Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Tzaneen - Moeder natuur woon hier

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| March 4, 2015

Twee woorde kom by my op as ek aan Tzaneen dink, loof en bak, en ek praat nie van koekies nie.

Die prys wat mens vir die skoonheid van hierdie lowergroen woudagtige omgewing betaal, is intense somerhitte. Dae waar die kwik tot diep in die dertigs styg is algemeen, en boonop is daar ook ʼn stewige dosis humiditeit, maar boere in die omgewing is dit eens, jy kan hoor hoe goed hier groei.  
        Ek kom laat op ʼn Dinsdagaand by die Fairview Hotel en Village aan, ʼn 5-ster-oord met ʼn spa, wat omring is deur mango- en piesangplantasies. Hierdie area is bekend vir sy vrugte- en groenteproduksie en is een van die grootse produsente van varsprodukte in die land. Die meerderheid van ons avokado’s en mango’s kom van dié streek af en Mooketsi – sowat 40km buite die dorp – is die tuiste van ZZ2, die grootste tamatieprodusent in die land. (Lees meer op bladsy 34 in dié uitgawe oor ZZ2.)

Westfalia – gee die pas aan met avo’s

        Die volgende oggend ontmoet ek vir Kelvin Fowler, die Algemene Bestuurder by Westfalia Fruit Estates. Dié onderneming produseer die meeste van Suid Afrika se avokado’s en het  ʼn wêreldwye netwerk van kantore wat die maatskappy se bemarking hanteer. Die bemarkingskantore is ondermeer in Frankryk, die Verenigde Koninkryk en Nederland geleë, sowel as in Colombia en Mosambiek.

March-dorp-tzaneen

Volgens Kelvin is dit vir hulle belangrik om ʼn direkte verhouding met hulle kliënte in die buiteland te hê en dit gee hulle ook beheer oor die koueketting, om te verseker dat slegs die hoogste gehalte produkte hulle oorsese markte bereik.
        Avokado’s is baie sensitief vir hanteringskade en ook vir temperatuurwisselings, veral tydens die rypwordproses, wat eers gebeur nadat hulle gepluk is. Daarom is die verpakkings- en koueketting van kritieke belang. Die vrugte moet binne 24uur gesorteer en verpak word, sodat dit in koelkamers teen sowat 6 grade Celsius geberg kan word. Vir uitvoer- vrugte is die koueketting ononderbroke totdat die vrugte in die buiteland verkoop word.
        Westfalia het meer as 2 000 hektaar avokadoboorde, en dan word daar ook met 34 hektaar se mango’s en 126 hektaar se makadamianeute geboer.

March-dorp-tzaneen-2

        Kelvin vertel dat Suid-Afrika verlede jaar vir Australië verbygesteek het as die grootste produsent van makadamianeute ter wêreld, maar, sê hy, die werklike groot produsente verbou tussen 500 en 1 000 hektaar makadamianeute.
        Die Westfalia-landgoed is in 1929 deur die bekende mynprospekteerder en geoloog Hans Merensky gekoop. Merensky het ʼn passie gehad vir die herstel van die grond, wat in daardie stadium baie verwaarloos was. Hy het hom verder toegespits op die bewaring van die inheemse woude in die omgewing en het ook bekendheid verwerf vir sy landboukundige navorsing.

“...Suid-Afrika verlede jaar vir Australië
verbygesteek het as die grootste produsent
van makadamianeute ter wêreld...”

        In 1949 het Dr. Hans Merensky – wat nooit getroud was of kinders gehad het nie – ʼn trust gestig wat na sy dood in 1952 in werking getree het. Hierdie trust is gewy aan die voortsetting van sy omgewings-, water- en grondbewaringswerk wat hy in alle fasette van Westfalia se landbou-, tuinbou- en bosboubedrywighede toegepas het. Die Trust is 21 jaar later in die Hans Merensky Stigting omskep wat sedertdien die bedrywighede voortbou.
         Die Stigting se kommersiële aktiwiteite word vandag onder die maatskappy Hans Merensky Holdings (HMS) voortgesit, waarvan Westfalia Fruit Estates ʼn afdeling is. Merensky Hardwoods behartig HMS se bosbou-afdeling. Tans word meer as 10 000 hektaar bloekom aangeplant en word 6 000 hektaar inheemse woud op die grond bewaar.
Hans Merensky se verantwoordelikheid teen-oor sy mense en sy omgewing is steeds twee van die steunpilare waarvolgens alle bedrywe in HMS bestuur word.
       Westfalia Fruit het ook sy eie tegnologie- afdeling – Westfalia Tegnologiese Dienste – waar daar deurgaans gewerk word aan die ontwikkeling van nuwe kultivars en veral onderstamme wat siektebestand is. Met betrekking tot avokadoproduksie is Westfalia een van die wêreldleiers in onderstam- en kultivarontwikkeling.

