Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Wyn van oorsprong - skema voordelig vir gebruiker én produsent

Written by  Maryke Roberts
| in Landbou
| November 20, 2015

Net só belangrik as wat dit vir ons as mens is om te weet waar ons vandaan kom, net so belangrik is dit om te weet waar jou gunsteling wyn se druiwe gegroei het.

Genadiglik het Suid-Afrika ’n Wyn van Oorsprong-stelsel, wat sedert 1973 in gebruik is.

Dis verpligtend vir alle druiweprodusen-te en wynkelders wat wyn wil produseer onder aansprake van oorsprong, kultivar en oesjaar, en hoewel die SA-skema soortgelyk is aan die Franse AOC (Appellation d’origine contrôlée), waar produksie deur ’n hiëragie van onder meer wingerdblokke, wyke en streke geklassifiseer word, verskil dit omdat dit nie streekskultivars, groei- en produksie-metodes voorskryf nie.

Hierdie stelsel, wat in tradisionele wyn-produserende lande in Europa algemene gebruik is, beskerm nie net die verbruiker nie, maar ook die produsente, vertel Hugo van der Merwe, sekretaris van die Wyn- en Spiritusraad.

Hy sê dat die voordeel vir die produsent daarin lê, dat sy wyn gesertifiseer kan word vir oorsprong, kultivar en oesjaar, waarsonder hy nie daarop kan aanspraak maak nie. “Voorts is dit ’n vereiste vir die meeste oorsese lande dat daar ’n amptelike sertifiseringstel-sel (Wyn van Oorsprong-skema) in plek moet wees om oorsprong, oesjaar en kultivar te verifieer alvorens die wyn uitge-voer kan word. Ons stelsel word reeds sedert 1973 deur die Europese Unie erken.” Vir die verbruiker bied dit ’n waarborg dat wat op die etiket verskyn, wel gereguleer is en juis is.

“Aansoeke word voor die pars van druiwe deur die produsent ingedien, waarna die no-dige kontrolemaatreëls in plek geplaas word vir die sertifisering van die betrokke wyn.” Hugo sê die Wyn van Oorsprong-skema is op 2 April 1993 aangepas om voorsiening te maak vir die definiëring van ’n geografiese eenheid. Tans is vyf geografiese eenhede afgebaken:  Wes-Kaap; Noord-Kaap; KwaZulu-Natal; Limpopo en Oos-Kaap.

“Die skema word op ’n gereelde grondslag gewysig soos versoeke uit die bedryf ontvang word.”

nov 2015 landbou wyn 1“Die skema word op ’n gereelde grondslag gewysig soos versoeke uit die bedryf ontvang word. Aansoeke vir die omskrywing van nuwe oorsprongsgebiede word deur deelnemers van die Wyn van Oorsprong-skema aan die Raad gerig, waarna dit na die Afbakenings-komitee vir ondersoek en verslaglewering verwys word.  Konsultasie vind plaas met belanghebbendes in die betrokke gebied.”

Verlede jaar is 497,08 miljoen liter wyn deur die Raad gesertifiseer. Van die totale liters, was 272 miljoen gesertifiseer deur groothandel, 126 miljoen deur produserende kelders en 98 miljoen deur privaat kelders. Net 8.1 miljoen liters is gesertifiseer as landgoedwyn.

Charles Whitehead, Bestuurder: Inligtingsdienste by SAWIS sê tans bewerk 3 314 boere ’n totaal van 99 463 hektaar win-gerd. Die wynbedryf verskaf direk en indirek werk aan 300 000 mense.

Die totale 2014-oes was 1 519 708 ton (1 181.1 miljoen liter), waarvan 81% vir wyn gebruik is. Die vorige jaar was die totaal 1 498 240 ton (1 156.5 miljoen liter), waarvan 79% vir wyn gebruik is.

“Die twee faktore wat die grootste rol speel wanneer die karakter en kwaliteit van wyn bepaal word, is die natuur (grond, klimaat en ligging) en die menslike ingry-ping (kultivar-keuse, wingerdbou-praktyke en wynmaak-tegnieke). Van hierdie twee, word eersgenoemde belangriker geag. In sekere gebiede groei wingerde beter as in ander binne die Suid-Afrikaanse wynboustreke en hierbinne is daar reuseverskille in grond, klimaat en ligging, wat groot verskille in wyne uit verskillende streke tot gevolg het.”

