Volg ons op Facebook

Outeniqua, divers en dinamies

Written by  Marlene Bramley
| in Dorp
| December 14, 2015

Tussen die Tuinroete en Klein Karoo lê daar ‘n berg. Die Outeniqua, wat in Khoisan beteken, “hulle wat heuning gee”.
Vandag nog maak boere aan beide kante van die berg staat op bye om hul diverse gewasse te bestuif.

Die heuning mag ook verwys na oeste uit die vrugbare grond, of water wat van die bergtoppe afstroom om mens en dier te voed.
Die Klein Karoo is geskik vir groentesaad, volstruis, skaap en bees, terwyl die Tuinroete-deel naby George tuiste is vir heeltemal ander tipe gewasse, van bloubessies tot aartappels. Die grootste melkboere in die Suid-Kaap is ook hier gesetel.

Red Barn Farm

Dis egter by ‘n vrywei-hoenderplaas net buite George waar ons eerste aandoen.

‘n Klein Jack Russel groet ons glimlag- gend, stertswaaiend toe ons die middag by die Red Barn Farm aankom. Ek skat die hondjie is al oud, sy het ooglopend deur die jare haar eienaars se openhartigheid aangeleer. Ons word verwelkom deur Lindy Jo Gordon-Brown, eienares van die plaas. Elegant, wel ter tale, en dinamies. Sy val sommer met die deur in die huis en begin vertel hoe sy die vrywei-hoenderplaas begin het. 

decjan2016 dorp outeniqua 1

“Nadat ek geskei is, het ek met die plaas gesit. Dis nie ‘n groot plaas nie en ek het kopgekrap oor wat ek hier kan doen om ‘n lewe te maak. ‘n Vrywei-hoenderboerdery was perfek vir die grond wat ek het. Nadat ek onder Herman Beck-Chenoweth gestudeer het, het ek Red Barn Farm vier jaar terug begin.”

“Ek skat die hondjie is al oud, sy het ooglopend deur die jare haar eienaars se openhartigheid aangeleer.”

Herman Beck-Chenoweth is ‘n mormoon wat volgens generasie-oue tegnieke, verskillende vrywei-boerderymetodes gebruik en ook vir ander mense leer. Volgens sy blog (http://free-rangepoultry.com/?page_id=13) beteken vrywei die volgende:  Dit is ‘n sisteem waarvolgens diere glad nie beperk word met beweegruimte nie. Daar word ‘n perimeter draad gespan om predatore uit te hou. Snags, wanneer predatore op hul besigste is,  word daar voorsiening gemaak vir die voëls in beskermde eenhede, of huisies, waar hulle veilig kan slaap. Die diere word deur die dag gelos om te skrop en sit na hartelus, maar daar is beskerming teen die son en reën. Die feit dat die diere vryelik kan rondbeweeg, dra by tot die ontwikkeling van spiere. En dis wat ons tog eet. Die spiere. Vrywei-vleis het baie ferm maar gladde spiere. Gelyke vleis sal jy nie kry nie .

Die kraaie gaap juis tydens ons besoek aan Red Barn en ons kry die hoenders almal onder ‘n koelteboom in die kamp. Lindy vertel dat sy die vorige aand glad nie geslaap het nie, want daar is een of ander ratel, rooi-kat, of karakoel, wat die hoenders gepla het: “So ‘n dier kan 20 van jou henne verwoes in een aand. Dis groot skade.”

decjan2016 dorp outeniqua 2

Gepraat van katte. Daar word baie geskryf oor roofdierbeheer en hoe boere dit met verantwoordelike omgewingsbeheer moet toepas. Om te boer is ‘n konstante dans met die natuur. Die boer wil die natuur tem, en die natuur wil haar wilde dans dans. Volgens Lindie gebruik hulle kat-vriendelike hokke, m.a.w. die kat sal nie doodgemaak word tydens die vangproses nie. Wat om daarna met die kat te doen, is ‘n ander storie. Sy vat hulle gewoonlik na die naaste reservaat en laat hulle vry. Donkies is ‘n ander metode wat baie goed werk. By Red    Barn Farm het hulle twee donkies, wat in die kamp net onder die hoenders staan. Hulle is baie beskermend teenoor die hoenders maar soms kan ‘n kat ‘n donkie uitoorlê, dan het jy probleme. Sy het selfs sterk nagligte uit Amerika uit laat kom - wat haar bure laat dink het sy hou vroeë Kersfees - maar vir kat se kind het dit glad nie gepla nie. “Suid-Afrikaanse katte skrik vir niks,” skerts sy.