March-dorp-tzaneen-3

        Nuwe kultivars en verskillende groeisones stel Westfalia deesdae in staat om regdeur die jaar avokado’s te produseer. Tradisioneel is daar in die verlede nie in Januarie en Februarie avokado’s geoes nie. Dit is goeie nuus vir somer se slaai-malles, want nuwe kultivars beteken verhoogde plaaslike produksie en gevolglik goedkoper avokado’s in die somer.
Buiten die landgoedere in die Tzaneen-area verbou Westfalia avokado’s in KwaZulu-Natal en verpak en versprei avo’s vanaf die Oos-Kaap. Oorgrense het die onderneming ook boorde en pakhuise in Peru, Colombia en Mosambiek.
Westfalia se rits akkreditasies is ʼn teken dat hy sy verantwoordelikhede teenoor sy werkers en sy omgewing ernstig opneem. Hulle was die eerste Suid-Afrikaanse landbouprodusent om goudstatus van GLOBALG.A.P te verkry.  Westfalia se vrugte is ook as organies gesertifiseer en die maatskappy is deel van die Fairtrade-beweging.

Rodney Cooper se rooi papajas

       Rodney Cooper se landgoed lê in die Letsitele-vallei. In die 80’s en 90’s was die vallei oortrek van kommersiële vrugteplase, maar Rodney is een van min kommersiële boere wat steeds in hierdie geil vallei boer. Die res van die plase rondom hom is grootliks aan grond-eise afgestaan.
        Rodney is deur en deur ʼn papaja-man. Hy plant net papajas en het 34 hektaar onder die Tianung 2-kultivar wat uit Taiwan afkomstig is. Papajas kom oorspronklik uit Suid-Amerika, maar die presiese oorsprong van die vrug is onduidelik. Rodney verduidelik dat min papaja-boere met die Tianung 2-kultivar boer. Hulle verkies Hawaise kultivars soos Solo.

March-dorp-tzaneen-4

Dit is juis die kleiner vrugte van die Solo-kultivar wat in die winkels hier in Suid-Afrika as papino’s verkoop word. Die naam Papino kom van Len Hobson wat eertyds op ʼn buurplaas in die vallei geboer het sê Rodney –Len het toe die naam amptelik laat registreer.
        Ek vra vir Rodney hoekom hy dan met Tianung 2 boer. Hy sê sy die lappie grond waarop hy boer, is vir onbekende redes perfek vir die Tianung 2-kultivar en hy kry uitstekende opbrengste uit sy grond. Hy oes meer as 100 ton vrugte per hektaar per jaar en die oorweldig- ende meerderheid is markkwaliteit.
        Die meeste van sy opbrengste gaan aan een verspreider in die Wes-Kaap, terwyl hy ook markte in die Oos-Kaap, Gauteng en Port Elizabeth het.

        Papajas word in 3 groottes verpak, P2 wat kleiner vrugte is, P4 wat groot vrugte is – 6,5kg per boks en dan P5 wat ekstra groot vrugte is – 9kg per boks. Volgens Rodney het elke streek sy voorkeure, soos byvoorbeeld Port Elizabeth wat eienaardig net groot vrugte verkies. Rodney kan egter nie verduidelik hoekom dié ongewone voorkeur bestaan nie.

“Die vroulike vrugte is
saadloos en die manlike
vrugte het altyd sade.”

