Volg ons op Facebook

Riversdal. Kaas, gin, wyn en ’n paar wolhaarstories

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| February 3, 2016

‘n Bekende baken wat die Riversdallandskap uitsonder is die Slapende Skoonheid-berg. Slapend is dié Suid-Kaapse dorp dalk nie, maar van skoonheid is daar ‘n oorvloed. Die omgewing onderhou ‘n verbasend diverse landboubedryf waaronder wolskape, melk- en vleisbeeste,  koring, kanola, fynbosblomme, bloubessies en selfs ‘n konynboerdery.

Net ‘n paar kilometer van Riversdal op die N2 is daar ‘n afdraai na Soetmelkfontein, en kort daarna ry ek oor die Soetmelksrivier-brug. Daar’s rede vir dié klomp soetmelk-verwysings. Die omgewing, veral by Stilbaai, is bekend vir sy  soet melk. Rian Kasselman van Kasselshoop – Kassie vir dié wat hom ken – vermoed dat die kalksteen in die omgewing daartoe lei dat koeie meer kalsium inkry, en daarom is hul melk se PH hoër. Die gemiddeld is 6.7, maar by Kasselshoop is die gemiddeld 6.8 en selfs 6.9, wat die melk meer alkalies maak. Súlke soet melk kry jy nie sommer nie.

“Slapend is dié Suid-Kaapse dorp dalk nie, maar van skoonheid is daar ‘n oorvloed.”

Kasselshoop – Vlytkaas

Kasselshoop se kaasmakery is bekend vir sy spesialiteitskase, insluitende ‘n kaas wat met brandnetel gegeur is. Kassie se vrou, Liesel, skerts dat hulle die Engelse ‘nettle cheese’ dorp feb 2016 riversdal 1moes gebruik vir hul bemarking, anders wou mense nie die kaas probeer nie. Die kaas is ongewoon (ook heerlik) en herinner aan die geure van knoffel en spinasie. So besonders is dié nettle kaas dat persoonlikheids-sjef Gordon Ramsey en plaaslike kunstenaar Nataniël  albei die kaas as ‘n gunsteling gekies het tydens een van Shoprite Checkers se kaaspromosies. Liesel sê Ramsey en Nataniël se goedkeuring het Kasselshoop-kaas skielik geweldig blootgestel: “Mense het kom toustaan by die kaasfabriek om van die kaas te koop.”

Die meerderheid van die melk vir die kaasfabriek kom van die Kasselman-familieplaas, Soebattersvlakte. Kassie hou ‘n Jersey-stoet van 250 koeie aan, waarvan 140 gemelk word. Jersey-melk is gewild vir kaas omdat die kaseïen-persentasie van die proteïen in die melk baie hoog is. “Die melk vir ons kaas word glad nie afgeroom nie,” sê Kassie. Dit gee Kasselshoop se kaas sy kenmerkende rykheid.”

“So besonders is dié nettle kaas dat persoonlikheids-sjef Gordon Ramsey en plaaslike kunstenaar Nataniël  albei die kaas as ‘n gunsteling gekies het...”

Die Kasselmans het besluit om die kaasfabriek in 2001 te begin, nie net om werksgeleenthede te skep nie, maar ook  om aan die kleiner melkboere in die omgewing ‘n afsetpunt vir hul produksie te gee. Van die kleiner produsente wat aan hulle lewer koop ook hul beeste by Kassie, en op dié manier bly Kasselshoop kaas as ‘t ware “in die familie”.

Die opheffing van mense is ‘n belang-rike deel van Kasselshoop se besigheidsfilosofie. Monrico Lupini is die bestuurder van voedselveiligheid by die kaasfabriek en is een van die werkers wat hom van onder af opgewerk het. Hy laat my met ‘n kaas-en-wyn-paring al Kasselshoop se kase op die proef stel. Buiten die brandnetelkaas is daar ondermeer ‘n swartpeper- en ook ‘n uie-cheddar. Laasgenoemde is een van my gunstelinge.

