Volg ons op Facebook

Upington - 'n Dag en nag op 'n Kalahari plaas

Written by  Marlene Bramley
| in Dorp
| May 16, 2014

Na ’n besige dag van foto’s neem, word ek deur die bestuurder van ALS-boerdery, Johan Janse van Vuuren, genooi om oor te bly op die ouwêreldse Kalahari-plaas net noord van Upington.

Johan vertel hy moet gaan skaap werk, en sê ek moet saamkom.

Ek oornag in die spookhuis wat gelukkig stil was, en maak ’n braaitjie met lekker vuur-vonkende kameeldoringhout. Die vlamme van die hout wat ons in die stad kry, is mos darem maar nie dieselfde nie. Al katvoet om die vuur se put dans ek die aand verby. Mens weet nooit waar ’n ou slangetjie, dis nou ’n pofadder of ’n geelslang, sy kop gaan uitsteek nie. As ’n geelslang jou pik, is dit binne ’n oogwink verby. Voordat jy die 60 kilometer dorp toe kan maak, het jy al gegroet. En nie op ’n lekker manier nie. Hoe gril ek nou.
    Daar is ’n nes vol voëls op die stoep en hul kwetter hul aandsang tot hulle tot ruste kom. Kort-kort word hulle onstuimig wakker so tussen die geknetter van die vuur. In my geestesoog sien ek hoe hulle lepellê, en stil raak tot een weer besluit om lyf te draai.
    Die sterre hier is so naby dit voel asof mens aan hulle kan raak. Die stilte is tasbaar. Gemaklik, vol van iets wat mens vashou en deel maak van hierdie wonderlike wêreld. Mens kan tog so verlore raak tussen die warboel van vele asems. Die windjie steek op en die hemele trek toe. Dit voel soos reën wat kom. Johan sê vroeër vandag al hier kom reën wanneer die klein skilpadjies so begin loop. Dan weet jy. En hulle het dit bitter nodig. Reëns kom in die somer en dis nou al die einde daarvan.

"Die damme staan leeg en lê groot panne in die dorre son."

Die damme staan leeg en lê groot panne in die dorre son. Sonsondergang glinster hulle soos spieëls wat die wêreld wys wat ons doen. Vanaand is die pan stil. Geen weerkaatsing. Geen sonsondergang. Die son het reeds stilletjies gaan lê, en haar laaste asem uitgeblaas sonder ’n groot gejuig. Die wolke trek toe. Die reëns kom. Die skilpadjies loop, en terwyl ek die vet van my ‘saddle-tjoppies’ op die vuur hoor spat, hoor ek ’n lammer in die vêrte roep na haar ma.
    Ek dink aan wat Johan vertel het in die bakkie vandag. Van die swartkop-dorpers wat hier aard en die jakkalse wat die lammers vang. Ek wonder of hierdie een wat so huil die nag gaan oorleef. Dit laat my so klein en na aan die aarde voel. Net ’n lammetjie wat huil in die verte, en die vuur wat sing.
    Die volgende oggend is ek vroeg op, mens kan nie anders nie. Die rooi weerkaatsing van die son wat sy pad maak die kant van die aarde toe, val op jou gesig en jy weet, ek moet opstaan voor dit te warm raak, doen wat ek moet doen, en dan weer kom rus. So teen etenstyd se kant.
     Ek probeer die sonsopkoms vasvang met my kamera maar dis amper onmoontlik. Dis asof die hemele ’n koekblik-kitsch-kursus geloop het in Photoshop. Die kleure skiet teen die nog donker agtergrond uit, en waar jy kyk, is alles omring deur pienk lig. Selfs ’n kruiwa en ’n hoop gruis lyk fantasties. Eers ’n koffietjie dan vat ons die pad. Die perde moet loop haal word, en dan moet al die skape aangejaag word kraal toe.

