Volg ons op Facebook

Bloem – kou harde bene

Written by  Leoni Kok
| in Dorp
| April 6, 2016

Soos ons Bloemfontein se lugruim die tweede week in Maart binnevlieg, weet ek nie wat om te verwag nie. Dit lyk groener as wat ʼn mens sou verwag met die ergste droogte in 100 jaar, maar op hierdie afstand kan die skyn bedrieg.

april 2016 dorp bloem 1

Een ding is egter opmerklik; oral lê daar onbewerkte lande en ek vermoed in baie gevalle is dit mielieboere wat weens die wegbly van die reëns nie kon saai nie.

In die week wat ek by boere in die omgewing van Bloemfontein spandeer, besef ek waarop die groen dui. Plek-plek het daar die afgelope paar weke 'n paar millimeter reën geval, en dis die veld wat jubel vir elke druppel water. As jy egter dieper kyk, onthul die werklikheid hom. Die groen is oppervlakkig, die grond daaronder bros en verhonger vir water.

'n Terugblik op lang ritte deur die Vrystaat Kaap toe herinner dat mielies en sonneblomme dié tyd van die jaar in digte lappe byna kophoogte staan. Vanjaar is dit die uitsondering eerder as die reël as jy mielies langs die pad in dié omgewing sien. Die meeste droëland-boere het glad nie hierdie seisoen mielies gesaai nie, en waar daar droëland-sonneblomme is, lyk hulle meestal droewig.

Die natuurlike veld se drakrag vir vee en wild is na aan uitgeput en heelwat boere hou op die oomblik hul voergewasse terug om rantsoene te bewaar vir die winter wat nog voorlê. Dít sê Nic Meyer – 'n saai- en beesboer van die plaas Riverton – is een van die redes waarom die swaarste tye vir boere en verbruikers nog voorlê. Voergewasse wat in normale jare verkoop sou word, word dus van die mark weerhou, wat voer tydens die winter skaarser en duurder gaan maak. Weens die swak drakrag van die veld is heelwat boere ook besig om hul veekuddes te verklein, so wanneer sake normaliseer sal dieselfde boere eers weer hul kuddes opbou voordat hulle diere aan voerkrale verkoop. Dít gaan vleispryse verder opjaag.

Riverton – steeds hoopvol al is dit duister

Die plaas Riverton lê sowat 40km buite Bloemfontein in die rigting van Brandfort. Hier beleef ek eerstehands die impak van die droogte. Waar daar mielies moes wees, is daar sanddriwwe, intense stofstorms en 'n woestynlandskap.

"Die stofstorms raak so erg dat ons mekaar met die radio's moet roep sodat ons nie in mekaar vasry nie," sê Nic. "Laas jaar het ons 100mm minder reën gehad as die vorige droogste jaar wat iewers in die 40's was."

Omdat Riverton so afhanklik is van die weer, het die plaas sy eie weerstasie wat onder meer temperatuur, windspoed, humiditeit en evapotranspirasie meet. Weens die gebrek aan vog in die grond en hoë temperature, sê Nic, het hulle vanjaar reeds 410mm water deur verdamping verloor.

april 2016 dorp bloem 2

"Ons moes met 23mm reën plant," sê Nic, wat in al die tyd wat hy hier boer nog nooit so ʼn swak jaar beleef het nie. Riverton is 'n droëland-plaas en hulle kon vanjaar vir die eerste keer geen mielies plant nie. Daar is wel sonneblom geplant, maar volgens Nic verwag hulle nie om meer as 10% van dié sonneblomme te kan oes nie.

"Die stofstorms raak so erg dat ons mekaar met die radio's moet roep sodat ons nie in mekaar vasry nie," sê Nic. "Laas jaar het ons 100mm minder reën gehad as die vorige droogste jaar wat iewers in die 40's was."

Wind-erosie is 'n groot probleem. ’n Windspoed van 30kmph en hoër word gereeld op die plaas gemeet en hoewel oesreste van die vorige seisoen in die lande gelaat is, is die aarde so droog dat die meeste van dié grondbedekking reeds verdwyn het.

