Volg ons op Facebook

Porterville - Meer as wat die oog sien

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| August 7, 2015

Op die oog af lyk Porterville soos 'n doodgewone plattelandse dorp, dele van die hoofstraat effe verwese, asof sy beste jare al 'n tyd lank verby is.

Maar as jy die moeite doen om weg te draai van die hoofstraat in enige kruisstraat, dan onthul hierdie Swartlandse dorpie sy ware kleure.  Oral is daar sjarmante ou huise waarmee baie moeite gedoen is, soos een woonhuis waarvan die vooraansigmuur geheel met mosaïek versier is.

Die plaaskarakter van die dorp diep op onverwagse plekke op. Twee skape en 'n perd wei in 'n kampie langs 'n woonhuis. Ook in die hoofstraat is daar ‘n mini-skaapkamp in die middel van die dorp.

In die ooste rys die Voorberg en vorm die agtergrond waarteen rollende koring- en canola-lande strek.  Dit is laat in Julie en die lande is juweel groen, amper onwerklik. Dié geil is egter bedrieglik; tydens my besoek is saaiboere senuagtig want vanjaar se reën is laat en wanneer dit val, val daar nie baie nie.

Nuhoop – in die groen koringlande

“Dit kom elke keer net betyds en net ge noeg,” sê WG Treurnïcht. Hy is een van talle droëland-saaiboere in die Porterville-omgewing. Koring is die omgewing se grootste gewas, en hier word ook canola, hawer en lupiene as wisselgewasse geplant. Droëlandboere is totaal van reën afhanklik en besproei nie hul lande nie. Droogte is nie 'n algemene gesig in hierdie deel van die Wes-Kaap nie, maar dit gebeur. Volgens Marelise, WG se vrou en ook administratiewe bestuurder van die boerdery, is die vorige droogte (2003 tot 2005) nog vars in almal se gedagtes. “Die weer het ons al grys gemaak vanjaar,” benadruk WG, maar daar is goeie reën vir die naweek voorspel en hulle is optimisties, want “daar is 'n mooi oes op die land, en die potensiaal is hoog”.

august2015-dorp-porterville-1

“Oral is daar sjarmante ou huise waarmee baie moeite gedoen is...”

WG en sy vrou is derde-generasie-boere op die saaiplaas Nuhoop en die rooigrond waarop hulle plant se voedingsinhoud (o.a. spoorelemente) is so goed saamgestel dat daar vir twee of meer jaar koring-op-koring geplant kan word. “Jy kan hom eet, en jy kan hom op jou brood smeer,” skerts WG oor die gehalte van dié grond. Dié koring-op-koring-monokultuur word ook moontlik gemaak deur 'n verskuiwing na organiese beginsels in die boerdery. Baie koringboere brand hul oesreste om te verseker dat siektes nie versprei nie. WG-hulle gebruik egter sover moontlik die oesreste vir humus en los dit op die lande vir bemesting en om vog te bewaar.

“Baie koringboere brand hul oesreste om te verseker dat siektes nie versprei nie.”

Vandat hulle in 2005 begin het met minimum bewerking en ook meer omgewings vriendelike praktyke begin instel het, is daar 'n merkbare verbetering in hul opbrengs per hektaar. In die verlede is die lande ‘geghrop’ – met 'n beitelploeg omgedolwe. Vandag word daar egter moeite gedoen om die bogrond so min as moontlik te versteur.

august2015-dorp-porterville-2

Gevorderde sogenaamde geenbewerking- planters (‘no-till’ planters) word gebruik om die koring te saai, en doen terselfdertyd ook onkruidbeheer en bemesting. Die skare van die planters lig die bogrond op en vorm so 'n plantvoortjie, sodat die koringsaad nie met die chemikalieë in aanraking kom nie. Dan word die saadjies in  dié voortjies geplant, saam met 'n toediening van kunsmis.

