Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Upington - Ver in die ou Kalahari

Written by  Marlene Bramley
| in Dorp
| May 16, 2014

Die vlug Upington toe is kort en asemrowend. Dit verstom my steeds dat ons as mense kan vlieg, en ’n blik na die aarde onder ons wat verbysnel laat my wonder oor perspektief.

Ek kyk hoe die aarde van groen berge na ’n meer droë landskap verander tot dit uiteindelik soos die spatare op ’n ou tannie se kuit onder ons lê. Hier is daar nie baie water nie. Dit kan jy sommer al so uit die lug waarneem. Tot, doer in die verte, ’n groen aar deur die landskap verskyn. Landerye, bome, mense, dorpe spring skielik tussen die spatare op.

  Terwyl ons land dink ek aan die feit dat dit blykbaar die langste reguit aanloopbaan in Afrika is en een van die langstes ter wêreld. Dis ook die enigste lang, reguit pad in die omgewing wat wel ’n einde het. Hoe dit ook al sy, die dorp is vol Spanjaarde wat luid in restaurante gil en skree, en op een van die sonplase in die omgewewing werk.
     Met die aankoms by die lughawegebou glimlag ek. Die bordjie sê Upington International Airport. Daar is twee deure langs mekaar. Die een aan die linkerkant sê “Domestic” en die een reg langs hom “International”. Nou ja toe, ek moet seker maar by die “Domestic” instap, hier in die ou Kalahari in.
     Ek arriveer op die nippertjie van die koue wat kom. Gister het dit nog in Worcester gesneeu, en dit in April! Daar is ’n koue byt in die lug en almal skarrel om reg te maak vir die bedrywige wintermaande wat voorlê. Hulle bid vir die laaste bietjie reën, net om seker te maak die veld kan al haar afhanklikes voed voor die reën eers weer in September haar verskyning maak.

"Hierdie majestueuse rivier en die Kalahari-woestyn koester Upington"

Upington2 - Copy     Ek sit op die oewer van die Oranjerivier en kyk hoe opdrifsel die rivier afdryf. Sy is in vloed na die baie reën in die ou Transvaal. Ek knyp myself toe ek die roep van ’n visarend hoor. Wanneer laas?
     Dis net ’n donkie wat hardkoppig genoeg is om so lank te loop dat hy by hierdie rivier kon uitkom. Wragtig, dis honderde myle van die Kaap af. Daar is boonop ook ’n standbeeld van die esel in die dorp. Net om dankie te sê vir die moeite.
     Die rivier en vrugbare rooi Kalahari-grond gee lewenswater aan die tafeldruif-, sitrus- en dadellandboubedrywe in die omgewing. Mens sien oral die geil landerye netjies teen haar oewers staan. Hierdie rivier is nie jou maat nie. Sy het haar oorsprong in Lesotho en kronkel al die pad Weskus toe, ’n hele 2200 km ver. Dis die langste rivier in Suid-Afrika. Deur die dorre landskappe en oor berge vind sy haar pad, en wanneer die reëns kom, bring sy lewe, elektrisiteit, hoop en genot aan die dorre aarde wat hier al langs die rivier lê.

     Upington is die enigste dorp waardeur die rivier loop, en die mense hier gebruik dit as trekpleister vir toerisme, luukse huise op die oewers, en vele safari’s Augrabies toe.
     Voor kolonialisme het mense haar die Gariep geroep totdat ’n man van die Oos-Indiese Kompanjie uit die Kaap weggeloop het op ’n uitstappie die binneland in. Toe hy sy oë op die massiewe stuk water lê, vernoem hy haar na William V van Oranje. Die naam is dus nie, soos sommige mense glo, afkomend van die kleur van die water soos die geval is met die Vaalrivier nie.
Upington4 - Copy    Hierdie majestueuse rivier en die Kalahari-woestyn koester Upington, wat ook die grootste dorp in die dorre Noord-Kaap is. Mens sou nooit kon sê dat hier druiwe vir wyn en uitvoer verbou word nie. Die Oranjerivier-kelders is ook die grootste wyn koöperasie in Suider-Afrika en in die Suidelike Halfrond, en ook die tweede grootste ter wêreld.  Hul druiwe kom uit plekke langs die rivier af. Grootdrink (waar dan nou anders!), Groblershoop, Kakamas en Keimoes gaan almal mal wanneer dit parstyd in die Kalahari is. Klink snaaks, parstyd in die Kalahari. Amper soos jagseisoen in Sandton. Maar laat ek nou nie tred verloor nie.
     Ons word verwelkom met ’n springbokboud en lekker pampoenkoekies, gestapel op mekaar in een dis. In hierdie wêreld word niks half gedoen nie. Jy doen hom of jy doen hom nie. Dis hoe dinge hier loop. Groot.
     Vroegoggend vat ons pad na die Cavalier-lewende-hawe-fasiliteit waar mens tot 7500 skaap of 2000 bees op ’n dag in die krale sal aantref.
     ’n Wilde hoenderhaan is al voor my voete in terwyl ek foto’s neem in die vroegoggendson. Ek dink hy is een van die min diere wat hier is om te bly. En met sy parmantige houding lyk dit vir my hy weet dit.