        Ek vra ook uit oor die saadlose vrugte waarvan ek so baie hou en hy gee vir my ʼn seksles, let wel, dit is nou plantseks. Papajas het manlike en vroulike vrugte en dan is daar ook hermafrodiete. Die vroulike vrugte is saadloos en die manlike vrugte het altyd sade. Die hermafrodiete daarenteen, is amper soos ʼn gelukspakkie, dit kan die een óf die ander wees.
        Rodney reken die algemene verbruikersmark koop alle grootte vrugte, afhangende van die grootte van gesinne, terwyl die gasvryheidsbedryf waarskynlik meer na die groter vrugte sal neig omdat hulle dit in grootmaat gebruik.

March-dorp-tzaneen-5

        Anders as mango’s – wat vatbaar is vir amper alles onder die son – is papajas meer bestand teen siektes en is insekte nie ʼn reuseprobleem nie. Swaar chemikalieë vir insek- en plaagbeheer is dus onnodig.
        Die bome is wel vatbaar vir die siekte ‘pithuim’ – ʼn wortelvrot wat die boom se wortelstelsel kan vernietig. Pithuim is ook ʼn hardnekkige siekte as dit eers op ʼn plaas posvat, maar Rodney sê dat hy ʼn baie streng voorkomende spuitprogram het wat die meeste siektes uit die staanspoor van sy plaas afhou.
       Een van sy groter kopsere, waarvoor daar nie maklike oplossings is nie, is blou ape. Groot troppe van die ape kom natuurlik in die omgewing voor. Heelwat boere verkies om hulle te skiet, maar Rodney het ten duurste op ʼn alternatiewe oplossing besluit. Dit kos hom sowat R150 duisend rand per jaar om mense te betaal om sy landgoed te patrolleer en die ape van sy grond af te verjaag.
        Hy sê wanneer hy nuwe saailinge plant, is die ape veral lastig, want hulle sal dosyne plante uit die grond ruk. Soos kinders, is die ape vreeslik nuuskierig en enigiets nuut in hul omgewing moet van nader ondersoek word.
        Rodney sny sy bome na hul derde jaar van produksie af, en vir ʼn wisselgewas plant hy fluweelboontjies. Buiten die stikstofverryking van die grond, is die fluweelboontjies volgens Rodney ʼn uitstekende bron van plantmateriaal om weer in die grond terug te werk.  In papajaboerdery kan ʼn mens nie heeltemal daarmee wegkom om glad nie jou grond om te ploeg nie; implemente word gebruik om sogenaamde ‘ripping’ van die grond te doen. Die fluweelboontjies help egter om die nodigheid vir ‘ripping’ te verminder.

Wilde lafenis en maroelafondse

March-dorp-tzaneen-6        Later dié middag verken ek die gronde van die Fairview Village waar ek tuisgaan. Dit was juis ʼn besige trop blouape wat die verkenning geïnspireer het. Terwyl ek in my suite sit, hoor ek die getrippel van voete op die grasdak. Die getrippel klink soos kleuters wat op die dak rondhardloop. Ek besluit om ondersoek in te stel.  Daar speel ʼn hele trop apies op die dak en spring van tak tot tak in die maroelabome.
        Langs een gaatjie van die 3-putjie-gholfbaan op die landgoed staan ʼn reusemaroela- boom en die enigste ‘balle’ op die setperk is ʼn hoop ryp maroelas. Die eienaar van Fairview,  Marinda Thomas, vertel dat hulle die natuurlewe en die maroelas laat begaan, hoewel mens soms moet koes as die maroelas uit die bome val.
        Werkers op die landgoed tel die maroelas by die emmersvol en selfs in munisipale as- blikke op. Sommige brou hulle eie maroelabier terwyl diegene wat meer industrieus is hulle oeste saampoel en aflewer by die Amarula-fabriek in Phalaborwa, sowat 120km oos van Tzaneen. Fairview Village grens ook aan ʼn sytak van die Letaba-rivier en oral word gaste gewaarsku teen seekoeie. Seekoeitekens is ʼn algemene verskynsel langs paaie om Tzaneen.