Dit is maar ‘n proses van eliminasie, letterlik, totdat mens die regte metode vind wat vir die spesifieke roofdier werk. Die laaste opsie is voor die hand liggend.

Die Red Barn Farm boer met beide braaikuikens en lê-hoenders. Die lê-hoen-derras wat goed by die omstandighede pas en uitstekende eetvleis verskaf, is die inheemse Boschveld ras wat deur Mike Bosch in Limpopo geteel is. “Dis ‘n kombinasie van Ovambo-, Venda- en Matabele-rasse, geskik vir die Suid-Afrikaanse omgewing,” sê Lindy. “Hulle is baie slim skrophoenders, nie ideaal as lê-hoenders nie, maar steeds goed aangepas by ons omstandighede. Die hoenders lê elke drie dae ‘n eier, minder as ander rasse, maar hulle hou aan lê vir omtrent drie jaar. Sommige van my henne is al vyf jaar oud en lê nog steeds. Ander rasse produseer nie langer as ‘n jaar nie. Ons boer ook met bevrugte eiers as ‘n bron van ekstra inkomste.”

decjan2016 dorp outeniqua 3

Die henne gaan van tyd tot tyd deur ‘n fase waar hulle nie eiers wil lê nie. Daar kan verskeie redes daarvoor wees. Of die hen is te oud, of sy het dalk geskrik. Gedurende wintermaande verloor die henne hul vere en lê 50% minder eiers. Die eerste eiers wat gelê word daarna, is gewoonlik baie groot. Lentetyd word sommige henne broeis en wil nie van die nes afklim nie. Hulle agterente word dan gedip in koue water, wat hulle weer aan die lê kry.

“Om te boer is ‘n konstante dans met die natuur. Die boer wil die natuur tem, en die natuur wil haar wilde dans dans.”

Die braaikuikens word heeltemal vrywei geteel. Hulle voete raak nooit aan sement nie. Daar word ‘n spesiale voer vir die hoen-ders saamgestel deur Epol en natuurlike kruie word gebruik in plaas van antibiotika. Volgens Lindy is veral marjolein en aalwyne geskik vir dié doel.

Die manier hoe die hoenders geslag word, maak ‘n massiewe verskil aan die smaak van die eindproduk. “Hierdie hoen-ders verskaf ons van ‘n lewe, ons is dit aan hulle verskuldig om hulle so stresvry as moontlik dood te maak. Ek glo dat enige dier wat in ‘n trok vir ure na die slagpale toe aangery word, dit weet. Die hormone wat vrygestel word gedurende die doodsreis het definitief ‘n effek op die smaak. Ons hoenders word naby geslag, so dit het geen effek op hulle nie. Die wat ons wel hier slag, skok ons, wat hulle bewusteloos maak sodat hulle salig onbewus is van die res. Daarna word hulle gebloei en dan verwerk,” verduidelik Lindy.

“Mense vorm wat hulle noem hoenderklubs. Hulle praat onder mekaar en sit ‘n bestelling in wat gedeel word.”

Ek kan persoonlik getuig dat al dié metodes die smaak van die hoender verbeter, nadat ons een vir Sondagmiddagete in die oond gerooster het. Dit was hemels.

Lindy het ook ‘n heeltemal ander benadering wanneer dit by bemarking en verkope kom. Geen van hulle produkte word aan kettingwinkels verskaf nie. Sy maak van die Internet gebruik om aan die publiek, sjefs en uitgesoekte slaghuise te verskaf: “Mense vorm wat hulle noem hoenderklubs. Hulle praat onder mekaar en sit ‘n bestelling in wat gedeel word. Ons vries die vars vleis en dit word die volgende dag by hul deur afgelaai. Ons verskaf regoor die Wes- en Oos-Kaap.” Letterlik van die plaas tot op jou bord. Hulle produseer meer as 40 verskillende produkte en gebruik elke deel van die dier. Hondekos word gemaak uit die bene, lewers en harte van die hoenders, en die vet word afgekook om ‘n wonderlike ‘schmaltz’ te lewer. Selfs die hoendermis word as Kuku Poo Poo aan tuiniers gelewer as bemesting.

