Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Elgin-Grabouw - Oogappel van die Weskaap

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| April 7, 2015

Die oggend van my drie-dag-besoek aan die Elgin-Grabouw-area hang daar ʼn vertellende rookbank oor die Hottentots-Holland-berge soos ek oor Sir Lowryspas se nek ry.

Nadat Kaapstad ʼn week tevore onder verlammende brande deurgeloop het, was dit Jonkershoek en Stellenbosch se beurt. Die rook verleen ʼn dynserigheid aan die oggendlug en is grou getuienis dat brande vir boere in fynbosgebiede hier in die Wes-Kaap ʼn deurlopende gevaar inhou.
So sal elke boer wat ek sien, te kenne gee dat hulle die rook hier anderkant die berg met kommer dophou. Gelukkig teen die tyd dat ek die gebied verlaat, het dapper brandbestryders die brande weer teruggerem.
Die name Elgin en Grabouw is onder inwoners hier amper verwisselbaar.  Engelssprekendes sal sê hulle bly in Elgin, terwyl Afrikaanssprekendes sal verwys na Grabouw. Die dorpie Grabouw is die kommersiële sentrum van die Elgin-vallei wat die grootste enkele vrugte-uitvoerstreek in Suid-Afrika is, en meer as 50% van die land se appels produseer.

Elgin-wynroete se gewildheid groei

Oral waar mens kyk, is daar appelboorde. Hier word ook pere en wyn op noembare skaal verbou en Elgin het sy eie amptelike wynroete. Dié wynroete het 16 stigterslede, waaronder Almenkerk, wie se moderne en luukse kelder en proelokaal beslis ’n besoek werd is.   
Paul Wallace-wyne tel ook onder die lede en die bordjie buite die Wallovale-landgoed is tong-in-die-kies kommentaar oor die skeids-lyn wat geskiedkundig tussen Engelse en Afrikaners in die vallei geheers het. Trouens, toe ek daar stop om ʼn foto van die bordjie te neem, kom Nicky Wallace verbygery (ek neem aan dit was sy) en vra skertsend of ek hou van hulle sin vir humor. Die teken lees: Paul and Nicky Wallace en seuns.
Die Elgin-vallei is ook die tuiste van die bekende Paul Cluver-landgoed. Buiten vir hoogaangeskrewe wyne is die landgoed populêr vir sy repertoire van lewendige musiek-opvoerings in ʼn opelug-amfiteater. Van die kunstenaars wat al opgetree het, sluit in Suzanne Vega, die eklektiese Amerikaanse folk-sanger en liedjieskrywer wat treffers soos Luka en Tom’s Diner gehad het.  

Dis nou mos wors!

Grabouw het nog ʼn aanspraak op faam. Dit is die wieg van Grabouw-boerewors. Dit wat verbruikers deesdae in supermarkte kry, is egter lankal nie meer die oorspronklike ding nie. Dít kan mens deesdae net by die Grabouw-slaghuis in die dorp se hoofstraat koop as jy wil hê dit moet naby outentiek wees.
Die wors is oorspronklik in die 1960’s vir die Grabouw-slaghuis gemaak deur Pieter Wasserman.  Die geheim van die oorspronklike wors was skynbaar varke wat op akkers gevoer is. Dit het die wors ʼn unieke vetlagie gegee, maar weens die skaarsheid van sulke varkvleis word dit nie altyd in die wors gesit wat vandag by die Grabouw-slaghuis verkoop word nie.  

april-dorp-9


Die naam Grabouw-boerewors kon nooit deur die oorspronklike makers van die wors of die slaghuis se eienaars geregistreer word nie, aangesien die handelsnaam ʼn pleknaam bevat het. Selfs latere pogings deur Shoprite om die naam te registreer het misluk, derhalwe verkoop allerhande handelaars deesdae wors wat as Grabouw-boerewors bekend staan. So as jy so na as moontlik aan die ware Jakob wil kom, moet jy hom by die Grabouw-slaghuis in die hoofstraat gaan haal.   
Nadat die wors in die 70’s ook sy weg na Kaapstad se markte gevind het, het selfs oud President F.W. de Klerk ʼn openlike aanhanger van die wors geword.  Hy het in ʼn personder-houd vertel dat hy altyd sy rantsoen Grabouw boerewors in Grabouw self gaan koop het wanneer hy oppad was na sy huis in Hermanus.

