Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Aartappels, 'n bielie van 'n knol

Written by  Hennie Basson
| in Landbou
| July 3, 2015

Tim Noakes en sy Banting-aanhangers glo dat aartappels ‘n mens vet maak. Tog is dit kos vir ryk tot arm en vir my is dit ook kos vir die siel wat warmte en huislikheid uitstraal.

Boonop smaak dit ook net lekkerder as dit uit die Sandveld kom! Trouens, hierdie deel van die Weskus is sinoniem met die heerlikste aartappels, soos die rooibos teen sy Sederberghange.

Aartappels aard nommerpas in sandgrond, omdat dit nie baie weerstand vir die ontwikkelende knolle bied nie. Oor die afgelope dekade, is die Sandveld die derde grootste gebied in die land wat jaarlikse aartappel hektaar aanplantings betref. Net Limpopo en die Oos-Vrystaat is die streke met groter oppervlaktes onder dié gewas. Net soos die Wes-Vrystaat, wissel die hektare onder aartappels in die Sandveld jaarliks tussen 5 500ha en 7 000ha.

Terwyl Limpopo die grootste produksie- streek is, met meer as 40 miljoen sakkies, maak aartappels uit die Wes-Vrystaat, Oos-Vrystaat en die Sandveld jaarliks sowat 30 miljoen sakkies vol.

Die Frik du Preez van kossoorte, kan ons dit noem; gewild van noord tot suid wat met ‘n “drop, score en place” in veelsydigheid uitmunt en sommer reg is vir 'n bord boerekos tot 'n smullekker slaaigereg.

Verder is dit een van die weinige produkte wat in die winter en somer ‘n oes kan lewer. Dit beskik ook wel oor gesondheidswaarde en kan biologies of organies geweek word om die gesondheid van plant en verbruiker voorop te stel. Daarom dat die meeste van ons rooi begin sien het toe die Banting-apostels met die aartappelmanne begin swaarde kruis.

“Oor die afgelope dekade, is die Sandveld die derde grootste gebied in die land wat jaarlikse aartappel hektaar aanplantings betref.”

Broek onder die knie gaan die aartappelmanne hulle egter nie sommer deur die beswaardes laat vang nie. Só bewus is ons produsente in die algemeen van die waarde van gesonde plante en mense dat die organiese- en biologiese verbouingsgogga sommige van hulle lankal reeds gebyt het, soos vir John Bergh van Patrysvlei, net noord van Clanwilliam. Hy is ‘n ware pionier van die produksiewyse om gesonde Sandveld-aartappels op die verbruikerstafel te sit. Met veertig jaar ondervinding van aartappelverbouing – twintig jaar daarvan in die organiese manier van dinge doen – inspireer hy jou met entoesiasme soos min.

Patrysvlei is nou byna twee eeue in familiebesit, maar dit was eers vanaf 1975, toe die plaas geëlektrifiseer is, dat hy die lande deeglik kon begin besproei. Van toe af was dit voet in die hoek met aartappels wat nogal ‘n dorstige plant is.

julie-2015-aartappels-1

Woollies slaan lank reeds die kitaar as dit by die verskaffing van gehalte produkte aan die man op straat kom, en dis met hierdie onderneming dat John ‘n vennootskap gesluit het om sy unieke organiese produk te bemark. Van die byna 150ha wat hy jaarliks onder aartappels het, word 25ha organies verbou, nl. die variëteit Nicola. Dit is ‘n geelkleurige, smaaklike aartappel.

“Organiese verbouing is nie die alfa en omega vir toekomstige aartappelverbouing nie, maar daar is ‘n besliste kliëntebasis aan wie se behoeftes ek hiermee voldoen.”

“Tog”, beklemtoon John dit, “is ek eerder ‘n voorstander van biologiese verbouingsmetodes as die organiese.” Toe ek hom vra om uit te brei op hierdie stelling, sê hy met beslistheid dat hy beter opbrengste met biologiese metodes kry. Dus, beter hulpbronbenutting wat beter vir ondermeer aardverwarming is.

Wat is die verskil tussen organiese praktyke dan? “Om dit in kort te stel, biologiese praktyke inkorporeer die beste van chemie, tesame met die organiese benadering. Soms is chemie nodig as die kalf in die put is.”

Op hierdie plaas waarbo die Sederberge uittroon, word selfs wurms, larwes en doelmatig geteelde mikrobes in die bemestingsprogram gebruik. In die wisselbouprogram word aartappels met suikermielies, botterskorsies (butternuts), patats, hawer en lupiene afgewissel.

Groot vordering is die afgelope dekade of wat gemaak met ondermeer die benutting van biologie vir die verbetering van grondvrugbaarheid, biologiese siektebeheer en aalwurm-onderdrukking. Hieroor kan Tem Odendaal, van Soygro op Potchefstroom, mens behoorlik inlig.

Hierdie onderneming is die afgelope 22 jaar besig om hom te beywer om die bene van biologie in sommige bedrywe sterk te maak. Tem het ook die goeie nuus dat resultate met entstof deur die jare verbeter het, weens gehalte en die volgehoue ontwikkeling van nuwe biologiese produkte. “Navorsing en ontwikkeling is besig om geykte beginsels op hul kop te draai,” sê hy.