Lindy vertel van ander produkte wat saam met die hoender beskikbaar is vir kliënte: “Daar is ‘n paar ander ‘artisan’-boere wat aan ons verskaf. Een buurman voorsien beesvleis en ‘n ander vark. Ons maak wors en maalvleis wat ons dan saam met die hoender verkoop. Al ons produkte kom van kleiner, gespesialiseerde plase af.”

Wat die plaas verder interessant maak, is dat hulle meestal van vrouens gebruik maak vir die werk. Volgens Lindy het vroue meer natuurlike aanvoeling vir diere, en kan hulle vinniger ‘n fout optel by die voëls.

Voëls van ander vere

decjan2016 dorp outeniqua 4

Gepraat van die welstand van voëls. Saterdagoggend vat ons die pad De Rust toe waar die Delports op Middelplaas met onder meer volstruise boer. Dis ‘n triestige dag en welkome verandering van die hitte van gister. Ek sien uit daarna om te sien hoe die groei van volstruise met vrywei-hoenders vergelyk.

Die Klein Karoo was destyds ‘n gemengde boerdery area. Hier het jy enige ding gekry, bees, skaap, wingerd, tot selfs le-moene het hier gegroei. Omdat die volstruis so baie geld gemaak het, het almal na dit toe oorgeskakel. Deesdae boer almal nou maar weer divers om die groot verliese wat tydens die voëlgriep-uitbraak ondervind is, te voorkom.

“Ons groei saad, verskillende variasies uie, beet, wortels en dan boer ons ook met skape en volstruis.”

Op pad na die Delport-broers, ry ons by ‘n paar lande verby waar gewasse staan met groot bolle bo-aan die plant. Ek het nog nooit so iets gesien nie, en val toe sommer met die deur in die huis en vra watse uitheemse variteit van ‘n plant dit is. “Nee,” glimlag Barnard die jongste seun, “ons groei saad, verskillende variasies uie, beet, wortels en dan boer ons ook met skape en volstruis.” Diversiteit beskryf nie wat dié mense doen nie.

“In 2008 is byna al ons volstruise uitgeslag as gevolg van voëlgriep. Ons het daarna besluit om dinge anders te benader en ons risiko te versprei. Nie net deur verskillende maatreëls te tref met die voëls nie, maar ook deur met ander gewasse en diere te boer.”

decjan2016 dorp outeniqua 5Barnard verduidelik verder hoe hulle hul risiko versprei in die volstruisboerdery: “Ons broei ons eie volstruiseiers op die plaas uit en stuur hulle dan vir kuikengrootmakers regoor die land.

“Van daai voëls kom dan terug hiernatoe, en ander gaan na verskillende plase waar hulle tot op 90kg gebring word vir slag. As al die voëls terugkom hiernatoe en iets gebeur, lei ons dan weer groot verliese. Dis hoekom ons dit liewer só doen.

“My broei-voëls loop weer op Prins Albert waar dit ontsettend droog is. Ek betaal die boer per maand om die voëls daar te hou en ek betaal hom per eier wat hy aan my lewer.”

Die moeilikste stadium van ‘n volstruis grootmaak, is van broei tot op so drie maande. Barnard vertel hoe die eiers in ‘n broeikas gehou word vir so vyf weke teen 36 grade. Vir die laaste week word die eiers regop gehou totdat die kuikens pik. Die kuikens gaan daarna na die droogkas toe, en laastens na die kuikenkamer voordat hulle weggestuur word vir grootmaak.

Daar is groot debat oor wat voëlgriep veroorsaak. Sommige meen dis afkomstig van watervoëls, so nat omstandighede is nie geskik vir dié tipe boerdery nie. Vandag is amper ekstreme biosekuriteitspraktyke ingestel wat chloorpille in die water, en ontsmetting van enigiemand voordat hulle in ‘n kamp ingaan, insluit. Daar word deesdae getoets vir die teenwoordigheid van die aktiewe virus, indien dit positief is moet die voëls vir ‘n paar maande staan totdat hulle bloedtoetse skoon is, so boere kan nie slag in daardie tyd nie.