Applethwaite – Geboorteplek van Appletiser

My eerste plaasbesoek in die prentjie mooi Elgin-vallei is by Applethwaite, tuiste van die oorspronklike Appletiser-appeldrankie.  Edmond Lombardi, van Frans-Italiaanse herkoms, het die Applethwaite-plaas in 1937 bekom en was volgens oorlewering ʼn baie bekwame appelboer.
Om in die plaas se waterbehoeftes te voorsien het Lombardi in die 1950’s ʼn dam laat bou wat steeds as die Applethwaite-meer bekendstaan. Destyds het baie voorspel dat die duur onderneming hom sou laat ondergaan, maar die dam was ʼn groot sukses en verskaf tans water vir meer as 300 ha vrugte. Die meer is ook die tuiste van een van die land se mees gesogte ski-klubs.
april-dorp-1Johannes Fourie, Applethwaite se Produk-siebestuurder sê die manne sal vuisslaan vir ʼn kans om in dié meer te kom hengel. Dit is vol vis. Ondermeer swartbaars, tilapia en Blouwangsonvis word gereeld hier uitgetrek. Jammer, maar as jy nie lid is van die ski-klub nie moet jy wag vir die een keer per jaar wat die George Lions-projek vir liefdadigheid ‘n visvangkompetisie by die meer reël. Dis die enigste geleentheid wanneer die publiek hier kan hengel.
Volgens dorpstaaltjies (wat ek nie formeel kon bevestig nie) het  een van Edmond Lombardi se dogters ʼn potensieel problematiese voor-liefde vir sjampanje ontwikkel en het dit ʼn invloed gehad op sy besluit om ʼn alkoholvrye vonkel-vrugtedrankie te ontwikkel.
Ander redes vir die ontwikkeling van Appletiser was dat Lombardi ‘n nuwe uitdaging nodig gehad het. Dit sou ook belastingvoordele vir die plaas inhou en ‘n afsetpunt bied vir surplus appels. Lombardi was nie net ʼn goeie boer nie, hy was ook ʼn kranige bemarkingsman en die naam Appletiser was ʼn anagram van die woorde “apple” en “appetiser”.
In 1969 is die drankie op klein skaal in die Wes-Kaap geloods. In 1972 het Lombardi kragte saamgesnoer met Coca-Cola Suid-Afrika en het 49% van die aandele in Appletiser verkoop. Die ooreenkoms het Appletiser op die pad van die alombekende handelsmerk geplaas wat dit vandag is.
Appletiser word nie meer op Applethwaite gemaak nie. Appels van die plaas word aan Associated Fruit Producers gelewer wat die appels pars vir Appletiser. Dié aanleg is net ʼn paar honderd meter van die Applethwaite-plaas geleë. Deesdae besit SA Brouerye die Appletiser-handelsmerk en die Applethwaite-plaas het ook van hande verwissel. Tans is dit in besit van die vrugtebemarkingsmaatskappy Cape Span.

