Volg ons op Facebook

Durbanville stad en plaas vat hand

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| February 6, 2015

“Jy moet boer waar jy Tafelberg kan sien.” Hierdie mantra hoor ek by bykans elke boer met wie ek gesels tydens my besoek aan die Durbanville-landbouarea.

Volgens Viljee Loubser, een van Fair Cape se befaamde vyf broers, kan mens in Durbanville ʼn slegte oes hê, maar nie ʼn misoes nie. So ná aan die kus baat die landbou by die koue fronte wat gereeld verby die skiereiland swiep. Hierdie fronte bring genoegsame reën in die winter en sorg vir lafenis en ʼn neerslag af en toe in die somer. Durbanville se klimaat is matig en konsekwent, derhalwe is weersgebonde natuurrampe amper ongehoord.

Groot Phesantekraal – Pas aan by stedelike ontwikkeling

         Hierdie oorvloed het egter ook sy prys, dié einste gunstige klimaat, nabyheid aan Kaapstad en natuurskoon, lok elke jaar meer stedelike inwoners na Durbanville. Oral is daar bouwerk aan die gang en deurgaans verrys daar nog ʼn behuisingsprojek.  André “Oubaas” Brink is ʼn vierde generasie Brink wat op die plaas Groot Phesantekraal boer. Die plaas het ʼn ryk geskiedenis en was in 1698 een van die eerstes wat in die omgewing gevestig is. Die plaas se eerste eienaars was Olof Bergh en sy vrou Anna de Koning. Bergh is die befaamde Bergh waarna die ‘Olof Bergh’ Solera-brandewyn vernoem is en Anna de Koning was ʼn eertydse erfgenaam van Groot Constantia.

dorp-feb-2

        Phesantekraal grens aan die buitewyke van die Durbanville- munisipale gebied en in die vroeë 2000’s het André gedeeltes van sy grond afgestaan aan stedelike ontwikkelingsprojekte. Vandag is hy self ʼn ontwikkelaar en is hy ook betrokke by stedelike beplanning in die Durbanville-area. Die Graanendalwinkelsentrum en die Graanendallandgoed is ondermeer op André se grond ontwikkel.
        Ons ontmoet vroeg-oggend op sy landgoed en bespreek die druk wat stedelike ontwikkeling in Durbanville op landbou plaas. Buiten die skerp styging in koste van landbougrond is een van die grootste probleme diefstal. André vertel van die hekke op sy plaas waarvan hy elke week een verloor. Ek vra hom hoekom hy aanhou om die hekke te vervang en hy is vasbeslote dat hy hom nie deur boewe gaan laat onderkry nie. Dis ʼn beginselsaak en ʼn uitdaging om die diewe te uitoorlê.  
        ʼn Meer tragiese gevolg van dié blatante plundery, is dat baie boere van hulle historiese buitegeboue begin afbreek omdat dit nie lewensvatbaar is om hulle te onderhou nie. Pype, bedrading, krane, niks is bestand teen diewe nie en soms word geboue in geheel leeggedra, sodat net die dop bly staan.
        “Wanneer dit meer as een keer gebeur, begin mens besin oor of dit die moeite werd is om die gebou in stand te hou,” sê André.
        As ʼn boer soveel bure het, moet hy ook meer gereeld met puntenerige klakouse oor die weg kom. Volgens André kry hulle dikwels klagtes oor die wind wat stof op die omliggende wonings waai. Hy onthou ʼn besonderse episode toe ʼn vrou gekla het dat die muskiete uit een van sy plaasdamme haar byt.
        “Ek sê toe vir haar dat al die diere op my plaas volgens wet gemerk moet word, en dat sy agter die muskiete se ore moet kyk of daar ʼn ‘tag’ is met my plaas se naam op, dan sal ek werk maak daarvan.”
        Die klaer het toe die foon in sy oor neergesit.  dorp-feb-1
Desnieteenstaande die uitdagings is André optimisties dat plase kan bly voortbestaan in stedelike gebiede, mits goeie beplanning en bestuur deur stadsrade toegepas word. Die grootste bedreiging meen hy is opportunistiese ontwikkeling en die verkoop van landbougrond teen belaglike pryse aan sakelui wat geen belangstelling het om die grond produktief te hou nie.
        Hoewel André deur ontwikkeling kapitale waarde in sy grond ontsluit het, bly hy in sy hart ʼn boer. Deur ons gesprek word dit duidelik dat hy ʼn kleintjie dood het aan die bedryf van plase vir status en pretensie. Hy is self ʼn wynboer en produseer sy eie reeks wyne onder die Phizantekraal- en Anna de Koning-etikette, maar hy het nie ʼn kelder nie. Hy kontrakteer die maak en bottelering van sy wyne uit.
        “Om soveel geld aan ʼn kelder te spandeer is ʼn ego-ding en nie ʼn goeie besigheidsbesluit nie,” sê hy.
        Ek vermoed André sou die hele wyn gedeelte – buiten sy wingerde – opgee as hy kon. Hy volhard egter omdat dit ʼn dom besluit sou wees om nie die inkomste uit wyntoe-risme te ontgin nie. Groot Phesantekraal lê op die Durbanville-wynroete, derhalwe is daar besluit om verlede jaar ʼn nuwe proelokaal en ʼn restaurant  te open in die plaas se ou koeistal wat uit 1767 dateer.  
        “Ek hou van ʼn besigheid met meetbare insette en resultate. As ek koring oes, weet ek hoeveel ton ek het, en die waarde van die koring word bepaal deur ʼn meetbare vog- en proteïeninhoud. Wyn is heeltemal subjektief. Jy moet mense oortuig om van jou wyn te hou. Dit gaan oor subjektiewe bemarking en daaroor het mens geen beheer nie.”
        Soos die meeste suksesvolle kommersiële boere bedryf André ʼn diverse boerdery.  Tien persent van sy plaas bestaan uit wingerd, terwyl ander gewasse sowat 60 persent beslaan. Hiervan is tweederdes koring en ʼn derde kanola. Daar word ook wisselbou toegepas en kuilvoer soos klawer en medic gesaai.