Mango’s uit die Lappiesland
March-dorp-tzaneen-7       Die volgende oggend ry ek sowat 15km op die Deerparkpad en sien die bordjie vir Lapland. Ek is dadelik nuuskierig oor die naam. Theuns en Theuns heet my welkom. Die neefs is albei Bothas. Daar is ʼn derde Theuns Botha, ʼn grootwildjagter, ook familie in die noorde van die land.
        Die Botha-neefs bestuur saam die Laplandplaas. Hulle grootste gewas is mango’s, maar hulle plant ook lietsjies, avo’s en koejawels.  Ek vra waar ‘Lapland’ vandaan kom en Theuns 1 (hulle noem mekaar Theuns 1 en 3) verduidelik dat sy oupa die oorspronklike plaas gekoop het en met piesangs geboer het. Deur die jare is ander plase by die oorspronklike plaas aangelap en vandaar Lapland.
        Ek het by ʼn paar mense gehoor lietsjies is ʼn wispelturige gewas en boonop is Desember oestyd, so mens moet werkers tussen Kersfees en Nuwejaar probeer kry om te werk. Die Botha-neefs bevestig  dat mens soms ʼn goeie en soms ʼn slegte oes het, maar dat ʼn goeie oes baie winsgewend kan wees. Gelukkig word die lietsjies op Lapland bietjie vroeër ryp, so voor die feesseisoen is hulle darem klaar geoes.
Die Bothas het onlangs besluit om 13 hektaar koejawels aan te plant, omdat koejawels goed doen op swak grond. Koejawels kan ook regdeur die jaar geoes word, wat daartoe bydra dat die plaas deurgaans produktief is.
         Theuns 1 is ʼn plantpatoloog en hy verduidelik dat wanneer jy ʼn koejawel snoei dan pluk jy sy vrugte agt maande later, maak nie saak watter tyd van die jaar jy hom snoei nie. Hiervolgens kan jy jou oeste deur die jaar bepaal en seker maak dat jou koejawels dra wanneer ander boorde nie so produktief is nie.

March-dorp-tzaneen-8

In Desember pluk die manne lietsjies, in Janu- arie tot April is dit mango-seisoen en Maart tot Julie is dit avo’s.
         “Dit verseker dat ons die grootste deel van die jaar kontantvloei het,” sê Theuns 1.
Weens Theuns 1 se agtergrond as ʼn plantpatoloog eksperimenteer die neefs gereeld met kultivars en ook chemiese middels op die plaas. Mango’s is gevoelig vir ʼn hele rits siektes en peste en ʼn mens moet regdeur die jaar voorkomend spuit. Theuns 1 beaam dat mangoboerdery vir baie ʼn vloekwoord is:  “Ouens sukkel om met mango’s te boer, omdat hulle dit verkeerd doen.”
        Om dit reg te doen is vir die Botha-neefs baie belangrik en sowat vier jaar terug het Theuns 1 ʼn nuwe chemiese kombinasie ontdek, wat bloeiselmisvorming in mango’s help voorkom. Die misvorming is ʼn duiwel wanneer hy posvat en daar was tot op hede nog geen teenvoeter daarvoor nie. Theuns het sy chemiese middel Lima gedoop en Egipte het onlangs die middel eksperimenteel begin toets. Hy wag op die oomblik ook vir Suid-Afrikaanse owerhede om die middel te registreer.
        Die Bothas gebruik reeds Lima op van hulle boorde en ander boere wat lima op hulle plase beproef het, rapporteer dat hulle tot 130% meer vrugte kry op blokke wat bespuit is. Indien die registrasie van Lima goedgekeur word, sal dit ʼn hele revolusie in die mangobedryf teweegbring.

“Die Bothas gebruik reeds
Lima op van hulle boorde...”

