Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Moenie die brandewyn laat staan nie

Written by  Maryke Roberts
| in Landbou
| October 12, 2015

Net meer as 340 jaar nadat brandewyn vir die eerste maal op ’n skip in Tafelbaai gestook is, palm Suid Afrikaanse brandewyn internasionale pryse in. Vanjaar het dit selfs stof in die oë van konjak geskop. Tog daal brandewyn-verkope in Suid-Afrika.

SA Liquor Brand Owners Association (SALBA) statistiek wys dat brandewynverkope in 2007 ’n totaal van 46,6 miljoen liter beloop het en in 2014 ’n totaal van 30,6 miljoen liter. Whisky-verkope het oor dieselfde periode van 30,6 miljoen tot 40,8 miljoen liter gestyg. Die gesogte premie (premium) brandewyne se internasionale toekennings laat die brandewynbedryf egter stadig maar seker dié spiritualieë se openbare beeld poets en die slegte verbintenis daaraan afskud.

Brandewyn is op 19 Mei 1672 vir die eerste keer in Suid-Afrika gedistilleer. Die kok van die skip, de Pijl, kon 130 liter brandewyn van 1000 liter Kaapse wyn distilleer. Vroeë Kaapse brandewyn het as ‘Kaapse Smaak’ bekend gestaan - ’n term wat vertaal is na ‘Cape Smoke’ as gevolg van die rokerige geure.

Die kwaliteit van die vroeë brandewyn was swak. Vir baie jare het die deursnee Suid-Afrikaner brandewyn met mengeldrankies geniet en dit het ’n beeld geskep van ruwe, ongekunstelde verbruik.

oktober 2015 landbou brandewyn 1

Maar vandag, as jy in die wingerde stap en die volronde, groen druiwekorrels saam met ’n wynmaker inspekteer, kan jy jou verbeel dat jy dalk help kies aan die volgende verouderde-potketelbrandewyn wenner van die wêreld.

“Agter historiese kelderdeure word wyn vir ure tot magiese wit brandewyn gestook, wat dan in pragtige eikehoutvate tot ’n karamelkleur verouder word.”

Die hele proses is in romanse gehul. Agter historiese kelderdeure word wyn vir ure tot magiese wit brandewyn gestook, wat dan in pragtige eikehoutvate tot ’n karamelkleur (wat jou mond laat water) verouder word. As jy jou neus in die glas druk, word jy verras met geure so uiteenlopend soos sitrus, vrugtekoek, amandels en toffie. Om hierdie magiese proses beter te verstaan, pak ek my sak en gaan ondervind die nuwe ‘Brandewyn Tuistes’ van die SA Brandewynstigting, sommer eerstehands.

oktober 2015 landbou brandewyn 2

My reis begin by Christelle Reade-Jahn, direkteur van die SA Brandewyn Stigting - wat in 1984 deur die bedryf gestig is om die herkoms en integriteit van Suid-Afrikaanse brandewyn te beskerm.

“Die naam ‘Brandewyn Tuiste’ is presies wat dit sê: die plek waar brandewyn gebore is,” sê sy. “Daar is tans 22 Brandewyn Tuistes en elkeen beloof om die besoeker na die hart van ’n trotse erfenis te neem - daar waar kampioene gebore word.”

Die Brandewyn Tuistes sluit verborge skatte en gevestigde gunstelinge in. ’n Paar is binne enkele minute van die Kaapstad-kern, terwyl ander as deel van ’n naweek-op-die-platteland wegbreek besoek kan word.

Sy verduidelik dat Suid-Afrikaanse brandewyn, volgens wet, uitsluitlik van druiwe gemaak word. Dit geld vir plaaslike-, sowel as ingevoerde brandewyn wat in Suid-Afrika verkoop word. Dit dien as belangrike kwaliteit onderskeier.

“Hoofsaaklik Chenin Blanc en Colombard word gebruik, maar enige variëteit kan gebruik word. Ongeveer 90% (brandewyn) word van hierdie twee variëteite gemaak en 10% van onder meer Sultana, Palomino, Cinsault, Ugni Blanc, Chardonnay en Pinotage.” Die druiwe kom hoofsaaklik van warmer wingerdverbouingstreke.

Ek leer dat die Wet op die Beheer van Spi-ritus van 1924 die eerste wetgewing was om minimum standaarde vir brandewyn in Suid-Afrika daar te stel. Hierna het die kwaliteit met rasse skrede verbeter en brandewyn het gou die land se gunsteling spiritus geword.

’n Bietjie meer ingelig, draf ek by die KWV in Paarl se hoofstraat in. KWV het in 1918 tot stand gekom in ’n poging om die wynbedryf te reguleer en kwaliteitstandaarde daar te stel.