august2015-dorp-porterville-3

Die vermoë om koring in geheel te meganiseer - van aanplanting tot oes - is een van die trekpleisters van die gewas, maar aan die anderkant hou prysskommelings en klein winsmarges ook baie boere uit die bedryf uit.
Dit is juis hierdie markonsekerhede wat die meeste koringboere, so ook die Treurnïchts, laat diversifiseer.  Hulle het 'n melkery op 'n tweede plaas, nader aan die Voorberg - wat deel vorm van die majestueuse Groot Winterhoekberge.  By Zoovoorby word 300 Holsteins daagliks gemelk en ek wonder hoe so 'n klein melkery lewensvatbaar kan wees. WG verduidelik dat hulle dié melk aan 'n verskaffer voorsien wat grootliks die Kaapse Vlakte in Kaapstad bedien. Dit is ironies dat 'n boer beter pryse sou kry by 'n verskaffer wat aan lae-inkomste-gemeenskappe melk voorsien, as wat hulle sou kry indien hulle aan maatskappye verskaf wat die middel-tot-hoë inkomste-mark bedien.

Danksy die suiwer bergwater waartoe daar toegang is by Zoovoorby het die Treurnïchts ook 'n 17 hektaar wingerdonderstok-kwekery begin. Dié geleentheid het hom voorgedoen deur 'n kontak by Vititec, onder wie se toesig dié onderstokke gekweek word. Vititec was op soek na persele waarop daar nog nooit wingerd verbou is nie, en daar ook nie gevare bestaan dat water van aangrensende wingerdblokke die water op die onderstokblokke moontlik kon kontamineer nie.

“Danksy die suiwer bergwater waartoe daar toegang is by Zoovoorby het die Treurnïchts ook ʼn 17 hektaar wingerdonderstok-kwekery begin.”

Volhoubaarheid is 'n kernbeginsel by Nuhoop en Zoovoorby en daar word gestreef na zero-vermorsing. So word koringkaf – wat nie as herbemesting in die lande gebruik word nie – ook as kuilvoer vir die melkery gebruik.

'n Ander onderwerp waaroor veral Marelise passievol is, is arbeid.  Vir haar grens die persepsie - wat die media dikwels skep - van plaaswerkers as die mees basiese werkers, aan ‘lasterlik’.

Tegnologiese vordering met boerderymetodes vereis lankal dat plaaswerkers verskeie vaardighede moet bekom. Van hulle is redelik gevorderd, veral wanneer dit by die gebruik van implemente en toerusting kom.
Van die plaaswerkers by Nuhoop is ook al drie generasies hier, en hulle is vir die Treurnïchts soos familie. Weens hierdie bande het WG so ’n paar jaar gelede die onderwysdepartement die stryd aangesê om die skooltjie op die plaas te red. Dié skool was een van die 27 wat in 2012 deur die Wes-Kaapse regering geoormerk is vir sluiting, weens lae leerlingtalle. Danksy WG se ingryping en die ondersteuning van ouers en ander boere in die omgewing, is Nuhoop Primêr se deure egter steeds oop.

Maak vir wolf skaapwagter 

august2015-dorp-porterville-4

Gepraat van volhoubaarheid. Altus Coetzee, die bestuurder van die Agrimark-tak op Porterville, vertel my dat die Voorberg-ge-
vangenis 'n groot landbouprojek bedryf. Hulle is waarskynlik die grootste skaapboere op die dorp. Die meeste van die vee en gewasse wat aangeplant word, word vir eie gebruik aangewend en die gevangenes self bearbei die plaas.
Ek en Altus is op pad na Eikenhof, die tuiste van Figfun/Vyevreugde en die winterkoue kruip by al die krakies in die motor in. Dis 'n besonder koue week. Die oggendtemperature is naby aan vriespunt, maar so koud soos dit in die winter kan word, is die somerhitte net so uiters.

Vyevreugde

By Figfun wys Karin Knoetzen vir ons hul verwerkingskombuis, wat uit 'n ou melkery omskep is. Hier word allerlei konfyte, ingelegde vye en slaaisous gemaak. Sy noem dat hulle ook vye droog op 'n blad wat onder plastiekbedekking is.  Die termometer in dié area kan net tot op 50 grade meet, en party somerdae steek die kwik sy maksimum verby. Ek sê stilweg dankie dat my besoek in die hart van die winter is.