Monteith – Multikanaal-bemarkingsukses

Daar is diegene in ons land wat hunker na ʼn “voor- 94”-verlede, maar onder kommersiële vrugteboere in hierdie vallei gaan jy bitter min, indien enige van hulle teëkom. Andries Erwee verteenwoordig die 5de generasie Erwee’s wat op die plaas Monteith boer. Soos die meeste boere in die omgewing is appels hulle brood en botter. Hulle het 480ha onder aanplanting van appels, pere en pruime, maar pruime is hulle kleinste gewas en hulle is besig om dit uit te faseer.
april-dorp-2Sowat 80% van die boorde beslaan appels en ‘n 100ha van die 480ha grond sit op landgoed in die Greyton-area. Ek vra vir Andries wat die grootste vorentoe-spronge was wat die bedryf oor die jare geneem het.
“Bemarking,” sê hy. “Die wegbeweeg van enkelkanaalbemarking het die bedryf heeltemal verander.”
Onder die ou bedeling was die bemarking van vrugteboere se produksie onderworpe aan staatsbeheerde vrugterade. Vanaf 1996 is produsente egter toegelaat om hulle eie vrugte buitelands te bemark en self uitvoermarkte te ontgin.
“Dít en die skeiding van die produksie en verpakkings- en logistieke funksies het daartoe bygedra dat produksie geweldig verhoog het,” sê Andries.
In 1971 was Andries se pa Jurie een van die stigterslede van Kromco. Kromco is deur ʼn groep Elgin-vallei-vrugteprodusente in die lewe geroep om die verpakkings en logistieke deel van hul besighede te behartig.
“Ons het die verpakking aan die spesialiste oorgelaat en ons kon fokus op produksie,” verduidelik Andries. “In ʼn kwessie van sowat 15 jaar het produksie verhoog van 5 duisend kratte (vrugte) tot 50 duisend kratte.”
Kromco het ook na 1996 begin om uitvoerbemarking vir sy 15 aandeelhouers te doen. Omdat produsente ʼn direkte aandeel in Kromco het, word daar nou saamgewerk om die bedryf se voetspoor in die buiteland te vergroot.
Afrika het oor die laaste dekade een van die grootste uitvoermarkte vir Suid-Afrikaanse appels geword, maar die kontinent kom met sy eie uitdagings.
april-dorp-10Om nuwe markte in Afrika te ontgin beteken jy moet jou moue oprol en jou voete spreekwoordelik vuil kry. Boere in die Kromco-stal besoek self markte in Afrika-lande en gaan kyk wie verkoop vrugte uit watter lande en onder watter handelsmerke. Dan word daar genetwerk met bestaande produsente (gewoonlik uit ander kontinente soos Europa) om skakels in dié Afrika-lande te bekom.  Andries sê lande in die Noordelike Halfrond is dikwels gewillig om netwerke te help bou vir Suid-Afrikaanse boere, omdat ons oesseisoen van hulle s’n verskil.  
Die skerp daling in die olieprys in 2014 en die begin van 2015 het egter appeluitvoere na Afrika geknou. Dit gaan oor die beskikbaarheid van buitelandse valuta om betalings vir die appels te maak.
SA-boere word in Amerikaanse Dollar vir hul vrugte betaal en wan-neer die olieprys daal, is daar minder Dollars beskikbaar.
april-dorp-3Andries sê hulle hoop ook om uit te brei in Sjina in. Suid-Afrika kan van 2015 af appels na Sjina uitvoer. Dié toegewing is einde 2014 gemaak.
Ek vra vir Andries wat die appelbedryf se grootste uitdagings is
vir die volgende dekade en hy sê insetkoste en onderstamme. Die meeste boere in die appelbedryf is dit eens dat Suid-Afrika ‘n redelike agterstand het teen die res van die wêreld wanneer dit kom by onderstamme.
Elders in die uitgawe kyk ons meer in diepte na eksperimente met sogenaamde Boorde van die Toekoms, maar Andries het ook ‘n paar eksperimentele boorde op sy plaas waar hy met nuwe onder- en tussenstamme eksperimenteer. Verder het hy op een van die blokke op die Greyton-plaas drupbesproeiing geïnstalleer om water- en energie-besparing te toets.
“Drupbesproeiing is meer bestuursintensief,” sê Andries. “Jou kans vir foute met jou besproeiing is hoër so jy moet meer akkuraat wees.”
“Met drupbesproeiing is daar nie ‘n buffer water onder die boom soos met mikrobesproeiing nie, maar dit beken ook minder verdamping.”
Andries reken hy spaar sowat 25-30% water met die drupbesproeiing.
Voordat ek wegry by Monteith pluk ons heerlike vars Golden Delicious-appels in een van die boorde. Daar is ‘n kuns aan appels pluk, jy lig die appelstingel en al op en pluk dit na boontoe eerder as om dit af te trek. Dis my eerste appel so uit ‘n boord en ek’s oortuig mens kan die sonskyn in die vrugte proe.