Selfs die tef wat hulle aangeplant het vir veevoer lyk yl en skraps. Maar minstens kon hulle die vorige seisoen baal en dit is hiérdie bale wat op die oomblik hul Bonsmara-kudde red.

In beter jare plant Nic-hulle gewoonlik sowat 1000ha mielies, 700-800ha sonneblomme en sowat 1000ha tef. Soos genoem, verwag hulle vir vanjaar se sonneblomme na aan 'n algehele misoes. Net die saad vir daardie sonneblomme was na aan 'n halfmiljoen rand.

"Ons het ook uitgawes aangegaan om die mielielande voor te berei, waar ons toe nooit geplant het nie."

 "Wat mense nie besef nie, is dat jy nie sommer van so ʼn terugslag herstel nie. Jy kan eers oor 'n jaar weer plant, as die weer dit toelaat, en dan moet jy nog 'n paar maande wag voor jy kan oes. Dit neem omtrent 18 maande voor jy weer enige inkomste kan genereer."

En daar is nie oesversekering teen droogte nie.

april 2016 dorp bloem 3

"Ek wil nie my werkers laat gaan nie, so op die oomblik doen ons meestal onderhoudswerk. Ons span baie nuwe draad, want die wind beskadig dit gereeld."

Nic boer saam met sy skoonseun Le Roy van der Merwe en ek vra albei hoe hulle so kalm bly in die gesig van só 'n ramp. "Mens moet bly glo dat volgende jaar 'n beter jaar sal wees en dat die reën sal terugkom. As jy nie hoop het nie, sal jy nie kan boer nie," sê Nic.

Hiérdie sentiment word verskeie male tydens my besoek beaam.  

Glen Lyon – ontgin sinergie

In dieselfde omgewing ontmoet ek vir Jacques Strydom. Hy is beter bekend aan Bloemfontein-boorlinge as 'n motorhandelaar. Sy familie besit al vir drie generasies 'n rits Ford-agentskappe van Bloem tot in Kimberley. Jacques wou egter 'n nuwe (en eie) nalatenskap vestig en het hom in die laaste 10 jaar in die landbou begewe. Hy skryf sy fokus-verskuiwing grootliks aan passie toe, ook met 'n "klein bietjie malheid". 'n Skaapvoerkraal het eerste gekom en drie seisoene gelede het hy met saaiboerdery begin; hoofsaaklik mielies en sonneblom onder spilpunte. Hulle plant ook voergewasse soos lusern onder besproeiing aan.

april 2016 dorp bloem 4

Alles by die boerdery gaan oor sinergie. Die saaiboerdery het ontstaan weens die voerbehoeftes van die voerkraal. 'n Voervervaardigingsaanleg is op die been gebring wat voerpille vir eiegebruik en herverkoop produseer. Hierdie voeraanleg verskaf ook pille vir die boerdery se wild, wat sedert 2003 tot sowat 40 spesies gegroei het. Teelprojekte word met die meeste van dié wild bestuur; dit sluit in buffels, swartwitpens, bontebok, tsessebe en njala. Verder sal jy ook kameelperde, jagluiperds, leeus en hiënas op die wildsplaas gewaar.

"Hy wys ook vir my sy swart rooibokke, wat onwerklik lyk, meer soos gietysterstandbeelde teen die agtergrond van die veld."

Jacques spekuleer voorts met kleurvariante en het een van die mooiste troppe wit springbokke wat ek tot dusver gesien het. Hy wys ook vir my sy swart rooibokke, wat onwerklik lyk, meer soos gietysterstandbeelde teen die agtergrond van die veld.    

april 2016 dorp bloem 5Met toegang tot besproeiingswater uit die sameloop van die Renosterspruit en die Modderrivier kon  Jacques-hulle darem vanjaar mielies plant, anders as hul droëland-bure. Maar selfs hulle moet opbrengs prysgee weens die droogte. "Gewoonlik kry ons in 'n jaar baie waterafloop van die stad, maar weens waterbeperkings is daardie afloop vanjaar heelwat minder. Ons kry gereeld gevalle waar ons pompe droog loop," sê Jacques. Dié tekort aan water het veroorsaak dat hulle 'n geskatte 20% van hulle oes gaan verloor.

