Volg ons op Facebook

Bewaringslandbou se invloed op meganisasie

Written by  Maryke Roberts
| in Landbou
| August 5, 2015

Daar is deesdae soveel gonswoorde in landbou en dis moeilik om tred te hou met die nuutste ontwikkeling met terme soos “volhoubaarheid”, “geneties-gemodifiseerde gewasse”, “organiese verbouing” en dies meer, maar een landboupraktyk wat jy maar kan dophou, is bewaringslandbou (BL).

Mondvol. Óf jy het al daarvan gehoor en weet wat dit is, óf jy knik net instemmend en gee voor jy weet waaroor dit gaan. Is dit bloot grondbewaring en die voorkoming van grond-erosie? Ja en nee.

Dr. Charlie Reinhardt, buitengewone professor, Departement Plantproduksie en Grondkunde by die Universiteit van Pretoria en tans president van die SA Vereniging vir Onkruidwetenskap, verduidelik dat die kern-element van BL “die mate is waarin grond versteur word by die voorbereiding van die saadbed en daarna”.

“Die minste grondversteuring met implemente sal die meeste plantreste op die oppervlak tot gevolg hê en vandaar die benamings ‘minimum-’ of ‘geenbewerking’. BL was aan die begin gerig op die mees voor-die-hand-liggendste voordele, soos die bekamping van grond-erosie (wind en water) en die bewaring van grondvog. Amper toevallige meevallers was die verbetering van die grondstruktuur, deur die verhoging van organiese materiaal in die grond, die herwinning van voedingselemente wat in die bewaarde plantreste opgesluit is en die onderdrukking van onkruid deur die organiese deklaag op die grondoppervlak.”

august2015-landbou-mechanisasie-1

Dr. Johann Strauss, wetenskaplike: Volhoubare produksie-stelsels, Direktoraat Plantwetenskappe, Wes-Kaap Departement van Landbou en sekretaris: Bewaringslandbou Wes-Kaap, sê: “BL het werklik ’n aanvang geneem in die 1970’s in die Amerikas, veral Suid-Amerika. Die eerste bewaringslandbouboer van Brasilië, Hugo Bartz, het verlede jaar ’n ere-doktorsgraad ontvang vir sy aandeel. Hy het in 40 jaar nog nie sy grond bewerk nie.”

Die idee van BL in die Wes-Kaap het in die vroeë tagtigerjare met Oom Jack Human van die Heidelberg-distrik posgevat. Hy het besef dat hy anders sal moet begin boer om te bly oorleef en het ’n besoek aan Australiese boere gebring, waar dié praktyk toe al goed gevestig was.

“BL stel jou in staat om te verseker dat jou kinders se kinders oor 50 jaar nog steeds op dieselfde grond kan boer.  Dis mos ons plig om die grond vir ons nageslag beter agter te laat as wat ons dit gekry het, sê Johann.”

Johann sê die een enkele rede hoekom boere moet oorskakel: “BL stel jou in staat om te verseker dat jou kinders se kinders oor 50 jaar nog steeds op dieselfde grond kan boer.  Dis mos ons plig om die grond vir ons nageslag beter agter te laat as wat ons dit gekry het.”

Bewaringslandbou Wes-Kaap is vier jaar terug gestig. Daar is ’n nasionale forum onder die “Landcare”- program waar die onderwerp bespreek word en daar word ook tans aan ’n nasionale beleid gewerk.

BL maak heeltemal sin as jy graan saai, maar wat van ander gewasse? “Dis vir alle gewasse en alhoewel een van die pilare waarop BL rus, minimum grondversteuring is, verstaan ons dat in enige boord of wingerd daar soms grond versteur gaan word, as nuwe aanplantings gedoen word, só ook met groente soos aartappels. Dit is wat tussen sulke aanplantings gebeur waar bewaringsboerdery die verskil kan maak,” vertel hy.

Tans het die Wes-Kaap se graanboere die grootste omskakelingssyfer van om en by 70%. KwaZulu-Natal is tweede met 50-60%;  Vredefort met 40% en Gauteng en Noordwes met 20% elk. Maar dis nie so maklik om boere te oorreed nie, vertel Johann. “Dis nie altyd maklik om die kopskuif te maak om oor te skakel nie en sommige produsente skakel makliker oor as ander. In die Wes-Kaap is ons gelukkig dat ons produsente en die bedryf ons navorsing baie goed ondersteun en insette lewer om dit te verbeter.”

august2015-landbou-mechanisasie-2

Dr. Hendrik Smith van Graan SA is in Januarie 2013 aangestel as nasionale BL fasiliteerder om dié praktyk onder graanprodu-sente in SA te bevorder. Hy het sy doktorsgraad in dié onderwerp gedoen.