Oak Valley – Hou voet by diversiteit-stuk

Oak Valley is een van die oudste plase en die tweede grootste landgoed in dié kontrei (net onder  1800 ha). Dit is ook een van die min plase in die Elgin-vallei wat werklik divers is. Diversiteit was nog altyd ʼn karakterstempel van Oak Valley sedert die plaas in 1898 deur Dr. Antonie Viljoen gekoop is. 

Ryk geskiedenis

april-dorp-4

Dr. Antonie Viljoen was ʼn groot gees in die  Suid-Afrikaanse geskiedenis. Geneesheer, parlementslid, direksielid van die Nasionale Bank van Suid-Afrika en SA Mutual, boer en entrepreneur. Hy is ook as verraaier aangekla onder Paul Kruger se regering omdat hy Ka-kie-leiers sowel as Boerekrygers behandel het na die Jamieson-inval in 1896 en geweier het om een van die Engelse leiers te oorhandig omdat hy te swaar gewond was. Dié inval was ʼn voorloper vir die Anglo-Boereoorlog en Dr. Viljoen het sy pos as Distriksgeneesheer in Krugersdorp in die  proses verloor.
Hy is ook later tydens die Anglo-Boereoor-log deur die Engelse gevange geneem en op parool vrygelaat. Hy was waarskynlik Suid-Afrika se eerste en laaste krygsgevangene wat onder plaas-arres geplaas is. Dit was nogal ʼn vermetele ooreenkoms. Die Engelse het inge-stem dat hy op Oak Valley kon voortgaan met sy bedrywighede, maar hy moes self betaal vir twee wagte wat hom moes oppas.
In 1916 het hy Sir Antonie geword toe hy ridderskap ontvang het vir sy onverpoosde werk om die rif tussen Brit en Boer ná die oorlog te genees.  april-dorp-11Sir Antonie het hom ook as entrepreneur in die landbou onderskei hoewel hy vir ‘n be-treklike kort tydperk van sy lewe geboer het (sowat 19-20 jaar). Hy het in 1900 die eerste kommersiële vrugteboorde in die Elgin-vallei geplant en gevolglik die era ingelei van ʼn be-dryf wat op die ou end die lewensbloed van die vallei sou word.   
In 1907 het hy ‘n kelder op die plaas gebou en in 1908 het hy sy eerste bulkwyn produ-seer. Die kelder is egter tydens die Tweede Wêreldoorlog in onbruik geplaas sodat perskes op die plaas aangeplant kon word. Die aanplanting van die perskes was ʼn uit-stekende besluit weens die aanvraag na geblikte produkte tydens die oorlog en Oak Valley het een van die grootste produsente vir inmaak-perskes in Suid-Afrika geword.  Toe koelkamertegnieke en skeepvaart na die Tweede Wêreldoorlog verbeter het, is die perskes met appels vervang, wat tans Oak Valley se grootste gewas is.

