Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Olywe uit alle oogpunte

Written by  Floors van der Wateren
| in Landbou
| October 8, 2015

Die gewilde ster en skrywer Johnnie Carson het jare gelede geskryf: ”Happiness is... finding TWO olives in your martini when you’re hungry!”

Die kanse is goed dat Johnny se olywe van die Mediterreense lande soos Spanje, Italië of Griekeland afkomstig was. Vyf-en-sewentig persent van die wêreld se olywe spruit voort uit hierdie drie lande.

Tóg, al sit Suid-Afrika nie langs die Middellandse see nie, oortref Suid-Afrikaanse olyfboere en prosesseerders alle verwagtinge met produksie en kwaliteit. SA Olive, een van vele organisasies wat ontstaan het as gevolg van die gewilde vrug, het aan die begin van September hulle wenner van die “SA Olive-mentorskapprys” aangewys. Hierdie gesogte titel het gegaan aan Esolda Cilliers, die Logistieke Bestuurder by Willow Creek- produkte. Sy was een van ses finaliste uit 113 geregistreerde deelnemers. SA Olive het sy mentorskapprys in 2008 geloods met die doel om ‘n nuwe generasie olyfolieverbouers en -vervaardigers op te lei. Dit is ‘n bedryfsgefinansierde onderneming wat moontlik gemaak word deur nasionale, sowel as plaaslike regeringstoelae.

Die ander vyf finaliste was: Javin Beukes (Mount Cedar), Piet Visser (Olyfberg), Vi-vian Otto (Olyvenbosch), Joslyn von Wielligh (Goedgedacht) en Eunice Thandiswa (Cape Olive).

october 2015 olywe 1

Olie laat die wêreld draai!

Ru-olie bly een van die wêreld se mees gesogte kommoditeite. Wat voedselolies betref, gee olyfolie ‘n soortgelyke pas aan met aanvraag wat sedert 1995 verdubbel het. In 1995 is daar na raming 1,6 miljoen ton olyfolie vervaardig en in 2010 ‘n geskatte 3,2 miljoen ton. Die syfer vir 2015 is nog nie gefinaliseer nie.

Die spektrum vir olyfboere en prosesseerders behels nie net olywe in martini’s, vir versnaperings, of olie nie. Dit strek ook tot ‘n baie groot reeks byprodukte. Met die mens se skeppende verbeelding en vaardighede, het heerlike alternatiewe die verbruikersmark betree. Deesdae is daar ‘n groot verskeidenheid van verskillende gegeurde en veredelde olies, gevulde olywe, tapenades en pesto.

Ook is die gesondheidswaarde van olyfolie nog verder ontgin met die maak van skoonheidsprodukte. Met die vermenging van die natuurlike olie en wetenskaplik-beproefde inhoud, word besonderse produkte vir die skoonheidsmark vervaardig. Voorbeelde hiervan is lyfroom, lyfbotter, eksfolieerders, seep en hande- en naelroom. Mans kan die olie ook net so gebruik vir ‘n skeermiddel wat terselfdertyd die vel diep voed. Om hare wat moeilik stileer in toom te hou, kan olyfolie ook as ‘n voor-sjampoe-opknapper gebruik word. Dié haarbehandeling dateer uit antieke Egipte.

“Mans kan die olie ook net so gebruik vir ‘n skeermiddel wat terselfdertyd die vel diep voed.“

As ‘n velroom kan dit vir ekstra droë vel gebruik word. Dit is ook reeds ‘n beproefde behandeling vir ekseem. Olyfolie se anti-inflammatoriese kwaliteite is soortgelyk aan dié van die pynstiller Ibuprofen. Gebarste hakke word ook suksesvol oorkom met die toediening van olyfolie, aangesien dit die vel diep penetreer en genees. As ‘n skeermiddel is dit boonop ‘n eko-vriendelike alternatief.

“Olyfolie se anti-inflammatoriese kwaliteite is soortgelyk aan dié van die pynstiller Ibuprofen.”

Gesondheidsvoordele

Olyfolie bevat hoë vlakke van mono-onversadigde vetsure (tussen 65 – 85%) wat gesonde cholesterolvlakke bevorder. Daarmee saam is die hoë vlakke van polifenol ‘n besonders effektiewe anti-oksidant wat vrye radikale in die liggaam beveg. Die anti-oksidante verseker verder dat die olie nie oksideer en van gehalte verminder nie. Mono-onversadigde vetsure is ook voordelig vir nie-insu-lien-afhanklike diabete.

