Volg ons op Facebook

Die kuns van misstof

Written by  Maryke Roberts
| in Landbou
| September 8, 2015

Die effektiewe gebruik van misstowwe in die landbousektor, is iets wat internasionaal al belangriker word.

Die behoefte aan kunsmis neem jaarliks met ongeveer 3% toe, omdat die grond nie kan voorbly om voedingstowwe te verskaf nie, en omdat groter hoeveelhede voedsel per oppervlakte-eenheid geproduseer moet word. Toe daar minder mense was, kon hulle rondbeweeg en nuwe grond gebruik vir voedselproduksie, wanneer ou grond uitgeput was. Nuwe grond is egter nou skaars en dieselfde grond moet oor en oor gebruik word. Die wêreldwye verbruik van kunsmis moet dus rofweg met die groei in die wêreldbevolking tred hou, tensy die effektiwiteit van verbruik verbeter.

Sekere tipes misstowwe is meer geskik vir sekere soorte grond en gewasse en dit word hoofsaaklik dikteer deur die grond se chemie en die gewas se fenologie/groeipatroon, of hoe jy dit wil manipuleer. Vir die beste resultate behoort grondregstelling in die rustende tyd tussen stroop- en planttyd gedoen te word.

Tydens die onlangse Misstofvereniging van Suider-Afrika (Fertasa)-simposium in Pretoria het uitvoerende hoof Adam Mostert gesê: “Die FAO (Voedsel en Landbou-organisasie) van die Verenigde Nasies, beskou effektiewe misstof-aanwending as ’n  belangrike aanwyser om die herwinning van plantvoedingstowwe uit toegediende minerale misstof in landbou te meet.”

Een van die belangrikste fokuspunte van moderne grondvrugbaarheid is die effektiewe gebruik van misstowwe.

Volgens Adam is die gewildste maatstaf die uitset/insetverhouding gemeet in kilogramme van die verwyderde oes, m.a.w. die voedingstowwe wat saam met die oes verwyder word vergeleke met die voedingstowwe wat aan die grond toegedien is. Dit dui aan hoeveel van die voedingstowwe effektief benut is. ‘n Lae syfer dui op swak benutting waar daar te veel voedingstowwe toegevoeg is, en ‘n hoë syfer dui daarop dat te veel voedingstowwe uit die grond gemyn word.

landbou 2015 misstof

“Die verhouding kan op plaas-, streek- of nasionale vlak gebruik word om die ‘gesondheid’ van plantvoeding te bepaal en strategie, asook beleid te formuleer.

“Die volgende stap is om die stikstofaanwending (NUE) vir elke land te bereken en doelwitte te stel.”
Hy sê volgens die FAO is die effektiewe aanwending van misstoffosfor (P) om drie redes belangrik:

- Fosfaatrots, waaruit P-misstowwe vervaardig word, is ’n nie-hernubare bron en moet doeltreffend gebruik word.

- Daar is ’n behoefte om die P-status van gronde te behou en te verbeter om gewasse te kan verbou.

- Die oordrag van grondfosfor uit kunsmis en organiese misstowwe is ’n belangrike oorsaak van P-geïnduseerde eutrofikasie in oppervlakwater. Eutrofikasie gebeur wanneer daar oortollige voedingstowwe in die water voorkom.  Dit veroorsaak ongewensde veranderinge in die ekologie, dikwels gepaard met ernstige ekonomiese gevolge.

“Landbou word dikwels beskuldig vir die eutrofikasie van ons waterbronne. Ons moet kennis neem van dié bewerings en seker maak dat óns huis in orde is,” het Adam beklemtoon. Hy sê met die bepaling van wanneer en watter misstof nodig is, word twee stappe gevolg:  

- Bepaal hoeveel plantvoedingstowwe benodig word om ’n teikenopbrengs van ’n spesifieke gewas te behaal, m.a.w, hoeveel  stikstof (N),  fosfor (P), kalium (K), swawel (S), en ander elemente benodig word.
- Besluit watter produk die geskikste sal wees om die nodige plant voedingstowwe te verskaf.  

