Volg ons op Facebook

Kringe in die fynbos

Written by  Schalk van der Merwe
| in Landbou
| August 5, 2014

Met lente in die lug, staan ons op die drempel van die 2014 /2015-fynbos-snyblom-uitvoerseisoen.

Boonop kuier Plaastoe! hierdie maand in die Overberg, wat van die bedryf se belangrikste produksiegebiede insluit.
        Ons kyk bietjie na wat die fynbos-snyblombedryf vandag behels, asook na die jongste ontwikkelings, soos die uitvoer- en verbouingsyfers vir 2013/ 2014 wat in Mei bekend gemaak is, die onlangse samesmel-ting van SAPPEX (SA Protea Producers and Exporters) en PPSA (Protea Producers of SA) om die nuwe oorkoepelende bedryfsliggaam Cape Flora SA te vorm, ontluikende markte, asook die strenger fitosanitêre maatreëls met betrekking tot uitvoere na die EU wat onlangs in werking getree het.

Hoofsaaklik ʼn uitvoerbedryf van verboude en wilde produkte

       Die waarde van ons vars fynbos-snyblom-bedryf word tans op R85 miljoen per jaar gereken. Die oorgrote meerderheid van die produksie (ongeveer 80%) word uitgevoer, hoofsaaklik na die EU via die Nederlandse blommemark. In 2012/2013 is ongeveer 28.5 miljoen stele verboude blomme en ongeveer 835 000 gemengde ruikers (hoofsaaklik
3-5-blom) uitgevoer.  
        Ons voer regdeur die jaar uit, maar die hoofseisoen is vanaf Oktober tot Januarie, met ʼn besliste piek oor Oktober/November. Spesiale “blommedae” (soos Moedersdag en Valentynsdag) is belangrik buite die seisoen. Eindverbruikers is veral Britte, Duitsers, Nederlanders en Skandinawiërs wat ʼn luukse (nie-noodsaaklike), treffend-eksotiese produk met ʼn betreklike lang vaasleeftyd koop.
        Die flambojante lede van die protea-fa-milie – proteas (genus), tolbosse (Leucadendron) en speldekussings (Leucospermum) – is van die grootste kommersiële belang. Veral die skouspelagtige proteas is belangrik as fokale blomme. Kaapse heide (Ericas), Brunias (volstruisies), Phylicas (veerkop-pies) en wilde grasse is ook belangrik, veral as vulselmateriaal. Kenmerkend van die bedryf is die kombinasie van materiaal (soms van verskillende produsente) in gemengde ruikers.
        Die meeste fokusblomme (en ook enkele vulspesies) word deesdae aangeplant. Dít ten einde die grond meer effektief te benut, behoorlike gehaltebeheer toe te pas, vinniger op marktendense te kan reageer, asook om produksie regdeur die jaar te verseker – veral ʼn faktor vir produsente met beleggings in infrastruktuur soos verkoelde pakskure (die norm onder groter produsente).
sheep4        Daar word veral op die aanplant van geselekteerde gekloonde materiaal gefokus – insluitende nie-endemiese spesies, hibriede en kultivars. Volgens ʼn inligtingstuk van SAPPEX (“So you want to grow Proteas?”) lê die toekoms van die bedryf in weefselkultuur en geneties-gemanipuleerde materiaal. Die hoop is dat daar sodoende nog vinniger op nuwe merkvereistes en moontlike peste gereageer sal kan word. En natuurlik om die mees doeltreffende oordrag van gewenste eienskappe – soos lang stele, goeie ver-voereienskappe, lang rakleeftye en bestandheid teen peste en siektes – te kan verseker.
        Produksie is in ses streke in Suid-Afrika gevestig, hoofsaaklik die Wes-Kaap, maar ook die Oos-Kaap en KZN. Die twee Kaapprovinsies saam verteenwoordig 34 plaaslike produksie-areas. Veral die Wes-Kaap is belangrik, en spesifiek die Overberg (9 plaaslike gebiede), Suid-Kaap (8), Boland (7) en Weskus (5). Volgens ʼn opname wat in 2011 onder 30 PPSA-lede gedoen is (550 ha onder verbouing), was van die belangrikste aanplantingsareas Porterville (120 ha),   
Riversdal (70 ha), Piketberg (57 ha) en Napier (53 ha). Die opname het egter nie produsente in die belang-rike produksiegebiede in die Suid- en Oos-Kaap ingesluit nie.
         Veldbronne verteenwoordig steeds ongeveer 60-65% (per stele) van ʼn tipiese fynbosruiker in die handel. Volgens Cape Flora SA benut sy 155 lede tans ʼn totale area van ongeveer 49 000 ha natuurlike veld om op te oes. Veldbronne is veral belangrik vir vulselmateriaal.  

