Volg ons op Facebook

St Helena Baai - Baai van hoop en heimwee

Written by  Marlene Bramley
| in Dorp
| February 26, 2014

Die reis op Weskus toe vanuit Kaapstad vat so tussen twee en twee en ‘n half ure, afhangende van hoeveel keer jy verdwaal tussen die N7, R27 en R304.  In my geval het ons al die robotte op die R27 probeer misry en toe ons weer kyk sit ons in Atlantis.  Wel, ek dink Atlantis is een van daai plekke waarheen mens nooit oppad is nie, mens ry dit raak terwyl jy na ander paaie soek.  Maar ons moet praat oor die Weskus…

Soos 'n Vasco da Gama van ouds is ek en my reisgenoot ook op soek na St Helena Baai waar die eertydse seevaarder na vier maande op see saam met sy bemanning goed honger en goed gatvol aangekom het.
Met ons aankoms het ons darem in 'n beter toestand die St Helena Baai-hotel binnegevaar, dors, maar ten minste nie met skeurbuik nie.
Ons gesels toe ook sommer oor 'n koue bier met Till, die kroegman agter 'n stil, verlate toonbank, wat ons bondig inlig oor al die gebeure en besienswaardighede op die kusdorp.
St Helena Baai is volgens hom ook een van die min baaie in die wêreld waar mens die son kan sien opkom en ondergaan oor die see waar inwoners en vissermanne die see dag in en dag uit van oos na wes kan bespied met herinneringe van vroeër jare toe die vis nog volop was.
“Die vis het hier mooi geloop,” vertel Fred Matthews, 'n man wat sy eie sleepnettrekker onlangs moes verkoop op soek na 'n beter heenkome.

“Die vis het hier mooi geloop,”

“Deesdae hardloop die treilers so ver as Gansbaai op soek na vis. Alles is uitgevang”, vertel Fred verder met heimwee in sy oë.
Op die seefront van die baai sien mens die fabrieke se rookbolle nog dag en nag teen die blou hemel opslaan, soos hulle vis blik en mens wonder hoeveel vis so 'n fabriek nodig het om aan die gang te bly.
Oppad Shelly Point toe, waar ons die aand oorbly, ry ons deur die “dorp”. Dit val my op dat daar teen die heuwels wat oor die baai uitkyk oral strate met lampligte uitgelê is, met hier en daar 'n huis wat opgaan.
Dit wil lyk asof almal regmaak vir groot ontwikkeling. Selfs 'n nuwe Spar wat hier oopgemaak einde November, wys op hoë verwagtinge.
Maar die ekonomiese krisis van enkele jare terug het almal hard geslaan en die groot planne laat briek. Nou wys die landskap tekens van onvervulde drome en 'n broek vol planne wat platgeval het. Die dans met hoop hier op die Weskus was nog altyd 'n moeilike dans. Sy laat mens maklik pootjie in die wals.

By Shelly Point hang my mond behoorlik oop.
In die middel van hierdie harde, ongenaakbare Weskus-klimaat is daar 'n gholfbaan! Met groot huise, 'n massiewe hotel en spa, en allerhande tydverdrywe vir die mense wat hier kom aftree of vakansie wil hou.
Ek dink aan die verlate dorpie waardeur ons pas gery het, en kan nie help om effe skisofrenies te voel nie. 'n Gholfkarretjie ry my amper om oppad klubhuis toe waar daar lang middagetes, gepaard met lekker wit wyn, daagliks geniet word.
Ja, dink ek by myself, hier gaan ons een van daai bekende Weskus-krewe op die bord kry. Toe nie. Paternoster is die plek, word ons vertel.
Nou wat hou mense aan die gang in dié wêreld?
Hier word daar met koring, canola, olywe, druiwe en wyn, rooibostee, vrugte en groente asook vee geboer. Dié area is die tweede mees ekonomies-produktiewe gebied in die Wes-Kaap, volgens 'n verslag van die Weskus-munisipaliteit wat verlede jaar uitgereik is.

"Ja, hier sal ons ten minste een van daai bekende Weskus krewe op die bord kry vanaand."

Toerisme is ook 'n belangrike deel van die ekonomiese samestelling van die gebied, soos mens kan sien elke vakansie wanneer al die Gautengers hier kom uitspan en in die see kom baljaar.
Weskus-mense is vriendelike mense en hulle praat met 'n lekker souterige aksent en weet hoe om 'n vis oor die kole te looi. Hulle verwelkom almal met hul tipiese Weskus-gasvryheid so tussen die bome wat skeeflê van die wind.
Nadat ek my pad deur die hawe gefotografeer het, stap ek af tot by die see.
Ek dink aan ou Griekeland se Atlantis en die fliek oor Shirley Valentine wat haar voete so in die water gesit het om haar verlede af te was, en ek wonder of daar ook 'n held op my pad sal kom wat my toekoms blinker sal maak.
In die deinserige laat middag sonsak besef ek weer wat dit is wat hierdie deel van ons land so 'n betowerende ervaring maak. Die stilte en die oop vlaktes wat kom kniebuig teen die Atlantiese oseaan en ook die lang wag op hoop vir beter dae en 'n nuwe era vir St Helena Baai en sy Weskus-mense.
En hopelik is die “inkommers” soos ou Fred hulle noem, mens-mense wat iets agter laat en nie net wegneem as hulle die kattebak toeslaan en na hul kuier wegry nie.


 Meer inligting kan op hierdie webwerwe gekry word:
http://www.saldanhabay.co.za/pages/maps-stats/statistics/stats.html
http://westcoastdm.co.za/documents/strategies/