dorp-feb-3

        Sowat 4 500 Dohne Merino-skape en 1 200 Hereford-vleisbeeste wei ook op die plaas. Die skape word twee maal per jaar geskeer vir die wolmark en daar is ʼn slaghuis op die plaas waar skaapvleis grootmaat aan die publiek verkoop word. ʼn Halwe skaap is die kleinste maat wat verkoop word. Beesvleis word egter nie by die slaghuis verkoop nie. Die beeste word aan voerkrale en slagpale gelewer.
        Ek vra vir André waaraan hy sy grootste sukses toeskryf: “Sonder twyfel my mense. As ʼn besigheid het jy ʼn verantwoordelikheid teenoor jou werkers.  
        “Vir my is bemagtiging nie net ‘window dressing’ nie. My werkers kry gereeld opleiding en loop kursusse om hulle vaardighede te verbeter.
        “Ons is ook besig om ʼn werkerstrust te ontwikkel. Dit is vir my belangrik om langtermyndiens te beloon en die trust sal ons in staat stel om kontantdividende aan ons werkers uit te betaal. ”
        Elke boer het sy voorliefde en vir André is dit masjiene en tegnologie. Hy gaan wys my en die Plaastoe!-fotograaf sy versameling stropers, snyers, graanspuite en trekkers. Almal is blinkgepoets en lyk splinternuut. Dié toerusting word duidelik met groot sorg onderhou en goedkoop speelgoed is dit nie.

dorp-feb-4
        Die publiek kyk hom dikwels in die beeld van die ryk boer vas, maar vergeet van die astronomiese insetkoste van kommersiële landbou. Die masjinerie in André se implementestoor het etlike miljoene rand gekos.
        Hy wys na een van sy trekkers wat ʼn 2 000 liter-petroltenk het. “Toe die dieselprys hier by die R13,26 gedraai het verlede jaar, het dit meer as ses-en-twintig duisend rand gekos om dié trekker vol te maak.”
        Dit laat my twee keer dink voor ek weer wil kla oor die hoë broodprys…

