Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Melkbeesvoeding is ‘n bekvol

Written by  Hennie Basson
| in Landbou
| June 2, 2015

‘n Melkkoei se vermoë om ruvoer tot menslike voedsel om te sit, is van die natuur se wonderwerke. Hierin speel lusern ‘n buitengewone rol. Veral in weidings wat gewoonlik die goedkoopste ruvoerbron vir melkbeeste is.

Oor melkbeesboerdery kan ‘n lywige boek geskryf word. Ook selfs oor net één aspek daarvan, soos voeding. Wat ‘n melkkoei inneem, speel tog die allerbelangrikste rol in die produksie van hierdie merkwaardige produk. En watter publikasie jy ook al hieroor oopslaan, word die hoofboodskap duidelik uitgespel: vir doeltreffende melkproduksie moet kwaliteit voeding altyd voorop gestel word.

Aangesien die koste van voeding sowat 60-75% van die totale melkproduksiekoste uitmaak, besef boere al hoe meer dat die beskikbaarheid van veral genoeg ruvoer van gehalte nagestreef moet word. Só vertel geleerde mense en suksesvolle boere jou. Ook dat ruvoertekorte gewoonlik met verhoogde vlakke van kragvoer aangevul moet word, wat dan weer ‘n melkery se winsgewendheid benadeel.

Melkkoeie is in der waarheid van die wonderlikste suksesverhale in die natuur. Hulle beskik oor ‘n gespe-sialiseerde verteringstelsel en is in staat om ruvoer tot menslike voedsel om te sit. Met beter gehalte voeding is die prosessering van voere in die koei ook net beter.

june-2015-landbou-melkkoeie-1

In Suid-Afrika is lusern lankal reeds die nommer een peulgewas vir aanplantings. Dit is ‘n proteïenryke voer, is bestand teen droogte, het 'n hoë opbrengsvermoë en 'n lang lewe.

Met al sy kwaliteite is lusernhooi die belangrikste ruvoerbron in eersteklas boerderyeenhede, soos in die Oos-Kaap wat deesdae as ‘n suiwelparadys ontpop. Dit is geskik vir hooi-, groenvoer- en kuilvoerdoeleindes en as weiding vir alle soorte diere. Onder besproeiing word dit gewoonlik as hooi gesny. In hooi-vorm is dit besonder smaaklik en dit bevat baie ruproteïen.

Lusern het egter ‘n tekort aan energie en dit is goed om dit met voersoorte soos mieliekuilvoer, mielies en melasse te kombineer. In droëlandtoestande is dit veral as weidingsgewas doeltreffend.

Vergeleke met die produksie- en aankoopkoste van hooi, kuilvoer en graanstrooi is die produksiekoste van weiding betreklik laag. Indien genoeg weiding deur die jaar beskikbaar is, is slegs ‘n klein daaglikse kragvoeraanvulling nodig vir goeie melkproduksie.

Kom kuier saam met my by dr. Gerrie Scholtz van Hopetown sodat ons verder oor die inskakeling van veral lusern by ‘n boerdery kan gesels. Hy beklemtoon dat goeie kwaliteit lusernhooi een van die min ruvoere is wat nie net tot ‘n rantsoen bydra in terme van ruvoer-eienskappe nie. Weens die hoë voedingswaarde daarvan kan dit selfs koste bespaar deur duur kragvoer-komponente te vervang.

Lusern word hoofsaaklik in die vorm van gedroogde ruvoer aan melkbeeste voorsien, veral as deel van 'n volledig gemengde rantsoen (VGR). Dit is hoogs verteerbaar, maar dra steeds by tot die krapfaktor wat belangrik is vir pH-regulering in die rumen, sonder om nutriënt-digtheid in die rantsoen in gedrang te bring.

Boere moet egter op hul pasoppens wees. “Dit is uiters belangrik om te onthou dat swak kwaliteit lusernhooi nie reggestel kan word deur die addisionele toevoeging van kragvoer nie, veral in die rantsoen van ‘n hoogproduserende melkbees,” waarsku Gerrie.