"Die skatting is dat die (grond) watertafel oor die laaste drie jaar met 1.8 tot 3 meter gedaal het."

april 2016 dorp bloem 6

Menige boere in die omgewing kla dat die gebruik van boorgate nie gereeld of behoorlik gemonitor word nie, en dat watermisbruik lei tot die verlies aan besproeiingswater.

Een van Jacques se leuses is dat mens nie moet streef na 'n maatstaf nie, maar dat jy dit moet verbysteek. 'n Voorbeeld van hierdie uitgangspunt is hul skaapvoerkraal. Slegs dragtige Konsortium Merino-ooie word aangekoop weens hul goedontwikkelde, tweedoelige eienskappe as wol- en vleisproduseerders. Die lammers en ooie word dan min of meer op dieselfde tyd afgerond en 'n gevorderde lamkamp-stelsel word gebruik om dié proses te stroomlyn. Sowat 45 ooie word vir drie tot vier dae per kamp aangehou, waar hulle (en hul lammers) met 'n outomatiese voerstelsel in krippe gevoer word.

april 2016 dorp bloem 7

Die boerdery koop ook beeskalwers in op sowat 200kg om die mieliereste en die raaigras wat as dekgewas geplant word, te benut. Die raaigras is nogal 'n ongewone aspek van dié boerdery. Die saad word per vliegtuig direk op die mielielande versprei wanneer die mielies in hulle baard-stadium is. Wanneer die mielies geoes word, staan die raaigras volgroeid op die stoppellande en dien dit die dubbeldoel van vog-behoud, sowel as groenvoer.

Jacques is 'n voorstander van bewaringsboerdery en hulle probeer sover moontlik om net een keer per jaar die minimum grondbewerking te doen. Hy het ook onlangs begin met windrye vir kompos. Al die mis, onbenutte oesreste, en selfs indringerplante word vir die kompos-makery benut.

Kleinheuwel – hiérdie boer hou van plan maak

Die volgende oggend kies ek koers in 'n ander rigting, Dealesville se kant uit. Net voor die Krugersdrifdam lê die plaas Kleinheuwel, een van die saaiplase wat deur Charl Yssel bedryf word. Beide droëland- en besproeiingsmielies word op Kleinheuwel verbou.

Soos Nic Meyer by Riverton het Charl ook nie vanjaar droëland-mielies kon plant nie, en die droëland-sonneblomme wat hy gesaai het, rus ook op hoop eerder as water. "Ek het die boerdery in 1991 by my pa oorgeneem en ons het nog nooit so swak jaar beleef nie."

Ek vra wat die gevolge van hierdie swak jaar vir hulle gaan wees en Charl sê dat hy waarskynlik genoodsaak gaan word om van sy grond te verkoop. Hy koop ook al 'n ruk lank geen beeste meer aan nie.

"Ek het die boerdery in 1991 by my pa oorgeneem en ons het nog nooit so swak jaar beleef nie."

Charl is die 6de generasie van sy familie wat in dié omgewing boer. 'n Groot gedeelte van die oorspronklike familieplaas – Uitvlug Wes – is in die laat 1960's aan die regering afgestaan vir die bou van die Krugersdrifdam. Volgens Charl trek boere aan die onderkant van die dam in die Modderrivierloop nie werklik voordeel nie. "Ons het almal watermeters en ons waterverbruik word gemeet, maar die dam loop nooit vol nie want daar word nie behoorlik waterverbruik gemonitor hoër op in die rivier nie."

Tydens my besoek is die watervlak in die dam sowat 7%. Charl se oupa het 'n plaasdam op Uitvlug Wes gebou. Charl kan nie presies onthou watter jaar nie, maar hy wys my dié dam, wat vir die eerste keer in sy geskiedenis kurkdroog is.

Uitvlug Wes het in 1974 bekendheid verwerf as die plaas met die grootste swartwildebeestrop ter wêreld. Charl vertel hoe daar altyd wild op die plaas was, maar dat swartwildebeeste in daardie jare veral uitgeroei is weens die snotsiekte wat hulle dra. Sy oupa het die trop egter toegelaat om aan te teel en teen 1974 was daar in die omgewing van 450. "My oupa – Jan Kruger, aan my ma se kant – het toe 'n beker gekry vir die beste wildbewaarder in die Vrystaat."

