Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Pinotage - baie meer as net ’n unieke Suid-Afrikaanse druifsoort

Written by  Maryke Roberts
| in Landbou
| November 30, 2015

Dis vanjaar 90 jaar sedert professor Abraham Izak Perold twee variëteite, pinot noir en cinsaut (of Hermitage soos cinsaut destyds bekend was) kruisbestuif het en pinotage gebore is.

Maar moenie dink hierdie druifsoort is oud en verstok nie. Inteendeel, verlede maand was Pinotage Maand in Suid-Afrika  en vier ikoniese pinotage-produsente, almal deel van die Stellenbosch Wynroetes, het pas die Pinotage Root gestig - die land se eerste wyn-ervaring wat hom toespits op hierdie trots Suid-Afrikaanse druifvariëteit.

Die Pinotage Root bestaan uit Simonsig Wynlandgoed, Kanonkop, Beyerskloof en L’Avenir - almal wynlandgoedere wat jaarliks onder die Absa Top 10 pinotage-wenners en ware ambassadeurs is. Hulle het al diep spore getrap om die gehalte van dié inheemse variëteit te bevorder.

“Hierdie viertal is ’n goeie toonbeeld van uitmuntendheid wanneer dit kom by top gehalte pinotage en dié wyntoerisme inisiatief is net nog ’n voorbeeld van hoekom die Stellenbosch Wynroetes bekend is as die land se voorste wynstreek, vir uiteenlopende terroir en uitnemende wynaanbiedings,” sê Annareth Bolton, uitvoerende hoof van die Stellenbosch Wynroetes.

“Hierdie viertal is ’n goeie toonbeeld van uitmuntendheid wanneer dit kom by top gehalte pinotage en dié wyntoerisme inisiatief is net nog ’n voorbeeld...”

Die vier plase is redelik naby aan mekaar geleë, wat dit vir die besoeker moontlik maak om tydens een dagtoer met van die beste pinotage wyne in ons land kennis te maak. Elke plaas bied aan die besoeker ’n keurspel van vyf pinotage wyne vanuit hul kelder, verlekker met kulinêre aanbiedinge wat wissel van peuselhappies en kaasborde, tot ’n fynproewer middagete of piekniek.
“Hierdie inisiatief is deur die deelnemende plase begin en ’n goeie voorbeeld van innoverende en dinamiese groei,” sê Annareth.

november 2015 pinotage 1

Maar waarom die ophef oor pinotage? Ja, dis die enigste druifvariëteit wat in Suid-Afrika ontwikkel is, maar ook die rede hoekom Suid-Afrika as een van die wêreld se gerekende wynprodusente erken word, sê Beyers Truter, eienaar van Beyerskloof en voorsitter van die Pinotage Assosiasie.

Hy vertel: “Prof. Perold was destyds die eerste wingerdkunde professor by Stellenbosch Universiteit.” Saam met die innovasie van die jong dosent, Charlie Niehaus, is die druifsoort in die SA wyngeskiedenis verewig. Die eerste pinotage wyn is in 1941 deur C.T. de Waal by Elsenburg gemaak en die eerste kommersiële aanplantings by Myrtle Grove, Bellevue en Kanonkop gedoen. Laasgenoemde het later bekendheid ver-werf as wyne wat tot 25 jaar kan verouder.”
Die eerste erkenning van dié wyn, was in die laat vyftiger- en vroeë sestigerjare toe Bellevue en kort daarna Kanonkop, se pinotage-druiwe die Genl. Smuts Trofee by die Kaapse Wynskou gewen het.

Die eerste wyn wat in 1963 pinotage op sy etiket vertoon het, was ’n versnit van bogenoemde twee wyne, wat die destydse Stellenbosch Farmer’s Winery (SFW) bemark het. Hierdie suksesse én die gehardheid van die druif, het in die sestigerjare ’n golf aanplantings tot gevolg gehad.

Pieter de Waal is die eienaar van De Waal Wyne op Uiterwyk Landgoed in die Stellenbosch Kloofvallei en sy broer, Daniel, die rooiwynmaker. Dit was hul oorlede pa se neef, C.T. de Waal, wat in 1941 die heel eerste eksperimentele vat pinotage-wyn gemaak het.

