Volg ons op Facebook

Moorreesburg Natuurgebonde

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| September 8, 2015

Die Sami-bevolking van Skandinawië en Rusland het  ʼn duisend woorde vir ‘takbok’.  ʼn Aanduiding van hoe belangrik dié boksoort vir die Sami-mense is.

Vir my sou dit gepas wees as daar ‘n soortegelyke hoeveelheid woorde was wat die konsep van ‘natuurskoon’ kon omvat, want plekke soos Moorreesburg is totaal van die natuur afhanklik en daar is geensins voldoende maniere om die natuurweelde in die omgewing te beskryf nie. 

Die dorp en sy onmiddellike omgewing is droëland. Hier is nie besproeiingswater vir landbou nie, en dit wat hier is, is meestal brak. Die enigste rivier is die Bergrivier wat sowat 30km oos van die dorp verbyloop en slegs enkele boere kan uit dié rivier besproei. Maar in die winter bring Moeder Natuur bykans soos klokslag genoeg reën en haar goedgunstigheid is op tentoonstelling toe ek my in middel-Augustus in Moorreesburg bevind. Hoewel hierdie winter buitengewoon droog was, het die reën steeds net genoeg en net betyds gekom. 

‘Asemrowend’, ‘beeldskoon’, ‘skilderagtig’ ... dis als holrug gery en ek gee op om die eerste goudgeel kanola, wat tussen diepgroen koringlande begin blom, te beskryf.  Jy kan die Swartland uit telke rigtings van die dorp invaar en oor elke nuwe helling – met die skerp kontras van die Groot Winterhoekberge in die verte - oorweldig die aansig jou.

As mens deur só n visuele skouspel omring word, is dit geen wonder dat die inwoners so ontspanne en vriendelik is nie. En ek moet vir ʼn oomblik weer afdwaal oor takbokke. Eers het ek gedink dis ʼn ‘binne-grap’ van inwoners en dat hulle met my gekskeer. Maar hier is werklik takbokke in die area, ja, soos Rudolph van Sinterklaasfaam! 

Gerugte loop dat die takbokke oorspronklik deur ʼn boer die land ingebring is ‘vir die mooi’, maar soos baie uitheemse spesies het die bokke intussen vinnig begin vermeerder en ‘n probleem begin raak. Jy hoef dus nie bekommerd te wees dat jy hallusineer,as jy ʼn takbok hier naby gewaar nie.

Boeredeurloop

Ek hou eerste stil by Kaap Agri se Meganisasie-afdeling op die dorp, waar Ron Smith die bemarker is. As jy boere wil ontmoet, dan’s hier ʼn flink deurloop van kandidate. Dis hier wat ek die Bester-broers van  U.D. Boerdery raakloop. J.P. en Cobus Bester se besigheid is ʼn goeie voorbeeld van die deursnee-boerdery in Moorreesburg. Hulle is betrokke by meer as een plaas. Buiten Uitkyk – wat aan die broers behoort - bestuur hulle ook twee ander plase op ʼn winsdelinggrondslag.

As ʼn reël besit boere in die area meer as een plaas, of hulle huur addisionele grond. Dis ʼn kwessie van skaal. Enkelplase is gewoonlik te klein om lonend met koring te kan boer.  Alle gewasboere (in my ondervinding) in Moorreesburg het koring. Weens die winterreënval en die gebrek aan besproeiingswater is boere beperk met die tipe gewasse wat hulle kan aanplant. Derhalwe word oorwegend koring en kanola geplant, met ʼn kombinasie van medics, lupiene, hawer, gars en lusern as wisselgewasse (laasgenoemde drie tot ʼn mindere mate).

dorp sep 2015 2

Die Bester-broers het ook Letelle, ʼn fynwol-merino wat vir wol en vleis aangehou word, en Nguni-beeste. Die meeste gewasboere in Moorreesburg diversifiseer met skaap en bees om kontantvloei te verbeter tydens die somermaande, wat hier min geoes of geplant word.  Wisselgewasse, veral medics, word gebruik as weiding en as snyvoer vir die kuddes.

Ons gesels oor die uitdagings vir boere in die omgewing en die broers is dit eens dat die prys van koring nie tred gehou het met inflasie nie. “Ons kry effektief al vir 7 jaar dieselfde prys vir koring, so ons teer as’t ware op ons kapitaal,” sê J.P.  Die enigste manier om voor te bly is om meer effektief te boer, want insetkostes bly styg.