Hoewel die Yssels nog nooit formele teelprogramme op Uitvlug Wes gehad het nie, het hulle een van die langs gevestigde wildplase in die kontrei. Daar is steeds meer as 800 stuks wild op die plaas wat 14 spesies insluit. Onlangs het Charl ook leeus tot die plaas toegevoeg, maar hulle word in kampe aangehou en het heelwat vermak.

Die wild word met mieliereste en skoonmielies gevoer, terwyl Smutsvinger ('n permanente gras) ook aangeplant is op van die plaas se meer marginale grond. "My beeste wei tussen my swartwildebeeste, en snotsiekte was nog nooit 'n probleem nie," sê Charl. Sy teorie is dat jy net snotsiekte by swartwildebeeste kry as hulle verskuif word en aan stres blootgestel word.

"Daar is steeds meer as 800 stuks wild op die plaas wat 14 spesies insluit. Onlangs het Charl ook leeus tot die plaas toegevoeg..."

Ons gesels oor bewaringslandbou en minimumbewerking en hy noem dat hy sy eie implemente bou en modifiseer – sommer in Kleinheuwel se werkswinkel. Hy gebruik enige materiaal wat hy in die hande kan kry, selfs skrootmetaal. Van die implemente wat hy al opgetower het, sluit planters, bewerkers, kunsmistoedieners en selfs 'n tef-roller in. Ek merk 'n ou vlekvryestaal-melktenkwa op en Charl noem dat hulle die tenkwa omskep het in 'n tenk vir die meng van hulle onkruiddoders. Die tenkwa se kapasiteit is aansienlik hoër as dié wat mens standaard kan aankoop.  

Sy grootste selfdoen-projek was 'n wildvangkraal, wat mens gewoonlik tien- tot honderdduisende uit die sak jaag. "Ek het een by 'n ander boer se plaas gesien en toe besluit om sommer self een te bou."  'n Bakkie se outomatiese sluitmeganisme is onder meer gebruik om die hek van die vangkraal te laat val, en die meganisme word met 'n selfoonoproep geaktiveer. Om die kameras vir die monitering van die wild aan te dryf is 'n sonpaneel ingespan.

Môreson – beheer die waardeketting

Die reën wat aanvanklik vir die hele week voorspel is, sak uiteindelik met oorgawe uit op die Woensdag van my besoek. Vir vee- en wildboere bring die reën groot sugte van verligting, maar vir baie saaiboere is dit te min te laat.

"Sy droom – van kleins af – was om 'n boerdery te hê waar hy regdeur die waardeketting betrokke kon wees, veral met bemarking."

Ek ry in die gietende bui op die Brandfort-pad na Môreson-pluimveeboerdery, 'n indrukwekkende besigheid met oor die 750-duisend lê-hoenders. Kobie Fourie het die boerdery in 1982 van nuuts af opgebou. Hy was egter nie 'n vreemdeling vir boerdery nie. Hy het landbou geswot en sy pa was 'n skaapboer van die Philipstown-omgewing in die Karoo. Sy droom – van kleins af – was om 'n boerdery te hê waar hy regdeur die waardeketting betrokke kon wees, veral met bemarking. Die pluimveeboerdery (en spesifiek lê-henne) het hom daartoe verleen.

april 2016 dorp bloem 8

Tans verskaf Môreson eiers aan groot- en kleinhandelaars in die Vrystaat, die Noord-Kaap en Gauteng; dit sluit supermark-kettings in. Die maatskappy beskik oor 'n eie vloot vragmotors om sy produkte te versprei, en daar is voorts 'n netwerk van verkoopsverteenwoordigers wat die bemarking vir Môreson in die verskillende provinsies hanteer.

Ons gesels oor die toekoms van kleinboere – spesifiek of daar een is vir hulle. Die neiging wêreldwyd is dat boerdery al hoe groter en meer korporatief raak. "Ek dink nie kleinboere sal verdwyn nie," meen Kobie. "Hulle sal net slimmer moet boer en moet aanpas by die tegnologie. Jy kan nie boer soos daar 30 jaar terug geboer is en hoop om 'n sukses te maak nie."

