Volg ons op Facebook

Vrywei - Foefie of nie?

Written by  Maryke Roets
| in Landbou
| September 8, 2015

Vrywei is baie meer as ’n oulike stempel op jou kruisskyf waarmee jy jou gesondheidsbewuste vriende kan beïndruk. Die bewustheid van die voordele van veldgrasvleis vir mens en dier en die planeet, is aan die toeneem.

Al meer slaghuise, restaurateurs en boeremarkte skakel oor na die eksklusiewe gebruik van veldgrasvleis, of ‘veldvleis’, soos dit algemeen bekend is. Die diere moet die produk wees van ’n vrylopende weistelsel wat natuurlike of aangeplante weiding kan insluit. Verder mag hulle geen diereprodukte inneem nie en moet hulle vry wees van hormone, groeistimulante,
antibiotika en beta-antagoniste.

Na raming word meer as 65% van die land se grasveldbioom deur die landbousektor gebruik vir die produksie van rooivleis - die helfte vir bees, die ander vir skape en bokke. Dit het ’n groot impak op die omgewing, maar studies het getoon dat indien veeboere die regte bestuurspraktyke volg, hulle ’n groot bydrae kan maak tot die instandhouding van  grasveld-ekostelsels.

By veldvleis is totale naspeurbaarheid in al die waardeketting-skakels noodsaaklik.  Selfs abattoirs is ’n integrale deel van die waardeketting. Hoe en wat hulle doen, het ’n baie groot invloed op die produk en verbruikers en verskaffers word al hoe meer ingelig daaroor. 

sep 2015 landbou vrywei 1

Angus McIntosh, beter bekend as “Farmer Angus” van Stellenbosch, se webwerf, www.farmerangus.co.za verklaar dat veldgras-vleis gesonder is, omdat dit gebalanseerde omega-3 en 6-vetsure bevat. “Dis teenoor die konvensionele beesvleis wat jou ’n omega 6- oormaat gee, wat in inflammatoriese siektes kan eindig.”

“Dis teenoor die konvensionele beesvleis wat jou ’n omega 6-oormaat gee, wat in inflammatoriese siektes kan eindig.”

Sjef Phil de Villiers van die boetiekhotel 54 on Bath in Rosebank, Johannesburg, gebruik uitsluitlik grasveldbees en -lam. “Ek verkies om te weet wat die diere gevreet het, sodat jy enige onduidelikheid oor byvoegings, hormone en geneties gemodifiseerde middels kan uitskakel. Die vleis is beslis gesonder vir ons en smaak baie lekkerder as ander vleis.”

Sjef David Botha van Majeka House se Makaron restaurant op Stellenbosch, sê hulle gebruik Farmer Angus se bees, nadat hy hulle na die plaas genooi het op ’n “opvoedkundige safari” om te sien hoe sy beeste leef. “As sjefs soek ons nie net die beste kwaliteit nie, maar etiese boerderypraktyke lê ons na aan die hart. Angus slag net drie beeste per week, volgens die halaal-metode, terwyl groot maatskappye tot 5 000 beeste slag.”

sep 2015 landbou vrywei 2

Dis nie net sjefs wat veldvleis verkies nie. Slaghuise soos Braeside Slaghuis in Parkhurst, Johannesburg, gebruik net veldvleis van uitgesoekte plase regoor die land. “Ons en die boere wat ons vleis verskaf, glo en verstaan dat die beste vleis van gelukkige diere kom. Ons beginsels berus op etiese sakepraktyke en as die vleis nie in lyn hiermee is nie, sal ons dit nie aanhou nie.”

Die slagter het ’n lys vereistes waaraan boere moet voldoen, wat onder meer insluit dat bees, skaap en vark net natuurlike diëte volg; op inheemse gras wei; varkvoer geen diereprodukte insluit nie; die diere vryloop en nie in hokke opgesluit word nie; dat geen antibiotika en groeihormone toegedien  word nie; dat die diere in ’n skoon en veilige omge-wing van en na abattoirs vervoer sal word, en so menslik moontlik geslag word by abattoirs so na as moontlik aan die plaas.

Bogenoemde is beginsels wat deur ander slagters, soos Frankie Fenner van Meat Merchants in  Kaapstad geëggo word. Hul webwerf verklaar onomwonde: “Dit is skoon, etiese, volhoubare kos. Die tipe wat jy met ’n skoon gewete kan eet.”

Standaarde vir die produksie van veldvleis is in samewerking met die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) se Grasveldprogram opgestel. SANBI se Grasveldprogram wil verseker dat biodiversiteit ’n rol speel in die landbousektor se besluitnemingsprosesse oor grondgebruik, die beplanning en bestuur van grasvelde, en volhoubare landbouproduktiwiteit. In streke waar natuurlike weiveld nie volop is nie, of waar die winter straf is, kan boere die beeste se rantsoen aanvul met verskillende bronne van groenvoer.

