Volg ons op Facebook

Dis 'n ander tamatie daai

Written by  Leoni Kok
| in Landbou
| July 3, 2015

Up to Date Farms is een van die grootste tamatieprodusente aan die Weskus. Hulle kweek tamaties vanaf Klawer langs die N7 tot by Lutzville en Koekenaap, nader aan die kus.

Hoewel die afstand tussen Klawer en Lutzville minder as 50km is, is die temperatuurverskille aansienlik. Temperatuurwisselings van soveel as 10 tot 15 grade Celsius is nie ongehoord nie. 

Dit is juis hierdie temperatuurverskille wat dié gebied voordelig maak vir tamatie-boerdery en Up to Date benut hierdie natuurverskynsel ten volle. Jacques Mollentze – geen titel, hy hou nie van titels nie – verduidelik dat hulle in November en Desember in Klawer met vroeë blokke tamaties begin. In Januarie word daar na Lutzville verskuif omdat dit daar heelwat koeler is. Dit stel die onderneming  in staat om vir  tien maande van die jaar in produksie te wees. Die enigste twee maande wanneer hul produksie afplat, is  Augustus en September.

“Anders as in die res van die wêreld , word die grootse persentasie tamaties in Suid Afrika nog buite verbou.”

Anders as in die res van die wêreld , word die grootse persentasie tamaties in Suid-Afrika nog buite verbou, maar daar is ʼn geleidelike oorgang na verbouing onder beskerming. Volgens Jacques sal ʼn tekort aan hulpbronne en geskikte landbougrond eventueel uiteindelik ook Suid-Afrikaanse produsente dwing om al hul varsmark-tamaties onder beskerming te verbou.

julie-2015-tamaties-1

Tap somerseisoen voordeel

By Up to Date word 10ha van hulle sowat 50ha langlewe-tamaties in nethuise verbou. Dis die ronde tamaties wat alle verbruikers as die stapel van die tamatiekultivars ken.  Die grootse rede vir die nethuise is om die hoogste opbrengste in hul piekseisoen – vanaf Januarie tot April – te lewer.

Tydens dié somer- en lentemaande is die Klawer/Lutzville/Koekenaap-area veral mededingend in die varsmark, omdat dit ʼn winterreënval gebied is en aansienlik koeler is as die noordelike dele van die land. Groeitoestande is dus heelwat meer geskik as in ander groot tamatieproduserende streke soos die Laeveld.

Dis ook hoekom Up to Date nethuise verkies en glad nie plastiekkweekhuise gebruik nie. In die somer sou die plastiekkweekhuise te warm wees en hou hulle dus slegs voordele in vir winterproduksie. In die winter ding die Wes-Kaap egter met die Laeveld en ander somerreënvalgebiede mee, waar die klimaat boere toelaat om selfs in die winter buite te boer. Dit sou die produksie in plastiekkweekhuise net te duur maak om mededingend te wees.

Hidroponika gebruik

By Up to Date word ʼn semi-hidroponiese stelsel in die nethuise gebruik. Om volkome hidroponies te boer, beteken dat plante nie direk in die grond geplant word nie. By Up to Date word saailinge wel in die grond geplant, maar die toediening van kunsmis word met behulp van ʼn deurgaanse ononderbroke drupbesproeiingstelsel toegedien.

Die afmeet van die kunsmis en die meng daarvan word met die hand in besproeiingsdamme gedoen. By die meeste hidroponiese plase word die meng van kunsmis deur ʼn rekenaarstelsel behartig. Jacques sê hy verkies dit om die kunsmis met die hand te meng en te toets, want dan kan weet hy dat alles reg is. “Ek sê nie ʼn masjien kan dit nie doen nie. Dit pas net beter in by ons bestuurstyl,” verduidelik hy. Die toediening van die kunsmisverrykte water word egter wel deur ʼn rekenaarstelstelsel beheer.

“Ek sê nie ‘n masjien kan dit nie doen nie. Dit pas net beter in by ons bestuurstyl, verduidelik hy.”

julie-2015-tamaties-2

Elke kweekhuis is gemiddeld 2ha groot en het elk een of twee damme – afhangende van hul grootte. Daar word sowat 26 000 saailinge per hektaar aangeplant. Dié groter digtheid van aanplantings per hektaar is een van die voordele van die gebruik van nethuise.  Tamaties wat onder bedekking groei, lewer ook oorwegend groter vrugte.

