Volg ons op Facebook

Worcester, in die wieg van die berge

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| October 8, 2015

Volgens oorvertelling is daar 21 bergpasse wat lei na Worcester. Ek kan dit glo, want die eerste eienskap wat die besoeker aan Worcester opval, is die hoeveelheid berge wat dié Wes-Kaapse dorp omring. Soveel is daar, dat selfs diegene wat geslagte lank al hier woon nie weet wat almal genoem word nie.

Dis douvoordag op ʼn Maandagoggend en Jacques Bindeman van Kaap Agri in Worcester het reeds begin met sy ‘pale lopie’. Elke Maandag word daar tonne pale vir nuwe wingerdaanplantings in die omgewing afgelewer. Wingerdboerdery is die hartklop van Worcester en sy omringende valleie. Dis een van die streke in die land met die meeste wynkelders wat op koöperatiewe beginsels bedryf word, m.a.w. groeperings wingerdboere is die enigste aandeelhouers in die kelders. Ek het minstens ses getel, waaronder Aan de Doorns, Brandvlei en Nuy.

“Wingerdboerdery is die hartklop van Worcester en sy omringende valleie.”

Buiten wyn- en tafeldruiwe is die omgewing ook bekend vir sy sagte- en steenvrugte. Die droëvrugtevervaardiger SAD (wat nou aan Pioneer Foods behoort) het ʼn aanleg in Worcester.  Dit is ook ʼn belangrike brande-
wynproduksiestreek. KWV se brandewynkelder op die dorp is een van die grootstes van sy soort ter wêreld, en die eerste solera-metode brandewyn in Suid-Afrika is in 1988 by die Olof Berg-kelder in die Breedevallei tussen Worcester en Rawsonville gemaak.

Maar eers terug by die pale. Die meeste van die pale wat afgelaai word, is heelwat korter en dikker as die pale wat tradisioneel vir wingerdopleistelsels gebruik is – gemiddeld 1,8m en selfs so kort soos 1,5m. Dit is die toenemende tendens onder boere; almal begin meganiseer. ʼn Groot hoeveelheid wyndruifboere het reeds begin om meganies te oes, maar nou word daar ook beweeg na meganiese snoei. Ou opleistelsels maak dus plek vir nuwes wat dié snoeimasjiene kan akkommodeer.  Die arbeidsonrus in nabygeleë De Doorns in 2012 het ironies genoeg gelei tot die versnelling van boere se oorskakeling na meer intensiewe meganisasie, wat seisoenwerk in die omgewing verminder het.

Wingerde en appelkose by Eureka

october 2015 worcester dorpVir die paar dae wat ek in die prentjiemooi Worcester-valleie kuier, is André le Roux, die takbestuurder van die Agrimark op die dorp, my gids. Ons eerste plaasbesoek is aan Gerdie Hugo op die plaas Eureka. Gerdie en sy twee seuns Arno en Christie bedryf saam die Gerdie Hugo & Seuns-boerdery, en die Hugo’s boer al drie generasies in die omgewing.   

Gerdie noem dat sonder rivierwater daar geen boerdery in dié area sou kon plaasvind nie. Die jaarlikse reënval is gemiddeld 200-250mm (te min vir droëlandboerdery) en vanjaar het daar nog net sowat 170mm geval. Dis ʼn kommer, want die meeste boere het plaasdamme wat in die winterreënseisoen volgemaak word en dan in die lente en somer intensief gebruik word wanneer die wingerde en boorde die meeste water nodig het.

“...sonder rivierwater daar geen boerdery in dié area sou kon plaasvind nie.”

october 2015 worcester dorp 2Worcester en sy omliggende valleie se besproeiingswater kom van die Brandvlei- en Kwaggaskloofdam, wat met ʼn sementkanaalstelsel aan plase gekoppel is. Die sementkanale is in die vroeë 1950’s voltooi. Die meeste boere het egter water-inlei-kwotas van beide die kanaalstelsel en die Breërivier wat die area voed.

Die Hugo’s se primêre gewas is wyndruiwe en hulle lewer al hulle druiwe aan die Aan de Doorns-kelder, waar Gerdie ook ʼn direkteur is. Die kelder het sowat 40 lede, met 23 plase wat aan hulle lewer.