Sowat 20% van die plaas se wingerde is pinotage en dié landgoed is bekend vir sy uitstaande pinotages, maar is ook tuiste van die wêreld se oudste pinotage wingerdblok. Die een hektaar wingerd van 65 jaar oud, kan nou maandeliks met ’n nuwe staptoer op die plaas, Top of the Hill Walk, besoek word.
Pieter sê voorts: “Ons maak sedert 1996 elke jaar die Top of the Hill Pinotage van hierdie blok en hierdie wyn is geen vreemdeling vir toekennings nie.”

Vanjaar was die tweede jaar wat Internasionale Pinotage Dag op die tweede Saterdag van Oktober gevier is. Beyers sê: “In baie internasionale meningspeilings en kompetisies, is dit pinotage wat die weg baan vir toekennings aan plaaslike produsente. Pinotage definieer die reputasie van die Suid-Afrikaanse wynlandskap.
“Voeg hierby die geesdriftige ondersteuning van pinotage-drinkers, die passievolle produsente en -wynmakers en jy besef dat jy eintlik meer as ’n internasionale dag aan hierdie druifsoort moet wy; dalk eerder ’n hele jaar!”

november 2015 pinotage 2Selfs by vanjaar se Veritas-toekennings wat sy 25ste jaar vier, het pinotage vir vele uitblinkers gesorg. Veritas is Suid-Afrika se oudste en mees gerespekteerde wynkompetisie. Vir die 2015-geleentheid is ’n totaal van 1 763 wyn-inskrywings beoordeel, waarvan ’n handjievol vir goue toekennings uitgesonder is; 4 dubbelgoud en 8 goud aan Pinotage-wyne. ’n Totaal van slegs 57 dubbelgoud en 157 goud is toegeken.

Een van dié uitblinkers is Neethlingshof Landgoed wie se Pinotage 2004 ’n dubbelgoud en sy Lord Neethling Pinotage 2004 ’n goue medalje ingepalm het.

“Ons is baie gelukkig dat dié wyne weer vir hul kwaliteit uitgesonder word,” sê Neethlingshof Landgoed se wynmaker en ondervoorsitter van die Pinotage Assosiasie, De Wet Viljoen. “Hierdie wyne reflekteer Neethlingshof en sy terroir se unieke karakter en identiteit. Die toekenning aan ons pinotage bewys veral hoe goed ons wyne verouder en is ’n wonderlike prestasie in die maand wat die bedryf Nasionale Pinotage Maand vier.”
Hy sê behalwe dat Veritas gereken word as die markleier vir markgereed-wyne in Suid-Afrika, het die kompetisie ook ’n lang geskiedenis wat op kwaliteit geskoei is. “Die kompetisie-uitslae is dus baie geloofwaardig en die publiek erken dit so. Dit is waarom dit vir ons belangrik is om daar uit te blink.”

Die plaas hou ook jaarliks die Pinotage Dag pretdraf met pinotage proeë van verskillende plase elke 2km op dié 8km roete.
De Wet is sedert 2003 wynmaker op die plaas en het ná sy studies twee oeste by Kendall-Jackson se La Crema kelder in Kalifornië voltooi.

“Pinotage lê na aan my hart, omdat dit die eerste wyn is waarmee ek as wynmaker sukses behaal het -  destyds as assistent-wynmaker by Wamakersvallei kelder. Ons het in 2002 dubbelgoud behaal vir die La Cave Pinotage 2001. Ek het tydens parstyd baie aandag gegee aan die pinotage-druiwe en die verhouding het daar begin groei. Natuurlik laat pinotage se eg Suid-Afrikaanse oorsprong en geskiedenis, ook my hart trots klop.”

november 2015 pinotage 3

Hy sê meer aanplantings van pinotage sal volg as dit ekonomies sin maak. “Hoe meer mense die waarde en potensiaal van pinotage besef, hoe meer wyn sal geniet word. Die Pinotage Assosiasie probeer baie hard en is baie suksesvol, om die boodskap van pinotage te bevorder. Dit is geen geheim dat pinotage wingerde - indien dit reg bestuur word - uitstekende kwaliteit teen goeie opbrengste lewer - dit maak dus dan ekonomies sin. Wanneer daar kwaliteit wyn berei word, verkoop dit makliker en het jy ’n sneeubal-effek.”           