Die plaas se hoofkaasmaker is Jonathan Hendricks. Kassie sê hy het as ‘n bouerhandlanger op die plaas aangekom. Daarna was hy ‘n algemene werker, toe het hy melklorries bestuur, en uiteindelik het hy in die kaasfabriek begin werk. In sy hoeda- nigheid as leerlingkaasmaker, is Jonathan vir drie weke Frankryk toe gestuur waar hy die fyner kuns van kaasmakery geleer het. Hierdie geleentheid het Jonathan se selfvertoue só ’n hupstoot gegee dat hy met sy terugkeer vinnig gevorder het tot die bestuur van die fabriek.

Soos die meeste boere in die omgewing, het die Kasselmans ‘n diverse boerdery. Buiten vir die melkkoeie en die kaasfabriek, word hier onder meer ook 500 SA vleismerino’s aangehou. Skaapboerdery is groot in die Riversdal omgewing en boere trek veral nou voordeel uit die afgelope twee jaar se uitstekende wolpryse. Die Suid-Kaap se boere was ook uitsonderlik gelukkig om die afgelope seisoen se kwaai droogte vry te spring. Gewas- en veeboere waarmee ek gesels het, het almal ‘n goeie jaar met voldoende reën gehad. Soveel so dat verskeie Suid-Kaapse boere bystand – waaronder voer en kontant – na droogte-geteisterde plase in die binneland kon stuur.  

Voor ek egter aanbeweeg, moet ek vir Austin noem. Austin is die Kasselmans se ‘skaapwagter’ alpakka. Toenemende jakkalsaanvalle op skape het reeds veroorsaak dat verskeie skaapboere in die omgewing handdoek ingegooi het. Austin is egter ‘n jakkals se moses. Liesel sê hulle is meer territoriaal en aggressief as donkies en word al jare in Australië as skaapwagters gebruik.

Inverroche – Die kuns van fynbosgin

dorp feb 2016 riversdal 2Gin drink vir ontbyt sal nou nie jou ma of jou dokter se goedkeuring wegdra nie, maar dit is presies wat ek doen tydens my besoek aan Inverroche. Dié stokery het die kuns van potketel-jenewer (dis nou gin in Afrikaans) vervolmaak, en ‘n besoek is ‘n móét as jy ooit in die Stilbaai-omgewing is. Lorna Scott, wat die besigheid saam met haar seun Rohan bedryf, wou die natuurkarakter van die area in ‘n spiritus vasvang en het vir vier jaar lank met ‘n mini koperpotketel geëksperimenteer om fynbos-infusies in haar gin in te tower. Ek verkies die woord gin; jenewer klink vir my minder lekker, en hiérdie gin is werklik ‘n smaakbelewenis.  

Die span by Inverroche gaan uit hul pad om vir my elke fyn verwikkeldheid van die ginmaakproses te wys. André Rautenbach is Inverroche se ginmaker en soos wynmaak, is stokery ‘n kuns. Om die sagte, amper brose geure van die fynbos behoue te laat bly, kom geen van die fynbos tydens die stookproses direk in aanraking met die warm alkohol nie. Die infusies word deur ‘n dampingsproses verkry, wat die smake van die drie verskillende gins wat Inverroche vervaardig merkwaardig subtiel en kompleks maak. Hierdie is nie die basis vir jou alledaagse G&T nie. Hierdie elikser is vir gin wat cognac vir brandewyn is.

Natuurharmonie en  uitsonderlike aandag aan detail is twee van die aspekte van dié besigheid wat my opval. Hulle het ‘n geen-vermorsing- en natuurvriendelike beleid. Die gin word in ‘n duisend-liter cognac-styl koperpotketel gemaak. ‘n Enkele distillering duur sowat agt tot nege uur.
Daartydens word ‘n reuse vuur in ‘n vuur-herd onder die potketel gemaak en dié vuur word met die hand op ‘n eweredige temperatuur gehou. Dit is nie ‘n eksakte proses nie en is eerder ‘n geval van oog-en-gevoel-rekening wat opsigself ‘n kuns is. Stokers is erg oor hul potketels en dis ‘n tradisie in Suid-Afrika vir elke potketel om ‘n naam te hê. Inverroche s’n is Magnanimous Meg gedoop. Indringer rooikranshout word gebruik om vir Meg te stook en die verkoelingsproses word met water behartig, so daar is nie elektrisiteit betrokke nie. Inverroche maak ook ‘n besonderse rum uit molasse. Reste van die molasse word ná die distillering vir bakstene gebruik, wat weer onder meer vir plaveisel op die landgoed aangewend word.

