Volg ons op Facebook

Dohne Merinos wêreldwyd gesog

Written by  Maryke Roberts
| in Landbou
| September 7, 2015

Die internasionale Dohne Merino-konferensie word in Julie in Melbourne, Australië gehou en heelwat Suid-Afrikaanse boere gaan na die nuutste inligting oor dié skaapras luister.

Australië se Dohne Merino’s Julie 2016 kom nie net oorspronklik van Suid-Afrika af nie, maar verskeie telers het gesamentlike ondernemings met Australiese boere. Die konferensie is noodsaaklik om inligting uit te ruil oor teeltbeleid, evaluasiemetodes, bestuurspraktyke en die moontlike uitruil van teeltmateriaal.

Dié skaapras word internasionaal ál meer gewild. Die stoetbedryf-omset van diere verkoop op amptelike genootskapveilings, is ongeveer R25 miljoen. Dr. Kobus Delport, algemene bestuurder van die Dohne Merino Genootskap op Stutterheim, glo hierdie bedrag kan minstens verdubbel, indien verkope direk van die plaas af bygereken word.

Ten opsigte van kommersiële kuddeboere se bydrae, is enige beraming ’n raaiskoot aangesien boerderytoestande en pryse verskil. ’n  Beter aanduiding van die omvang van die bedryf mag dalk die getal ramme verkoop wees. Verlede jaar is ongeveer 2500 ramme op amptelike veilings verkoop.

Uitvoere van teeltmateriaal uit Suid-Afrika kon vir ’n beperkte tyd plaasvind toe veeartsenyregulasies verslap is. Dohne Merino’s is na Australië uitgevoer. ’n Verskeidenheid ander rasse soos SA Vleis Merino’s, Dorpers en boerbokke is ook uitgevoer en Suid-Afrikaanse kleinveeboere het aansienlike finansiële voordele getrek uit hierdie voorheen geslote mark.

Terselfdertyd kon ons inheems-ontwikkelde rasse hulle meriete aan die res van die wêreld bewys. Onlangse skrywes van onder meer die Falkland-eilande onderstreep die sukses van Dohne Merino-uitvoere. Produksie- en ekonomies gewys het uitgevoerde Dohnes beter presteer as die ter plaatse beskikbare diere.  Dr. Delport sê hierdie suksesse het direk daartoe aanleiding gegee dat telersgenootskappe in Australië, die Falkland-eilande en Suid-Amerika gestig is onder Suid-Afrikaanse leiding.  

Die geskiedeis van Dohne Merino’s

Die Suid-Afrikaanse skaap-industrie het sy oorsprong in die vroeë 19de eeu. Na die Peninsula-oorlog (1808 – 1814) is fynwol Merino’s van Spanje regoor die wêreld versprei. Voor en ná die oorlog het Merino-boere gesukkel om volhoubaar te boer, as gevolg van lae lammer-oeste en hoë mortaliteit. Hoë reproduksie vanaf ’n robuuste skaapras was die behoefte.

Volgens die Dohne Merino Genootskap (DMG) se webwerf is die Dohne Merino-ras ontwikkel om ’n geharde wolskaap te wees, met min-sorg kenmerke, en wat ’n hoë reproduksie en groeitempo handhaaf onder strawwe Oos-Kaapse suurveldtoestande.

“Oom Koot” Kotze,  die Direkteur van die Dohne Navorsingsinstituut op Stutterheim,  het die projek bestuur wat die kruis tussen Duitse Merino-ramme en Merino-ooie in 1939 uitgewys het as die mees geskikte opsie. Die eerste privaat-stoete is ook onder sy toesig onderneem. Reproduksie het só toegeneem dat boere jaarliks groot winste behaal het. ’n Hele paar dogter-stoete is vinnig gevestig. Streng wetenskaplike seleksie het gelei tot die ras se huidige status as ’n internasionaal erkende dubbeldoel-skaapras.

Die Dohne Merino Genootskap (DMG) van Suid-Afrika is in 1966 gestig met ’n ooi-populasie van slegs 2 500, en mnr. R.O.  Le Roux as eerste president. Vandag het die genootskap landwyd 90 aktiewe stoettelers met ongeveer
34 000 geregistreerde ooie.

Dr. Delport sê hoewel die skaapras oorspronklik geteël is vir die Oos-Kaap, bly die verskuiwing na ander streke baie suksesvol: “Vandaar die impak wat die Dohne het op alle skaapboerderygebiede in die land. Dit sluit onder meer die hele winterreëngebied, die Hoëveld, die oostelike veeweidingsgebiede en ook die grootse gedeelte van die Karoo-bioom.

“Die Dohne Merino is só suksesvol in die winterreënstreek dat ongeveer 50 persent van Dohne-telers en kommersiële boere hier voorkom. Die genootskap het ook reeds enkele berigte ontvang van suksesvolle kommersiële Dohne-boerderye in selfs die westelike ariede dele, asook die Kalahari.”

