Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Alles begin by saad

Written by  Hennie Basson
| in Landbou
| July 8, 2015

Ons land se groentemandjie is gróót met allerlei groentesoorte soos aartappels, tamaties, uie, kool en wortels.

Selfs die uitvoermark wink al hoe meer. Daarom behoort daar altyd ‘n vraag na goeie gehalte groentesaad te wees. Dié versekering kom van ringkoppe in die bedryf.

Alles begin tog by saad. En volhoubare boerdery word bepaal deur wat ons in die grond sit. ‘n Boer wat hom egter verbind tot hierdie eksklusiewe boerdery - wat oor winsgewende vooruitsigte beskik  - moet aan sekere vereistes voldoen en sommer hare op die tande hê.  Talle nuwe probleme het ook in die jongste tyd opgeduik. Ja, ook vir diegene wat ‘n tonnelboerdery wil aandurf.

Dit is jammer dat ekonomiese belang van die groente- en groentesaadbedryf dikwels hier aan die suiderpunt van die kontinent onderskat word. Kom ons gooi dus ‘n blik oor hierdie bedryf waarin van ‘n kleinboer, tot ‘n saadkweker van formaat, en ook die bielie saadmaatskappye die vrugte van die oes kan pluk.

Suid-Afrika het ‘n betreklik goed-ontwikkelde saadsisteem wat behartig word deur plaaslike en multi-nasionale saadondernemings in samewerking met informele operateurs. Die gebruik van gesertifiseerde saad word aanbeveel.

Hoe groot is die groentebedryf in Suid-Afrika? Dis ‘n komplekse bedryf en hierdie syfer is nogal moeilik om vas te stel. Skattings van slegs twee groentetipes dui rofweg op tussen 9 000 en 10 000 hektaar jaarlikse uie-aanplantings, en nie minder nie as 18 000 hektaar onder kopkool.  Aartappels, tamaties, uie en kopkool is die belangrikste groentesoorte in die land. In daardie volgorde.    

Ook ons groentestorie het by Jan van Riebeeck begin. Sedert dié grondlegger meer as 360 jaar terug pionierswerk gedoen het - deur die eerste groentuin in die skadu van ou  Tafelberg aan te lê -  was die produksie van groentesaad in ons land sekerlik nooit so volhoubaar soos nou nie. Al is hierdie baanbreker deesdae weer onder kruisvuur, het die Kaap tog nou weer Hollands geword!

Uiteindelik word daar selfs kontrakte vir die uitvoer van groentesaad  met internasionale kliënte gesluit en ons boere moes vinnig begin leer om as ‘t ware “in tale” te praat - oor dollar en Euro. Met ‘n geleidelike toename in die uitvoer van saad, dra hulle beduidend by tot voedselproduksie en voedselsekuriteit aan ‘n groeiende menigte wêreldwyd.

Koerantkolomme is ook vanaf verlede jaar vol daarvan dat ons land besig is om die markaandeel in Rusland uit te brei, nadat daardie land ’n een-jaar verbod op invoere vanaf die VSA, die EU, Kanada, Australië en Noorweë geplaas het. ‘n Goeie verhouding is met Rusland aan die opbou en ‘n vennootskap is in die pyplyn om groente na Rusland uit te voer.

Ofskoon die plaaslike groentebedryf nog slegs piepklein teen wêreldproduksie is, word ons saadproduksie ‘n al hoe groter rolspeler op wêreldmarkte. “Ons goeie klimaat en verbouingspraktyke is hiervoor verantwoordelik en wêreldleiers op dié gebied, nl. Nederland, Frankryk, Chili en die Verenigde State, is maar al te bewus van ons”, sê Oubaas Kersop, van Syngenta SA op Vredendal.

Met sy ankers in Switserland is Syngenta die tweede grootste saadonderneming ter wêreld en lewer 70% van die wêreld se somerblomkool- en  brokkolisaad. Die grootste markte is Europa en die Verenigde State. Juis vanaf Lutzville verskaf die onderneming hoofsaaklik blomkool- en broccoli saad -hibrides, asook murgpampoentjies. Syngenta is betrokke by 70 tot 120 hektaar onder eersgenoemde twee gewasse in die Olifantsriviervallei-gebied.

