Volg ons op Facebook

Mikro-vee insektproteïen as die volgende stap in die landbou

Written by  Schalk van der Merwe
| in Landbou
| November 5, 2014

“Mikro-wild” kan mens hulle nog noem. Dit is nou die nagenoeg 2 040 eetbare inseksoorte waarvan ons weet.

Die FAO, toonaangewende universiteite in die VSA, Nederland en Asië, en vindingryke ondernemers, is egter besig om hierdie grens te verskuif, en van hulle “mikro-vee” te maak: bestem vir veevoer en as menskos. Die volgende evolusionêre stap in veeteelt word dit genoem, en een wat volgens die FAO ʼn basiese boublok van 21ste eeuse landbou en globale voedselsekerheid kan word. Mits die toonaangewende Weste sy diepgesetelde fiemies kan afleer, en die idee van insekte as veilige en voedsame voedingsbron leer aanvaar.
        Die leidraad in dit alles is ons groeiende, globaliserende wêreldbevolking se behoefte aan proteïen.

Onsusbare vleislus  

        Volgens die FAO word daar verwag dat die wêreldbevolking teen 2050 sal begin afplat op 9 miljard (ons is nou 7.1 miljard). Voedselskaarste en chroniese wanvoeding heers tans reeds in ongeveer 70 van die wêreld se lande. Met verstedeliking, en veral gekoppel aan die strewe na Westerse lewensstyle wat globalisering meebring, word verwag dat die wêreld se behoefte aan veeprodukte (vleis, melk, eiers) 465 miljoen ton per jaar sal beloop – meer as dubbeld 2000 s’n. Landbou sal dus aansienlik meer moet produseer.
insects-2        Die probleem is dat daar bitter beperkte ruimte vir die volhoubare uitbreiding van bestaande dierlike produksietegnieke is. Want die hulpbronne vir die uitbreiding van grootvee, kleinvee, wild, varke en pluimvee is beperk – ten opsigte van ruimte (veld, geskikte areas vir industrialisering), maar ook die beskikbaarheid van voer en water.
        Boonop is daar die afvalprodukte, soos die miljarde tonne ammoniumryke mis, wat jaarliks deur industriële landbou (hoenders, varke) gegenereer word. Die abattoir-afval en bloed. Dan praat ons nie eers van die reuse metaangasvoetspoor van lewende beeste nie. Ook gesondheidsrisiko’s, die etiese gevolge verbonde aan die toenemende industrialise-ring van veeteelt begin al hoe meer verbruikers kriewelrig maak. Hierdie bronne sal nooit verdwyn nie, maar is duidelik beperk. Miskien meer vis en seekos?
        Volgens die FAO eet ons reeds heelwat meer vis as in die verlede – so 19.2 kg per jaar per kop (2012), vergeleke met 9.9 kg in die 1960’s, toe ons meer as die helfte minder was. Oor die 5 jaar-periode vanaf 2007 tot 2012 het die wêreldverbruik  met 20 m.t./j. toegeneem. Die wiskunde is eenvoudig. Terwyl die globale vangs nou al vir so 20 jaar rofweg stabiel is (85-95 miljoen ton per jaar), is dit opmerklik dat die totaal toenemend soorte insluit wat vroeër as kommersieel onhaalbaar beskou is, hoofsaaklik omdat tradisionele bronne ineengestort of drasties verskraal het. Ons is dus redelik naby aan uiterste volhoubaarheidsgrense van wilde visserye. Akwakultuur dus?
        Akwakultuur lewer reeds ongeveer 66.6 miljoen ton per jaar – 42% van die wêreld se totale visproduksie in 2014. Die basiese probleem met kommersiële akwakultuur is dat ʼn proteïenryke voerbron steeds benodig word. En dit beteken tradisioneel vismeel. In die 1970’s, toe ons nog lekker spandabelrig met ons visbronne omgegaan het, is so 25% van ons totale jaarlikse vangs tot vismeel verwerk. Deesdae is dit nader aan 10%, eenvoudig omdat ons nou bereid is om soorte te eet wat vroeër nie ʼn kommersiële markwaarde gehad het nie. Mense, akwakultuur en pluimveeteelt ding nou almal mee om die beperkte visbron.