Dohne Merino’s dra ook hoë kwaliteit Merinowol om inkomste te stabiliseer ten tye van byvoorbeeld mislukte lammer-oeste.  Dr. Delport sê: “Ons is baie trots daarop dat ons telers ge- reeld op die lyste van wolmakelaars - vir hoogste wolpryse behaal - verskyn”.
Hy sê voorts dat die doelwit dat Dohne Merino’s laegraadse veldweiding doeltreffend moet kan benut, vandag nog geld.

“Dohne Merino’s is bekend daarvoor dat hulle minder selektief vreet en  gehard is”

“Dohne Merino’s is bekend daarvoor dat hulle minder selektief vreet en  gehard is. Hulle is egter ook gesog by voerkrale waar hulle intensief gevoer word. Die rede is nie alleen dat die ras redelik ‘verdraagsaam’ is teenoor die gewig waarop hulle markklaar gemaak word nie, maar sulke lammers produseer ook  hoë kwaliteit wol.”

Die Jouberts van Baleia Wines boer sedert 2001 op Dassieklip en Uitkyk, tussen Riversdal en Vermaaklikheid, as Droogerivier Dohne Merino’s, juis weens die skaapras se dubbeldoel en baie goeie moeder-eienskappe. Jan-Hendrik en sy pa, Fanie, vertel die area is geskik vir skaapboerdery, as gevolg van reënvalpatrone, goeie weiding en gematigde klimaat.  Voorheen het Fanie met Merino’s geboer.

Jan-Hendrik vertel: “Ons het 3,5 produse-rende ooie per hektaar weiding. Op ons plaas is dit die winsgewendste vertakking. Die kudde bestaan uit stoetdiere waarvan die ouers bekend is en kudde diere  waar wol (30%) en vleis (70%) vir wins sorg.”

Die boerdery teël gebruiks- en verkoops-ramme uit die stoet uit. “Ons koop ook ramme by ander stoeterye. Kommersiële ramlammers word verkoop. Slegs ramlammers uit die stoet, word grootgemaak en geselekteer vir teeldoeleindes.”

Die Jouberts gaan jaarliks na die Nasio-
 nale Dohne Merino-veiling in Bloemfontein en het  ’n produksieveiling op die plaas waar hulle jaarliks 60 ramme en dragtige en nie-dragtige ooie opveil.  “Die gemiddelde prys vir stoetooie is R3000 en kudde-ooie R1500.”

Produksieveilings is landwyd baie gewild, maar daar is ook ’n paar publieke veilings waar Dohnes saam met ander rasse verkoop word, wat baie goed ondersteun word. Die grootste Dohne-veiling is dié van Wydgelegen boerdery, Protem, waar jaarliks ongeveer 200 ramme verkoop word.

 “Die DMG se nasionale vei- ling dien as hoof uitstalvenster, aangesien lede nie aan skoue deelneem nie”      

Die DMG se nasionale veiling dien as hoof uitstalvenster, aangesien lede nie aan skoue deelneem nie. Die afgelope nasionale veiling getuig van uitsonderlike goeie ramme wat tussen stoeterye uitgeruil is. Die nasionale veiling bied ook geleentheid aan grootskaalse kuddeboere om topgehalte teeltmateriaal te bekom. Stoettelers soek ramme hier uit met spesifieke eienskappe. Daar bly dan hoë kwaliteit ramme “oor” wat teen bekostigbare pryse deur kommersiële telers bekom word.

Dohne Merino’s in die res van die wêreld

Dr. Delport sê: “Suid-Afrika is steeds so ’n kortkop voor Australië wat die totale getal geregistreerde ooie betref. Suid-Afrika se    Dohnes sluit van die beste gehalte diere in. Dit is geoordeel aan die gewildheid van ons teelmateriaal in die buiteland.”

Dohne Merino’s is in die verlede uitgevoer na Suid-Amerika (onder meer Uruguay en Argentinië), die Falkland-eilande  en Australië. Tans is ’n transaksie met Argentinië in die proses.

Hy sê veeartseny protokolle weerhou baie lande om Dohne Merino’s van Suid-Afrika in te voer.  Lande waar daar ’n vraag na Dohne Merino’s is, sluit onder meer Europa, Rusland, Hongarye, Georgië en Sjina in. Tans trek veral Australië groot finansiële voordeel uit die uitvoer van Dohne Merino’s (wat oorspronklik in Suid-Afrika ontwikkel is) na hierdie wêrelddele.

Nie elke boer is ’n teler nie, want die DMG het ’n streng stel voorskrifte waaraan boere moet voldoen om as telers te registreer. Die kern hiervan is dat alle telers hulle moet hou by wetenskaplik gegronde teeltverbetering.   Die implikasie daarvan is volledige rekordhouding van ouerskap tesame met metings van die belang-  rikste produksienorme soos reproduksie, groei, wolproduksie en wolkwaliteit.  Die inligting wat uit hierdie rekords gegenereer word en die doeltreffende wetenskaplike gebruik daarvan oor ’n baie lang termyn, plaas Dohne Merino teeltmateriaal in ’n klas van sy eie.

