Volg ons op Facebook

Lutzville - Oos Wes Tuis Bes

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| July 7, 2015

Die imposante Sishen-Saldanha-treinbrug verwelkom besoekers soos ʼn poortwag aan die Lutzville-omgewing. Die struktuur is net oor ʼn kilometer lank en die hoogste stutpilaar rys meer as 50 meter uit die bodem van die Olifantsrivier.

As mens eers onder dié brug op die R363 deurry, betree jy ʼn gebied wat bekend is vir ʼn besonderse mikroklimaat.

Lutzville kan tot 5 grade koeler wees as sy naaste groot buurdorp, Vredendal, wat sowat 25km verder suid lê.  ʼn Natuurlike ‘uitruil-ooreenkoms’ is hiervoor verantwoordelik. Winde uit die ooste bring in die oggende hitte uit die binneland na die vallei. Teen etenstyd gaan lê dié winde gewoonlik vir so ‘n uur, en in die middag staan ʼn westewind uit die koue Atlantiese oseaan op en bring vogtige, koue seelug na die lande. Hierdie wisselwerking en koue eenhede wat die seewind meebring, skep toestande wat ideaal is vir die verbouing van wyn, een van die kern landboubedrywighede in Lutzville.  

Lutzville-wynkelder –Verdryf die koue

Die dorp is die tuiste van die Lutzville- wynkelder wat ek op ʼn bibberende Woensdagmiddag saam met Christiaan Immelman, die nuwe takbestuurder van die Lutzville Agrimark, besoek. Broodnodige reën het daardie week in middel Junie begin val, en dit is die ideale nat middag vir wynproe. Die wynkelder is ʼn maatskappy wat op ʼn koöperatiewe raamwerk bestuur word. Sowat 100 wingerdboere lewer jaarliks ʼn gemiddeld van tussen 48 000 en 50 000 duisend ton druiwe aan die kelder en is ook aandeelhouers in die maatskappy. 

julie-2015-opreis-lutzville-1

Die meeste van die kelder se wyn word uitgevoer as bulkwyn, maar daar is ook gebottelde reekse wat na dele van Europa (soos Nederland), die Verenigde Koninkryk en Sjina uitgevoer word.  Die befaamde oos-wes-win-de se aandeel aan hierdie unieke mikroklimaat is te bespeur in elke wyn wat ons proe. Beide die rooi- en witwyne (wat ondermeer Cabernet Sauvignon, Shiraz, Sauvignon Blanc en Chenin Blanc insluit), is voortreflik. En om die koue te verdryf dring skakelbeampte Gabi Josling aan dat ons ook die gewilde Nobel Late Harvest en Wit Muskadel op die proef stel.   Laasgenoemde het al staaltjie-status op die dorp bereik, veral onder visvang- en duik-entoesiaste, wat dit graag as winter-teenvoeter nuttig.

julie-2015-opreis-lutzville-2Duik is groot in die omgewing en hier is selfs nog individue wat van weleer konsessies hou om diamante langs die kus te uit te haal. Volgens Werner Janse van Rensburg duik dié manne nog gereeld van hierdie gesogte klippies uit die see uit. Werner was tot sowat twee maande gelede die takbestuurder by Lutzville se Agrimark, voordat hy Vredendal toe verplaas is. Omdat hy die omgewing so goed ken, is hy en Christiaan my gidse. Ons ry oor die bekende laagwaterbrug op die Strandfontein-pad buite Lutzville en Werner verduidelik dat boere bo die brug (aan die dorpkant) direk uit die rivier besproei, terwyl boere aan die onderkant afhanklik is van kanaalwater, omdat die water hiér brak raak.

Dié sement-waterkanaalstelsel strek vanaf die Bulshoekdam (meer as 80km vanaf Lutzville) en voed die hele landbou-area tot by Ebenhaeser. Volgens syfers wat ek gehoor het, maar nie kon bevestig nie, is die totale kanaalstelsel sowat 380 kilometer lank. Onderhoud van hierdie waterkanale is een van die groot bekommernisse van boere wat van kanaalwater afhanklik is. Dit is nie ongehoord dat kanale vir tot twee weke op ʼn keer staan wees breuke en lekkasies in walle nie. Daar word geraam dat verliese weens waterlekkasies en verswakte infrastruktuur in dié kanaalstelsel tot 20% kan wees. In ʼn area waar reënval die afgelope jare afgeneem het na tussen 100 en 150mm kan ʼn langtermyn-onderbreking in toegang tot kanaalwater rampspoedige gevolge hê. Verskeie boere het as voorsorg hul waterbergingskapasiteit op hul plase verhoog deur meer en groter damme te bou.

