Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Ceres die Eden van Afrika

Written by  Marlene Bramley
| in Dorp
| February 18, 2014

In Romeinse mitologie word die godin Ceres bestempel as die godin van landbou, gewasse en oestyd.

Dis is dan gepas dat die dorp Ceres na haar vernoem is. Hulle noem dit die Eden van Afrika; ek glimlag wanneer ek dink dat daar onder andere hier met die verleidelike appel geboer word.

Dis bloedig warm toe ons die dag vanaf Michells-pas oor die vallei uitkyk, mens kan sommer die dorp so sien dans in die hittegolwe. Dié plek is nie vir ‘sissies’ nie. Met ’n gemiddelde somertemperatuur van 29,9°C en ’n bibberende 2,4°C in winter weet ek nie watter een die ergste is nie. Een ding is verseker, dit bly mooi, of dit nou so warm is dat die kraaie gaap of Rageltjie de Beer ver-kluim-koud is.    
Die Ceres-distrik bestaan uit drie diverse areas, elk met sy eie unieke sjarme en landskappe: Die ‘Warm Bokkeveld’ is ’n wye vrugbare vallei wat die hartklop van een van die rykste landbougebiede in die Wes-Kaap is. 9 km noord van Ceres, teen die voet van die Gydo-pas, is Prince Alfred’s Hamlet – die slagaar van die aartappel-en-ui-pakbedryf. Bo Swaarmoed, oos van Ceres, is bekend vir kersiepluk in seisoen, sneeu in die winter, proteas en asemrowende uitsigte oor die vallei. Die ‘Koue Bokkeveld’ is ’n bergagtige gebied wat op ’n plato geleë is. Dis appel-en-peer-wêreld en groente is ook vol-op hier.
Die dorpie Op-die-Berg spog nie net met gewasse nie maar ook met eksentrieke Afrikaanse name soos ‘Katbakkies, Houdenbek en Skitterykloof’.  
Die klein plekkie trap diep spore in ons kultuur met vele boeke en gedigte wat al daaroor geskryf is. Daar is ook van die oudste plase en families wat steeds hier boer. Die van der Merwes van Boplaas se seun Carel Petrus, ook bekend as Boerneef, was mede-outeur van die Tweetalige Woordeboek wat in 1931 saamgestel en gepubliseer is.
Die San-mense was seker die eerste inwoners van die gebied. Hulle het hul tekeninge in grotte en op rotse vir hul nageslagte nagelaat. Elande en olifante verskyn gereeld in hierdie tekeninge wat aandui dat dit nogal ’n wilde plek was om in te probeer oorleef.
Inboorlinge van die Bokkeveld het toeka se tyd gesukkel om oor die berg te kom Kaap toe.  Mark toe.  Hul moes sukkel-sukkel hul ossewaens heen en weer oor die rivier sleep en selfs uitmekaarhaal om oor die waterval daar te dra. Andrew Geddes Bain het in 1848 ’n nuwe pad gebou, Michellspas, wat die Bokkeveld met die beskawing verbind het. Dit het die toekoms van die gebied onherroeplik verander. Goud en diamante is ontdek en die vrugbare grond het sy skatte begin deel.
Ceres is een van die belangrikste sagtevrugte produserende gebiede in ons land. Vars vrugte asook vrugtesap, gedroogde vrugte, aartappels en uie word in Suid-Afrika asook internasionaal bemark. Ceres het onlangs wyn begin verbou en die plaaslike water word wêreldwyd geniet.

"Die klein plekkie trap diep spore in ons kultuur..."

