Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

'n Oog in die lug - perspektief op wynbou

Written by  Jacques van Zyl
| in Landbou
| October 12, 2015

Soveel as wat daarteen vasgeskop word uit sekere oorde, is die uitwerking van klimaatsverandering op hulpbronne, veral water, een van die grootste faktore wat die landboubedryf in die gesig staar.

Die grondstof waarmee hierdie uitwerking teëgestaan gaan word is, inligting spesifiek inligtingstegnologie, en dit is waaroor ons hier gaan praat.

Om te boer, sal baie boere vir jou sê, is soms soos om in die donker rond te tas. Daar is, meeste van die tyd, ‘n reuse skuldlas in die agtergrond en as wynbou mens se ne-ring is, sit mens se geld ook nog vas vir ten minste twee jaar, terwyl inflasie sorg dat dit minder werd is teen die tyd wat dit terugkom.  Jy is ook tot ‘n groot mate oorgelewer aan die elemente, van die klimaat onder wer-kers, tot die vindingrykheid van plae, en die lang- en korttermyn wisselvallighede van die weer. Dan praat ons nie eers van wetgewing en die onvoorspelbaarhede in die ekonomie nie. Verder beslaan plase baie keer enorme grondgebied, en die vermoë om ‘n ogie te hou op ‘n merkwaardige hoeveelheid veranderlikes is gereeld die verskil tussen ‘n rampspoedige, of ‘n goeie jaar. Soos een plaaseienaar dit stel: “Wat party mense ‘uitdagings’ noem, is meer soos ‘n nagmerrie. Gaan doen self die som.”

“Wat party mense ‘uitdagings’ noem, is meer soos ‘n nagmerrie. Gaan doen self die som.”

 ‘n ‘Oog in die lug’, by wyse van spreke, word van kritieke belang vir verbouing, veral wat groot plase aanbetref. Die probleem is dat data nie inligting is nie. Om sin te maak van data is ‘n dissipline wat buite die ervaringsveld van byna enigeen val, wat nie voltyds daarmee gemoeid is nie. En as mens nie self lus is om ‘n spreekwoordelike wit jas aan te trek nie, is dataverwerking die punt waar die uiteenlopende dienste van ‘n menigte van navorsingsinstitute (soos dié by Elsenburg) en maatskappye soos, onder andere Agrimotion en VinPro nodig word.

october 2015 lanbdou wynbou 1

Tradisioneel ‘n gebied bekend vir koöperasie- en waarde-vir-geldwyne, het Worcester sowel as die groter Breederivierwynboustreek oor die laaste paar jaar, hierdie beeld begin afskud. ‘n Toenemende hoeveelheid medaljes en vyfstertoekennings in onder meer die Platter-wyngids, die eertydse Classic Wine-tydskrif en elders, is besig om hierdie grootliks alluviale wynstreek op gelyke voet met die tradisioneel meer ‘geskikte’ wingerdbougebiede soos Stellenbosch, Franschhoek, Paarl en meer onlangs, die Swartland, Greyton en die Sederberge te plaas. Kelders soos Nuy, Eagle’s Cliff, Opstal en Alvi’s Drift rek vandag mens se nek soos jy daarvoor soek op die boonste rakke in boetiekwinkels. Maar veral die middel-klaswyne, waar volumes heelwat groter en die wingerdboer en wynmaker se aandag meer verdeel is, se kwaliteit het opmerklik verbeter. Hierdie verbeterings word moeilik toegeskryf aan iets anders as verbeterde kennis en die gepaardgaande toenemende gebruik van tegnologiese wynbouhulpmiddels.

So, wat is hierdie ‘oog in die lug’ waarvan ek praat?

GreenAgri is ‘n aanlyn portaal wat groen landboupraktyke en ook die jongste omge-wingsvriendelike innovasies uitlig. Die portaal is ‘n gesamentlike onderneming tussen die Departement Landbou Wes-Kaap en GreenCape.

october 2015 lanbdou wynbou 2Een hulpmiddel is die Fruitlook-stelsel wat in 2011 die GrapeLook-stelsel opgevolg het. Dit werp ‘n blik op die wisselwerking tussen gewasgroei en waterverbruik. Nege groei-veranderlikes, waaronder werklike evapotranspirasie, produksie-biomassa en blaarstikstofinhoud, word op ‘n weeklikse basis teen ‘n 20m x 20m ruimtelike resolusie ontleed en beskikbaar gestel aan boere wat op hierdie webdiens inteken. Op hierdie wyse kan aanwending van water en besproeiingsiklusse optimeer word en kan duidelikheid verkry word oor redes vir wisselende opbrengste tussen verskillende wingerde.

