Volg ons op Facebook

Waar swot mense deesdae landbou

Written by  Schalk van der Merwe
| in Landbou
| November 5, 2014

Ons matrikulante is tans druk besig met eindeksamens. Dié wat volgende jaar gaan swot, moes in die meeste gevalle reeds voor Junie vanjaar om universiteitstoelating aansoek doen.

Hierdie artikel is dus nie op hulle gemik nie, maar op dié wat van voorneme is om in 2016 te gaan swot. Spesifiek ook vir dié wat landbou en landbou-verwante studierigtings oorweeg, maar onseker is oor die wat en waar, en of mens onderrig in Afrikaans kan ontvang. Hierby sluit ek ook volwassenes soos myself in wat jare laas op skool of universiteit was, en weer aan verder studeer dink.

Vir ons agtergeblewenes van ouderdom

        Vir heelwat volwassenes – soos ek, wat dekades laas op universiteit was – het die onderwyslandskap aansienlik verander. Ou universiteite en dinge soos technikons bestaan nie meer nie, of vorm nou deel van groter universiteite; baie het nuwe name, en daar het ook ʼn paar nuwes bygekom. ʼn Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NQF) is in 1998 ingestel wat alle onderwys en kwalifikasies onder een raamwerk saambring. Dié is in 2008 hersien van 8 kwalifikasie-vlakke na 10 (met 1 as basies, 7 as Baccalaureus-grade, en 10 as doktorale kwalifikasies).
landbouskole-1        Kragtens die NQF is die ou matrieksertifikaat, of Senior Sertifikaat (SC), in 2008 met die Nasionale Senior Sertifikaat (NSC) vervang, en eersgenoemde sal teen vanjaar volkome uitgefaseer word. Die NSC maak voorsiening vir ten minste sewe vakke, waarvan twee amptelike tale, wiskunde (M) of wiskundige geletterdheid (ML), lewensoriëntasie (LO), en drie gekose vakke, insluitende landbouvakke by skole wat dit aanbied. Hoërgraad en Standaardgraad het verval, en is vervang met ʼn enkele Vlak Sisteem (LS), wat uit sewe vlakke bestaan – met 1 (0-29% = pluk), 3 (40-49% = deur) en 7 (80-100% = uitstaande). Dit kom dus daarop neer dat as jy jou matriek voor 2008 gekry het, jy aan addisionele toelatingsvereistes by universiteite onderhewig sal wees!

landbouskole-5
        Akkreditasie van grade, diplomas, hoër sertifikate, ens., word nou ooreenkomstig deur die NQF gedoen. Alle instansies wat kwalifikasies aanbied, moet wetlik by die Suid-Afrikaanse Gehalte-owerheid (SAGO) om akkreditasie aansoek doen. Dié word ondersteun deur drie kwaliteitrade (QC), vir basiese, verdere, en hoër onderwys, waarvan die Raad op Hoër Onderwys (RHO) laasgenoemde verteenwoordig. Die somtotaal is dat akkreditasie die nakoming van voorgeskrewe minimum kwaliteitskriteria verseker, ongeag van universiteit. Omdat appels nou met appels vergelyk word, is dit ook makliker om later by ander instansies te gaan swot, asook buitelands.
        Die Nasionale Departement van Landbou het in 2006 ʼn volledige oorsig van sekondêre en tersiêre instansies wat landbou-onderrig in Suid-Afrika aanbied, gepubliseer. Die oorsig het plaasgevind in ʼn tyd toe tersiêre onderrig in Suid-Afrika juis besig was om ʼn radikale skuif te ondergaan, en is sedertdien van beperkte waarde. Hoe lyk die prentjie deesdae?