Die gereelde toediening van misstowwe (beide anorganiese en organiese misstowwe asook landboukalk) word aanbeveel om die voedingstowwe wat deur die oes verwyder is, of wat deur verdam-
ping uit die grond verlore gegaan het, aan te vul.

“Die uitsondering sal wees waar gronde se plantvoedingstatus baie hoog is en dus voldoende voedingstowwe bevat om plante vir ’n aantal jare te voed. Daar moet altyd gewaak word om nie die grond te myn nie: deur dus meer platvoedsel te verwyder as wat teruggeplaas word totdat die grond uitgeput is.

“Ons grond is oud, hoogsverweer en uitgeloog met die gevolg dat dit min voedingstowwe bevat.”

Hy sê voorts die meerderheid van Suid-Afrikaanse landbou-grond is van nature arm. “Ons grond is oud, hoogsverweer en uitgeloog met die gevolg dat dit min voedingstowwe bevat. Die organiese materiaal-inhoud van ons grond is oor die algemeen laag. Grondvrugbaarheid moet daarom opgebou word.”

Hy glo dit is ook belangrik om soveel moontlik van die plantreste in die grond terug te plaas. Dit verhoog nie alleen die organiese materiaal-inhoud van die grond nie, maar plaas ook die elemente wat in die plantreste is, terug in die grond. Dit is een van die hoof-kenmerke van bewaringslandbou, wat nou groot aandag geniet.

Adam sê grond kan totaal uitgeput óf oorlaai word met elemente: “Om eersgenoemde reg te stel, verg toediening van gebalanseerde voedingstowwe en is gewoonlik nie moeilik nie, hoewel dit duur kan wees. Om laasgenoemde reg te stel is moeiliker, omdat die oormaat elemente verwyder moet word. Die oormaat ontstaan meestal as gevolg van ongebalanseerde voedingstoftoediening oor ’n lang tydperk, of weens die elemente wat in die moedergesteentes voorkom, waaruit die grond ontstaan.

“In sommige gevalle word plante gebruik om die oormaat voedingselemente uit die grond te verwyder, soos wanneer fosforvlakke baie hoog is. Dit mag dan steeds nodig wees om ander voedingselemente toe te dien, maar die betrokke element wat in oormaat is, word nie toegedien nie.

landbou 2015 misstof2

“Die toediening van organiese materiaal kan ook help om grond se vrugbaarheid te verhoog, omdat dit die mikrobe-aktiwiteit in grond stimuleer en daardeur voedingselemente se opneembaarheid verhoog. Ontleding en evaluering van die grond én die organiese materiaal is nodig om te verseker dat die organiese materiaal nie elemente bevat wat reeds in oormaat in die grond aanwesig is nie.”
Dr. Pieter Raath, bestuurder van Bemlab, in die Strand, buite Kaapstad, verduidelik die laboratorium se ontledings word ondermeer gebruik om kunsmis-aanbevelings te maak, vir diagnostiese doel-eindes om die oorsprong van simptome of swak gewasprestasie te probeer identifiseer, asook vir evaluasie van bemestingspraktyke, om die impak daarvan te evalueer.

Bemlab is al 15 jaar in die bedryf en is die enigste (SANAS) ISO 17025 geakkrediteerde laboratorium vir grond, blare, water en vrugte. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasie Stelsel (SANAS) is die enigste nasionale liggaam wat akkreditasies hanteer volgens wetlike standaarde. Boere, konsultante en agente vra gereeld vir onafhanklike aanbevelings. “Ons vermy om produkte aan te beveel, maar sal ’n basiese voedingsprogram vir stikstof (N),  fosfor (P), kalium (K), spoorelemente, kalkbehoeftes en gips aanbeveel. As die kliënt meer verlang, kan ons hulle met konsultasies help of na ’n kundige verwys.”

Hy sê baie boere sal jaarliks grond inbring om die vorige jaar se bemestingsprogram te evalueer.  Meeste doen dit egter deur middel van jaarlikse blaar-ontledings.