‘n Lushof van Eike

Anthony Rawbone Viljoen is Sir Antonie Viljoen se agterkleinseun en hy ken die plaas se geskiedenis soos ‘n boek. Tersluiks, wanneer daar oor Oak Valley geskryf moet word dan is dit Anthony wat gewoonlik die pen opneem. Hy vertel my ‘n klomp staaltjies, tot my spyt te veel om hier te noem.
april-dorp-5Een van hulle is die soms puntenerige bepalings van Sir Antonie Viljoen se testament. Sir Antonie het in Skotland medies gestudeer en met sy aankoms in Oak Valley het hy honderde eikebome op die plaas geplant (vandaar ook die plaas se naam). Dis gedoen grootliks weens sy voorliefde vir die bome, maar ook omdat dit hom aan Skotland herinner het. Vandag is daar meer as vier-duisend eikebome op die plaas en volgens Sir Antonie se testament mag geen van die bome sonder toestemming van die testament se eksekuteurs uitgekap word nie.
Elke erfgenaam van die plaas moet ook die Viljoen-naam dra. Aangesien Sir Antonie geen seuns gehad het nie, het dit ‘n tameletjie afgegee, en skerts Anthony was een van sy voorvaders op ʼn tyd (weens ‘n hofbeslissing om die saak uit te pluis) James Viljoen Rawbone-Viljoen.  So lief was Sir Antonie vir sy eike, dat een van sy dogters Oakleine gedoop is.  
Die eike is nie net vir versiering nie, dit is ook ʼn bron van inkomste vir die plaasgemeenskap. Hulle word betaal per sak akkers wat hulle optel en hierdie akkers word ondermeer gebruik om die varke by Oak Valley se vrywei-varkboerdery te voer.

Die terugkeer van kommersiële wingerde

In 1992 het Anthony – wat nou aan die stuur van die plaas staan – die aanplanting van die eerste kommersiële wingerd op Oak Valley vir die nuwe generasie oorsien en in 2003 het wynmaker Pieter Visser Oak Valley se eerste Sauvignon Blanc onder die plaas se etiket gemaak.
Selfs in die wingerde op Oak Valley is daar groter kultivardiver-siteit as wat mens gewoonlik op ‘n wynplaas sien. Hulle plant byvoor-beeld amper al die tradisionele Bordeaux-variëteite behalwe Malbec. Terwyl ons deur die indrukwekkende landgoed ry, vra ek vir Anthony hoekom soveel verskillende druiwe, en hy sê dat versnit-wyne huidig baie populêr is en dit is ook ‘n verskansing teen die wispelturigheid van verbruikers se smaakkeuses.

Gesogte beesvlees

Aanpassing by die smaakkeuses van gesofistikeerde verbruikers is klaarblyklik ‘n besigheidsbeginsel by Oak Valley, want die landgoed is ook besig om ‘n Wagyu beeskudde op te bou wat na beplanning in 2016 markgereed sal wees.
Wagyu-beeste is die leweraars van die gesogte Kobe Beef waaroor veral die eksklusiewe restaurantbedryf gaande is. Die vleis het ‘n baie intensiewe marmering, dit is duidelik sigbaar wanneer mens na die vleis se snitte kyk. En dit is marmering wat biefstuk se smaak en sagtheid ontsluit.

april-dorp-6


In Suid-Afrika is Wagyu-boerdery beperk, hoewel die vleis baie gesog is. Die bees is van Japanese herkoms en wêreldwyd is genetika skaars en duur. Oak Valley gebruik ingevoerde Wagyu-embrio’s wat deur in vitro-metodes in Simmentaler-koeie ingeplant word. Teen Maart vanjaar het die plaas 51 Wagyu-diere gehad. Die suiwerbloed Wagyu’s word ook met die Simmentalers gekruis om die karaktereienskappe van die Simmentalers se vleis te verbeter.   
As jy self Oak Valley se bief wil beproef, gaan loer in by The Pool Room. Dié restaurant is einde 2012 geopen in een van die plaas se ou herehuise. Buiten uitstekende kos is die tuine se eikebome en lappe krismisrose ook ‘n lafenis vir ‘n stadsiel.