Nie alleen maak Pieter de Bod, meesterdistilleerder, van die land se beste brande-wyne waarvan die medaljes en sertifikate ’n muur vol hang nie; KWV het vanjaar die wêreld se beste brandewyn en konjak produsent-toekenning by die 2015 International Spirit Challenge (ISC) in Londen verower. Dit was die eerste keer in die ISC se 20-jaar geskiedenis dat ’n brandewyn - en nie ’n konjak nie  - dié gesogte titel wen.

Dis geen verrassing nie, want die vroeë geskiedenis van brandewyn in Suid-Afrika is ten nouste vervleg met dié van die KWV. Ek lees in Brandy in South Africa deur André P. Brink, dat prof. Abraham Izak Perold al in die laat twintigerjare aanbeveel het dat “uitmuntende brandewyn met die oog op latere uitvoer gemaak en verouder word”. Hy is gevra om “by wyse van proefneming die beste en geskikste wyne te bekom en 285 hl (sowat 285 000 liter) brandewyn vir KWV te maak”.

KWV se nuutste veldtog, Finish Great, is daarop gemik om die handelsmerk se beeld te verbeter. “Ons brandewyn is net so goed, indien nie beter nie, as enige brandewyn of konjak wat in die wêreld gemaak word,” sê Pieter.

“Goeie wyn maak goeie brandewyn. ”

Pieter laat proe my sy 20-Jaar Oud en ek hoor wyn vir distillering staan bekend as basiswyn. Goeie wyn maak goeie brandewyn. Slegs vryloopsap mag gebruik word. Dop-kontak en afdruk op doppe is ook standaard praktyke. (Gisting word op die doppe gedoen en die druiwe word gereeld afgedruk om dit goed te meng.)

“Suid-Afrikaanse brandewyn-kwaliteit is onderskryf deur van die wêreld se strengste wetgewing. Dit  moet twee maal in koper potketels gedistilleer word en vir ’n minimum van drie jaar in akkerhoutvate verouder word. Wetgewing laat drie brandewynstyle toe: potketel, veteraan en versnitte.”

Met die talmende geure van Portstyl-wyne op my tong, gaan my reis voort na my oornag-plek: Majeka House & Spa, vyfster boetiekhotel terug op Stellenbosch, waar ’n spesiale ete deur sjef Tanja Kruger, wat in oorleg met sommelier Esme Groenewald en brandewynmeester van Van Ryn, Marlene Bester, beplan is. Die Makaron-restaurant het al verskeie top plekke in die jaarlikse Eat Out-toekennings ontvang.

oktober 2015 landbou brandewyn 3

Een verleidelike gang na die ander word met die Van Ryn’s 12-Jaar, 15-Jaar en 20-Jaar brandewyne bedien. Elke brandewyn het ander geure. “Elkeen geniet brandewyn soos sy smaak dit verkies. Maar ons land het sulke uitmuntende brandewyne, mens besef daar is meer as net brandewyn en Coke opsies,” vertel sy. Sy voeg by dat die potketelbrandewyne ideale pasmaats is vir kos.

“Ons land het sulke uitmuntende brandewyne, mens besef daar is meer as net brandewyn en Coke opsies.”

En sy behoort te weet. Van Ryn’s se 12-, 15- en 20-Jaar Oud brandewyne was al tien keer die wêreld se beste brandewyn.

Vroegoggend is dit ’n plesier om deur die verkeer te vleg en op die R62 uit te ry - Karoo in. By Kingna buite Montagu is Ruan Hunlun se handdruk net so eg soos sy breë glimlag.  Sy trots oor die pragtige vallei wat hy huis noem, is duidelik toe hy ons deur die distille-ringsproses neem. In die koel kelder ruik jy die lieflike geure: “Omdat eikevate poreus is, verdamp alkohol daardeur. Tydens veroudering verdamp ongeveer 3% van die alkohol jaarliks en dit word die ‘Angels’ Share’ genoem. Produsente sien dit as beloning vir die harde werk wat die ‘engeltjies’ in die vate doen om uitstekende kwaliteit brandewyn te maak.”

Sy 5-Jaar Oud potketel-brandewyn is die produk van harde lesse, want Ruan het homself die nuanses van dié ingewikkelde proses geleer. Dis fluweelsag en vul jou mond.

Ek groet traag, want die stilte buite op die plaaswerf is salf vir die siel, maar Ferdi Smit wag op Barrydale waar die Joseph Barry-brandewyn gestook word. Ferdi wys my die klein museumpie wat hy ter ere van Joseph Barry - glo ’n legende wat in 1817 in Suid-Afrika aangekom het - in een van die ondergrondse sementtenks ingerig het. Die geskiedenis word daar tussen historiese verouderingsvate bewaar.