Hy is in 1993 by die LNR se Instituut vir Grond, Klimaat en Water (IGKW) as grondkundige aangestel en was verantwoordelik vir grond-opnames en navorsing in grond-erosie en land-evaluering.

Van 1997 was hy betrokke by verskeie projekte wat gepoog het om BL onder kleinboere te vestig. Behalwe vir BL, was hy ook verantwoordelik vir navorsing oor gronddegradasie en vleilande. Hy het ook die BL-navorsingsprogram tussen die verskillende LNR-institute gekoördineer en was leier van die nasionale taakspan vir BL.

“Boere was nog altyd die voorlopers in die bevordering van BL.”

Hy het onlangs op die oggendprogram, kykNet Dagbreek meer vertel oor die onderwerp. Hy sê Graan SA is net die katalisator en fasiliteerder van hierdie proses, want “boere was nog altyd die voorlopers in die bevorde-ring van BL. Ons respekteer, erken en gebruik boere se innoveringsvermoë en ons skep ’n omgewing rondom hierdie innoverende boere - ’n innoveringsplatform. Ons bou vennootskappe met hulle; ons trek ander belangrike mense soos navorsers, vervaardigers, insetverskaffers in; en sluit verhoudings met buitelanders soos die Argentyne. Ons doen ook op-plaas-proewe, kongresse en boeredae en maak die inligting oor hierdie praktyke beskikbaar.

august2015-landbou-mechanisasie-3

“Die Argentyne het onder baie moeilike ekonomiese omstandighede hul praktyke getransformeer na BL. Dit het geïmpliseer dat hulle ’n baie effektiewe en doeltreffende stelsel ontwikkel het en ook baie interessante- en goeie implemente. Ons kan baie by hulle leer, want hulle het baie soortgelyke omstandighede as ons plaaslike boere. Ons het ooreenkomste met hulle gesluit, gebruik hul praktyke en hulle leen selfs hul implemente vir ons. Ons kyk hoe ons hul stelsel kan gebruik om ons eie stelsel te verbeter.”

Hendrik sê dat studies toon dat die grondverlies as gevolg van water-erosie 13 ton per hektaar per jaar beloop. “Dit beteken dat vir elke ton mielies wat ons produseer, ons twee ton grond verloor. Dis net eenvoudig nie volhoubaar nie.” Hy sê grond is sterwend, nog voor die fisieke tekens soos grond-erosie sigbaar is.

“Ons moet nader aan die natuur boer; dan sal Moeder Natuur beter na ons kyk. Ons moet grond baie beter bestuur en respekteer; dit as ’n lewendige organisme behandel. In een handvol grond is daar meer lewendige orga-nismes as die hoeveelheid mense op aarde.
Hy glo boere maak grond dood met die aanhoudende en aggressiewe versteuring van bewerking met tand- en skottel-implemente en hierdeur bevorder ons ook aardverwar-ming deur die oormatige uitlaat van kweek-huisgasse.

“Enige boere, klein, medium- of groot, kan BL maak werk in sy omstandighede as hy baie noukeurig let op die volgende praktyke:

• Hy moet sy grond so min as moontlik bewerk. Sodra jy grond versteur, begin jy daardie afwaartse spiraal van degradasie; so jy plant in die grond sonder om enigsins die grond te bewerk - met ’n spesiale planter natuurlik.
• Om jou grond te beskerm en te voed met organiese plantmateriaal wat jy permanent op jou grond los - insluitend oesreste en dekgewasse.
• Om soveel moontlik gewasse in jou rotasie te hou - meer as drie gewasse verkieslik - en daardie diversiteit dryf die hele volhoubaarheidsproses.

