Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Clanwilliam - Die heuwels fantasties

Written by  Marlene Bramley
| in Dorp
| April 8, 2014

Die pad na Clanwilliam is lank en amper soos ʼn koppie rooibostee, hy moet lekker trek en vat tyd om te geniet.

Ek dink aan so ʼn lekker koppie tee terwyl ons by een van die vele stoppunte tussen Citrusdal en Clanwilliam wag. Hulle werk aan die pad en slegs eenrigting-verkeer word toegelaat. Dit beteken geduld, en soos die Engelse sê "the luck of the draw."

    Want soms kan mens reguit deurry, ander dae wag jy ten minste tien minute by elke stoppunt. En daar is ’n hele paar. Een ding is verseker; wanneer hulle klaar is met die pad gaan dit die roete na Namibië aansienlik verbeter. Dit is as gevolg van dié pad dat Clanwilliam in die eerste plek ontdek is. Voor dit was dit die geheim van die miere, berge en sterre wat helderder hier skyn as enige plek waar ek al my oë opgeslaan het.
    Die Sederberge pronk majestueus oor die klein dorpie, en weerkaats hul pragtige aansig op die water van die Clanwilliam-dam. Menigte Kapenaars en oorsese besoekers kom jaarliks hier in die berge stap, of waterski op die seepgladde dam vroegoggend en laat middag. Hier waai die wind aansienlik minder as in die Kaap, en daai Kaapse dokter kom nie maklik by die klein dorpie uit nie. Dis dan ook hoekom die vallei geskik is vir soveel verskillende gewasse, van druiwe tot mango’s, sitrusvrugte, lietsjies, en ja, rooibostee. Die warm somers en matige winters is perfek vir die gewasse.
    In Augustus en September wanneer die eerste reëns geval het, begin die Namakwalandse veldblomme pronk. Besoekers kom van heinde en verre om die natuur se uitspattige pronktyd te aanskou. Hierdie is fynboswêreld en verbasend genoeg is die rooibosplant verwant aan fynbos.
    Ek het altyd gewonder hoe mense dié plant sou begin drink het. Wanneer mens na die rooierige bos stokkies kyk, is daar niks daaraan wat vir jou tee skree nie. Volgens oorlewering het die Khoisan-mense die bos gebrou en gedrink. Daar word ook vertel van mense wat in die berge in verdwyn het en met sakke vol gerwe teruggekom het van die rooibos wat hulle gepluk het. Die bosse is dan met hamers effens geslaan, en in die son gelos om uit te droog.
     In 1904 het Benjamin Ginsberg, ’n setlaar in die Kaap, gefassineer geraak met die tee. Hy het met verskeie metodes geëksperimenteer om ’n manier te vind om die bosse te fermenteer. Naderhand het hy die Sjinese metode aangewend, wat ook gebruik word om Keemun, ’n baie fyn tee, te fermenteer.
    Die rooibostakkies is in vaatjies gepak en met nat sakke toegemaak wat die Sjinese fermentasiemetode in bamboesmandjies nageaap het.
    Om die tee te verbou is ’n saak van sy eie. Die klein saadjies is moeilik om in die hande te kry omdat hulle onmiddellik versprei nadat die peule oopgaan. Khoi-vroue is voorheen betaal vir elke saadjie wat hulle in die berg kon bymekaarmaak.
    Een van dié vroue was veral suksesvol en het gereeld by Lafras Nortier, die man wat rooibos begin verbou het, aangekom met 'n vuurhoutjieboksie vol sade. Haar geheim was miere. Sy het hul dopgehou en gesien hulle dra die sade rond. Nadat sy hulle gevolg het tot by hul nes het sy op ’n wafferse saadskuur afgekom. So het sy dan ’n hand gehad in ’n bedryf wat vandag wêreldwyd bekend is. Clanwilliam is een van die min plekke op die aardbol waar die bos groei. En die bos vorm dan ook die aar wat Clanwilliam voed.
    As mens in die dorp rondloop, ruik mens die bitterige reuk wat van die tee-fabriek af kom. Dis tasbaar in die lug.
    In Mei-maand word die rooibos geplant en as dit goed reën, kan jy tee tap teen die volgende April. ’n Rooibos hou so tussen vyf en ses jaar, en word elke jaar tussen Januarie en April geoes.
    Die gerwe word gekerf en dan uitgeslaap in die son om te droog.
Die boere kyk met bedrukte oë na die aankomende reën, toe ek daar was. Dit befoeter die hele proses en al die tee wat lê om te droog moet dan weer van vooraf gedroog word. Ek besef net weer hoe fragiel alles is, en hoe aardverwarming en die weer ’n hengse impak het op alles wat ons doen, al besef ons dit nie in stede nie.
    Terwyl ons op die Khoisan-teeplaas in die berge in ry om na die bosse te kyk vertel Pieter Slabbert verder dat alles met die hand geplant en geoes word op die plaas. Daar word verder ook glad nie van enige spuitstowwe of bemesting gebruik gemaak nie. Dié tee is heeltemal organies, soos die natuur hom maak.
    ’n Ander bekende Suid-Afrikaanse tradisie wat vandag nog ook hier gevind word, is die maak van velskoene.
    Die Strassberger-fabriek kom al van die 1950’s, en ek word van die ou leeste gewys. Hannes Schreuder vertel van ’n ou man wat vir hulle gewerk het tot onlangs toe. Die man kan ’n lees maak vir poffer-voete. Voete met "bunions" of te wel eelte, en allerhande ander snaakse vorms. Die skoene word dan letterlik individueel met die hand gemaak vir jou spesifieke voet se vorm. Iets wat jy nie in ’n fabriek of van die Ooste af sal kry nie. En ’n kuns wat so saam met die ou mense sal afsterf. Die kuns van nog mens wees, individu en nie deel van een of ander gerieflike gemene deler nie.
     Die reuk van vars gebakte brood trek in my neus op en roep my na die Velskoendraai-padstal toe waar ek disse soos waterblommetjiebredie op die spyskaart sien. Die pas gebakte brode pronk pragtig in ’n mandjie terwyl Oom Nefie my vertel van die dorp en sy mense.
Een van die besoekers in die winkel kom daar aan met ’n botteltjie drinkgoed wat plaaslik gemaak word. Pittekou noem hulle dit. Daar word sommer gou-gou geproe aan die grenadellasappies met ’n skop. Net hier in die Namakwaland sal jy vroeg oggend so pitte kan kou terwyl jy jou vars stukkie brood met lekker botter smeer.  Alhoewel dit oestyd is en almal bedrywig rondhardloop, word hier nog die tyd gevat om asem te haal, ’n koppie tee te maak, en te sit en kyk na die heuwels fantasties.