“Dit is uiters belangrik om te onthou dat swak kwaliteit lusernhooi nie reggestel kan word deur die addisionele toevoeging van kragvoer nie, veral in die rantsoen van ‘n hoogproduserende melkbees, waarsku Gerrie.”

“Die produksie van melkbeeste is hoog en die rumenkapasiteit beperk. Elke melkboer moet dus daarna streef om die inhoud van die rumen so gekonsentreerd as moontlik te kry sonder om rumengesondheid in gedrang te bring. Dit is slegs moontlik met baie goeie kwaliteit lusernhooi.”

Gerrie benadruk dat melkprodusente moet aandring op goeie kwaliteit lusernhooi wat volgens die Nasionale Luserntrust (NLT) se graderingstelsel gegradeer is. “Jy sal nie sommer te veel betaal vir baie goeie kwaliteit lusernhooi nie. Swak gehalte hooi, spesifiek in 'n melkbeesrantsoen, kos jou baie in produksieverlies. Hierdie swak kwaliteit lusernhooi verdun die dieet in die rumen en verlaag inname, deurvloeitempo en die gevolglike produksie.”

Gerrie is ‘n lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement Vee-, Wild- en Weidingkunde en is namens die NTL verantwoordelik vir die onderhoud en ontwikkeling van die nasionale luserngraderingstel. Daarom is dit begryplik dat hy in ‘n gesprek herhaaldelik klem lê op die waarde van kwaliteit hooi in melkproduksie en dus netto inkomste. Die graderingstelsel is meer as ‘n dekade terug deur die NTL ingestel en word landwyd goed deur produsente ondersteun.

Die inligting wat in die skema deur die Vrystaatse Universiteit vervat is, was wêreldwyd ‘n eerste poging om lusernhooi-kwaliteit biologies met voorspelde melkproduksie te integreer. Hierdie eenvormige en akkurate graderingstelsel vir lusernhooi bestaan hoofsaaklik uit drie fasette. Dit is monsterneming en –hantering, ontleding met ‘n naby-infrarooi-spektrometer, en die neerlegging van kwaliteitstandaarde wat deur die NLO-skema bestuur en onderhou word.

Indien ‘n boer die stelsel begryp en hoë kwaliteit hooi produseer, is hy op ‘n premie geregtig. “Gradering volgens hierdie skema maak dit nou moontlik om akkuraat tussen die verskillende kwaliteite lusernhooi te onderskei en dié met ‘n hoë kwaliteit te identifiseer. Dit beteken konstante hoë en winsgewende produksie en is van groot waarde vir die produsent, handelaar en verbruiker,” verseker Gerrie my.

Dit is maklik om die deugde te besing van lusern as die smaaklike “koning van hooigewasse”. Die befaamde Oos-Kaapse melkboer, mnr. Gerdie Landman van Cookhouse, is van die voorste lofsangers van hierdie “groen goud”, soos hy dit graag noem.

june-2015-landbou-melkkoeie-2

Hy vertel my dat die kombinasie van lusern, mielies, raaigras en hawer steeds ‘n gedugte kombinasie in veeboere se voervloeiprogram is, veral ook in die Visrivier-besproeiingsgebied. Veral in die oostelike dele van die land, waar somerreënval gewoonlik meer as 500mm is, word lusern baie goed as ‘n droëlandgewas aangewend.

Ondanks die gewildheid van lusern, moet boere egter te alle tye ook bedag wees op die gevare wat alle groen weiding vir ‘n koeikudde kan inhou met die opblaas van diere. "Lusern is nie ‘n gewas wat maklik deur herkouers, soos beeste en skape, gewei word nie en dan is daar maar altyd die gevaar van opblaas”, sê Gerdie.

Hierdie toestand is nogal ‘n probleem wanneer die plante nog vinnig-groeiend en blaaragtig is. Dis meestal gulsige koeie wat aan dit blootgestel word omdat hulle nie genoeg speeksel produseer wat help om opblaas te voorkom nie.

Om opblaas te vermy, moet weidingsbestuur absoluut daarop gerig wees. Diere moet liefs vir 24 uur per dag daarop wei en verkieslik nie vir ‘n gedeelte van die dag daarvan afgehaal word nie. Vreemde en nuut aangekoopte diere moet eers aangepas word voordat hulle op lusern geplaas word.