Die Figfun/Vyevreugde-handelsmerk het in 2010 sy eerste verskyning by die Olyffees in Riebeeck-Kasteel gemaak en in 2013 het British Airways hulle genader om van hulle produkte, soos die vye- en granadillablatjang, aan die redery se 1ste- en besigheidsklasse te verskaf.

“Hier word allerlei konfyte, ingelegde vye en slaaisous gemaak.”

Hoewel die produkreeks se gewildheid baie gegroei het die afgelope paar jaar en hulle nou op die drumpel staan om ook aan kettingwinkels te begin verskaf, was dit nood wat gelei het tot die besigheid se ontstaan.

Hanro Knoetzen, Karin se man, was in 2007 die eerste boer in die Porterville-omgewing om met Ronde de Bordeaux-vye te begin boer.  Dié kultivar lewer 'n klein swartskil-vy wat hom veral leen tot die ‘cocktail snack’-mark in die Verenigde Koninkryk. Hanro het saam die Ronde de Bordeaux ook sowat vier hektaar se Parisian-vye aangeplant; nog 'n swartvel-kultivar (maar groter) wat dikwels onder die handelsnaam Evita bemark word.

Hanro was oorwegend 'n wingerd- en graanboer toe die vyegeleentheid hom voorgedoen het. 'n Kennis het toegang gehad tot die plantmateriaal en het die vrugte as 'n stokperdjie gekweek. Hy wou egter kommersieel  uitbrei en Hanro het aangebied om die grond te verskaf.

In daardie stadium was daar 'n gaping in die oorsese mark vir vye in die tydgleuf tussen Desember en April. Daar was ook betreklik min vyeboere in Suid-Afrika.  Die hoë premies wat vye in die mark behaal, was noodsaaklik om die arbeidskostes te regverdig. Vye is arbeidsintensief in die hoogste graad.  Vrugte word op verskillende tye ryp en in die spits-oesseisoen (vanaf Januarie tot Maart) word daar vir tot 12 weke lank elke dag geoes. Party dae duur die oestyd van 6 uur soggens tot 6 uur saans en dan moet daar nog verpak word ook.

Teen 2010 was daar egter 'n toestroming van produsente na die mark en is 'n hele ton van Hanro se vye in die buitelandse mark as ooraanbod afgeskryf.  In só 'n ooraanbodmark word vars produkte dikwels vernietig - vir my 'n skreiende skande - en die produsent moet die verlies dra. Dit sluit ook die uitvoerkostes van die produk in.

“Die rooi kleur is die gevolg van die vye se swart skil wat saam met die vrugvlees gemaal word in die konfytmaakproses.”

Hierdie duur les het Hanro-hulle genoop om Figfun/Vyevreugde te begin sodat hulle 'n toekomstige afset vir hulle oorskot vye kon hê. Maar maklik was dit nie om die publiek oor te haal tot dié anderste produk nie. “Ons moes omtrent deure afskop om mense gewoond te maak aan 'n rooi vyekonfyt,” sê Hanro. Die rooi kleur is die gevolg van die vye se swart skil wat saam met die vrugvlees gemaal word in die konfytmaakproses. Suid-Afrikaanse verbruikers is meer gewoond aan groen vyekonfyt wat verkry word uit meer tradisionele groenskilvariëteite.

Voor ek en Altus vertrek, doen ons eers 'n vyeproe. Ek is veral gaande oor die gewone ingelegde vye, waar die heel Ronde de Bordeaux-vytjies in stroop ingelê word (daar is ook 'n brandewyn weergawe, wat in vyf jaar oue KWV ingelê word). Karin sê hulle het einde Augustus 'n stalletjie by die Homemakers Expo by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (CTICC) waar mense hul produkte op die proef kan kom stel. Jy kan ook deur Yuppiechef se webwerf bestel, en op Figfun se webwerf by  www.figfun.co.za.

