Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Kakamas is 'n woestynparadys

Written by  Marlene Bramley
| in Dorp
| May 30, 2014

Ons ry verder met die Oranjerivier af en kronkel ons pad Kakamas toe.

Verby Kanoneiland en Keimoes net so ‘n entjie verder om die draai. My mond hang oop want dis asof ons in die middel van die wynland is, nie die woestyn nie. Daar is ook ‘n paar heuwels in die verte, en dis juis waarheen die pad ons neem. Kakamas lê net oor die berg en die uitsig op die landskap wat jou verwelkom wanneer jy daardie bult klim, is amper so wyd en genadig as wat die mense gasvry is in hierdie wêreld.

      Kakamas is glad nie ’n groot dorp in enigeen se boek nie. Daar is ’n paar strate en een hoofstraat, soos jy kry in die meeste klein plattelandse dorpies. Dit is egter misleidend, vind ek later uit, nadat ek eers al die interessante bedrywighede gesien het wat agter die masker van die ‘kleine’ dorpie verborge lê.

     Die dorp is so te sê rondom die kerk gebou, wat ook gepas is aangesien die kerk tot die ontstaan van Kakamas gelei het. Aan die einde van die vorige eeu het die kerk ’n kolonie op die plase Soetap en Kakamas gestig om na boere om te sien wat als verloor het tydens die groot droogte en runderpes. Daar het hul toe begin bou aan ’n watersisteem om voorsiening te maak vir die boerdery in die geharde omgewing rondom die rivier.
    Vandag nog bestaan daar twee kanale en tonnels wat met die hand gegrawe is tydens die draai van die vorige eeu. Die waterwiele wat ook in en om Kakamas gesien kan word, het ook nie sonder die gepaste kleindorpse drama gebeur nie. ’n Meneer Piet Burger het die ontwerp van die waterwiel vervolmaak, en word as die eienaar van die konsep erken. Maar soos die mens nou maar is, kom daar toe ’n goudsmid wat die patent probeer registreer as sy uitvindsel in 1922. Tot vandag toe nog baklei mense oor waar die waterwiel uitgevind is, en wie dit die eerste keer gebruik het. Dis ’n taamlike fatale argument aangesien die waterwiel, horisontaal of vertikaal, al deur die Egiptenare en Grieke lank voor die bestaan van enige dorpe op die Oranjerivier in gebruik geneem is.
     In 1912 word daar toe besluit om ’n hidroëlektriese kragstasie te bou op die noordelike kanaal. Dit was so ’n sukses dat daar na die bou van die kragstasie planne beraam is om selfs krag aan Upington se gemeenskap te lewer. Dit is as gevolg van hierdie wonderlike kanale wat gebou is dat Kakamas vandag een van die mees vrugbare areas in die omgewing is, en ook die heimat van die tafeldruif-uitvoerbedryf in die land. Die area voer ook perskes, gedroogde vrugte, rosyntjies, lemoene en dadels uit.

     In Junie 2013 word ’n moderne hidroëlektriese projek van stapel gestuur wat ’n verdere kanaal en kragstasie oprig. Volgens Neil Theron van HydroSA wat die projek bestuur, sal die nuwe kanaal nie enige invloed op die Oranjerivier of die huidige kanale hê nie aangesien alle water wat gebruik word vir die opwek van krag teruggekeer word na die rivier toe. Die ontwerp van die projek is van so ’n aard dat dit eers water aan die kanale lewer, en eers daarna water aftrek vir die opwek van krag. Indien daar nie genoeg water in die rivier is nie, sal die kanale eers water kry, en die kragstasie sal afsluit tot dat daar weer genoeg water in die rivier vloei.
     Die Kakamas-gemeenskap en boere sal baat by die baie meer stabiele kragvoorsiening, veral binne seisoen wanneer boere daarop staat maak en daarvan afhanklik is vir hul boerderybedrywighede. Die projek neem ook 140 plaaslike mense in diens, en die plaaslike gemeenskap besit ’n 15%-aandeel daarin deur middel van die Kakamas Hydro Community Trust. Die aandeel is deur die IDC befonds en dividende word deur die trust aangewend vir gemeenskapsprojekte.
     Wanneer die projek voltooi is, na raming in 2015, sal die nuwe kragstasie 10MW en 70 Gigawatt per uur se elektrisiteit in ’n jaar kan opwek. Definitief nie te versmaai in hierdie dae van kragonderbrekings nie.  