Wat beteken Wyn van Oorsprong (WO) op jou bottel wyn?

nov 2015 landbou wyn 2Andre Morgenthal van Wines of South Africa (WOSA), die organisasie sonder winsbejag wat deur die wynbedryf besit word en die globale sukses van die SA-wynbedryf ten doel het, sê die WO saam met die produksie-streek op jou etiket, bevestig dat 100% van die druiwe waarvan die betrokke wyn gemaak is, uit daardie spesifieke gebied afkomstig is.

’n Produksie-eenheid kan enige afgeba-kende gebied wees, van ’n enkel-wingerdblok tot ’n geografiese gebied. Die verskillende grense van verskillende produksie-eenhede word deur die Wet op Drankprodukte, 60 van 1989, bepaal.

“Sertifiseringskostes is volume-gebaseer en werk uit op ongeveer 5,5 sent per 750ml- houer. Dit sluit die totale proses van sertifisering vanaf pars tot die sertifisering van die finale produk in. Die Wyn- en Spiritusraad wat die Wyn van Oorsprong-skema administreer, is ’n statutêre liggaam en enige surplus fondse verkry uit sertifisering word aan die bedryf deurgegee,” vertel Hugo.

Afbakening

Suid-Afrika het vyf produksie-eenhede: enkel-wingerd; landgoed-wyne; wyke; distrik en streek.

Enkel-wingerd is die kleinste afdeling en hiervolgens mag die wingerd nie groter as ses hektaar wees nie. Landgoed-wyn kan van een of twee aangrensende plase kom, mits dit as eenheid geboer word en daar ’n produksiekelder op die plaas is, waar die wyn geproduseer word.

In die geval van wyke is dit klein afgeba-kende wingerdgebiede soos Franschhoek of  Constantia. Dit sluit plase in en is gewoonlik, maar nie noodwendig nie, deel van ’n distrik. Hugo verduidelik: “Voor Paardeberg-wyk is byvoorbeeld deel van die Paarl-distrik, maar Cederberg- en Constantia-wyke is nie deel van ’n groter distrik nie.”

Onder ‘distrik’ (soos Paarl, Stellenbosch en Robertson) word ’n afgebakende wingerd-boukundige distrik, wat nie noodwendig dieselfde grense volg as voormalige streeksrade nie. By ‘streek’ soos Klein Karoo en Kusstreek, is daar ’n kombinasie van verskillende distrikte of gedeeltes van distrikte.

Vanaf die 2010-oesjaar is ’n nuwe seël vir Suid-Afrikaanse wyn ingestel. Dit kan die wyn van die wingerd tot die bottel naspeur. André sê dis ’n eerste in die wêreld en sertifiseer ’n wyn se integriteit sowel as volhoubaarheid. Met verloop van tyd het produksie bewys dat elke wyn van oorsprong bekend geword het vir sekere eienskappe in die wyne en dat sekere gebiede beter geskik is vir sekere kultivars weens die jaarlikse reënval, die invloed van wind, mis en die tipe grond.

Die rol van kultivar in die Wyn van Oorsprong-skema

Alle kultivars wat in Suid-Afrika gebruik word, is deel van die Vitis vinifera-spesie wat oorspronklik van Europa ingevoer is. Heelwat unieke Suid-Afrikaanse kultivars is sedert 1925 gekruis, toe ‘n kruis tussen pinot noir en cinsaut  pinotage voortgebring het.

Ongeveer 90 kultivars is deur die Raad goedgekeur vir die Wyn van Oorsprong-skema. “Elke kultivar het spesifieke karaktereienskappe wat die aanpasbaarheid aan die grond en klimaat weerspieël én die geskiktheid van die vrugte vir die produksie van wyn met ’n spesifieke kwaliteit. Daar is dus ’n noue verband tussen die kultivar, oorsprong en wyn self. Die naam van die druifvariëteit mag net op die etiket gebruik word, as 85% van die inhoud van die wyn van daardie kultivar afkomstig is,” sê Charles.

Wynverbruik in Suid-Afrika

Suid-Afrika is ’n matige wynverbruikende land - 7.3 liter per capita per jaar (2014). Vergelyk dit met ouer produserende lande soos Portugal (42.5 liter), Frankryk (38.2 liter) en Italië (36.9 liter), of ons suidelike halfrond kompeteerders soos Argentinië (25.7 liter), Australië (23.7 liter) en Chili (12.4 liter).