        Ten spyte van hierdie prestasie is albei Theunse onaangeplak en gesels met passie oor al die bedrywighede op die plaas. Albei is wildentoesiaste en as ʼn stokperdjie het hulle bokke op die plaas ingebring.  Bosbokke het nog altyd natuurlik hier voorgekom en die area waar hulle gewei het, is afgekamp en daarna is blesbokke ook in die kamp gevestig. Verder het die Bothas ʼn klein Njala-kamp, met ʼn paar Rietbokke hier en daar.
         Die bokke is deel van die plaas se ekosisteem. Hulle is groot grasvreters en omdat hulle die gras kort hou, is hulle natuurlike onkruidbeheerders, wat daartoe lei dat daar minder onkruiddoders gebruik hoef te word. Groot bevolkings tarentale word ook in die boorde verwelkom.
         “Hulle skrop om die bome en grawe snuitkewerlarwes op en eet dit,” sê Theuns 1.
Soos Westfalia aan die ander kant van die vallei, het Lapland ook GLOBAL G.A.P-akkreditasie. GLOBAL G.A.P bepaal onder meer dat boere nie gevaarlike chemikalieë mag spuit nie en dat net geregistreerde produkte gebruik mag word. Verder is daar riglyne oor sanitasie op plase. Wanneer vrugtebome byvoorbeeld gesnoei word, word die snoeiskêre ná elke boom gesteriliseer om seker te maak dat geen siektes van plant tot plant oorgedra word nie. Werkers moet ook volgens dié bepalings goeie werksomstandighede geniet.
        In ʼn stadium verlaat Theuns 1 ons, hy het ʼn afspraak op die dorp. Theuns 3 laai my in sy bakkie en gaan wys my hulle boorde en van die kampe waar die wild is. Terwyl ons ry, vertel hy dat hulle besluit het om vrouens aan die hoof van al hulle pluk- en skoonmaakspanne te plaas. Aanvanklik het die mans in opstand gekom, maar nou verloop alles klopdisselboom.
“Die vrouens is geweldig lojaal en ons vind dat dinge op ʼn baie meer demokratiese manier gebeur,” sê Theuns 2. “Dit was ʼn baie suksesvolle besluit en vroue neem nou baie meer deel aan besluitneming waar hulle voorheen deur die mans oorheers is.”
         Soos baie kommersiële boere in die omgewing het die Botha-neefs grondeise op van hulle grond. Ek vra hoe hulle dié onsekerheid bestuur. Volgens Theuns 1 bemoeilik dit investering in hulle bedryf, omdat daar geen waarborg is dat jy in die toekoms nog op jou grond sal kan boer nie, maar nie een van die twee Theunse wil ophou boer nie.
“Dis heeltemal te lekker,” sê Theuns 3.

Pekoe View se teeplantasies

        Pekoe View is ʼn landmerk in Tzaneen. Net buite die dorp op die R71 na Magoebaskloof styg die teeterrasse teen die koppe uit en aan die bo-punt sit die Pekoe View-teetuin. Dié teeplantasies is van die laastes wat in die land oor is en na die 1994-verkiesing is hulle geoormerk vir ʼn gemeenskapsprojek. Tans is die Makgoba Tea Estate ʼn vlagskipprojek van die Groter Tzaneen Ekonomiese Ontwikke- lingsagentskap (GTEDA) en dit is ʼn pragstuk.
Woorde kan hierdie asemrowende gesig nie beskryf nie. In elke rigting sover as wat die oog kan sien, is die teeterrasse omring deur denne- en bloekomplantasies. In die verte glimmer die Magoebaskloofdamwal en rys
die Drakensberge blou teen die horison op.
        Die landgoed verskaf permanente werk aan 526 mense en stukwerkers word aangestel wanneer daar gesnoei moet word. Die gemeenskap wat die meeste uit die onderneming baat, is dié van Middelkop, ʼn klein nedersetting wat teen die hange van die landgoed geleë is.
        My stop by Pekoe View is net vinnig, ek het toevallig daar verbygery op pad na De Hoek-saagmeule, my volgende amptelike besoek. As ek weer in die omgewing is, sou ek meer tyd hier wou spandeer.