Koringboere word nie so ernstig deur beurtkrag geraak soos ander bedrywe nie, maar hulle is veral afhanklik van diesel, en dieselpryse het die afgelope vier jaar met reusespronge gestyg.

Implemente vir die koringbedryf is ook duur. In die Swartland is die koringbedryf bykans ten volle gemeganiseer en baie boere het die afgelope dekade oorgeskakel na presisie-boerdery, wat die aankoop van duur GPS- en rekenaartoeusting noodsaak. Mens praat van ‘n paar miljoen rand vir ‘n nuwe stroper met ʼn tafel (die implement wat die koring sny en in die stroper inbring) en al sy rekenaartoerusting by. Dan het mens ook ideaal meer as een stroper nodig, so ek los die somme vir jou.

Die Besters noem voorts dat die grond hier ‘hard is op yster’ en as jy ʼn implement wil toets, dan is die Swartland die plek. “As dit in die Swartland werk, dan werk dit oral in die wêreld,” sê Cobus. Dis juis hieroor dat die broers skugter is om sommer na nuwe implemente oor te skakel, soos wat minimum- en geenbewerking deesdae vereis. Hulle pas wel minimum-bewerkingsbeginsels toe, maar maak seker dat ‘n stelsel eers deur ander boe-re in die omgewing beproef is, want ‘skoolgeld’ soos J.P. sê, is duur om te betaal.  

Swartland-skouspel

Later die middag val Jacques Bester (daar is heelwat Besters op die dorp) by Ron se kantoor in vir ʼn koffie. Jacques is een van die organiseerders van die Swartlandskou wat vanjaar sy 81ste bestaansjaar voer.  Wat die Swartlandskou so gewild maak, is dat hy sy tradisionele skoukarakter behou het en nie net ʼn agri-ekspo is nie. So die kos- en huisvlytstalletjies van weleer is steeds te beproef, skouer aan skouer met die blinkste nuwe boer-
dery-implemente en die diereuitstallings van ouds. Sowat R280 miljoen se implemente word tussen 9 en 12 September by die skou uitgestal en daar is ook perdevertonings wat jy nie sommer elders sal sien nie; byvoorbeeld  ʼn span van agt perde wat voor ‘n wa ingespan word.

“Sowat R280 miljoen se implemente word tussen 9 en 12 September by die skou uitgestal”

Jacques sê die skou kry jaarliks tussen 10 en 11 duisend besoekers wat vermaak word deur verskeie kunstenaars en lafenis soek in die gewilde wyntuin, terwyl kinders regstreekse ondervinding met plaasdiere kan kry, deur onder meer skaaplammers met bottels te voer.  Wisselbou ‘n wenner by Nooitgedacht

dorp sep 2015 1

Jacques is self ʼn boer en ʼn groot voorstaander van wisselbou. Volgens Jacques is daar sonder twyfel ʼn positiewe uitwerking op sy opbrengs per hektaar en die proteïeninhoud van sy koring, vandat hy nie meer as twee jaar agtermekaar koring-op-koring plant nie. Vir Jacques is kanola, lupiene en medics van die beste wisselgewasse, nie net omdat hulle die stikstofverhouding in die grond verbeter nie, maar ook omdat hulle onkruidbeheer vergemaklik. Jacques noem ʼn interessante ding wat ander boere deur die loop van die week bevestig. Die grond rondom Moorreesburg neig na ‘n skalie-tipe met ʼn klei-onderlaag, so met die toename in minimum-bewerkingsmetodes is daar ʼn neiging dat die klei onderlaag so op 25-30cm verdig. Hierdie verdigting word vererger deur die teenwoordigheid van vee.   

Jacques laat dus nie meer in die reënseisoen beeste op sy medics-lande by sy plaas Nooitgedacht wei nie. Hy laat hulle op sy meer marginale grond loop, want hy ondervind dat die beeste die klei-onderlaag nog meer vas trap en verdig.  

Om dieselfde rede is daar boere in die omgewing wat dit oorweeg om heeltemal weg te beweeg daarvan om vee aan te hou.

