Volg ons op Facebook

Kuns en Moeder Natuur

Written by  Dr. Nicolene Swanepoel
| in Landbou
| March 3, 2015

Deesdae is daar swerms mense wie diere uitbeeld. Dis maklik genoeg vir ʼn jagter om die lewe uit ʼn dier te blaas, maar wat kos dit om lewe in ʼn getekende weergawe in te blaas, om die ‘dooie’ dier op die kunstenaar se doek te laat lewe?

Nicolene Swanepoel betrag die manier wat kunstenaars deur die eeue Suid Afrikaanse dierelewe uitgebeeld het, van rotskuns tot die hedendaagse, met voorbeelde gehaal uit Mpumalanga.

Die stertjie van agter

        Kuns wat wilde diere uitbeeld is oud, eeue, soms millennia oud.  Nog voor koloniale verkennersreisigers begin het om diere te dokumenteer, is wilde diere met groot kundigheid en respek in rotsskilderye en -gravures vasgelê.
        Soos die ou inheemse mense moes die koloniale avonturiers na aan die natuur lewe. Om onder sterre te slaap, gevaarlike diere en die elemente te trotseer was deel van die alle-daagse lewe. Twintigste eeuse kunstenaars het dikwels ook rof gelewe om landskappe en diere te skilder.   
         Hedendaagse kunstenaars kan kies of hulle in die luuksheid van hulle ateljees en met tegnologie soos foto’s en rekenaars hulle werk wil doen.  Maar die beste wildlewe kunstenaars glo steeds dat jy direk met jou beeldmateriaal moet skakel – een op een – in die natuur. Waarom?  

kultuur-march-1Rotskuns – gees en kultuur

         Die oudste uitbeeldings van diere in Suid Afrika was deur die San mense geskilder.  La-ter het ander inheemse mense, onder andere Sotho, Tswana en Nguni, ook werk op rotse nagelaat.  Dié werk het geneig tot geometriese patrone en abstrakte studies van diere. Die rotskuns was dikwels gravures (ingebeitel in die rots) eerder as skilderwerk op klip.  Maar al hierdie mense se kulture en geloof was nou ineenverstrengel met diere en die natuur.
         San rots skilderye in Mpumalanga is onder andere te vind by die Bongani Mountain Lodge in die Mthethomusha reservaat, reg langs die Kruger Nasionale Park. Die reservaat spog: “Leeus, luiperds, renosters, olifante en buffels wandel dieselfde eeue-oue paaie waarlangs die San mense geloop het.”  Hulle het oor die 250 rotsskilderye, volgens skatting oor die 1 500 jaar oud.  Hulle noem dat dit die grootste konsentrasie van rotskuns op aarde is.
         Van die gravures is by Boomplaats, naby Mashishing (voorheen Lydenburg) in Mpumalanga.  Van die geometriese patrone was vermoedelik uitbeeldings of planne van die krale waarin hulle gebly het.  Hulle lewenswyses was nou verbind met beeste kuddes - mak diere wat ʼn integrale deel van vroeë vee- en landboukundige kulture vorm. Konsentriese sirkels met spikkels verteenwoordig ʼn sentrale beeskraal omring met hutte, en lyne tussen-in is beeste paadjies  wat die verskillende krale of “statte” met mekaar verbind.
         Waar die ouer San rotskuns fyn en veelkleurig was, het die Noord Sotho mense later meestal in dik wit verf, met die vingers, geskilder. Die kuns word meer na die Limpopo provinsie se kant toe gevind.  Hulle het ook wilde diere uitgebeeld, maar het veral op kameelperde gekonsentreer. Omdat dit dikwels in weggesteekte plekke gevind word, is daar spekulasie dat dit met inisiasie seremonies verband gehou het. Moontlik het die diere ʼn simboliese betekenis ingehou: ʼn leeuwelpie verteenwoordig vuur, die sentrale boom is ʼn kameelperd, die klipstapel (cairn) is die hiëna. Die diep geheime seremonies word aan die seuns geleer, en soos hulle mans word, word dit met meer en meer lae van komplekse sosiale betekenisse versluier, wat die simboliek van die diere verder verdiep.
         ʼn Kontemporêre weerspieëling van die geometriese tradisie en abstrakte uitbeelding van diere kan gesien word in ʼn buitengewone versameling kunswerke in die landskap naby Nelspruit. As mens op die R38 ry vanaf Kaapmuiden na Baberton, kom mens onverwags, by Revolver Spruit, op ʼn landskap van gekleurde rotse af.  As jy hulle eers sien, is dit oorweldigend, maar voor jy hulle opmerk, mis jy dit maklik - kyk mooi of jy ry verby.  Die werk verweer en vervaag, maar bly treffend.
         Die buitestaander kunstenaar Nukain Mabusa, het klaarblyklik gevlug vanaf die Mo-sambiekse burgeroorlog waartydens sy vrou en kind gesterf het, en het as enkeling op die plaas kom werk.  Hy het begin om die rotse in die veld te verf.  As eksentriek ervaar, was hy bespot en verwerp deur die plaaslike gemeenskap, sodat hy hom in afsondering gehul het.  Desondanks die afstoting, het sy obsessiewe passie vir die werk tot ʼn skouspelagtige landskap gelei, en die werk van hom is met groot reg aangewys as een van  44 groot omge-wingskunswerke.