In die towerbos by De Hoek-saagmeule

        Op die R71 na Polokwane via Magoebaskloof sit De Hoeksaagmeule.  Die uitsig van die hange waar die saagmeule geleë is, is uitsonderlik mooi. Dit kyk af op die Magoebaskloofdam en is omring deur van die oudste plantasies in die omgewing. Die bekende Debengeni-waterval is ook net oorkant die pad. Dié valle is in die Grootbos geleë, wat die tweede grootste inheemse woud in Suid-Afrika is naas die Knysna-woude. Op pad na die waterval is daar ʼn Indiese mahonieplantasie wat in 1980 aangeplant is.  Mahonie word glad nie meer vir kommersiële doeleindes in Suid-Afrika aangeplant nie. Denne en bloekoms word verkies, omdat hulle vinniger groei.  
        Louis Joubert Jnr. is die bestuurder by De Hoek-saagmeule. Die meule behoort aan Selati-hardeware wat oral in die kontrei bekend is vir Selati-dakkappe. Dit is ʼn familiebesigheid en hulle lewer dakkappe so ver soos Umtata in die Oos-Kaap en selfs oor grense tot in Botswana.
        Die Jouberts het nie hul eie plantasies nie. Hulle koop elke jaar sowat 30 duisend kubieke meter hout in, grootliks van Komatiland, ʼn semi-staatsinstelling.
        Omdat bosbou so ʼn langtermynonderne- ming is, is min plantasies in besit van individuele boere. “Op 12 jaar kry die bome (denne) hulle eerste dunning,” sê Louis Jnr. “Op 18 jaar kry hulle ʼn tweede dunning. Eers op 28 tot 30 jaar is hulle volwasse, dan begin jy eers regtig wins maak.”
       Individue wat deesdae plantasies aanplant, doen dit vir die liefde van die saak. ʼn Buurman van Louis – Henk Schoeman – het ʼn geelhoutplantasie aangeplant wat sy nageslagte eers sal kan benut.
        “As ʼn mens van inheemse hout praat, praat mens van ʼn 100 jaar plus (vir hierdie bome om volwassenheid te bereik), “ vertel Louis.
In ons nuwe kitssamelewing kan ek sien hoe bosbou nie aanloklik sal wees vir iemand wat sy oog op geldmaak het nie.

March-dorp-tzaneen-9

       Terwyl ek en Louis gesels, wonder ek skielik wat gebeur wanneer plantasies afgesny word vir hout. Moet hulle dan die reusestamme uit die grond uit kap voordat nuwe bome geplant kan word? Nee, sê Louis. Die stamme word in die grond gelos en die nuwe bome tussen hulle aangeplant. Teen die tyd wat die nuwe bome groot is, het die ou stamme natuurlik in die grond verrot.
         Louis noem ʼn ander interessantheid. Van die hout wat hulle inkoop, word 70% gedroog. Tydens die drogingsproses verloor dié hout amper die helfte van sy gewig in vog. Louis werk uit dat as die meule elke dag 130 kubieke meter hout sny en 70% daarvan droog, dan plaas hulle elke dag sowat 30 tot 40 duisend liter vog terug in die atmosfeer! G’n wonder die reënval hier is so hoog nie. Tzaneen kry sowat 1200mm per jaar, terwyl reënval in die omliggende woude tot 1400mm per jaar kan wees. Vergelyk dit met Kaapstad se gemiddelde reënval van sowat 475mm per jaar.  

“Tydens die drogingsproses verloor dié hout
amper die helfte van sy gewig in vog.”

