Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Meer as 'n hand vol vere

Written by  Staff
| in Landbou
| July 3, 2015

Toe die Namaqua Bird Club in Februarie 2014 gestig is, het die handjievol lede nooit kon dink dat dit soveel sukses en noue vriendskapsbande sou meebring nie. Met ‘n rotsvaste visie het die toegewyde lede hulle doel verwesenlik.

Die behoefte aan ‘n buitelugklub het lank reeds bestaan en die afwesigheid van ‘n gestruktureerde en georganiseerde liggaam het meegebring dat Salome Willemse geïnspireer is om die eerste stap te neem. Die streek se inwoners is deur middel van die plaaslike media van die stigtingsvergadering bewus gemaak en op ‘n warm Saterdagoggend in Februarie 2014 is die Namaqua Bird Club gestig.

“Die klub het vinnig uitgebrei na 25 lede juis as gevolg van almal se passie en toewyding.” 

Die klub het vinnig uitgebrei na 25 lede juis as gevolg van almal se passie en toewyding. Met daaropvolgende informele vergaderings is besluit dat die klub betrokke sal raak by die bewaring en bewusmaking van ons streek se endemiese biodiversiteit. Selfs binne die klub is die behoefte aan kennis geïdentifiseer ten opsigte van spesie-identifikasie. Met behulp van natuurgids en bioom-spesialis Jacques Tredoux van Cederberg Wilderness Academy, is die spreekwoordelike potlode vinnig vlymskerp gemaak.

Gedurende die eerste ekskursie het die lede agtergekom dat dit onmoontlik is om net op voëllewe te konsentreer en daarom behels die aktiwiteit ‘n alles-omvattende natuur ervaring. Sedertdien word die lede gedurende ekskursies opgevoed in onderwerpe soos geologie en plaaslike weerspatrone, ekologie en botanie.july-2015-birds-1

In die onmiddellike omgewing van die Namaqua Bird Club is daar drie plantbiome, Nama-Karoo na die ooste, sukkulente Karoo in die noorde en fynbos wes en suid. Tussen hierdie biome kom ook Renosterveld in oorgangsfases voor en ‘n wye verskeidenheid veldtipes dra by tot ‘n unieke biodiversiteit. Van die 222 endemiese voëlspesies in Suid-Afrika, kom 77 in dié streek voor. Dit kom neer op 35% van die totale endemiese voëls van die substreek.

“Die Namakwa-langstertjie pryk trots op die silhouette van die Maskamberg om die logo van die Namaqua Bird Club uit te beeld. “

july-2015-birds-2

Die Namaqua Bird Club se area begin by Trawal in die suide, al met die Weskus op tot in Bitterfontein in die noorde en tot net duskant Nieuwoudtville in die ooste. Enige ingeligte besoeker aan Namakwaland sal vir jou kan sê dat die streek veel meer bied as veldblomme, vetplante en wyn. Natuurliefhebbers word vermaak met spesies soos die Namakwa- suikerbekkie, vaalkorhaan, witkruisarend, grondspeg, Langbeklewerik, Kaapse Pietjiekanarie, bontbergwagter en Kaapse bosbontrokkie. Die Namakwa-langstertjie, endemies aan die streek, pryk trots op die silhoeëtte van die Maskamberg om die logo van die Namaqua Bird Club uit te beeld. Op die hoë bergpieke in die suide word stappers maklik verras deur die Kaapse berglyster en langs die kus af is dit verblydend om te sien hoe die Swarttobie-getalle die afgelope dekade toegeneem het. Die streek bied ‘n wye verskeidenheid van habitat- tipes; fynbos, bergrandte, Karoo-vlaktes, Akasia-begroeide rivierlope, vleilande, kusstroke, snelvloeiende bergstrome, oeroue sandsteenkranse en die bekende kwartsvelde van die Knersvlakte.

Die klub se missie is om alle voëlspesies van die Namakwaland-streek te dokumenteer. Ons wil ‘n bewustheid en die bewaring van die natuur in ons plaaslike gemeenskap bevorder en ‘n waardering en respek van ons plaaslike natuurlike hulpbronne kweek. Ons wil ook die klub laat groei, nie net met betrekking tot getalle nie, maar oor kapasiteit en kennis.

“Die klub se missie is om alle voëlspesies van die Namakwaland-streek te dokumenteer.”

Die klub se visie: Ons streef om ‘n waardering en respek van ons plaaslike natuurlike hulpbronne te kweek en te sorg vir die bewustheid en bewaring van die unieke voëllewe van die Namakwaland-streek.

Die Namaqua Bird Club wil graag belang-stellendes nooi om aan te sluit en te deel in die unieke natuurervaring. Dit is ’n klub waar vriende familie word en die passie en toewyding vir die natuur met mekaar gedeel word. Skakel Salome Willemse by 072 471 4083.

Besoekers wat wil deelneem aan toere begelei deur Jacques Tredoux kan hom enige tyd skakel by (027) 219-1028.

Sel: 072 471 4083
Tel: (027) 219-1202
Facebook: Namaqua Bird Club
E-pos: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.