En ʼn blom vir my dahling

Miskien die ongewoonstedeel van die Oak Valley-boerdery is snyblomme. Die Hollanders het blomboerdery oor die eeue tot ‘n fyn kuns gedistilleer, maar snyblomboerdery is nie iets wat jy algemeen in Suid-Afrika teëkom nie.
In 1977 het ‘n Hollander wie se ouers blomboere was, hom by Oak Valley aangesluit en voorgestel dat daar met snyblomme begin word. Aangesien blomme ‘n hoë-waarde gewas is, is daar besluit om dit deel van Oak Valley se diversifiseringstrategie te maak. april-dorp-12Anthony vertel dat daar ʼn paar faktore is wat boere afsit van dié soort boerdery; hoë aanvangskoste vir jou infrastruktuur, ‘n gebrek aan kennis en die feit dat snyblomme so vinnig bederfbaar is.
Vandag is Oak Valley die grootste groot-handelverskaffer van snyblomme in die Wes-Kaap en word blomme wat nie op die plaas gekweek word nie ook van buite af ingekoop. Die pakhuis op die plaas het selfs ʼn rangskikkingsafdeling. Oak Valley werk saam met bloemiste om rangskikkings voor te stel en dan aan kliënte soos hotelle en kettingwinkels voor te lê.
april-dorp-7Die pakhuis is ʼn ontploffing van kleur met rye en rye trollies vol sellofaanomhulde bosse blomme in swart emmers halfvol water. Die blomme word altyd so nat gelewer. Ek merk Woolworths en die One and Only-hotel in die Waterfront as van die kliënte vir wie die blomme bestem is. Ongelukkig kan die publiek nie hier blomme koop nie en word alle blomme aan kleinhandelaars soos bloemiste, kettingwinkels en die gasvryheidsbedryf gelewer.
Dis koud in die koelkamers, tussen 5 en 7 grade om die blomme vars te hou. Klimaat word ook in die kweekhuise versigtig beheer. 
Twee metodes word gebruik. Die een staan as “fan & pad” bekend, die ander is ‘n konvek-siestelsel wat die Hollanders “noklugting” noem. Nokke in die dak van die kweekhuise het flappe wat deur ʼn rekenaar verstel word om lug deur te laat en op dié manier lugvloei te bewerkstellig. Die “fan & pad”-stelsel is meer presies en behels groot verkoelingswaaiers wat ook gerekenariseerd is en water wat in geriffelde staalpanele ingesproei word, die panele en waaiers word aan teenoorgestelde kante van die kweekhuise geplaas om vogtige lug te versprei wat die kweekhuis afkoel.
Oak Valley se blomafdeling spog met van die heel eerste Hollands-vervaardige kom-mersiële glaskweekhuise wat in Suid-Afrika ingevoer is. Voorwaar nie ʼn goedkoop onder-neming nie.

Padstalle van noemenswaardigheid

Soos die N2 deur die Elgin-vallei vleg, is daar  verskeie padstalle wat jaarliks klosse toeriste lok. Twee van hulle moet ek uitsonder. Die
Peregrine padstal sit hier vlak naby Grabouw langs die snelweg en is een van die gunsteling uithangplekke van die Agrimark-personeel op die dorp. Hulle bring my een middag vir ʼn roostertoebroodjie - dis die tuisgebak waar-agter hulle aan is en ek kan getuig dat die volkoringbrood uitsonderlik lekker is.
Die kenmerk van die padstal is die klomp antieke trekkers wat op die werf rondstaan en die rooie wat op ʼn platform gemonteer is sodat mens dit van die pad af kan sien.  Die padstal se Red Tractor Café-restaurant het verlede jaar afgebrand maar het intussen weer geopen met moderne glas- en houtfasades en hoë nokke wat ʼn oop en lugtige atmosfeer skep. Dis ook ʼn meevaller vir reisigers soos ek dat hulle in die week al van 7:30 af koffie en ontbyt bedien.