Ons gesels oor meganisasie. Die Hugo’s oes met masjiene, maar snoei steeds met die hand. Gerdie laat egter sy arbeiders tydens parstyd saam met die oesmasjiene deur die wingerdrye beweeg en gelykertyd oes. “Oestyd was nog altyd ʼn vrolike tyd op die plaas,” sê hy “Ons wil ons werkers nie van daardie goeie stemming ontneem nie.”

october 2015 worcester dorp 3Ek vra of daar nie meer druiwe aan die wingerdstokke agterbly as mens met ʼn masjien oes nie. Die masjiene loop ‘wydsbeen’ oor die opleidingstelsels en gebruik plastiese latte (beaters) om die trosse van die wingerdstokke af te slaan. Dié vibrasieproses is nogal verbasend hard en ek verwonder my dat die wingerdstokke nie seerkry nie. Gerdie verseker my dat die oesmasjien meer effektief is. Hy meen dat mens 99% van jou oes met ʼn masjien afhaal, terwyl jy sowat 10% vermorsing met handearbeid het.

Die Hugo’s verbou ook perskes en appelkose. ‘n Deel van die appelkose word uitgevoer, maar die meerderheid van die vrugte is bestem vir die inmaakbedryf.  Volgens Gerdie is appelkose veral lief vir die kalkryke rooi Karoogrond van die omgewing, omdat hulle onder meer ʼn hoë PH soek. Appelkose is veral in oestyd ʼn arbeidsintensiewe gewas. Die oesvenster vir appelkose is net twee weke en al die vrugte word met die hand geoes.

october 2015 worcester dorp 4

Willow Creek se olywe

Verbruikers regoor die land sal vertroud wees met die Willow Creek-handelsmerk. Dié landgoed is bekend vir sy reeks olyfolies, ingelegde olywe en ander olyfprodukte soos tapenades.  Dié olyfbesigheid wat in die Nuyvallei buite Worcester geleë is, het ʼn interessante oorsprong-storie.

Andries Rabie was aanvanklik ʼn wingerden groenteboer, hy is steeds, maar ʼn vriend het hom in 1997 aangespoor om olywe as gewas te ondersoek. Andries het toe ʼn besigheidsplan saamgestel en ʼn som gemaak wat hom ʼn idee gegee het van die potensiële lewensvatbaarheid van die bedryf. “Ek het eendag in die kerk gesit en die boodskap was oor tiendes en offergawes”, sê Andries. “Hulle deel toe papiertjies uit en sê ons moet die bedrag neerskryf vir die tiende waarvoor ons op die Here vertrou.

“Ek skryf toe ʼn syfer neer en ʼn paar weke later besef ek dis presies ʼn tiende van my som vir die besigheidsplan.”

Dit het Andries finaal geïnspireer om in 1999 sy eerste olyfboord aan te plant. Aanvanklik was die leerkurwe opdraand. Die eerste Mission-kultivar wat hy geplant het, het nie so goed in die omgewing geaard nie. Deesdae plant hy onder meer Favolosa en Koroneiki. Laasgenoemde is volgens Andries die kultivar wat die meeste olie per ton gee. 

october 2015 worcester dorp 5

ʼn Kwekery is ook intussen op die plaas gevestig en jong boompies word landwyd verskaf. Die kweek van olyfbome vir kommersiële verbouing word nog nie in Suid-Afrika so streng gereguleer soos byvoorbeeld sitrusbome nie. Daar is egter ʼn forum in die olyfbedryf wat standaarde vir die kweek van bome bepaal.

Olyfbome is selfhernuwend, en wetenskaplikes kon nog nie bepaal hoe oud van die oudste bome in die wêreld is nie, want hulle is ouer as menseheugenis. Beskikbare toetse het bepaal dat van dié bome in Griekeland minstens 2000 jaar oud is, maar daar word geraam dat die werklike syfer nader aan 4000 jaar is!

As jy die kultivar suiwer wil hou, kan olyfbome slegs van steggies gekweek word. Volgens Andries plant die bome natuurlik voort met windbestuiwing. As jy ʼn olyfpit sou plant, sou die boom wat daaruit spruit uit twee kultivars bestaan en nie meer ʼn suiwer enkelkultivar wees nie.