“Natuurharmonie en  uitsonderlike aandag aan detail is twee van die aspekte van dié besigheid wat my opval.”

Die fynbos wat vir die gin gebruik word, is grotendeels wilde fynbos wat vanaf geregistreerde plukkers uit die onmiddellike omgewing bekom word. Daaronder is khoigoed wat aan katoen herinner en in die verlede gebruik is om matrasse mee te stop, weens die plant se teen-bakteriese eienskappe.

Die jenewerbessies (juniper berries) wat in die gin gebruik word, word egter uit Italië ingevoer. Inverroche se algemene bestuurder, Kenneth Gormley, verduidelik dat jenewerbessies wel plaaslik gekweek word, maar dat die gehalte van die bessies nie dieselfde smaakprofiele lewer as dié van die ingevoerde bessies nie. “Lorna is besig om met plantkundiges by Kirstenbosch [botaniese tuine] saam te werk om ‘n plaaslike eweknie te ontwikkel,” sê Kenneth.

“Die jenewerbessies (juniper berries) wat in die gin gebruik word, word egter uit Italië ingevoer.”

Die ordinêre word ook nie aanvaar vir die verpakking van Inverroche se gin nie. Bottels word van Frankryk ingevoer vir hul estetiese voorkoms en helder hoë-kwaliteit glas. Die kurke kom uit Portugal en die swarthout wat die prop afrond kom van Swede. Kenneth bieg dat hulle ‘n kwaai knou gekry het met die afgelope jaar se verswakking in die rand, maar hulle wil geen kom-promie maak met die verpakking nie.  Etikette word met die hand aangewend – dit skep nie net werk nie, maar dra ook by tot die uniekheid van die produk. Lotnommers en die botteleringsjaar word met die hand op elke bottel geskryf. ‘n Enkele vrou uit die omgewing doen dié handewerk, en teen tien- tot dertienduisend bottels per maand moet mens nogal foutloos werk. Ek sal die Tippex al by bottel drie nodig hê!

Die ekstra sorg wat geneem word, werp egter vrugte af en Inverroche voer reeds na 13 lande uit. Dis grootliks weens markte wat uit woord-van-die-mond-bemarking ontstaan het.

Onder die eik by Oakhurst

dorp feb 2016 riversdal 3Warm en vol stof kom ek die aand by die Oakhurst-gastehuis in Riversdal aan. Die statige ou familiehuis is in 1938 gebou en is in 2000 in ‘n gastehuis omskep. Die naam kom van die lieflike ou eik wat in die voortuin geplant is toe die sooi vir die woning gespit is.

Gasvrou Lynette Niankin wys my rond en noem dat die kroeg 24-uur oop is, maar ek sien niemand wat dit beman nie. Rivers-
dal is een van die min plekke in die land waar jy nog ‘n eerlikheidskroeg (honesty bar) kan bedryf. As jy iets uit die kroeg neem, skryf jy jou naam en wat jy gevat het in ‘n boek neer.

Blomryke Kanetberg

dorp feb 2016 riversdal 4Vroeg die volgende oggend vat ek die R323 na Ladismith en ry deur die Garcia pas. Sodra jy deur die pas is – minder as 30 km uit Riversdal – verander die landskap eens-klaps, en drasties. Weg is die geil en lower van die Suid-Kaapse kusstreek. Mens weet dadelik jy’s in die Klein Karoo, met sy ewe bekoorlike maar strak en yl gesig. Ek is op pad na Kanetberg Flora waar Matie Taljaard se pa in 1979 die eerste boer was wat besluit het om formeel met fynbos te boer. Hy het voor dit al op die Bloemendal-plaas wilde fynbos vir die blommemark gepluk, maar Kanetberg is die eerste plek in hierdie area waar fynbos in landerye aangeplant is. Bloemendal beslaan sowat 200 ha waarvan 30 ha vandag onder fynbosplantasies is. Wat nie gekweek word nie, word egter steeds wild teen die hange van die Kanetberg geoes.

“Wat nie gekweek word nie, word egter steeds wild teen die hange van die Kanetberg geoes.”