De Wet glo die geheim van ’n goeie pinotage is wyne wat met passie gemaak is - van die wingerd dwarsdeur tot in die kelder. “Daar is respek vir die terroir, die wingerd en uiteindelik die wyn. Die wyn word met sorgvuldigheid verouder om uiteindelik wyn te lewer wat in balans is met elegansie en duidelike uitdrukking van die omgewing waarin dit verbou is.”   

By die Absa Top Tien Pinotage-kompetisie wie se wenners in September aangekondig is, het Kanonkop en Rijk’s Kelder van Tulbagh geskiedenis gemaak toe hulle die eerste produsente geword het om elk tien van hierdie toekennings te verower.
Die Kanonkop Pinotage 2012 en Rijk’s Reserve Pinotage 2011 het twee van die Absa Top 10-trofeë gewen wat aan die top presterende wyne vir 2015 toegeken is. Die 10 wenners het bo ’n totaal van 154 wyne uitgetroon, wat vir vanjaar se kompetisie ingeskryf is.  

“Pinotage lê na aan my hart, omdat dit die eerste wyn is waarmee ek as wynmaker sukses behaal het”

november 2015 pinotage 4

Die Absa Top 10 Pinotage-toekennings is een van Suid-Afrika se voorste wynbedryf kragmetings. Vanjaar se kompetisie huldig die 19de agtereenvolgende jaar van samewerking tussen Absa Bank en die SA Pinotage Assosiasie in, om wynkelders van regoor Suid-Afrika erkenning te gee vir hul interpretasie van die land se beroemdste inheemse druifsoort.

Die wynstreke van Stellenbosch, Paarl en Durbanville het elk twee van vanjaar se Absa Top 10-wenners opgelewer.

Beyers sê: “Toe die Pinotage Assosiasie in 1997 die Absa Top 10-kompetisie geloods het, het ons ’n visie gehad om nie net pinotage-wyne te vereer nie, maar ook legendes te skep. Deur tien Top 10-toekennings te verower, het Kanonkop en Rijk’s ongetwyfeld nie net hulself gevestig as legendariese pinotage-produsente nie, maar ook as ikone in die Suid-Afrikaanse wynbedryf.”

Craig Bond, uitvoerende hoof van kleinhandel- en besigheidbankdienste by Barclays Africa, sê: “By Absa en Barclays Africa is ons trots op ons vennootskap met die Pinotage Assosiasie, en ons bevordering van unieke Suid-Afrikaanse wyne wat van Pinotage-druiwe gemaak word. Ons voortgesette betrokkenheid by, en ondersteuning van hierdie kompetisie word aangevuur deur ons vertroue in die nuwe generasie Suid-Afrikaanse wynmakers. Hierdie wynmakers werk hard om die prestige en sofistikasie van Suid-Afrikaanse wyne na nuwe hoogtes te neem.”

november 2015 pinotage 5Die 2015 Absa Top 10-wenners

2013 Altydgedacht Pinotage,
2013 Ayama Pinotage;
2014 Diemersdal Pinotage Reserve,
2013 Flagstone Writer’s Block Pinotage,
2013 Groot Constantia Pinotage,
2012 Kanonkop Pinotage,
2014 Neethlingshof Estate Pinotage,
2014 Overhex Wines International Survivor Pinotage,
2011 Rijk’s Reserve Pinotage en
2014 Windmeul Pinotage Reserve.

Beyers sê met die drie pilare, eksperimentering, bemarking en die deel van kennis, is die fondasie vir Pinotage nou gelê. “Die assosiasie se pogings werp nou vrugte af. Wynmakers is in sinchronisasie met hul terroir en ek kan nie wag om te sien wat in die volgende tien jaar met pinotage gaan gebeur nie.”

Kanonkop is sekerlik die wynplaas wie se geskiedenis die nouste verweef is met pinotage. Paul en Johann Krige, eienaars van Kanonkop Landgoed in die Simonsberg-wyk, produseer sewe wyne, waarvan vyf pinotage is, óf pinotage ’n groot gedeelte van die versnit uitmaak. Die Kanonkop Pinotage 2009 het ook ’n dubbelgoud by Veritas ingepalm. Johann sê 50% van alle aanplantings op die plaas is pinotage en al hul pinotage wingerde is as bosstokke behou om die optimale sonlig deur te laat, wat maksimum rypheid verseker.