Om die risiko te verminder het Klein Karoo Internasionaal, die koöperasie in Oudtshoorn, maatreëls begin instel. Hulle het ‘n hittebehandelingsproses daar gestel; jy mag vleis uitvoer as die kern van die vleis by 70 grade Celsius gehou word vir drie sekondes. Selfs al is die land gesluit vir uitvoere, kan mens die vleis só behandel en versend. Verbruikers kan dus heeltemal gerus wees dat daar geen kans van besmette vleis in die mark meer bestaan nie. Jy kan met ‘n geruste hart volstruis koop en eet.

“...jy mag vleis uitvoer as die kern van die vleis by 70 grade Celsius gehou word vir drie sekondes.”

Johannes, die oudste Delport-broer, praat verder oor die griep en verduidelik dat, omdat dit van voëls afkomstig is, dit enige boerdery met voëls sal beïnvloed, selfs hoenders, kalkoene, ganse en eende: “Dit is ook hoekom mens nie met volstruise, en sê hoenders op dieselfde plaas kan boer nie. Ook nie met varke nie. Die risiko is deesdae baie minder, omdat boere ook nie meer die voëls soveel rondskuif dat siektes kan versprei nie.”

Wat hulle saai sal jy maai

Die Delport Broers, wat ‘n paar pryse losgeslaan het vir hulle groentesaad tydens die onlangse Klein Karoo Produksiekwekers toekennings, praat beskeie tog passievol oor dié deel van hulle boerdery.

decjan2016 dorp outeniqua 6“Ons het rug aan rug kontrakte met buitelandse saadmaatskappye, so ons vermeerder net saad deur Klein Karoo Saadprodukte vir hulle. Die saad word orals oor die wêreld versprei. Alle saad groei per se nie orals nie. Jy kry lang-, kort- en intermediêre-dag-uie en die sade word bemark in dieselfde band waar dit sal groei. Wat die Klein Karoo ideaal maak vir saadproduksie is dat boere hier intensief moet boer. Elke hektaar moet gebruik word en water word goed bestuur omdat dit skaars is. Saad aard nie regtig in nat toestande nie, want dit tel maklik siektes op. So die Klein Karoo is eintlik wêreldwyd bekend vir sy saad omdat dit gewoonlik so droog is hier. Klein Karoo Saad Produksie het ook groot proefpersele waar hulle variante toets. In die verlede het ons hier en daar gesukkel voordat die proefplaas bestaan het. Vandag kry jy nie sommer iets wat nie werk nie, want dis klaar getoets.”

Groentesaadboerdery is uniek in die sin dat die boer, voordat hy ‘n implement in die grond sit, reeds ‘n kontrak en prys vir sy oes het. Dit verminder die risiko van boer noemenswaardig.

“Uie blom net vir vier weke, en as jy nou een week in daai vier het waar die weer sleg is, werk die bye nie.”

“Saad het ook baie met die weer te doen, en mens is baie afhanklik van goeie weer veral in bestuiwingstyd. Uie blom net vir vier weke, en as jy nou een week in daai vier het waar die weer sleg is, werk die bye nie. Dis hoekom ons diversifiseer en ander sade soos lente-uie en New Bunchings plant. Hulle blom oor ‘n lang tyd, so een dag of ‘n paar dae se slegte weer beïnvloed dit nie so erg nie. Ons plant ook gewasse wat op verskillende tye blom, sodat ons die hele tyd aan die gang bly en ook ons risiko versprei. Dit help ook om ons mense die hele jaar deur van werk te verskaf.”

Die Delports boer met groentesade wat lente-uie, New Bunchings, rooi uie, sprietuie, wortels en beetsade insluit. Die uitdaging met hierdie tipe boerdery is om die sade in afsondering te groei sodat hulle nie deurmekaar raak nie. Wanneer mens na die verskillende ui-variante se saad kyk, lyk dit presies dieselfde. Dit noop boere om baie sistematies te werk te gaan met die plant, oes en hantering van die saad. Daar word van aparte lande, store en verskillende kleur sakke gebruik gemaak om die uie van mekaar te onderskei. 

Barnard noem dat wanneer hy ‘n sekere tipe saad wil plant op ‘n land wat grens aan een van ‘n buurman, hul beide moet ooreenkom om dieselfde saad in te sit.