La Rochelle – Getroud met die plaas

Een so ‘n boer is Albie van Zyl van die plaas La Rochelle. Hy en sy seuns is van die grootste groenteboere in die area. Hulle verbou ook wingerd vir wyn en korente. Albie verduidelik dat hy twee damme met ʼn kapasiteit van sowat 14 en 20 kubieke meter laat bou het, want groente is veral afhanklik van ononderbroke watervoorsiening. “Jy het baie klein vensters in groenteboerdery,” sê Albie. Jou tydsberekening moet perfek wees; as jy nie plant, of water en kos gee wanneer jy moet nie, is daar nie ná die tyd ʼn kans om dit reg te maak nie.
“Jy moet maar weet jy’s getroud met jou plaas, en vergeet van jou Desember-vakansies by die see,” skerts hy.

Om hiérdie onderneming te koördineer sou my slapelose nagte gegee het. Aanplantings word so beplan dat daar feitlik heeljaar bestuurs-intensiewe gewasse in die grond is; dit sluit in beet, skorsies, pampoen, saadkool, saadboontjies, komkommers en tamaties, laasgenoemde die gewas wat die grootste opbrengs vir die plaas lewer.

Albie is een van net drie boere in die Lutzville omgewing wat sy tamaties meganies oes. Hierdie sogenaamde “jam-tamaties” word aan Tiger Brands se All Gold tamatiefabriek  in Lutzville gelewer waar die meerderheid van die land se tamatiesous en tamatiepuree verwerk word.  Albie-hulle lewer ook tamaties aan die varsmark en vir hierdie mark plant hy sowat 18ha van sy 40ha tamaties onder plastiek wat as ‘mulch’ bekend staan. Rye vir die plant van die tamaties word vooraf verwerk en gekomposteer (ondermeer met hoendermis, waarvan Albie ʼn groot voorstander is), waarna dit dan met die plastiek-‘mulch’ bedek word. Gate word in die plastiek gedruk en die tamatiesaailinge word deur hierdie gate in die grond geplant. Volgens Albie verbeter die ‘mulch’ sy opbrengs met tot 25% en kan hy tot 90% van sy produk aan die varsmark lewer.
Die ‘mulch’ se grootste voordele is dat dit onkruid doeltreffend beheer en die grond rondom die wortels warm hou vir optimale groei.

julie-2015-opreis-lutzville-3

Locheim – Ben en die rissierank

Hoewel daar groot boere in Lutzville is, is daar baie min groot plase. Dit is die reël eerder as die uitsondering, dat plase in die omgewing uit lappe grond bestaan wat nie noodwendig aan mekaar grens nie. Die meeste boere besit meer as een stuk grond en huur dan ook verder grond by. Ben Barnard van Locheim is ʼn groente- en wingerdboer wie se plaas uit vier stukke grond bestaan wat tot sover as Vredendal en Koekenaap versprei is. 

julie-2015-opreis-lutzville-4Ben is ook een van min boere in Lutzville, wat met ‘peppers’ boer (rissies laat mens altyd aan die warmer soort dink, so ek gebruik die Ingelse verwysing).  Groen-, rooi- en geelpeppers is Ben se spesialiteit en hy kweek hulle in kweekhuise onder plastiekbedekking.  Hy kweek self sy plantjies vanaf saad en noem dat saad gemiddeld R3,00 per pit kos. Vir ʼn hektaar peppers het mens sowat 36 000 sade no-dig, en nadat ek my somme gemaak het, is ek skielik minder dikbek oor peppers so duur is.