Etiese terroir

        Ons is nie die enigste produsent van Kaapse fynbos-snyblomme nie. Van ons mees gewilde soorte word reeds dekades lank in lande soos die VSA, Israel, Zimbabwe en Nieu-Seeland verbou. Sommige kommersiële kultivars en hibriede is selfs oorsee ontwikkel. Die Amerikaanse mark word byna uitsluitlik deur groeiers in Hawaii en Kalifornië bedien. Israel, met soortgelyke groeitoestande as ons s’n, is beter geleë om markte in Europa en Asië te bedien, en is van ons sterkste kompetisie.
       Maar ons het een onoortreflike troefkaart: alleen óns produk het die potensiaal vir etiese terroir, omdat dit ʼn natuurlike produk van die wêreld se mees biodiverse veld is, en indien reg benader, beduidend tot die bewaring daarvan kan bydra. Inisiatiewe bestaan ook om sosiale volhoubaarheid (die derde been van die “tripple bottom line”) binne die bedryf te bewerkstellig, soos byvoorbeeld die suksesvolle en baanbrekende Sustainable Harvesting Initiative wat binne die bestek van die Agulhas Biodiversiteisini- siatief (ABI) ontwikkel is, en tans danksy nuwe skenkerbefondsing as loodsprogramme in die Weskus-, Boland- en Riversdal-areas van stapel gestuur word.
        En dis toenemend ʼn belangrike voorkeurpunt vir die hedendaagse Europese verbruiker. Onlangse navorsing toon dat terwyl EU-verbruikers steeds nie bereid is om ekstra vir ʼn gesertifiseerde volhoubare produk  te betaal nie, hulle dit beslis verkies bo ongesertifiseerde produkte teen dieselfde prys. Groot toonaangewende oorsese en plaaslike verskaffers (onder andere Marks & Spencer en Pick n Pay) is boonop toenemend geneig om ons gesertifiseerde fynbos as hul etiese-vlagskipprodukte te bemark.

Die 2013 / 2014-uitvoerseisoen

        Volgens die Fynbos Joint Marketing Forum (JMF) se SA Exports and Estimates (22 Mei 2014) is die kontinentale EU tans by verreweg ons vernaamste uitvoerbestemming (70%), gevolg deur die VK (14%), Asië (7%) en die Midde-Ooste (5%). Uitvoere na die VSA en die res van Afrika het elk slegs 1% beloop. Reële syfers dui voorts daarop dat die JMF se Februarie-uitvoerskatting (die eerste tot nog toe in die geskiedenis van die bedryf) met betrekking tot die drie mees belangrike kategorieë (stele van proteas, tolbosse en speldekussings), ʼn oorskatting van slegs 0.11% behels het. Proteas en tolbosse het ietwat swakker presteer as verwag, maar speldekussings ietwat beter (4%).
        Volgens die JMF het 12 uitvoerders aan die 2013/2014-seisoen deelgeneem.  Hierdie totaal sluit egter Fynsa in, wat ondertussen hulle deure gesluit het. Reële syfers toon dat protea-stele dwarsdeur die jaar uitgevoer is, met aansienlike pieke in Oktober (meer as 450 000 stele) en November. Uitvoere (per aantal stingels) het vir al agt die mees beduidende proteakultivars toegeneem.  Die prentjie vir tolbosse is vergelykbaar – uitvoere regdeur die jaar, en skerp pieke in Oktober en November. Met uitsondering van Safari Sunset, het uitvoere van alle be-langrike kultivars óf toegeneem óf dieselfde gebly.
        Ook “Cape greens” is dwarsdeur die jaar uitgevoer, met ʼn besliste piek vanaf September tot November. Oktober was die beste maand, met meer as 2 miljoen stingels. Veral lede van die genusse Brunia en Berzelia was belangrik onder inheemse spesies, maar die grootste produk was ʼn Australiese fynbos-tipe boorling, die Gereldton-wasboom (Chamelaucium), waarvan nagenoeg byna 2.25 miljoen stele uitgevoer is (ongeveer ʼn kwartmiljoen meer as die vorige jaar). Grasstele, waarvan die genus Typha (papkuile) by verreweg die belangrikste (1.8 miljoen stingels) is, is ook regdeur die jaar uitgevoer, met ʼn piek in April/Mei. Uitvoere in April het ongeveer 425 000 stingels beloop.
        In teenstelling daarmee is speldekussings wesenlik vanaf Julie tot Desember uitgevoer, met ʼn skerp styging vanaf Augustus tot September, en ʼn skerp daling ná November. Vergeleke met die vorige seisoen, het uitvoere vir al vier die belangrikste kultivars toegeneem. Succession het die beste gevaar, en net onder 3 miljoen stele is uitgevoer. Die uitvoer van protea-ruikers het alle ander ruiker-tipes totaal oorskadu. Ongeveer 800 000 protea-ruikers is uitgevoer, gevolg deur “greens”-ruikers (iets meer as 100 000). Vergeleke met die vorige seisoen, is ongeveer ʼn kwartmiljoen meer protea-ruikers uitgevoer. Aansienlik minder tolbos-ruikers is egter uitgevoer. Protea-ruikers is regdeur die jaar uitgevoer, met ʼn beduidende piek in Maart/April. Tolbos-ruikers is hoofsaaklik in Oktober uitgevoer.