“Die kweek van olyfbome vir kommersiële verbouing word nog nie in Suid-Afrika so streng gereguleer soos byvoorbeeld sitrusbome nie.”

Die gesondheidsvoordele van olyfolie het geen bekendstelling nodig nie. Die ekstra suiwer (extra virgin) olyfolie wat by Willow Creek gemaak word, word volgens die nuutste tegnologie meganies geëkstraheer sonder enige raffinering of chemiese ekstraksie.     Anders as byvoorbeeld sonneblom- en kanola-olie, vind die ekstrahering teen ‘n lae hitte plaas (maksimum 28 grade Celsius). Die besonderse geure en die gesonde fito-nutriënte van die olyfolie bly dus behoue. Olyfolie-maak is ʼn kuns soos wynmaak sê Andries, en een van sy oliemakers is ʼn Italianer. Verskillende kultivars olywe – daar is sowat 2000 – die rypheidsgraad waarteen die olywe geoes word, die tydsduur tussen oes en ekstraksie en fyn verstellings in die ekstraheringsproses beïnvloed alles die geure en gehalte van die olie.   Willow Creek het duidelik dié kuns onder die knie, want die afgelope jaar was die landgoed 33ste op die wêreldranglys van olyfolieprodusente. Die enigste produsent in Suid-Afrika wat dié onderskeiding het.

Anders as wyn is olyfolie op die eerste dag op sy beste. Met tydsverloop begin die geure afneem en uiteindelik raak die olie galsterig. Indien die olywe teen die halfryp-stadium geoes word, daar nie ʼn lang tydsverloop tussen oes en ekstrahering was nie en die olyfolie teen oksidasie beskerm is, sal dit sowat twee jaar hou (sommige kultivars selfs langer), maar dis ideaal om elke jaar vars olyfolie te koop. 

Kyk uit vir die groen SA Olive CTC (Commitment to Compliance)-seël op Suid-Afrikaanse olyfolies.  Dit is ʼn verbruiker se waar-
borg dat die olyfolie ʼn chemiese en ʼn organoleptiese toets geslaag het om te verifieer dat dit wel van ekstra suiwer gehalte is. 

Voordat ek en André van Agrimark ons tog deur Worcester se valleie voortsit, moet ek ʼn olyf van die boom af eet. Mens kan tog immers nie skryf oor iets wat jy nog nie beleef het nie. Ek stem egter saam, dis nie aan te beveel nie.   Die vlees van die vars olyf is geweldig bitter, maar ek kon dit nog hanteer, dit was die kou van die dop wat die werklikheid by my tuisgebring het oor hoekom die eet van vars olywe met soveel driftigheid afgeraai word!

Alfalfa & Alvi’s Drift

Ek het nog nooit ʼn boer op sy plaas ontmoet in ʼn pak klere nie. Hoewel Johan van der Merwe nie presies ʼn pak aanhet nie, lyk dit of hy pas uit ʼn korporatiewe raadsaal gestap het. En hy het so half. Johan is ʼn praktiserende verdedigingsprokureur en hy is pas terug van die hof. Sy broer Alvi wat saam hom boer, is ʼn mediese dokter. Tog is boerdery in hul bloed.    Die broers is reeds die derde generasie wat hier boer.  Johan se pa, Bertie van der Merwe, het geglo dat ʼn seun nie net moet kan boer nie en het albei sy seuns verplig om eers hulself in nagraadse beroepe te vestig voor hulle kon terugkeer plaas toe.  Die naam lui ʼn klokkie en ek vra uit; Bertie was eens op ʼn tyd ʼn direkteur van KWV, sowel as Standard Bank, en hul oupa was die eerste Springbok-rugbyspeler uit die area. Die drif oor die Breërivier is in die 1930’s na Albertus Viljoen Van der Merwe vernoem en vandaar ook die Alvi’s Drift-wynreeks en kelder se naam.

october 2015 worcester dorp 6

Johan staan tans aan die stuur van die lewendehawe-deel van Alfalfa-boerdery, terwyl sy broer Alvi hul wingerd en sitrusboorde behartig. Alvi is ook ‘n kranige wynmaker en bestuur die wynkelder op die plaas. Hul Alvi’s Drift-reeks wyne het reeds verskeie pryse losgeslaan en het ook al verskeie gesogte 5-ster-toekennings in die Platter Wyngids verower.