“Biologiese entstowwe het die voordeel dat dit nie giftig is vir mens, dier en omgewing nie. Dit het ook geen wagperiode nie. Dit is belangrik dat die biologiese balans in die grond gehandhaaf word.”

Terug tussen die Sandvelders besef mens dis progressiewe boere hierdie, wat maklik varkoor gooi wanneer ander raadgee. John se buurman, Jannie Basson van Zandrug Boerdery, sê hul eweknieë is gewillige luisteraars wat nie skroom om by ander kers op te steek wanneer dit nodig is nie.

julie-2015-aartappels-2En dié boere sal trouens moet luister na Nederlandse kenner, prof. Anton Haverkort, wat meen dat aardverwarming in die toekoms ook die klimaat in die Sandveld minder gunstig sal maak vir aartappelboerdery. “Dit gaan nog erge aanpassings hier verg”, maan hy. Prof. Haverkort glo dat die verwagte toename in die aantal warm dae, groter hittestremming tot gevolg gaan hê. Met die gevolg dat die beskikbare somerseisoen gaan krimp en herfs- en winter aanplantings gunstiger vir verbouing van hierdie plante gaan word.

Aan nie-ondersoekende boere is Jannie se raad om die brandstoftenk vol te maak en die mark te gaan besoek om te verneem watter kultivars hoog in aanvraag is. Ook om voortdurend uit te vis waarheen navorsing in die bedryf oppad is.

Daar is in ons land glo meer as tagtig verskillende kultivars om uit te kies. Daarom dat die moderne verbruiker nou nie meer daarin glo dat ‘n aartappel, ‘n aartappel en nogeens ‘n aartappel is nie. Inteendeel, hulle word al hoe meer voorkeurbewus wanneer hul voor die winkelrak staan en begin des te meer aartappels volgens variëteit uitkies. Natuurlik ook volgens smaak. Die verbruiker vra ook meer vir gehalte.

Jannie se resep vir die lewering van kwaliteit produkte is veral gegrond op goeie algemene bestuur en doeltreffende bemesting. “Suid-Afrikaners is gewoond daaraan om ‘n aartappel van buite af op sy skil en kleur te beoordeel. Dit is egter nie te sê dat dit gehalte verseker nie. Die gehalte is binne-in.”

Vir dekades was die plaaslik-geteelde kultivars Van der Plank en BP1 vanselfsprekende keuses vir die boer en verbruiker. Nou egter, is die swaai meer na ingevoerde soorte soos Avalance, Sifra en Mondial wat Jannie se keuse is. Die toetsing van nog talle nuwe kultivars is ook in die pyplyn.

“Daar is ‘n besliste neiging om hierdie sogenaamde ‘tussen-in' kultivars te plant. Onthou, ‘n kultivar wat die hoogste produseer, is soms 'n swakker keuse vir prosessering”, waarsku dié boer wat jaarliks tussen 85ha en 100ha onder aartappels sit.

‘n Gehalte produk word al hoe meer in aanvraag. Daarom rig Jannie hom tot omgewingsvriendelike- en bewaringsboerdery-praktyke wat deur goeie landboubestuursbeginsels gerugsteun word. Laasgenoemde beteken byvoorbeeld dat ‘n boer rekordhou-ding van al die komponente van sy onderneming moet byhou, veral wat spuitstof-voorsiening betref.

Hy het ook ondervinding van organiese aartappelproduksie, maar glo dat dit net vir ‘n eksklusiewe mark geskik is. “Dis beslis nie ‘n haalbare praktyk waarmee ‘n land en die massas gevoed kan word nie.” Hy glo egter dat organiese en biologiese boerderymetodes mekaar kan aanvul.

Aartappelboere het in die jongste maande meer as net een grys haar bygekry. “Een van die moeilikste tye ooit”, is die algemene antwoord van boere landwyd as jy hulle vra hoe dit met die bedryf en in hul boerderye gaan. In Januarie op die Johannesburgse varsproduktemark alleen, is meer as 550 000 kg aartappels weggegooi, en die gemiddelde prys vir ‘n 10kg sakkie het tot onder R24 geval. Verrotting op markvloere en swak gehalte is as die rede hiervoor gegee.

“Ons verdien nie eens ons produksiekoste uit ‘n sakkie mooi aartappels nie, maar wat kan ons doen? Ons kan nie die aartappels in die grond los nie.”

Jannie meen dit is veral die hoë insette wat tussen R95 000 en R115 000 per hektaar beloop wat pryse onder druk plaas. Oorproduksie, soos wat vroeër vanjaar ondervind is, is deur lae rentekoerse en die gebruik van nuwe hoë produksie kultivars gerugsteun. Ja, stem John saam, aartappel aanplantings het deur die plafon gevlieg. ‘n Woordvoerder van die Kaapse Private Mark meen egter ‘n gebrek aan koopkrag is die éíntlike probleem.

Nog ‘n Sandveldse boer, Pieter Loubser, sê die afgelope somer was van die moeilikste wat hy nog beleef het – ‘n nagmerrie. Hy som die probleem op: “Ons verdien nie eens ons produksiekoste uit ‘n sakkie mooi aartappels nie, maar wat kan ons doen? Ons kan nie die aartappels in die grond los nie”.