Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Biodiversiteit - Meer as net 'n wagwoord

Written by  Maryke Roberts
| in Dorp
| October 12, 2015

Sou jy die woord biodiversiteit onder ’n mikroskoop plaas, sou jy sien dit strek veel wyer as net die bewaring van ons omgewing. Dit verg ’n gebalanseerde samehorigheid tussen alle plant-, diere-, insek- en mikro-
organisme spesies op aarde. Dit verg gesonde ekosisteme wat staatmaak op water, lug en grond.

Suid-Afrika se bewaringsgebiede en olyf- en wingerdboubedrywe, is maar van die enkeles wat deelneem aan verskeie biodiverse-praktyke en bestuurstelsels. Kyk jy verder, sien jy dis die basis waarop die World Wide Fund for Nature (WWF) geskoei is. Dit smeek om balans en bewaring. Dis ook hoekom WWF hande geneem het in ’n pioniersvennootskap met die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

“Dit verg gesonde ekosisteme wat staatmaak op water, lug en grond. “

Nagenoeg 95% van Suid-Afrika se win-gerde is in die Kaapse Blommeryk (KBK) geleë - die kleinste en rykste blommeryk op aarde. Dit word internasionaal as biodiverse brandpunt en ook ’n Wêrelderfenisgebied erken, maar is voortdurend onder druk van die landbou- en ontwikkelingsektore en ook indringerplantspesies.

In 2004 was daar net 4% van die KBK se unieke renosterveld onaangeraak en die meeste van die laelande-fynbos-ekostelsels was in gevaar. Die wynbedryf het ’n bewaringsvennootskap met die Botanical Society of South Africa, Conservation International en The Green Trust gesluit en saam die Biodiversiteit en Wyn Inisiatief (BWI) van stapel gestuur. Dit geniet internasionale aansien en is veel meer as net die bewaring van natuurlike habitat. Dit moedig wynprodusente aan om volhoubaar te boer en om die voordele van die Kaap se oorvloedige diversiteit in hul wynstyle tot uiting te bring.

Meer as 141 duisend hektaar natuurlike grond is die afgelope 10 jaar deur hierdie projek bewaar en 221 individuele plase is lede.

Dit beteken die wynbedryf se bewaringsvoetspoor is meer as hul wingerdvoetspoor van 101 568 hektaar. “Vir elke hektaar onder wingerd, word ’n addisionele hektaar natuurlike grond aan bewaring gewy en daardie syfer groei steeds,” sê Shelly Fuller, programbestuurder Vrugte- en Wyn Inisiatiewe by BWI.

oktober 2015 biodiversity 1

Photo: Courtesy of Vergelegen Wine Estate

Te danke aan hierdie projek, is Suid-Afrikaanse wynboere die leiers in produksie-integriteit, omgewingsvolhoubaarheid en bewaring. Die BWI geniet internasionale lof vir dié vernuftige sakeplan wat bewaring en landbou-ontwikkeling in een wedersyds-voordelige plan saamvat.

“Dit beteken die wynbedryf se bewaringsvoetspoor is meer as hul wingerdvoetspoor van 101 568 hektaar.”

’n Ander groot rolspeler in die implementering van bewaring van ons biodiversiteit is CapeNature. Volgens ’n inligtingstuk aan grondeienaars oor die onderwerp, word genoem: “Biodiversiteit is die somtotaal van alles op aarde wat leef, van gene tot spesies, tot volledige ekosisteme. Om biodiversiteit te bewaar moet ons na al die onderafdelings daarvan omsien. Dit sluit in funksionerende natuurlike habitatte, die spesies wat in sulke habitatte voorkom, en die ekologiese wisselwerking tussen spesies en hul omgewings.