“Hul Alvi’s Drift-reeks wyne het reeds verskeie pryse losgeslaan...”

Maar dié Dinsdag is Alvi vir ʼn wynkongres in Kaapstad en ek stel veral belang in die simbiose wat aan die lewendehawe-kant van die boerdery toegepas word.  Bykans alles word herwin en hergebruik. Alfalfa se hoofbron van inkomste is sy melkprodukte. Die boerdery het sy eie suiwelreeks wat vars melk, kase, room en botter insluit. Hulle produseer ook vrugtesappe onder hul handelsnaam, maar dié sappe word alles ingekoop. Vir Alfalfa se sui-
welprodukte gebruik hulle grotendeels hul eie melk. Sowat ʼn duisend koeie word 365 dae van die jaar drie keer per dag gemelk (5vm, 1nm en 8 uur saans).  Tans word daar in ʼn 44-punt putstelsel gemelk, maar die konstruksie van ʼn splinternuwe 72-punt-draaitafel is so te sê voltooi. Johan sê die draaitafel sal hulle in staat stel om hulle produktiwiteit aansienlik te verbeter omdat dit heelwat minder tyd neem om al die koeie op ʼn slag te melk. Hy voeg by dat baie werkers ook nie meer elke naweek wil melk nie, so met die nuwe stelsel sal hulle ook minder personeel by die melkery benodig.

“Alfalfa se hoofbron van inkomste is sy melkprodukte.”

october 2015 worcester dorp 7Mense-ontwikkeling lê albei broers na aan die hart. So het hulle byvoorbeeld vir Doreen Mazetta in 2012 vir twee jaar Frankryk toe gestuur sodat sy die fyner kuns van kaasmaak kon leer. Sy is tans in beheer van die boerdery se kaasfabriek.

Een van die byprodukte van die kaamaakproses is wei. Dis die waterige afskeiding wat agterbly nadat die room en kaasstof van die melk verwyder is. Johan het navorsing gedoen oor wat die beste hergebruikopsies vir die wei is, en het besluit op ‘n varkboerdery. Alfalfa se varke kry vanaf 30kg gewig slegs wei as voer.   Die boerdery het ʼn 100-sogeenheid, wat ek saam met André le Roux en Jacques Bindeman van Kaap Agri besoek. Dis baie skoner, en heelwat minder onwelriekend as wat ek verwag. Die sôe het elk ʼn eie hok met ʼn voertrog, maar geen waterhouers nie. Voor ek kon wonder hoe hulle water bekom, begin een van die sôe aan ʼn vlekvrye staalspuitjie in die hok suig. Johan verduidelik dat varke vinnig verveeld raak en met dié stelsel verhoed hulle nie net die vermorsing van water nie, maar die dier se aandag word ook geprikkel.

Buiten die melkery en die varke maak die plaas ook jong slaghoenders (broilers) op kontrak van Rainbow Chicken groot. Die hoenderboerdery se doel is nie net die kort-siklus-inkomste wat dit verskaf nie. Hoendermis maak ook ‘n voedingsryke byvoegsel vir kuilvoer (in klein hoeveelhede), wat dan vir beeste gebruik word wat nie melk lewer nie. Johan benadruk dat die mis steriel is. Dit lyk en ruik soos donker sjokolade, sê hy, en is baie voedsaam. Ek is ʼn sien-voor-ek- glo-tipe en ek dring daarop aan dat ek eerstehands die be-wyse wil aanskou, indien nie sommer proe nie. Jou werklik ruik die mis na sjokolade, maar my moed het my begewe voor die tongtippie-toets!  

