Volg ons op Facebook

Stellenbosch se versteekte juwele

Written by  Leoni Kok
| in Landbou
| November 30, 2015

Stellenbosch se wyngeskiedenis lê diep. Die area is ongetwyfeld Suid-Afrika se bekendste wynstreek en wynbou oorheers die landboubedrywighede in die omgewing.

Maar wyn is nie al wat in dié geskiedkundige dorp se geil en prentjiemooi valleie verbou word nie. Beesboerdery is besig om al hoe meer aftrek te kry; hier is ook sitrus, bessies, groente en ander vrugte, en dis nie al nie.
Die area huisves bekende kaasvervaardigers soos Simonsberg en Roulou, wat bekend is vir sy feta. Die Elsenburg-landboukollege en die Wes-Kaapse Departement van Landbou se navorsingsplaas by Elsenburg noem ook Stellenbosch hulle tuiste. As studentedorp vir die Universiteit van Stellenbosch, het die area nog minder bekendstelling nodig.

Bonfoi se buffels

Buffels is egter nie iets wat mens verwag om in Stellenbosch raak te loop nie. Buffels tussen wingerdrye? Toe Johann Barnard en Jannie Coetzee van die Agrimark-tak op Stellenbosch vir my sê ons eerste plaasbesoek is by ʼn buffelboer, het ek gedink hulle trek my been. Ek gee toe dat Johannes van der Westhuizen nie werklik ‘n buffelboer is nie, sy primêre boerdery is wynbou en die gros van Bonfoi se wyndruiwe word aan Distell gelewer.

Distell oorheers die korporatiewe kelderlandskap in Stellenbosch en het verskeie bekende etikette onder sy vaandel, insluitend Nederburg-wyne, Drostdy Hof en J.C. Le Roux-vonkelwyne. ʼn Groot hoeveelheid wingerdboere in die omgewing lewer hul wyndruiwe aan Distell.

november 2015 stellenbosch 1

Met die toenemende toetrede van klei-ner wynbouers, het die afsetmark vir Stellenbosch se wingerdboere (wat nie hul eie wyn maak nie) al hoe meer knap geraak. Dis gedeeltelik hieroor dat Johannes besluit het om buffels tot sy boerdery toe te voeg. Hy verduidelik dat hy aanvanklik beeste oorweeg het, maar dat hy meer waarde uit die buffels kon ontsluit. “’n Buffel eet dieselfde hoeveelheid kos as ʼn bees”, verduidelik Johannes, “Maar jy kan meer per kilogram vir ʼn buffel kry. Per hektaar is bees nie betalend genoeg nie.”

En buffels dien ʼn ander doel. Hulle haal wingerd uit. “Waar daar ou wingerd is en die grond nie geskik is vir ons om weer wingerd te plant nie, span ons eenvoudig die blok toe en laat die buffels in die blok wei”, sê Johannes. Die hoekpale en draad van die opleistelsels word eers verwyder. Met die verloop van tyd vreet die buffels die wingerdblare en hulle skuur teen die wingerdstokke. Dié verwering breek die wingerdstokke uiteindelik af. Volgens Johannes kos
dit tans sowat R10 000 per hektaar om wingerd uit te haal, so dit is ʼn aansienlike kostebesparing. 

Die aanvraag na wild het die afgelope paar jaar skerp toegeneem. Jagplase, ander telers en ook landgoedere wat wild vir eko-doeleindes aanhou, verskaf ʼn groeiende poel kopers. Ek vra vir Johannes oor be-
werings dat die wildbedryf na ʼn markborrel neig wat uiteindelik gaan bars, maar hy is nie te bekommerd nie. Hy meen die gevaar van ʼn borrel bestaan moontlik in die teling van kleurvariante (soos goue wildebeeste) waar pryse die afgelope tyd teen ʼn baie skerp koers gestyg het.   

“Hy verduidelik dat hy aanvanklik beeste oorweeg het, maar dat hy meer waarde uit die buffels kon ontsluit.”

Ons gesels oor die insetkoste om ʼn kommersiële kudde buffels te vestig. Goeie teelmateriaal is duur. Die gemiddelde koei sal jou sowat R400 000 uit die sak jaag, terwyl ʼn gemiddelde teelgehalte bul jou in die omgewing van R800 000 sal kos. In beide die geval van koeie en bulle is die wydte van die horings ‘n belangrike bepalende faktor vir die waarde van die dier. 44-duim horings by bulle word as teelgehalte beskou, maar uitskieters behaal reusepryse op vei-lings. So het sakemagnaat Johann Rupert in 2013 R40 miljoen vir ʼn bul met ʼn horingwydte van net oor die 53-duim betaal!

november 2015 stellenbosch 2

Johannes se kudde bestaan tans uit 11 diere, maar hy beoog om die kudde oor die volgende paar jaar nog heelwat uit te brei.
Oor die toekoms van wynbou is Johannes minder seker. Hy verminder egter nie sy wingerd nie, maar vervang steeds ou wingerd en vernuwe sy wingerde teen 5% per jaar. Hy meen daar is tans ʼn ooraanbod van hoë gehalte wyndruiwe in die mark, want selfs kleiner produsente met kelders en hul eie etikette lewer hul oorskotte in die hoofstroom. Die enigste manier om te oorleef as jy nie jou eie wyn maak nie, is om te verseker dat jou wyndruiwe van werklik uitsonderlike gehalte is.