“Die treffende landskap het hy sy “blomtuin” genoem,  maar sy blomme was rotse.”

         Die treffende landskap het hy sy “blomtuin” genoem,  maar sy blomme was rotse, geverf in helder kleure en sterk geometriese patrone.  Lank geïgnoreer, maklik misgekyk, het sy towerwerk geleidelik al meer kunssinnige reisigers gelok, en later het meer toeriste ook kom kyk.  Deesdae is dit ʼn landmerk en dien as inspirasie vir menige ander kunstenaars. Die landskap is bespikkel met sjevrons, rye kolle, swart en wit strepe soos dié van ʼn sebra, en abstrakte diere.  Dis asof sy kuns vloei uit die tradisies van die Nguni en Sotho mense. Die intense spiritualiteit daarvan roep terug na die dieper simboliek uitgebeeld in die San rotskuns: dit blyk dat Mabusa se blomtuin ʼn diep persoonlike soeke na geestelike betekenis was.  Twee van die grootste geverfde rotse het hy klaarblyklik as twee ineengeskakelde altare gemaak, een op aarde en die ander in die hemel.

kultuur-march-2 Ontdekkers, reisigers, setlaars

         Koloniale avonturiers het ekstensief gereis in gevaarlike, onbekende lande. Met formele ekspedisies was daar dikwels amptelike illustreerders saamgestuur. Menige van hulle het hulle lewens in die wildernisse van die onbekende lande verloor.  Hulle dagboeke en tekeninge is waardevolle dokumentêre bronne van die  kolonies se kultuur en natuur – die mense en diere.  Twee 19de eeuse kunstenaar-avonturiers staan uit in ons land: Thomas Baines en William Cornwallis-Harris.  Hulle uitbeeldings van diere en die natuurlewe word steeds bewonder, en inspireer hedendaagse kunstenaars.
         Laat twintigste eeuse wildlewe kunste-naars soos Zakkie Eloff en Gordon Vorster het na aan die natuur geleef.  Eloff het as wild-bewaarder gewerk en Vorster het gereeld en vir lang periodes op safari gegaan. Soos hulle voorgangers, die inheemse jagter-kuns-tenaars, of koloniale avonturiers, reis hulle agter hulle modelle aan.  Vorster het weke lank met sy vierwiel voertuig agter wild aangery.  Nagte op klipmatrasse, onder sterreplafonne, was nie vir een van hulle vreemd nie. Sulke toewyding het gespreek in hulle werk en - nie sonder rede - dit gesog gemaak op die internasionale kuns mark.
         Beide Eloff en Vorster het gespesialiseerde opleiding in tegniese en akademiese aspekte van kuns gehad.  Eloff het ook in Londen kuns studeer, en self op tersiêre vlak kuns doseer. Sy hart het egter natuur toe getrek, en daarom word hy wildbewaarder in Namibië. Hy vestig hom later in die Laeveld, by Witrivier.
         Kunskenner Esmé Berman beskryf Eloff as ʼn man van die veld, meeste op sy gemak in die wye, oop ruimtes van die natuur.   “Sy werk reflekteer sy intense inlewing met wildlewe en die veld.  In duisende sketse word fyn  waarnemings van diere se voorkoms en gewoontes vasgelê.”
         Eloff se vroeë werk op doek was forse uitbeeldings van diere en plante in ʼn landskap.  Sy grafiese werk konsentreer meer op ʼn enkele objek, byvoorbeeld waar hy met eenvoudige, sensitiewe lyne die karakter, houding en beweging van die dier vaspen.  Die veranderde omgewing van die (destydse) Oos Transvaal het ook later sy skilderwerk geleidelik ligter laat word, dit versag, volgens Berman.  Dié empatie van die kunstenaar teenoor milieu, en die vernuftigheid om dit beurtelings op doek of papier vas te lê, die sensitiewe uitbeelding van sy of haar werk in respons tot die direkte omgewing, is uniek.  Die kuns LEWE. Dis tipies van werk wat deur ʼn uiters bekwame kunstenaar in situ gedoen word.
         Die Latynse “in situ” is ʼn bekende kunste-naars term wat “in posisie” of lokaal beteken.  Die Franse term “en plein air” beteken om te skilder in die ope lug.  Beide terme beteken dat jy jou objek, dit wat jy uitbeeld, direk ervaar en direk teken waar jy dit vind, in stede van om dit indirek te skilder in ʼn ateljee.  Dus is dit veldwerk, en dit beteken ongemak, en is tydrowend.