Eagle’s Cliff

Op die R43 na Villiersdorp lê die plaas Welgemoed. Die tuiste van Christiaan Groenewald, 2013 Diner’s Club-wynmaker van die Jaar en ook een van vanjaar se deelnemers aan die gewilde TV-program Boer Soek ʼn Vrou.     Christiaan is die vierdegenerasie Groene-wald wat met wingerd boer in die Worcesteromgewing. Hy het reeds in 1997 op Welgemoed begin boer, maar het sy kelder eers in 2005 gebou en in 2006 sy eerste wyn gemaak. Hy produseer wyn onder drie etikette, waarvan Eagle’s Cliff plaaslik die bekendste is. Sy vlagskipwyne is egter sy Arendskloof-reeks en dit is vir die Arendskloof Tannat-Syrah-versnit wat Christiaan die gesogte Diner’s Club toekenning ontvang het.

october 2015 worcester dorp 8

Sy Eagle’s Cliff- en Dwyka Hills-reekse is op die plaaslike drinkwynmark gerig, terwyl die Arendskloof-wyn as ikoonreeks plaaslik bemark en ook uitgevoer word.

Die Arendskloof-wyne wen gereeld pryse en ek sien onder meer Veritas en Michaelangelo-toekenningsplakkers op verskeie van die bottels wat in die proelokaal uitgestal is. Christiaan glo dat versnitwyne werklik ʼn wynmaker se staal wys. “Mens moet ʼn spesiale aanvoeling vir ʼn versnitwyn hê”, sê hy. “Die sinergie tussen kultivars stel mens in staat om beter wyn te maak.”

Hy verduidelik dat sommige kultivars ʼn uitstekende neus het, terwyl ander weer ʼn beter pallet het. Deur die twee te kombineer kry jy baie meer kompleksiteit en die beste van albei eienskappe. Jy kan met ʼn versnit ook verseker dat jy ʼn volmond-pallet skep wat op die voor-, middel- en agterpallet ontwikkel.
So hoekom het hy besluit om sy eie wyn te maak? Christiaan glo dit was ʼn waardetoevoeging tot sy boerdery: “En boonop is daar ook die satisfaksie wat mens daaruit kry.”

“...hy is een van min wynmakers wat ʼn variëteitswyn van Tannat maak.”

Hy hou van uitdagings en om nuwe kultivars op die proef te stel. Hy was een van die eerste boere in die Worcester-area wat Tannat-druiwe aangeplant het en hy is een van min wynmakers wat ʼn variëteitswyn van Tannat maak. Tannat het ʼn ryp pruimkarakter sê Christiaan: “Maar as jy hom te vroeg pluk, is hy ondrinkbaar en te laat dan raak hy te swaar; ek het in Uruguay (waar Tannat die nasionale druif is) gaan kyk wat hulle met Tannat doen.”
In 2014 het hy ook Petit Syrah aangeplant, want hy meen die wyn wat van die druif kom, is baie veelsydig en interessant. Om op die pols van nuwe idees te bly is Christiaan deel van die wynsertifiseringsraad in die Worcester-streek. Hy glo jy moet jou oor (of dan jou neus) op die grond hou om jou mededingende voorsprong te behou, en nie te stagneer in ou maniere van doen nie.

october 2015 worcester dorp 9

Ek het altyd gewonder hoekom sommige wyne mens erger laat voel die volgende oggend as ander. Die swaelinhoud is blykbaar die sondebok. Dit is een van die karaktereienskappe van al Christiaan se wyne. Die swaelinhoud is altyd laag. ʼn Maksimum van 60-70 eenhede in die meeste van sy wyne, terwyl die algemene swaelinhoud in wyne heelwat hoër is en soms tot 120 kan styg.

Ons gesels verder oor Christiaan se deelname aan Boer Soek ʼn Vrou. Die program begin in Oktober en hy mag dus nie veel sê nie, maar hy bieg dat dit emosioneel baie meer uitdagend was as wat hy verwag het. “Mens moet jouself nogal intensief ondersoek en jy leer jouself baie goed ken.” 

Wyngeskiedenis by Leipzig

Die plaas Leipzig is een van die oudste plase in die Worcester-omgewing en ook een van dié wat al die langste deur een familie bewerk word. Die plaas is in die middel 1800’s deur Duitsers gevestig wat van Leipzig af-
komstig was en vandaar die naam. Met die verloop van tyd is die plaas in twee verdeel omdat daar soveel Rabie-kinders was, en daar word steeds onder die Rabie-nasate (10 ge-
nerasies van hulle) informeel na bo- en onder-Leipzig verwys.

october 2015 worcester dorp 10

My laaste aand in Worcester gaan ek tuis by die Leipzig-gastehuis; dié deel van die aanvanklike plaas bevat die oorspronklike kelder en buitegeboue. Die kelder dateer uit 1893 en het in die 1940’s een van die eerste koud-gefermenteerde wyne gemaak. Dié manier van wynmaak was die voorloper vir die witwyne wat ons vandag ken en geniet. Só anders en uniek was die White Leipzig-versnit dat dit die aandag van die Britse Koningsgesin getrek het.