Abrie Beeslaar, wynmaker by Kanonkop, sê: “Hierdie wingerde was van die eerste kommersiële pinotage aanplantings in die Kaap en meeste is meer as 50 jaar oud. Die minimum besproeiing is nodig, danksy ons ideale grond en ligging.”

november 2015 pinotage 6

Kenmerke van pinotage wingerde

Die druif groei maklik en vinnig en word vroeg ryp met hoë suikers. Pinotage kan as bosstokke óf opgeleide wingerde groei. Die ouer pinotage wingerde is almal bosstokke en wynmakers glo dat dit meer vrugtekonsentrasie lewer en diepte aan die wyn verleen.

Agt goed wat jy nie van pinotage geweet het nie

-  By vanjaar se International Wine & Spirit Competition (IWSC) in Londen is toekennings aan 60 variëteite pinotage gegee. Die meerderheid was rooi, maar daar was ook rosés. Net een van die toekennings was aan ’n pinotage buite Suid-Afrika.  Die drie top-presteerders met Goud Uitstaande medaljes was Kanonkop Estate Black Label 2010, Kanonkop Estate Black Label 2012 en Spier 21 Gables Pinotage 2013;

- Dis ’n vereiste komponent (30-70%) in Kaapse versnitte;

- Koffie-styl pinotages is baie gewild. Die geur van koffie word nie bygevoeg nie, maar word verkry deur houtkontak en die roostergraad van die vat. Dis nie ’n unieke pinotage-styl nie, enige wyn kan ’n koffieagtige geur hê, maar dis gewild in pinotage-style.

- Pinotage word nou ook aangeplant in Nieu-Seeland, Zimbabwe, Duitsland, die VSA, Israel, Kanada en Brasilië. Nieu-Seeland het reeds ’n totaal van 45 hektaar en Kalifornië 53 hektaar. Die voorbeelde wat plaaslike wynmakers al gesien het, lyk baie goed, veral wyne uit Nieu-Seeland, Australië, die VSA en Kanada. Beyers sê  die prentjie in die buiteland is rooskleurig: “Behalwe dat daar meer pinotage aangeplant en gemaak word, verkry die wyne goeie pryse vanweë hulle uniekheid en die waardering van kwaliteit onder die verbruikers. Pinotage wyn van Loma Prieta en J Vineyards word verkoop op allokasie (vanweë tekort) teen meer as $50 per bottel.”

- Die druifsoort is ’n wingerdbou-kruising tussen twee variëteite Vitis vinifera en nie ’n hibried nie.

- Volgens SA Wynbedryf-Inligting & -Stelsels (Sawis) statistieke,  het 7,4 % van Suid-Afrika se totale wingerde in 2014 uit pinotage bestaan, teenoor die 7,2% van 2013 en die 6,9% van 2012.

- Die afgelope paar jaar behaal dié druif hoër pryse as enige ander Suid-Afrikaanse druif.

- Stellenbosch se totale wingerde is 16 037 hektaar waarvan 1 235,58 hektaar pinotage is. Suid-Afrika se totale wingerd stand  is 99 463 hektaar, waarvan 7 357 hektaar (7%) onder pinotage is. Dis ’n kultivar wat aangeplant word, maar nie uitgetrek word nie.

Meer inligting:

Oor die Pinotage Assosiasie, bel +27 21 863 1599 of besoek www.pinotage.co.za of volg op Twitter @PinotageSA
Oor Pinotage Root, bel (021) 886-4310, epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..">This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Besoek ook www.facebook.com/PinotageRoot en www.twitter.com/pinotageroot
Oor Neethlingshof en sy wyne, besoek www.neethlingshof.co.za, bel 021 883 8988 of maak kontak op www.facebook.com/neethlingshof of via Twitter @NeethlingshofW)
Oor De Waal Wyne se Top of the Hill Walk saam met Pieter de Waal, bel Helga by (021) 881-3711 of besoek www.dewaal.co.za of volg hulle via Twitter @DeWaalWines. Die koste is R150 en sluit versnaperinge en ’n glas wyn in. Die volgende Top of the Hill Walk is op Saterdag 12 Desember en Saterdag 23 Januarie.
Oor Kanonkop Landgoed, bel (021) 884-4656 of besoek www.kanonkop.co.za of volg op Twitter @KanonkopEstate