        Dié vegetariërs wat al opgewonde begin raak het, kan maar weer gaan sit. Soja en ander hoogwaardige plantproteïenbronne as alternatief of aanvulling, het hul eie beperkinge. Om maar mee te begin, beskikbare landbougrond, water en vatbaarheid vir energietekorte, terwyl sektore soos biobrandstof, voer, en menslike verbruik toenemend om uitsette sal meeding. Plantbronne is baie meer effektiewe proteïenvervaardigers as diere, maar kan nie al die aminosure wat ons benodig effektief verskaf nie. En dan natuurlik die “wild card” van klimaatsverandering, wat akkerbou waarskynlik toenemend onder druk gaan plaas. Ook hierdie bron het dus sy beperkinge.  
        Hiermee staan ons dus eintlik al met een voet in die toekoms, want nou sal ons na onkonvensionele proteïenbronne moet begin kyk. Selkulture, gemodifiseerde alge, dinge soos dit. Ruimtemenskos.

ʼn Misgekykte bron

insects-3        Volgens heelwat wetenskaplikes mis ons egter iets baie ooglopends: 2 miljard mense dink reeds aan insekte as kos. Meestal in tropiese lande, maar ook in sekere Eerstewêreldlande soos Japan. In lande soos Mexiko en Thailand neem die aptyt vinnig toe. Thailand het byvoorbeeld sedert 1998 ʼn florerende kriekboerdery, met ongeveer 20 000 gevestigde boere. En krieke is maar een van die nagenoeg 200 soorte wat benut word, toenemend in die spyseniersbedryf en groothandel.
        Voor die koms van landbou het alle kulture wat kon, waarskynlik insekte benut. En dis net in Westerse en verwesterde kulture wat daar tans ʼn sistematiese afkeer – noem dit maar ʼn sekulêre taboe – van hul nuttiging heers. En as gevolg daarvan het hierdie baie belowende bron tot dusver onderbelig en onderontwikkeld gebly, word daar gereken. Hoe groot is die moontlike bron? Ten opsigte van biomassa word daar geskat soveel as 1 ton rysmiere per persoon op aarde, en 40 ton ander insekte.
        Sedert 2003 is die bevordering van insekverbruik op die FAO se agenda, en word daar heelwat wetenskaplike navorsing oor die onderwerp gedoen. Ons weet sedertdien dat ten minste 0.2% (2 040) van die wêreld se bekende 1 miljoen inseksoorte eetbaar, veilig, voedsaam en vir miljarde mense selfs
lekker is.

Beslis voedsaam

        Volgens die FAO vergelyk insekbronne baie goed met tradisionele bronne – ʼn gemiddeld van 7-48% proteïen (per varsgewig) vergeleke met die 19-26% van beesvleis en 16-28% van seekosbronne (beide rou). Gedroogde mopaniewurms (een van die wêreld se mees benutte insekkosse) se proteïeninhoud lê tussen 48 en 57%. Boonop is die kwaliteit van die proteïen baie vergelykbaar met die van visbronne, en veral ryk aan Omega 3- en Omega 6-vetsure. Meelwurms en sommige maaiers se aminosuur-samestelling is byna identies aan die van visse.
        Eetbare insekte is ook ryk aan minerale soos yster, sink en fosfor. Die meeste insekte is byvoorbeeld ʼn beter bron van yster as rooi-vleis – vergeleke met beesvleis se 6 mg/ 100 g droëgewig, bevat mopaniewurms byvoorbeeld 31-77 mg, en treksprinkane 8-20 mg. Dit is
veral relevant omdat ongeveer 40% van kinders in ontwikkelende lande deur bloedarmoede geraak word.
       Ten slotte is sommige eetbare insekte ook uitstekende bronne van eetbare olies en vette, en matige bronne van koolhidrate en B-vita-miene. En die chitien-skelette van krieke, sprinkane en papies is ʼn goeie bron
van dieetvesel.

