Volg ons op Facebook

Skeer my hier, skeer my daar

Written by  Charles J. Fourie
| in Landbou
| August 5, 2014

Die mensdom se verhouding met die skaap - blykbaar ’n afstammeling van die moeflon of wilde bergskaap inheems aan die bergagtige dele van Sentraal- en Suidwes-Asië – strek oor meer as 10 000 jaar.

        Aanvanklik is skape hoofsaaklik vir melk en vleis aangehou. Uitgeslagte velle is as pelse vir bekleding gebruik. Eers rondom 3 500 VC is wol vir die eerste keer gespin. Teen die Middeleeue het boere besef dat ’n skaap van jou mees produktiewe veediere is: die vleis, wol, velle, en natuurlik die melk, wat gebruik is om botter en kaas van te maak.
        Hier op eie bodem was daar al voor die koms van die Europeërs vetstert-skape - later as Ronderib-Afrikaner en Steekhaar-Afrikaners bekend. Maar ons wolbedryf is eers gevestig toe kol. R.J. Gordon in 1789 ses Spaanse Merino’s van die Nederlandse regering ontvang het. Die Van Reenen broers, J. F. Reitz en Michiel Van Breda was van die eerste wolboere.
        Vandag is die meeste van ons slagskape Vleismerino’s of van die Île de France ras. Vleismerino’s (“Duitse Merino’s”) is in 1932 ingevoer. Van die ander bekende rasse wat ook mettertyd bygekom het, is die Dorper, Karakoel, Dormer, Damara en Van Rooy. Wolproduksie verskil van ras tot ras. ’n Wolmerino-ooi produseer sowat ses kg wol per jaar, en ’n Dohne-Merino ongeveer vyf kg. Die SA Vleis-merino produseer daarinteen slegs sowat vier kg.
skaap1        Alhoewel die wêreld deesdae meestal van kunsvesels (65%) en katoen (20%) gebruik maak, maak die duursaamheid en luuksheid van wol (2%) dat die produk se gewildheid bestendig bly.
        Ons staan vandag so tiende op die wêreld-ranglys van wolproduserende lande. Australië en China voer die botoon in terme van uitset, maar ons bedryf staan nie terug nie, en word as belangrike rolspeler in die wêreldmark gereken.
        ’n Skaap se wolbedekking (vag) bestaan uit ’n digte weefsel van fyn wolvesels. Ondanks mededinging, bly wol gewild as tekstielvesel: dis lig, kleur maklik, is baie rekbaar, en kreukel nie maklik nie. Boonop is dit redelik water-werend, en slaan dit betreklik moeilik aan die brand.
skaap2        Piepklein skubbetjies op die buitekant van elke wolvesel onderskei wol van hare. Hierdie skubbetjies pers onder druk saam. Die aantal skubbetjies wissel na gelang van die fynheid van die vesel - vanaf 15 mikrometer (superfyn Merinowol) tot 30 mikrometer of meer vir die growwer soorte. Fyn wol is duursamer, en dus meer waardevol. Ons bedryf produseer hoofsaaklik fyn- tot mediumgraad wol.
         Volgens Riaan Myburgh van Cape Mohair and Wool (CMW) op Malmesbury is die lente die beste tyd om te skeer: “Die skoonopbrengs in wol is baie hoër as byvoorbeeld in die herfs, omdat dit nie so droog is nie. Ooie lam ook in die winter. Dit is nie goed om met die diere te lol wat dragtig is nie.” Hy meen ooie behoort vanaf ten minste ses weke voor lamtyd uitgelos te word.
        In die ou dae is met handskêre gewerk, maar vandag word meesal meganies geskeer. Deesdae kan ’n skeerder tientalle skape op ’n dag skeer. Die vag word in een stuk - soos ’n klein wolkombersie - met lang, gladde hale verwyder, sonder om die skaap te beseer, en dan op die “afrandtafel” uitgelê sodat swakker wol – te kort, vuil, ens – verwyder kan word. Hierna word die vagte geklassifiseer volgens die wol se lengte en fynheid.
        Ons spog met van die beste skaapskeer-ders in die wêreld. Hierdie seisoenale arbeiders, meestal van Lesotho en die Oos-Kaap afkomstig, trek as spanne tussen kommersiële boere rond vir ongeveer ses maande van die jaar.
skaap3        Volgens Riaan Myburgh verkies heelwat skeerders egter deesdae voltydse werk, met die gevolg dat getalle van professionele skeerders elke seisoen skerp afneem. Vanweë dié afname word dit nou as ’n kritieke vaardigheid erken, en kan buitelanders daarom as skeerders hier kom werk. Die Hoër Landbouskool Winterberg in Fort Beaufort is egter tans steeds een van die min skole wat skaap-skeer-opleiding aanbied.
        Twee Suid-Afrikaanse skaapskeerders is onlangs aangewys as onderskeidelik wêreldkampioen en naaswenner in die handskeer-afdeling. Mayenzenke Shweni en sy spanmaat Zweliwile Hans het aan die Golden Shears skaapskeer-en-wolhanteringskampioenskap in Ierland deelgeneem.
        Beide is bekroonde skeerders wat al aan kompetisies by die Bloemfontein Skou en die Nampo-oesdag - waar Shweni al sewe skape binne 17 minute en 21,2 sekondes geskeer het - deelgeneem het. Hulle vertel dat dit nogal ’n uitdaging was om die groter Britse skape (hoofsaaklik Texels en Suffolks) te skeer. Dié skape is nie net groter en swaarder as Merinos nie, maar die wol is ook baie langer.
        Volgens Izak Klopper van die Nasionale Wolwerkersvereniging (NWKV), het ons uitstekende masjien-skeerders, maar sukkel hulle soms nog met spoed wanneer hulle die groter dubbeldoelrasse moet aandurf.
        Skaapskeerdery mag egter iets van die verlede word danksy ’n nuwe metode wat tans in Australië op die proef gestel word. Die skaap word met ’n net bedek en dan ingespuit met ’n natuurlike hormoon wat maak dat die vag uiteindelik van die skaap “afbreek” en saam met die net verwyder kan word. Maar voorlopig bly dit nog net ’n wolhaarstorie!