        Tzaneen en omgewing is ʼn somerreënvalgebied, vandaar die erge humiditeit saam met die hoë somertemperature. Ek en Louis gesels verder oor omgewingsbewaring en emissiebeperkings. De Hoek-saagmeule gebruik ketels (boilers) om stoom vir die oonde te verskaf waar die hout gedroog word. Afval hout word gebruik om die ketels te stook, so die meule wek baie van sy eie energie op. Maar die prys wat daarvoor betaal word, is rookemissies.
        Tans is hulle besig om met die Departement van Omgewingsake saam te werk om oplossings te vind om dié emissies te verminder. Maar met die onsekerheid wat veral grondeise vir boere veroorsaak, is dit moeilik om jouself tot groot kapitale uitleg te verbind sê Louis. Die tegnologie vir rooklose skoorstene bestaan reeds, maar dit is bitter duur. “En hoe kan ʼn mens so ʼn uitgawe regverdig, as jy nie weet of jy oor ʼn paar jaar nog ʼn besigheid gaan hê nie?”
         Met my omswerwinge deur die Tzaneen- area het ek besef die meeste boere is positief oor grondhervorming, maar dit is dikwels ʼn baie langsame proses en die gewag veroorsaak meer onsekerheid as om die grond af te staan. Ongeldige eise is ʼn ander probleem en kos derduisende rande vir boere om te beveg. Ten spyte van hierdie struikelblokke wil boere egter opkomende boere bystaan en die meeste boere raak betrokke by mentorprogramme, en bied ook indiensopleiding op hulle eie plase.
Na die onderhoud neem Morné Lampbrecth my deur die aanleg. Hy is die saagmeule se produksiebestuurder en die toer is fassine- rend. Hy neem my na die ketel wat die heeltyd met afvalhout gevoer word om die oonde te verhit waar die hout gedroog word. Dit lyk soos ʼn pizza-oond vir reuse. Hy neem my ook in die oonde self in. Die hout word met ʼn vogtige hitte gedroog en dit is 70 grade binne hierdie oonde. Hoewel geen mens vir lank hierbinne vertoef nie, moet werkers gereeld metings doen om te bepaal hoe die droging vorder. Dit hitte is onaardig en slaan jou asem heeltemal weg.
        Tegnologiese vooruitgang word ook hier omhels. Morné wys my ʼn kloofsaag wat met presisielasers werk. Die saag kan lengtes hout akkuraat sny tot op ʼn fraksie van ʼn millimeter. Vandat hulle dié tegnologie inspan, herwin hulle tot 15% meer hout.
        Ons gesels ook oor die “Bell loggers”. Ek kon nie genoeg kiekies neem van hierdie masjiene nie. Dit is nie ʼn stomplaaigraaf van ouds nie. Mens moet goeie koördinasie hê om met hulle te kan werk. Met jou hande beheer jy die arm wat die hout optel en jou voete die 360 grade draai- en stuur-kapasiteit.
        Ek sou nou die speelding geniet, maar waar en waarvoor ek hom sou aanhou, weet nugter. Toe ek hoor wat hulle kos, het ek in elk geval belangstelling verloor.
Masjinerie vir so ʼn aanleg is peperduur. Die Bell Loggers se koste is naby ʼn miljoen rand (as dit nie al meer is nie) en volgens Louis Jnr. sou hulle aanleg – as hulle net die toerusting moes vervang – in die omgewing van R50 miljoen kos.
       Soos ek terugry Tzaneen toe, kyk ek ʼn laaste keer uit op na die impo- sante plantasies wat my omring en ek wonder waar presies die wêreld se hoogste aangeplante bloekom staan. Dié boom is sowat 2 jaar gelede in een van Komatiland se plantasies in die omgewing gemeet en hy het net oor die 80 meter hoog gestaan. Dis meer as 26 verdiepings.  

Agatha se krokodille – Hulle vat jy nie in die bek nie

       Ek bevind my later op die Agatha-pad. Dié omgewing aan die Suide van Tzaneen huisves verskeie Merensky-plantasies en ook sowat 3 000 hektaar plantasies van Komatiland. Op die grens van een só ʼn bloekomplantasie kom ek op die bordjie van Agatha Crocodile Ranch af, en besluit om te gaan inloer.
        Die krokodilplaas bestaan al bykans 40 jaar en is gestig deur eerstegenerasie-immigrante van die ou Joego-Slawië. Blanka en Milo Darasz was albei in die mediese professie, sy ʼn dokter en hy ʼn chemiese ingenieur, maar na hulle aankoms in Suid-Afrika het albei die mediese bedryf verlaat. Die krokodilplaas het begin toe Blanka twee krokodille by ʼn vriend van die egpaar ‘gered’ het. Hy wou glo die krokodille wegmaak en sy het aangebied om hulle oor te neem.  Die twee krokodilletjies het ʼn geskenk vir Milo geword.

March-dorp-tzaneen-10

        Krokodille kan tot ʼn 100 jaar oud word, so die twee oulike krokodilletjies is deesdae twee reusemoordmasjiene. Hierdie spesie verdien sy vreesaanjaende reputasie. Nadat ek my aan Blanka en Milo voorgestel   het – hulle was toevallig by die plaas en woon tans in Pretoria terwyl hulle seun Paul die plaas bestuur – ontmoet ek vir Sam Bopape.   Hy is die toergids op die plaas. Daar is elke dag ʼn voervertoning vir die publiek in die kamp waar die broeipaar-krododille aangehou word.      Dié broei- paar-krokodille is meestal reuse, sommige meer as 4 meter lank (hulle word tot 6 meter) en as mens ʼn paar van hulle in die oë gekyk het, besef jy jy is niks meer as prooi nie.
Hierdie is nie ʼn spesie waarmee jy kan redekawel nie, en hulle is nie jou maatjies nie. “Al wat hulle sien as hulle jou sien, is kos,” sê Sam.
Hy is ʼn joviale ou en hy laat my deurgaans giggel met sy sêgoed. Hy skerts dat krokodille soos regerings is, hulle is geneig om als vir hulleself te “snatch”. En ʼn vergryping is dié voerdery beslis.

