Volg ons op Facebook

Die heuning is pasella

Written by  Schalk van der Merwe
| in Landbou
| October 6, 2014

Tot en met die grootskaalse aanplanting van suikerriet in die 17de eeu, was heuning die mens se mees beduidende bron van gekonsentreerde suikers – aanvanklik insluitende vir alkoholfermentasie.

        Orals waar heuningbye natuurlik voorkom, word heuning tradisioneel kulinêr op prys gestel, en het dit ryk en positiewe kulturele konnotasies. Die meeste kulture het ook – in teenstelling met ander insekte – oorwegend positiewe assosiasies met bye.
        Tot onlangs was die mens egter naïef oor die “bees and the flowers and the trees” (bestuiwing is eers rondom 1750 wetenskaplik beskryf), en vandag nog word nie mooi besef (of nagedink) dat die heuning eintlik net ʼn heerlike pasella is nie. Bye se eintlike diens, bestuiwing, is van onskatbaar groter waarde.
        Aan Einstein word (skynbaar verkeerde-lik) toegedig dat die wêreld soos ons dit ken binne vier jaar na die verdwyning van die bye sou vergaan. Vier jaar is miskien ietwat pessimisties spesifiek (en die uitspraak is nou wel eers ʼn dekade na Einstein se dood opgeteken), maar die sentrale insig is Einsteiniaans. Selfs ʼn toedigting van Churchill se “never have so few done so much for so many” sou nie ontoepaslik gewees het nie.

bye-1So ook die blomme

        In ons menssentrale wêreldbeskouing is ons maklik geneig om te vergeet dat die wêreld soos hy vandag lyk meer deur insekte as onsself geskep is. En dat die wêreld se ekosisteme goed sonder ons sal regkom, maar nie sonder insekbestuiwers nie. Ons is ook geneig om te vergeet dat die blomme eintlik nie vir ons is nie. Want in die gesonde funksionering van ekosisteme is ons maar opportunistiese passasiers (of erger).
        Plante is die basis van lewe op ons planeet. Plante kan op hul eie (vegetatief) voortplant. Dit hou egter ʼn evolusionêre nadeel in: geneties identiese plante is swak bestand om by veranderende omgewingstoestande aan te pas of nuwe omgewingsnisse te koloniseer. Die evolusionêre antwoord was bestuiwing, en veral kruisbestuiwing tussen verskillende plante: ʼn proses wat genetiese materiaal kombineer, en ook ruimte vir moontlik voordelige mutasies laat.
        Dié skuifgreep was so suksesvol, dat blomplante (angiosperms) so 100-60 miljoen jaar gelede keëldraende plante (denne, ens.) as die dominante vorm van plantegroei verplaas het, en in ʼn ongekende veelvoud van soorte. Terwyl sommige plante (grasse byvoorbeeld) op die wind vir bestuiwing sou staatmaak, was dit die insekbestuifdes wat die mees gesofistikeerde strategieë ontwikkel het om geteikende, effektiewe kruisbestuiwing te verseker. En hierin was hul groot vennoot vir ten minste die afgelope 80 miljoen jaar, die bye.
        Nie alle bestuiwers is bye nie. Ander insekte (soos motte, miere, vlieë, besies), voëls, vlermuise en ander klein soogdiere of reptiele is almal belangrike (dikwels gespesialiseerde) bestuiwingsagente. Ook nie alle bye is heuningbye nie – die ware heuningbye (stam Apini, genus Apis) omvat maar so 11 spesies van die nagenoeg 30 000 bekende byespesies. Maar die heuningbye, en veral die Westerse heuningby Apis mellifera (die ikoniese heuningby), is die wêreld se ongeëwenaarde bestuiwers.