         Dit is ook tydrowend om noukeurig waar te neem eerder as net ’n foto na te boots.    Mens kan egter nie ’n dier verstaan sonder maande se geduldige betragting nie.  Ook dinge soos die invalshoek van sonstrale op blare is dinge wat nie met kits foto’s of oor ʼn kille afstand gedoen kan word nie.  Om die wese vas te vang, hoort die kunstenaar daar, in die oomblik.
        Rof lewe en sukkel lei tot insig en respek. Luuksheid en gemak bring jou nie werklik na aan die natuur nie. En om so na saam te leef beteken soms meer as net tydelike ongemak - menige is al gewond deur die diere wat hulle uitbeeld, en boet soms selfs met hulle lewens.
         ʼn Goeie vriend en kuns kenner vertel my die staaltjie van kunstenaar Fritz Krampe wie met groot gemak tussen die Afrika olifante  gewerk het.  “Ironies hoe hy dood is,” sê hy, “daar trap ‘n mak olifant hom dood in Indië”.  Meer onlangs, in 2004, byvoorbeeld, was die Britse kunstenaar Simon Combes in Kenia deur ʼn buffel vertrap en vermorsel.
        Meestal is dit egter die diere wat met hulle lewens boet. Jagters, menslike ontwikkelings druk of oormatige toeriste-nuuskierigheid wat diere in blikke druk.   Waar die kolonialis-te eens die wild met gewere uitgemaai het, is daar ʼn bewuswording van die impak van ons uitbuiting. Dit is nie ongewoon vir wildlewe kunstenaars om direk of indirek by te dra tot diere en die omgewing se bewaring nie:  van hulle werk in bewaring, baie skenk werk of stig self fondse daarvoor.  

“Moenie diere skilder tensy jy hulle bestudeer het, deur hulle gejaag is, of iets gedoen het om hulle te red nie.”

        Kunstenaar Andrew Bone stel dit reguit:  “Moenie diere skilder tensy jy hulle bestudeer het, deur hulle gejaag is, of iets gedoen het om hulle te red nie.”
        So het kontemporêre kunstenaar, Leigh Voigt, ook al menige van haar werk geskenk vir bewaring.  Sy bly al vir meer as veertig jaar “in die bos” naby Witrivier, en lewe nou met die natuur om haar saam.  Haar delikate  waterverf skilderye en sketse vir die boek “Lulu Phezulu” was in situ gedoen.   Haar kuns, soos alle goeie kuns, lewe.  Sy het ’n diep respek vir die omgewing en dier om haar.   Sy hunker terug na die ou rotskunstenaars - haar diere is nou verstengel met haar kultuur.  

kultuur-march-3

Gemakstoel kuns

         Massageproduseerde kuns, hetsy tegnologies of met die hand gedoen, pop uit agter elke rots en agter elke bossie.  Uitgeryg vanuit lugversorgde ateljees, vergemaklik met die kliek van die kits kamera, is dit so maklik om te bekom as wat dit is om te maak. Dit gaan oor geldmaak eerder as oor ʼn intense meelewe vir die natuur en diere self. Sulke gemakstoelskilderye kan baie geld in die sak van die verwer bring want leë, melodramatiese of “mooi” werk word deur soeweniersugtige toeriste opgeslurp.
         Soos dit betrokkenheid en sensitiwiteit van die kunstenaar verg om die werk te skep, so word dit beurtelings  van die toeskouer geverg. Die persoon wie terstond, op die ingewing van die oomblik en bloot impulsief ʼn oppervlakkig-aanloklike prentjie koop, eindig met ʼn dooie ding,  soos opgestopte trofeë, teen hulle mure.  Soos met diere, raak “kuns” al hoe meer ʼn kits-verbruikersitem. Die geoefende kennersoog sal egter die ware juwele onder die glansendes kan onderskei.
         Dis dikwels die werk wat aanvanklik “moeiliker” lees, wat potensiaal inhou om te groei tot dieper betekenis. Soos mense eers vir Nukain Mabusa gelag het, soos kolonialiste inheemse rotskuns as minderwaardig ervaar het, met betragting, kennis en insig ontluik die rykdomme van sulke werk. Soos kunstenaar tyd vat om uit te beeld, moet toeskouer tyd neem om te leer waardeer.  