Die peppers word hidroponies verbou in ʼn groeimedium wat as ‘coco peat’ bekend staan.   Die kokosneut-hare word in 5kg-blokke gepars – net bietjie groter as ʼn baksteen – en wanneer hierdie stene natgemaak word, lewer dit 50 liter groeimedium. Die pepperplantjies word teen tamatietou opgelei en groei tot drie meter hoog wanneer hulle in volle produksie is.

julie-2015-opreis-lutzville-5Locheim produseer ook saadkool.  Saadproduksie vir koolgewasse soos broccoli en blomkool is naas tamaties en wingerd een van Lutzville se grootste landboubedrywighede. Die saadproduksie word in baie noue samewerking met groot saadprodusente soos Syngenta gedoen.  Volgens Ben word saailinge aan hulle verskaf en weet hulle min van die plante se eienskappe. Intellektuele eiendom op die kultivars word soos goud bewaar. Saadkoolboere is in der waarheid soos surrogaat ouers vir die plante, hulle sorg dat hulle groot word, gesond bly, en oorhandig dan weer die kinders (in die vorm van saad) aan die kultivars se patenthouers.  Locheim se saadkool word in plastiekbedekte kweekhuise geproduseer. Mannetjie- en wyfieplante (soos dit hier genoem word) word in afwisselende rye geplant en bye word dan in die kweekhuise verseël om bestuiwing te laat plaasvind.  Die saadpeule, wat soos vuurhoutjies lyk, word eventueel met meganiese dorsmasjiene geoes wat deur Syngenta verskaf word.

“Daar is ook baie streng beheer om kruisbestuiwing tussen kultivars te verhoed...”

Daar is ook baie streng beheer om kruisbestuiwing tussen kultivars te verhoed, gevolglik is daar ʼn 2.5 kilometer-sone rondom elke saadkoolaanplanting waar geen ander saadkool geplant mag word nie. Boere wissel ook gewoonlik hul saadkool af, bv. hulle sal een jaar broccoli en ‘n volgende jaar blomkool vir saad plant.

Melkboomsdrift –Van Bok, tot gas-vrou, tot boervrou

julie-2015-opreis-lutzville-6

Na ʼn dag van diep modder en tandklap koue, neem ek ʼn bottel van die befaamde Lutzville Wit Muskadel en skink vir my ʼn glasie by Melkboomsdrift se kroeg. Dié gastehuis het ‘n uitstekende uitsig op Lutzville se bekendste landmerk (die Saldanha-Sishen-treinbrug) en is gerestoureer uit die bouvalle van ʼn ou plaasopstal en -skool. Die plaas verbou steeds wyndruiwe en patats en behoort aan die enigste vroueboer wat ek in Lutzville teëgekom het. Hilsa van den Heever was eens op ʼn tyd ʼn Springbok sewekamp-atleet en het ook haar eie wyn begin maak in die 2000’s nadat sy met kanker gediagnoseer is. Die sulfiete in die wyne wat toé beskikbaar was, was te hoog vir haar, so dié boer het letterlik ʼn plan gemaak.

“...het ‘n uitstekende uitsig op op Lutzville se bekendste landmerk...”

Tans behartig sy en haar dogter Larize die plaas, met behulp van ʼn plaasbestuurder. Ongelukkig was Hilsa vir haar jaarlikse wintervakansie oorsee, en kon ek nie dié dinamiese vrou, wie se lewensverhaal al in verskeie tydskrifte verskyn het, persoonlik ontmoet nie.  

Sewester – Help gemeenskap vooruit boer

Die laaste oggend van my besoek klop ons aan by Johan Coetzee van Sewester. Hier word ook met wingerd en groente geboer en Johan is op die direksie by die Lutzville-wynkelder. Die wynmaak-gogga het egter nooit vir Johan gebyt nie. “Seker maar omdat my agtergrond in meganiese bedryfsingenieurswese is,” lag hy.

“Dit is ʼn ander ongewone verskynsel van dié omgewing. Wanneer die rivier sy walle oorstroom, wat jaarliks gebeur, is baie van die wingerde teen die rivier geheel onder water, soms vir tot twee maande.”

Waar hy wel een van die pasaangeërs is onder die omgewing se boere, is met ontwikkelingsprojekte.  Hy het ʼn paar jaar gelede ʼn werkerstrust gestig om van sy werkers te bemagtig en tans word hierdie groep deur Syngenta gekontrakteer om ook saadkool te produseer. 

julie-2015-opreis-lutzville-7

Ons ontmoet die werkers terwyl hulle besig is om drupbesproeiing aan te lê vir ʼn 0.4ha-projek wat in tonnels voltooi sal word. Die saadkoolplantjies staan reeds in rye op die lande, wat uitkyk op Lutzville-dorp met sy kenmerkende spitskerktoring.