Dan is ander ondernemings soos Klein-Karoo Saadproduksie en JW Saad ook op groot skaal ingestel op lente-uie en wortels, terwyl Sakata, Monsanto en Starke Ayres op wortels en ‘n verskeidenheid  ander gewasse fokus.  Nico van Zyl van Starke Ayres rits nog ‘n aantal af: tamaties, pampoen, murgpampoene, botterskorsies, uie, lemoenpampoentjies, boontjies, suikermielies en beet. Só woel die manne van Starke Ayres, wat in 1877 in Kaapstad uit ‘n kwekery onstaan het, dat hulle die markleier in die plaaslike groentesaadbedryf is. 

Ook Klein-Karoo Saadproduksie kan bors uitstoot. Dis die grootste onafhanklike saadmaatskappy in Afrika wat hoofsaaklik op die uitvoer van hoë gehalte groentesaad gerig is. Jy gesels met die voormanne hier en hulle kan nie uitgepraat raak oor die rooskleurige toekoms van saadproduksie in ons land nie.

Reeds enkele jare gelede het die besturende direkteur, Dave Malan, die oë laat rek toe hy gesê het dat netto winste uit groentesaadverbouing van tot R120 000 per hektaar wel moontlik is. Hy het gesê die kweek van saad is ‘n lonende bedryf wat oor groot moontlikhede beskik – veral vir boere wat wil diversifiseer.

Dit verg nie ‘n baie groot kapitale uitleg nie en hulle het  ʼn korter groeitydperk nodig en kan daarom meer as een keer  ʼn jaar geplant word.  Maar boeta, dis harde werk!  Vra maar vir boere wat so graag in die somervakansie, in die oestyd,  saam met hul vriende langs die see wil gaan uitspan en dit nie kan doen nie.

Die suksesvolste saadboere is glo dié wat saam met hul werkers in die lande is. Of die son nou bak óf die oggendkoue byt...hulle sê die beste kunsmis vir saad is die voetspore van die kweker. Blootstelling aan groot risiko’s is vir ‘n kweker in hierdie bedryf ook ‘n waarheid soos ‘n koei. En hoë arbeids-, verpakkings – en vervoerkoste ruk ook ‘n man se sak. 

Jy moet  ook weet, saadproduksie het toegewyde aandag nodig, asook goeie grond, geïntegreerde bemestings-, siekte- en plaagbeheerprogramme, genoeg water en toepaslike besproeiingsmetodes. Voorts moet jy oor ‘n goeie  kennis van produksiemetodes en meganisasie beskik en oespraktyke ken.

Met meer as honderd saadondernemings wat in Suid-Afrika die kommersiële sektor voed, word probeer om net kwaliteit saad aan boere te voorsien.  Soos Alliance Seed wat selfs saad uit Frankryk invoer  - vanaf Clause wat reeds vir 200 jaar in besigheid is. Clint Deeks van Alliance sê: “Ons beskik oor uitstekende genetika en produkte soos siekte-weerstandige- en baster groentesaad. Die hoofprodukte is tamaties en soetrissies, maar ‘n verskeidenheid ander groentesaad word verskaf, soos ‘n nuwe wortelreeks wat ‘n mens opgewonde maak.”       

Tonnels is nou dalk nie die mees toeriste-vriendelike praktyk op plase en langs paaie nie. Nogtans is dit ‘n absolute wenner om hitte en sonlig te kan reguleer. Met die dreigende en onsekere toekoms van klimaatverandering is dit vir groente- en groentesaadprodusente iets om dringend te oorweeg.

Hierdie praktyk is inderdaad besig om toe te neem. Dis ‘n beter manier om bestuiwing te waarborg en dus beter opbrengste te gee, wat meer geld in die sak beteken. Oubaas Kersop beklemtoon dat daar egter nog baie navorsing gedoen moet word om volhoubaarheid en toekomstige sukses daarmee te verseker.

Tonnels is ‘n duur storie, maar ‘n winsgewende een, veral as jy in die warmer dele van die land bly. Nuwerwetse plastiektonnels is nou in Suid-Afrika beskikbaar. Daar is ook maklik verskuifbare tonnels op die mark.

Dit hou baie voordele in, noem Nico van Starke Ayres: die ‘kunsmatige’ verlenging van die groeiseisoen, die beperking van siektes en insekte, ideale groeitoestande word geskep, en dis ‘n intensiewe boerdery met hoër plantpopulasies wat dus hoër opbrengste gee. Dan kan daar ook nog bygevoeg word: intensiewe, meer akkurate watertoediening, die voorkoming van haelskade, en op ‘n kleiner oppervlakte kan meer geproduseer word. En mens kan vertikaal boer. Dis veral tamaties, paprika, en komkommers wat in hierdie meer beskermde omgewing gedy.
So wat is die keersy? Die aanvanklike hoë koste om daarmee te begin en hoë onderhoudskoste, dis arbeidsintensief en die chemiese kunsmis om plante hidroponies te voed, is ook ‘n duur storie.