Upington13 - CopyIn die bakkie vertel Johan hoekom wit en swartkop dorpers in hierdie wêreld aard. “Hulle het nie soveel wol nie. Magtag, dit kan warm word hier, en ’n merino sal dit nie hier maak nie. Hulle wol sal aan al die doringbossies vassteek en die bossies wat hier tussen die klippe groei, pas die Dorpers perfek. Maar kyk nou daai Dorperlammetjie, sy is heeltemal swart. Hier was ’n swart ram wat so stil-stil groot geraak het hier in die stoet.”
Mens moet onthou die plaas is 18 500 hektaar groot en vir so ’n klein swart rammetjie om deur die krake te glip is nie snaaks nie.
    “Man maar die skaap was besig hierdie jaar. Gewoonlik loop een ram so tussen 25 ooie. Hierdie swarte loop sommer so tussen 300 ooie. Sy lammers is heeltemal swart, so hy kan nou nie meer sy doen en late wegsteek nie. Net nou die dag ry ek drie sleepwaentjies vol swart lammers hier weg, almal syne. Daar is iets van ’n karakoel in hulle dink ek.”
    Johan vertel verder van die jakkalse en rooikatte wat so pla. “Daar word nooit sonder ’n geweer gery nie net ingeval iemand ’n jakkals of ’n vlakvark iewers gewaar. Die jakkalse vir die lammers en die vlakvarke wat die drade so breek. “Dis ’n probleem, die varke. As mens nie mooi hier na jou veld kyk nie, kom einde winter dan het die diere niks om te vreet nie. Die volhoubaarheid van die plaas en vee hang daarvan af dat jy die vee skuif van kamp tot kamp. Anders kan jy maar los om te probeer boer.”
Hy verduidelik die verskil tussen ’n jakkals en ’n rooikat se byt en hoe jy hulle vang. “Man, as jy ’n jakkals wil vang, moet alles reg wees. Die wind moet nie te sterk wees nie, die maan moet reg sit, dit moet nie te warm of te koud wees nie. Dis erger as visvang.”

"Kyk 'n vlakvark is 'n lelike ding"

    “’n Rooikat het ’n plat bek en eet net die boud van die skaap op. Jakkals se kind het mos ’n skerp bek, hy eet die ingewande soos die hart en sagte vleisies binne die pens. As jy so vir ’n vlakvark kyk en jy proe hom dan sal jy nie sê dis dieselle ding nie. Kyk, ’n vlakvark is ’n lelike ding.”
Upington18 - Copy    Ons sien die ruiters op die perde en ’n stofwolk soos hulle die skape aanjaag. Geduldig loop almal in ’n ry, sommige skree soos hulle maar doen.

almal in die kraal is, wys Johan vir my hoe hulle die ooie se stertjies afbind. Hy verduidelik dat dit gedoen word sodat die ooi beter gedek kan word, en dit vertoon beter. Wanneer laas het jy ’n skaap met ’n lang stert gesien. Toevallig sien ek een agter op ’n bakkie net buite Calvinia op pad terug. Dit lyk nie goed nie.
    Die hele proses gebeur sommer so woeps-waps, en wat ek verwag het gaan ’n bloederige gedoente wees is toe glad so nie. Die puntjie van die stert word afgesny en ’n rekkie word meer boontoe gebind, en daar gaan ooi se kind.
Upington19 - Copy    Die rammetjies wat die laaste van hul rondbaljaar gesien het, word gevang, hul meneertjies word met ’n rekkie gebind en laat gaan. Hul wil nog onmiddellik op ’n ooitjie spring, maar helaas, daai dae is verby.
    Dit val my op dat hierdie mense elke skaap ken, elke lammer se lewensverhaal kan vertel. Alhoewel die diere weggestuur word vir slag word hulle baie mooi na gekyk. Amper ’n persoonlike stryd gevoer om die regte veld, genoeg water, tydige inenting en probleemvrye geboorte te bewerkstellig. Daar word ’n hand op elke dier gelê.
Nou verstaan ek wat “free range” of “organies” beteken.
    Dit voel vir my asof ek hierheen kan trek en net op die plaas kan kom lewe. As mens eers die Kalahari se water gedrink het dan los hy nie vir jou nie.