Die laboratorium gebruik verskillende ekstraksie-metodes vir verskillende elemente. “As standaard gebruik ons Bray II vir fosfor (P), ammonium asetaat vir die makro-elemente, en EDTA vir die mikro-elemente. Omdat daar verskeie ander ekstraksies deur sommige kliënte verlang word, doen ons dit ook op aanvraag.”

Bemlab het ’n monsternemingsdiens, sou boere dit verlang, maar hulle vervoer monsters kosteloos per koerier indien meer as 10 monsters vir ontleding gestuur word.

“Ons ontvang monsters regdeur die jaar, afhangende van die gewas en streek, of rede vir monsterneming (hetsy) - diagnosties, roetine of vir grondvoorbereiding. Ons besigste tyd is herfs (Maart tot Mei), wanneer meeste vrugte- en wynboere hul grondmonsters neem vir grondvoorbereiding, omdat hulle betyds kalk, fosfor en gips wil bestel.”

Kunsmismaatskappye gebruik die laboratorium meestal vir registrasie van hul produkte, omdat hulle ’n erkende laboratorium se ontledingsverslag benodig vir registrasie. Boere daarin teen toets kunsmis om te verseker dat die regte hoeveelhede elemente teenwoordig is vir die grond wat hul wil behandel.

Die goeie nuus vir boere is dat alle grond “gered” kan word. Hetsy met onder meer kunsmis, korrekte bewerking, gewasrotasie, aanwending van organiese materiaal of dreinering. Pieter sê die oplossing hang baie van die konteks, of die probleem af. Mikrobiologies is dit baie maklik om grond weer “lewendig” te kry, veral deur organiese materiaal.

Maar dis nie net by die grond waar die probleem kan lê nie. Soms is die gebruik van besproeiingswater van swak kwaliteit, die produsent se grootste bedreiging: “Dit is dus uiters noodsaaklik dat boere bewus is van hul besproeiingswater se kwaliteit.  Waar water met hoë konsentrasie soute gebruik word, moet deur middel van gereelde grond-ontledings gemonitor word om te verseker dat die grond nie verbrak nie. Die laboratorium toets alle kunsmisstowwe - korrel, water-oplosbaar, vloeibaar, half organies, kompos, guano, seewierprodukte en ander.
Die algemeenste bestanddele wat nodig is in landbougrond om gesonde gewasse te kweek, in ’n neutedop:

Plante benodig koolstof (C), waterstof (H) en suurstof (O) wat in lug en water voorkom en neem 13 plantvoedingselemente noodsaaklik vir plantgroei uit die grond op.

Die grootste fokus is gewoonlik op die primêre elemente stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K), omdat plante groot hoeveelhede daarvan benodig en die grond dikwels nie voldoende daarvan kan voorsien nie. 

Swael (S) is een van die sekondêre elemente en word as die vierde plantvoedings- element beskou en speel ’n belangrike rol by die vorming van proteïene. Swael is in die verlede onbewustelik toegedien, omdat dit in groot hoeveelhede in fosfaatkunsmis voorgekom het.  Deesdae bevat die hoërgraad kunsmis geen swael nie en moet dit bewustelik toegedien word.

Kalsium (Ca) en magnesium (Mg) word meestal in die vorm van landboukalk op suurgrond toegedien. Ander vorme van Ca en Mg mag onder ander omstandighede nodig wees.
Spoorelemente word nou ook vinniger uitgeput, omdat hoër opbrengste meer daarvan verwyder en tekorte veroorsaak. Sink (Zn), koper (Cu), boor (B) en molibdeen (Mo) is van die elemente wat in Suid-Afrikaanse gronde aangevul moet word.  

landbou 2015 misstof3

Kriteria waarvolgens grond se vrugbaarheid evalueer word, is soos volg:

Chemies

- Geskikte pH (pHKCl tussen 5.5 en 6.5 vir die meeste gewasse);
- Afwesigheid van braktoestande, met lae uitruilbare natrium (Na) sodat grond nie “toeslaan” nie;
- P, K, Ca en Mg teen minimum konsentrasies. Dieselfde geld vir spoor-elemente, hoewel dit maklik deur blaarvoedings aangespreek kan word; en
- ’n Minimum organiese koolstof (C) vlak wat grondstruktuur en mikrobiologie onderhou.