Cavalier stuur lewende skape, beeste, bokke en soms wild omtrent elke dag na slagpale en slaghuise die hele land oor. Hul noem dit “farm to fork” en die hele proses duur net 24 uur. Dit sluit vervoer en slag in.

"Hul noem dit “farm to fork” en die hele proses duur net 24 uur."

Upington6 - Copy    Voedselsekuriteit is iets wat vir almal in die landbou, en die mense wat daarvan hou om te eet, ’n bron van kommer is. Vanmelewe se dae het jagters die veld ingevlieg en met iets vir die pot teruggekom. Vandag werk dinge nog maar so hier in die ou Kalahari, maar definitief nie in die stede en dorpe waar die meeste van die bevolking bly en leef nie.
     Dit verg lewendehawe-organisasies soos dié een wat skape, bokke en beeste by boere aankoop, gradeer en dan na slagpale of voerkrale regoor die land stuur. Hier word die kwaliteit en prys van die vleis dan bepaal. Volgens Alvin Steenkamp, vennoot in die Cavalier-groep, moet Karoo-lam aan negentien verskillende vereistes voldoen voordat dit as sulks geklassifiseer mag word. Die aanvraag na maerder vleis is deesdae ook groter, en verskeie groot handelaars van vleis dring daarop aan. Nee man, gee eerder enige dag vir my ’n ou lamtjoppie met krakerige vetjies aan. Wat wil mense nou so sukkel met maer vleis? Dis naweek en ek het ’n handsak vol planne. Die foon lui en als is by die venster uit. Ons gaan kuier op die ALS-plaas. Ja, hul boer met als; van wild tot swartkopdorpers en bees. Nou ma’ toe. Laat hy loop.

Upington7 - CopyEk kom vinnig agter dat Kassie Janse van Rensburg, besturende direkteur van die ALS-groep, ’n ou jagter is. Net een keer hoef ek vir hom te noem dat die son van agter moet skyn wanneer ek daai bokke skiet. Dis nou met die kamera. En die res van die dag is die son en die afstand perfek. Soos ’n wafferse Serengeti pronk die Kalahari met sy wild. Die veld lyk mooi en belowend vir ’n vol jagseisoen wat harder en harder aan die deur van die herfs klop.
     Kassie vat ons na die houtjaghuis op die plaas. Dis op ’n oop, droë pan geleë. Soos die wolke oor die pan trek, strek die skadu’s op die uitgedroogde grond. Magtag maar dis mooi. Die mense van ALS speel nie. Hulle besit ook ’n konstruksiebesigheid en mens kan dit sien aan hoe die houthuis gebou is. Sonkrag, ’n satellietskottel vir die een toetsrugbywedstryd wat die manne nie kon mis nie, ʼn swembad met ʼn uitsig, ’n ordentlike braai, en sommer bietjie plek vir dans – is maar ’n paar van die basiese geriewe rondom die huis. En sommer ook ’n aanloopbaan op die pan vanwaar jagters ingevlieg word.

Upington8 - CopyOns ry verder tussen die rooi Kalahari-duine en word vergas met ’n vinnige stop en worsiebraai. Net daar in die middel van nêrens is daar ’n paar houtstompe vir sit, ’n mans- en damesplek vir “fluit” en ’n pragtige boom wat skadu verskaf vir die versnaperinge.
     Kassie vat ons terug na die pan vir ’n sonsondergang en ’n persoonlike groet van die sterrekombers. Ons skiet ’n paar skote na teikens en spandeer ’n hele ruk om na ’n doppie te soek wat een van ons raakgeskiet het. ’n Doppie in die donker tussen die klippe op die ope grote pan.

     Ek sal laat weet wanneer ons hom loop kry het ...