bye-2Byebehoeftes

        Van bye se kant word die vennootskap gedryf deur die behoefte aan nektar (meestal suikers), stuifmeel (ryk aan proteïne) en in ʼn mindere mate, propolis (antimikrobiese plantharse, ens.). Metabolies verwerk bye nektar en stuifmeel tot heuning, was, en voedsel om die larwes en koningin mee te voer. Lug- en waterdigte was word vir verskillende konstruksie-doeleindes gebruik (byvoorbeeld om heuning en larwes te huisves), en propolis dien as huishoudelike ontsmettingsmiddel. Die enigste ander belangrike inset wat bye nie van plante versamel nie, is water.
        Heuningbye is bedags aktief, en maak meer op sig as reuk staat. Heelwat van hul sigwaarneming is in die ultra-violet gedeelte van die spektrum. Wat vir ons na wit of eenkleurige blomme lyk, het daarom dikwels patrone wat slegs onder ultra-violet sigbaar word. Dié patrone is niks anders as landingsmerkers vir bye nie. Bybestuifde plante het ook dikwels nektarbuise wat spesifiek op bye se monddele afgestem is. Ons praat hier van die meeste blomme wat wit, geel of blou is. Wat maak heuningbye so onmisbaar?

bye-3Superbodes

        Vanuit die plant se oogpunt is bye deeglik, en mors hulle nie tyd nie. Danksy hul effektiewe kommunikasie (die komplekse “danse” waarmee verkenners die nes van belowende bronne in kennis stel), kan op ʼn doelgerigte swerm se dienste in pleks van ʼn paar toevallige besoekers staatgemaak word. Effektiewe kommunikasie beteken dat bye selfs op dae met slegte weer kan werk.
 bye-4       Bye is hariger as die meeste ander insekte, en word maklik van stuifmeel oortrek – goeie bodes dus. Anders as ander insekte, besoek hulle net een plantsoort op ʼn slag, en die stuifmeel kom dus ook by die regte adres uit. Bye konsentreer op die hoof-nektarvloei in hul omgewing, en is dus uiters geskik om groot groepe van dieselfde plantsoort binne beperkte bestuiwingsperiodes te bestuif – boorde, of kanola en sonneblomvelde.  
        Individuele bye (en die swerm) beskik oor ʼn leervermoë. Hulle kan op enige tydstip tot 7 blomplante se oopgaantye (tye van die dag) in hul omgewing memoriseer, en daarvolgens versamel. Bye gaan op nektarvloei af, en sal aanhou om dieselfde blom oor ʼn paar dae te besoek solank dit nektar produseer (en dus nog gedeeltelik onbevrug is). So sal bye ʼn aarbeiblom byvoorbeeld tot 20 keer besoek, totdat die saamgestelde vrug volkome bevrug is.
        En anders as die meeste ander bestuiwers, is heuningbye generaliste. Solank die nektar-vloei bedags is, en fisies bereikbaar is, is hulle nie te kieskeurig nie – af en toe maak hulle selfs van plante heuning wat vir ons giftig is (byvoorbeeld van sekere Euphorbias). In heelwat biome is hulle die sleutelbestuiwers van veldblomme en bome. Europese koloniste het heuningbye na al die kontinente waar hulle nog nie voorgekom het nie, versprei. En die moderne landbou in al hierdie lande sonder die bestuiwingsdiens van bye is haas ondenkbaar.