Die nuwe universiteitsbedeling

landbouskole-2        Ooreenkomstig met die regering se beleid om hoër onderwys meer toeganklik te maak en te fokus op die land se unieke ontwikkelingsuitdagings, is bestaande instansies vanaf 2002 radikaal geherstruktureer. Kortom, die klem het verskuif na toepassingsgerigtheid en geografiese inklusiwiteit. Die land se 36 bestaande openbare universiteite en “technikons” is gestroomlyn – deur ʼn proses van inlywing en samesmelting – tot 23 nuwe universiteite in drie kategorieë:  tradisionele akademiese universiteite; universiteite van tegnologie (Universities of Technology); en omvattende universiteite (Comprehensive Universities).
        Van dié bied 11 tans landbou as studierigting aan, sommige tot op doktorale vlak.

 

Universiteite van Tegnologie

        Die term “technikon” (ʼn Suid-Afrikanisme, nes “robot”) bestaan nie meer nie. Universiteite van Tegnologie (Universities of Technology) is nou die juiste benaming. Universiteite van Tegnologie is in wese toepassingsgerig (onderbou deur teoretiese aspekte), en plaas die klem op beroepsgerigtheid. Daar is ses van hulle, waarvan drie landbou as studierigting aanbied, naamlik die Cape Peninsula University of Technology (CPUT), die Tshwane UT (vier provinsies), en die Vaal UT (Vanderbijlpark). Engels is die primêre onderrigmedium by almal. Toelatingsvereistes met betrekking tot wiskunde en wetenskapvakke is as ʼn reël ʼn rapsie laer as by tradisionele universiteite. Voorgraads word Nasionale Diplomas en B.Tech. Landbou en Landboubestuur aangebied. B.Tech.-kursusse duur as ʼn reël drie jaar, waarvan ten minste een jaar prakties is.

landbouskole-6

Tradisionele universiteite

        Die tradisionele universiteite fokus op akademiese en teoretiese onderrig en navorsing (al sluit heelwat van hulle toepassingsgerigte komponente in). Daar is elf van hulle, waarvan sewe – een elk in sewe provinsies – landbou as studierigting aanbied. Vier van hulle – Stellenbosch (US), Pretoria (UP), Vrystaat (UVS) en Noord-Wes (UNW) - maak van parallel-medium onderrig in Afrikaans en Engels gebruik.
        Ander tradisionele universiteite wat landbou net in Engels aanbied, is Fort Hare (UFH), KwaZulu-Natal (UKZN) en Limpopo (insluitende die ou Pietersburg Universiteit). Kaapstad, Wes-Kaap (UWK), Rhodes en Wits bied nie landbou aan nie. Rhodes bied wel akwakultuur aan.
        Die wat landbou aanbied, bied hoofsaaklik B.Agric. en B.Sc. Agric.-grade op voorgraadse vlak aan. As ʼn reël duur ʼn B.Agric.-graad drie jaar, en ʼn B.Sc.Agric. vier jaar, en is die toelatingsvereistes vir laasgenoemde hoër (wiskunde- en wetenskappunte byvoorbeeld). Voorgraadse kursusse is gewoonlik voorgeskryf, en studente moet dus programme pleks van vakke kies. Sommige, soos UVS en UP, bied ook ʼn oorbruggingsjaar aan. Dit is tot voordeel van histories agtergeblewene leerders, ter voorbereiding op deelname aan B.Agric.-programme.
        Verskillende programme kan gevolg word binne elke graad, en verskil van universiteit tot universiteit na gelang van spesialisasieveld. Volgens SAQS word daar tans landwyd 35 B.Agric.- (en gepaardgaande Honneurs-) kwalifikasies erken. Benewens ʼn algemene B.Agric. kan jy ook ʼn B.Agric. in enige van ongeveer twintig spesialisasievelde behaal. Dit sluit dinge soos ʼn B.Agric. in, asook Landboubestuur in Turfwetenskap, Gewaskunde, Wildbestuur en Landbouvoorligting. Sommige universiteite bied ook ʼn Honneurskursus aan, wat gewoonlik ʼn addisionele jaar duur. Volgens SAQS word daar tans 68 geakkrediteerde B.Sc.Agric.-kursusse landwyd aangebied, feitlik almal by tradisionele universiteite. Ongeveer 30 verskillende gespesialiseerde B.Sc.Agric.-grade word erken, en dek velde soos landbou-ekonomie, voedseltegnologie en plantpatologie.
        Die meeste bied nagraadse programme op meesters- en doktorale vlak aan. Vir voornemende studente wat daaraan dink om uiteindelik nagraads te swot, is dit raadsaam om te kyk na waarin elk van die universiteite spesialiseer, en wat elk se navorsings-nis is. Die beste manier om dit te doen, is om die fakulteitwebtuistes en fakulteithandboeke van elk te raadpleeg (alles is geredelik aanlyn beskikbaar).
 