Klipheuwel – van beesmis tot kunsmis tot elektrisiteit

        My volgende stop is by die Blanckenberg-broers se plaas Klipheuwel.  Hulle het verlede jaar die plaas se 100ste bestaansjaar gevier. Philip is in beheer van die melkery, terwyl Koos en Vlok Blanckenberg die graan- en vleisvee-gedeelte van die plaas behartig.  
        Klipheuwel is net ʼn entjie van Groot Phesantekraal op die Klipheuwelpad. Dit is een van die grootste plase in die omgewing. Hulle lewer sowat 35 duisend liter vars melk elke dag, hoofsaaklik aan Parmalat, terwyl hulle ook elke jaar sowat 6 duisend ton koring lewer, meestal aan Pioneer Foods wat die Sasko-broodhandelsmerk besit.
  Verder is daar sowat 400 Angus-vleisbeeste en 800 Merino-skape op die plaas. Klipheuwel produseer die grootste gedeelte van sy eie kuilvoer. Buiten hawer en klawer vir wisselbou, word mielies ook onder spilpunte (besproeiing) aangeplant.
         Ek ontmoet vir Philip by die melkery en is oorweldig deur die omvang van die besigheid. Dit is die eerste keer in baie jare wat ek ʼn kommersiële melkery besoek en dinge het drasties verander. My mond hang oop en ek verkyk my aan die koei-mallemeule en beheerkamer wat lyk of jy ʼn ruimte-verkenningsekspedisie daarvandaan kan loods.  
        Mens noem die ‘mallemeule’ ʼn draaitafel. Daar is 60 melkstasies op die Klipheuwel-melkery se draaitafel. Elke 10 sekondes klim daar ʼn koei op of af. Dit gebeur soos klokslag en selde stop die tafel. Die koeie is so gewoond aan die proses dat dit tweede natuur is. Elke stasie op die draaitafel het sy eie rekenaar en daar word ondermeer presies gemeet hoeveel melk die koei lewer en hoe lank dit neem.  In die beheerkamer hou ʼn operateur ʼn magdom rekenaarlesings en grafieke dop.
        Die hele melkboerdery is gerekenariseer. Elke koei het twee transpondeerders wat op ʼn halsband om die nek gedra word. Die een verskaf identifikasie van elke dier. Daar is 900 koeie wat daagliks drie keer gemelk word. Die tweede transpondeerder moniteer die koeie se beweging. Philip verduidelik dat jy ʼn hele klomp faktore kan bepaal deur ʼn koei se beweging dop te hou.
        “ʼn Dier wat skielik lusteloos is, is moontlik siek,” sê Philip. “Wanneer ʼn koei op hitte is, is daar baie meer beweging, en daarvolgens bepaal ons wanneer ons moet insemineer.”
Volgens Philip het boere afhanklik geword van rekenaarhulpmiddels om op die skaal te produseer wat deesdae van kommersiële boere verlang word. “Hoe kan jy anders ʼn oog op meer as ʼn duisend negehonderd diere hou?”
        Die Blanckenbergs se melkboerdery is intensief, koeie word onderdak in koei-behuising aangehou. Die term laat my dink aan die “townhouse”-bevolking, waarvan ek self een is. Hittestres het ʼn groot invloed op die hoeveelheid melk wat ʼn koei lewer, so die kudde word so ver moontlik koel gehou. Die dag waarop ek Klipheuwel besoek, is buitengewoon warm en daar word sproeiers bo die kudde oopgedraai en waaiers word gebruik om diere af te koel. Die versoeking om self onder die sproeiers te gaan staan is groot.  
        Tydens ons gesprek raak ek aan volhoubaarheid en die omstredenheid rondom die metaangas wat lewende hawe – veral beeste – produseer. Philip sê hulle is gesteld op volhoubaarheid en dat al die plaas se bedrywighede mekaar ondersteun. Koeimis word byvoorbeeld verwerk tot kompos en dan op die lande aangewend. Koringstrooi word weer in die melkery as voer gebruik en ook as bedding vir kalfies.
        Tans word daar in samewerking met ʼn buitemaatskappy navorsing gedoen om die moontlikheid van metaangas se omskepping in elektrisiteit te ondersoek. Die plaas het genoeg beesmis om krag aan die hele onderneming te voorsien. Die infrastruktuur bestaan egter nog nie om oortollige krag aan derdepartye soos Eskom te herverkoop nie.