Die Hut

Dié aand loop ek nog ʼn gros boere raak by Die Hut, een van Moorreesburg se gewildste uithangplekke. Die Hut se gastehuis is ook waar ek die week tuisgaan. As jy ʼn plaasondervinding soek, dan gaan jy nie maklik beter kry nie. Die Hut is uit die ou hoofhuis van die familieplaas Ebenhaezer omskep. Dis onopgesmuk en hoewel die kamers smaakvol en modern ingerig is, is die gevoel meer dié van ʼn woning as gaste-akkommodasie.

Jaco Hanekom en sy broer Jannie boer steeds aktief op die plaas met onder meer koring, kanola en skaap. Jaco en sy vrou Sharón het aanvanklik begin met die restaurant en kroeg op die plaas, en vier jaar gelede het hulle besluit om ook die nege gastekamers in te rig. 

dorp sep 2015 3

Een van my mede-inwoners is ʼn Spanjaard – hy praat geen Engels nie – maar woon al vir weke in die gastehuis, terwyl hy spanne oplei om met masjinerie by ‘n plaaslike hout-
maatskappy te werk. So met gebare taal en gebroke Engels het Jaco en Sharón, en hul restaurantbestuurder Johan Brink, dié inligting uit die Spanjaard gekry. Hoewel hy niks verstaan nie, kan ek sien Nelson is klaar deel van die ‘familie’ en hy word hartlik gegroet deur die klomp boere wat die aand daar is vir ʼn maandelikse wynproe geleentheid.

Oor heerlike sjerrie en Riebeek-kelders rooi gesels ek tot amper twee uur die oggend met meer as ʼn halfdosyn landbouprodusente oor hulle bedrywighede in die area. Ek dwaal weer af, maar mens moet versigtig wees as jy die landbougemeenskap toelaat om jou op drankies te trakteer, want die vrygewigheid is groot en almal wil ʼn bydrae lewer.

dorp sep 2015 4Ek bieg by een boer – Johan Hanekom senior – dat ek vroeër die middag op sy plaas ‘oortree’ het. Ek het ʼn hoogte gesoek om die dorp met sy omringende berge en koringlande af te neem en het koers gekies teen ʼn styl plaaspad op.  Amper tot my spyt. Ek was heeltemal te ver bult-op voor ek besef het my Sirion is glad nie opgewasse teen 60 grade-hellings met los grond, dongas en klippe nie. Johan se seun Johan junior was gelukkig in die omtrek en het my in sy bakkie gevolg om seker te maak dat ek weer veilig  op gelyk aarde kon terugkom.

Die ekskursie teen Kleingoudmyn se koppie uit was egter die avontuur werd. Nie net was die sonsondergang besonder nie, Johan jnr. het ook vir my gewys hoe lyk lupiene, die eerste keer in tien Plaastoe!-uitgawes wat ek dié wisselgewas sien, al het ek al baie daaroor geskryf. 

Ek moet egter erken dat ek steeds nie lupiene van daardie penwortelbossies, wat mens so gereeld in jou tuin kry, sou kon onderskei nie.

‘n Nota oor Angus

Sallas van der Westhuizen boer op Swartrug en kuier gereeld by Die Hut. Sy plaas is so 15km van Moorreesburg op die Gouda pad en hy plant ook koring, kanola, medics, lupiene en hawer. Sallas het beeste. Swart Angus spesifiek en ek vra waarom party boere rooi en party boere swart Angus verkies.  Volgens Sallas vind hy dat swart Angus beter op oesreste aard, wat dié ras ideaal maak vir stoppellande. “Rooi (Angus) moet jy gewoonlik ʼn byvoeding gee,” sê Sallas.

dorp sep 2015 5Een van die laaste rollermeulens

ʼn Ander boer wat ek by Die Hut raakkuier is Kobus Dippenaar. Sy seun Stephen is ʼn sewes ruby-speler en is toevallig dié aand ook by die wynproe. Kobus en ʼn vennoot besit een van die enigste private rollermeulens wat nog in die land bestaan. Moorreesburg Rollermeule is net buite die dorp geleë en hulle lewer sowat 120-130  ton meel per maand.  Kobus sê dis betreklik min as ʼn mens dit teen kommersiële meulens sou meet wat gemiddeld 60 ton meel per uur maal. Maar hulle maak ʼn volhoubare bestaan deur onder meer aan ʼn nismark in die Kaapse vlakte te verskaf. Dit help ook dat steengemaalde meel die afgelope tyd meer gewild begin raak het.