Omvattende Universiteite

landbouskole-3        Dié tipe universiteite is ʼn mengsel van die bostaande twee, met ʼn klem dus op die kombinasie van teorie en toepassing. Daar is ses van hulle, waarvan vier tans landbou as studierigting aanbied, naamlik die Nelson Mandela Metropolitan University (NMMU in Port Elizabeth en George), die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA), die Universiteit van Zululand (Mhlathuze) en die Universiteit van Venda (Thohoyandou). Engels is die primêre onderrigmedium by almal. Die instellings bied B.Agric., B.Sc. Agric. en B.Tech.-grade aan. Die meeste bied ook nagraadse programme tot op doktorale vlak aan. Unisa bied afstandsonderrigkursusse aan.
        Drie nuwe universiteite (almal omvattende universiteite) het ook bygekom, naamlik een elk vir die twee provinsies wat tot dusver sonder universiteite was, naamlik die Universiteit van Mpumalanga (UM) in Nelspruit, en die Sol Plaatjé Universiteit (SPU) in Kimberley, sowel as die Walter Sisulu Universiteit (WSU) in die Oos-Kaap en ou Transkei. Die eersgenoemde twee het eers vanjaar hul eerste studente gehad; laasgenoemde is in 2005 gestig.
        Van die drie bied slegs die UM tans landbou aan. SPU beoog om teen 2016 landbou aan te bied, en die WSU beplan al sedert 2010 om ʼn Fakulteit Landbou en Landelike Ontwikkeling op die been te kry. Die primêre onderrigmedium by al drie is Engels.
        Vir Wes-Kapenaars is daar dus in wese twee adresse, CPUT, en die US (oftewel drie as mens die NMMU met sy kampus in George bytel).

CPUT

        CPUT se Departement van Landbou vorm deel van die Fakulteit Toegepaste Wetenskappe. Aktiwiteite is op die Wellington-kampus gekonsentreer. Die Departement Landbou bied twee Nasionale Diploma-programme sowel as ʼn B.Tech.-program aan.
        Nasionale Diplomas in Landbou (Diereproduksie of Plantproduksie) en Landboubestuur word aangebied, elk as voltydse driejaarkursus, waarvan ten minste 12 maande prakties is. Die Nasionale Diploma in Landbou bestaan uit ʼn aantal keuses tussen produksiesisteme eie aan die Wes-Kaap, naamlik kleinvee-produksie, vrugte, wynboukunde en wynkunde. Studente kan in wese kies tussen diereproduksie of plantproduksie (insluitende nut-veselplante).
Die Nasionale Diploma in Landboubestuur is veral daarop gerig om bestuurders in die privaat en openbare sektore beroepsgerig voor te berei. Die fokus is op die aanleer van vaardighede en tegnieke om produksiesisteme te kan analiseer sowel as tegniese en bestuurs-probleme te kan oplos.
        Diegene wat meer as ʼn 60% gemiddeld in die finale jaar van hul diplomakursus behaal het, kan voortgaan met ʼn B.Tech. wat oor een jaar voltyds strek (of twee jaar deeltyds). Die B.Tech.-kursus fokus daarop om studente vertroud te maak met die jongste tegnieke in veeteelt, akkerbou en wynboukunde. ʼn M.Tech in landbou word ook aangebied. CPUT het ook ʼn Departement Tuinbou. Dié is op die Bellville-kampus geleë, en bied ʼn Nasionale Diploma en B.Tech. in tuinbou aan, op soortgelyke grondslag as die Departement Landbou.
         CPUT se algemene toelatingsvereistes is ʼn NSC met ten minste ʼn 3 (40-49%) of beter in 4 erkende NSC 20-krediet vakke, ʼn 2 vir Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid en ʼn 3 vir Eerste Taal Afrikaans of Engels. Daarbenewens geld addisionele minimumvereistes per onderskeie kursusse. Vir Landboubestuur is ʼn 3 in Wiskunde of ʼn 5 in Wiskundige Geletterdheid ʼn voorvereiste, sowel as ʼn 4 in Afrikaans of Engels. Vir Landbou is die vereiste ʼn 3 in Afrikaans of Engels, en ʼn 3 in wiskunde.