Die produkte is veral gewild onder gesondheidsbewuste verbruikers aangesien geen preserveermiddels in die reeks gebruik word nie. Alle gedroogte produkte word ook natuurlik gedroog en geen chemikalieë soos swael word aangewend nie.

august2015-dorp-porterville-5

august2015-dorp-porterville-6

Villa Cho-Co-Latt

Daar is niks soos Old Brown Sherry om winterkoue te verdryf nie en dit is die eerste ding waarna ek gryp toe ek terugkom by Villa Cho-Co-Latt waar ek vir die week bly. Die gastehuis met sy gewilde Kopikoffi-restaurant is in Porterville se hoofstraat en behoort aan Boetie Hauptfliesch en sy vrou Ronél. “Dis my vrou se passie,” sê Boetie.  “Sy slaan die kitaar hier.”

Boetie hou egter toesig en hou sy lyf pizza-sjef, want Ronél speel ouma vir haar eerste kleindogter wat sowat 'n week vroeër haar opwagting in die wêreld gemaak het.  Dié houtvuur-pizzas lok die hele week 'n stroom mense (gaste sowel as plaaslike inwoners) en die gesellige vure in die pizza-oonde  verseker dat almal tot laatnag om die lang houttafels kuier.

Onder die ritse mense wat ek hier ontmoet, is die jongste boer wat ek dusver op my omswerwinge vir Plaastoe! teëgekom het. Burger Gildenhuys het op 26 sy pa se koringboerdery oorgeneem.  Hy het 'n heerlike Swartland-brei en geniet dit om staaltjies te vertel.

“Porterville-dorp het betreklik min wind, omdat dit in ‘n natuurlike kom lê wat dit beskut...”

Die dorp se landbougemeenskap kuier gereeld by Kopikoffi, want Boetie is self 'n boer. Hy het 'n paar jaar gelede afgetree, maar is tans 'n plaasbestuurder by 'n tafeldruifboerdery in Halfmanshof. Dié vallei - 'n paar kilometer in Gouda se rigting - is die gebied waar die meeste wingerde verbou word. Wingerd is naas koring Porterville se grootste gewas. 

Boetie is al meer as 20 jaar in Porterville en hy ken die omgewing en sy mense goed. Ek vra of hy enige veranderings, veral in klimaat, opgemerk het die afgelope tyd en hy noem dat hulle verlede jaar hael gehad het soos hy nog nooit gesien het nie. Dié hael, wat op plekke so groot soos gholfballe was, het veral verwoes-
ting vir tafeldruifboere gesaai. Dan is daar ook die ‘swart suidooster’. Porterville-dorp het betreklik min wind, omdat dit in 'n natuurlike kom lê wat dit beskut, maar wanneer die swart suidooster sy kop uitsteek, sê Boetie, dan “draai hy jong sitrusbome se stamme morsaf”. Gelukkig is dié wind 'n ongereelde verskynsel en is dit al 'n paar jaar sedert die gebied die swart suidooster beleef het.

Die grootste bedreiging vir plaaslike landbou glo Boetie, is die behoorlike bestuur van water.  Hy noem die Bergrivier wat vloei uit die berge rondom Franschhoek en uitmond by Velddrif.  Die afgelope paar jaar is die rivier onderworpe aan grootskaalse besoedeling uit dorpsgebiede, en daar word te min gedoen om dié stand van sake hok te slaan, of behoorlik te bestuur.

Die bergrivier is een van Porterville se groot watersport-attraksies en elke jaar vind die Bergrivier-kanomarathon op die rivier plaas.

august2015-dorp-porterville-9Bloubessies in die berge

Vroeg die volgende oggend is die Das-klip-pas toegewikkel in 'n wolkkombers en die wind waai vlae misreën teen die motorruite vas. Die ysige weer kan egter nie keer dat ons eers stop sodat ek die befaamde hangsweefplatform in die berg  van naderby kan bekyk nie. My hoogtevrees skop dadelik in terwyl ek op die afspringplek staan en kyk hoe die wêreld onder dit wegval vir meer as 500 meter.