Langgewens-navorsingsplaas

Die volgende oggend – terwyl die wêreld toegevou is in ʼn reënkombers – ry ek en Ron van Kaap Agri met die N7 na Langgewens, een van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se navorsingsplase. Daar is sewe in die provinsie, waarvan Langgewens die navorsingsplaas in die Swartland is, wat op graan- en kleinveenavorsing fokus. Die navorsing op Langewens is onder meer daarop gemik om kultivars en boerderymetodes te toets wat spesifiek geskik is vir Swartland-toestande. Soos die Departement se ander na-
vorsingsplase, word Langgewens ook deur eksterne navorsers en studente gebruik om proewe te doen. So dien die navorsingsplase as “sentrums van kundigheid- en inligtingsontwikkeling en verspreiding”.

Samie Laubscher is Langgewens se Navorsingskoördineerder en hy noem dat daar tans twee langtermynproewe op Langgewens gedoen word; een vir wisselbou en die ander ʼn bewerkingsproef. 

Die wisselbouproef loop volgende jaar na 20 jaar ten einde en het onder meer die ekonomiese lewensvatbaarheid en omgewingsvolhoubaarheid van wisselboustelsels geëvalueer. Verskeie gewasse is in kombinasies getoets om die beste gewas- en gewas/weidingwisselbourotasies te bepaal. Hierdie gewasse het koring, kanola, medics, lupiene, en klawer ingesluit.

Waar skaap-weiding ook betrokke was, is daar bevind dat die jaarlikse medic/koring/medic/koring-rotasie die beste resultate gelewer het. Maar, waarsku Samie, dis nie ʼn klinkklare resep vir sukses nie, want verskeie faktore speel ʼn rol, insluitend grondsamestelling en of jy wel vee op jou plaas het.

dorp sep 2015 6

Die langtermynbewerkingsproef is in 2007 begin en een van die doelwitte is om die effek van geen-, minimum- en konvensionele bewerkingspraktyke te evalueer. Daar sal onder meer vasgestel word hoe bewerkingstelsels (gepaardgaande met gewasrotasie) onkruidbeheer beïnvloed, biologiese aktiwiteit bevoor- of benadeel, en produksie verswak of verbeter.

Die Swartland Kleingraan Ontwikkelingsgroep (SKOG), wat in 1991 gestig is, is baie nou betrokke by verskeie van die proewe by Langgewens. Die groep bestaan uit vier prinsipale (Wes-Kaapse Departement van Landbou, Kaap Agri, Moorreesburg Koringboere Edms. Bpk. en die Proteïennavorsingstigting) en stel hom ten doel om navorsing en ontwikkeling te stroomlyn en tegnologie-oordrag te bevorder.

“Sowat 60 medewerkers uit verskillende vertakkings van die landbou neem deel...”

Sowat 60 medewerkers uit verskillende vertakkings van die landbou neem deel aan die SKOG-proewe op Langgewens. Dit sluit oesbeskerming (bv. onkruid- en swamdoders), bemesting (insluitend organies), plantteling en die evaluasie van nuwe en bestaande genetiese materiaal in.

dorp sep 2015 7Die praktiese uitvoering van die SKOGproewe raak eers later vir my duidelik toe ons in die reën van die aanplantings gaan besigtig. Die aanplantings word in allerlei grootte blokke en rye gedoen, Ron van Kaap Agri wys vir my ʼn paar rye kanola wat hy met ʼn spesifieke nuwe minimum-bewerkingplanter geplant het.    In ʼn ander ‘blok’ is daar rye koring aangeplant as ‘n kontrolegroep, net langs koring waar ʼn spesifieke kunsmis aangewend is; op dié wyse kan die resultate reeds met die oog teen mekaar opgeweeg word. Dit maak dit maklik vir boere (onder andere) om die proewe direk te evalueer en besluite daarvolgens te neem.