Volhoubaarheidsvoordele

        Maar die eintlike moontlikhede lê in die moontlike volhoubaarheidsvoordele van insekkos, veral geboerde insekte.
        Die mees aantreklike aspek is dat eetbare insekte baie effektief in die omskakeling van voer in liggaamsmassa is. Insekte is koudbloedig, en vermors dus nie energie op liggaamshitteverwekking nie. So, waar dit ongeveer 2.5 kg voer kos om ʼn hoender 1 kg te laat aansit, 5 kg vir ʼn vark, en 10 kg vir ʼn bees, het mens net 1.7 kg nodig om 1 kg krieke te produseer.
        Die som raak egter nog aantrekliker as mens in gedagte hou dat ongeveer 80% van ʼn kriek eetbaar is, terwyl slegs 55% van varke en hoenders, en 40% van ʼn bees. Dan sien mens dat krieke voer 4 keer meer bio-effektief in kos omsit as hoenders, en twaalf keer meer as beeste. Heelwat meer navorsing is nog oor vergelykende waterverbruik met ander industriële veeteelt nodig, maar ons weet reeds dat dit baie meer effektief as vir beesboerdery is.  
       Insekboerdery is ook baie meer ruimte-effektief. Op 1 ha kan ʼn meelwurmboerdery byvoorbeeld dieselfde hoeveelheid proteïen produseer as waarvoor tipies 2.5 ha vir suiwelproteïen en 10 ha vir bief benodig word. En boonop praat ons by insekte nie van kosbare landbougrond of weiding nie –  stedelike of industriële gebiede binnenshuis is perfek. En anders as met hoenders of varke, is hoë bevolkingsdigthede nie ʼn probleem nie – dinge soos krieke, maaiers en meelwurms gee werklik nie om nie. Trouens, in die natuur is dit hoe hulle verkies om te leef. Wat natuurlik ʼn etiese winspunt is.
        Dinge raak nog meer interessant as mens na afvalstowwe kyk. Veeteelt is op die oomblik vir 18% van die wêreld se kweekhuisgas-emissies verantwoordelik, en tot 40% van dié van metaan (4 keer meer kragtig as CO2). Vergeleke hiermee, is dié van krieke, meelwurms en sprinkane minimaal – ongeveer 100 keer minder as dié van varke en beeste. In terme van ammoniak – daardie groot byproduk in die mis en urine van ons industriële veeteelt – vergelyk hierdie insekte ewe goed: hul ontlasting is ongeveer 10 keer minder ryk aan ammoniak as dié van beeste en varke.  
        Wat ons by ʼn verdere belangrike punt bring: sommige eetbare insekte – meelwurms, soorte vlieë – is maar te gelukkig om van organiese afvalstrome te leef. Dinge soos die berge mis, slagafval, riool en bederfde kos wat ons produseer. Nie net help hulle om die afval op te ruim nie, maar ook is hulle baie effektief in die omskakeling van hierdie bronne tot proteïenryk biomassa, en byprodukte soos kompos.
        As mens al ooit van ʼn wen-wen situasie gepraat het! Soos gesê, ons praat hier van ʼn proteïenbron wat van gelyke gehalte as visbronne is, wat self nie meeding vir beskikbare voerbronne nie, en boonop help om van ons organiese afval ontslae te raak! En soos elke plaaskind weet, is maaiers en ander insekte deel van elke plaashoender se dieet. Trouens ook van ons varswatervisse soos forelle. Om vir hulle insekte of maaiermeel te voer maak dus baie meer sin as om hulle skaars vismeel te voer!
       Laastens hou insekteelt ook voordele in met betrekking tot die oordrag van soönotiese siektes (oordraagbaar van dier na mens). Dit eenvoudig omdat insekte fisiologies soveel van ons verskil dat ons vir min van mekaar se siektes aansteeklik is. ʼn Groot voordeel veral bo konvensionele industriële veeteelt met sy BSE, SARS en ander gevare.
        Op papier klink dit alles baie goed en oortuigend, maar soos die Engelse sê: the proof is in the pudding. Hoe proe insekte nou eintlik (as mens verby jou gril gekom het)?

“Landgarnale”

insects-4        Dis waaraan sprinkane vir Marco Polo herinner het. Dis ook die mees algemene beskrywing wat mens ook vir krieke en sprinkane in die literatuur teëkom. Interessant genoeg, toe ʼn groep Ute-Indiane van Utah vir die eerste keer garnale teëgekom het, was hulle reaksie “seesprinkane’. Self het ek al diepgebraaide Koreaanse sywurmpapies geëet, en dit was ook my eerste ge-dagte. Wat alles sin maak, want insekte en skaaldiere is immers verwant aan mekaar (arthropoda). Mens maak hulle ook min of meer soos klein garnale gaar – rooster, diepbraai, roerbraai. Die skoonmaak en voorbereiding vat net baie meer tyd (krieke en sprinkane), en die happies is uiteraard kleiner.
        Baie onbevooroordeelde Westerse waarnemers merk op dat die meeste insekte egter redelik smaakloos is – eintlik meer tekstuur – en die smaak van souse, marinades, ens. geredelik aanneem. Neuterig, kaserig, spekkerig en romerig is van die ander algemene woordeskat wat ingespan word vir ander soorte. Miere weer word vir hul gekonsentreerde suur en soet smake op prys gestel. Goeie smaakmaats vir insekte is rissies, knoffel, lemmetjies, maar ook sjokolade.

