Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Vlaamperde trap diep spore

Written by  Hennie Basson
| in Landbou
| September 9, 2015

Soos strekkende graanlande, eikeboomlanings,  plaasopstalle uit ‘n vorige eeu, en wynkelders ...só eg is die trekperd as deel van die Kaapse kultuur.

Die Vlaam is nie meer die werksperd wat van vroeg tot laat in die ploegvoor loop, of ‘n boer en sy vrou - fyn uitgevat - met ‘n kapkar na die dorp se kerkplein vat nie. Daar’s deesdae ook nie meer die opwinding van vroeër - op byna elke Bolandse dorp - waar al wat leef en beef koers kry na die skoubaan om hul te verwonder aan die pronkende perde van Uitkyk, Oranjeskraal of Sandrivier nie.

Een keer ‘n jaar lei vele paaie na Moorreesburg waar ‘n mens ‘n goeie proesel kan kry van dit wat Vlaamperde nog kan opdis. Jy hoef net na die Swartlandskou te gaan om die verhaal en stories van die Vlaam se ontstaan, groei en ook die huidige bloeityd te verneem. Jy sal in alle waarskynlikheid  ook vir Piet Serdyn raakloop, die ras se “lewende ensiklopedie”, wie se voetspore al vir dekades diep loop.

Dit was slegs ‘n spreekwoordelike klipgooi vanaf Piet se grootwordplaas, Klein Karnmelksvlei, waar hy as kind met die gehuggie Bridgetown kennis gemaak het. Waar muilspanne en later ook waspanne Vlaamperde van die omliggende plase in die eerste helfte van die vorige eeu op die jaarlikse boeresportdag teen mekaar meegeding het.   Sedert sy plaasskooljare het Piet se aangetrokkenheid na die swart perd oorgegaan en het hy in die jare daarná volgehou met die teel, afrigting, inspan en skou van Vlaamperde: “Tot onlangs was die perde-eienaar self die afrigter van sy perde. Daar is nou nog manne wat dit só doen, maar ons is lank reeds in ‘n era waarin beroepsafrigting ‘n belangrike rol speel. Vlaamperdvertoners besef al hoe meer die waarde van die benutting van voltydse afrigters.”

Die ouer garde het nog voltyds met hul perde gewerk, onthou Piet: “In moderne tye het boere net nie meer tyd om aan hulle te bestee nie. Daarom is die dryfkuns in die algemeen nie meer van gehalte nie. Skoudiere is egter in die hande van enkelinge, soos beroepsafrigters, wat die standaard van die vertonings op ‘n hoë peil hou.”   

“...maar ons is lank reeds in ‘n era waarin beroepsafrigting ‘n belangrike rol speel.”

‘n Mens kan nie oor hierdie unieke ras gesels as jy nie iets van sy ontstaansgeskiedenis weet nie. “Hierdie is ‘n kultuurhistoriese bate wat vir altyd gekoester moet word,” glo Piet. Sy wortels is geanker in die genotipes van die Kaapse perd of Boerperd soos hy genoem is. Swart hingste, wat teen die einde van die 1850’s deur spekulante ingevoer is, en in die Kaap as “die Hollanders met die veervoete” bekend was, is op hulle gebruik. In 1906 is die eerste twee of vier van hierdie swart hingste amptelik ingevoer deur die begrafnisondernemer, JS Hoogendoorn, wat vanuit die hart van die Moederstad hul gebruik het om lyks-waens tydens begrafnisse te trek. Kapenaars het egter hierdie swart perde vir Vlaamperde aangesien, omdat hulle vanuit die Belgiese stad Antwerpen verskeep is.

Dié mooi perde wat al hoe gewilder in die Wes-Kaap geword het, het in die volksmond dus as Vlaamse perde, of Vlaamperde bekend gestaan. Verkeerdelik egter, want eers in 1957, toe Piet Slabbert van Petrusburg en die legendariese Ben Mostert van Oranjeskraal op Moorreesburg, perde uit Friesland ingevoer het om op hul Vlaamperde te verbeter, is besef  dat die plaaslike swart perde in der waarheid Friese was, of uit Friesperde afgestam het.
Dis die begin van ‘n era waarin die Friesperd al hoe meer gesog aan die suiderpunt van Afrika geword het en die plaaslike Vlaamperd byna heeltemal verdring het. Die Friesperdtelersgenootskap van Suid-Afrika is in 1980 in die lewe geroep en vanaf ongeveer daardie jaar het enkele pioniers besluit om ons land se swart Vlaamperde vir die nageslag suiwer te hou.