Dié steil pas met sy nou deurgang is eers betreklik onlangs geteer en ek sidder om te dink hoe boere op die berg vir jare hul produkte by die mark moes kry so deur die glibberige modder, met die randjie van die afgrond net 'n katspoeg weg. Jeán Kotzé die algemene groepbestuurder van Dreammaker Fruits kan onthou hoe hy self met 'n vragmotor die pas moes uit voor dit geteer is. Hy erken dit was 'n naelbyt-affêre. 

“Dié steil pas met sy nou deurgang is eers betreklik onlangs geteer...”

Twee van Dreammaker Fruits se plase, Zuurvlakte en Teeland, is hier bo in die pas geleë. Die mikroklimaat wat die berg skep, is goed vir bloubessies en bessies is Dreammaker Fruits se primêre bedryf.  Die pionier van die onderneming is 'n Brit, Stephen Taylor. Sy Winterwood Farms in die VK het in die 1990’s begin om bessies uit Suid-Afrika te koop. In daardie stadium was dit grootliks frambose en was daar nog weinig verbouing van bloubessies in die land.

august2015-dorp-porterville-7

Taylor het derhalwe 'n vennootskap met Suid-Afrikaanse produsente begin najaag.  Daar was egter aanvanklik weerstand onder Suid-Afrikaanse boere.  Jeán meen die weerstand was 'n kombinasie van gebrekkige kennis van 'n onbekende produk, hoë aanvangs- insetkoste, en dat boere nie die vrede vertrou het nie. Verskeie buitelanders het al voorheen die ‘maan en sterre’ beloof, wat nie aldag so uitgedraai het nie.

Maar uiteindelik is Dreammaker Fruits gevestig en voer hulle vandag sowat 500 ton bloubessies per jaar uit vanaf die Porterville- omgewing, hoofsaaklik na die VK.  Die groep het 'n derde plaas in die area, by Halfmans-hoek, wat Lushof genoem word. Hier word ook bessies verbou, sowel as wingerd, en die groep se pakhuis en koelkamers is in Halfmanshof geleë.

Sowat 50 persent van die bessies (wat ook swartbessies en frambose insluit) word onder beskerming verbou. Boogstaalraamstrukture word gebruik en óf met net óf met plastiek bedek.  Om die bessies teen oormatige hitte te beskerm word die plastiek in die warmste somermaande afgehaal. Die nette word ook verwyder vir sekere tye van die jaar wanneer die plante nie in blom is, of vrugte dra nie.

Mens sou dink dat insekte en voëls een van die grootste redes sou wees vir dié bedekking. Dit is egter nie so nie. Die nette word hoofsaaklik gebruik om ysreën in die vroeë lente van die plante af te hou, wanneer hulle in blom is. Dit keer ook wind af en bessies vaar goed in semi-skadu.

Die plastiek dien ook as teenvoeter vir hael, ysreën en te veel reën direk op die plante, veral wanneer hulle blom en begin vrugte lewer. Dit verminder swamdruk, wat hoër is in winterreënvalgebiede soos Porterville. Verder skep dit 'n mikroklimaat wat 'n verhittingseffek het in kouer maande en 'n mens kan plukspanne laat werk in oestyd al reën dit. Hierdie kombinasie van voordele is die rede hoekom daar stelselmatig meer na plastiekbedekking oorgeskuif word.

august2015-dorp-porterville-8

Terwyl ons van hael praat, noem Jeán dat hulle tydens verlede jaar se buitengewone haelstorm 40 ton van hulle onbedekte bessies verloor het, sowel as 50 duisend kissies tafeldruiwe!

Hoewel bessies deur die jare gekweek is om in bykans enige klimaat te aard het hulle 'n paar geite. Hulle het 'n sensitiewe wortelstelsel, hou van 'n surerige medium en verkies grond met hoë organiese inhoud. Vir organiese materiaal word koringkaf ingery en op die bankies gebruik as 'n grondkombers.  

Met soveel boere wat deesdae oorskakel na organiese ‘mulch’-praktyke het kaf die afgelope tyd egter baie duur geword. So om die wortelstelsels te beskerm en die voginhoud in die grond beter te beheer gebruik Jeán-hulle al hoe meer onkruidmatte op die bankies. Die onkruidmatte word uit plastiek geweef en is poreus om lug en water deur te laat.