Hy het vertel van die sukses van die innoveringsplatforms in die Ottosdal-omgewing, waar die tweede bewaringslandboukongres in Maart vanjaar gehou is. Behalwe die kundiges wat as gassprekers opgetree het, kon deelnemers ook veldbesoeke na van die proewe onderneem.

august2015-landbou-mechanisasie-4

Maar al hierdie veranderende landboupraktyke vra veranderende toerusting. Daardie ou ploeg wat jou pa nog met sy eerste oesgeld gekoop het, is nie meer die aangewese implement nie.

Martin Marais, bemarker Landboumasjinerie meganisasie op Porterville Kaap Agri, sê BL-produsente koop presisie-instrumente by hom, wat met GPS-werk.

“Die koms van bewaringsboerderypraktyke het ’n groot invloed op die manier waarop die graanprodusente van die Wes-Kaap hul gewasse vestig en beskerm.  Om aan hierdie behoeftes te voldoen, het daar ’n skuif plaasgevind in implementkeuses ten einde grondversteuring te minimaliseer.

“Suksesvolle bewaringsboerdery steun nie net op die bewaring van gewasreste nie, maar ook op gewasrotasie deur kleingrane af te wissel met breëblaargewasse soos kanola, lupiene en medics.”

Martin sê hierdie praktyke hou egter vir die produsent ’n klompie uitdagings in, aangesien onkruidbeheer slegs steun op chemiese beheer, omdat daar nie meer aggressiewe bewer-kingsaksies op die land plaasvind nie.  Die brand van gewasreste het ook bygedra tot die vernietiging van onkruidsaad, maar omdat hierdie gewasreste nou bewaar word, vind hierdie praktyk al minder plaas.   

“Sedert 2009 bied Kaap Agri aan sy produsente die keuse van geen- of minimumbewerkings-implemente deur die Vaderstad-reeks vanuit Swede in te voer.”  

“Sedert 2009 bied Kaap Agri aan sy produsente die keuse van geen- of minimumbewerkings-implemente deur die Vaderstad-reeks vanuit Swede in te voer.  Hierdie tegnologies gevorderde planters is spesiaal ontwerp om aan die vereistes van minimumbewerking te voldoen. Wêreldwyd word Vader-stad se implemente sedert 1967 bemark en die firma word geken as markleiers in Europa, Kanada en Australië, vir hul kwaliteit en innoverende tegnologie.”

august2015-landbou-mechanisasie-5

Hy gaan voort en sê Kaap Agri bied die Vaderstad “Seedhawk” tandplanter, asook die “Rapid” skyfplanter.  Beide hierdie planters het die afgelope paar jaar hul staal gewys deur ’n nuwe standaard te stel in verbeterde saadplasing, eenvormige opkoms en verminderde wringkrag vereistes.  Hierdie eienskappe bring mee dat die produsent verhoogde opbrengste geniet en die verlaging in brandstofbehoefte per hektaar, bring mee dat ’n besparing in dieselverbruik waargeneem word.

“Kaap Agri bied nou ook die Kverneland-seksiebeheerspuite uit Nederland.  Hierdie toerusting stel die produsent in staat om chemiese onkruiddoders akkuraat op die teiken-area te plaas en daardeur verbeterde onkruidbeheer te bewerkstellig.”

Die Wes-Kaap spog ook nou met vier plaaslike vervaardigers van BL-implemente.

Willie van Rensburg, bestuurder op Appelbosvlei buite Porterville, vertel hulle het die afgelope agt jaar so stuk-stuk omgeskakel na BL met hul koringproduksie. Hulle het eers die planter, toe GPS-saaier en toe die GPS-strooier gekoop om kunsmis op die koring te strooi. Willie sê die vogbewaring is baie beter en die besparing omdat die gekalibreerde masjien geen vermorsing het nie, is die hoof-voordele.

Johan Langeveld van Koringkloof by Eendekuil, sê hy het vyf jaar terug begin met wisselbou tussen koring en lupiene, maar tot verlede jaar moes hy die meeste van die stoppels ná die oes optel, omdat hy nie die toerusting gehad het om deur die stoppels te plant nie. “Ook was daar nie regtig ’n mark vir lupiene nie, maar nou lewer ons almal aan die koöperasie en wissel nou een jaar koring, een jaar lupiene. Verlede jaar het ons poel altesaam 6 000 ton lupiene bemark.”