Die kelder is midde-in groot verande-ringe en distilleerder, Ferdi, wys waarheen die potketel in die ondergrondse kelder gaan skuif en vertel hoe dié kelder in ’n restaurant en
bierbrouery omskep gaan word. “Ek kan dan hier stook en die publiek eerstehands dié magiese proses laat ervaar,” sê Ferdi. Ons proe saam die Muscat d’ Alexandrie wat van Hane-pootdruiwe gemaak word, voor ek ’n bottel 10-Jaar Oud Joseph Barry in my tas laai.

oktober 2015 landbou brandewyn 4

Padkos eet ek sommer in die ry, want Elana Grundling van Grundheim buite Oudtshoorn, het gewaarsku ons moet ’n gaatjie hou vir vars roosterkoeke met tuisgemaakte appelkooskonfyt, volstruispatee en ’n skeutjie van haar man, Dys, se wonderlike brandewyne. Dys en sy pa, Danie, is bekend vir onder meer Danie se Wit Hond, Brandslang, hul gemmer-en boegoebrandewyn. Dys is die sesde geslag distilleerder op Grundheim en hy vertel trots dat hy pas gehoor het sy witblits het ’n silwer medalje by die 2015 Michelangelo-kompetisie gewen. “Jong, dis ’n drankie wat groot manne bang maak. Ek is só trots dat die beoordelaars die kwaliteit ten spyte van die sterkte van die alkohol erken.”

“Jong, dis ’n drankie wat groot manne bang maak.”

Toe die son laag hang, sit ek my tasse vir die nag neer by Surval, ’n boetiek-olyflandgoed en -gastehuis buite Oudtshoorn. Daar maak die son goue patrone tussen die olyfbome en die mannetjies volstruis pronk omtrent toe ek my kamera uithaal.

Die aand is ’n ete met kookboekskrywer, sjef en hoof van ’n kos-akademie, Francois Ferreira. Ons geniet De Krans MCC op die grasperk, hoor hoe die paddas kwaak en die voëltjies vir die nag nesskrop, voor ons die spyskaart aandurf. Met verskillende gange wat die geure in die alkohol komplementeer, smul ons. Daarmee saam is die Grundheim-peerschnapps en toe die potketelbrandewyne: die 9-Jaar Oud Grundheim; Boplaas 20-Jaar Oud; Ladismith 8-Jaar Klein Karoo en die Mons Ruber Muscat d’Alexandrie 2003.  

“Ek glo die ketel se vorm - ’n hoë helm met ’n slangnek - dra by tot die sagte, geurige karakter van ons brandewyn.”

Ná ’n luilekker ontbyt, gaan kuier ek by Radé Meyer van Mons Ruber. Hy vertel daar was voor 1900 al meer as 100 distilleerketels in dié area. By Mons Ruber is daar aanvank-lik met agt ketels gestook om die hele oes te verwerk. Hul brandewyn is by Robertson aan KWV gelewer. In 1936 is dié ketels met een groot ketel van 1000 liter vervang en die wyn en doppe ook voortaan vir distillering geskei.
“Vandag is Mons Ruber die enigste geregi-streerde landgoed in die Klein-Karoo en ons verouder brandewyn sedert 1990. Die ketel is steeds die 1936-een wat ons met hout stook. Ek glo die ketel se vorm - ’n hoë helm met ’n slangnek - dra by tot die sagte, geurige karakter van ons brandewyn,” vertel hy. Die ander distilleerder wat nog hout gebruik, is Dys by Grundheim.

oktober 2015 landbou brandewyn 5

Radé sê hy eksperimenteer met verskillende druifsoorte, maar die “aromatiese variëteite soos Muskadel en Hanepoot, is die geskikste vir daardie area, omdat die Muskat-druifsoorte só goed hier floreer.”

Witblits en boegoebrandewyn word ook op die geskiedkundige Mons Ruber gemaak. Die geboue hier het voorheen ’n tolhuis en smidswinkel ingesluit, en die hele 1850-proelokaal is ’n uitbeelding van die afgelope eeu se geskiedenis van die omgewing.

My laaste stop is op Robertson. Hier spoel ek die stof van my lyf af by The Robertson Small hotel, voor ek pad-af stap vir ’n toer deur Klipdrif se reuse distilleerdery. Klipdrift is sekerlik een van die bekendste handelsmerke en ons hoor in die proelokaal van die horlosie wat op 08:02 staan: dit was die tyd wat die eerste Klipdrift in 1938 distilleer is. Ons proe die Klipdrift Gold en Premium en ook die skaars Legend.

