionale sertifisering, met sy oorsprong in Switserland, is een van die strengste voedselveiligheidsertifiserings ter wêreld.

Later sit ek en Ronel Usher, Madron se pakstoorbestuurder en gesels oor die geskiedenis van die boerdery. Sy vertel dat Charlie Jenkin en sy pa in 1999 die boerdery uit ʼn Wendy-huis begin het. Vandag het Madron in die omgewing van 40 hektaar blaarslaai en kruie onder aanplanting. Hulle kweek ook hidroponies met bronkors (watercress) en het sowat ʼn jaar gelede begin om eetbare blomme aan te plant wat in sommige van hulle gemengde slaailyne ingesluit word.
Ons sluit ʼn opwindende middag met koffie en slaaiblare af. Dis ʼn vreemde kombinasie, maar skynbaar ʼn gunsteling van personeel oor middagete. Ek moet sê dis baie meer aangenaam as wat dit klink, en ‘n mens kan skaars varser of gesonder peusel.

Ontspan so ‘n flou-vrou nou

Na my plaas fotosessies is ek so vol stof, dit girts op my tande. Ek was nog nooit so bly om ʼn stortkappie in  ʼn hotelkamer te vind nie. Ek is rasend honger en ek sien nie nou kans om my krullebol te was nie. Dit is die lekker van ʼn luukse 4-ster-hotel, as mens dit soek, dan word dit verskaf. Die personeel by Misty Waves in Hermanus gaan uit hulle pad. Sam by ontvangs skuif my spesiaal na ʼn suite met die beste Wi-fi-ontvangs. Want ʼn joernalis sonder die internet is deesdae soos ʼn blinde. Hulle bly ook my etebesprekings skuif, want ek weet nie aldag wanneer ek by my akkommodasie gaan uitkom nie. Die sonsondergang oor die rotse en see by die restaurant is iets om oor huis toe te skryf. Oscar, die sjef, maak toe sommer vir my ʼn spesiale seekosbord en ek neem kiekies terwyl hy met ʼn wye glimlag die calamari in die pan skud en met flair my bord versier.   So tussen die smul deur gesels ek met Karin, die restaurant se gasvrou en ook ad hoc-kelner. Sy het in die omgewing grootgeword. My redakteur dring aan op ʼn foto van ʼn walvis, en Karin vertel my van die walvisafbeelding by die Walvishuis wat ek kan afneem in die donker. Ek ry oral deur die dorp se strate, maar kry die walvis nêrens. Hermanus is alreeds vol kersliggies en ek sien ʼn rits liggies van ʼn walvis oor die hoofstraat gespan. Dis immers ʼn walvis meen ek, so ek stel my driepoot en kamera in die hoofstraat se verkeersirkel op, tot groot vermaak van motoriste, maar ek kry my walvisskoot.
Die volgende oggend– in daglig– ry ek deur Hermanus se gewilde Village Square-waterfront, waar ʼn rits eetplekke en ʼn onderdak-mark elke jaar duisende toeriste lok. Daar kom ek uiteindelik op die Walvishuis af. G’n wonder ek kon nie die walvis in die donker vind nie. Al is dit lewensgroot is dit pikswart en ek voel toe nie meer so onnosel nie. Ek neem nog ʼn kiekie. Nou het ek darem al twee walvisse afgeneem, al is hulle nie die ware Jakob nie.

hermanus-dec-7

Wurms maak swart-goud

Na my walvissoektog ry ek na Valley Earthworms in die Hemel en Aarde-vallei. Andrew Southey boer al bykans ses jaar met erdwurms. Hy het aanvanklik in ʼn bad met sy wurms begin, en is nou net oor die 2 jaar hier in die Hemel en Aarde-vallei, waar hy sy stelsel tot ʼn baie doeltreffende erdwurmboerdery verfyn het.