Fair Cape – Doen die regte ding

        Aan die Kaapstadse kant van Durbanville, net van Koebergweg af, lê Fair Cape se melkery en plaas wat deur die 5 Loubser broers bedryf word.  Vyf generasies van Loubsers boer al meer as 140 jaar lank hier. Die Fair Cape-handelsmerk het hom sedert 1995 in die Suid-Afrikaanse suiwelmark gevestig en deesdae kan jy Fair Cape-melk en -jogurt regoor die land koop. Ek het ook onlangs Fair Cape- bevrore jogurt in ʼn winkel in Somerset-Wes raakgeloop.
        Ek ontmoet vir Viljee Loubser, oudste van die Loubser-broers, op die plaas en hy noem dat hulle onlangs begin eksperimenteer het met bevrore jogurt. Dit is ʼn mark wat hulle beoog om uit te brei en ek is bly, want ek is ʼn aanhanger van die koffiegeur en sal beduiweld wees as hulle dit van die rakke afhaal.   

dorp-feb-5
        Darem het ek die vorige dag by die Blanckenbergs se melkery ʼn draai gemaak en derhalwe vang die koeidraaitafel hier by Fair Cape my nie onkant nie. Die skaal waarop daar gemelk word, laat wel my oë rek. Sowat 1 700 Holstein Frieslander-koeie lewer elke dag nagenoeg 65 000 liter vars melk en dan koop Fair Cape nog melk van buite af ook in.  Die totale Frieslander-melkkudde, wat kalfies insluit, bestaan uit sowat 3 900 diere.
        Die draaitafel by Fair Cape het 64 melkstasies en die koeie word elke agt sekondes geroteer, dus een koei op en een koei af. Dit lyk my daar is wedywering tussen melkboere om te sien hoe vinnig en effektief hulle kan melk.     Agt sekondes is skynbaar die vinnigste rotasie tyd waarop ʼn mens kan hoop.
        “Daar is boere wat selfs nog meer melk en dubbel ons volume lewer,” vertel Viljee, hoewel Fair Cape in die Wes-Kaap een van die grootste melkplase is.
        Ek merk hoe rustig die koeie is ten spyte van al die meganiese toerusting en pas van die werk wat hier verrig word.
        “ʼn Kalm dier, is ʼn goeie leweraar,” verduidelik Viljee. “Van ons koeie het al tot 100 liter melk op ʼn dag gelewer. Hier sal jy nooit ʼn stok in ʼn werker se hand sien nie, daar word ook nie op die diere geskree nie.”
        ʼn Sogenaamde ‘crowdgate’ word gebruik om die koeie in die melkery te beheer, ek het dit ook by die Blanckenbergs se melkery gesien. Dit is ʼn meganiese hek wat agter die koeie laat sak word en dan op ʼn spoor aanskuif soos wat hulle die draaitafel-area betree.
        Daar is sensors wat intree sodra die hek aan een van die diere raak, dan hou dit outomaties stil. Wanneer al die koeie in ʼn  groep deur is, lig die hek op en skuif bo-oor die volgende groep se koppe, om weer agter hulle toe te maak.
        Die menslike behandeling van diere is deel van die etos van Fair Cape. Hul slagspreuk lui Do The Right Thing en hul produkte word onder die vaandel Eco Fresh bemark. Die Fair Cape-etos is op drie pilare gegrond; dierewelvaart, omgewingsvriendelikheid en maatskaplike welvaart.
        Fair Cape is ʼn groot onderneming met nagenoeg 860 werkne-mers. Buiten die plaas en melkery is daar ook die verwerkingsaanleg en pakhuise in Killarney in Kaapstad.  Al vyf die Loubser-broers is by die besigheid betrokke. Viljee is die oudste en is in beheer van die gewasboerdery, Johannes is die tweede jongste en bestuur die melkery. Dan is daar Melt wat die Uitvoerende Hoof van die maatskappy is, Eduard wat logistiek hanteer en Louis (die jongste) wat aan die stuur van bemarking is.
        Fair Cape hanteer tussen 110 en 120 duisend liter melk per dag, waarvan 50% in potjies as produkte verwerk word – buiten jogurt is daar ook ʼn reeks nageregte soos sjokolademousse en Flamby’s.
        ʼn Menslikehulpbronnedepartement sien om na die ontwikkeling van individuele werkers. Indiensopleiding word voorsien en werkers word verder aangemoedig om buite-kursusse te loop.  Daar word deurgaans gekyk na die verkleining van Fair Cape se koolstofvoetspoor (carbon footprint).  Die melkery is byvoorbeeld ʼn geslote proses waarvan daar geen afloopwater is nie, derhalwe is daar min besoedeling.
        Viljee se broer Johannes is eintlik vir die melkery verantwoordelik, Viljee self is die gewasman. “Ons het ʼn organiese benadering tot boerdery,” sê hy. “Ons glo aan minimum verwerking en versteuring van grond.”
        “Ons plant peulgewasse soos lupiene en wieke. Dit dien as wisselgewasse en voer en is baie goed vir die grond. Dit bind stikstof in jou grond en dan het jy bykans geen kunsmis nodig nie.”