Wynroetes

Behalwe die Wyn van Oorsprong-skema, is daar ook verskeie wynroetes wat sedert die sewentigerjare ontstaan het. Stellenbosch- wynroetes met sy vyf substreke, Groter Simonsberg, Helderberg, Stellenboschvallei, Bottelary Hills en Stellenbosch-berg, is die land se oudste en is in 1971 deur Frans Malan van Simonsig, Spatz Sperling van Delheim, en Neil Joubert van Spier gestig. Vandag spog die roete met meer as 150 lede.

Annareth Bolton, hoof uitvoerende beampte van dié roetes, sê: “Die roetes reflekteer nie wyke soos deur die Wyn van Oorsprong-skema neergelê nie, maar eerder die fisiese ligging naby aan groter publieke paaie.”

Ander roetes sluit Robertson Wynvallei, Klein Karoo, Namaqua-Weskus, Botrivier, Breedekloof, Constantia, Darling Wyn en Kuns, Durbanville-vallei, Elgin, Franschhoek Vignerons, Hermanus, Paarl, Swartland, Wellington, Worcester en Tulbagh in. Die nuutste toevoeging is die Stanford wyn-roete wat laat September amptelik geloods is.

Hierdie wynroetes is ’n verdere aanduiding van die tipe kultivars, klimaat en terroir wat daar voorkom.

Ses dinge oor die SA-wynbedryf wat jy moet weet:• Sedert demokrasie, veral tussen 2003 en 2013, het Suid-Afrikaanse wyn-uitvoere meer as verdubbel.
• Die Suid-Afrikaanse wynbedryf word gerugsteun deur ’n staatsliggaam, die Nietvoorbij Instituut vir Wingerdkunde en Wynkunde, ’n navorsingsleier, wat spog met een van die modernste eksperimentele wynkelders in die wêreld en verskeie eksperimentele plase. Ook deel van die ondersteuningspan is die departemente Wyn- en Wingerdkunde by die Universiteit Stellenbosch en Elsenburg- landboukollege.
• Suid-Afrika was verlede jaar die sewende grootste wynprodusent in die wêreld met ’n jaarlikse produksie, wat 4.1% van die wêreldtotaal uitmaak. Frankryk is die voorloper met 16.7%, Italië tweede met 16.0%, Spanje derde met 14.9% en Amerika vierde met 8%. Die 2015 syfers is nog nie beskikbaar nie, omdat die noordelike halfrond nog pars.
• Suid-Afrika voer jaarliks meer as 520 miljoen liter wyn uit. Stilwyne is die grootse deel hiervan – bykans 98,5% - en die lande waarheen uitgevoer word, in volgorde van volume, is Brittanje, Duitsland, Nederland, Swede en Kanada. Amerika, Sjina, Frankryk en Rusland is ook belangrike markte.
• Alle uitvoerwyne moet oor ’n uitvoersertifikaat beskik. Monsters van elke besending uitvoerwyn word na die Wyn en Spiritusraad by Nietvoorbij gestuur, waar intensiewe proeë en chemiese analises in die laboratorium plaasvind, alvorens ’n wyn gesertifiseer kan word. Elke goedgekeurde, gesertifiseerde wyn ontvang ’n sertifiseringseël wat die inligting op die etiket oor oorsprong, oesjaar en druifvariëteit bevat.
• Suid-Afrika is die wêreldleier in omgewingsvolhoubaarheid.

Kitsfeite
• Alle inligting betreffende sertifiseringsprosedures, voorskrifte, statistiek, nuusbriewe en wetlike vereistes oor die Wyn van Oorsprong-skema is beskikbaar op die SAWIS webwerf by www.sawis.co.za/cert/download/wineoforigin2012.pdf
• Vir ’n algehele oorsig oor hoe die wynbedryf teen die einde 2014 daar uitgesien het, lees hierdie oorsig van SAWIS by www.sawis.co.za/info/annualpublication.php
• Vir meer agtergrond oor die Volhoubaarheid Seël, kyk hierdie video: www.wosa.co.za/Multimedia/Videos/Downloads/ (gaan af met die blad en kliek op die Sustainable Seal Video)
• Vir meer inligting oor wat WOSA vir die bevordering van die wynbedryf, veral in die buiteland doen, besoek www.wosa.co.za.
• Vir meer inligting oor al die wynroetes in Suid-Afrika, besoek www.sawineevents.co.za.