Dan ook nog, voeg Gerdie by, moet produsente bedag wees daarop om ‘n honger dier op lusern te sit. Sorg vir droë grashooi wat in elke kamp beskikbaar moet wees. Met beweiding moet eers begin word indien lusern in die blomstadium is. Die gewas moet ook nie oorbewei word nie, want dit kan grasindringing tot gevolg hê. ‘n Rustyd van minstens 34 dae tussen weidings moet gerespekteer word.

Wanneer lusern bewei word, is dit raadsaam om diere voorkomend met ‘n oliebasis soos Bloat Guard te behandel. Wanneer die lusern vooraf meganies platgesny en dit dan bewei word, hou dit voordele vir beweiding in. “Die mees algemene gebruik is om lusern daagliks met ‘n kerwer te sny en die groenvoer na die beeste aan te ry. Meng dan die natte-rige vars groenvoer met die res van die bestanddele in die voerrantsoen en voorkom hierdeur opblaas,” sê Gerdie.

“Hierdie groenvoer staan bekend as ‘green magic’. Boere kan egter nie verklaar waarom dit die koeie se melkproduksie so laat styg wanneer groen lusern in die rantsoen ingesluit word nie. Die meeste voedingstowwe soos proteïen en vitamines bly ook so behoue en dit maak die VGR baie smaaklik, ook verhoog dit inname en ‘n styging in melkproduksie.”

Gerdie beklemtoon verder dat lusernhooi nie goed vir swaardragtige koeie is nie: “Met te veel kalsium wat daarin voorkom, is dit geneig om die voorkoms van melkkoors te verhoog. Gee die swaardragtige koeie liefs hawerhooi, tef, of ‘n ander grasbasishooi. Tog is mieliekuilvoer steeds die beste voeding vir swaardragtige koeie en verse.”

Wanneer ek so met die manne gesels, is dit duidelik dat alles nie net begin en eindig by lusern nie. Die voeding van melkbeeste is inderwaarheid selfs ‘n meer komplekse besigheid wat kennis en inisiatief by uitnemendheid verg. En dit kan van plaas tot plaas en situasie tot situasie verskil. Ook is dit so dat die weiding en ruvoer baie tussen seisoene kan wissel.

Boonop het elke beesras sy eie voe-dingsbehoeftes. Langs die Tuinroete en verder oos, wei Jerseybeeste soveel in tal soos die kaktusse en aalwyne teen die rante. En omdat hulle minder as Holsteins weeg, is hul voedingsbehoeftes laer as dié van die swart-en-wit beeste. Mens sien ook talle Holsteins langs die roete wei of jy gewaar hulle op ‘n streep melkstal toe loop. Jerseys weeg sowat 350-500kg en die gewig van Holsteins varieer tussen 550-750kg.

“Langs die Tuinroete en verder oos, wei Jerseybeeste soveel in tal soos die kaktusse en aalwyne teen die rante.”

In Suid-Afrika maak Holsteins rofweg 75% van alle melkkoeie uit en Jerseys sowat 20%. Die daaglikse voerinname van Jerseys is sowat 14-18kg per dag en dié van Holsteins 21- 26kg. Dan is daar ook nog ander erkende melkbeesrasse soos Guernseys, Ayrshires, Suiwel Switsers...elke tipe verskillend in grootte en kleur.

Gerdie voeg hier ook nog die “diakentjies” by wat so genoem word omdat hulle meestal swart van kleur is. Dis nou kruisings tussen Holsteins en Jerseys wat al hoe gewilder word omdat kruistipes soos hierdie, oor ‘n beter stapvermoë as Holsteins beskik en meer melk as suiwer Jerseys produseer.

Alle melkbeeste benodig voeding wat moet bestaan uit energie, minerale, proteïen en vitamine. Dit is noodsaaklik vir groei, reproduksie, melkproduksie, ens. Gelukkig dat die meeste van die 21 mineraalsoorte wat noodsaaklik is vir melkbeeste wel in genoegsame veevoer voorkom. Gebalanseerde kommersiële voer wat as byvoeding gegee kan word, bevat genoeg minerale wat onder normale omstandighede aan die melkkoei se behoeftes voldoen.