Michellspas was toonaangewend in die ontwik- keling van die sagtevrugtebedryf in die area. Nóú gekoppel aan markte in die Kaap het mense begin vrugtebome plant, en die res is spreekwoordelike geskiedenis.
In 1922 is ’n vergadering gehou waartydens die moontlikheid van ’n koöperasie ondersoek is. Die oogmerke van die koöperasie sou wees om die belange van die sagtevrugte-uitvoerboere te bevorder; om die kommersiële aankope van verpakkingsmateriaal asook be-stuiwingsmiddels en bemesting te fasiliteer en om die moontlikheid van sentrale vrugteverpakking te ondersoek. Die Ceres Fruit Growers-koöperasie word so op die been gebring en is vandag nog een van die mees invloedryke spelers in die landbou.
Die area het ook al sy deel van ongeluk ervaar. In 1969 is een van die grootste aardbewings wat 6.3 op die Richterskaal geregistreer het hier gevoel. Die na-skokke het sovêr as Durban gedraai, tot sewe maande later. Daar word voorspel dat die gebied in die toekoms weer aardbewings kan verwag.
Verlede November het ’n haelstorm die gebied getref en miljoene rande se skade aangerig. Boere se sagtevrugte wat in vol groei was, is totaal en al verwoes. Hul enigste uitkoms is om die vrugte vir sap te laat verwerk wat baie minder werd is as die uitvoermark waarvoor dit bestem was.
Op pad na Delmien boerdery net buite Ceres word die beskadigde boorde aan my uitgewys. Mens kan sommer sien die bome lyk half dun. Glad nie so vol en reg om hul vrugte af te skud soos die res van die boorde waardeur ek geneem word nie.
Dis ’n gewerskaf en warboel van aktiwiteit op die plaas van Bennie van Rensburg. Migrasiewerkers stapel lere op ’n trok en berei hulself voor vir die dag se gepluk. Dis die begin van die oes en daar word eers van die vroeë Bon Chrétien gepluk. Dis ’n pragtige peer wat eerste gepluk word voor die groot oes van Golden Delicious-appels wat later in Februarie gepluk word. Daar hang pragtige geelperskes in ’n ander boord, asook Forelle, ’n ander peervariasie.

"Ceres Fruit Growers is vandag nog een van die mees invloedryke spelers in die landbou"

Die migrasiewerkers skerts en doen toertjies om in die foto’s wat ek neem te verskyn. Hulle lyk heel gelukkig en lus vir werk. Glad nie wat ek verwag het na verlede jaar se onrus wat uitgebreek het rondom migrasiewerkers nie. Daar word vir my vertel dat hierdie mense al jare na dieselfde plase toe kom om te pluk in die seisoen. Hul families maak staat op die geld en hul lewens draai, net soos die boer s’n, rondom die werk. Dis hulle hande wat die vrugte van die boom afhaal, saggies op die trok sit en verseker dat al die werk wat in die boorde ingegaan het die hele jaar nie verniet was nie. Die onrus was vir almal ’n skok en het dinge goed omgekrap. Vir hulle is dit ’n lewenswyse, baie meer as net politiek.
As mens die besigheid van landbou wil aanskou dan moet jy deur Ceres ry. Dis pakhuis op pakhuis, trokke wat kom en gaan, mense wat beweeg en boorde wat die middelpunt van alles is. Dis baie meer as net ’n klein plattelandse dorpie. Hier stel boere finansiële direkteurs aan om hul boeke te behartig. Daar is agente wat bemesting verkoop, vervoerondernemings wat lewer en aflewer. Bemarkingsagente wat die koop en verkoop van produkte hier en in die buiteland hanteer. Soveel so dat ek skaars ’n plek kon kry om oor te bly. Hierdie tyd van die jaar! Blykbaar is al die agente besig in die dorp tydens my besoek.
Dit is ook ’n dorp waar jy in die plaaslike hotel kan instap en vriendelik verwelkom sal word.

Stories oor spoke en meerminne en huwelike wat gemaak en gebreek word, word vertel. Almal ken almal, en almal is betrokke by die gemeenskap. Kinders van die strate afkry, opleiding, herwinning van plastiek en ander materiale – dis almal se saak.
’n Ou tannie is op haar daaglikse stappie met haar Zimmer-raam en drink haar een bier met ’n rietjie, soos sy die strooitjie noem. Die trekkervereniging het vanaand hul jaarvergadering hier en almal staan bont om reg te maak. Daar word kontakte gemaak en nommers gegee van belangrike mense in die dorp. Wat ek ook al nodig het, word openhartig gedeel. Daar is darem niemand soos die Bolanders nie.
My tyd was beperk, so ek kon nie die Zip-slaaid doen waaroor almal so gaande is nie. Ook nie bergfietsry of op ’n perd spring nie. Blykbaar word van die land se grootste teël-perde ook hier geteel. Ek kry darem ’n kans om ’n draai by die befaamde Geldenhuys-slaghuis te maak op Prins Alfred’s Hamlet. Die lam is onverbeterlik en kom net so uit die Karoo uit. Die grootse boontjies wat ek nog in my lewe gesien het, pronk by die kassiere. Hulle noem dit boerboontjies en ’n sakkie kos R26.  
Ek is gaande oor die dorp en sy mense en is verseker terug wanneer dit in die winter sneeu. Ek wil darem die kersies wat so in die ys vassit met my eie oë en in lewende lywe sien. Of ek nou op ’n paar ski’s gaan klim sal ons nog maar moet sien.

Bron:
Belangstellendes in die geskiedenis van Ceres kan gaan kyk na die Rapportryers se webtuiste by http://www.ceresmuseum.co.za/