"Ek dink nie kleinboere sal verdwyn nie," meen Kobie. "Hulle sal net slimmer moet boer en moet aanpas by die tegnologie. Jy kan nie boer soos daar 30 jaar terug geboer is en hoop om 'n sukses te maak nie."

Hierdie filosofie word nou nagevolg by Môreson. Hulle maak gebruik van die nuutste omgewingsbeheerde behuising vir hul hoenders. Temperature word deurgaans tussen 22 en 24 grade Celsius gehou en ligsiklusse (dag en nag) word ook konstant gehou. Veral temperatuur is belangrik. 'n Hoender wat koud kry, eet meer, wat jou voer-tot-produksie-omset verswak. 'n Gemiddelde lê-hoender verbruik sowat 115g voer per dag, afhangende van die temperatuur en behuising.

Môreson se behuising gebruik outomatiese voersisteme wat gemiddeld ses keer per dag voer lewer, terwyl water deur middel van watertepels in elke afskorting voorsien word.

"Hoenders lê gewoonlik een eier per dag en slaan 'n dag oor in elke 10-dag-siklus."

Kobie sê hulle produseer teen 90% effektiwiteit, oftewel: 100 hoenders lê 90 eiers op 'n dag. Hoenders lê gewoonlik een eier per dag en slaan 'n dag oor in elke 10-dag-siklus. Voeding vir die hoenders word noukeurig bestuur, derhalwe het die Môreson Groep ook sy eie voerfabriek wat hoendervoer en ander veevoer vervaardig.

Mielies vorm die basis van die hoendervoer teen 60%, en die res van die geheime resep vir hierdie kiepers sluit in soja- en sonneblom-oliekoek, koringsemels, kalk, vitamien- en minerale-mengsels, sowel as sintetiese aminosure soos lisien en metionien.

Môreson beskik oor sy eie grootmaakplaas waar sowat 1.1 miljoen dagoud-kuikens vir 17 weke lank grootgemaak word tot wanneer hulle lê-gereed is. Die leeftyd van 'n lê-hoender is 52-weke, waarna hulle lewend verkoop word aan verspreiders wat hulle dan weer aan die publiek voorsien.

Daar is oor die 40 hoenderrasse wat eiers lê, maar Môreson gebruik net twee van dié rasse. Kobie noem 'n interessante ding – dis nie 'n uitgemaakte saak nie – maar in die algemeen lê swart hoenders wit eiers en wit hoenders bruin eiers. Môreson maak gebruik van henne wat uitsluitlik bruin eiers lê. Kobie wil nie hulle geheime uitlap deur sy ras-keuses bekend te maak nie, maar hy sê wel dat die keuse van jou ras van jou mark afhang en wat jy aan die mark wil lewer; dit sluit grootte, voorkoms en kleur in.  

My besoek aan Môreson is vlugtig. Kobie se seun Johannes, wat saam met hom die pluimveeboerdery bedryf, trou die komende naweek en daar is 'n gewoel om die laaste reëlings te tref. Terwyl ons uitstap, vra ek vir Kobie of hy nie al gedink het aan diversifisering nie. Ja, sê hy, en dit is een van die redes waarom hulle in 2003 'n wildsplaas bekom het, maar die grootste rede vir die aanwins van die Amanzi- privaat wildreservaat is dat dit sy ander seun, Jopie, se passie is.

Dit is beduidend hoeveel boere oor die afgelope paar jaar die wildbedryf betree het; my volgende besoek is egter aan 'n boerdery waar die wild vir bok- en skaapmelk verruil is.

Willow Bend – leer soos jy gaan

Een aspek waaraan jy gewoonlik suksesvolle kleinboere sal ken, is hul gewilligheid om als wat ongewoon en onbekend is te beproef, selfs tot afgryse van die 'establishment'. Willowbend is beslis een van hierdie kleinboerderye.

Toe ek die dag van my vertrek vir twee Bonsmara-boere vertel van die Mackenzies se Dexters is die reaksie eenvormig: "O, daardie klein besies!" Maar ek loop myself vooruit.