        En soos met enige bestanddeel moet dit reg ingespan, verstaan en higiënies voorberei word. Sprinkane se bene en vlerke moet eers verwyder word. Mopaniewurms se dermkanale moet skoongedruk word. Meelwurms en maaiers moet eers gepurgeer word. Mens eet nie vlieë, motte en kewers nie, maar hulle maaiers, ruspes en larwes. En soos gesê, van die regte soorte.
        Voorts moet mens in gedagte hou dat insekte verwerk kan word. Tot meel of pasta, wat byvoorbeeld as voedselaanvulling in koekies, stafies of ander dinge verwerk kan word. En volgens kenners is dit miskien die beste manier om insekte aan die Westerse publiek bekend te stel, al is dit net om die sigbare “fear factor”-konnotasies te verwyder.

Inseksperimeteel: chirps met byenaise

        Ook van die wêreld se mees toonaangewende kokke begin dink dat dit tyd geword het om dié voedingsbron te omhels, en ook nuwe kulinêre moontlikhede te verken. Diegene sluit die befaamde René Redzepi (sy Noma-restaurant in Kopenhagen is nou al 4 keer as die wêreld se top-restaurant aangewys) in. Die eksperimentele Nordic Food Lab waarvan hy ʼn medestigter is, is nou al ʼn geruime tyd sistematies besig om die kulinêre eienskappe van insekte te verken. Hulle suksesse tot dusver sluit mayonnaise uit byelarwe in – volgens hulle beter as die beste Franses.
        As dit alles nog baie abstrak en verregaande klink, help dit miskien om te onthou dat sasjimi (“soesji”) tot onlangs vir die meeste Westerlinge “fear-factor”-materiaal was. Sedertdien kan ons nie genoeg daarvan kry nie. Dit geld trouens ook vir dinge soos kreef en krappe, wat in baie Westerse lande tot ʼn paar dekades gelede vergruisde armmanskos was, vir aas gebruik is, of tot vismeel verwerk is. Die punt is dat ons smaak- en kultuur-afkeure aanpasbaar is, en selfs binne die bestek van ʼn geslag kan omkeer. Miskien het die tyd dus aangebreek om met meer erns oor die benutting van insekkos te dink.


BRONNE VIR MIKRO-VEE:

Anthes, E, “Lovely Grub: are insects the future of food?”, published 14 October 2014 on www.mosaicscience.com/story/eating-insects.   

FAO (2014). The State of World Fisheries and Aquaculture – Opportunities and Constraints. FAO, Rome.

FAO (2013). Edible Insects: Future Prospects for Food and Feed Security. FAO Forestry Paper 171, FAO, Rome.

FAO (2012). Assessing the Potential of Insects as Food and Feed in assuring Food Security. Summary Report of Technical Consultation Meeting 23-25 January 2012, FAO, Rome.

Fleming, N, “How insects could feed the food industry of tomorrow”, published 4 June 2014 on www.bbc.com/news/magazine-21847517

Hanboonsong, Y and Durst, P (2014). Edible Insects in Lao PDR -  Building on traditions to enhance food security. FAO Regional Office Asia and Pacific, Bangkok.

Hanboonsong, Y and Durst, P (2013). Six-legged livestock. Edible insect farming, collecting and marketing in Thailand. FAO Regional Office Asia and Pacific, Bangkok.
Gates, S, “Can eating Insects Save the Planet?”, documentary comissioned by BBC Four TV, 2012.  

Joubert, R,  “Turning a pest into protein” in Farmer’s Weekly, 18 October 2012.

Main, D, “Why Environmentalists want us all to eat bugs”, in Newsweek, 10 September 2014 (www.newsweek.com/why-environmentalists-want-us-all-eat-bugs-276403)   

Martinneau, Y, “Insekten als Leckerbissen”, documentary film comissioned by France 5/ ARTE (no date).

www.agriprotein.com/technology.htm

www.fao.org/forestry/edibleinsects/en/

www.wageningenur.nl/en/Expertise-Services/Chair-groups/Plant-Sciences/Laboratory-of-Entomology/Edible-insects/Worldwide-species-list.htm