Andrew vertel dat sy broer in die Douglas-omgewing in die Noord-Kaap ʼn plaas gehad het. Een jaar het hy erdwurmtee gebruik om sy gewasse mee te besproei. Na ʼn paar weke het sy broer besef die wortels van die besproeide gewasse was byna drie keer meer ontwikkel as dié van die onbehandelde gewasse. Dit het Andrew se nuuskierigheid geprikkel. Deesdae lewer Andrew duisende liter erdwurmtee (vloeibare erdwurmbemesting) en sogenaamde ‘castings’ (wat lyk soos swart modder) aan kommersiële boere en die publiek. Sy grootste kliënte is vrugteboere in die BAR-vallei (Bonnievale, Ashton, Robertson) in die Wes-Kaap. Andrew gebruik Red Wriggler-erdwurms, hulle is uitheems en is van die bogrondse variëteit wat meestal in die nag bogronds bedrywig is. Andrew het die Red Wriggler gekies omdat dit ʼn geharde wurm is wat makliker oorleef as hulle hanteer word. Hulle is egter sku vir son en deur die dag kruip hulle ondergronds weg. Die wurms word in groentekratte aangehou. Andrew het vinnig besef dat erdwurms van grond hou wat goeie lugvloei het, en der-halwe was die kratte die ideale idee vir die te-ling van die wurms. Die modderige bemesting waarvan die erdwurmtee gemaak word, sypel dan sommer deur die openings in die kratte.

hermanus-dec-11

Andrew keer een van die groentekratte om en wys vir my sy ‘castings’ wat hy as swart-goud beskryf. Dit laat enige ding soos ʼn bom groei en hou ook verskeie insekpeste in toom.  Hy dui ook aan hoe die wurms van ʼn krat vol stukke beesmis die fynste en rykste kompos maak. “Jy sal sien daar is geen vlieë om my kratte nie, al is hier beesmis,” vertel Andrew. Hy druk ʼn bol van sy erdwurmbemesting onder my neus en ek deins weg terwyl hy giggel. “Dit ruik ook heeltemal vars, soos grond, daar is geen reuk nie,” sê hy en ek kom nader om weer te ruik. Hy is reg. Daar is nie eens ʼn sweempie van ʼn klankie nie. Hierna gaan wys Andrew my sy wurmtee-tenks. Wanneer die erdwurmbemesting tot ʼn vloeistof verwerk is, lyk dit soos ʼn bierbrouery. Die skuim staan op dit, en dit meen Andrew is bewys van hoe voedsaam hierdie plantdrankie is. Terwyl ons gesels, bring sy vrou Charmé vir ons ʼn koppie boeretroos en Andrew wink my nader om by haar skilderateljee te gaan inloer. Sy is ʼn bekende Kaapse waterverfkunstenaar en behoort aan die South-African Society of Artists (SASSA). Charmé is een van die kunstenaars wat in 2015 op uitnodiging van SASSA by Kirstenbosch sal uitstal.
Van Charmé se gewildste kuns is skilderye van fietsryers. En as ek dink aan die jaarlikse Argus-fietstoer in Kaapstad dan maak dit vir my baie sin. Net voor ek die Southey’s groet, vra ek vir Andrew of die publiek ook by hom kan kom wurmtee koop. Ja, sê hy, bring net jou eie kan saam. Hy verkoop dit in liters en die erdwurmbemesting is so effektief dat ʼn 100 liter wurmtee genoeg is om ʼn hektaar se gewasse te bemes.

Camphill – biodinamies gedrewe

Van die Southey’s is ek na hulle bure by Camphill. Die Camphill Farm Community-beweging het 75 jaar gelede in Europa ontstaan en het meer as 120 gemeenskappe wêreldwyd. Camphill bied ʼn unieke toevlug vir mense met verstandelike gestremdheid. Hierdie deursnit van die samelewing word gereeld agterweë gelaat wanneer daar gekyk word na individue met spesiale behoeftes. Omdat hulle nooit in hul leeftyd onafhanklik produktief kan wees nie, eindig baie van hulle op straat. Camphill bied langtermyn behuising, sorg en werksgeleenthede vir sulke behoeftiges en die meeste van die sowat 60 inwoners hier by Camphill Hermanus, is al meer as 15 jaar hier. Om die werkskeppingprojek aan die gang te hou en ook die gemeenskap te voed, word daar sterk gefokus op volhoubare boerdery. Dit is hoe Wilhelm en Mada Morkel bykans 4 jaar gelede op Camphill in Hermanus beland het.