Nog ‘n interessante diens van GreenAgri is hulle Cape Agricultural Mobile Information System (CAMIS). CAMIS is ‘n lokasiespesifieke weergawe van hulle groter, rekenaargebaseerde sisteem CapeFarmMapper. Met hierdie pakket kan mens deur middel van GPS-ondersteunde selfone en tablette direkte toegang verkry tot inligting uit die Departement van Landbou se reuse dataversameling; o.a. weerpatrone, langtermyn klimaatsveran-derlikes en plantegroei- en grondtipes. Die weer-inligting is intyds beskikbaar en mens het toegang, op jou foon, tot ‘n weervoorspelling oor die spesifieke area waar mens jou bevind, presies namate die inligting beskikbaar word.

“Die weer inligting is intyds beskikbaar en mens het toegang, op jou foon, tot ‘n weervoorspelling oor die spesifieke area.”

Mens kan beswaarlik ‘n TV aanskakel of ‘n landbouartikel lees en nie op ‘n verwy-sing na klimaatsverandering afkom nie. Die Confronting Climate Change Project (CCC) is ‘n inisiatief wat geloods word deur die Departement van Landbou, na oorspronklike befondsing deur die Britse Departement vir Internasionale Ontwikkeling en ‘n aantal industrieliggame. Die doelstellings behels die verkry van doeltreffende antwoorde op die uitdagings wat klimaatsverandering vir die landbousektor inhou. ‘n Gratis aanlyn kool-stofafdruk-berekeningspakket en opleiding met betrekking tot koolstofemissies, is boaan die lys van oogmerke van hierdie projek.

“‘n Gratis aanlyn koolstof-afdruk-berekeningspakket en opleiding met betrekking tot koolstofemissies, is boaan die lys van oogmerke van hierdie projek.”

october 2015 lanbdou wynbou 3Vir al hierdie dienste word daar gebruik gemaak van die uitgebreide dataversamelings van die Geografiese Inligtingstelsels-eenheid (GIS) van die Departement van Landbou by Elsenburg. So volledig en omvattend as wat hierdie dataversamelings mag wees, is daar egter steeds aspekte van individuele wynplase wat nie in hierdie versamelings bevat word nie. Daar is dus ruimte vir tegnologiese hulpmiddels wat met hoër resolusie, inligting aan die wynboer kan verskaf.

Alreeds is daar meer spesifieke inligtingsbronne in gebruik in die Breederivierstreek rondom Worcester. In die voetspore van die KWV se redelik ambisieuse stigtingsoogmerk, om as enkele mondstuk vir die Suid-Afrikaanse wynindustrie op te tree, is die diensorganisasie VinPro in 2003 in die lewe geroep. Die direkte oogmerke van Vinpro sluit die lewering van professionele, behoefte-gedrewe konsultasiedienste vir wynboere in, met spesifieke betrekking tot bedryfsbestuur, wingerdbou, grondkunde, wynkunde en agro-ekonomie. Een van die op-die-grondprojekte in die Breederivier is ‘n eie, outomatiese weerstasie wat sedert 1997 in gebruik is. Die stasie is op die plaas Eendrag in die Overhexstreek gesetel.

october 2015 lanbdou wynbou 4Wat hierdie weerstasie onderskei van talle ander, is die feit dat hoewel atmosferiese data op ‘n daaglikse basis ontleed word deur die Institute for Soil, Water and Climate (ISWC), dit eers onder die oë van ‘n wingerdboukonsultant deurgaan alvorens dit na betalende boere uitgestuur word. Data word ontleed om roes te voorspel, om koue-eenhede te bereken (ten einde te bepaal wanneer wingerde se rus-siklusse onderbreek moet word), om waterbehoeftes te bereken en besproeiing daarby aan te pas, om voorspellings te maak oor bot- en blomtye, veraison en rypheid, en om - in die toekoms - ryp gedurende die wintermaande te voorspel. Langtermyn- en historiese datapatrone word ook ontleed om gewas-tendense vooruit te skat.   

“Data word ontleed om roes te voorspel, om koue-eenhede te bereken, om waterbehoef-tes te bereken en besproeiing daarby aan te pas.”

Een van die eerste boere in die Breede-rivierstreek wat ‘n plaas kommersieel besproei volgens outomatiese siektewaarskuwingsmodelle is DV du Toit van die plaas Nooitgedacht. Data word ingesamel met behulp van neutronvogmeters en plantreaksies word daarvolgens bereken. Optimale grondvogbestuur word beskou as een van die belangrikste aspekte in kwaliteitwynbou, nie net om siektes te beheer, vir kostebesparings en die minimeer van waterafdrukke nie, maar ook om wingerde se groeiywer in toom te hou, ten einde kleiner bessiegroottes en oeste van optimale gehalte druiwe te verseker, veral vir die kwaliteitswynbedryf. Wynboere in die Breederiviervallei word as van die leiers in grondvogbestuur beskou.

“Wynboere in die Breederiviervallei word as van die leiers in grondvogbestuur beskou.”