Waar ‘n tekort aan minerale wel voorkom, kan dit ondermeer deur ‘n inspuiting of deur dosering deur die bek toegedien word. ‘n Wanbalans hierin of tekort hieraan kan onvrugbaarheid, lae melkopbrengs en vertraagde groei meebring. Dit gebeur darem selde dat ‘n tekort aan vitamine by vee voorkom.

“Diere moet liefs vir 24 uur per dag daarop wei en verkieslik nie vir ‘n gedeelte van die dag daarvan afgehaal word nie.”

Wanneer ‘n mens oor melkbeeste en hul voeding moet skryf, is dit altyd ‘n bonus om met dr. Carel Muller van Landbou Wes-Kaap te gesels. Ek kon hom darem só kort voor sy aftrede op Elsenburg opspoor – nog steeds ‘n lewende ensiklopedie oor die melkbeesbedryf.

june-2015-landbou-melkkoeie-3

Hy sê koeie wat oor die hoogste genetiese potensiaal beskik, moet vir melkproduksie benut word: “Hierdie diere moet só gevoer word dat hulle die hoogste melkproduksie teen die laagste voedingskoste lewer. Die voeding van lakterende koeie is slegs ‘n gedeelte van die hele voedingspraktyk. As jy ‘n hoë melkopbrengs nastreef, mag jy nie die voeding van droë koeie en verse afskeep en dan begin net met konsentrate ná kalwing nie.”

“As jy ‘n hoë melkopbrengs nastreef, mag jy nie die voeding van droë koeie en verse afskeep en dan begin net met konsentrate ná kalwing nie.”

Carel het sommetjies gemaak en kan proefondervindelik bewys dat ofskoon die hoër produserende koei se voedingskoste meer as 50% kan wees as dié van ‘n laer produserende koei, sy ook 34% minder voer vir onderhoud gebruik en daarom 2,4 maal hoër inkomste bo voerkoste lewer,

Die voeding en bestuur van droë koeie – d.w.s. vanaf die einde van laktasie tot wanneer die koeie weer kalf – is ‘n deurslaggewende periode in ‘n produksiesiklus. Aangesien die voedingsveranderinge by droë koeie nie onmiddellik waargeneem word nie, word hul voeding gewoonlik verwaarloos.

In die droë periode, wat ongeveer ses weke duur, is die koeie swaardragtig en die fetus groei vinnig. Dit is ook die tydperk waarin die rumen en uier herstel voor die begin van die volgende laktasieperiode.

‘n Goeie kondisie ná droging is belangrik. In die eerste vier tot ses weke van die droë periode is dit belangrik dat koeie goeie ruvoer met ‘n growwe tekstuur ontvang. In hierdie periode kan mieliekuilvoer, grashooi, kleingraanhooi, grasweiding of gras/klawer-weiding as ruvoerbronne vir droë koeie gebruik word. Om te voorkom dat koeie in hierdie stadium oorvet raak, moet die inname van mieliekuilvoer beperk word.

june-2015-landbou-melkkoeie-4

Saam met die ruvoer moet ‘n geskikte lek aan die diere gegee word en in die laaste drie weke van die droë periode kan die koeie weer aan kragvoer gewoond gemaak word. In hierdie opstoomperiode moet die kragvoer dieselfde grondstowwe bevat wat koeie in vroeë laktasie gaan ontvang.

Carel het ook dié advies: Indien goeie weiding deur die jaar beskikbaar is, is slegs ‘n klein daaglikse kragvoeraanvulling vir goeie melkproduksie noodsaaklik. Weens die lae koste van aangeplante weiding, vergeleke met ander voere, laat boere ongelukkig toe dat dit onderbenut word.

Dit is ook raadsaam dat surplusweiding afgesny en ingekuil moet word. Dit kan dan nuttig gedurende weidingstekorte gebruik word. Wat vrywillige voerinname deur koeie betref, is dit die grootste enkele faktor wat melkproduksie en die winsgewendheid van ‘n melkery beïnvloed, sê Carel.