Dis met die woorde van die toerleier nog vars in my geheue, dat ek in Reuben’s in die hotel aansit vir aandete waar die kos met Klipdrift gepasmaat is. Sjef Tiaan van Greunen het saam met sjef Reuben Riffel op die kombinasies besluit. Ons smul aan vier gange met Klipdrift Export, Premium, Klipdrift Gold en vars lemoensap en Klipdrift Black Gold, voor koffie op die stoep.

Die volgende oggend klingel die brande-wynbottels in my tas en ek begin op pad huis toe al klaar beplan aan my toer van die Brandewyn Tuistes van die Kaapse Wynlande.

oktober 2015 landbou brandewyn 6

Uitvoere

Suid-Afrika voer slegs 8% van ons volume brandewyn uit. Dit is sowat 3.5% van die wêreld-brandewynmark in hierdie stadium. Uitvoere is hoofsaaklik na Afrika-lande soos Kenia, Nigerië, Ghana en dan na Europa, Engeland en ’n klein hoeveelheid na die Verre Ooste.

Die produksieproses in ’n neutedop:

Basiswyn word in ’n koper kolomketel gedistilleer. Koper is ’n goeie hittegeleier en reageer met sulfate en vorm stabiele, reuklose soute. Verhitting word gewoonlik met stoom gedoen, maar sommige boetiek-distilleerders gebruik nog ’n oop vlam. Potketels word in verskillende groottes en vorms gemaak. Een van die kleinste potketels in die Klein-Karoo het ’n 1000 liter kapasiteit. Die grootste potketel in Suid-Afrika is by Oude Molen in Grabouw. ‘Big Bertha’ het ’n kapasiteit van
24 000 liter. 

Kolomketels is hoogs effektief en verwyder al die geure van die wyn totdat net ’n kleurlose, smaaklose vloeistof agterbly. Water en alkohol kook en verdamp by verskillende temperature: water teen sowat 100°C  en alkohol teen sowat 78.3°C.  Wanneer basiswyn verhit word, sal die alkohol in die wyn eerste verdamp. Die dampe word versamel en verkoel en sal kondenseer om weer ’n vloeistof te vorm. Die vloeistof sal ’n hoër konsentrasie van alkohol as die basiswyn hê, aangesien dit minder water bevat.

Brandewyn versus konjak

Konjak is potketelbrandewyn wat in die Cognac-streek in Frankryk gemaak word. Die produksiemetode is omtrent identies aan dié van Suid-Afrikaanse potketelbrandewyne. Beide word tweemaal in koper potketels gedistilleer en in eikehoutvate verouder.  Suid-Afrikaanse potketelbrandewyn het ’n minimum alkoholinhoud van 38%, teenoor die 40% van Cognac.

Hoe om brandewyn korrek te proe

Proe altyd brandewyn uit ’n skoon brandewynglas of ’n ISO-wynproeglas.  Dit is heeltemal aanvaarbaar om ’n skeut water by te voeg, wanneer brandewyn geproe word.

Moenie die vloeistof in die glas rond-spoel soos met ’n wynproe nie en moenie die brandewyn verhit nie - dit moet teen kamertemperatuur geproe word.

Begin ruik sowat 5cm van die bokant van jou glas en beweeg jou neus geleidelik nader aan die glas. Neem ’n klein slukkie en spoel dit in jou mond rond. Die intensiteit van die alkohol sal na ’n paar sekondes afneem en die ryk, komplekse geure sal na vore tree.

Beplan jou reis

Besoek www.SAbrandy.co.za/brandyhomes vir kaart-aanwysings na elke Brandewyn Tuiste, sowel as distilleerdery kontakbesonderhede en besoek-ure. Sommige is slegs per afspraak oop. Die Brandy Homes-webwerf gee jou ook die geleentheid om punte aan jou ervaringe toe te ken. Hou aanlyn met SA Brandewyn kontak via Twitter @BrandyRocksSA en op Facebook (www.facebook.com/FineBrandyFusion).


Het jy geweet?

• Dit neem vyf liter goeie wyn om een liter spiritualieë te maak.
• Die eerste bewyse dat brandewyn van wyn gedistilleer is, kom uit die 13de eeu van die Spaanse filosoof, Ramon Llull.  
• Teen die 1500’s verwys die Duitsers na
branntwein en die Nederlanders na brande-wijn. Brandewyn van hierdie era is nie verouder nie en is meestal vir medisinale redes gebruik.
• Teen die 1600’s het Nederlanders begin om brandewyn aan boord hul skepe te neem. Wyn uit daardie tyd kon nie die lang seereise hanteer nie en distillering het dié probleem opgelos. Die hoër alkohol het as natuurlike preserveermiddel gedien en oksidasie verhoed.
• ’n Paar vate brandewyn het ongetwyfeld in 1652 saam met Jan van Riebeeck by Tafelbaai-hawe ingevaar.