hermanus-dec-9

Mada het in 2009 ʼn perma-kultuur-opleidingsentrum in Malawi begin, so gemeenskapsboerdery vir volhoubaarheid is in haar bloed. Haar man Wilhelm het op ʼn vrugteplaas in Vyeboom grootgeword en die Morkels bedryf die melkboerdery op Camphill. Ek is verbaas toe ek Mada ontmoet. Sy is jonk, in haar 30’s. Vir hierdie omgewing is dit ongewoon om sulke jong boere teë te kom. Hoewel daar ook op klein skaal met hoen- ders, ganse, eende en ook varke geboer word, is die melkery die grootste bron van self-gegenereerde inkomste vir die plaas. Camp-hill het sy eie handelsmerk en maak kase, jogurt en ook ontwerperroomys. Ek noem dit ontwerperroomys want dit is so deksels lekker dat dit eerder kuns as eetgoed is. Ek maak ʼn baba otjie van myself met die vaatjie ‘Chocoholic’ wat Mada my in die hand stop. Chocoholic met Belgiese sjokolade is net een van die geure. Geure verander na gelang van die vrugte wat in seisoen is, want hier word vars vrugte in die roomys gebruik. Mada meen die grenadella is uitsonderlik verruklik.
Die roomys word meestal by die Hermanus-mark en dan ook by gesondheidswinkels in die Helderberg-omgewing verkoop. Camphill-roomys se gewildheid is nie net weens die smaak nie. Op Camphill word daar klem gelê op etiese-, organiese- en biodinamiese boerderypraktyke. Kalfies word byvoorbeeld toegelaat om tot op 3 maande by hulle ma’s te bly. Dis ongehoord by ʼn melk-boerdery aangesien die kalfies op melk gevoed word en kommersiële boere elke druppel nodig het.

hermanus-dec-12Die Jersey-koeie op Camphill se dieet bestaan omtrent geheel net uit gras (meer as 95 %), wat spesiaal in die weiding op Camphill aangeplant word. Omdat die beeste se weiding baie natuurlik is, is hormone en antibiotika nie nodig nie. Die koeie se horings word ook nie verwyder nie.
Van die inwoners by Camphill werk ondermeer in die melkery en help met die maak en verpakking van Camphill se suiwelprodukte.
Die melk word op die perseel gepasteuriseer, maar dit word nie gehomogeniseer nie, derhalwe is Camphill se suiwelprodukte baie gewild onder lede van die publiek wat etiese boerdery ondersteun en hul produkte so na-tuurlik moontlik verkies. Die meeste van ons is vertroud met die idee van organiese boerdery, maar biodinamiese boerdery is ʼn nuwe konsep vir my. Ek vra vir Mada daaroor uit en vind dit is nogal ʼn ingewikkelde storie, maar soos ek verstaan is dit ʼn sisteem wat organiese boerdery baie verder vat. Die plaas word beskou as ʼn or-ganisme en holistiese boerderypraktyke word ontwikkel om die organisme sterk en gesond te hou. Dus word niks, of so min moontlik, van buite af ingebring. ʼn Gesonde ekosisteem beteken plae en siektes is ongewoon, en preparate word aangewend om die grond-, plant- en dierelewe te bevorder en te versterk. Wanneer plae van aangrensende areas inkom, kan dit wel beheer word. Mada gee vir my ‘n buitengewone voorbeeld. Boere in die omgewing is dit eens, bobbejane is ʼn hardnekkige plaag waarvoor daar nie maklike oplossings is nie. Die meeste boere skiet die diere, en dit maak bewaringsbewustes baie boos.

hermanus-dec-10

Om die probleem by Camphill aan te spreek, is ʼn preparaat van ʼn bobbejaanvel gemaak. Só ʼn preparaat word ʼn peper genoem. Die vel is gebrand tot in ʼn asvorm, in ʼn vloeibare stof omskep en toe op die grense van die plaas en sommige bome (waarvoor kees baie lief was) gespuit. Sedert die bobbejaanpeper is die lastige trop vir meer as ʼn jaar al skoonveld. Maar Mada sê hulle het die bobbejaanpe-per op ander plase probeer en dit werk klaarblyklik net as daar biodinamies geboer word. hermanus-dec-13
Ek groet vir Mada en pak laatmiddag die tog terug huis toe aan. Ek ry die kuspad wat kronkel van Hermanus tot in Gordonsbaai. Oppad stop ek in Onrus, nogal ʼn gewilde blyplek vir kunstenaars. In een straat loop ek sommer drie gallerye raak en ek neem ook ʼn paar foto’s by die bekende teëlhuis in Arumstraat. Die huis is buite van hoek tot kant met sierteëls bedek. Dit is ʼn gepaste interessantheid om ʼn baie interessante streek mee af te sluit.