Terwyl ons die plaas verken, wys Johannes vir my die laaste stand van ʼn ou denneplantasie. Stellenbosch was eens op ʼn tyd ʼn intensiewe bosbou-area, en sy pa het die plantasie aangeplant. Maar dié bedryf het nou na die Suid-Kaap verskuif en is besig om uit te sterf in die Stellenbosch-omgewing. Volgens Johannes beplan hulle om die plantasie binne die volgende paar jaar uit te kap en inheemse plantegroei op die hange te hervestig.

Bonfoi is deel van ʼn bewarea-inisiatief wat deur boere in die omgewing tot stand gebring is. Sowat 30 plase neem daaraan deel en een van die oogmerke is om die renosterveld in die area te rehabiliteer. Die plase is ook vir fietsryroetes oopgestel en die geld wat ingesamel word uit die verkoop van die permitte dien as befondsing vir die bewarea.  

Ek wonder hardop of die fietsryery nie erosie teen die hange bevorder nie, maar Johannes sê hulle beperk die hoeveelheid permitte juis om dit te verhoed. Die roetes word ook uitgelê om erosie te bekamp.

Befaamde Zetler-aarbeie

Vanaf Bonfoi is ons op Annandale-weg vort na die boerdery van S. Zetler en seuns. Die Zetlers se aarbeie is waarskynlik die bekendstes in die land. Die reuse-aarbei langs die R44 by die

november 2015 stellenbosch 3

Mooiberge-padstal – wat ook aan die Zetlers behoort – is ʼn landmerk wat duisende toeriste aan die Stellenbosch-wynroete jaarliks begroet. En net soveel besoekers kom na die padstal om hul eie aarbeie in die aangrensende aarbeilande te pluk. Wat die publiek egter te siene kry, is net ʼn druppel in die emmer van die indrukwekkende omvang van die Zetler-boerdery, ʼn familiebesigheid met drie broers as direkteure. Hul pa het in 1929 hier met groente begin boer en het nog destyds sy groente met ʼn perdekar na die mark op Stellenbosch aangery.

“Ongeveer 10 variëteite van aarbeie word alles onder beskerming verbou om die seisoen so lank as moontlik te rek.”

Vandag lyk sake heel anders, die onderneming het ʼn eie pakhuis en het sowat ‘n duisend arbeiders in diens. Vyftig hektaar aarbeie wat alles versigtig met die hand gepluk moet word, neem heelwat hande. Ek gesels met Bevan Zetler wat operasionele bestuurder is;  hy sê in piekseisoen hanteer die pakhuis tussen 10 en 12  ton aarbeie per dag.

“Daar is drie tot vier spanne,” sê hy “en daar is plus-minus sestig mense per span wat pluk. In druktyd pak ons van 7 uur soggens tot 7 uur saans.”

november 2015 stellenbosch 4Ongeveer 10 variëteite van aarbeie word alles onder beskerming verbou om die seisoen so lank as moontlik te rek. Plastiektonnels en ook mini-tonnels word gebruik om die vrugte en plantjies teen veral wind en temperatuur-uiterstes te beskerm. Jeffrey Zetler – een van die drie direkteure – sluit hom by ons aan en hy verduidelik dat die familie ook die Eikendal fabriek hier naby besit. Aarbeie wat nie die varsmark haal nie, word hierheen gestuur vir die vriesmark. Die fabriek bewerk ook gevriesde groente soos wortels en bone, asook suikermielies.

Mens sou nooit verwag dat een van die land se grootste verskaffers van vars suikermielies (dis nou corn-on-the-cob soos die Ingelse dit noem) hier in die hart van die wynland in die Wes-Kaap sou wees nie. Sowat 600ha se suikermielies word van oral in die land tot sover as Musina ingekoop. Volgens Jeffrey was die skuif na die suikermielieverpakking meerdoelig: “Dit het verseker dat ons pakhuis beter benut word, en ons het meer werksgeleenthede vir ons arbeiders geskep. Ons gebruik ook die oorskot van die suikermielies (soos die punte wat voor die verpakking afgesny word) as beesvoer.”