Johannes benadruk die belangrikheid van bye vir groentesaadboere: “So drie jaar terug het ons baie skade gehad met bye wat nie gewerk het nie. Niks anders bestuif uiesaad behalwe bye nie. Ons het allerhande snaakse goed probeer doen om te bestuif, met vere byvoorbeeld, maar niks het gehelp nie.”

Op my vraag of dit iets te doen het met die bye self of onkruiddoders, antwoord Johannes: “Ons het daai jaar baie reën op die verkeerde tyd gekry. Die veld was pragtig en daar het goed geblom wat nooit gewoonlik blom nie. Ek dink dit was deel van die moeilikheid. ‘n Ander teorie is dat die vog so tussen 30% en 40% was, en eweskielik afgekom het na so 6% toe. So daar het iets fisiologies met die plant gebeur wat die bye nie aangestaan het nie. Vanjaar was die veld weer mooi na die lekker reëns maar die bye het steeds gewerk aan die uie. As mens ‘n goeie winter het, is die swerms ook dan lekker sterk en jy kan wegspring sommer van die begin van die Lente af.”decjan2016 dorp outeniqua 7

Bestuiwing gebeur oor so ‘n maand maar lente-uie loop van September af tot in Januarie.

“Daar word ‘n paar korwe op die plaas gelos deur die jaar. Wanneer dit die regte tyd is, bring ons nog korwe in en sit dit by die wat reeds daar is. Die bye wat hier bly, weet waar om kos te gaan haal en help die nuwes die lande vind. Bye sal altyd na die naaste bron van kos toe gaan, al is die veld mooi. Op die manier verseker ons dat die bye in die regte lande en op die regte uie werk,” vertel Johannes.

Op die vraag of Eskom en beurtkrag ‘n groot invloed op hul boerdery het,  ant-woord Johannes: “Elektrisiteit is vir ons baie belangrik veral met die broeikaste vir die volstruiseiers, met die droog van die saad, en in die lande met besproeiing. Dis ‘n gelol veral in die broeiery. Die moeilikheid is as ‘n broeikas stilstaan, bou daar ‘n gas op wat tot groot verliese ly. Ons moes kragopwekkers insit. In die langtermyn kyk ons na alternatiewe bronne van krag omdat meer betroubare en goedkoper krag ons insetkostes drasties sal verminder. Natuurlik ons verliese ook.”

Barnard sê dat hulle ook nie weer net uie sal plant of net met volstruise sal boer nie: “So leer mens maar deur ‘n swak oesjaar, of die uitslag van voëls.”

Die besigheid van boer

65 Jaar gelede, aan die voet van die Outeniqua-berge begin die Van Greunens met ‘n klein bestaansboerdery. Koeie word elke dag gemelk en soos wat die jare kom en gaan, word daar uitgebrei tot waar dit vandag die grootste melkboerdery in die Suid-Kaap is.

decjan2016 dorp outeniqua 8

Nelius van Greunen en sy drie broers bestuur vandag die besigheid. Met die intrapslag kan mens sommer sien hier word ernstig geboer, en nie net met melkkoeie nie. Dié boerdery het ook baanbrekerswerk gedoen met die aanplant van bloubessies in 1992, en plant voorts aartappels en moere as wissel- en kontantgewasse.

“Met die intrapslag kan mens sommer sien hier word ernstig geboer, en nie net met melkkoeie nie.”

Ons word verwelkom in die raadsaal en Nelius val met die deur in die huis. Hy verduidelik hoekom hulle met die ongewone kombinasie van suiwel, aartappels, en bloubessies boer: “Ons is bietjie ongewone boere.

decjan2016 dorp outeniqua 9

Die drie produkte is baie verskillend van mekaar. Die suiwel- en weidingsgedeelte van die boerdery is die basis van die besigheid. Dit dek die grootse oppervlak. Aartappels is ‘n kontantgewas wat deel is van ‘n wisselboustelsel. Ons plant aartappels as weidingsrotasie op hoë-potensiaal grond. Beide die melk en aartappels is generiese produkte, waar dit gaan oor koste effektiwiteit en volume. Dit word ook alles plaaslik versprei.
“Die bloubessies is ‘n hele storie. Dis ‘n nismarkproduk wat in die noordelike half-rond bemark word as gesondheidsproduk. Dit moet vir ons buitelandse valuta verdien, net sowel want dis hoogs arbeidsintensief.