Vandaar sien mens ook van die wingerde wat onder die vloedvlakte van die Olifantsrivier lê. Dit is ʼn ander ongewone verskynsel van dié omgewing. Wanneer die rivier sy walle oorstroom, wat  jaarliks gebeur, is baie van die wingerde teen die rivier geheel onder water, soms vir tot twee maande.  Ek vra vir Johan hoe dit moontlik is dat die wingerde dit oorleef en hy sê dat dit eintlik goed is vir die wingerde, mits hulle dormant is wanneer die vloede plaasvind. Die alluviale grond wat die rivier agterlaat, is ryk aan voedingstowwe en humus en die periode onderwater raak ook ontslae van verskeie plae.

Lamvang by Kaniklani

Weens die nabyheid van die Olifantsrivier en die omgewing se kanaalstelsel is dit maklik om te vergeet dat hierdie ʼn semi-woestyngebied is. Die hardeveld lê net om die draai en vanjaar het vee- en wildsboere in dié area kwaai onder droogte deurgeloop.  Piet Agenbag – of Piet Khaki soos hy bekend is – boer met sowat 500 skaap (grootliks swartkop Dorpers en sowat 100 Île-de-France) in die Koekenaap-omgewing. Sy skaapboerdery is ekstensief en sy diere wei hoofsaaklik op hardeveld.  Piet sê vanjaar se droogte het hulle onkant betrap, want hoewel hy weiding onder besproeiing het, is die parasietdruk daarop baie hoog, omdat hulle so naby aan die see geleë is. Daar was ook ʼn tekort aan lusern, so uit nood het  hulle hul eie voer gemaal wat ondermeer uit kaf, mielies en voerkonsentraat bestaan het.   

julie-2015-opreis-lutzville-8

Gewoonlik rond Piet sy lammers op die veld af. “Op 4 maande dan weeg hy 16 tot 18kg,” sê Piet en benadruk dat net “een persoon skape doeltreffend en winsgewend kan voer en dit is die Liewe Vader.”

“Weens die nabyheid van die Olifantsrivier en die omgewing se kanaalstelsel is dit maklik om te vergeet dat hierdie ʼn semi-woestyngebied is.”

Maar Piet se plaas se naam is gepas, hy kla nie. Hy vat die uitdagings soos dit kom. Terwyl hy ons sy Dorper ramme gaan wys, gewaar hy ʼn Dorper ooi wat sukkel om te lam en binne oomblikke word Werner en Christiaan van Agrimark ingespan om te help lam vang.  Ek neem foto’s en kruis vingers dat die lam dit gaan maak. Piet sê dit gebeur soms dat ooie wat vir die eerste keer lam, sukkel en dat dit dikwels vir die ooi en die lam noodlottig is as dit in die veld gebeur. Maar hierdie knaap was egter bestem om sy blê te sê, tot my groot verligting. 

julie-2015-opreis-lutzville-9

Soos al  die plase in die omgewing is Kani-klani ook ʼn diverse boerdery. Buiten die skape is hier ook wingerd, groente en vir ʼn stokperdjie het Piet se seun Pieter ses skouperde. Onder hulle is twee Friese, ʼn Hackney en drie Vlaamperde. Al die perde word deur Pieter self beslaan, opgelei en geskou in verskeie rytuig- en ruitersklasse.

Soos  Piet verduidelik: “Ons hou van diere.”

Onsekere toekoms

julie-2015-opreis-lutzville-10

Op die dag van my vertrek, maak ons ‘n draai by Eskom se Sere-windplaas net buite Lutzville. Dit is een van die grootste windplase in die land met 46 turbines wat langs die kus op die horison pryk.  En terwyl ek wegry uit dié interessante area, wonder ek oor Lutzville se toekoms. Dit is een van die min gebiede in die Wes-Kaap waar daar tans beduidende grondeise aanhangig is. Groot dele van die kommersiële landbougrond rondom Lutzville is ter sprake, maar die restitusie-eis is die onderwerp van ʼn hofge-ding wat reeds ʼn geruime tyd voortsleep.

Ten spyte van dié onsekerheid is dit sake soos gewoonlik. Selfs van die boere wie se hele plase in gedrang is, is besig met uitbreidings, opgradering en bemagtigingsprojekte vir hulle werkers. Dis ‘n goeie voorbeeld van die anekdote dat jy ʼn Weskus-boorling nie maklik onderkry, of sal oortuig dat daar elders groener weivelde is nie. 

Dit laat my aan ‘n grap dink wat een van die boere vertel het: “Ons weet hoekom die gras aan die ander kant groener is, want daar is meer str...!”