Aangesien die Sandveld hoofsaaklik aartappelwêreld is - ‘n gewas van wie die oorplantingsisteem  op ‘n anderste manier as dié van ander groentesoorte werk - loer ons ook by die kantore van Aartappels SA in. Pleks van saad in die grond te sit, gebruik dié manne moere. Aartappelsaadjies sal wel ontkiem, maar dit is meestal nie lonend nie. Die aartappeltjies wat ‘n mens hieruit kry, is net albastergrootte.

‘n Aartappelmoer kan gedefinieer word as bloot ‘n aartappel waaraan uitloopsels begin vorm het. Soms word die moere in kleiner moere, elk met sy paar uitloopseltjies, opgesny voordat dit geplant word.

Dr. Fienie Niederwieser, die bestuurder van navorsing en ontwikkeling by Aartappels SA, meen dat aartappelmoere “meer waardevol as goud is, nie net omdat die koste van moere die grootste gedeelte van die produksiekoste uitmaak nie, maar ook omdat die gehalte van moere ‘n bepalende faktor vir opbrengs is.”  Die kwaliteit van moere word bepaal deur die siektestatus, fisiologiese stadium, grootte en groeikragtigheid van die moere.

Dis nie sommer enige moer in die grond sit, en verwag dat jy die regte resultate sal kry nie. Nee, sê Fienie: “Kennis van moerkwaliteit, goeie kommunikasie en hanteringspraktyke deur elke persoon in die waardeketting, is die grondslag van suksesvolle verhandeling en aanplanting van moere.”

Die plant van gesertifiseerde moere bied die versekering dat moere in ooreenstemming met die reëls en regulasies van die Suid-Afrikaanse Aartappelmoersertifiseringskema  voldoen. Hoewel aartappelboere nie verplig word om gesertifiseerde moere aan te plant nie, is dit in belang van die hele bedryf dat die plaaslike mark aantreklik genoeg is vir buitelandse telers.  Ons bedryf is immers afhanklik van buitelandse telers vir die volgehoue ontwikkeling en verskaffing van verbeterde kultivars.                

Jammer dat die saadaartappelbedryf in die Sandveld , eens die kroonprins van hierdie bedryf, nou egter donker tye beleef. In hierdie wêreld wat in die nabye verlede tot 4 000 hektaar onder saadaartappels gehad het, word nou slegs ‘n beskeie 400 hektaar met dit beplant.

“Geknou deur ‘n virus en allerlei ander probleme, het produksie na ander dele van die land wegbeweeg,” sê ‘n redelik mismoedige Oubaas Kersop. “Jy weet, as ‘n mens eers jou markaandeel verloor het, is dit deksels moeilik om dit weer te herwin.”

“Om saad te kweek, is ‘n uiters intensiewe manier van boer en ook nog ‘n uitgerekte besigheid. Uit ‘n bestuursoogpunt deksels veeleisend,” maan Oubaas. “Ek kan vir jou sê dis nie vir ‘n boer maklik om so lank te wag vir sy eindproduk se geld nie. So, vir ‘n nuwe boer wat hom hierin bevind, kan dit nogal ‘n tameletjie word om die pot aan die kook te hou. Die ouens wat reeds aan die gang is, kan nog die pas makeer, omdat saadaartappels reeds inpas in hul jaarbeplanning en daarom word hul kontantvloei aan die gang gehou.”

Terwyl groot koerantopskrifte dit uitblaker dat ‘n kos krisis dreig omdat Eskom tariefverhogings van meer as 25% beoog, sê Oubaas dit is juis die elektrisiteitskrisis wat dit vir die boer net onmoontlik gaan maak om kop bo water te hou. “Terwyl ons van die een krisis na die ander voortstrompel, word hierdie die Sandveld se grootste probleem.”

Nico, van Starke Ayres, gooi ook ‘n stewige stuiwer in die armbeurs. Hy noem ander drukfaktore soos brandstof- kunsmis- en loonverhogings, onsekerheid oor grondhervorming, en ‘n verlaging in aanvraag. Selfs die onlangse xenofobiese aanvalle in die land het ‘n impak gehad, omdat dit weerstand vir ons produkte in ander Afrika lande veroorsaak het.