Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Gamtoosvallei - Deur albei kante van die venster

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| June 3, 2015

In die hart van die Gamtoosvallei net wes van Port Elizabeth sien jy die Vensterberg, in die volksmond so genoem weens die reusegat in sy piek wat oor eeue deur korrosie gevorm het.

Dis waarskynlik weens die verkenning van dié ongewone landmerk dat vroeë setlaars in die gebied onder leiding van William Philip (die seun van ʼn plaaslike dominee) besluit het om ʼn tonnel onderdeur dié berg te kap. Die doel was om die kosbare water van die Gamtoosrivier aan die Vensterhoek-kant van die berg na die vrugbare vallei aan die Backhousehoek-kant te gelei. Twee spanne het in 1844 die 183m lange tonnel met die hand voltooi. Volgens oorvertelling het die spanne aan weerskante van die berg begin kap en binne ʼn meter van mekaar geëindig.

Die Gamtoosrivier is steeds die voedingsaar van kommersiële landbou in die vallei, wat tans grootliks op die verbouing van sitrus en groente (insluitend aartappels) gefokus is.  Die streek sluit ook beduidende suiwelboerderye in, maar dié is meer tot die Tsitsikamma-, Humansdorp- en Gamtoosmond-omgewings beperk. 

In Patensie en Hankey waar ek die grootste deel van my besoek aan die Oos-Kaap spandeer, is sitrus- en groenteverbouing die oorwegende landboubedrywighede.  

Gamtoos Kwekery

Rikus du Preez is die eienaar van die Gamtoos Kwekery, ‘n groot verskaffer van sitrus- bome aan kommersiële boere in die kontrei. Op enige gegewe tydstip word sowat 400 duisend sitrusboompies by dié kwekery ge-kweek. 

Die kweek van sitrusbome vir kommersiële landbou het die afgelope twee dekades hoogs gespesialiseerd geraak. Elke boom moet gesertifiseer wees en daar is slegs een grondvesblok vir sitrus-entmateriaal in die land, en dit is in Uitenhage. Kwekerye soos Rikus s’n, groei onderstamme van saad af in saai-laaie. Wanneer hierdie onderstamme gereed is, word hulle in sakkies oorgeplant en daarna word die kultivar van die boer se keuse op die onderstamme geënt.

Rikus en sy span doen aanbevelings oor beide onderstamme en kultivars wat die geskikste is vir die omgewing, bestand is teen siektes, en die beste opbrengste lewer.

Rikus sê die entmateriaal kom in die vorm van ʼn stokkie met ogies wat die entmateriaal vorm. ʼn Tantieme stelsel vir spesialiteitskultivars geld óók in die sitrusbedryf. Rikus noem laat mandarynkultivars as voorbeeld. Dié kultivars is veral gewild omdat hulle in die laatwinter in Suid-Afrika in seisoen kom, wanneer daar ʼn aanvraag na mandaryne uit die suidelike halfrond in Europa ontstaan.
Om oorprodusering van dié kultivars te verhoed en die vrugte se waarde hoog te hou word die aanplanting van gelisensieerde kultivars deur die lisensiehouers beperk. Boere moet aansoek doen om die kultivars aan te plant en dis nie ongewoon dat aansoeke afgekeur word nie. Tantieme word gehef op elke boom wat aangeplant word en boere betaal ook ʼn heffing op elke karton vrugte wat hulle lewer. 

Weens die feit dat sitrusboere tans al hul bome vanaf spesialiteitskwekerye moet bekom, en tantieme op baie van die bome moet betaal, het die insetkoste in die bedryf heelwat verhoog. Om die koste-aspek nog verder in perspektief te stel, neem Rikus se besigheidsvennoot Klaus Ferreira en sy operasionele bestuurder Keuler Engela my op ʼn toer van die kwekery.

Keuler noem dat hulle staaldraad gebruik om die jong sitrusboompies op te lei. Hierdie draad kos meer as R2,00 stuk en as jy dit met 400 duisend maal, kan jy self die somme maak, en dit is net die koste van die ‘bloudraad’ in die kwekery!