Verlede jaar het hy ’n demonstrasiemodel planter gebruik en vanjaar in Maart sy eie planter aangeskaf. “Ek is spyt ek het nie lankal die aankope gedoen nie, want my opbrengs-verho-ging betaal daardie planter.” Hy vertel dat die oesreste op die grond, die grond só klam hou, dat hy selfs na drie weke waarin daar geen winterreën geval het nie, steeds kon voel hoe vogtig die grond onder sy koring is.

WG Treurnïcht van die plaas Nuhoop buite Porterville boer met melkbeeste, wolskape, asook met koring, afgewissel met kanola, bitterlupiene, medics en hawer. Hy is vanjaar in sy tiende jaar met bewaringsboerdery.

WG sê hy het baie gelees oor die voordele van BL in Australië, later ook die Suid-Kaap en Swartland. “Mede boere van die Suid-Kaap het my bekendgestel aan BL, waar periodieke droogtes gereeld voorkom.”  Die droogte van 2003 en 2004 het hom finaal laat besluit om oor te skakel en die grond se verhoogde vermoë om water te absorbeer en die gevolglike afname in erosie, is van die grootste voordele wat hy ervaar. “Die grond se struktuur is beter en ek kan sien daar is lewe. Ek is baie meer gemaklik oor die langtermynvooruitsigte van die boerdery en voel my kinders gaan die vrugte daarvan pluk.”

Hy het in die eertse seisoen ’n planter gekoop en die ander opgraderings het in die volgende seisoene gevolg. “Planters kon nie regtig met groot sukses omgeskakel word nie. Stropers en spuite kon egter nog gebruik word met die nodige aanpassings.”

WG sê dis baie moeilik om te sê hoe lank dit geduur het voor hy sy kapitale uitleg kon delg, omdat hy grond bygekoop het in daardie beginperiode, wat veroorsaak het dat hy nog ’n planter en  stroper moes bykoop.

“BL met sy drie pilare - minimum grondversteuring, maksimum grondbedekking en wisselbou - het ’n groot bydrae gemaak tot ekologiese en ekonomiese volhoubaarheid van graanboerdery in die Wes-Kaap.”

Die landbou-ekonoom, Louis Coetzee, van Kaap Agri Kommoditeite en Dienste op Malmesbury, sê: “BL met sy drie pilare - minimum grondversteuring, maksimum grondbedekking en wisselbou - het ’n groot bydrae gemaak tot ekologiese en ekonomiese volhoubaarheid van graanboerdery in die Wes-Kaap.  Die voordele van BL is al deeglik gedokumenteer op verskeie platforms en sluit onder meer in die voorkoming van gronderosie, vog-absorbsie & bewaring, besparing in insetkostes en die verhoging in opbrengste.  Hierdie voordele word ook duidelik weerspieël in die ekonomiese resultate van graanstu-diegroepe regoor die Swartland. Van hierdie resultate sluit in ’n ooglopende opbrengsverhoging van graan in wisselboustelsels, teenoor opbrengste in ’n monokultuurstelsel; bespa-ring in direk allokeerbare kostes en sodoende beter bruto marges per hektaar.” 

BL kan ook wingerdboere help en heelwat praktyke word reeds deur verskeie wingerdboere toegepas, sê Hendrik. BL het verskeie vertakkings en dis ’n geïntegreerde benade-ring wat gevolg word om BL in wingerde en vrugteboorde toe te pas. Daar is implemente wat in die wingerde gebruik kan word om die dekgewasse tussen rye te kneus en plat te druk, sonder om die grond te versteur.
In die Koue Bokkeveld is ’n wingerdboer wie se boerderybeginsels berus op “die minimum reaksie op die natuur”. Die onkruid en gras tussen die wingerde word omtrent glad nie gespuit nie, maar eerder net gesny om as deklaag te dien en die vog in die grond te hou. Diverse dekgrasse - tussen 6 en 20 verskillende soorte dekgrasse - word geplant; kompostee gemaak en gespuit om die kwaliteit van die grond te verbeter; uilpale en vlermuisbokse is in die wingerde aangebring. Die boer het in 15 jaar ervaar dat sy klipharde, droë grond in lewensryke grond verander. “Ek het in 2000 besef die manier waarop ons boer, is boos. Ons moet die grondlewe weer aan die gang kry vir volhoubare boerderypraktyke.”  