Universiteit van Stellenbosch

landbouskole-4        Landbou was een van die eerste vier Fakulteite aan die SU met dié se vestiging in 1918. In 2006 het die Fakulteit met dié van Bosbou saamgesmelt om die Fakulteit Landbou-Wetenskappe te vorm. Die Fakulteit bestaan uit elf departemente, en is die enigste wat op universiteitsvlak volledige voorgraadse programme in bewarings-ekologie, Viti-kultuur (wynboukunde) en oenologie (wynkunde), asook in bosbou- en houtwetenskappe aanbied. Alle voorgraadse programme wat deur die US aangebied word, lei tot Baccalaureus- (B.Agric., B.Agric. Admin, B.Sc.Agric.) grade.
        Programme word in sewe velde aangebied, waarvan die volgende ter sake is: Landbou-ekonomie en –bestuur (BSc. Agric.; BSc. Admin); Dierlike produksiesisteme (B.Sc.Agric.); Wynboukunde en Wynkunde (B.Sc.Agric.); Dierlike Produksie en Bestuur op Elsenburg (B.Agric.) en Plant- en Grondkunde (BSc). Nagraadse programme is tot op doktorale vlak beskikbaar. Die US het twee proefplase – Welgelegen en Mariendal. Sedert 2004 bied die US ook ʼn B.Agric.-kursus in samewerking met Elsenburg (Landboukollege) aan.
        Toelatingsvereistes vir voorgraadse studies is as ʼn reël ʼn 4 in Wiskunde sowel as ʼn 4 in Afrikaans of Engels. Soos genoem, is onderrig in Afrikaans en/of Engels. In die praktyk beteken dit dat reële behoefte die onderrigmedium vir spesifieke klasse en kursusse sal bepaal. Take en eksamens kan in enige van die twee tale ingedien  word.

landbouskole-7

Vroegslapers

        Aansoeke vir universiteite sluit gewoonlik teen 30 Junie, met laat registrasies tot 30 September. Vir diegene wat belangstel om in 2016 te gaan swot, is dit miskien ʼn goeie idee om nou reeds die webtuistes van relevante universiteite met departemente of fakulteite van landbou te leer ken, en hul dop te hou vir 2016 se prospektusse en 2015/2016-fakulteithandboeke. Dié behoort vanaf ten minste Maart volgende jaar beskikbaar te wees. Onthou dat benewens algemene toelatingsvereistes, spesifieke kursusse ook spesifieke vereistes stel. Vir heelwat kursusse is daar beperkte plekke, en daar moet in sommige gevalle toelatingseksamens afgelê word. Beskikbare plekke gaan as ʼn reël aan die bes-presterende aansoekers. Spandeer dus ook deeglik tyd daaraan om tweede keuses en alternatiewe te verken.