Klaus is meer betrokke by die kusmisge-deelte van die besigheid. Hy en Rikus het Carbotech™ ontwikkel na vele eksperimente met bemesting in verskeie sitrusboorde. Volgens Klaus laat hierdie vloeibare kompos enige plant soos ʼn bom groei.

Hulle voer reeds uit na Australië, Nieu-Seeland en ander lande in Afrika soos Swaziland en Zambië. Die aanleg waar die Carbotech vervaardig word (langs die kwekery), lyk behoorlik soos ʼn laboratorium uit ‘The Nutty Professor’. Dit borrel en skuim en lyk merkwaardig baie soos die erdwurm-tee wat deesdae so hoog as wondervoeding vir grond aangeskryf word.

As ʼn agronoom hou Rikus daarvan om te eksperimenteer. Een van die kwekery se skeppings wat veral gewild is (onder enigiemand wat gelukkig genoeg is om een in die hande te kan kry), is die ‘vrugteslaaiboom’.

Die vrugteslaaiboom is ʼn sitrusbaster van formaat waarop daar tot vier soorte sitrus op een onderstam geënt word, byvoorbeeld ʼn vroeë en laat nawel, ʼn suurlemoen-variëteit, en ʼn Valencia. En so kry jy van een boom ʼn hele vrugteslaai. Rikus sê hulle kweek elke jaar “vir die pret” ʼn paar honderd van dié boompies, maar sodra mense hoor hy is besig daarmee, is hulle al verkoop.

Van dors en water

Die aand kuier ek en Rikus saam met Keu-ler en Riaan Marais van Gamtoos Agrimark by die Ripple Hill Hotel. Dis die plaaslike watergat en ook waar ek vir die week tuisgaan. Ek is altyd so half skrikkerig vir kleindorpiehotelle; mens weet nooit wat op jou wag nie. Maar die Ripple Hill het my aangenaam verras. Die kamers is smaakvol versier en die uitstekende pizzas en vriendelike kroeg met sy yslike kaggel is waarskynlik die rede hoekom die hotel die plaaslike uithangplek is. Die eienaar John Moore en sy vrou N’Ré is oorspronklik uit die Strand en Stellenbosch se wêreld.

So tussendeur die beurtkrag vertel Rikus en Riaan my van die bou van die Kougadam. Die dam is in die 1960’s voltooi en die besproeiingskema wat daaruit ontstaan het, het landbou in die Gamtoosvallei aansienlik bevorder. Water-inlei-kwotas wat destyds uit dié besproeiingstelsel aan boere toegeken is, geld steeds en maak besproeiingskemagrond in die vallei so skaars soos hoendertande.
Vandag nog is die 95m hoë boogdamwal  ʼn baken van uitsonderlike ingenieurswese en maak dit indrukwekkende lugfoto’s.

Vensterhoek - Die rivierkant van die Venster

Die volgende oggend vroeg stamp-stamp ek en Riaan met sy Agrimark-bakkie oor die grondpad na Vensterhoek toe. Die plaas behoort aan Kobus en Gerdalene Ferreira en lê aan die oewer van die Gamtoosrivier in die arms van die Vensterberg en die Rooikrans. Laasgenoemde, met sy kenmerkende rooi rots en fassinerende letsels van water-erosie, waak soos ʼn skildwag oor die plaas en vorm die agterdoek van een van die mooiste lappe aarde wat ek al in my omswerwinge teëgekom het.     
“O.J.”, soos Kobus in die vallei bekend staan (en nee, dit het niks met kriminele voormalige sportsterre te doen nie, dit is die afkorting van sy voorname), het ʼn diverse boerdery maar sy kernbedryf is sit-rus. Soos baie plase in die omgewing het Vensterhoek sy eie pakhuis; hierdie een hoogs gevorderd, en etlike miljoene rand werd. Ek staan met kinder-karnaval-oë na sy outomatiese pakmasjien en kyk.