Agrimotion is ‘n onafhanklike konsultasiemaatskappy wat hulleself ten doel stel om onbevooroordeelde, praktiese en wetenskap-lik-verantwoordbare advies rondom die vrugtebedryf aan hulle kliënte te voorsien. Hulle Imagery and Management Practice Integration (IMPI) behels ‘n drievlak ouditproses. Dit sluit in die identifisering van variasies in wingerde deur NDVI-beeldanalise, die bepaling van die oorsake van waargenome variasies deur middel van fisiese evaluerings van die grond, groeimetodes en besproeiing in wingerde en boorde, en die bestuur van probleemareas ten einde optimale benutting te verseker.

october 2015 lanbdou wynbou 5Maar Suid-Afrika is nie altyd aan die spits van ontwikkeling nie. Wanneer mens wyer gaan kyk na wat in die buiteland as voorfronttegnologieë beskou word, word die uitstaan Bordeaux-wynplaas Lynch-Bages in Frankryk dikwels voorgehou. Lynch-Bages hou lank reeds hul wingerde met ‘n satelliet dop om groeiywer in te perk, in die visuele-, sowel as infrarooi- en ultravioletspektra. Dit is miskien gepas – ‘n bottel van hulle 1975 oesjaar was die eerste bottel wyn in die ruimte in 1985. 

Elektriese grondgeleiding word voortdurend in die wingerde gemeet, asook die suurgehalte en mineraalinhoud van die grond. Hierdie inligting word aangewend om beter wingerde vir spesifieke druiwekultivars te identifiseer. Lynch-Bages - of ‘Lunch Bags’, soos die Britte soms te liefdevol daarna verwys - is ook pioniers van ‘n vegetatiewe voortplantingsstelsel waarna hulle verwys as ‘selection massale’. Dit verskil van die meer bekende klonale seleksie waar groeimateriaal van ‘n enkele plant vermeerder word, baie keer in die laboratoriums van groot kwe-kers, deurdat materiaal van ‘n hele aantal uitstekende, ou wingerdstokke ingesamel en voortgeplant word. Met die meer gelykmatige kloonproses is daar mettertyd geen diversiteit in die wingerde nie, en nie alleen verloor sulke wingerde naderhand hulle karakter nie, maar word hulle makliker teikens vir plae en siektes. Waar daar baie sterk beheer oor al die veranderlikes van wingerdbou is, en namate die grond uitgeloog word deur jaar-na-jaar se benutting, word die begrip terroir mettertyd akademies en kan mens eindig met karakterlose, eenderse wyn oor ‘n hele wynboustreek. ‘n Meer toekomsgerigte voortplantingsmetode soos ‘selection massale’ kan tot ‘n mate opmaak daarvoor.

october 2015 lanbdou wynbou 6By Ducru-Beaucaillou, weer, word trekkers met kameras en GPS-ontvangers tien dae voor die oes deur die wingerde gestuur om opnames te maak van die kleur van die druiwe en die vlakke van antosianiene, om te help besluit presies waar daar eerste geoes gaan word.

By Château Ducru-Beaucaillou, ‘n ander Bordeaux-wynplaas, is ‘n Pellenc- outoma-tiese sorteermasjien in gebruik wat druiwekorrels een-een onder halogeenlampe afneem, die beeld binne 30 millisekondes vergelyk met ‘n stel veranderlikes wat die wynmaker voorsien, en dan individuele korrels wat nie aan hierdie standaard voldoen nie, met ‘n vinnige spoegie druklug, déúr die gestrookte ver-
voerband skiet en net perfekte korrels agterlaat. Dit klink soos ‘n tikmasjien, vertel ‘n geamuseerde joernalis.

“Dit klink soos ‘n tikmasjien, vertel ‘n geamuseerde joernalis.”

Elders in Frankryk plaas Fruition Sciences, ‘n maatskappy wat deur twee studente gestig is, sensors aan druiwelote wat die vloei van sappe deur die plant meet. Sodoende kan gesien word presies wanneer spesifieke plante vog benodig en water kan dan individueel aangewend word. By Catena Zapata in Argentinië weer, word die temperature van die wortels van wingerdstokke voortdurend gemeet, om sodoende die uitwerking op
vrugontwikkeling te bepaal en te beheer.