In die Suider-Paarl, teen die hange van die Klein Drakensteinberge, gebruik Johnathan Grieve, eienaar van Avondale Wyne, verskeie organiese tegnieke om grondkwaliteit te verbeter. In sy blog skryf hy: “In biodinamiese boerdery, verlaag kamille die ammoniak in die grond en breek organiese materiaal af om stikstof te stabiliseer en kalsium te verhoog om die grondkwaliteit te verbeter.”

Hy plant ook Brassicaceae-gewasse as dekgewasse om peste natuurlik weg te hou. Hierdie familie sluit onder meer kool, brokkoli en blomkool in en dien as natuurlike fumigeerder in die grond, wat as natuurlike, holistiese pesbeheer dien. “Dis egter belangrik om te onthou dat hoewel brassicas as dekgewasse baie effektief is, dit in samewerking met ander praktyke gebruik moet word,” vertel hy.

Verlede jaar het die Amerikaner, Barry Fisher, ’n grondgesondheid-kenner van die Amerikaanse departement landbou, die Wes-Kaap besoek en as gasspreker by ’n plaasdag van Bewa-ringslandbou Wes-Kaap, kom gesels. Hy het gesê min of geen grondbewerking, soveel bedekking as wat moontlik is en die maksimum diversiteit op die plaas, is voorvereistes vir grondgesondheid. Hy benadruk die belangrikheid van gewas-rotasie. “Vind ’n gewas wat in die somermaande geplant kan word om die grond nat en koel te hou. Hoe goed of sleg die gewas groei, is nie van belang nie. Fisher het aan die groep boere vertel dat hy maar te goed besef dat boere nie maklik die waarde van dekgewasse insien nie, want dit kan nie geld genereer as dit aan die einde van die seisoen geoes word nie. Maar dat dit oor en oor die  moeite werd is, is gewis.

Hy het gesê hy was verstom oor wat Wes-Kaapse boere vermag, omdat die land soveel diversiteit met grond en klimaatsones het. “Dis relatief maklik om ’n goeie gewasboer in Amerika te wees, vergeleke met die uitdagings wat Wes-Kaapse boere het,” het hy gesê. In die lig hiervan, wou hy nie veel voorskrifte gee nie, maar hy is van  mening dat die boonste laag van die grond eerste moet aandag kry - want dis waar die omdraaiproses begin - voor boere aan dieper grondlae aandag gee.
 
• Bewaringslandbou Wes-Kaap se bewaringslandbou-konferensieweek is van 7 tot 11 September. Dit bestaan uit twee praktiese plaasbesoekdae en ’n dag met sprekers. Vanjaar is twee internasionale kenners uit Australië, Greg Butler, bestuurder Southern Australian No-Till Farmers Association (SANTFA) en Tom Robinson, president  SANTFA, die gassprekers. Belangstellendes kan Johann Strauss by (021) 808-5479, 082 907 3109 kontak. Meer inligting oor Bewaringslandbou Wes-Kaap by www.blwk.co.za

august2015-landbou-mechanisasie-6DIE TIEN DRINGENDSTE VRAE OOR BEWARINGSLANDBOU WAT JY BEHOORT TE VRA:

1. Hoe lank neem dit voor my plaas ten volle BL-gereed is?

Johann verduidelik: “Wat produsente moet verstaan, is dat dit nie ’n oornagsuksesstorie is nie. Dit is ’n lewenstyl-verandering en dit neem tot 20 jaar voor jy op ’n plek is, waar alles vlot loop.”
BL is in fases opgedeel met jaar 1 tot 5 die inisiasie (hier kan dit gebeur dat jou opbrengs effens kan daal, alhoewel ons dit nooit ervaar het nie, maar met laer insetkostes kan die effense daling in opbrengs ondervind word), jaar 5 tot 10 is die oorgangsfase, 11 tot 20 konsolidasie en vanaf jaar 20 onderhoudsfase.

Johann vertel: “Ons het voordele van jaar een gesien, nie noodwendig in die opbrengs nie, maar in langer periodes waartydens ons droë toestande kon oorleef. Nou ná 20 jaar se langtermyn navorsing is die gemiddelde koring opbrengs tussen ons bewaringstelsels tussen 3.4 ton/ha en amper 4 ton/ha versus monokultuur verbouing van 2.7ton/ha. Op ’n ander proef waar ons nou 14 jaar onder BL-verbouing is, het ons vroeër die seisoen 105mm reën gekry oor drie dae en geen water het bo-op die grond gestaan nie en ook geen afloop (erosie) kon gesien word nie.”