Die kontrêpsie het ʼn klomp suiers wat die vrugte individueel optel en dan laag-vir-laag in ʼn kartonboks pak totdat dit vol is. Daar is ook ʼn outomatiese vrugte sorteerder wat die vrugte roteer en op grond van verskeie foto’s seleksies maak.

Hoewel daar heelwat meganisering in die pakhuis is, is sitrus steeds ʼn arbeidsintensiewe gewas, aangesien dit nog met die hand gesnoei en gepluk word.

Ek vra vir Kobus hoekom hulle soveel belê het in ʼn eie pakhuis, en hy sê ʼn groot beweegrede was om geleenthede te skep vir sy plaaswerkers. “Ons het amper ʼn 100 mense wat op die plaas woon,” sê hy. “Baie van ons besluite was daarop gemik om hierdie gemeenskap te dra.”

Tydens my besoek was hulle ook besig om ʼn nuwe koelkamerkompleks op die plaas in te rig. Die meeste sitrus wat op Vensterhoek verbou word, is bestem vir die uitvoermark. Een van die knaende kopsere wat sitrusboere in Suid-Afrika het, is beperkings wat op uitvoervrugte na Europa geplaas word weens swartvlek. Kobus meen egter die Gamtoosvallei het nie groot swartvlekdruk nie en intensiewe spuitprogramme word gevolg om dié swamsiekte die nek in te slaan.

Sitrusboompies word vanaf drie maande al in die kwekery teen swartvlek behandel. Kobus sê dat hy ‘n ruk terug in een van sy oeste slegs vier vrugte gekry het wat swartvlek getoon het. Die vrugte is onmiddellik verwyder, en die hele oes is uit die uitvoermark onttrek, maar sedertdien was daar  geen sien weer van die swam nie. 

Swartvlek kom glad nie in Europa voor nie en daar is vrese dat die siekte na Europese lande kan versprei, maar ʼn onlangse studie uit die VSA het skynbaar getoon dat die kanse vir die oordrag van dié siekte uiters skraal is.

Van siektes verskuif ons gesprek na indringerplante en ʼn interessante verwikkeling in die Gamtoosvallei. In die verlede is baie indringerbome as windweerders in die vallei geplant. Hierdie bome word tans op verskeie plase met geelhoutbome vervang. Kobus het verskeie geelhoutlanings as windbrekers by Vensterhoek aangeplant. Weens die kunsmis wat aan die sitrusboorde toegedien word, groei die geelhoutbome uiters vinnig en hou dit ook ʼn groot inkomstepotensiaal vir boere in.

Rikus du Preez van die Gamtoos Kwekery het uitgewerk dat indien mens die geelhoutbome vir hul hout sou afkap aan die einde van ʼn sitrusboord se leeftyd (sowat 20 jaar), die opbrengs wat jy uit die geelhout sou kry, waarskynlik genoeg sal wees om die koste van ʼn nuwe boord te dek.

Malan Growers – Vroue neem die voortou

Die onweer het ons ingehaal toe ek en Riaan laatmiddag by Malan Growers net buite Patensie stop. Rye en rye tonnels en kweekhuise met hul wit plastiekomhulsels vorm ʼn skerp kontras met die donker cumuluswolke wat om ons opbou. Dit lyk na reën, maar hier is reën nie volop nie. Die Gamtoosvallei kry slegs sowat 300-350mm reën per jaar en by Malan Growers word daar, soos elders in die vallei, op  besproeiingskemawater staatgemaak.

Dié onderneming is een van slegs ‘n handvol komkommerboerderye in Suid-Afrika, maar Malan Growers se groter onderskeid is die feit dat die dryfveer agter die besigheid ʼn vrou was. Marí Malan het haar vir meer as 20 jaar beywer met die bemarking en uitbrei van die besigheid. Sy is net twee maande voor die publikasie van hierdie Plaastoe! uitgawe oorlede. Tans is haar dogters Hanna-Marí Opperman en Hilde Malan aan die stuur van sake.
Albei is jonk – ek skat hulle niks ouer as middel 30’s nie – en hulle bieg dat hulle nou hul ma se aansienlike skoene “probeer volstaan”. Te mete aan die doeltreffendheid waarmee die onderneming steeds bestuur word, val die appels nie ver van die boom nie. Hanna-Marí  hanteer die bemarking, terwyl Hilde een van die plaas se produksiebestuurders is.