Sowat 20% van die vars verpakte mielies word uitgevoer na Europa en die Verenigde Koninkryk. Om die raklewe van die produk te verleng word die mielies hidro-verkoel; ʼn proses waarvolgens yskoue water (0 grade Celsius) in groot volumes oor die mielies gespoel word voordat dit verpak word.

Die Zetlers het ook rooi kommersiële kruisras-koeie wat gepaar word met suiwer Hereford-bulle om heterose (beter groei, weerstandsvermoë en lewenskrag) te optimaliseer en sodoende beskikbare voer op die effektiefste manier te benut.  Bevan het in 2009 met ʼn Hereford-stoet begin.  Daar word beoog om die kudde stelselmatig te vermeerder. Hy verkies die Herefords vir hulle kalm temperament, hulle aard goed in die omgewing, en het ook min siektepro-
bleme. Hulle beoog om hulle eerste stoetproduksieveiling in Mei volgende jaar te hou.
Die beeste stel die boerdery in staat om sy marginale grond te benut. Wanneer mielies nie vir voer beskikbaar is nie, word sowat 40-45ha korog en hawer gesaai.

november 2015 stellenbosch 5Maar nog is dit nie al nie. Wingerd is naas die aarbeie die Zetler-boerdery se primêre gewas. Jeffrey is meer aan die arbei- en die fabriek-kant van die bedryf betrokke, maar die wyndruiwe is Bevan se baba. Hulle lewer hoofsaaklik aan Distell en hy is op die oomblik besig om van die nuwe hoë kordondraad-opleistelsels te beproef, sodat hulle meganies kan begin snoei. Baie wynboere in die omgewing oes reeds gedeeltelik meganies, maar huiwer nog om die meganiese snoeiproses op die proef te stel.

Anders as die tweedraad- en vertikale lootposisioneringstelsel (VSP), gebruik dié stelsel ʼn enkelkordondraad en word die loof boksvormig gesny.

Ek vra vir Jeffrey of hulle beoog om in die toekoms ook hul eie wyn te maak, hulle het tog immers uitstekende afsetpunte by die Mooiberge-padstal, asook by hul ander gewilde padstal Mountain Breeze wat net ʼn ent verder langs die R44 is.

“Moontlik”, sê hy, maar hy is ʼn man van min woorde, so ek sou dit ʼn beter kans gee as normaalweg.

En wat is die lekkerste aarbeikultivar waarvoor ons op die rakke moet uitkyk: “Sabrosa.” So daar het jy dit.

Fyn dans by Wolwedans

Die volgende oggend ontmoet ek vir Pietman Faasen by Wolwedans. Hy is besig om suierspanne in een van sy wingerdblokke te oorsien – die suierproses is wanneer onnodige lote van die wingerdstokke verwyder word. Pietman het bes moontlik die grootste oppervlak droëlandwingerd in Stellenbosch, ʼn hele 200ha! Hy lag toe ek uitblaker dat hy senuwees van staal, of dalk ʼn skroef los moet hê. a) Hy ding mee in ʼn omgewing met die meeste hoë gehalte druiwe in die land b) Hy’t g’n toegang tot  water nie, behalwe dit wat van bo kom c) Dit wat van bo kom, was vanjaar nog nie veel nie en d) Wingerd is al wat hy het!   

november 2015 stellenbosch 6

Ek mompel dat dit nie net sy senuwees is wat van staal gemaak moet wees nie. Terwyl ek en Jannie Coetzee en Johann Barnard van Agrimark op pad was na Wolwedans het ek my bedenkinge gehad. My verwagtinge van die wingerde was yl, nie geil nie. Die teenoorgestelde is egter waar, die stokke groei of hulle betaal word en selfs die op-slag-hawer (dit wat van verlede jaar se saad gespruit het) wat tussen die wingerdrye staan, lyk of dit op kragvoer is.

Pietman skryf dit aan versigtige vooruitbeplanning en bestuur toe. Wanneer ek na sy tuin kyk, besluit ek egter dis meer, hy het ook groen vingers. Oor ʼn koffie wat sy vrou Maggie vir ons aanbied, gesels ons oor die uitdagings van droëland-wynbou. Hoewel Pietman graag ‘groener’ sou wou boer, is dit moeiliker sonder water. Hy is afhanklik van chemiese middels; hy spuit baie blaarvoeding en doen ook gereeld kalkverstellings aan sy grond. Daar word elke drie jaar grondontledings en jaarliks blaarontledings gedoen en hy werk baie nou op aanbevelings wat uit dié ontledings voorspruit. Hy spuit ook voorkomend vir witluis en moet sy onkruid met ʼn ferm hand bestuur anders het hy probleme.

november 2015 stellenbosch 7

Waar hy wel sy kant bring met volhoubaarheid is met energiebesparing. Aangesien die plaas nie drupbesproeiing het nie, is dit nie nodig om pompe aan te dryf nie, wat heelwat energie bespaar. Onlangs is daar twee stelle sonpanele (een van 28 en ʼn ander van 32) op die store se dakke opgerig. In die somer kan dié panele genoeg krag opwek om 40% van die plaas se krag te voorsien.