dorp-feb-6
        Sowat 700 hektaar koring word jaarliks aangeplant en hier word ook mielies vir kuilvoer onder besproeiing (spilpunte) aangeplant.
        Die mielielande was ʼn geleentheid wat hom weens ʼn gelukkige sameloop van omstandighede voorgedoen het. Mielies word as ʼn reël nie in die Wes-Kaap aangeplant nie, want dit is ʼn somergewas en die Wes-Kaap kry nie genoeg somerreën nie.
        Die Fisantekraal-rioolwerke is sowat drie jaar terug voltooi en is reg langs die plaas geleë. Die Loubsers het toe ʼn kontrak met die stadsraad aangegaan om die halfgesuiwerde rioolwater, wat as afloop in die Mosselbankrivier gepomp sou word, te gebruik vir landbou. Danksy dié water lewer die plaas tussen 5 en 6 duisend ton mieliekuilvoer van 100 hektaar grond onder spilpunte.
        “Mielies is ʼn baie voedingryke voer, wat goed is vir die beeste, sê Viljee. “Boonop is ʼn deel van die grond in produksie op ʼn tyd van die jaar waar dit stoppellande sou gewees het.”
        Viljee glo dat ʼn ingeligte boer ʼn suksesvolle boer is. “Jy moet weet wat jou buurman doen,” sê hy. “My pa het altyd gesê dit is glad nie verkeerd om ʼn swak oes te maak nie, solank al die ander ouens om jou ook swak oeste het.”
        Om terug te gee aan die gemeenskap bied Fair Cape gratis toere vir skole aan die Fair Cape-melkery.  Hier kan kinders in aanraking kom met die bron van hul kos, wat geen slegte ding is nie. Ek gesels onlangs met ʼn onderwyseres, wat bieg dat van haar kinders dink dat melk uit kartonhouers kom en nie ʼn benul het dat koeie daarvoor verantwoordelik is nie.