Tot 1 100 ha fynbos tans onder verbouing

        Volgens die JMA se boomsensus (Tree Census Trends & Review of the Past Season, 22 Mei 2014), was daar in 2013 ongeveer 919 hektaar (ha) onder verbouing. Volgens Mnr. Theunis Jordaan, sekretaris van Cape Flora SA, kan hierdie totaal tans egter tot 1 100 ha beloop. Dit is beduidende groei vanaf die 300 ha wat in 1992 deur Professor Richard Cowling van UCT toe in verbouing geskat is, maar meer as die helfte minder as die “nagenoeg 3 000 ha” volgens ʼn artikel oor fynbosverbouing wat in 2007 in die Farmer’s Weekly verskyn het.  
        In 2013 het fokale blomme ongeveer 93.5% van aanplantings verteenwoordig, met proteas steeds by verreweg die belangrikste (516 ha), gevolg deur speldekussings (206 ha) en tolbosse (138 ha). Vuller-materiaal (“Cape greens”) het 59 ha beloop. Vergeleke met 2012, het protea-boorde met 13.5% (81 ha) gekrimp, terwyl aanplantings in alle ander kategorieë toegeneem het (ʼn totale toename van 17 ha). In 2013 was ongeveer 26% van protea-aanplantings jonger as 2 jaar, terwyl 23% 3-5 jaar oud was, en 37% tussen 6 en 17 jaar. Elf kultivars het 84% van die aanplan-tings verteenwoordig, met slegs drie –
Cynaroides (38%), Barbigera Magnifica (16%) en Sylvia (11%) – verantwoordelik vir 65%.  Aanplantings jonger as 2 jaar was veral vir die Cynaroides- (55 ha), Sylvia- (18 ha) en Grandiceps- (20 ha) kultivars.
        Nie-draende tolbosse (jonger as 2 jaar) het 14% van aanplantings verteenwoordig, met die meeste in die 5-12 jaar-kategorie (55%). Twaalf kultivars was vir 70% van aanplantings verantwoordelik – waarvan drie – Rosette (17%), Safari Sunset (15%) en Discolor (8%) – vir 40% (55 ha). Aanplantings jonger as 2 jaar dui daarop dat van die huidige staatmakers slegs Rosette (3 ha) nuut aangeplant is. Daarenteen is daar eer-der kultivars soos Pom-Pom Mini (2 ha) en Gold Strike (1 ha) aangeplant.
        Speldekussings was ook hoofsaaklik in die 5-12 jaar-ouderdomskategorie (50% van aanplantings), met nuwe aanplantings (<2 jaar) verantwoordelik vir 14%. Elf kultivars was verantwoordelik vir 88% van aanplantings,  waarvan vier – Succession (29%), Jelena (16%), Veldfire (10%) en Soleil (10%) – vir 65% verantwoordelik was. Met uitsondering van Soleil, was daar beduidende nuwe aanplantings vir die ander drie (18 ha totaal). Ander beduidende kultivars jonger as 2 jaar was Tango (3 ha) en Goldie (2 ha).