bye-5

Genoeg Chinese, maar die appeltjies is maar klein

        Onlangs sien ek ʼn Switserse dokumentêr wat die implikasies van landbou sonder bye mooi tuisgebring het. Die storie loop so: tydens China se Groot Sprong Voorwaarts (1958-61) is daar oorlog op mossies, vinke en ander geveerde oespeste verklaar. Die volk is gemobiliseer om dié vernielsugtige nuttelose bekke te vernietig. Wat ook uiters doeltreffend gedoen is. Spoedig was dit egter duidelik dat insekpeste die eintlike wenners was. Die voëls se gratis insekbestrydingsdienste moes nou toenemend met chemiese insekdoders vervang word. Swaar kanonne soos DDT is grootskaals ontplooi. Die stryd teen die peste was onwenbaar. Maar in die proses is wel daarin geslaag om plaaslike heuningbybevol-kings in sekere streke volkome uit te wis.  
        En dit was die eintlike skade. Hele boorde word nou met die hand bestuif (met stuifmeel wat eers met die hand geoes is). Stel jou die byna onbegonne taak voor om byvoorbeeld ʼn paar hektaar appelbome bloeisel-vir-bloeisel tydig met die hand te bestuif. As mens verder in gedagte hou dat appelbloeisels (byvoorbeeld) elk liefs vyf keer bestuif wil word, dan besef jy eers hoe bisarre die situasie eintlik is. Duur, omslagtig, en oneffektief.
        Want geen mens kan met bye kompeteer as dit by bestuiwing kom nie. Een heuningby kan van 50 tot 1000 blomme per vlug besoek. ʼn Tipiese swerm maak so 400 miljoen bestuiwingsbesoeke per jaar. Soos gesê, sal hulle aanhou om bloeisels te besoek solank dié nektar produseer, en dus sorg dat een bloeisel soveel keer besoek word as wat nodig vir volkome vrugsetting – goed ontwikkelde, uitgeswelde en voedingsryke vrugte en sade – is.    
        Appels is maar een van heelwat gewasse wat of volkome of gedeeltelik van heuningbye vir natuurlike bestuiwing afhanklik is. Volgens SANBI is 40-70% van ons inheemse blomplante van bye afhanklik, sowel as 50 gewasse. Katoen, lusern, koffie, sitrus, klawer, makadamianeute, die meeste steenvrugte, kanola, sonneblomme, sekere subtropiese vrugte soos mango’s, bessievrugte en ʼn rits ander is hierby ingesluit. Ongeveer 30% van die voedsel wat ons direk inneem. Alles ʼn diens wat gratis deur ons twee inheemse sub-spesies heuningbye – die Kaapse by en die Afrika-by gelewer word.
        Die byeboer se direkte of indirekte bydrae tot landbouproduktiwiteit is daarom veelvuldiglik groter as die blote produksie van heuning, was en ander byeprodukte. En dan praat ons nog nie eers van veldplante, tuine, hortikultuur, ens. nie. Of die estetiese genot wat blomme ons bied nie.
        Tereg kan daar dus gesê word dat bye-boerdery waarskynlik die enigste landbou-aktiwiteit op die planeet met ʼn oorwegend-positiewe invloed op die omgewing en alle ander landbou is. Tog is wilde en “mak” swerms wêreldwyd in lewensgevaar.

bye-6

Wêreldwyd in gevaar

        In die EU en VSA wek die verwoestende Colony Collapse Disorder (CCD) die afgelope dekade heelwat publieke kommer. In Suid-Afrika was die verwoestende impak van die bakteriese siekte Amerikaanse Vuilbroed ʼn paar jaar gelede pal in die nuus. Alle bronne is dit steeds eens: die wêreld se byebevolkings is onder groot druk. Die groot sondebokke is sekere wanpraktyke van industriële landbou, menslike verskuiwing van spesies, en die verlies van habitat en voedingsbronne.
        Die ontoepaslike gebruik van pes- en onkruiddoders word allerweë as een van die hoofoorsake beskou. Insekdoders en heelwat ander pesdodende middels is fataal vir bye. Selfs onkruiddodende middels kan dodelik wees. Nie alle middels dood onmiddellik nie, en van hulle dood indirek (deur byvoorbeeld bye se oriëntasievermoë aan te tas). Dit is dus van kritieke belang dat boere en tuiniers noukeuring volgens verpakkingsinstruksies bespuit.
        Ironies genoeg is die byebedryf self verantwoordelik vir heelwat ander sleutelprobleme. So merk die FAO byvoorbeeld op dat die bedryf byna wêreldwyd onder geïntroduseerde peste gebuk gaan, feitlik in alle gevalle as gevolg van die verskuiwing van bye tussen verskillende streke sedert die laat 1980’s. Inheemse bye is dikwels goed aangepas teen inheemse peste, maar het min verweer teen ingevoerdes. So kon die Asiatiese varroa-myt binne die bestek van twee dekades die meeste wilde byebevol-kings in Europa uitwis, en bly dit steeds wêreldwyd ʼn gevreesde pes. En ons inheemse Aethina tumida-kewertjie saai tans grootskaalse verwoesting onder byebevolkings in Noord-Amerika.