Ekstra suiwer (extra virgin) olyfolie is ryk aan vitamiene A, D, E en K. Mediese navorsing het onlangs bewys dat die natuurlike anti-oksidante in olyfolie die liggaam beskerm teen verskeie soorte kanker. Groot suksesse is veral met kolon- en borskanker behaal.

october 2015 olywe 2

Alternatiewe byprodukte

Die nuutste toevoeging tot die olyfstal is dierevoer. Met die insluiting van olybyprodukte in dierevoer, verbeter dit die vetkwaliteit in vleis en lewer dit beter gehalte melk. Hierdie resultate is onlangs gepubliseer in die joernaal Animal Feed Science and Technology. Daar word gefokus op vier kategorieë van byprodukte: olyfblare en takke; olyfkoeke (wat bestaan uit olyfpulp, skille, pitte en water); olyfpulp individueel en skille individueel.

Die studie het alle aspekte van die voordele, sowel as die moontlike nadele bekyk. Toetse is gedoen rondom preserveringsmetodes, chemiese komposisie, vertering, voe-dingswaarde, potensiële toksisiteit, asook die uiteindelike resultaat van gesondheid in diere. Wat oorweldigend en oortuigend bevind is, is dat met die toevoeging van olyf byprodukte, die mono-onversadigde vetsuur-telling in melk toegeneem het, terwyl dit terselfdertyd versadigde vetsure verminder het. Die lipiede-kwaliteit van melk is dus grootliks verbeter. Die impak op die smaak en kwaliteit van vleis van diere word nog nagevors.

In dieselfde joernaal word daar wel gemaan dat die olyfboer die gebruik van koper moet beperk. Koper word soms aangewend na olywe geoes is om sekere soorte bakterieë en swamme te beveg. Koper-inname kan egter slegte gevolge vir diere inhou.

“Koper word soms aangewend na olywe geoes is om sekere soorte bakterieë en swamme te beveg.”

Die joernaal lig ook uit dat olyfblare die helfte van die energie- en aminosuurvereistes vir skape en bokke se dieet inhou. Daar word aanbeveel dat die blare vars vir die diere gegee moet word. Olyfkoeke daarteenoor, kan in verskillende vorme aan diere gevoer word.

Met sentrifugale ekstrahering van olyfolie word ‘swart water’ of alpechin afgeskei. Al het dit ‘n bitter smaak, is dit ryk aan suikers en kom dit stroperig voor. Dit word gedeeltelik gedroog en vorm dan ‘n stof wat soortgelyk aan molasse lyk. Die aard van die olyfkoeke en ander byprodukte hang grootliks af van die proses van ekstrahering wat gevolg word. Met meganiese ekstrahering, bevat die olyfkoeke pitte en ‘n olie-residu. Deur middel van ‘n kombinasie van meganiese ekstrahering
en die gebruik van ‘n oplosmiddel, word ‘n olyfkoek gekry met pitte, maar ‘n baie verminderde olie-residu. Die olyfkoeke word gewoonlik ontpit om as voermiddel te dien. Met die Acapulco- en Enfrida-prosesse, word die olywe eers ontpit voor ekstrahering gedoen word.

‘n Kort geskiedenis

Raffaele Costa het in 1896 na Suid-Afrika verhuis vanaf Genua in Italië. Hy het vier hektaar grond verkry in Nuweland in Kaapstad waar hy ‘n kwekery begin het. Raffaele was baie gou suksesvol en het bekendheid verwerf vir sy kunstige ornamentele tuine. Hierdie soort tuine was hoogmode vir die tyd.

Teen die einde van die Anglo-Boereoorlog in 1902, was sy besigheid só florerend dat hy sy twee jonger broers, Ferdinando en Carlo, na Kaapstad kon laat kom. Raffaele het uiteindelik na ‘n paar jaar teruggekeer Italië toe, terwyl Carlo ‘n kwekery in Bulawayo, Zimbabwe begin het. Ferdinando het alleen in Kaapstad agtergebly en mettertyd ‘n agt-akker-plot in Nuweland gehuur. Hy was ‘n gekwalifiseerde landbouer na hy sy studies voltooi het by St. Illario-landboukollege in Genua.

“Sedert sy aankoms in Kaapstad was dit Ferdinando se droom om die eerste olyfbome te plant. “

Sedert sy aankoms in Kaapstad was dit Ferdinando se droom om die eerste olyfbome te plant. Die teenwoordigheid van wilde olienhoutbome - ‘n neef van die olyfboom en lid van die Oleaceae-familie - in die Boland se berge, en die ooreenkoms in klimate tussen Suid- Afrika en Italië, het hom vertroue gegee om sy droom te verwesenlik.

