Volg ons op Facebook

Addo - Die dorp. Die olifant. Die donkie, en blou wilde feeste.

Written by  Marlene Bramley
| in Dorp
| June 26, 2014

My reis na Addo kan vergelyk word met 'n langdurige rit deur 'n wildtuin waar niks ooglopend gebeur nie.

Na dae van hitte, eentonige paaie waar mens net 40km per uur kan ry, gebrek aan rusplekke, en al die dinge wat ek kan onthou as 'n kind oor vakansies in die Kruger-Nasionale Park, kyk en kyk mens tot jy blou is en sien net 'n paar troppe bokke.

Nadat jy afgepak het, begin mens so half en half jou omgewing waardeer. Jy hoor die hiënas in die verte, daar brul 'n leeu soos ‘n koning, trompet 'n olifant, en sowaar as wragtig sien jy, op dieselfde pad waar jy gister absoluut niks gesien het nie, diere uit alle oorde peul. So mak jy kan aan hulle vat. Modeldiere vir foto's neem, en hulle draai ook sommer so mooi in die lig dat mens hulle net só kan afneem.
         Die punt wat ek probeer maak, is wanneer mens weet waarvoor om te kyk, of wanneer jy in pas is met jou omgewing bring dit vir jou eindelose skatte.
         So met my aankoms wonder ek wat ek vir 'n hele week in dié plek gaan doen. Daar is 'n paar winkels, 'n vulstasie, esels en ... dis dit! Nie 'n restaurant in sig, of 'n tipe kuierplek waar ek in die aand kan gaan stories optel nie. Ek dink by myself dit gaan 'n lang week wees.
ADDO-0871         Hier kan jy 'n inkommer soos ek, myle ver sien aankom. Die meeste families bly generasies lank al hier. Ek het ook gedink, as gevolg van die geskiedenis van die area, dat dit baie meer Engels sou wees. Maar weer eens is ek mislei, ek word lekker in Afrikaans begroet en ontmoet tydens my verblyf baie min Engelse mense.
Untitled-28        Natuurlik is die area heeltemal tweetalig want dit speel gasheer vir talle buitelanders wat op die verskeidenheid gasteplase rondom die Addo-Nasionale Park kom kuier. En dis nou waar al die restaurante en kuierplekke is. Daar is omtrent om van te kies en te keur. Jy kan op 'n sitrusplaas bly, of in 'n gesondheidspa, of 'n luukse wilds-plaas met 'n uitsig oor die hele vallei. Te veel om te noem.
         Die feit dat daar baie geld in omloop in die vallei is, is ook ooglopend. Netjiese boorde staan oral teen die paaie rondom Addo. Werkers is vroegoggend op pad boorde toe om die oes in te bring. Pakhuise is doenig, en lorries laai pragtige lemoene, suurlemoene en ander sitrus soos klokslag daar af.
         Met al my reise van dorp tot dorp elke maand het ek sekere reuke met sekere streke begin verbind. Hier hang die vars geur van sitrus in die koue winterlug. Skerp, vars en asemrowend.
IMG 8056 2         Dit is dan ook hier waar Fitzpatrick sy boek "Jock of the Bushveld" geskryf het. In die einste klein huisie langs die Untitled-29Homestead gaste-plaas. Ons klim 'n kop uit en kyk oor die vallei, net bo die plek waar daar 'n herdenkingsplaat opgerig is vir Fitzpatrick en sy vrou. Die boorde lê uitgestrek voor ons, met die berge van die Addo-park in die verte. 'n Mengsel van onaangetaste natuur en verboude grond. Tekens van die mens soos ons was en waar ons nou is.
Ronnie Beyl, het in die area grootgeword en vertel dat mens die kwaliteit van die veld onmiddellik kan ken aan die stand van die spekbome wat daar groei. Indien daar genoegsame spekbome is, en hulle gesond is, dan weet jy die veld is gesond.
        Wetenskaplikes het reeds in die 1960’s en 1970’s agtergekom die spekboom werk anders as ander plante. Wat die spekboom nog meer spesiaal maak, is dat sy humus nie kan brand nie. ‘n Vuur kan dit dus nie vernietig nie, en sy organiese materie, sowel as die koolstof wat dit uit die lug opneem, word uiteindelik in die grond geberg. Studies wat in die veld gedoen is, toon dat ‘n gemiddelde stand van spekbome tot 4 ton koolstof per jaar per hektaar vasvang.