sheep5Die nuwe Cape Flora SA-liggaam

        Na samesprekings verlede jaar tussen PPSA en SAPPEX, histories die twee groot bedryfsliggame (waaraan lidmaatskap vrywillig was), is daar op ʼn spesiale jaarvergadering in Maart vanjaar besluit om die twee liggame te laat saamsmelt, hoofsaaklik met gebruikmaking van bestaande PPSA-strukture. Die nuwe organisasie staan as Cape Flora SA bekend, en het tans 155 lede. Die organisasie verteenwoordig alle kommersiële verbouers en uitvoerders. Lidmaatskaap is outomaties via die statutêre bedryfsheffing.
        Cape Flora SA se mandaat is in die handel van fynbos-snyblomme, met ʼn spesifieke fokus op lede van die protea-familie en “Cape greens”. Benewens die stroombelyning van produksie en bemarking, sluit oogmerke ekologiese en sosiale volhoubaarheid vir die bedryf in. Die fokus is op ʼn bedryf wat volhoubaar in die langtermyn is, met vooruitsigte vir groei. Die liggaam beoog ook om die verenigde stem van die bedryf te word – iets wat baie belangrik is in onderhandelings met  provinsiale owerhede (soos Cape Nature) en regeringsdepartemente (soos Landbou, Omgewingsake en Waterwese).  
        Volgens Mnr Jordaan sluit sleutelkwessies in die bedryf tans hoë EU-invoertariewe, hoë fitosanitêre drempels in sekere lande (bv. die VSA) en die ontwikkeling van nuwe markte in. 

Nuwe markte

        Aantreklike markte in die VSA, Japan en China bly om ʼn verskeidenheid van redes – fitosanitêr, logistiek, gevestigde kompetisie – steeds grootliks ontoeganklik vir ons produsente. Australië het hul eiesoortige fynbos-tipe produkte wat met ons s’n mee-ding – dinge soos die Waratah-protea (Telopea spp) en die Geraldton-wasblom (Chamelaucium)  – wat ons albei ook hier aanplant.    
        Cape Flora ondersoek tans markte in Thailand, Indië, die Ver-enigde Arabiese Emirate en Rusland. Elk bied unieke uitdagings. Die ontwikkeling van die Russiese mark is tans die belangrikste, maar historiese bande ontbreek, en logistieke netwerke moet gevestig word. Ook die VSA is ʼn belangrike mark wat nie langer geïgnoreer kan word nie.  
        Volgens Mnr. Jordaan is Cape Flora SA tans besig met ʼn aansoek om befondsing in terme van die Sustainable Initiative of South Africa (SIZA) te bekom sodat lede Fair Trade-sertifisering goedkoper kan bekom. Daar word verwag dat dergelike sertifisering voortaan die norm sal wees. Vyf bemagtigingsprojekte binne die bedryf is ook tans op die been.

Insekverstekelinge

        Ondanks ‘n goeie 2013/2014 seisoen, is heersende lae blompryse, mededinging, en hoë verskepingskostes (ongeveer 25% duurder as die vorige seisoen) kwelpunte in die bedryf.
        Só ook maatreëls wat die EU in Junie vanjaar afgekondig het om invoere van plantmateriaal via Nederland (in beheer van 60% van die wêreld se snyblomhandel) aan strenger fitosanitêre kontroles te onderwerp, onder andere die doeltreffende beheer van insekverstekelinge – iets wat moontlik verreikende gevolge vir ons bedryf kan inhou, veral vir wilde plukkers.
        Volgens Mnr. Jordaan was daar al vantevore soortgelyke geluide vanaf die EU, maar het daar nie veel van gekom nie. Soos die
sitrusbedryf egter kan getuig, kan mens Brussel nie sommer aflag nie. Veral wilde plukkers word geraak, want, anders as aanplanters, pas hulle uiteraard nie insekbeheer in die veld toe nie.
        Produsente en wilde plukkers word deur die Departement van Landbou, Visserye en Bosbou aangeraai om hulself van die betrokke nuwe riglyne en norme te vergewis. Proteas moet liefs in die sagteknop- (“soft bud”) stadium geoes word, voordat stuifmeelliewende insekte aangelok word. Stele wat tekens van boorders toon, moet weggegooi word. Die chemiese behandeling van veldgeplukte produkte in die pakstoor is van wesenlike belang.

Vir meer inligting in verband met die betrokke nuwe norme, besoek gerus die Departement se webtuiste:

www.daff.gov.za/daffweb3/Branches/Agricultural-Production-Health-Food-Safety/Food-Safety-Quality-Assurance/Export-Standards/Flowers