Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Sagte vrugte harde arbeid

Written by  Charles J. Fourie
| in Landbou
| October 7, 2014

Wat is sagtevrugte? Alle vrugte wat sag is, vorm nie noodwendig deel van die landboubedryf nie. Appels en pere staan bekend as die kernvrugte. Pruime, perskes, nektariens en appelkose staan weer bekend as steenvrugte. En tafeldruiwe (nie die vir wyn nie) maak die res van die bondel uit.

        Onder die ses vrugtesoorte is daar verskillende kultivars. Appels behels basies drie soorte; naamlik rooi appels, soos Starking, Topred en York Imperial, die geelgroen Golden Delicious en die grasgroen Granny Smith. Pere word ook in drie groepe verdeel, naamlik die geel-peer of Bon Chretien, die groen-peer, Packham's Truimph, en bruin pere, Beurre Bosc, Beurre Hardy en Winter Nelis. Dan is daar die Forelle - 'n helderkleurige geelrooi peer met 'n besondere aroma en raklewe, wat nie in een van die ander drie groepe val nie.
        Steenvrugte is die interessantste van alle sagtevrugte. Hulle is seisoenaal. Appelkose is skaars en min daarvan word vars verkoop. Hulle eindig meestal op die inmaak- en droogmark. Perskes is baie gewild maar speel tweede viool vir die meer gewilde geel-vleis-nektariens. Laasgenoemde, en veral die Kaapse nektariens, se bekende kultivars omvat die bekende Armking (wat eerste ryp word) Sunlite, Independence, Flavour Top, Flamekist en Fantasia.
sagtevrugte2        Pruime is nie juis plaaslik gewild nie, maar ons spog met van die wêreld se beste pruime. Hier praat jy van die Santa Rosa, Harry Pickstone, Golden King en Songold.
        Kaapse tafeldruiwe is dan laaste op die lys;  met die bekende Black Emperor, Alphonse Lavallee, Waltham Cross, New Cross, Barlinka en die nuweling Dauphine wat saam met 'n hele paar ander klein variëteite al hoe gewilder raak
Die bedryf – 'n oorsig
        In Maart 2009 is bereken dat ons vrugtebedryf in sy geheel nie minder nie as R12,8 miljard sterk was, en sagtevrugte het ongeveer 15% van Suid-Afrika se totale inkomste uit uitgevoerde landbouprodukte omvat.
        Jeens aanvanklike deregulering in 1997 was daar ontwrigting in die bedryf. Maar met die stigting van die SPT (SA Sagtevrugte-produsentetrust) as sambreelliggaam met die doel om die bedryf te bevorder, koördineer, befonds en te bestuur, het sake weer vinnig momentum gekry. Op 1 Oktober 2009 is die SPT amptelik vervang deur HORTGRO wat in die toekoms sou omsien na die bedryf se belange. HORTGRO staan dan ook pa vir verskeie instansies wat ook SASPA (Suid-Afrikaanse Steenvrugteprodusentevereniging), insluit.
        Vandag lyk die sagtevrugtebedryf rooskleurig en roem ons vrugteboere hul op gehaltevrugte wat van die beste ter wêreld is, met Europa as vernaamste uitvoerstreek.
        Sagtevrugteverbouing met onder andere perskes, pere, pruime en pruimedante, appelkose en nektariens maak volgens 2013 se statistieke ongeveer ʼn derde uit van die totale sagtevrugteverbouing in Suid-Afrika.
        Volgens HORTGRO lyk die grondproduserende skaal vir die vorige jaar so; pere (12 034 hektaar), perskes (7 441 hektaar), appelkose (3 020 hektaar), nektariens (2 239 hektaar) en pruime (4- 895 hektaar). Appels (22 443 hektaar), en tafeldruiwe (26 631 hektaar) maak die res uit.
sagtevrugte1        Verbouing van sagtevrugte kom grootliks in die Wes-Kaap voor met variëteit -skaalverbouing in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Oos-Vrystaat, Noord-Kaap, Limpopo, Noordwes, Oos-Kaap en Gauteng.
Ons mark ontkiem
        Die SA- Koöperatiewe Vrugte-beurs is in 1921 in die lewe geroep om bestaande vrugtekoöperasies saam te snoer. Vyf jaar later is dit opgevolg deur die SA- Koöperatiewe Sagtevrugte-beurs. Saam het hulle die bedryf uitgebrei maar gehaltestandaarde was nog van min belang.
sagtevrugte3        Teen die vyftigerjare is die enkele handelsmerk, “Cape”, vir Kaapse vrugte ingestel, en het die handelsmerk ’n waarborg geword vir vrugte van hoë gehalte.