“Dié broeipaar-krokodille is meestal reuse,
sommige meer as 4 meter lank...”

        Dié diere klap hulle bekke so hard toe dat hulle tande partymaal bloei. Volgens oorvertelling – wat Sam beaam – oefen hulle 1½ ton druk per vierkante sentimeter in hulle bekke uit. “As jy iets in daai bek kry, bly daar niks van oor nie. ” Sam vertel met ʼn glimlag dat hulle daagliks fisies in die kampe inklim, want hulle moet die eiers uithaal en skoonmaak.  
        Ek sidder en ek bid stilletjies dat hy nie vir my ʼn demonstrasie wil gee nie. Maar vandat die plaas in 1978 gevestig is, was daar nog nooit ʼn ernstige ongeluk nie. Milo is wel eenslag aan ʼn bo-arm-vel geknyp deur ʼn klein krokodil. Dit alleen het velrekonstruksie geverg.  Skynbaar is ʼn dik plastiekpyp genoeg om die diere weg te hou. Ek neem hulle woord daarvoor, dit is ʼn ondervinding wat ek  nooit gewillig wil hê nie.
       Sam gooi ʼn karkas in die water sodat ek kan foto’s neem, en daar is ʼn hengse geplas soos meer as ʼn handvol reptiele in ʼn oogwink op die karkas toesak. Hulle veg verbete vir die vleis en net een is die wenner. Sam sê die krokodille wedywer vir die prooi totdat een dier sy bek volkome om die karkas het, dan laat los die ander.
       Ek vra vir hom as net een krokodil op ʼn slag vreet, hoe almal dan kos kry. Wat van dié wat teruggetrokke of skaam is?
        “Gelukkig,” sê Sam “vreet die diere net totdat hulle versadig is, wanneer hulle versadig is, sal hulle nie vir die karkas gaan nie.”
        Sam sê die krokodille in die boonste kamp is vet omdat hulle elke dag gevoer word tydens die publieke voerdemonstrasies Gewoonlik word die krokodille net elke vyf dae gevoer. Sowat 5kg vleis sal hulle vir dié tydperk hou.
        Buiten die hoofkamp is daar verskeie ander kampe op die plaas. In totaal word sowat 4 000 krokodille aangehou. Hulle word hoofsaaklik vir die uitvoermark geteel waar hulle velle en vleis baie gesog is. Die meeste van die krokodilvelle word na Korea gestuur.
        Terwyl ons terugstap na die ontvangs toe, is ʼn krokodil besig om ʼn karkas te verskeur, so gewelddadig is die besigheid dat ʼn stuk vleis bo-oor die muur verby my kop trek, ek koes, Sam lag: “Die klomp het geen tafelmaniere nie!”
        In die tuin langs die hoofkamp baljaar ʼn klomp blouapies, hulle is werklik oral in dié omgewing en ek loop ook weer die groot wit lelies raak wat ek langs die pad in Magoebaskloof en George’s Valley gesien het. Dit is Formosa-lelies en Sam sê hulle kom wild in die tuin op: “Jy kan hom maar probeer plant, hy sal nie groei nie, maar as sy  saad oor jou tuin gewaai het, kom hy net daar op.”
        Die lelie voel vir my soos ʼn metafoor vir hierdie stukkie paradys. As dit in die grond val, dan groei dit. Tzaneen is onlangs deur die Elite Daily-webwerf aangewys as een van die wêreld se beste plekke om te toer as jy ʼn jongmens is met ʼn behoefte aan iets wat nie holruggery is nie. Die dorp was 27ste op die lys van 50 bestemmings, die enigste plek in Suid-Afrika om die lys te haal. En die Elite Daily is nie net nog ʼn webwerf nie, hulle het sowat 40 miljoen unieke besoekers.

       As jy nog nie hierdie wêreld besoek het nie, doen jouself ʼn guns en kom besluit of dit selfs mooier is as die Kaap.