Dit was hoogtyd vir só ‘n belangrike taak omdat daar in die eerste tagtig jaar van die 1900’s geen georganiseerde, of aangetekende teling van Vlaamperde in die land was nie. Gelukkig het Piet en sy groot vriend, wyle Bertus Smith van Vondeling, in die Agter-Paarl, die daad by die woord gevoeg. Piet het die merries verskaf en Bertus die hingste, wat oordeelkundig op hulle gebruik is. Die hingste was afstammelinge van die teling van Bertus se pa, wyle Lambert Smith.

Oom Lambert se hingste het immers uit die gesogte Sandrivier-bloed van die broers Smith gestam en Piet en Bertus het verder ook in hierdie proses van veredeling nakomelinge bekom van Scheepers, die sogenaamde stamvader van die Vlaamperd. Daarmee het hulle met die opgradering van die Suid-Afrikaanse Vlaamperd begin, soos ons nou die ras ken.

sep 2015 vlaamperde 1

Die SA Vlaamperdetelersgenootskap is in 1983 gestig en in die eerste dertig jaar of meer van sy bestaan, het die SA Vlaam ‘n konstante groei beleef. Dit is egter steeds ‘n ontwikkelende ras en ander perderasse kan dus nog ingebring word om hierdie perde te verbeter. Gewoonlik word Friese gebruik. Om die kuddepoel te sluit of nie, is lank reeds ‘n groot geskilpunt in Vlaamperd-geledere en is iets waaroor Piet ‘n sterk mening het: “Die Vlaam beskik oor ‘n eie identiteit en standaarde wat oor dekades by hom vasgelê is. Deur steeds ander bloed in te bring, kan die gevaar ontwikkel dat ‘n ‘basterperd” geteel word.”

Hoffie van Blerk, wat op Welgegund, noord van Klipheuwel boer, neem ook ‘n be-sliste, maar teenoorgestelde, standpunt in: “Dit gaan beter as ooit met die ras, maar ons genepoel is te klein om nou die kuddepoel te wil sluit. Oor dertig jaar behoort ons seker oor ‘n geslote kudde te beskik, maar nie nou nie.”

“Ons sal egter oordeelkundig met teling moet begin om met die nuwe bloedlyne wat onlangs ingekom het ‘n groter genepoel te ontwikkel, sodat ons die deure stadig kan begin toemaak,”  sê Hoffie.

“Dit gaan beter as ooit met die ras, maar ons genepoel is te klein om nou die kuddepoel te wil sluit.”

Hy stem wel saam met Piet dat die perde oor die afgelope dekade beter afgerig word en dus beter vertoon: “Hierdie ras is só belangrik vir die voortbestaan van skoue in die Wes- en Suid-Kaap. Ons is nog relatief klein in getal, maar ons perde kan hier tot op tien skoue gesien word. As trekperd lewer dit ‘n wesenlike bydrae om die byna uitgestorwe kuns van inspan nog te laat voortleef.”

Dis nie net die Vlaam se voorkoms, swier, spoed en aksie wat hom geliefd by menige perdeliefhebber maak nie. Dit was veral sy goeie temperament wat deurslaggewend was in Hoffie se besluit dertien jaar gelede om hierdie perde as ’n stokperdjie aan te skaf. Die oudste van die huidige spesialis-afrigters wat steeds perde afrig, die 73-jarige Izak Volgraaff van Nieuwoudtville, meen dat hy graag met Vlaamperde werk weens hul “lekker” temperament.

Vergeleke met van die groter rasse, kan ‘n mens die hoeveelheid afrigters wat in die Vlaamperdbedryf bedrywig is, op slegs een of twee hande tel. So langs die Weskus af is dit juis die “ou hand” Izak, Piet Lourens van Porterville, Piet Wagenaar op Malmesbury, en in die Overberg; Hennie Kloppers van Stormsvlei, Bennie Kloppers van Bredasdorp en Johan Kleynhans op Swellendam...... elkeen van hulle wéét watter satisfaksie dit gee om ‘n kampioen af te rig. Op ‘n groot skou soos die komende een in die Swartland ryg die perde wat hulle afrig gewoonlik die titels in. Dis meesal ingetoë manne dié wat jy nie maklik aan die gesels kry nie. Dis immers hul brood en botter en die kaarte word gewoonlik styf teen die bors gehou – veral só kort vóór die ras se belangrikste skou van die jaar.