        Met die totstandkoming van die Europese Ekonomiese Gemeenskap in 1962 het verkope verder toegeneem, met die sewentigerjare as ’n hoogtepunt. Teen die tagtigerjare is sanksies vir uitvoere na Amerika, Kanada en Skandinawiese lande ingestel. Maar met die afskaffing van sanksies in die middel-negentigs is die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf weer eens in ’n heel ander liga gewerp.
        In 2013 is ʼn affiliasie gestig tussen die Sagtevrugte-ontwikkelingskamer van Suid-Afrika (DFDC SA), die Suid-Afrikaanse appel-en-peer-produsente-vereniging (SAAPPA) en die Suid-Afrikaanse steenvrugteprodusente-vereniging (SASPA) en Afasa (African Farmers’ Association of South Africa).
sagtevrugte4        Die doel is om spesifieke steun aan beginnerboere in die bedryf te verleen. Hiervolgens sal die organisasies hulp en bystand bied aan hul lede en produsente om verbeterde tegniese vaardighede, navorsing en ontwikkeling, Plaastoe!gang, asook werknemer-verhoudinge te verseker.
ʼn Sagtevrugteboer van Montagu vertel
        Johan Esterhuizen boer al jare lank in die Montagu-distrik en vertel dat hulle ʼn wenresep vir kwaliteitvrugte in die streek het omdat Montagu en omgewing geseën is met ʼn relatief warm, droë klimaat. En as jy water hier byvoeg, het jy die ideale omstandighede om met   sagtevrugte te boer.
        “Langs die rivierlope is daar goeie diep alluviale grond en hier haal die manne tonne vrugte af, en klop die somme goed wat betref omset per hektaar. Maar die meeste van die ander grond is skaliegronde wat besproei moet word om die volle potensiaal te ontwikkel,” vertel hy.
        In die hoër, kouer areas van Montagu, soos die Koo-vallei, word appels en pere verbou.  Montagu was tradisioneel bekend vir sy Muskadel en daar word steeds gehaltewyne geproduseer. Jare gelede het die ou Brink’s Broers ʼn inmaakfabriek op Montagu begin. Hier is Bulida-appelkose en geel taaipitpers-kes gelewer.
        Vandag word dit hoofsaaklik deur Langeberg & Ashton sowel as Rhodes Fruit ingeneem en verwerk. Met die oorvloed van sonskyn produseer Montagu ook gesogte gedroogde vrugte.
        Die uitvoerbedryf het dan ook in die vroeë negentigs in die Montagu-distrik posgevat en tans is daar talle pakstore, en word daar op groot skaal appelkose, pruime, nektariens en ook sitrus verbou, verpak en uitgevoer.   Tafeldruiwe word ook geproduseer en deur boere self verpak en plaaslik, sowel as oorsee, bemark.
sagtevrugte5        Johan vertel dat die klimaat, alhoewel gunstig in die omgewing, ook maklik sy rug op jou kan draai. “Montagu is bekend vir sy vloede. Die pas afgelope seisoen het ons baie reën tydens die oes-periode gehad wat tot groot verliese gelei het. Hier het ook ʼn fratshaelbui deurgetrek wat binne minute derduisende rande se skade aangerig het.”
Wat behels sagtevrugteverbouing prakties gesproke?
        Alle vrugte is gekoppel aan die seisoene en begin by die boord.  
        Faktore soos grondvoorbereiding, fisies en met chemikalieë, speel ʼn groot rol. ʼn Boord is ʼn langtermynbelegging en moet vir ten minste 20 jaar sy kant kan bring. Die boer moet weet watter kultivar op watter grond die beste verbou kan word, opleiding van werkers moet ook in plek wees, en die besproeiingstelsels moet goed beplan word. ʼn Verkeerde besluit kan die boer duur te staan kom.
        Wintermaande is snoeityd. Elke vrugsoort is anders, aangesien nie alle groei- en dra- wyses van verskillende vrugte dieselfde is nie. Daar is ook nie ’n regte of verkeerde snoeimetode nie, maar eerder ’n beter of slegter een. Goeie snoeipraktyke lei tot beter lighuis-houding, vrug-lading, gehalte en  grootte. Dit vergemaklik ook die uitdun- en oes-prosesse.
Gedurende die lentemaande loop die spuitpompe.
        Johan meen ook dis bykans onmoontlik om ʼn gesonde vrug op die rak te plaas sonder die gebruik van chemiese plaag-beheermiddels. Hy weet daar is heelwat menings en kritiek hieroor, “maar al wat ek kan sê, is dat dit goed gereguleer word deur AVCASA (Association of Veterinary and Crop Associations of South Africa).”
        Voordat die oesproses van die vrugte kan begin, word proef-vrugte vir chemiese residu-ontledings weggestuur. Indien daar oorskrydings is, word die vrugte onmiddellik aan die mark onttrek en vernietig.