Jeán gaan wys vir my en Altus hulle bessieboorde op die berg en die bessiebosse (veral die swartbessies) laat my aan wingerdstokke dink.  Dit is 'n risoomplant wat vanaf 'n wortelstok groei, dis waarskynlik hoekom ek die effense ooreenkoms opmerk. Later die oggend is ons bergaf na Lushof, waar van die bessieblokke geheel organies en ook konvensioneel verbou word.

“Organies het nog ʼn ver pad om te stap om te voldoen aan die kosmetiese vereistes wat die mark aan varsprodukte stel.”

Dié organiese verbouing werp wel vrugte af, maar die blokke doen nog nie so goed soos die konvensionele blokke nie. Die meeste boere waarmee ek gesels oor organiese verbouing is dit eens. Organies het nog 'n ver pad om te stap om te voldoen aan die kosmetiese vereistes wat die mark aan varsprodukte stel.  
Ek onthou spesifiek een stelling: “Jy kan 'n organiese appel verbou, maar hy gaan nie so perfek lyk soos wat mense aan gewoond geraak het nie.”

By Lushof word organiese beginsels ook in die wingerde toegepas. Ek sien 'n blok waarvan die bas van die wingerdstokke afgestroop is en Jeán verduidelik dat die proses met die hand gedoen word om insekte te beheer. 'n Aggressiewe swam beheer voorts die versprei-
ding van Port Jackson-indringerbome op die plaas, maar hierdie beheermaatreël is skynbaar deur natuurbewaring ingestel en nie deur Dreammaker Fruits self nie. Ek vra of hulle nie
bang is dat die swam na hul wingerde kan ver-sprei nie, maar Jeán sê die swam is gasheerspesifiek.

By Lushof eet ek my eerste bloubessie direk van die bos af. Al is dit middel winter het van die kultivars al begin vrugte lewer. Jeán sê hulle is voordurend besig om kultivars en ander omgewings soos Tzaneen te ondersoek om hulle leweringseisoen te verleng. 

Die bessies is verruklik, en elke kultivar verskil subtiel van smaak, maar om hulle te pluk is nie die maklikste ding nie. Elke bessie word individueel gepluk en hulle is nie veel groter as die punt van jou duim nie. 'n Sagkense rol-aksie word gebruik om die vrug van die stingel te skei en dit is maklik om die delikate vel te skeur.  Bessies in elke tros word ook nie gelyk ryp nie, so jy moet tussen dié deurwerk wat nog nie geskik is om gepluk te word nie.  “Mens wei so half jou vrugte oor 'n paar weke van die boorde af,” lag Jeán van dié intensiewe oesproses.

Plukkers moet dus nie net versigtig nie, maar ook vlytig van vinger wees , hulle moet ook kan bepaal of die bessies ryp is vir pluk. Hierdie oogskatting is nie altyd maklik nie, want die bessies verander nie vreeslik van kleur hoe ryper hulle word nie. Die vruggies word eers in emmers gepluk, dan weer vir kwaliteit nagegaan voordat hulle in grootmaat ‘punnets’ van 600g verpak en versend word vir die oorsese mark.

Arbeid is die onderneming se grootste enkele uitgawe en behels sowat 40% van hulle onkostes. Ek vra ook oor die groeiende swetterjoel riglyne en vereistes waaraan produsente moet voldoen voordat hulle nog enigsins 'n produk kan lewer en Jeán beaam dat hy 90% van sy tyd in 'n kantoor deurbring, grootliks om al hierdie administrasie te bestuur.

Boerdery is lankal nie meer 'n eenvoudige besigheid nie, en die boer wat ons volgende besoek, het dié werklikheid op die harde manier geleer.

Bybelsvrugte by Houdconstant

august2015-dorp-porterville-10

Die plaas Houdconstant is een van die eerste vier plase wat in Porterville geproklameer is in die laat 1800’s. In 2000 het Frans ‘Fan’ Olivier en sy gesin die plaas gekoop. Hy was sat vir die stad en die IT-bedryf waarin hy vir jare gewerk het, en wou sy leefwyse verander sodat hy meer tyd met sy gesin kon bestee.  “As jou kinders jou ‘uncle dad’ begin noem dan het jy moeilikheid,”  skerts Fan.