“Die plaas is in die middel 1800’s deur Duitsers gevestig...”

Die Koningsgesin het Worcester in die laat 1940’s per trein besoek en tydens middagete by die Worcester-hotel is die White Leipzig aan die Koningsgaste bedien. Die wyn het so indruk geskep dat dit ʼn paar weke later by Elizabeth II se 21ste verjaarsdagbanket by die Mount Nelson in Kaapstad bedien is.

october 2015 worcester dorp 11Vandag huisves die ou kelder die ontvangs- en onthaalarea, sowel as die kroeg en eetkamer, en die  onthaalplek is veral gewild vir troues. Dis ʼn anderwêreldse ondervinding om hier aandete te nuttig. Buiten die aanvoel-
bare oudheid wat mens omring, pryk daar verskeie groot muurskilderye wat die geskiedenis van die Rabie-familie uitbeeld. Dié muurskilderye is sowat sewe jaar gelede deur ʼn Russiese skilder voltooi.

Die kos dié aand is uitsonderlik, nie net die smaak nie, maar ook die aanbieding. Ek is geen vreemdeling vir eienaardige restaurantkos nie, maar ek het nog nooit ʼn deeg-omhulde, diep-gebraaide aspersie as garnering by ʼn voorgereg gehad nie en dit was onverwags heerlik. 

Hierdie deel van die plaas het byna vir die Rabie-nasate verlore gegaan nadat dit in die 1990’s op die mark gesit is. Lida Smit, haar broer en niggie het egter ingespring en ‘n aanbod gemaak om dit self te koop en in die familie te hou.  

“ ‘n Nuwe kelder is ook in 2013 so ʼn paar meter van die ou kelder gebou.”

Lida sê haar man, dr. Francois Smit, was die dryfveer agter die plan om die familiegeskiedenis en die tradisie van sy wyne weer te laat herleef. ʼn Nuwe kelder is ook in 2013 so ʼn paar meter van die ou kelder gebou. Hoewel die oorspronklike kultivars waarvan White Leipzig gemaak is nie meer bestaan nie, word daar nou ʼn nuwe generasie White Leipzig op die plaas gemaak. 

october 2015 worcester dorp 12Die ‘nuwe’ White Leipzig doen sy voorsaat gestand en wen gereeld pryse wat toekennings by die Jongwynskou en ‘n Old Mutual-trofee insluit. Die kelder word bestuur deur Vian Bester, wat met Lida se dogter Alida getroud is. Hulle kontrakteer ʼn wynkonsultant om hul wyne te maak, maar tydens my gesprek met Vian kan ek sien hy brand om hierdie funksie oor te neem. Dit is sy passie en na elke parstyd maak hy self ‘n vat of twee. “Maar dis net vir eie gebruik”, sê Vian. 

Die volgende oggend ry ek in ʼn ligte reën met die R40 Villiersdorp-pad terug Kaapstad toe en ek verwonder my weer aan al die berge wat die omgewing omring. Hulle diep in lae op die horison op en verdof tot vae skimskadu’s in die
verte. Dit herinner my aan die 21-pas storie.  Die verhaal kom die Van der Merwes by Alvi’s Drift wat navorsing laat doen het vir hulle bemarking. Die navorsers het skynbaar al die passe in die omgewing getel wat na Worcester lei, selfs die obskures op grondpaadjies.  Dit gee mens ʼn idee van hoe belangrik al dié berg-reekse vir die omgewing se mikroklimaat en ook sy landbou is. Sonder die beskutting van die berge sou hier byvoorbeeld geen tafeldruiwe verbou kon word nie, en danksy die gunstige klimaat is Worcester steeds een van die belangrikste wynboustreke in Suid-Afrika.