Volg ons op Facebook

Koring vir Afrika

Written by  Nikki van Coller
| in Landbou
| September 9, 2015

Ek hou van die Swartland, maar was nog nooit vir lang tye hier nie. Ek was al vir die dag in Darling en ʼn nag in die ouwêreldse dorpie Riebeek-Kasteel, maar hierdie is my eerste besoek aan Moorreesburg.

Ek kom gou agter dat dit ʼn dorp is wat hoofsaaklik bestaan vanweë een ding; koring. Ja, daar is ander boerdery-aktiwiteite, wat kanola, druiwe, asook veeboerdery insluit. Maar hierdie land is koringland, en net waar jy kyk, sien jy dit. Trouens dit begin sommer so met die intrapslag in die dorpie met die naambord: “Moorreesburg, die koringmandjie van Jesus.”

Moorreesburg is ongeveer 100km noord van Kaapstad, in die hart van die Swartland. Die naam ‘Swartland’ het sy oorsprong by Jan van Riebeeck wat dit “Het Zwarte Land” genoem het, vanweë die swart kleur van die Renosterveldplantegroei na die reëns, wat die land letterlik ʼn swart voorkoms gee. Maar vandag word ek begroet deur ʼn kaleidoskoop van kleur; groen wingerde en boorde, goue koringlande, heldergeel kanola-velde en die blou lug – allesbehalwe ʼn “swart land”.  

“Groen wingerde en boorde, goue koringlande, heldergeel kanola-velde en die blou lug – allesbehalwe ʼn ‘swart land’. “

Ek verwag dat Moorreesburg piepklein gaan wees, met een hoofpaadjie en ʼn paar rye huise weerskante daarvan. Maar dis nie die geval nie. Dit is ʼn bedrywige dorp, en bene-wens die gewone winkels en diensverskaffers wat jy sou verwag, is die meeste ander besighede op die een of ander manier by koring betrokke – verkope en diens van plaastoerusting, verwerking, berging en verpakking van koring en koringprodukte, en natuurlik – vervoer. Op pad na Moorreesburg op die N7 en in die dorpie self is daar ʼn magdom vragmotors; daar gaan nie ʼn minuut verby sonder dat daar ten minste een lorrie links of regs verby- dreun nie. 

sep 2015 opreis koringvirafrika1

Ek het ʼn vriend saamgebring vir die pad, en hy is bedruk. Dis sy laaste dag in Suid-Afrika voordat hy terugvlieg Bahrain toe, waar hy werk. Ek hoop die vars plaaslug gaan help.

Dis moeilik om nie die kerk raak te sien as jy die dorp binnery nie. Die toring steek uit bo die huise en besighede, en ek besef ʼn mens kan die toring sien van byna oral waar jy jou in die dorp bevind. Ek wil dit graag van naderby sien, maar ek loer eers in by die inligtingsentrum om uit te vind wat daar alles in en om die dorp te doen is. Voëlkyk en voetslaan is gewild, daar is die Misverstanddam, Bergrivier, gasteplase met aktiwiteite soos vierwielmotorfietse, kanovaart en hengel, ʼn klein gholfbaan en ʼn paar eet- en drink-opsies. Maar die dames by die inligtingsentrum stel voor ons ry sommer reguit na die Koringmuseum, wat glo een van slegs drie koringmuseums ter wêreld is. 

Ons bestudeer ons nuwe kaart en vind ons weg terug na die hoofstraat. Op pad sien ons die munisipaliteitsgebou – ʼn taamlik imposante gebou (ten minste in die vroeë 1900s toe dit ongetwyfeld die grootste gebou op die dorp was). Ek neem ʼn paar foto’s en besef dat ons maar net een straat weg van die besige hoofstraat is, en tog is daar nie ʼn siel in sig nie.

Daar is twee hoofpaaie in  Moorreesburg wat mekaar kruis – Hoofstraat en Langstraat, waar die meeste restaurante en winkels geleë is, en waar jy die enigste verkeerslig in die hele dorp sal teëkom.

Ek voel lus om aan iets te knibbel en onthou dat ons ʼn slaghuis gesien het, en besluit om daar te gaan inloer. Daar is ʼn baie mo-derne teken bokant die deur wat sê: “Hantam Slaghuis” en twee ou ligbokse wat sê: “Moodie Butchery”.  Ek loop my vas in die reuk van vars geslagte vleis en sidder om te dink wat my vegetariese vriende daarvan sal sê, maar dis ʼn reuk waarvan ek nog altyd gehou het. Ek koop ʼn bietjie droëwors en ʼn koeldrank en gesels met die eienaar. Sy vertel dat hulle die slaghuis onlangs gekoop en na Moorreesburg verhuis het. Die vorige eienaars (die Moodies) het die slaghuis 16 jaar gehad, en sy wou ietsie daarvan bewaar, en daarom het sy die ligbokse behou. Toe ek haar vra hoe sy oor die dorp voel, sê sy dat die mense vriendelik is, maar dat haar werksure verhoed dat sy baie uitkom...
“Maar dis ʼn tipiese klein dorpie waar almal mekaar op die ou end leer ken.” Terug in my motor besef ek dat die droëwors heerlik is – en jy kry sommer baie meer vir R30 as wat jy in Kaapstad sal kry.

sep 2015 opreis koringvirafrika2

Ons volgende stop is die museum, en weer eens is ek verras. Ek het ʼn stowwerige ou huis met ʼn paar hooivurke verwag, maar hierdie is die ware Jakob met ʼn indrukwekkende, interaktiewe rekenaaruitbeelding van die geskiedenis van koring. Die res van die museum het helder verligte uitstallings van koring wat teruggaan tot Egiptiese tye, verskeie koringverwante gereedskap-, produkte en –implemente, daar is ʼn voorstelling van ʼn algemene-handelaarwinkel (soos dit waarskynlik in die vroeë 1900s gelyk het) en ʼn groot vertrek vol ou plaastoerusting. Ek was al een of twee keer naby ʼn trekker, maar party van hierdie masjiene is reusagtig! Buite gesels ek met ʼn plaaslike inwoner en vra haar uit oor die dorp. Sy woon al agt jaar hier. Sy is lief vir die dorp en het baie vriende hier gemaak. “Maar O, die mense hier kan lekker skinder!” Ek wonder waaroor daar nou eintlik so geskinder word.