Die plantjies word teen tamatietou opgelei tot ʼn hoogte van sowat 2,4 meter en dan rank hulle oor aan die anderkant van die opleidingstelsel. Die nethuise skep ʼn mikroklimaat waar die plante teen son, oormatige hitte en windstres beskerm word, en daar is heelwat wind in die Lutzville-Koekenaap-omgewing.  As stawing van die feit is een van Eskom se grootste windplase in dié area geleë.

“Weens die warm vogtige toestande wat in plastiek geskep word, is dit die ideale teelaarde vir peste en plae.”

Plastiek teenoor net

Een van die nadele van plastiekkweekhuise is die gevaar van groter virusdruk. Weens die warm vogtige toestande wat in plastiek geskep word, is dit die ideale teelaarde vir peste en plae. Dít noodsaak baie intensiewe bestuurspraktyke; jy moet skoon begin in ʼn plastiekkweekhuis en jou kweekhuis skoon hou van peste en siektes. Daarmee gepaard word temperatuur en vog in sulke kweekhuise gewoonlik meganies beheer, wat die insetkoste en bestuur van plastiekkweekhuise onprakties hoog maak vir die tamatiebedryf.  In netkweekhuise is daar natuurlike lugvloei wat hierdie probleem grootliks omseil en is die virusdruk in nethuise gewoonlik nie groter as in die buitedele van dieselfde omgewing nie.

Jacques sê virusdruk in hulle landbou-area is betreklik hoog. Dit is onder meer omdat daar soveel ander groenteboere in die omge-wing is, en aalwurm is veral ʼn pes. Up to Date is egter verbind tot volhoubare boerdery en as hulle chemies moet bestry, dan word genoegsame kompos en mikro-organismes weer ná die tyd in die grond ingewerk om die grond gesond te hou.

Volhoubare boerdery

julie-2015-tamaties-3

As ʼn reël word minstens 30 kubieke meter kompos per hektaar in die grond ingesit voordat daar geplant word, en daar word elke jaar kompos bygewerk. Up to Date gebruik ook plastiek-“mulch” in hul kweekhuise, sowel as op hulle buiteblokke. Dié plastiekbedekking word bo-oor die grond van die plantrye gesit om die temperatuur en voghouding van die grond te verbeter. Dit is ook ʼn baie doeltreffende manier om onkruid te beheer. Gate word in die plastiek gedruk en die tamatiesaailinge word dan deur die gate in die grond geplant.

Alle tamaties by Up to Date word met die hand geoes. Daar is boere in die omgewing wat hulle fabriektamaties meganies oes, maar Jacques sê hulle verkies om arbeiders te gebruik vir die oes van al hulle tamaties, hetsy dit vir verwerking of die varsmark is: “Ons is werkskeppers,” benadruk hy.  Gemiddeld word meer as 200 werkers by die onderneming in diens gehou.

Die bewys is in die syfers

Vergelykende syfers vertel die suksesverhaal van dié nethuisverbouing. Die tonnemaat vir buiteverbouing by Up to Date is gewoonlik in die omgewing van 80-100 ton per hektaar, terwyl die gemiddeld waarvoor daar in die nethuise gemik word 200 ton per hektaar is.

julie-2015-tamaties-4

“Twee honderd ton per hektaar is die mikpunt, maar ek het vanjaar tot twee honderd en veertig ton per hektaar afgehaal, en in ander jare nog meer,” sê Jacques.

Maar die werklike deurslag is in die kwaliteit van die tamaties wat onder net verbou word. Tagtig persent (en meer) van die tamaties wat onder net verbou word, kan as eerstegraadtamaties aan die varsmark gelewer word. Jacques skat dat eerstegraadlewe-ring met minstens 50% verhoog as jy van buiteverbouing na nethuise toe skuif. As mens in ag neem dat die verskil tussen ʼn eerste- en tweedegraadtamatie ʼn Rand of twee minimum is, dan word die voordele van nethuise werklik duidelik.

julie-2015-tamaties-5

“Volgens Jacques sou hy al sy varsmark tamaties in nethuise wou plant, maar die infrastruktuur is duur.”

Volgens Jacques sou hy al sy varsmark tamaties in nethuise wou plant, maar die infrastruktuur is duur, so hulle is geleidelik besig om al hul aanplantings na nethuise te verskuif.

Ek vra hoe lank dit neem om gelyk te breek nadat mens die nethuis-infrastruktuur in plek het en Jacques is huiwerig om hom tot ʼn skatting te verbind, maar hy reken dat jy kan gelykbreek in drie tot vier jaar, mits sake vlot verloop.