“Die keuse van produkte waarmee ons boer, is gemaak sodat daar balans in die besigheid is. Ons moet verskans wees teen markskommelinge, inflasie en wisselkoer-
se.”

Ons praat oor die gebruik van tegnologie in veral die melkboerdery. Nelius verduidelik: “Landbou is ‘n baie natuurlike ding, maar dis ook wetenskap. Ons glo geweldig in gesonde, volhoubare, natuurlike prosesse maar mens moet dit ook wetenskaplik verstaan. Tegnologie moet die ekosisteem as ‘n geheel volhoubaar ondersteun en nie in konflik daarmee staan nie. Dit is ons doel om mense met beperkte hulpbronne op ‘n veilige, gesonde, volhoubare manier te voed. Dit is ook ons werk om dit te doen sonder om die omgewing te na te kom.”

decjan2016 dorp outeniqua 10Daar word elke dag 4 500 koeie gemelk, Holstein Friese en Jerseys. Maal dit met twee en mens kan jou indink dat dit onmoontlik is om persoonlik tred te hou met die kondisie van al die diere. Dis waar tegnologie en die sisteem van kardinale belang is om ‘n moderne melkboerdery te bedryf.

“Landbou is deesdae geweldig op inligtingstegnologie gefokus. Al die data van ons koeie is deesdae elektronies,” sê Nelius. “Die koeie word gemonitor, elke melkkoei word byvoorbeeld twee keer ‘n dag outomaties geweeg. Haar melkvolume word gemeet, melkspoed, geleiding van die melk word bepaal, want dit beïnvloed die uiergesondheid van die koei.

“Daar word elke dag 4 500 koeie gemelk, Holstein Friese en Jerseys.”

“Die koeie se voetstappe word getel met ‘n elektroniese toestel wat aan die been vasgesit word. Wanneer die koei se aantal voetstappe drasties toeneem, is dit ‘n indikasie dat sy op hitte is en ons gebruik dit as indikator om kunsmatige inseminasie te doen. Wanneer ‘n koei se voetval drasties verminder, dui dit daarop dat sy siek is.

“Die rekenaar interpreteer al hierdie data onmiddellik en haal enige koeie met afwykings outomaties uit die sisteem uit wanneer daar gemelk word. Die bestuurder weet dan watter koeie aandag moet kry en wat moontlik die oorsaak vir die afwyking is. Hy kan dan die nodige stappe neem om na die koei om te sien.”

Die melk word onmiddellik na drie grade Celsius verkoel waarna Lancewood dit verwyder na hul fabriek toe. Die Van Greunens is een van hul sleutelverskaffers. Lancewood pasteuriseer en verwerk die melk in kaas, jogurt en generiese weiprodukte.

Die area rondom George is baie geskik vir melkboerdery. Koeie vind die klimaat baie gunstig en weiding groei ook maklik hier. Die voedselketting is die grond, water en klimaatstoestande wat kwaliteit gras, gesonde gelukkige koeie, en goeie melk gee. ‘n Bykomende faktor is die Outeniqua Proefplaas net buite George wat wêreldklas-navorsing doen in suiwel en weidingproduksie. Die werk wat hier gedoen word, word in die res van Suid- Afrika en selfs die wêreld toegepas. Nelius praat met groot lof oor die simbiotiese verhouding tussen die boerdery en navorsing: “Ons staan in noue verhouding met hulle omdat daar ‘n belangrike verband tussen kommersiële toepassings en navorsing is. Ons pas van hulle navorsing op ‘n groter skaal toe in ons boerdery. Die interaksie tussen ons dra geweldig by tot die sukses van die suiwelbedryf in die area en die feit dat die navorsing kommersieel toegepas word, dra weer by tot die dinamika daarvan. Daar word nie net navorsing gedoen oor melkproduksie nie maar ook oor optimale weiding.”