Die DMG beveel aan dat voornemende kopers van ramme en ooie op die volgende le”:

• Koop ramme en stoetooie by uitsluitlik gere- gistreerde telers. Ongeregistreerde telers het nie dieselfde omvattende inligting beskikbaar nie. Die beste genetiese materiaal is by geregi-streerde telers gesetel en meer kan betaal word vir geneties beter gehalte diere;   
• Doen jou huiswerk reg voor veilings. Kopers moet vooraf kenmerke identifiseer wat hulle graag in hulle eie kuddes wil verbeter;
•  Koop diere volgens die meriete (teeltwaardes) van die kenmerke wat jy wil verbeter.   Wolskaapboere is geneig om veral ramme te wil koop op grond van uitsluitlik goeie visuele wolkwaliteit.  Indien inkomste-verhoudings voorrang geniet, behoort kopers se prioriteit net mooi andersom te wees;
• Kommersiële kopers laat hulle te veel lei deur die Algemene Meriete-syfer. Hulle behoort meer te fokus op reproduksie en vleiskenmerke.
Die inseminasieprogram in Suid-Afrika

Kunsmatige inseminasie is ’n onlosmaaklike deel van stoetteelt. Telers gebruik dit om vaderskap van hulle diere akkuraat aan te teken, maar ook om genetiese koppeling tussen stoeterye in stand te hou.

“Koppelvaars word aangewend om teeltwaardes vergelykbaar te kry tussen stoeterye asook oor tyd (jare),” sê dr. Delport.

Die genootskap stel ook ’n lys van beproefde vaars beskikbaar wat  volgens metings op hulle nageslag geëvalueer is. Topvaars op hierdie lys is in groot aanvraag en saad is normaalweg beskikbaar vir kunsmatige inseminasie. ’n Lys van potensiële vaars wat nog nie nageslag het nie, is ook beskikbaar en behoort uit die oogpunt van die genootskap meer gewild te wees, omdat “nuwe genetika” uit hierdie lys na vore mag tree. 

Hy waarsku dat voornemende stoetboere deeglik moet besin oor hul doel met ’n stoetery. “Kyk byvoorbeeld eers of jou skaapkudde groot genoeg is om ’n stoet te regverdig.  Tweedens, besin deeglik oor die potensiële ram-mark in jou omgewing.  Die rede vir die bestaan van die Dohne Merino-stoetbedryf is die kommersiële skaapwolbedryf,  en nie andersom nie. Daarom is potensiële Dohne Merino-teeltgeleenthede geheel en al afhanklik van die omvang van kommersiële en opkomende wolskaapboerdery.  Tog moet ek erken dat die ras baie gewild is, en uit ’n nasionale oogpunt is daar nog baie ruimte vir nuwe toetreders.”

Navorsing

In die woorde van Prof. Jan Bonsma, is ’n bedryf sonder navorsing soos “om water te drink uit ’n stagnante poel”.

Toegepaste navorsing word tans gedoen om genomiese evalueringstegnieke te implementeer.  Navorsing oor verfyning van rekenaarstelsels en statistiese modelle, geskied deurlopend. Die Dohne navorsingstoet wat deur die Dohne stoetbedryf by Grootfontein Landboukollege gevestig is, speel ‘n belangrike rol.

Sewe dinge wat jy moontlik nie van Dohnes geweet het nie:

• Die hoogste prys in Suid-Afrika vir ’n Dohne Merino-ram betaal is R202 000.
• Die gemiddelde ramprys op produksieveilings vir 2014 was R9 492 en stoetooie R1 500.
• Dit word verwag dat rampryse in die wolskaapbedryf met ongeveer R1 000 per ram kan daal vir die 2015-seisoen.  
• Dohnewol word internasionaal in die wolhandel verkoop as Merinowol en gaan hoofsaaklik na die hoof Suid-Afrikaanse wolkoper; Sjina, gevolg deur Europa.
• Telers moet volledig rekord hou en hulle diere daarvolgens keur. Alle telers moet minstens een opleidingskursus slaag om die stelsel te gebruik.  
• Skape kan maklik 10 jaar en ouer word. In die geval van stoeterye, is die DMG-riglyn datstoet-ooie nie ouer as sewe jaar word in stoeterye nie, vir ’n jonger ouderdomstruktuur vir genetiese verandering.  
• Die rekord getal wat ’n ram kan produseer is 4 294 nageslag. Gewoonlik word ’n ram onder natuurlike toestande met 40 ooie gepaar. Teen ’n lam-persentasie van 120-140%, kan ’n ram dus 50 tot 100 lammers per seisoen lewer.