Bevindings uit die SKOG-proewe word op verskeie maniere aan die landbougemeenskap oorgedra, soos tydens twee SKOG-boeredae wat gewoonlik in Maart en September gehou word. Data van die langtermynproewe op Langgewens word deur navorsers by Elsenburg (die hoof navorsingsplaas buite Stellenbosch) verwerk en dan aan belanghebbendes versprei.

Wolhaarstories

Die middag by F.C. Bester se XP Boerdery beleef ek my eerste veeveiling. Hy teel met Dohne Merino’s en die man ken sy storie (hoewel hy te beskeie is om sy eie beuel te blaas en ek moet staatmaak op kopers en afslaers om die ware prentjie te vorm). In 2008 het een van sy ramme ʼn rekordprys van R152 000 op veiling behaal. 

Nie eers die stortreën kan ʼn demper op die geesdrif by die geleentheid plaas nie. Ek maal rond tussen ander kopers en die afslaers en vra hoe ʼn mens die waarde van ʼn ram be-
paal. Die antwoorde wissel, maar in ʼn neutedop hang dit af van die eienskappe waarna die koper soek, i.e. fyner wol, sterk bene vir goeie loop vermoë, ʼn groter ribsprong (dis nou die afstand tussen die skaap se ribbes; hoe meer spasie tussen die ribbes hoe meer vleis, hoe meer waardevol die karkas) en dies meer.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, niemand hier koop skaap vir Sondag se braai nie.  Teen ʼn gemiddeld van meer as R10 600 per skaap sou dit die duurste tjops ooit wees! Nee, hierdie ramme word gekoop deur ander stoeteienaars, of boere wat teelramme vir hul kuddes wil hê.

En as meer as een boer dieselfde eienskappe soek en daar ʼn ram van uitstekende gehalte op ʼn veiling kom wat dié eienskappe het, dan kry jy jou ‘uitskieters’ wat groot geld by veilings verdien. Volgens F.C. is die goue mediaan en die kuns van Dohne Merino-teling om ʼn groot skaap met fyn wol te teël.

dorp sep 2015 8Dit bring my by die wolhaarstories. Hoe fyner ʼn skaap se wol, hoe meer waardevol word dit geag. Kopers van teelramme sal dus kyk na die tekstuur en mikron (gewig) van die wol, asook die lengte daarvan, want hoe langer die vol, hoe vinniger maak jy ʼn baal vol. Laasgenoemde is vir ʼn boer dalk ʼn ooglopende gevolgtrekking, maar vir die gewone ou op straat (soos ek), nie noodwendig nie.

Soos die natuur dit wil hê, is fyner wol egter gelyk aan kleiner skape en Dohne-kuddes word vir hul vleis sowel as hul wol aangehou. Dus, as jy ʼn groter skaap met fyn wol kan teel het jy die ideale Dohne.

F.C. glo in wetenskap om ʼn voorsprong bo mededingers te behou. Hy gebruik ʼn lamhoksisteem en laat sy ooie laparoskopies insemineer. F.C. reken met dié proses kry jy jou stoet se gehalte binne 5 jaar, waar konvensionele teling dit in 20 jaar sou hê.

Terwyl ons gesels, vryf hy so half ingedagte oor sy ribbes en vra om verskoning. Hy is nog gekneus nadat hy ʼn ruit met ʼn tafel moes uitslaan, sodat brandweerpersoneel hom en sy gesin na veiligheid kon bring by Kaapstad se Crystal Towers Hotel in Century City toe daar die vorige Sondag ʼn brand uitgebreek het.

F.C., sy vrou en kinders, was in ‘n suite op die 8ste verdieping. “Ons het op ʼn lysie buite die venster gestaan en wag dat hulle (die brandweerpersoneel ) ons moet kom haal,” sê F.C, wat erken dat dit ‘n angswekkende ervaring was. “Dit het sleg gelyk want die rook was baie dig en daar’s niks wat jy kan doen nie, jy kan nie op of af nie.”

Uiteindelik het brandweerpersoneel daarin geslaag om met ‘n brandtrap binne die gebou by die gesin uit te kom. Dalk slegte tydsberekening vir ʼn welverdiende rustydjie, maar alles het darem op die ou end goed afgeloop.