“Die werk wat hier gedoen word, word in die res van Suid- Afrika en selfs die wêreld toegepas”

decjan2016 dorp outeniqua 11

‘n Groot deel van die Van Greunen Boerdery word toegewy aan weiding en voer vir hul melkbeeste. 220 hektaar mielies word elke jaar aangeplant wat gemiddeld 65 ton per hektaar lewer. Gras en klawerweidings word ook gegroei omdat dit ideaal is vir melkproduksie; dit gee hoë voedingswaarde en stimuleer melkproduksie. Tydens ons gesprek benadruk Nelius gereeld die belangrikheid van effektiwiteit en produktiwiteit: “Dit is van uiterste belang vir melkproduksie dat die koeie hoë kwaliteit voer het om te vreet regdeur die jaar. In die lente en somer oes ons gras en mielies en pak dit in hope wat bedek word met plastiek en motorbuitebande. Dit moet heeltemal lugdig wees sodat daar nie enige snaakse goed inkom nie. In die winter gebruik ons dit dan as aanvulling en kuilvoer.”

Bloubessies van Afrika

Die Van Greunens het so 110 hektaar onder verskillende kultivars bloubessies. Sommige boorde word onder skadunet gesit vir beskerming teen wind, ander onder plastiek, en dan is sommiges ook oop.

“Bloubessies is ‘n interessante gewas. Ons het in 1992 begin en was van die eerste kommersiële produsente in die land. So daar is ‘n bietjie baanbrekerswerk gedoen. As mens met bloubessies boer dan leer jy gou hoe dom jy is. Jy leer hoe die plant die klimaat, weerstoestande en seisoene heeltemal anders interpreteer as jyself. Daar is baie verrassings maar dis lekker en uitdagend,” vertel Nelius.

Hy verduidelik dat dit ‘n uitdaging is om al die verskillende tipes bloubessies en kultivars te verstaan: “Elkeen se gedrag en vereistes is uniek en ons boer met omtrent agt kultivars waarvan vier beduidend is. Die groeiwyse en hantering van die plant en snoeipraktyke is geweldig divers. Hierdie boerdery is baie arbeidsintensief wat ook uitdagend is. Aan die positiewe kant verskaf dié tipe boerdery baie werksgeleenthede en lewer ‘n taamlike hoë inkomste.  

“Elkeen se gedrag en vereistes is uniek en ons boer met omtrent agt kultivars waarvan vier beduidend is.”

“Al die bessies word met die hand gepluk en onmiddellik verkoel. Dit word binne 24-uur meganies gesorteer en verpak. Die sisteem is taamlik gesofistikeerd. Na verpakking word dit na die Kaapse hawe gevat in verkoelde trokke vir verskeping, of lughawe toe, om per vliegtuig in Europa en ander lande afgelewer te word. In bestemmingslande het ons ooreenkomste met pakhuise wat daar vir supermarkte pak. Dis te duur, veral met lugvragkostes, om dit hier te doen.”

decjan2016 dorp outeniqua 12

Die binnelandse produk word direk van die paklyn af by verspreiders en groothandelaars afgelewer.

Ons tyd raak min daarom raak ons net ligtelik aan die aartappel-deel van hul besigheid. “Ons gebruik aartappels as kontantgewas. 60% Van ons aartappels word plaaslik onder die handelsmerk Four Bro-thers bemark en 40% word versprei as moere regoor die land. Ons plant omtrent 100 hektaar aartappels ‘n jaar aan,” sê Neluis.

Ten slotte gesels ons oor klimaatskommelinge in die gebied en hoe die landboubdaarna uitsien in die toekoms. “In die afgelope tien jaar het ons twee jaar van verskriklike droogte gehad en twee jaar van vloede. Die res van die tyd was die klimaat ideaal. Dit lyk asof die kurwe normaal is maar die afwykings word al hoe meer dramaties. Ek dink dat risikobestuur en beplanning krities raak. Dit is ook baie belangrik om die mense wat ons oplei en die kundigheid wat ons ontwikkel in die land te hou. Suid-Afrika se landboukundiges en boere is wêreldwyd gesog omdat ons onder sulke moeilike omstandighede boer, en omtrent by alles kan aanpas. Ons moet seker maak ons maak dit aantreklik genoeg vir hierdie mense om hier te bly en nie die land te verlaat nie.”

Dis met hernude respek wat ek my tas pak en die pad huis toe aandurf. Daar is soveel juwele in hierdie deel van die wêreld dat ek beslis volgende jaar weer ‘n draai sal maak. Dis voorwaar ‘n land van melk en heuning, en dan het ons nog nie eers na die see gekyk nie...