Winett en Yvette Mackenzie was tot agt jaar gelede albei Bloemfontein-stedelinge en sake-eienaars toe hulle besluit het om 'n wildsplaas te koop vir 'n naweekwegbreekplek. Nie een van hulle sou in daardie stadium kon raai hoe drasties dié besluit hul lewens sou verander nie.

"Die oorspronklike plaas was sowat 200 hektaar en Winett het gou besef dat die plaas te klein is vir wild. "Ons het nie bome gehad nie, en die veld was oop en plat..."

Die oorspronklike plaas was sowat 200 hektaar en Winett het gou besef dat die plaas te klein is vir wild. "Ons het nie bome gehad nie, en die veld was oop en plat, so ons was beperk met die tipe wild wat ons kon aanhou," sê Winett. "Die wild het as gevolg van getalle nie geld gemaak nie en ek het iets gesoek wat waarde tot die plaas kon toevoeg."

april 2016 dorp bloem 9

Hy erken joviaal dat hy 'n boek soos 'Farming for Dummies' goed sou kon gebruik. Die meeste van wat hy en Yvette tot dusver oor boerdery geleer het, het hulle op die internet nagevors. Dis waar Winett op die Dexter-beesras afgekom het en na deeglike ondersoek besluit het om 'n paar van dié beeste by veilings aan te koop.

"Ek is ʼn groot aanhanger van die Dinsdag-veilings," soos hy die Bloemfonteinse algemene weeklikse veeveiling noem. Dis ook hier waar die Mackenzies die meeste van hul aanvanklike lewendehawe gekoop het.

"Almal in ons omgewing boer met Bonsmaras, maar ek het 'n kleinraambees gesoek," sê Winett, wat deeglik bewus is van die swak reklame wat Dexters oor die jare gekry het. Volgens Winett is die rede daarvoor grootliks tweeledig. Binne die ras is daar twee teeltverdelings; een lewer beeste met kort bene en hulle is geneig om laer gewig-tot-vleis-omset te hê as die meeste gewilde beesrasse soos Bonsmaras en Angusse. Die langerbeen-verdeling sê Winett, het egter nie hierdie probleem nie.

Die ander rede is geneties. Die Dexter-ras het 'n genetiese afwyking wat die 'bulldog'-geen (Chondrodisplasie) genoem word.  Wanneer daardie geen in albei die bul en koei voorkom, veroorsaak dit in 25% van gevalle aborterings in die koei. Winett sê egter dat DNA-toetse deesdae effektief is om dié geen in individuele diere te identifiseer en dat hy in die ses jaar wat hy sy stoet opbou nog geen 'bulldog'-kalwe gehad het nie.

Genetika vir die ras is nog te beperk om die geen heeltemal uit die ras te teel, maar dit is een van Winett se oogmerke vir sy eie stoet. Hy reken ook daar is 'n uitstekende mark vir Dexter-bulle om verskalwe oop te maak: "Ideaal wil jy hê dat jou verse die eerste keer op 12 tot 14 maande beset moet raak om te kalf. As jy egter Bonsmaras het, wil jy nie 'n Bonsmara-bul by daardie jong vers sit nie. Jy wil nie hê dat daardie eerste geboorte vir die koei te traumaties moet wees nie, so jy soek 'n kleiner kalf." Winett het derhalwe een van sy Dexter-bulle by 'n groep van sy Bonsmara-verse gesit.

Ek vra wat hy met die Bonsmara/Dexter-kruiskalwers maak. "Ons maak hulle groot," sê Winett "En ons maak seker ons moniteer hulle geboortegewig, speengewig en ook hulle voer-tot-vleis-omset. As ek ander produsente wil oortuig van die waarde wat Dexter-bulle vir die oopmaak van enige verskalf het, moet ek vir hulle syfers kan gee."

Jy kry dieselfde prys per kilogram vleis vir Dexters by voerkrale as wat jy vir ander beeste kry. "In Suid-Afrika maak die voerkrale nog nie onderskeid tussen rasse nie," sê Winett.

