Volg ons op Facebook

Robertson - Vallei van volop

Written by  Marlene Bramley
| in Dorp
| March 14, 2014

Ons ry stadig om brandewynsdraai vir Robertson binne waar mense en wynvate van donkiekarre-se-dae al daar onder die bloekombome vergader het.

    Die legende van Oom Japie ‘ten-bob’ leef steeds voort; hy sou vandag druk bedrywig gewees het om kaartjies uit te skryf onder daai selfde bloekombome.
Die dorp is ’n warboel van aktiwiteite. Trokke, trekkers, karre - vol groen en selfs rooi druiwe. Hulle staan in ’n ry en wag voor die kelders om die pas geplukte oes af te laai, terug te ry, en nog ʼn vrag te bring. ’n Soet reuk hang in die hele dorp, en daar is ʼn effe taaiheid op my vel. Of dit van die amper 40 grade hitte buite is, en of die druiwesap ook nou in my bloed ingetrek het (al is ek ’n “inkommer”), weet ek nie. Maar hier word daar hierdie tyd van die jaar gepars!
    Sommige mense beskou pars as die hele proses, van druiwe pluk tot alles wat in die kelder gebeur, om uiteindelik die wonder van wyn te produseer. Ander sien pars weer as die proses waar die sap uit die druiwe gepers word. Maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, dis díé tyd van die jaar wanneer almal ’n huppel in hul stap kry. Wanneer ’n hele jaar se harde werk gevier word met wyn van die vorige jaar, en vrugte wat nou net uit die boord uitkom.
    Mense swoeg in die warm son om die druiwe te pluk wanneer hulle net reg is. Fenolies-ryp noem hulle dit. Die pitjies van die druif moet bruin wees, en as jy die kwassie uittrek, dis nou daai klein stingeltjie in die korrel, moet hy ook bruin wees. Dan is die oes reg om van die wingerd af te kom.
    As die kwassie en die pit nog groen is, is die suikerinhoud van die druif nog nie reg nie.
    Een of twee dae kan ’n groot verskil maak. Druiwe, soos mense, moet ook ryp word. Wanneer die korrel soos ’n man van 80 jaar slote in sy gesig het, dan pars jy vir hom om Muskadel te maak. So ʼn soetetjie vir die winter.
    Die aar van die vallei is die Breederivier. Alles sentreer rondom hom. “As dit nie vir die water was nie, was dit Karoo,” sê Philip Jordaan, bekende wynmaker.  As mens in die berg by Dassieshoek opry, en oor die beeldskone landskap uitkyk, sien jy wat hy bedoel. Die rivier kronkel groen-groen deur die vallei. Orals waar hy draai, sien jy bome, boorde, en wingerde groei. Om elke hoek en draai trek hy jou dieper in, soos die see toemaak oor ’n duiker.
 Net soos die dorp ryk is aan plante, so is dit ook ryk aan mense en hul stories.
    Daar word oor ’n glasie wyn vertel van ’n luiperd wat onlangs in ’n hok gevang is op die plaas Keerfontein. Die hok is opgesit om rooikatte te vang, met ’n hoenderhaan in ’n kleiner hokkie om die rooikat te lok. Toe die luiperd die spreekwoordelike aas vat en in die hok beland, kom die hoenderhaan op een of ander manier los, en beland op die luiperd se rug. Die hok was te klein vir die luiperd om om te draai. So sit hulle toe die hele nag, die hoenderhaan op die luiperd se rug, en wag vir die oggendson om sy kop uit te steek. Hulle sê dis nou drie weke al; as hulle daai haan op sy voete sit val hy net om. Steeds van die skok. En elke oggend kraai daai luiperd almal wakker.
Johan Stemmet, wie se familie al vir generasies op Robertson bly, vertel van die ou dae voor die groot kelders en koöperasies daar was. “Elkeen het ’n klein parsie op sy plaas gehad, gedryf deur ’n moslorrie se enjintjie, of ’n handpomp as die enjin nie wou start nie. Als is deur daai enjin gedryf, die elektrisiteit in die huis, die parsie. Alles.  
    Toe kom ontwikkeling met Robertson-wyne, KWV, Nestlé en Klipdrif se brandewynstokery; terloops die grootste ter wêreld. Die hele dorp het voordeel getrek uit die ambagsmanne wat by KWV kom werk het, want hulle het hul mense gestuur om te help met stukkende perse as hulle nie besig was nie. Alles het ontwikkel en gegroei tot ʼn groot bedryf.”
    Robertson is ook geleë op Roete 62, die langste wynroete in die wêreld, wat verseker dat daar elke jaar talle toeriste kom besoek aflê. Gaste kom geniet die gasvryheid van die Robertson-wynvallei, asook die wonderlike kos en feeste wat elke jaar aangebied word.
    Daar is die Wacky Wine Weekend in Junie, Slow-fees in Augustus, Wine on the river, die Jakaranda-fees, selfs ʼn bierfees, en dan die Hands on Harvest-fees wat tans aan die gang is.
    Die area spog met bekende wynname soos Graham Beck, van Loveren, Weltevrede, Rietvallei, Bon Courage, Roodezandt en Springfield om net ʼn paar te noem.
En dan was daar brandewyn en Klipdrift se klippe. Ek weet nou nie of hulle na die ys verwys of die klippe wat in die stroom langs Klipdrift lê nie, maar een ding is seker, die stories het nie brieke nie.     Wyn was nie altyd die grootste bedryf in die dorp nie. Vroeërjare het talle boere met volstruis geboer tydens die “volstruis-rush” maar na die Eerste Wêreldoorlog het die bedryf tot stilstand gekom weens die ekonomiese krisis wat daarop gevolg het.
    Oom Piet en oom Gert het eendag so na ’n groot bloekomboom gestaan en kyk terwyl die voëls so sit en mis op die kar. Dit was in die dae voor kettingsae, en dit was te hoog vir ’n handsaag. Oom Piet sê toe: “Jy weet Gert, as ek nou ’n spuitvliegtuig kry en birdline oor die boom spuit, dan sit die voëls se voete aan die takke vas. Ek sal môre my haelgeweer bring dan skiet ons net so oor die boom. As die voëls skrik en opstyg vat hulle sommer die boom saam met hulle.”
Die mense op die dorp rrrrol hulle r’re so lekker en onthou sommer nog nommers uit hulle koppe uit. As jy op soek is na Doef Doef (hy is blykbaar nie ʼn klein outjie nie) sal hulle sommer so vir jou sê; dis sus of so. Hier help mense nog mekaar. Boere op buurplase deel implemente, vervoerkontrakteurs, en duur toerusting onder mekaar om sodoende hul kostes laag te hou. Buurmanne ken mekaar nog, op die voornaam. En ja hul nommers ook so uit die kop uit.
    Ek praat met Jeff Lakey, ’n oud-onderwyser en digter uit die Bo-dorp. Hy skryf en dig oor die mense en die lewe hier en het al vele boeke gepubliseer. Die gedig spreek vanself.
Stadsmense wonder oor die bekoring van die platteland. As ek so deur die strate van Robertson stap en na die pragtige Victoriaanse huise met hul roostuine kyk, en die kinders sien wat nog met hul fietse teen sonsondergang in die pad speel dan weet ek hoekom mense verkies om hier te bly. Want hier is die lewe nog ryk en volop.