dorp-feb-7

Klein Roosboom – Omhels billike arbeidspraktyke

        Die laaste stop van my Durbanville-landbou-oorsig bring my na die deur van Klein Roosboom. Die Durbanville-vallei is wêreldbekend vir sy wyne en op pad ry ek verby wynlandgoedere soos Durbanville Hills, Diemersdal en Nitida.  Ek onthou dat Nitida ʼn rooi vonkelwyn maak wat donker en droog is soos ʼn volronde rooiwyn.  Dié Cap Classique word van Shiraz-druiwe gemaak en ek het nog nie weer ʼn soortgelyke vonkelwyn teëgekom nie.
        Volgens die Nitida-webwerf was hulle die eerste landgoed om so ʼn rooi MMC (Method Cap Classique) in Suid-Afrika te produseer. MCC is nou sjampanje. Franse handelsmerkwetgewing verbied mense buite Frankryk om die term ‘sjampanje’ vir sjampanje te gebruik. Ek weet dis verwarrend en half onsinnig, maar Champagne is ʼn streek in Frankryk wat eerste die naam gedeps het, so dit is hoe dit is.   
        Klein Roosboom is die enigste wynplaas op die Durbanville-wynroete wat onbekend is aan my en dit prikkel my nuuskierigheid. ʼn Paar minute op Google wys dat dié boetiekwynmakery alreeds verskeie pryse gewen het.  
        Die storie van die wynmakery is so ongewoon soos sy restaurant en proelokaal. Ou sementwyntenks is omskep in privaat kuiervertrekke, elk met ʼn ander tema en ʼn naam wat met bordkryt bo die ingang geskryf is.  
        Die wynmaker is ʼn voormalige apteekwese-student wat opgeskop het, vir ʼn tyd die plaas se melkery bestuur het en toe op die ingewing ʼn naweekkursus in wynmakery geloop het. Hierdie karakter van vele kleure is Karin de Villiers. Sy is “aandag-afleidend” volgens haar kinders, en glo dat sjampanje nie ʼn luukse is nie maar ʼn noodsaaklikheid. Haar voorkeur vir vonkelwyn en besliste hiperaktiwiteit, vermoed ek is die geheime tot Karin se sukses.  
        Soos die vonkelwyn waarvoor sy so lief is, borrel Karin van energie en is dit moeilik om te dink dat sy vir ʼn oomblik kan stilsit. Sy wys vir my die palm van haar hand, “my dagboek” sê sy laggend, terwyl sy nog iets daar skribbel wat sy moet onthou.  Ons gesels ʼn hond uit ʼn bos, en uiteindelik kry ek haar om by die begin te begin.   
Karin en haar man Jean de Villiers boer al 30 jaar op die Klein Roosboom-plaas. Jean het op ʼn wynplaas in Doordekraal grootgeword, so wingerdbou is in sy bloed. Hy is ook ʼn gekwalifiseerde wynmaker, maar dit is die wingerdstok en die grond waar sy ware passie lê.

dorp-feb-8

        Ek vra vir Karin wie kom eerste, sy of die wingerd. Na ʼn rukkie gee sy toe, “ek is waarskynlik tweede,” maar sy glimlag as sy dit sê.
        Aanvanklik het die De Villiers’ ʼn melkery op die plaas gehad wat Karin bestuur het. Sy noem dit die “tronk met oop deure”.  Die melkery is egter later verkoop toe dit nie langer winsgewend was nie.
        Die plaas beslaan 260 hektaar waarvan 150 hektaar onder wingerd is. Die meeste druiwe word aan die Durbanville Hills-kelder gelewer, terwyl sowat 30 tot 40 ton druiwe vir hul eie etiket gebruik word.
        “Jean gee my eerste keuse,” sê Karin. “Ek ry deur die wingerde en proe die druiwe en merk dan elke ry waar ek die beste trosse teëkom.”
        “Ek is ʼn ‘phone-a-friend’-wynmaker,” skerts sy.  Riaan Oberholtzer, wynmaker van De Vallei, is betrokke by die maak van Klein Roosboom se witwyne, onder hulle twee Sauvignon Blancs wat albei al verskeie pryse gewen het.  Die rooiwyne word egter op die plaas self gemaak en alles “word met die hand deurgedruk.” Vir die rooiwyne word Pinot Noir druiwe van buite af ingekoop, verder kom al die druiwe direk van die plaas af.
        Karin se debuutwyn en steeds haar vlagskipwyn is haar Marné. ʼn Wit MCC-vonkelwyn wat na haar dogter vernoem is, en op Marné se 21ste verjaarsdag bekend gestel is. Marné is ook ʼn gebied in die Champagne-Ardenne-streek in Frankryk waar sjampanje vandaan kom. Kan ʼn mens meer bewys van ʼn sjampanjeliefhebber kry?
        Elke wyn onder die Klein Roosboom-etiket is aan ʼn lid van Karin se gesin opgedra, en op elke etiket is daar ʼn toewyding wat sy vir die persoon geskryf het. Vir Jean, haar man, is dit die Sauvignon Blanc wat sy liefde vir die wingerd simboliseer. Vir haar jongste seun Johan is dit die Cabernet Sauvignon “met ʼn sterk karakter, wat vir groot dinge bestem is”.
        Ek het my eie trappe van vergelyking wanneer dit by kennis van ʼn onderwerp kom:
1. Ghoeroe, 2. Kenner, 3. Leek, 4. Clueless