Die Kanetberg het ‘n mooi storie. Of dit net oorvertelling is, weet Matie nie, maar skynbaar het die Kanetberg sy naam verkry weens ‘n riet wat spesifiek in dié berge voorkom. Wanneer die riete brand, maak dit ‘n klapgeluid, en vandaar die “kanet”.

Dit voel vir my of fynbos op sy eie goed doen in die Wes-Kaap, en ek vra vir welke rede mens dit formeel sou wou plant. Matie verduidelik dat die aangeplante fynbos onder spuitprogamme is om onkruid, insekte en siektes te beheer en dat die verboude fynbos langer stele en groter blomme lewer. So gepraat van groot blomme. Die konings-protea wat onder meer by Kanetberg aangeplant word, is een van die wêreld se grootste enkelblomme. Matie vertel dat die blomme so gesog is, dat hy al gesien het dat hulle R70 per steel in die plaaslike varsblommemark haal (en dit is die groothandelprys)!
Fynbos is veral gewild weens sy lang raklewe. Dié lang leeftyd kan egter ook ‘n nadeel wees. In ‘n stadium het Kanetberg na die VSA uitgevoer; dit is egter gestop nadat die SAL sy direkte vlugroete na Miami gekanselleer het. “Hulle (die Amerikaners) het gekla dat die blomme te lank hou en dat ons iets daaraan moet doen,” skerts Matie. Onder optimale omstandighede kan fynbosblomme tot 21 dae in ‘n pot hou.

Om die blomme teen die berg te oes, word ‘n Unimog ingespan. Dié alleterreinvoertuig sal die meeste 4x4’s waarmee ons vertroud is laat bloos van onbekwaamheid. Ek verkyk my aan die steil bergterrein waar die plukkers met dié affêre uitry. Só hoog op in die berg is hulle dat ek nie eers met my kamera se zoem ‘n ordentlike kiekie van die span kan neem nie.

“...mense raak meer bewus van hoe uniek fynbos aan die Kaap is, en dat proteas ‘n pragtige blom is.”

Die plaas lewer ongeveer 32 ton fynbos per jaar. Dit verteenwoordig sowat 64 000 bosse blomme wat in die pakhuis op die plaas deur werkers gerangskik en gebind word. Die blomme word dan in kartonne verpak en per lugvrag na die buiteland ver-
voer. Sowat 90% van die produksie word uitgevoer, maar Matie sê dat daar die afgelope twee jaar geweldige groei in plaaslike aanvraag was.

“Ek dink mense raak meer bewus van hoe uniek fynbos aan die Kaap is, en dat proteas ‘n pragtige blom is.”

dorp feb 2016 riversdal 5

Kweekkraal-wolhaarstories

Koring- en wolboerdery is twee van die grootste landboubedrywighede in die Riversdal-omgewing en daar is beduidende produsente van albei in die Suid-Kaap. Een van hulle is AG Joubert en Seuns, en dis by die plaas Kweekkraal waar ek volgende inloer. Dis altyd ‘n gelol om ‘n leek onder kenners te wees. Mense verstaan nie dat hulle werklik die ‘vir dommerike’ benadering moet neem nie. Maar die Joubert-broers, Geoffrey en Johannes, is darem geduldig met my. Geoffrey is in beheer van die skaapboerdery, en aan die saaikant is Johannes aan die stuur. Hul skaapkudde bestaan uit sowat 4 000 ooie wat amper eksklusief op aangeplante weiding loop. Die ooie bestaan uit 40% suiwer wolmerino’s. Van dié wolmerino-ooie word 20% deur merinovleisramme gedek, en sowat 40% van daardie eerste kruisings word dan ‘terminaal’ met Dormerramme gekruis. ‘Terminaal’ beteken dat die lammers uit daardie kruisings almal as slagskape ge-bruik word.
Om waarde toe te voeg tot die vleiskomponent (sowat 70% van die skaapboer- dery) is daar ook ‘n aandeel in die Hessequa-abattoir op Riversdal bekom.

“Soos voorheen genoem, trek wolboere die afgelope ruk groot voordeel uit hoë wolpryse en die langste, fynste rou wol haal gewoonlik die beste pryse.”