Fisies

- Goeie dreinering en afwesigheid van water tafels/beperkende/verdigte lae;
- Grondsterktes/digtheid wat nie te hoog is vir wortel-ontwikkeling nie.

Biologies

- Voldoende organiese C om grondorganismes te onderhou;
- Grondbedekking - deklaag of dekgewas - om ’n gunstige mikroklimaat naby die grondoppervlak te skep; en
- Nie oormatige periodes van uitdroging nie.

Haifa Groep is een van die grootste vervaardigers van water-oplosbare kunsmis. Hiervan is Haifa se kaliumnitraat (Multi-K) die hoofproduk. Die Multicote-reeks van gekontroleerde vrystellings kunsmis, is ook baie uniek aan die Haifa Groep. Die maatskappy spesialiseer in sproeibemesting- en gekontroleerde vrystellingsprodukte, m.a.w. plantvoeding.

Dawie Fourie, die bestuurder van Haifa Suid-Afrika, sê: “Indien boere volhoubaarheid nastreef, kan hulle nie bemesting afskeep nie. Die hedendaagse neiging is juis die soeke na die mees voedingstof-effektiefste produkte en metodes om te bemes.”

Hy sê daar is nie een universele kunsmis-kuur nie, dit hang van verskeie faktore af. Kunsmisstowwe is in alle geure, kleure en vorms beskikbaar. Hiervan is gas, vloeibaar, korrel, wateroplosbaar, organies, anorganies, asook gekontroleerde-vrystellings produkte maar net ‘n paar van die opsies.

“Die beste kunsmis vir ’n spesifieke grond is ’n produk wat die bewerkingspraktyk, asook die gewas sal komplementeer en die gewas van die nodige elemente sal voorsien, sodat daar volhoubaar in die toekoms op die spesifieke grond  verder gewasse produseer kan word.
“Balans tussen al die elemente is van groot belang. Die afwesigheid van koolstof, maak egter die opbou van swak grond, baie moeilik.”

landbou 2015 misstof4

Die belangrikste mikro-elemente:

Sink (Zn), koper (Cu), mangaan (Mn), yster (Fe), boor (B) en molibdeen (Mo).

Die belangrikste makro-elemente:

Dawie sê dis gevaarlik om enige element as die belangrikste element te identifiseer, omdat die element waarvan daar ’n tekort is, sal dien as die beperkende faktor. Die drie primêre makro-elemente is egter: stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K).

Misstofgehalte in Suid-Afrika:

Plaaslike kunsmis voldoen aan internasionale standaarde, wat in die plaaslike Regulasies van Wet 36 van 1947 vervat is. Slegs produkte wat nie plaaslik beskikbaar is of waarvan daar ’n tekort is, word ingevoer. Suider-Afrika het geen ureum produksiefasiliteite nie en geen kaliumbronne nie, dus word dit ingevoer.

Omvang van die SA kunsmis-bedryf

Adam Mostert van Fertasa se skatting is dat die vraag na kunsmis 2 miljoen ton per jaar beloop, maar dit kan so hoog as 2,4 miljoen ton wees. “Ons het nie meer betroubare syfers nie.”

Hy sê volgens die Departement Landbou (DAFF) se syfers is die waarde van die kunsmisbedryf in terme van produkverkope R7 500 miljoen, maar hy kon nie die syfer bevestig nie.

Die noodsaaklikheid van stikstof-aanwending in landbougrond:

Stikstof (N) speel ’n belangrike rol in die groei van plante en word in groot hoeveelhede deur plante opgeneem. Dit kan uit die grond verlore gaan, deur verskeie prosesse waarvan verdamping die belangrikste is. Dit moet dus gereeld aangevul word; deur natuurlike prosesse (mineralisasie) of deur  eksterne bronne (kunsmis). Die opbrengste wat in moderne landbou behaal word, vereis groot hoeveelhede plantvoe-
dingstowwe wat in die meeste gevalle nie vinnig genoeg deur die natuurlike prosesse aan plante voorsien kan word nie.