Izak se aansteeklike tongval, wat eie is aan Boesmanland, sy geboortewêreld, maak ‘n geselsie met hom altyd ‘n belewenis. Hy het as afrigter ook Kaapse Boerperde, Hackneys, Saalperde en Friesperde op sy kerfstok. “Daar is nie groot verskille in die tegniek om perde van die onderskeie ligte trek- of karperd-rasse af te rig nie. Elke perd is uniek en moet as sulks benader word.”

“Elke perd is uniek en moet as sulks benader word.”

Dit is ook ‘n uitgemaakte saak vir hom dat ‘n perd geensins die intelligente dier is waarvoor hy deur baie mense uitgemaak word nie: “Dit is egter ‘n buitengewoon troue dier. Om hom te leer en af te rig is ‘n uiters lang proses wat groot geduld verg. Soos jy hom leer, sal hy gewoond raak aan jou en jou bevele. Soos wat hy jou verstaan, so sal hy maak.”

sep 2015 vlaamperde 2

Benewens die gebruik van ophalers is kunsmatige afrigtingsmetodes nie deel van die Vlaamperd opset nie. “Jy moet kalm, maar tog streng met ‘n perd wees en hom nie oormatig tugtig nie,” verduidelik Izak. “As ‘n reeds geleerde hings byvoorbeeld by merries was en vir ‘n tyd weer op stal staan en nie wil luister nie, raps jy hom. Die eerste hou verdien hy immers, maar ‘n tweede hou is onnodig en wanneer jy hom ‘n derde hou gee, maak jy ‘n ‘fool’ van jouself!”

Ek kuier ook by Piet Wagenaar wat daag-liks perde op Malmesbury se skouterrein afrig. Net soos Izak vertel hy jou dat ‘n afrigter sy metodes van afrigting so eenvoudig as moontlik moet hou. “Wanneer ek ‘n Vlaam- of Friesperd afrig, is kunsmatige afrigtingsmetodes taboe. Ek wil nie van dit ‘n Saalperd maak nie” sê hy met beslistheid.

Soos alle afrigters besef hulle dat perde fiks en veral skoufiks moet wees. Piet sê hulle moet egter nooit oorwerk word nie. Dis beter om ‘n perd elke dag vir tien tot twintig minute te werk as om dit een keer per week vir vyftig minute te doen. “Jy moenie ‘n perd se lus om te werk uit hom werk nie”, waarsku hy. “Die sleutel tot sukses bly uiteindelik om hul in ‘n menslike omgewing aan te pas deur met hulle te kommunikeer.”

Wanneer ‘n mens wil weet wat die teken van ‘n goeie perdeman en –afrigter is, en waarop veral ag geslaan moet word, is daar eenstemmigheid hieroor:
-   Werk gereeld en konstruktief met jou perde;
-   Wees redelik ferm met hulle, maar nie ro     buus of hard nie. Izak sê hy het ‘n teken wat hy hulle gee as hulle moet begin werk, en ook vir elke gang is daar ‘n teken;
-   ‘n Skouperd se hoewe moet gereeld versorg en oordeelkundig beslaan word;
-   ‘n Perd moet sag in die bek wees en die bek moet heel wees. Drukking op die perd se bek moet dus baie oordeelkundig gedoen word;  
-    Om die dryfkuns te bemeester, is dit goed indien jy ‘n goeie leermeester het. Beskik ‘n mens boonop oor die ‘regte hande’, is dit ‘n bonus;
-    Daar moet ‘n kameraderie tussen jou en ‘n perd ontwikkel. Piet lê veral klem daarop dat ‘n mens jou allereers van ‘n perd se geaarheid moet vergewis: “Elke perd moet anders, volgens sy geaardheid benader word, want hulle verskil almal van mekaar.” ;
-    Volg riglyne om ‘n gesonde perd te verseker. In dié opsig kan voeding, gesondheidsorg en liggaamskondisie nie van mekaar geskei word nie.

Só is alles in plek en almal gereed vir ‘n oomblik van waarheid op Moorreesburg - veral dié perdemeesters wat met swoeg en sweet die hoogtrappers gaan laat pronk.