IMG 4064         Navorsing het verder bewys dat die Spekboom een van die mees suksesvolle koolstof-vangputte ter wêreld is. ‘n Spekboom kan tot 100 keer meer koolstof uit die atmosfeer haal as wat 'n denneboom van dieselfde grootte kan doen. Hierdie tipe bosveld kom net in Suid-Afrika, Mexiko en Spanje voor, maar is reeds grootliks uitgeroei in laasgenoemde twee lande.
        Spekbome gaan dus 'n revolusionêre omwenteling in boerdery in die Oos-Kaap in die toekoms veroorsaak. Honderdmiljoen rande behoort uiteindelik beskikbaar te wees om boere te betaal om hul Spekboomvelde weer te herstel, deur hul veegetalle te verminder of meer Spekbome aan te plant. Op die oomblik is daar projekte aan die gang om die honderde hektaar uitgetrapte kaal veld in die streke van die Sondagsrivier en die Baviaanskloof weer onder Spekboom te vestig. Boere gaan dus in die toekoms dalk boer met koolstof deur middel van hul Spekbome.
         Die Addo-nasionale park is om die draai van Addo af, en in die middag wat ek daar spandeer hang my mond behoorlik oop. In die kort rukkie wat ek by Gorah kuier, 'n luukse lodge wat ook in die Park gevestig is, sien ek vlakvarke, 'n olifant, koedoes, sebras en waterbokke. Sommer net so. Op pad terug ry ek tussen 'n trop olifante deur. Hulle loop in die middel van die pad asof dit aan hulle behoort, en ek moet haas want die hek maak oor 'n halfuur toe. My hart klop in my keel soos ek stilletjies my pad tussen dié enorme diere vind, en ek besef weer eens hoe klein ons spesie regtig is. 'n Olifant is 'n paar weke gelede deur 'n ander een gewond, en is kort daarna dood. Hy lê langs die pad, en ek kom op 'n paar jakkalse af wat lustig daaraan vreet. Hulle baklei nogal asof daar nie genoeg vir almal is nie.
Untitled-30       Anders as die diere wat baklei oor 'n olifant wat gevrek het, het die Sondagsrivier-sitrusmaatskappy (SRCC) besluit om nie met mense hier te baklei oor die vrugbare grond nie. Daar is 'n bemagtigingsprojek van stapel gestuur in 2006 met die samewerking van mnr. Gugile Nkwinti, die destydse LUR vir landbou in die Oos-Kaap, en so is die Sundays River Farming Trust (SRFT) gestig. Vier plase is aangekoop en bestaan uit vier boerdery-eenhede wat gesamentlik 350 hektaar beslaan wat sowat 1 miljoen kartonhouers uitvoer-sitrus lewer. Wat die projek verder uniek maak, is dat die regte mense gekies is om deel te neem aan die projek, en hul word die mentors gegee wat hulle die vaardighede aanleer wat benodig word om 'n sukses van hul boerdery te maak. Opleiding word hoog geag, en die plaaslike mense word bemagtig deur hulle vaardighede aan te leer wat nodig is vir boer en die bedryf daarvan - lees meer oor die projek by die skakel: (http://m24lbarg01.naspers.com/argief/berigte/landbouweekblad/2009/08/28/LB/44/01.html)
IMG 8451 2        Soos 'n voël wat soggens sy vere regskud, maak die omgewing homself reg vir die Kirkwood Wildsfees wat die einde van die maand daar plaasvind. Meer as 45 000 mense sak dan op die klein dorpie toe om wild te gaan, wild te proe, wild te koop, en wild te praat. Skaapkoppe word gebak, wors gestop, en wildpasteie by die dosyne gemaak. Sien die program op bladsy 14 vir meer besonderhede.
       Die son sak, die diere soek slaapplek, en ek begin my tas pak om die lang pad huis toe te vat. Volgende keer wanneer ek na die bosveld verlang, sal ek nie eers twee keer dink waarheen om te gaan nie. Addo is koning, soos sy olifante en die leeus wat eeue lank al daar brul.