“Maar O, die mense hier kan lekker skinder!”

Die droëwors was toe net ʼn aptytwekkertjie, en ons besluit om middagete by De Oude Stoep te gaan nuttig. Ons kelnerin Nikki is ʼn skatkis vol inligting en sy vertel ons van die onlangse tussenskoolse sportdag waar Dirkie Uys teen Jan van Riebeeck gewen het, tot groot genot van die dorp. Sy is al vier jaar lank in Moorreesburg en sê vir ons dat dit ʼn oulike, stil dorpie is – ja, almal ken almal se besigheid, maar dis maar hoe dit is.

sep 2015 opreis koringvirafrika3

In die winkeltjie langsaan drom die skoolmeisies saam, en Nikki verduidelik dat dit amper tyd is vir die matriekafskeid; die meisies is op soek na allerhande tierlantyntjies vir die groot aand. Nikki sê die dorp kry lewe wanneer daar iets aan die gang is, en daar is dikwels iets aan die gang. Die Moorreesburg-landbouskou word vroeg in September gehou – ʼn groot gebeurtenis op die Swartlandse sosiale kalender. Dis ook oesseisoen, en dit sorg ook vir ʼn sekere soort energie (om nie te praat van hooikoors nie). Die matriekafskeid is ʼn groot geleentheid en die groot span- en tussenskoolse atletiekwedstryde in die somer sorg vir baie opwinding op die dorp. 

Na middagete ry ons ʼn bietjie tussen die woonhuise deur, bewonder die groot NG-kerkgebou en gesels met die mense. Ek moet sê, die mense lyk baie vriendelik. Wat my regtig verbaas, is hoeveel van hulle nog net ʼn paar jaar in Moorreesburg woon. Ek wonder of dit beteken dat die dorp besig is om te groei...

Dan ontmoet ons oom Chris van die viswinkel. Anders as al die ander mense wat ons ontmoet het, is hy in Moorreesburg gebore en getoë. Die viswinkel behoort aan hom en dit het ook aan sy pa voor hom behoort. Hy is baie lief vir die dorp en sê dis die mense wat die dorp maak. Dis goeie, hardwerkende, vriendelike mense, die misdaadsyfer is laag en als wat jy nodig het, is hier, het hy te vertel.

‘n Oorweldigende reuk kom van die bokkoms wat hier hang om uit te droog, maar dit raak beter hoe langer ek in die winkel is, en teen die tyd dat ek oom Chris groet, kan ek dit nie eers meer ruik nie.

Dit is so ʼn heerlike wintersdag en my (nou minder nukkerige) vriend en ek besluit om te gaan kyk of ons ʼn koue bier by die gholfbaan kan gaan drink. Maar daar is nie ‘n siel in sig nie - hulle het seker verdwaal daar by die 19e putjie (of liewer die 10e putjie, want hierdie baan het net 9 putjies). Maria, wat ons van agter die toonbank groet, is baie vriendelik en lag omdat ons so verbaas is oor die prys van ʼn bier (R13 per bottel).  Sy hoor natuurlik seker baie skinderstories hier by die gholfklubkroeg, en daarom vra ek haar uit oor die skindernuus op die dorp, maar sy sê sy hou nie van skinder nie en moedig mense aan om liewer oor hulleself te praat. Ek hou nog so ʼn bietjie aan om te sien of sy tog met ʼn sappige storie vorendag sal kom, maar sy gee absoluut niks weg nie.

“Ons sit buite en drink ʼn bier, en hou die klompie springbokke dop wat hier ronddwaal. “

Ons sit buite en drink ʼn bier, en hou die klompie springbokke dop wat hier ronddwaal. Dit lyk asof hulle nogal mak is, maar voordat ek te naby kan kom, laat spaander hulle.  

sep 2015 opreis koringvirafrika4

Agterna ry ons weer ʼn bietjie rond en gaan kyk na die sportgrond, skougronde en ʼn klompie gastehuise. Oral waar jy kom, is die mense vriendelik en nederig. En almal sê dieselfde: dat almal,  almal se besigheid ken. Ek wil natuurlik meer weet, maar dis byna tyd om huiswaarts te keer. Ons ry gou na Bederf vir ʼn cappuccino voordat ons die pad vat. Die winkeltjie hou allerhande oulike goedjies aan – van ontwerperbabaklere tot sonderlinge ornamente, rame en wol – dis beslis die modernste plek in Moorreesburg – en die cappuccino is heerlik.

Wanneer ons weer na die N7 se kant toe ry, maak ek ʼn knoop in my oor vir die goed wat ek volgende keer wil doen wanneer ek weer in die omgewing is; by een van die plaasgastehuise oorbly; die klein koppie uitklim; biltong koop by die Hantam-slaghuis; die suurlemoenskuimtert by Bederf op die proef stel; ‘n potjie gholf saam met die springbokke speel, en veral ʼn bietjie skinnernuus by Maria kry.... wie weet?!