“Die Kaapse Blommeryk is een van die wêreld se belangrikste biodiversiteitsgevaarpunte weens die buitengewone natuurlike diversiteit aan die een kant, en die gevaarlike hoë vlakke van habitatvernietiging aan die ander. Dis dringend noodsaaklik dat menslike optrede in ons gefragmenteerde, moderne landskap bestuur word. Veral in die hoogsbedreigde laeland renosterveld- en fynbosha-
bitatte, waarvan daar slegs brokke nog in hul natuurlike staat oor is.”

Graham Beck Wyne is geen vreemdeling vir die kalklig nie en is al verskeie maal bekroon vir hul biodiverse-praktyke. Die landgoed se Hoof Uitvoerende Beampte Chris du Toit, sê: “As pioniers wat in harmonie met die natuur boer, is ons voortdurend toegewy om druiwe te groei en wyn te produseer op ’n omgewingsvolhoubare manier. Dit sluit ook die bewaring van ons kosbare inheemse fauna en flora in, en ons omvangryke praktyke om dit te behaal spreek vanself.

“Ons Robertson-landgoed is in die Kaapse Fynbosblommeryk geleë en dit is ’n fassinerende, maar brose, ekostelsel en dis ons plig én plesier om daarna om te sien. Ons The Game Reserve-wynreeks is een van die enigste wyne in die wêreld wat só tasbaar met ’n privaat natuurreservaat verbind kan word. Vir elke bottel wat ons verkoop, word ’n gedeelte van die fondse herbelê in verskeie noodsaaklike bewaringsprojekte regoor die land.”

Hy vertel dat hierdie projek in oorleg met die internasionaal-gerekende Wilderness Foundation bedryf word. Chris sê: “Ons ekostelsel is die somtotaal van al die dele en om dit te bewaar, verseker nie net ’n gehalte produk nie, maar ook die bewaring van ons planeet vir ons nageslagte.”

Die Wilderness Foundation is die breinkind van die internasionale bewaarder, Dr. Ian  Player en die oorlede Magqubu Ntombela (’n Zoeloe-stamhoof en gerekende bewaarder), en het in 1959 in die Mfolosi Wildreservaat ontstaan. Dr. Player het dit in 1972 amptelik as ’n organisasie sonder winsbejag geregistreer en hul hoofkantoor is in Port Elizabeth.

“Vir elke bottel wat ons verkoop, word ’n gedeelte van die fondse herbelê in verskeie noodsaaklike bewaringsprojekte regoor die land.”

Dit was die eerste organisasie in Afrika wat hom toegespits het om ’n ware wildernis-ervaring aan mense van alle kulture, rassegroepe en agtergrond te bied. Die stigting se waardes is onder meer: respek vir alle lewende wesens; ’n passie vir bewaring en opvoeding; integriteit en deursigtigheid; volhoubaarheid en innovasie.

“Die sinergie tussen hul leuse en ons projekte se waardes, het ’n wonderlike vennootskap verseker,” benadruk Chris.

CapeNature het ook ’n spesiale Biodiversiteit Voogdyskap-program  vir privaat- en publieke grond, waarin gemeenskappe, besighede en individue kan deelneem aan bewaringsprojekte en nie net ekostelsels bewaar nie, maar ook geleenthede vir ander skep om deel te neem.

oktober 2015 biodiversity 2

Die program sluit reeds 120 500 ha grond in waar die unieke biodiversiteit en ekostelsels bewaar word, terwyl geleenthede vir plaaslike gemeenskappe geskep word, vertel Garth Mortimer, Voogdyskap koördineerder van CapeNature se kantoor op Worcester.
Met hul onlangse toekenningsgeleentheid op Robertson, is verskeie mense en plase vir hul bydraes tot die projek gehuldig, waaronder Rudolph Röscher van die Departement Landbou Wes-Kaap. Hy is as die waardevolste vennoot vir die streek vereer.

“Raak deel van die gesprekke, raak betrokke by ’n netwerk, lees meer en woon informasiedae by...”