Twee jaar gelede is die Veldvleis Verening van Suid-Afrika (Grassfed Association of South Africa) gestig met die doel om ’n omgewingsvriendelike, gesonde en ekonomies lewensvatbare produk te verseker.

Die vereniging het ten doel dat veldvleis die produk is van herkouerdiere wat op ’n menswaardige manier grootgemaak en hanteer is, wat pro-aktief teen siektes, eksterne sowel as interne parasiete beskerm is, om sodoende vleisproduksie- doeltreffendheid te verseker.

Die vereniging se voorsitter, Adrian Cloete, van Cloete Afrikaners naby Vryburg in die Noord-Kaap, sê: “Die produsent se bestuurstelsel moet bydra tot ’n volhoubare natuurlike omgewing. Die produkte beoog om bemark te word op ’n wyse wat tot voordeel van die produsent (billike prys) en die verbruiker (gehalte en waarde) is.

Hy sê boere wat met bees, skaap en wild boer, kan nou by die vereniging aansluit, nadat stelsels verfyn en standaarde gefinaliseer is. Daar is ‘n dubbel-lidmaatskapstelsel - volwaardige lede en boere wat die filosie en waardes deel, maar nog nie alles in plek het om volwaardige produserende lede te wees nie. Adrian verduidelik dat die oorskakeling van ‘n konvensionele boerdery na grasveld, met ‘n paradigmaskuif begin: “In die meeste gevalle gaan jy hou wat jy het, maar met die nodige aanpassings in lyn met die doelwit.”

Volgens Adrian is veldvleis voordelig, nie net vir die verbruiker, omgewing en produsent nie, maar ook vir verspreiders. Die gesondheidsvoordele is duidelik, maar die Veldvleis-handelsmerk verseker verbruikersgemoedsrus deur die boer met die handelaar te verbind in ’n deursigtige proses. Veldvleisboere is 100% aangewese op die natuur; hoe beter hulle na die natuur en hul omgewing kyk, hoe beter ‘n produk kan volhoubaar geproduseer word. Die natuur baat ook, omdat meer noukeurige beweidingsmetodes ’n laer koolstofvoetspoor tot gevolg het.

“Hoe beter hulle na die natuur en hul omgewing kyk, hoe ‘n beter produk kan volhoubaar geproduseer word.”

“Die handelsmerk bied vir die eerste keer aan boere ’n geleentheid om stelselmatig te beweeg van ’n prys-nemer na ’n prys-onderhandelaar, soos ander besigheidsmodelle. Hy beweeg van ’n vrymarkstelsel na ’n direkte bemarkingsstelsel en ook om erkenning vir sy produk te kry.

“Verspreiders kan nuwe markte ontgin, het ’n positiewe storie wat met die produk vereenselwig word, en bied die geleentheid om sy verskaffingskant beter te leer ken en groter beheer daaroor uit te oefen.”

sep 2015 landbou vrywei 3Hy sê veldvleis-produksie verg ’n holistiese benadering, met wisselwerking tussen die verskillende fasette van die boerdery.

Adrian het in Augustus ’n weeklange kursus deur die Savory Hub van Suid-Afrika op die plaas Rockford naby Hogsback in die Oos-Kaap bygewoon.  Die doel van die kursus was om mense te leer om die wêreld se grasveld-hulpbron optimaal te benut en bestuur. “Ek het geleer dat daar baie keer onontginde hulpbronne of -middels in jou onmiddellike omgewing is, jy moet net weet waar om te kyk en die regte vrae te vra.”

Daar is ook ander organisasies wat die verskillende vleis-sektore verteenwoordig. Een hiervan is Karoo Meat of Origin. Bykans vier jaar gelede is die eerste gesertifiseerde Karoolam in die Wes-Kaap verkoop. Prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie, voorligting en landelike ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria, sê die sertifiseringskema vir Karoolamsvleis van Oorsprong is ingestel om Karooboere te beskerm teen die misbruik van die woord “Karoolam”.

“Die gonswoord is ‘naspeurbaar’. Die oorsprong van jou kos, is ’n gewilde verbruikersneiging. Verbruikers het die behoefte om die oorsprong, geskiedenis en gesondheidswaarde van hul kos te ken.

“In Karoolam gaan die smaak oor die natuurlike bossieveld, wat ’n unieke geur verskaf, wat heeltemal anders is as die smaak van lammers wat op gras wei.”

Hy verduidelik dat Karoolam by mense gesigte opdoem van gesonde, gelukkige diere wat vryloop: “As jy kyk na die Karoo, kyk jy na sy geologie, sy bossies, sy vegetatiewe groei en die diere wat op sy bossies wei. Die samestelling van die vleis is uniek, weens die bossies wat die dier vreet. Die samestelling is beter, omdat die dier gesond leef, gesonde water drink en kan eet wat hy wil.”