Om met komkommers te boer is geweldig bestuurs- en arbeidsintensief. Dit is ʼn geiterige gewas; hulle trek maklik skeef (wat hulle ongeskik maak vir die verbruikersmark, so skewe vrugte word dadelik uitgebreek), kunsmis en water moet gedurig toegedien en gemoniteer word, en die plante self verg baie aandag. By Malan Growers word slegs vroue gebruik om die plante op te lei en te versorg. Volgens die susters is die vrouens meer “versigtig” en “sagkens” wanneer hulle met die plante werk. 

Elke ry komkommers word aan ʼn enkelwerker toegeken en die naam van die werker word saam met die kultivar op elke ry plante in die tonnels en kweekhuise aangebring.  Die plante word in sakkies met saagsels geplant en kunsmis en water word gereeld per rekenaar deur ‘n drupbesproeiingstelsel voorsien.
Tot my verbasing word onderstamme selfs in dié bedryf gebruik. Komkommerkultivars word op Ferro-pampoenonderstamme geënt en al die plantjies word vanaf spesialiteits-
kwekerye bekom.

Buiten vir die groot komkommers word hier ook ‘Mediterranean’- en ‘Israeli’-komkommers geplant. Voorgenoemde is die mini-komkommers wat mens in die winkels koop, terwyl laasgenoemde ʼn agurkie-grootte komkommer is. 

Volgens Hanna-Marí verskaf hulle die kleiner komkommers op aanvraag van groot kettinggroepe en dra hulle min by tot die winsmarge van die besigheid.

Na gelang van die seisoen word komkommers 4-6 dae per week geoes en by Malan Growers se pakhuis op die plaas verpak. Die komkommers word dadelik in sogenaamde “shrink wrap” omhul, om te keer dat hulle uitdroog – komkommers kan binne ʼn dag pap raak indien hulle nie só verpak word nie. 

Malan Growers het ook in 2013 begin om op aanvraag van vier groot kettingwinkel-groepe eiervrugte te verskaf. Tans word sowat 1.8ha eiervrugte op die plaas verbou, waaronder die Angela-variëteit, wat wit is met pers strepe.

Mooihoek - Die anderkant van die Venster

Dinamiese boervroue is volop in die Gamtoosvallei. Ons volgende besoek is aan nog só ʼn vrou. In die botter-lig van ʼn vroegoggend gaan kuier ek en Riaan by Mooihoek waar Madelé Ferreira en haar man Johan hul boer- dery bedryf.

Verskeie toekennings pryk op mure en rakke in die kantore. Madelé het ondermeer in 2013 die Onafhanklike Ontwikkelings Korporasie (IDC) se 1ste prys ontvang vir Landelike Besigheid en Werkskepping. Die Business Women’s Association het haar ook in 2012 as top-entrepreneur  vir die streek aangewys. Madelé het huishoudkunde geswot en skoolgehou toe sy en Johan getroud is. In daardie stadium sou sy haar nooit kon indink dat sy sou boer nie. Om haar besig te hou het sy begin met vyfduisend  aarbeiplantjies op die plaas; deesdae is daar ver oor die 500 duisend.
Buiten vir 12ha aarbeie word daar ook 30ha spinasie, 1ha vye, ʼn halwe hektaar frambose en ʼn kwart hektaar swartbessies by Mooihoek verbou. Kale (boerkool of boerenkool in Afrikaans) is ook onlangs by die kosmandjie gevoeg weens die groeiende aanvraag daarna. Hierdie groente en vrugte word aan verskeie supermark-groepe en markte gelewer, sover as KwaZulu-Natal en Gauteng.

Haar werkspan bestaan uit meer as 120 mense, en sowat 60 persent is vroue. “My passie is om vroue te bemagtig,” sê Madelé. Haar werkers kry ondermeer opleiding in basiese besigheidsbeginsels, geld- en spanbestuur, asook eerstehulp en veilige voedselhantering.