Die slurpie na voor

         Kunstenaars wat na aan die dier in die wildernis gelewe het, het diere diep in hulle siele verstaan.  Hulle kon met ʼn paar kwashale die knip van ʼn ooglid, die kwiets van ʼn stertkwas, die versmorende stofwolke onder dawerende hoewe vaslê.
         Van die hedendaagse mens se struikelblokke tot insig en waardering is die intense druk waaronder ons lewe – ʼn gejaagde lewe in verkrampte, opmekaargedrukte omge-wings, waar die natuur al hoe meer kunsmatig verpak word. Soos wat die diere se natuurlike omgewings vereng, en hulle natuurlike gedrag gestrem raak, raak die kuns ook meer “kunsmatig”.  Hoe “wild” is ons wild deesdae? En soortgelyk, hoe eg is die kuns wat dit uitbeeld? Hoe diep is die siel van die kunstenaar wat die siel van die dier probeer uitbeeld?
         Miskien is dit ook die toenemende kunsmatigheid waarin diere aangehou word, wat hulle van hulle inherente lewe ontneem, wat ateljee kunstenaars aantas.   Dit maak dan sin om sommer met die gebruik van iemand anders se foto’s prentjiemooi diere prente uit te ryg, kitskuns wat deur die breër publiek  aangegryp word, voedingsarm en vinnig verteerbaar soos ʼn wegneem burger. Wild en wildernis word ʼn verbruikersproduk.
         Ons lewe eeue weg van die wildernis. Wildernis is nog net oor in die films en verhale van destyds. Ryker mense kan die nostalgie vir kort oomblikke naboots deur wildsreser-
vate te besoek. Al hoe meer kunsmatige reser-vate duik op waar stedelinge in een oggend in ʼn japtrap al die “groot vyf” kan sien, mak wilde diere wat verveeld rondlê en wag vir die volgende vrag voer. Cheetahs word mee gestap asof hulle huishonde is, leeus word mee gespeel asof hulle klein huis katjies is. Dit raak moeiliker vir die reisiger wie die meer stowwerige, verder afgeleë  paadjies na die werklike wildernis probeer uitsoek, want roetes na sulke plekke raak al skaarser.
         Sou dit lei tot die uitsterf van die goeie kuns deur die tonele en diere geïnspireer? Klaarblyklik, as mens moet oordeel aan die toenemende hoeveelheid kulturele “pelgrims” na Nukain Mabusa se rotstuin, en die stygende pryse van kunstenaars soos Zakkie Eloff op gesogte kuns veilings, word ʼn deel van die leemte opgemaak deur ʼn groeiende waarde-wring vir egte, “wilde” kuns.   Sommige se harte is nog hunkerend, kieskeurig, vir meer as net geld.


Verwysings:  Rotskuns: http://www.sarada.co.za/traditions/african_farmers_/nguni_rock_art_south_africa/
Noord Sotho rotskuns: http://www.sarada.co.za/traditions/african_farmers_/northern_sotho_rock_art_south_africa/
Boomplaats:  http://wiredspace.wits.ac.za/handle/10539/5943 http://graemewilliams.co.za/remnants-of-a-lost-world/
Nukain Mabuza: Two Worlds Outside (Winthrop University, Rock Hill, South Carolina) www.winthrop.edu/vpa/Galleries/Two_Worlds.htm www.southbysouthafrica.org/we_twoworlds.html www.art.co.za/jfcclarke
Zakkie Eloff: http://www.capegallery.co.za/zakkie_eloff_cv.htm
Art and Artists of South Africa by Esmé Berman (Southern Book Publishers: 1993)
Leigh Voigt: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Ander: http://www.parkwestgallery.com/african-wildlife-artist-andrew-bone-park-west-gallery-artist-video-series/12630
Gordon Voster skildery gebruik met toestemming van Eclectica Art & Antiques.