Soos voorheen genoem, trek wolboere die afgelope ruk groot voordeel uit hoë wolpryse en die langste, fynste rou wol haal gewoonlik die beste pryse. By Kweekkraal word daar elke agt maande geskeer om C-lengte wol (sowat 60 mm) te lewer.

dorp feb 2016 riversdal 6

Daar is allerlei faktore wat wol se gradering bepaal, maar in ‘n neutedop hang dit grootliks af van die lengte, hoe fyn die wol is (in mikron gemeet), en hoe skoon die wol is.
Skape word onder meer spesifiek geteel vir “skoon opbrengs”, wat letterlik beteken dat die beste skape se wol nie maklik vuil word nie. Hoe digter die wol byvoorbeeld, hoe minder stof kan tussen die individuele vesels beland. Maar vir alles is daar ‘n fyn balans. Jy wil nie té digte wol hê nie. Té lank, of té fyn is ook nie ‘n goeie ding nie. Daardie ‘perfekte balans’ is derhalwe iets waarna alle skaaptelers streef.

Nadat skape geskeer is, word die wol in bale gepers en aan handelaars soos BKB (meer algemeen bekend vir hul veeveilings) gelewer, wat dit op hul beurt aan finale ko-pers verskaf. Die meeste van Suid-Afrika se wol word uitgevoer, veral na Sjina en Italië.
Die Joubert-boerdery bestaan uit twee plase, wat sowat 3 000 ha beslaan. Die besigheid is só saamgestel dat die saai- en veekomponent met mekaar meeding. Sowat 2 100 ha se kontantgewasse word in ‘n rotasiestelsel met die weiding aangeplant (m.a.w. weiding vervang soms gewasse en gewasse vervang soms weiding). Die verdeling van die kontantgewasse beslaan min of meer ‘n 60% verhouding koring, en 20% elk van kanola en moutgars.  

Johannes sê die oogmerk is om soveel as moontlik gars vir mout aan SA-Brouerye te lewer, maar deesdae is die garsaanbod hoog en raak die keuringsvereistes al hoe strenger. “Met koring kan jy nog wegkom as jy ‘n graad laer waardasie kry; met gars beteken een graad minder jou gars is voer.”
Een van die uitdagings wat die omgewing inhou, is dat dit heeljaar reën kry met pieke in Februarie, Junie en Oktober. Dit beteken soms natter as ideale toestande wanneer daar gars en koring geoes word. As daar te veel vog in die koringkorrels of die garspitte is, het jy moeilikheid, so weervoorspellings word fyn dopgehou om produksie betyds van die lande af, en onder dak, te kry.

“Een van die uitdagings wat die omgewing inhou, is dat dit heeljaar reën kry met pieke in Februarie, Junie en Oktober.”

Die saaiboerdery is alles droëlandboerdery en daar is reeds in 1998 begin met minimum bewerkingspraktyke. Die broers is egter nog nie gereed om die sprong na geenbewerking te maak nie, omdat hulle twyfel of die bestaande masjiene wat vir geenbewerking aangewend word al op die verlangde standaard is.  

Baleia – Selfs wingerd is hier ook

dorp feb 2016 riversdal 7Aan die anderkant van die dorp boer nog Jouberts, maar daar is geen verwantskap nie. Fanie Joubert se voorouers het reeds in die 1910’s in die Riversdal omgewing aangekom, en hy self het in 1969 saam met sy pa begin boer. Nie lank gelede nie, het Fanie die leisels aan sy seun Jan-Hendrik oorhandig, en deesdae spandeer hy tyd aan ‘n ander troetelprojek: wild.  Hy het onder meer koedoes, rooihartbeeste, bontebokke en koperspringbokke, maar hy skerts dat dit nog nie “’n boerdery” is nie.

Wat wel onder die Joubert Boerdery se ‘amptelike’ bedrywe tel, is verstommend. Sowat 1 700 Dohne Merino ooie lewer wol en vleis. Dié kommersiële wol- en vleiskudde word aangevul uit die boerdery se Dohne Merinostoet van sowat 500 ooie.  Dan is daar ‘n Brangus-stoet van ongeveer 70 koeie wat Jan-Hendrik “vir die lekker” begin het. Hy het aanvanklik navorsing gedoen oor Angus-beeste, maar het by die hoof van die Brangus-telersvereniging uitgekom wat hom oorreed het om dié Brahmaan/ Angus- kruisras op die proef te stel. En wat is sy gevolgtrekking? “Ek is baie gelukkig met die ras. Dit gee vir jou die gehardheid van die Brahmaan, maar die beter geaardheid en die vleisgehalte van die Angus.”