Madelé se energie is aansteeklik,  ook onder haar werkers.  Sy slaan kort-kort oor na Xhosa, terwyl sy haar aarbei-plukkers aanmoedig om breed vir my kamera te glimlag. Die aarbeie word vyf dae per week geoes, gesorteer volgens grootte, en direk in die lande in plastiek-‘punnets’ verpak.

Ek vra oor die vreemde geel plastiekhuisies wat oor al die aarbeirye gestippel staan. Dit is motvalletjies. Dié baie doeltreffende toestelle, wat motte met lokaas aantrek en dan vasvang, beteken dat hulle heelwat minder vir insekte hoef te spuit.

Madelé het ook verskeie uil-hokke op die plaas laat installeer. Die uile help om muise weg te hou wat al die sade van die aarbeivruggies afeet.

Ons volgende stop is by ‘n span wat besig is om spinasie te oes. In 1994 het Madelé ʼn gaping in die mark gesien vir spinasie: “Niemand het toe kommersieel met spinasie in die Oos-Kaap geboer nie.

“Ek het ook gedink oor hoe om die spinasie meer aanloklik vir verbruikers te maak, en ons het toe begin om die blare te was en op ʼn sekere manier te sny en te bind,” sê Madelé. Die besluit was ‘n wenner. 

In my entoesiasme om die pluk-span teen die diep groen van die spinasieblare af te neem, misgis ek myself kwaai. Die lande het kort tevore water gekry en daar is heelwat modder. Ek spring te kort tussen twee spinasierye en trap my skoen tot enkeldiepte in die suigende diksel weg! Daar sit ek,  enige poging om te beweeg en dit sal nie net my skoen wees wat begrawe is nie!  Madelé spook my met moeite en ‘n groot gegiggel weer tot op vaste aarde, terwyl my tekkie soos ‘n verlore teaterrekwisiet in die modder bly staan. 

Op pad terug kantoor toe met my modder-gekorste kaal voete, vang my oog ‘n kampie langs die pad. Daar is soveel lemmetjiesdraad om die kampie gespan, dit lyk soos ‘n gevangenis. ʼn Bordjie op die hek lees: “Moenie die dominee se bye steel nie.”

ʼn Plaaslike dominee het die korwe by Mooi-hoek oorgeneem, maar Madelé lag en sê die bordjie help nie veel nie. Inteendeel, dit het dalk die teenoorgestelde uitwerking: “Ek dink mense dink dis dalk heilige heuning.”

Mooihoek lê aan Backhousehoek en Hankey se kant van die Vensterberg. Ek wil vreeslik graag die berg uitklouter om die venster te gaan besigtig, maar my modderskoene is in vir ‘n was by een van die gawe plaaswerkers.  Pakhuisbestuurder Charmaine Kritzinger en Adminklerk Elsche Botes bied aan om die steil 30 minute klim namens my aan te durf. Sowat ʼn uur later is hulle terug met my kamera en dosyne foto’s van die Gamtoosvallei deur albei kante van die venster. Ek besef vir die eerste keer hoe groot en indrukwekkend hierdie natuurverskynsel werklik is.

Voordat ek en Riaan na ʼn opwindende oggend groet, trek ons veiligheidsklere aan en neem ʼn vinnige toer deur Mooihoek se pakhuis. Werkers is besig om spinasie te pak. Dit word met die hand sorteer en dan met hoëdruksproeiers gewas, waarna dit in ʼn sogenaamde hoë risiko sone (waar voedsel veiligheid streng toepas word) in die pofpakkies verseël word wat mens gereeld in die supermarkte sien.  

Miracle Comfrey

Op pad terug Patensie toe, stop ek en Riaan by Sanet Mey, nog ʼn merkwaardige Gamtoosvalleivrou, wat ook al menige toekennings vir entrepreneurskap ontvang het. Sy is die ontwikkelaar van die Miracle Comfrey reeks olies, rome, salwe en seep, wat landswyd in apteke en Dischem-winkels versprei word.  Hulle kweek self die comfrey (smeerwortel in Afrikaans) wat vir hul produkte gebruik word. Daar is ook ʼn gevorderde laboratorium en fabriek op die plaas waar die produkte vervaardig word.