Water – die spel-wisselaar

Google vertaal ‘game changer’ as ‘spel-wisselaar’ en ek hou daarvan. In Moorreesburg is die beskikbaarheid van water vir ʼn boer ʼn ware spel-wisselaar en daarvan is Koot en Gert Claassen deeglik bewus. Toe dié pa en seun in 2013 hul

Claassen Boerdery net buite Moorreesburg hervestig het, was hul eerste doelwit om genoeg standhoudende water te vind.

dorp sep 2015 9Die boerdery word op verskillende plase bedryf en die plaas Diepkloof het reeds met hul aankoms twee boorgate gehad. Rotsformasies op die grond het belowend gelyk vir nog watervondste, maar die eerste paar boorgate het niks opgelewer nie. Uiteindelik is daar egter ondergrondse water op 78m tot 120m raakgeboor.

Gert verduidelik dat die waterbreuke op die spesifieke plaas nie horisontaal loop nie, maar vertikaal: “So jy kan nou hier boor en water kry, en 5 meter verder is dit weg.”
Die boordery het ook helder-pienk en -groen kwartsiet opgelewer, sowel as pikswart graniet, wat uniek is. Die naaste wat die boorders nog van hierdie rots gesien het, was by Llandudno in Kaapstad. 

Volgens Gert is die water heeltemal geskik vir drupbesproeiing en metodes om die water meer effektief te maak word reeds ondersoek en ontwikkel. Omdat alles nog beproef word, wou hulle egter nie veel daaroor uitbrei nie.  

Vandat die nuwe boorgate gevestig is, toets die Claassens verskeie gewasse onder spilpunte. Hulle beplan ook om soja as ʼn somergewas aan te plant. “Soja is ʼn vinnige-omkeer-gewas, want dit vat nie soveel uit jou grond soos mielies nie,” sê Gert. Dieselfde masjinerie, insluitend stropers en planters, wat jy vir koring gebruik, kan ook vir soja benut word. Voorts skat Gert dat ʼn goeie opbrengs per hektaar met soja hier haalbaar is weens die kort somernagte, en dis boonop deesdae ʼn gewas van hoër waarde.

Die amptelike aansoek vir waterregte is reeds twee jaar lank aan die gang en wanneer dit afgehandel is, wil die Claassens boorde vestig. Ek vra watter tipe boorde en kry slegs ʼn glimlag as antwoord.  

“Voorts skat Gert dat ʼn goeie opbrengs per hektaar met soja hier haalbaar is...”

Die Claassens het oorspronklik in Delmas in Mpumalanga geboer, waar Koot vir 36 jaar suksesvol aartappels verbou het.  In die Wes-Kaap is die Sandveld bekend vir sy aartappels, maar in Moorreesburg is dit nie ʼn gewas wat jy sommer vind nie. Die Claassens plant egter net oor die 140ha aartappels eksklusief vir saad. Gert sê hulle beoog om die saadaartappels na 220ha uit te brei teen volgende jaar.

“Hoë kwaliteit saadaartappels begin skaars word in Suid-Afrika en Afrika,” sê Gert, en hulle doelwit is om hierdie gaping te help vul.

Aangesien die omgewing vir hulle nuut is, beproef hulle ʼn verskeidenheid gewasse.   Buiten saaigewasse wat koring, kanola en gars insluit, het hulle ook wingerd op Diepkloof,  Windheuwel en die plaas Verland.  Hulle lewer hoofsaaklik vir KWV en dan ook tot ʼn mindere mate aan Darling-kelders. Buiten die bekende kultivars soos Chenin Blanc, Merlot, Cabernet Sauvignon en Pinotage word daar ook Tannat verbou. Dié kultivar kom oorspronklik uit die Baskiese streek in Europa en het ʼn groot aanhang in Uruguay waar dit as die ‘nasionale druif’ beskou word. 

Op pad terug na Kaapstad stop ek om die kaal wingerdrye op Verland af te neem teen die heldergroen van die omringende koringlande, en ek dink aan my laaste vraag aan Gert Claassen... Waarom sou mens in Moorreesburg wou boer?

Hoewel die Swartland sy uitdagings het wat met tyd geleer moet word, is uiterste skadelike weersveranderlikes nie ʼn groot kommer nie, en dit is ‘n groot voordeel, maar die belangrikste rede sê Gert is die mense en die leefstyl: “Die lewenskwaliteit in die Swartland is ongeëwenaar in enige ander plek, en ek sal dit vir niks verruil nie.”