dorp-feb-9
        Hoewel ek hier by ʼn 2 rond is met waardering vir goeie wyn is ek beslis ʼn 4 met betrekking tot wingerdbou. Slegs ʼn man met eindelose geduld en ʼn diep passie vir sy wingerdstokke kan soveel keer vir een vrou die verwikkeldheid van onderstokke en klone probeer verduidelik. Jean de Villiers neem my uiteindelik in sy bakkie tussen sy wingerde in, om my te gaan wys hoe die plante geënt word en hoe die kultivars se blare van mekaar verskil. Daar is letterlik dosyne klone, elke kultivar (soos Sauvignon Blanc, Shiraz, Cabernet, ens.) het ʼn klomp klone wat van regoor die wêreld kom en hierdie klone saam met die onderstokke waarop hulle geënt word, bevat die karaktereienskappe wat elke wyn sy unieke smaak gee. Dit is die kort en baie vereenvoudigde weergawe.
        Grond en klimaat, sê Jean, speel verder ʼn groot rol. “Dit hang ook af hoe jy jou plant snoei, hoeveel lug jy deurlaat en hoeveel sonlig hy kry.” Al hierdie faktore dra by om een wingerd se wyn van ʼn ander te onderskei.
        En nee, daar kom niks buiten druiwe in wyn nie, behalwe die gis wat help met die fermentasieproses. So wanneer daar verwys word na die koffie-, of die bessie-tone van ʼn wyn beteken dit nie dat iemand met die koffiemeule oor die bottel gestaan het nie. Ek hou my ook g’n wynsnob as ek dit sê nie, ek het self al gewonder.

Fair Trade en werkerstrust

        Jean-hulle is op die oomblik besig om deur die Fair Trade-sertifiseringsproses te gaan, as deel van die groep produsente wat druiwe aan Durbanville Hills-kelders lewer. Fair Trade is ʼn stelsel wat beter handelstoestande vir boere in ontwikkelende lande beding. In ruil daarvoor verbind boere hulle tot volhoubare boerdery en bestuursmetodes wat ondermeer onbillike arbeidspraktyke uitskakel.  

dorp-feb-10
dorp-feb-11        Klein Roosboom is reeds betrokke by ʼn werkerstrust wat deur Durbanville Hills gestig is. Die trust word in samewerking met die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans bedryf en bied ondermeer aan werkers opleiding in lewensvaardighede (life skills). Klein Roosboom het ook ʼn bestaande ontwikkelingsfonds vir sy werkers.  
        Ek vra net voor my vertrek vir Jean hoe hy oor ontwikkeling in die omgewing voel en hy sê dat hy self nie dele van sy plaas vir ontwikkeling sal afstaan nie. Dit is egter meer gedwongenheid as ʼn keuse. Klein Roosboom kan nie vir residensiële gebruik gesoneer word nie. Weens die nabygeleë steengroef val dit onder ʼn industriële gebied. Hy meen wel dat boere toegelaat moet word om stroke van hul grond te ontwikkel wat nie produktief is nie. Soms is dit die enigste wyse waarop kleiner plase kan oorleef. 

dorp-feb-12

        Met ʼn rantsoen verruklike wyne verlaat ek die middag die Durbanville-vallei. In my versameling is daar ʼn paar bottels Klein Roosboom-wyn, asook van André Brink se Phizantekraal-wyne. Selfs die Loubsers van Fair Cape maak wyn onder die etiket Kuyperskraal. Dit moet ek nog proe, en kan jy tans net deur www.kaapsefamiliewingerde.co.za se webwerf bestel. Die webwerf is tans onder konstruksie, maar sal na verwagting binnekort in werking wees.
        Dit is maklik om te vergeet dat hierdie area nie net goeie wyn lewer nie, maar ook ʼn belangrike deel van Kaapstad se basiese broodmandjie is. Slegs die tyd sal egter leer of kommersiële boere hier sal kan oorleef en bly voortbestaan.