2. Watter implemente gooi jy uit en watter implemente het jy nodig?

Jy verkoop jou ploeg en enige implement wat jou grond versteur of omkeer. Dan skaf jy slegs vir jou ’n minimum bewerkingsplanter en ’n spuit aan. Vir sommige boere sal dit dalk aanvanklik nodig wees om ’n tandploeg te hou om beperkende lae in jou grond - soos ploegbanke - op te hef, maar daarna word grond glad nie meer versteur nie.

Die stelsel is ook net volhoubaar indien jy ’n behoorlike spuit het om chemiese stowwe toe te dien. WG sê: “Die hele gedagte van BL is geskoei op die feit dat onkruid eerder dood-gespuit word as om dit dood te bewerk. In ons geval het ons ook ophou brand, wat beteken het dat tydens oestyd die strooi oopgestrooi word met spesiale kafswaaiers, sodat die hele oppervlakte met opgekapte strooireste bedek kan word.”

3. Wat kos dit?

Die planter wat vereis word vir BL, is baie duur, veral die ingevoerdes. Die wisselende wisselkoers en swak rand help natuurlik nie. Dit is aanvanklik nogal ’n stywe insetkoste om oor te skakel, maar omdat jy van dag een af spaar ten opsigte van onder meer diesel, en as jy jou ou implemente verkoop, kan dit darem ‘n bietjie help.

4. Wat is die grootste voor- en nadele van BL?

Die voordele van BL is velerlei. Hendrik sê boere kyk ondermeer na laer insetkoste, verbeterde grondgesondheid, beter waterhouvermoë, beter water-indringing, verhoogde opbrengste, verlaagde voorkoms van siektes en insekte as rotasiestelsels reg toegepas word. Op die langduur word swak grond weer vrugbaar, minder peste val oeste aan, en meer water word in die grond gehou.

“Die voordeel vir die boer is ondermeer baie minder diesel, eksterne insette en trekker-ure. Dus is jou boerdery baie meer effektief, wins-gewend en volhoubaar.”

Johann sê die nadele is dat daar aanvanklik dalk bietjie meer chemie benodig word om on-kruid te beheer, maar dit word met tyd minder en minder. “Vir my is daar egter geen nadele nie.”

5. Moet ek nog bemes en voed?

Bemesting en voeding is steeds nodig, veral die eerste 5 tot 10 jaar. Soos wat die grond geleidelik opgebou word en leweringsvermoë weer toeneem, kan bemesting afneem.  Met die behoud van residu’s is verdamping minder en sodoende kan besproeiing dan aangepas word. Die oes van gewasse bly onveranderd,  maar ’n produsent kan dit dalk net beter hanteer omdat hy nou verskillende gewasse het wat nie op dieselfde tyd ryp is nie. Boonop word die strooi van die koringoes reeds tydens oestyd op die lande oopgeswaai.

6. Hoe gemaak met peste en plae?

Peste en plae is minder, want die natuurlike vyande (predatore) van die plae, hou hulle in toom.

7. Hoe gereeld roteer ek gewasse?

Hoe meer verskillende gewasse, wat een na die ander op dieselfde land afgewissel word, hoe beter. Verskillende gewasse help jou om jou oes- en planttyd te versprei. Die grootste verandering is die produsent hoef nie meer sy bewerkingsaksies te skeduleer nie.

8. Is dit meer geskik vir ‘n sekere soort boerdery, of is dit oor die algemeen nodig?

Dit is geskik vir alle boerderye (klein en groot) en onder alle agro-ekologiese omstandighede (verskillende grond klimaatspatrone). Dit is wel makliker vir kommersiële boere (as kleinboere) en ook makliker op kleigronde onder hoër reënvaltoestande.

9. Watter invloed het BL op my opbrengste?

Soos jou organiese materiaal mettertyd toeneem, neem die grond se gesondheid en dus ook opbrengste, toe.

10. By wie kan Suid-Afrikaanse produsente oorsee aanklop vir raad?

Oorsese lande waar Suid-Afrikaanse boere vandag kyk vir raad en leiding, is onder meer Australië, Noord- en Suid-Amerika. Maar Suid-Afrika het ’n baie goeie kennispoel opgebou en kundiges, navorsers en boere is almal gretig om te help.