Sy kry bestellings van oral oor die wêreld vir die wonderproduk, wat sy aanvanklik gratis aan ondermeer brandwondslagoffers wegegee het. In ruil het dié mense deel geword van ‘n voor-en-na foto-veldtog wat die produk se aanvraag soos ‘n veldbrand laat versprei het. Sy wys my hoe die produk velekseem opklaar en ernstige letsels heeltemal wegtoor na ʼn paar maande.

Sanet glo ook in comfrey as ʼn uitstekende teenvoeter vir kanker. “Kry vir jou ʼn plant en sny dit in jou kos op.” Hulle het aanvanklik die comfrey in ʼn pilvorm versprei, maar veranderde wetgewing  verhoed hulle tans om die pille te vervaardig.

Sanet laai my hande vol produkte, ondermeer ʼn velroom wat sy verseker wondere verrig teen plooie. Spontaan gee sy my ʼn druk voor ons weer op pad is en ek belowe om terugvoer te gee oor die sukses in my stryd teen die toenemende fyn lyntjies op my gesig.   

Koeltehof – Tabaknostalgie

Dis Vrydagmiddag en my besoek staan op ‘n einde. Koeltehof is die laaste stop.  Dis ʼn gepaste naam. Die geil tropiese tuine by die plaas se hoofhuis is geskik vir die blaaie van ʼn huis-en-tuin-glanstydskrif. Dit is die skepping van Kenau Scheepers, maar sy verseker my sy “is ʼn boer se vrou” en het geen behoefte daaraan om “ʼn boervrou” te wees nie.

Haar man Gerhard beken dadelik dat tabak sy passie is. Hy is sentimenteel en nostalgies oor die gewas. Nie oor hy self rook nie, hy het al dekades terug opgehou, maar omdat hy vir 20 jaar vir die Gamtoos-tabakkoöperasie gewerk het voor hy in 1976 self begin boer het. Die koöperasie (wat in 2013 deur Kaap Agri in die Gamtoos Agrimark tak omskep is), was ʼn redding vir destydse boere, sê Gerhard. Nie net het die koöperasie boere finansieel ondersteun nie, maar hulle het ook die pryshouvas gebreek wat handelaars in die 1930’s oor tabakaankope gehad het.

Soos baie ander plase in die omgewing het verbouing by die Scheepers-onderneming egter in die laaste paar jaar wegbeweeg van tabak om op sitrus en aartappels te fokus.   Gerhard se seun Hardu bestuur die plaas en sy pa se oorblywende 5ha tabak is vir hom meer ʼn kopseer. “Ek kan nie ʼn trekker vir die tabak gaan koop nie,” som Hardu die werklikheid op.
Hulle 60ha sitrus en 50ha aartappels is meer winsgewend en ʼn mate van meganisasie is moontlik. Met tabak moet alles met die hand gedoen word; van plant, tot oes, verwerking en droging.

Weens hierdie en ander faktore is tabak besig om al hoe meer uit die Gamtoosvallei te verdwyn, terwyl dit in die verlede een van die hoofgewasse in die omgewing was. Gerhard is een van slegs ‘n klein groepie boere wat steeds met tabak volhard.

Elders in hierdie uitgawe brei ek verder oor die tabakbedryf en my onderhoud met Gerhard Scheepers uit, maar ter afsluiting wil ek sê dat Gerhard en sy vrou vir my die gees van die vallei verpersoonlik.  Hier heers  ʼn tradisie van ken-jou-bure en ‘n ou-skool wyse van gaste onthaal. Gerhard is bekommerd dat die siel van die kleinboer uit kommersiële landbou gaan verdwyn, maar van wat ek oor die afgelope drie dae gesien het, is hierdie siel – minstens in die Gamtoosvallei – ongeskonde.