As jy die wiskunde vir Dexters gaan doen, maak die ras 100% sin vir produsente met minder weiveld meen hy: "In my geval kan ek twee Dexters op vyf hektaar veld grootmaak, terwyl jy vyf hektaar vir elke Bonsmara nodig het. Bonsmaras speen jy op 220-240kg, terwyl jy Dexters op 180-190kg speen. As mens die veld-verhouding vergelyk dan is die Dexters meer winsgewend."

Winett glo dat Dexter-vleis hom ook tot 'n nismark verleen omdat dit baie soortgelyk is aan die gesogte Wagyu- (of Kobe-) bief, wat bekend is vir sy intensiewe marmering in die weefsel.

"In my geval kan ek twee Dexters op vyf hektaar veld grootmaak, terwyl jy vyf hektaar vir elke Bonsmara nodig het."

Aanvanklik het die Mackenzies vir al hul Dexterbulle name uit die Griekse en Romeinse mitologie gegee (daar's nou te veel om dit prakties te maak). Die bul wat tans by die Bonsmara-verse is, se naam is egter Tobasco, en ek vra uit. "Toe ek Tobasco sien, toe weet ek sommer hy is hot!" verduidelik Winett laggend.

april 2016 dorp bloem 10

Maar dit is nie die Dexters waarvoor Willowbend bekend is nie; dit is vir hulle bok- en skaapmelksepe en -kase. Hulle bemark die seep en kaas onderskeidelik onder die handelsname Cleo’s Milch en Udder Delight.

Dié bedryf het heeltemal generies en half per ongeluk ontstaan. "Ek het vir my vrou twee bokke by die Dinsdag-veiling gekoop," vertel Winett. "Sy was nie gelukkig nie, maar 'n paar weke later toe koop ons nog 'n teelpaar, en so het dit aangegaan. In 'n stadium toe koop ons ooie-in-melk en die boer by wie ons hulle gekoop het, sê: "Moenie vergeet om hulle te melk as julle by die huis kom nie."

"Ons al twee se oë het gerek en daai middag toe melk ek ooie met 'n emmer en die hand.

"Aanvanklik het ons self die melk verbruik, maar daar was naderhand te veel. Seep was die maklikste om te maak en ons het op die internet gaan soek hoe om dit te doen. Mens kan egter net soveel seep maak en uiteindelik is ons terug internet toe om te leer hoe om kaas te maak.

"Ons het van ons eerste kase ingeskryf vir die Nasionale Kaasfees, en tot ons verbasing het ons bokfeta 'n Grand Champion toekenning ontvang en ons Chevre het 3de gekom," sê Winett.

Vanjaar het Willowbend 41 inskrywings by die Kaasfees en hulle het nog nie opgehou om nuwe produkte te ontwikkel nie. Van hulle gewildste kaas is hulle bokmelk-halloumi.

Winett vertel dat die skaapmelkprodukte later bygekom het omdat hulle by vriende in Bapsfontein gekuier het, wat skape gemelk het. Die skape was Oos-Friese en Winett het dadelik besluit dat hy ook van hulle moet hê. Om Oos-Fries-skape in die hande te kry was egter nie maklik nie, die ras is skaars in Suid-Afrika, maar hy het uiteindelik 'n boer in Hofmeyr in die Oos-Kaap opgespoor wat van die skape te koop gehad het.

Winett skerts dat hy al ver gery het vir sy vee, veral sy bokke: "Ons was al tot by Onseepkans (in die Noord-Kaap)."

Die volgende oggend groet ek die Bloemlandskap uit die venster van 'n Boeing 737-800 en ek dink aan Winett se storie van hoe die naam Willowbend ontstaan het.

Die oorspronklike plaas se naam was Brakspruit, wat nie te gaaf op die oor was nie. By 'n knak in die Tierpoortrivier – wat deur die plaas loop –staan daar 'n enkele wilgeboom en volgens Winett het die idee vir die plaas "at the bend with the Willlow" op die stoep oor 'n bier na hom toe gekom.

Vir Bloemboere, groot en klein, lê daar 'n hele klomp uitdagings voor; almal is egter hoopvol dat die droogte wat nou al vier seisoene lank aankom, volgende jaar gaan breek.