        “En watter boer kan dit nou bekostig? In Montagu is ons bevoorreg om kundige persone te hê wat die boere adviseer oor watter produkte gebruik moet word, asook die hoeveelheid chemiese produk en tyd van aanwending.”
        Aangesien die meeste vrugsoorte gedurende Augustus en September blom, is ʼn vrugteboord gereed vir uitdunning in Oktober.
“En as Oktobermaand volgens oom Langenhoven die mooiste, mooiste maand is – is dit vir die sagtevrugteboer die besigste, besigste maand,” vertel Johan laggende.
sagtevrugte6        Bykans alle boorde op die plase is tegelykertyd reg om uitgedun te word. Honderde vruggies word met die hand    van die bome afgepluk om te verseker dat die wat op die boom agterbly die beste kans het om mooi groot te word.
        Soos die dae geleidelik warmer word, styg die boom se water- en voedingsbehoefte. Die toediening van kunsmis (wat, waar, en wanneer) is ʼn spesialiteitveld op sy eie, vertel Johan. “Verby is die dae van ʼn vis-blikkie per boom.”
        Elke boord verg dat dit anders hanteer word. Jaarlikse blaar-ontledings, grond-ontledings, groeikrag, blaarkleur en produksiesyfers moet in ag geneem word om te bepaal hoeveel kunsmis wanneer en waar toegedien word.
        Water lewer boonop sekerlik die mees onderskatte bydrae tot die proses van vrugteverbouing. ʼn Groot aantal van Montagu se boere is afhanklik van die CBR-waterskema vanuit die Breërivier, wat deur die Cogmanskloof gepomp word om aan plase so ver as 20 km weerskante van die dorp water van te voorsien.
        “Die swart slang het Montagu se goue aar geword,” sệ Johan.
Alhoewel dit baie duur is, is produksie sonder dié water in die Montagu-distrik bykans onmoontlik. Daar is egter ook plase wat bevoorreg is om water vanuit fonteine in die omliggende bergreekse te kan onttrek. Gegewe dat water skaars en duur is, rus daar ʼn verantwoordelikheid op elke boer, nie net in Montagu nie, om dit oordeelkundig aan te wend.
        Oestyd begin reeds so vroeg as middel November en word voltooi in Maart wanneer die laaste vrugte by die kelders afgelaai word. Dis lang, sweterige, warm dae, waartydens die vrugte van ʼn hele jaar se insette en oppas ingesamel word.
sagtevrugte7        “Maar soos die berge Montagu en sy mense omring, word ons daagliks deur die Genade van ons Hemelse Vader omring. Dis ʼn voorreg om in Montagu te boer!”
Gedroogde vrugte
        Nog ʼn bekende in die sagtevrugtebedryf in Montagu is JP Viljoen. Hy het destyds Montagu-droëvrugte en neute begin (vandag beter bekend as Montagu Dried Fruit and Nuts). Viljoen het destyds besef daar is ʼn groot aanvraag na droëvrugte en sy maatskappy gou op die been gebring om die markaandeel te teiken.
        Twee jong broers wat destyds op Viljoen se plaas kom werk het, De Wet en Hannes van Rooyen, het kort na hul universiteitstudies plan gemaak om inkomste te verdien. Hulle het met Viljoen se hulp droëvrugte bekom, neute aangekoop, en sommer vanuit die garage verpak en verkoop.
        Vandag het hulle ʼn wesenlike markaandeel in die droëvrugte- en neute-mark en is daar twee bene van die maatskappy naamlik Montagu Dried Fruit and Nuts en Montagu Trading Company waarvan laasgenoemde deur Hannes Jansen bestuur word. Hulle is ook die grootste werkverskaffer in Montagu en spog eersdaags met nog meer takke landswyd.  
sagtevrugte8        Op die vraag in ʼn berig in Die Burger-koerant: Waaraan hulle hierdie wenresep te danke het – is die antwoord – “’n Fokus op gehalte en die suksesvolle vestiging van hul handelsnaam!”
        Hannes Jansen, besturende direkteur van Montagu Trading Company, verduidelik, Montagu Trading Company se primêre doel is om ’n mandjievol produkte en kommoditeite, wat almal met die Montagu-streek verband hou, aan verbruikers te verskaf.”
Hulle is dan ook die grootste aankoper van plaaslike sagtevrugte in die distrik, maar bedryf ook hul eie perske- en appelkoosboorde.  Hulle aandeel in die droëvrugtemark omvat tans omtrent sowat 20% van die droëvrugtemark, met Safari/SADF (South African Dried Fruits) wat die grootste aandeel van die plaaslike mark en buitelandse uitvoere besit.