bye-7

        Selfs bye kan vir bye gevaarlik wees. Suid-Afrika is ʼn klassieke voorbeeld. Die meer gemoedelike Kaapse by (subspesie capensis) is rondom 1990 deur byeboere noord van hul natuurlike fynbostuiste gevestig. Die Kaapse by is egter dodelik vir die Afrika-by (scuttelata). Uniek tot die Kaapse by kan werkersbye ook eiers lê wat tot werkers en koninginne kan ontwikkel. Hulle kan dus bestaande neste van ander Afrika-bye oorneem, die koningin verplaas, en uiteindelik die oorspronklike kolonie in duie laat stort. Die gevolge was katastrofaal vir ons nasionale byebedryf. Regeringsmaatreëls is sedert die laat 1990’s van krag, maar die probleem is steeds nie volkome onder beheer nie.
        Terwyl sommige monokultuur-gewasse – sonneblomme en kanola – velde vol nektar op een slag bied, het bye toegang tot ander bronne buite hierdie gekonsentreerde blomtye nodig om te kan oorleef. Byeboere skuif hul korwe, of vul hul bye se dieet met suikerwater aan. Wilde swerms het nie hierdie voordeel nie. Hulle moet dus ver vlieg en kan minder kos versamel. Onsensitiewe stadsbeplanning (groot grasperke, geteerde areas, ens.) en industriële ontwikkelings het dieselfde katastrofale uitwerking op ons bye se voedingsbronne. In die Wes-Kaap sien mens nog gereeld hoe Eskom lae fynbosplan-tegroei in serwitute met bossiekappers doodslaan. Ook die bestuur van indringerplante behoort bye in ag te neem. So is die behoud van bestuurde bloekomplantasies van kritieke belang om ons byebedryf en ook wilde bye deur die jaar te help dra.

National Honeybee Foraging Week – maak ʼn bydrae

        Suid-Afrika vier vanjaar vanaf 22–29 September die eerste National Honeybee Foraging Week. Dit is daarop gemik om die publiek bewus te maak van hoe belangrik bye is, en hoe belangrik dit is om byvriendelik te plant en tuin te maak. Soos gesê, terwyl heelwat van ons gewasse op bye staatmaak, bied boorde en velde van dieselfde soort nie voldoende nektar om bye regdeur die jaar te dra nie. Buite blomtye het hulle ander bronne nodig.

Byvriendelike tuinmaak kan ʼn groot bydrae lewer:  

  • Plant dagblommende plante wat goeie nektar en stuifmeelbronne lewer. Goeie inheemse keuses is die wag-‘n-bietjie-boom, blinkblaar, basterolien, soetdoering, wilde peer, asook boegoes, aalwyne en wilde aspersies.
  • Plant ʼn verskeidenheid van plante wat oorvleuelend regdeur die jaar blom.
  • Moenie plante wat besig is om te blom met pes- of onkruiddoder bespuit nie.
  • Bye sal ʼn bron van water, soos ʼn dammetjie, waardeer.

        Moenie enige swerm wat op jou eiendom intrek, doodmaak nie. Roep die hulp van ʼn professionele byevanger in. Dié wat by die bedryfsliggaam SABIO geregistreer is, is professioneel verplig om die swerm in soverre lewendig moontlik te vang en te hervestig.

        Op groot eiendomme, oorweeg dit om hoë bome en ander geskikte natuurlike nesmaakplek vir wilde swerms beskikbaar te stel. Veral in die Wes-Kaap met sy gemoedeliker Kaapse by is vreedsame naasbestaan in my ervaring nie te moeilik (solank die nes met rus gelaat word) nie.