Sy pa het vir Korrektiewe Dienste gewerk en was in beheer van verskeie landbouprojekte wat die Departement onderneem het, so boerdery was nie vir Fan 'n nuutjie nie. Maar hy erken ruiterlik dat hy met 'n “leerlinglisensie begin boer het” en hy

gereeld die “toets gedop het”.

“Die plaas Houdconstant is een van die eerste vier plase wat in Porterville geproklameer is in die laat 1800’s.”

Die plaas wat hy bekom het, was 'n mengelmoes van groente, skaap, bees, sitrus en win-gerde, so sy leerkurwe was uit die staanspoor hoog en hy het gou besef dat jy “baie van iets
moet hê, of jy moet gaan vir hoë waarde gewasse”.

Hy het derhalwe met medisinale plante begin boer. Hulle het boegoe, wat natuurlik teen die berg voorkom, begin oes en het ook onder meer smeerwortel (comfrey) en kankerbos (Sutherlandia frutescens) aangeplant.  Hy het hom egter in die geslote netwerk van die farmaseutiese bedryf vasgeloop en besluit dié bedryf is meer moeite as wat dit werd is.
'n Vriend wat 'n kwekery in Riebeeck-Kasteel gehad het, het voorgestel dat hy óf na vye óf granate kyk as alternatief. Aangesien granate ook 'n gesondheidsaspek het (dit is hoog in kankerwerende anti-oksidante en vitamien C), het Fan besluit om te begin navorsing doen.

Die leerproses sê Fan, was soos om van 'n brandslang af te drink waarvan die kraan voldruk oop is. Daar is meer as tweeduisend verskillende soorte granate. Die granaat is 'n baie ou vrug en daar is verwysings na sy medisinale waarde in al die boeke van die groot gelowe, soos die Bybel en die Koran.

Fan het 'n sagte pit-variëteit gesoek, met 'n smaakprofiel wat nie te suur is nie en wat ook visueel aantreklik is. Sy eerste plantmateriaal het uit Indië gekom, en hy het sommer vroeg 'n meevaller gehad. Toe sy bome na 18 maande hul eerste vrugte begin dra, het die QE2-passasierskip in Kaapstad aangedoen en het 'n spyseniersverskaffer al sy granate opgekoop.

Die volgende jaar het die ‘pawpaw’ die spreekwoordelike ‘fan’ geslaan en het valskodlingmot  sy boorde aangeval. Boonop was daar teen 2008 'n produsente-ontploffing in Suid-Afrika, so Fan het begin kyk na waardetoevoeging om sy produk in aanvraag te hou. Hulle het toe begin om die granate uit te dop en te verpak vir uitvoer na die buiteland.  Waarmee hy nie rekening gehou het nie, was dat uitgedopte granate as snyvrugte beskou word en dat dit aan baie strenger HCCP-voedselveiligheidsreëls onderwerp word.  So hulle moes ook inderhaas hul pakhuis vir HCCP-voldoening inrig.

Fan moet steeds gereeld sy besigheid her-omwentel om 'n stap voor sy mededingers te bly. Weens ekonomiese faktore voer hy nie meer uit nie en verskaf hy tans slegs granaatprodukte aan onder meer Freshmark, wat hom genomineer het vir vanjaar (2015) se verskaffer van die jaar.

august2015-dorp-porterville-11

Die slotsom waartoe Fan gekom het na al die duur skoolgeld wat hy moes betaal, is dat jong boere hulself by 'n groot organisasie moet skaar, of dat hulle in 'n groepering van kleiner produsente moet saamwerk om beter markverteenwoordiging te beding.

Hy was nog egter nooit spyt dat hy die korporatiewe wêreld vir boerdery verruil het nie. Dit laat my dink aan nog 'n sêding wat ek iewers in Porterville gehoor het: “Mens maak nie altyd geld uit boerdery nie, maar jy het 'n leefstyl wat ongeëwenaar is in enige ander bedryf.”