dorp feb 2016 riversdal 8jpg

Hul veekuddes loop op aangeplante weiding (lusern) en vir kontantgewasse word koring, kanola, moutgars en hawer ook verbou. En dis nog nie al nie. Sowat 11 ha se olyfboorde – wat net uit oliekultivars bestaan – lewer in die omgewing van 8 000 liter olyfolie per jaar. Die olie word by Morgenster in Somerset-Wes gepars en onder die plaas se eie handelsnaam, Baleia Extra Virgin Olive Oil, gebotteleer.

Maar wat dié boerdery werklik uniek maak, is sy wingerde. Wingerd is amper ongehoord vir die area, omdat hier min standhoudende besproeiingswater is.  Jan-Hendrik kon egter nie sy wynmaak droom los nie en het in 2009 sowat tien hektaar se wingerd naby Vermaaklikheid (sowat 30 km van Riversdal) gevestig. Die wingerd lê sowat 10 km van die see langs die Duiwenhoksrivier, waaruit water vir drupbesproeiing bekom word. Jan-Hendrik sê egter hulle gebruik bitter selde besproeiing en dis grootliks droëlandwingerd, omdat boere hoër op langs die rivier meestal die water opgebruik voor dit by hulle uitkom.  

Die Suid-Kaap se matige Mediterreense-tipe klimaat en kalksteengrond is egter uitstekend vir wynmaak en daar is onder meer Chardonnay, Sauvignon Blanc, Pinot Noir en Tempranillo aangeplant. Laasgenoemde is ‘n ongewone kultivar wat nie baie in Suid-Afrika verbou word nie en ‘n enkelkultivarwyn word van dié Spaanse druifsoort gemaak.

“Die wingerd lê sowat 10 km van die see langs die Duiwenhoksrivier, waaruit water vir drupbesproeiing bekom word.”

Jan-Hendrik het van sy eerste wyne self gemaak, hoewel hy weinig ondervinding of kennis van wynbou gehad het. Sy eerste wynmaker was ‘n pas-afgestudeerde student, en ten spyte van hul min gesamentlike ondervinding het verskeie wyne van die Baleia-reeks vroeg al toekennings ontvang (onder meer Veritas en Michelangelo).

In Augustus 2014 is die Baleia-wynkelder geopen. Dit is ‘n esteties-aanloklike kompleks met ‘n proelokaal wat langs die N2 net buite Riversdal geleë is. Jan-Hendrik vertel hoe die kelder uit nood ontstaan het. Hulle het aanvanklik hul wyn by ‘n kelder in Philadelphia buite Kaapstad laat maak, maar hulle is einde November 2013 laat weet dat die kelder nie langer hul besigheid kon akkommodeer nie. “Dit was ‘n groot krisis, want alle kelders wat ons toe nader is vol bespreek vir die seisoen. Hier net voor oestyd moes ons inderhaas ‘n ander plan maak, en ons het ‘n plaasstoor leeggemaak en daarin wyn gemaak,” vertel Jan-Hendrik. ‘n Voormalige wynmaker van Nederburg, Newald Marais, het hulle touwys gemaak oor die minimum toerusting wat hulle nodig het, en hy het werklik oor die foon help wyn maak.

dorp feb 2016 riversdal 9

“Jan-Hendrik het van sy eerste wyne self gemaak, hoewel hy weinig ondervinding of kennis van wynbou gehad het.”

Die plan was egter altyd om ‘n Baleia-kelder te vestig, en Abraham de Klerk is verlede jaar as die nuwe wynmaker en bestuurder aangestel. Baleia beteken walvis in Portugees. ‘n Gepaste naam, want die nabygeleë San Sebastianbaai in Witsand is wêreldwyd as ‘n walviskwekery (whale nursery) bekend.

Mens kan in die toekoms opwindende dinge van Baleia se wyne verwag. Abraham het reeds in agt lande – waaronder Frankryk en Italië – wyn gemaak. Ek beplan beslis om later in die jaar na die Riversdal-omgewing terug te keer, wanneer Abraham sy eerste wyne vir Baleia sal begin bottel.

dorp feb 2016 riversdal 10