Dassiesfontein O Dassiesfontein

Dan is daar Dassiesfontein, en jy gaan ver soek om nog so padstal in die land raak te loop. Dit sit op ʼn hoogte langs die N2 so te sê presies tussen Botrivier en Caledon. Ironies lyk dit van buite stowwerig, half ongepoets, veral dié tyd van die jaar wanneer die omringende landskap droog en vol warrelwinde is. Dit sou meer kieskeurige reisigers dalk laat verbyhou en dit sou jammer wees, want hier kan jy vir ʼn hele oggend lank skatte jag. Dit herinner aan ʼn negosiewinkel – hipermarkgrootte.
In die verlede is hier met die hand meel gemaal, wat Dassiesfontein se brode anders-wêrelds gemaak het. Jy kan steeds by die deli ongebleikte “stone-ground”-broodmeel koop, maar deesdae word dit deur Golden Reef Milling in Greyton verskaf. Buiten vir die meel, is die deli ʼn buffet van ongewone kos-items, van gemaalde perlemoen tot Kaapse moskonfyt.
Die restaurant is bekend vir sy boerekos, veral kerrieafval op ʼn Saterdag. Op die spyskaart is daar waterblommetjie- en tamatie-bredie en dan is die nuwerwetse met die ouderwetse verweef in ʼn Banting-spyskaart vir diegene wat aanhangers van die groeiende Banting-dieet is.   
ʼn Ander Dassiesfontein-trekpleister is sy versameling opgeknapte kool & houtstowe en selfs die onderdele wat jy vir hulle nodig het. Ek merk ʼn paar ou Defy’s maar dis die Jewels en die gietyster Welcome Dovers wat die uit-stalling oorheers.
Niggies Andeline en Caroline Jacobs be-stuur die padstal vir die eienaar Sassie Fick, wat meeste van die tyd boer. Caroline was van die eerste werkers hier toe die padstal in 1996 geopen het.
april-dorp-8 copyStap mens deur die restaurant na agter, is daar groot vertrekke vol antieke meubels en –breekware. Ontelbare ander versamelstukke en snuisterye staan op rakke en vloere so jy moet tyd neem om als te ontdek.  Daar’s  selfs ʼn boetiek met leerskoene en handsakke, klere en krale en in ʼn ander inham is ou deur- en kashandvatsels by die dosyne in houers uitgestal. Trosse uitspattige kandelare hang teen die restaurant se dak, elke oppervlak bedek met iets vreemd of uitsonderlik om te koop. Ek merk op een muur ʼn klos bakke wat lyk soos plastiek, maar van bamboes gemaak is.
Ek vra die Jacobs niggies waar al die goed vandaan kom en hulle glimlag en sê die eienaar soek vir ongewone en eienaardige ware van reg oor die wêreld. Een van verlede jaar se onverwagse goeie verkopers sê Andeline, was ʼn besending van ʼn duisend pikke en grawe wat uit die Tweede Wêreldoorlog uit dateer en deur ʼn Switser aan die eienaar verkoop is.   
Voor ek Dassiesfontein verlaat, loop ek ʼn draai en in die badkamer is als ook te koop. ʼn Tafel wat van ʼn ou tas gemaak is, ʼn erdemelk-beker met ʼn klomp lelies daarin en ʼn swetter-joel leeslampe wat sommer so deur die toiletvensters gehaak is.

Die land se oudste Inn

Oppad terug Grabouw toe ry ek verby die Houwhoek-padstal, nog ʼn gewilde stilhouplek vir reisigers wat bekend is vir sy heerlike vars pasteie. Ek besluit ʼn besoek aan die area sal nie kompleet wees sonder ʼn stop by die Houw Hoek Inn nie. Die Inn is die oudste gelisen-sieerde Inn in die land en het sy lisensie in 1834 bekom, maar sy grondverdieping dateer uit 1779.april-dorp-8a

Die Inn was oorspronklik ʼn opstal wat deur ʼn boer en sy vrou besit is, die opstal het ʼn gewilde oorblypunt geraak vir reisigers wat per ossewa deur die moordende Houwhoek-pas moes trek die binneland in. In die 1840’s het die Beyers-gesin die Inn oorgeneem en volgens oorvertelling het hulle in 1848  ʼn bloe-komboom langs die ingang van die Inn geplant om die geboorte van hul dogter Maria te vier. Hierdie reuseboom pryk steeds voor die Inn en is waarskynlik die oudste aangeplante  bloekom in die land.