     Ek verstaan nou hoekom ek, tot my verbasing, ’n hele Babelse kakofonie van verskillende tale in die hotel gehoor het waar ons oorbly. Nie net werk verskeie internasionale vakmanne aan die hidro-projek nie, maar is daar Spanjaarde wat op die sonplase rondom Kakamas werk wat ook hier uithang. Die dorp se vooruitgang en inisiatiewe hou net nie op om my te verbaas nie. Oom Dick, eienaar van die Kalahari Gateway Hotel en konferensiesentrum vertel vir my hoe hy een van daardie soesji-bars uit die Kaap uit ingevoer het om soesji in die Kalahari te kom bedien. Ek verbeel my selfs ek het ’n biltong-soesjie iewers opgemerk, nie geproe nie maar dit het my oog gevang.

     So gepraat van biltong. Ons word toe ook genooi vir aandete en ’n sonsondergang op die balkon van die Mas van Kakamas, ’n plaaslike kelder wat wyn, brandewyn en allerhande lekkernye produseer. Coetzer en sy broer Vlok Hanekom (van Boer soek ’n vrou-faam) onthaal ons met hul wonderlike stories en karaktervolle gasvryheid wat warmer is as die somerson op ’n kokerboom.
    Die Oranjerivier glip glinsterend voor die wingerde verby terwyl die son haar laaste betowerende strale oor die pragtige landskap gooi. Nou moet ons braai! Daar word spesiale Nguni-lendeskywe uitgehaal en perfek gaargemaak en bedien met lekker brood en konfyt wat tannie Hanekom self gemaak en ingelê het. Dis Nguni-wêreld die, hulle is gehard en aard perfek in die omgewing. By die plaaslike landbouskool hou hulle ’n stoet aan wat vir niks terugstaan nie. Die heerlike biltong is ook uit ’n ander wêreld.

     Vroegoggend word ek die berg ingevat om foto’s te neem by die keerwal. Terwyl die aarde draai, en die eerste strale saggies op my wang kom lê, dans die kokerbome glinsterend teen die berg. Die rivier kronkel soms vinnig, dan stadig deur die vallei, en lewer haar lewensbloed aan al die groen lande wat so op haar staatmaak.
     Ons stop by Kobus van Zyl van die Loveren-boerdery vir ’n koppie koffie en ’n geselsie. As mens aan diversifikasie dink, dan moet mens die man se besigheid sien. Hy voer tafeldruiwe uit en maak rosyntjies. Dan het hy ook ’n sitruskwekery wat sowat 130 000 sitrusboompies per jaar produseer. Hy noem so in die verbygaan dat hy ook besig is om 152 huise te bou wat 620 mense kan huisves op ’n stuk grond wat hy as ’n bemagtigingsprojek vir sy werkers bestuur. Ons klim in die bakkie en gaan kyk gou. Daar word ’n dam gebou vir waterverbruik in die huise, en dis ’n komplete dorp wat daar gebou word! Nogal met ’n wonderlike uitsig oor die vallei.
     Die kwekery is ook ’n belewenis. Daar is ’n ontkiemingskamer waar die sitruspitte ontkiem totdat die onderstam van die boompie begin groei. Van daar word hy na die tonnels toe geneem waar die temperatuur beheer word, en altyd tussen 25 en 30 grade is. Die boompies vat tussen 18 en 24 maande voordat hulle gereed is om uitgeplant of verkoop te word aan boere. Volgens Kobus het hy na sitrus begin kyk om die jaar vol te kry. Vroeër het sy werkers met leë hande gesit na afloop van die druiweseisoen. Nou kan hulle die hele jaar lank werk en vir hulle gesinne voorsien. Dit balanseer ook die boerdery sodat alles nie net van een tipe oes afhanklik is nie.
     Dit is met ’n sinkende hart wat ek weer die lang pad terug Kaap toe aandurf. Ons word selfs padkos gegee toe ons by die hotel vir Oom Dick gaan groet. Dié wêreld en sy mense het ’n groot indruk op my gelaat. Indien jy ooit wonder waarheen om te gaan wanneer jy wil ontspan en net weer met jouself kontak wil maak, dink gerus aan die Noord-Kaap. Gaan kuier gerus langs die Oranjerivier en sy mense.  Jy sal ’n ander mens terugkom.  

Bron; Wikipedia ‘Waterwheel.