Slagplase wat wil aansoek doen om ’n ge-registreerde Karooslagplaas te wees, moet ’n minimum van 75% volgens die higiënewaar-destelsel (HAS) hê en moet ’n deeglike naspeurbaarheidstelsel en goeie bestuur gereed hê. Vir winkels en slaghuise wat klaar-verpakte, verseëlde en gesertifiseerde vleisprodukte van gesertifiseerde verpak-kings- en/of verwerkingsaanlegte ontvang, is geen aansoektarief nodig nie.

Hy verduidelik voorts dat die sertifise-ringsmerk ’n baanbrekersproses is om verbruikers bewus te maak van die feit dat vleis - net soos wyn - terroir-eienskappe het. Met ander woorde, die smaak en eienskappe van die vleis word beïnvloed deur die weiding en voersamestelling.

“Hopelik sal daar oor ’n paar jaar merke wees wat onder meer vleis uit die Karoo, Kalahari en Vrystaat identifiseer en bemark.”

Prof. Kirsten sê vrylopende diere op natuurlike weiding het per definisie ’n impak op die omgewing, maar al meer boere beoefen volhoubare praktyke. “In wese is die identifisering van Karoolam as ’n premie-produk belangrik om groter rendement vir die boer mee te bring, sodat druk op die omgewing verlig kan word.”

Hartman & Seuns Slagtery op Laingsburg, se Laingsburg Lam is landwyd bekend. Die slagpale verskaf lamsvleis van streke in die Karoo waar die diere vryloop en organies leef. Die lam kan teruggespoor word tot die plaas van oorsprong en die handelsmerk het tans 89 gekeurde lede, wat jaarliks met 10 persent toeneem.

“Die lam het ’n unieke smaak van die inheemse veldplan-tegroei in die streek waar hulle wei, waarvoor mense lief word.”

sep 2015 landbou vrywei 4

Andries Hartman sê behalwe vir die be-skerming van die unieke streeknaam, is dit vir sy kliënte belangrik om te weet dis die regte Laingsburg Lam wat hulle eet. “Die lam het ’n unieke smaak van die inheemse veldplan-tegroei in die streek waar hulle wei, waarvoor mense lief word. Ons sien by die slaghuis in George hoe mense van heinde en verre ry vir Laingsburg Lam. Die kwaliteit spreek vanself. Dit is dus belangrik dat hulle kry waarvoor hulle kom.”

Die Laingsburg Lam-handelsmerk is in Januarie 2014 bekendgestel. Dit word bemark as die swart- en witkop Dorper, wat die tweede gewildste ras in Suid-Afrika is. Hy sê die Dorper is bekend vir sy hoë vrugbaarheid en moederlike instink, gekombineer met ’n hoë groeikoers en gehardheid. Die nomadiese eienskappe van die Dorper stel hom in staat om al die aanvullende eienskappe wat die gras en struike in die Karoo voorsien, te benut. Die medisinale eienskappe van die inheemse plantegroei en klimaatsomstandighede los geen behoefte vir enige roetine antibiotika en hormone nie.

sep 2015 landbou vrywei 5

Boere maak verder gebruik van lusern as ’n aanvullende voer tydens droë tydperke, wat nie meer as 30% van die daaglikse inname van die dier moet uitmaak nie. Waterbronne bestaan hoofsaaklik uit ondergrondse water en opgaar- lope of  -damme.

Hartman & Seuns Laingsburg Abattoir is geleë binne ’n 200km-radius van die geselekteerde plase, wat hulle in staat stel om spesifieke Karoo-streke se diere te kan bemark, naamlik; Koupveld, Saaiveld, Moordenaarskaroo, Tankwa Karoo, Klein Roggeveld en Roggeveld. 

“Die noukeurig-gekiesde boere het ’n gemiddeld van twee plase wat onder die winterreënval Karoostreek en somerreënval Karoostreek val. Dit is waar migrasie van die diere op ’n jaarlikse basis plaasvind en dit voeg waarde tot die aanvullende dieet van ons lam. Ons trokke laai self die diere, sodat daar die minimum stres op die lammers kom. Die hantering van die diere word met groot omsigtigheid behartig om die hele proses so stresvry moontlik te hou.”

Andries sê hulle is nie net gefokus op tegniese korrektheid en om die krediet toe te staan wat boere toekom nie, maar om ook die erns van eie-naarskap op te neem.

Karoo Meat of Origin: prof. Johann Kirsten, (012) 420-3248, www.karoomeatoforigin.com
Laingsburg Lam: Andries Hartman 082 823 1505, www.hartmanbutchery.co.za
Veldvleis Verening van Suid-Afrika (Grassfed Association of South Africa): Adrian Cloete  082 213 2120, facebook: www.facebook.com/grassfedsa
• Meer oor die Savory Hub van Suid-Afrika se kursus-terug-voer op www.savoryinstitute.org