Hy is die afgelope tien jaar voorsitter van die Upper Breede River Collaborative Extension Group (UBCEG) wat 14 organisasies met verteenwoordiging deur landbou, water, beplanning, bewaring, die privaatsektor en plaaslike regering, insluit. Die groep is onder meer verantwoordelik vir die Kluitjieskraal Inheemse Boomkwekery wat jaarliks meer as 80 000 bome vir rehabilitasie projekte kweek; die rivier-bestuursprojek waar 130 boere oor ’n afstand van 380km gehelp word om rivier-
vloede beter te hanteer; en die beheer van indringerspesies in die Breederiviervallei wat duisende werksgeleenthede vir plaaslike gemeenskappe skep. Die groep bestuur ook ’n opvoedkundige program wat elke kwartaal 2500 kinders bereik.

oktober 2015 biodiversity 3

Rudolph sê grondeienaars kan deur basiese stappe, deel word van die bewaringsprojek. “Ons ervaring, veral langs riviere en vleigebiede waar ons fokus die afgelope paar jaar was as gevolg van die belangrikheid van water, was dat indien ’n grondeienaar net sy hand op sy indringerbeheer kan hou, die natuurlike veld en biodiversiteit merkwaardig vinnig self herstel na selfs drie of vier jaar.

“My raad aan grondeienaars is: ‘Raak deel van die gesprekke, raak betrokke by ’n netwerk, lees meer en woon informasiedae by wat deur LandCare of CapeNature, of enige van ons ander vennote gereël word. Dít wat jou plaas uniek maak - die produk wat jy lewer - is die water, grond en klimaat in jou area; dit is dus krities om dit te bewaar en volhoubaar te benut.’”

Volledige riglyne vir elke landbou- en natuurbewaringsbedryf is in 2010 uiteengesit in ’n dokument van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteit Instituut (SANBI). Die organisasie is in 2004 gestig met ’n verantwoordelikheid teenoor alle aspekte van die land se spesies en ekostelsels. SANBI het ten doel om Suid-Afrika se ryk biodiversiteit te ontgin, bewaar, volhoubaar aan te wend, en om aan alle Suid-Afrikaners die waardering en genot daarvan te gee.

oktober 2015 biodiversity 4

Photo: Leopard and Honey Badger photos supplied courtesy of Vergelegen Wine Estate

Hoe implementeer en bestuur jy biodiversiteit op jou grond?

- Bewaar groot en aaneenlopende stukke bedreigde habitat.
- Bewaar die volle reeks habitat-soorte, met die fokus op gebiede naby, of goed gekoppel aan ander natuurlike areas.
- Wees bedag op spesiale habitat wat uitermate belangrik is vir bewaring, soos kwartskolle en vleilande.
- Oorweeg dit om versteurde gebiede, wat as korridors tussen natuurlike habitatte kan dien, te herstel of om natuurlike herstel daarvan toe te laat.
- As ’n eiendom deel vorm van ’n groter na tuurlike gebied, behoort ’n mens bedag te bly op prosesse wat op die landskapsvlak beskerm moet word.
- Verminder rand-effekte deur versigtige bestuur van grond. Skep buffersones langs natuurlike areas, waar die grond skoongehou word van pesdoders of indringer-onkruide.
- Vermy die afloop van kunsmis in natuurlike habitatte in.
- Raak ontslae van uitheemse plante (soos swartwattel en Port Jackson) in natuur like gebiede, veral wateropvangsgebiede en riviere, deur by die bron van die indringing te begin.
- Handhaaf optimale brand-maatreëls.


Kontak

Vir meer inligting oor Graham Beck Wyne en die Wilderness Foundation, besoek:
www.grahambeckwines.com
www.thegamereserve.co.za
www.wildernessfoundation.co.za

oor die Biodiversiteit in Wyn Inisiatief, www.bwi.co.za, oor die CapeNature Rentmeesterskap-program,  
www.capenature.co.za/care-for-nature/stewardship/ en vir volledige riglyne oor biodiversiteit in die praktyk, besoek www.sanbi.org.za wat ’n spesiale biodiversiteit raadgewingsafdeling het.