Terug in Suid-Afrika, in ‘n gesprek met Attie Conradie van die wynplaas Nuy, het hommeltuie ter sprake gekom. Nuy was een van relatief min kelders wat vanjaar ‘n vyf-stertoekenning kon verwerf - in hierdie geval vir die uitstekende Nuy 2013 Wit Muskadel.

october 2015 lanbdou wynbou 8“Die boere praat baie daarvan,” sê Attie, en wei dan uit oor tot hoe ‘n groot mate tegnologie ‘n rol in die gesprek inneem wanneer boere bymekaarkom. Hommeltuie, oftewel ‘drones’, is potensieel ‘n volgende logiese stap in die Suid-Afrikaanse wynboubedryf. Veral in streke soos die Breederiviervallei, waar kostebesparing van uiterste belang is, wynplase relatief groot is, en die druiweboer nie self oral teenwoordig kan wees, of volledig op die verslae van derdepartye staat kan maak nie, word hierdie relatief laekostehulpmiddel aantreklik. Dit kos baie geld om met vliegtuie of satelliete data in te samel en modelvliegtuie is moeilik om te beheer. Met hommeltuie word die stuurproses amper triviaal en die tuig kan maklik vanaf ‘n tablet of selfoon beheer word. ‘n Maatskappy met die naam Aqweo vervaardig reeds hierdie soort tuie oorsee en intreekostes begin by rondom $15,000. ‘n Plaaslike produk is klaarblyklik om die draai. Tipies word van hiperspektrale beelding gebruik gemaak, d.i. fotografie wat nie net op sigbare lig staatmaak nie, maar ook op hitte- en ultraviolet- of ander straling, om groeiver-anderlikes te bepaal. Kartering van enigiets vanaf gewas-waterstres en -temperatuur, tot uitgebreide NDVI- (Normalised Difference Vegetation Index) en groeikrag-analises kan gedoen word. Met gevorderde implemente-rings word selfs die neem van grondmonsters oorbodig. Die tuie hoef ook nie net vir data-insameling gebruik te word nie, maar kan kleiner take verrig, soos gerekenariseerde mikro-toediening van gifstowwe en die neem van monsters. Alreeds is vlug-reikwydtes van meer as ‘n anderhalf kilometer moontlik en hoogtes van tot drie kilometer.

“Lae-volume, hoë-konsentrasie toediening van bemesting en gifstowwe is iets waarna boere kyk; ook besproeiing met geïoniseerde water, soos wat maatskappye soos Eco1st onder die naam ‘Irrigation Enhancer’ doen.”

Uiteraard is die aanneem van hierdie tegnologieë nog sporadies, ook in die Worcester-gebied. Kallie Coetzee, wynbouvoorliger vir die streek en self werksaam by Botha Kelders en Slanghoek, noem dat van die vernuwinge wat vandag in die streek gesien word tot ‘n groot mate om besproeiing en toedienings draai. Lae-volume, hoë-konsentrasie toediening van bemesting en gifstowwe is iets waarna boere kyk; ook besproeiing met geïoniseerde water, soos wat maatskappye soos Eco1st onder die naam ‘Irrigation Enhancer’ doen. Dit spaar nie net water nie, maar benat meer eweredig. “Presisie-toediening en kartering is twee groot woorde vandag,” benadruk Kallie.

october 2015 lanbdou wynbou 9Die aanwend van tegnologie in die wynland en kelder is geen eenvoudige onderwerp nie. Verbruikers is tradisioneel agterdogtig oor te veel verandering in die wynbedryf. Die beeld van ‘n boer as vakman of kunstenaar; wat met minimale inmenging wyn maak, met tradisionele metodes en broeks- (of roks-!) naatbesluite, het ál groter aantrekkings-krag. Die oplewing in die maak van sogenaamde ‘natuurlike wyne’ getuig luid genoeg hiervan. Hierdie is ook nie bloot leë sentiment nie – die lineariteit van verbouings- en wynmaakmetodes, veral waar die snykant van tegnologie betrokke is, het reeds tot groot konvergensie in die aard van wyne wat vandag beskikbaar is, gelei. Maar tegnologie is nie altyd tru-osmose en sentrifugasie nie; net so min is dit altyd iets nuut. Mens kan nie meer vandag die woord ‘tegnologie’ gebruik sonder om van volhoubaarheid te praat nie. So is wynmakers wat glo in minimale manipulasie steeds verantwoordelik vir vandag se beste wyne. Beeld bly een van die belangrikste aspekte van ‘n wynbougebied se kans tot sukses; om so ‘n beeld te skep, verg dat ikoniese wyne in ‘n bepaalde wynstreek gemaak word. Sulke wyne moet nie alleen spreek vir hulle verbouingsgebied nie, maar moet herkenbaar wees en konsekwent goed vaar op plaaslike sowel as oorsese markte.

october 2015 lanbdou wynbou 7Tegnologie bly ‘n tweesnydende swaard, aan die een kant essensieel vir winsgewendheid, en aan die anderkant dikwels duur, en ‘n bron van agterdog. Soos ‘n kennis onlangs effens omgekrap teenoor my opgemerk het, ‘n mens kan deesdae amper in die bed sit en wyn maak. Maar die vraag is dalk nie meer waar jy gaan sit terwyl jy besig is om wyn te maak nie, maar vir hoe lank jy dit nog gaan doen.