Met die hulp van sy kontakte by St. Illariolandboukollege, kon hy lote van die beste olyfkultivars in Italië bekom. Hiermee kon hy wilde olienhoutbome gebruik as onderstokke om te ent en sodoende het hy sewe jaar se eksperimentering begin om die beste variëteite vir Suid-Afrika se klimaatstoestande te skep. Dit was destyds baie moeilik om die lote vanaf Europa te kry.

Dit het ses weke per skip geneem om hier te kom en moes vir die duur van die vaart heeltyd versorg word deur goed-opgeleide kenners. Dit was eers aan die begin van 1920 voor Ferdinando sy eerste olywe kon oes.

In 1917 het hy die liefde in sy lewe ontmoet en is toe getroud met Julia Doyle, ‘n Australiese dame van Ierse herkoms. Sy was ook toevallig betrokke in die olyfbedryf in Austra-lië en kon daarin slaag om kultivars daarvandaan, sowel as vanaf Kalifornië te bekom.  Ferdinando het met al die nodige lote en bome tot sy beskikking uiteindelik sukses bereik en 10 duisend bome op sy grond bo Rhodeslaan in Nuweland verbou.

Tog was sy grootste uitdaging toe hy in 1925 ‘n 22 hektaar- vrugteplaas oos van Paarl gekoop het. Sy bure het gedink hy is mal toe hy begin het om vrugtebome uit te pluk en te vervang met (tot daardie tyd, redelik onbekende) olyfbome! In 1936 het Ferdinando die eerste hidrouliese oliepers vanuit Italië na Suid-Afrika ingevoer. Dit was ‘n ooptoring-sisteem en was so effektief dat al die ander ‘nuwe’ olyfboere hom nageboots het. Die soort sisteem is tot vandag toe by sekere prosesseerders in gebruik.

Tussen 1918 en 1923 het Julia vir Ferdinando drie kinders in die wêreld gebring, Cynthia, Phillip en Nino. Die kinders het grootgeword op die familieplaas Nervi en Ferdinando het tot op sy sterfdag in 1969 op die plaas gewerk. Phillip het uiteindelik sy pa begin help, maar Nino het vir hom naam gemaak by die Monis- wynmakery wat in 1926 in Huguenot gevestig is.  Nino het later die direkteur van die Oenologiese laboratorium by Monis geword. Hy het egter terugverlang na die plaaslewe en het sy eie plaas Lavalle bekom, slegs vier kilometer vanaf sy ouerplaas. Hier het hy weer die tradisie van olyfverbouing voortgesit en sy reeks ‘buffet olives’ het spoedig as een van Suid-Afrika se ‘groot vier’ bekend geword.

Nino het in 2010 sy 85ste verjaarsdag gevier, en het na aftrede na Gordonsbaai verhuis. Sy dogter Linda is ook ‘n bekende in die olyfbedryf en is gereeld op TV te sien, of word aangehaal in koerante. Sy bly ‘n suksesvolle ambassadeur van die familiebesigheid en -tradisie van olyfverbouing.

Ten slotte

october 2015 olywe 3Vir eeue is vars olyfolie as ‘n noodsaaklikheid beskou. Nie net as voedsel nie, maar ook as medisyne, skoonheidsproduk en selfs ‘n belangrike element in geloofsrituele. Die kwaliteitstandaard wissel van ‘Extra Virgin’ tot ‘Extra Virgin Italian’ wat as die hoogste klassifikasie beskou word.

Met die waarde wat geheg word aan olyfolie, is dit glad nie vreemd dat daar al in die verlede korrupsie en bedrog daar rondom voorgekom het nie. Die Amerikaanse skrywer, Tom Mueller, word beskou as ‘n wêreldkenner van die skandale wat al in die olyfoliebedryf kop uitgesteek het.

“Gelukkig het ons nie sulke probleme of produkte in Suid-Afrika nie, en kan ons met oortuiging sê: Dit is trots Suid-Afrikaans!”

Die ondersoek wat hy geloods het in The New Yorker verskyn onder die titel Extra Virginity. Hierin  beskryf hy die mense in die bedryf: van die boere; die produseerders; en chemiese analiseerders; tot by die sjefs en kosfoendi’s. Sy oorsig strek van antieke tye tot die hede en hy vaar met mening uit oor die swak beskerming wat Amerikaanse verbruikers het teen nagemaakte en selfs toksiese produkte op die VSA-mark. 

Gelukkig het ons nie sulke probleme of produkte in Suid-Afrika nie, en kan ons met oortuiging sê: “Dit is trots Suid-Afrikaans!”