Hulle is verder besig om ʼn samewerkingsooreenkoms met ʼn Stellebosch-windkragonderneming te sluit waarvolgens hulle ʼn 15kw-turbine op die plaas sal oprig. Die turbine sal sowat 3000kw elektrisiteit per maand opwek en Pietman sal hierdie krag teen ʼn baie lae tarief per kilowatt-uur kan aankoop.

Die meeste van Wolwedans se oes word aan Distell gelewer, spesifiek vir Nederburg in die Paarl. Omdat Distell kan kies en keur uit produsente raak hul riglyne vir druiwekwaliteit al hoe strenger, so die wynreus se volgehoue vertroue in Pietman spreek boekdele.

Wolwedans het op versoek van Distell ‘n ou blok cinsaut behou - 2ha wat uit 1977 dateer. Dié druiwe word vir ‘n nis wyn ge-bruik. “Hierdie blokkie word met groot sorg hanteer,” benadruk Piet.

Oogkos by Fransmanskraal

Een van die dinge wat ek besef het deur my afgelope jaar se omswerwinge vir Plaastoe! is dat boere die mooiste uitsigte het. By Fransmanskraal in Devonvale buite Stellenbosch word hierdie werklikheid op asemrowende wyse ten toon gestel. Sonder twyfel die mooiste blik wat ek nog op Stellenbosch gehad het. Om hierdie natuurluukse ten volle te benut is daar in 2012 ʼn konferensielokaal op die plaas opgerig. As jy nuuskierig is, gaan loer by landtscap.co.za. Die struktuur met sy daktuin, uitgestrekte glasaansigte en omloop-houtdek, is op die perfekte plek geleë om die uitsig in te neem. Ek weet net nie hoe konferensiegangers of selfs trougaste, met al hierdie visuele afleiding, hul aandag op die geleentheid vestig nie.

Hoewel die heuwels op Fransmanskraal sorg vir voortreflike oogkos is daar soos altyd ʼn prys voor te betaal. Hier word met sagte sitrus, wingerd en pruime geboer. 40% van die wyndruiwe word meganies geoes. Dit sou meer gewees het, maar van die hellings raak te skuins vir die oesmasjiene om baas te raak.

november 2015 stellenbosch 8

Piet Carinus is aan die stuur van dié familieplaas wat reeds in 1851 bekom is. Hy is die 6de generasie Carinus op Fransmanskraal. Die boerdery bestuur 120ha wingerd in die Stellenbosch-omgewing en ook 500ha wingerd op ‘n familieplaas in Malmesbury. Piet en sy neef Pieter Carinus is die enigste verskaffers vir Distell se Fairtrade-handelsmerk: Place in the Sun.

Buiten vir Distell word druiwe ook aan die Spier-, Kanonkop- en Kleine Zalze-kelders gelewer. Maar ek is hier om oor die vrugteboorde te gesels. Stellenbosch is die vierde grootste produsente-area vir pruime in die land. Die Klein Karoo, Paarl en Wolseley/Tulbagh is die voorlopers in die bedryf, in daardie volgorde. In vergelyking met die Klein Karoo se 1366ha wat verlede jaar aangeplant is, is Stellenbosch se 453ha maar klein, maar Piet sê dié vrugte aard goed in die omgewing. ʼn Pruimboord het ʼn leeftyd van sowat 20 jaar en verlede jaar is van die bome op Fransmanskraal uitgehaal om nuwe kultivars aan te plant.

Die bome in die boord wat ons besigtig, is volgens ‘n nuwerwetse metode gesnoei. Opleistelsels word gebruik en die bome is oop en nouer gesnoei met min bosserige loof. Die bome word ook teruggesnoei tot ʼn hoogte van net oor die twee meter. Dit vergemaklik die oes van die vrugte, want werkers hoef nie op lere te klim om die boonste vrugte by te kom nie; ‘n vrugtekissie sal doen. Blootstelling aan meer sonlig bevorder ook suikerontwikkeling in die vrugte. Die meeste van Fransmanskraal se pruime word uitgevoer deur ʼn maatskappy in Paarl.

Aan die sagte sitrus-kant fokus die boerdery op net een kultivar: Nadorcott - ʼn pitlose, laatseisoen-mandaryn wat in Suid-Afrika onder die handelsmerk Cle-
mengold bemark word. Piet het reeds van sy jonger boorde onder net geplaas om opbrengs te verbeter. Die netstrukture – wat aan alle kante toe is – aanrig twee hooftake; om kruisbestuiwing deur bye te voorkom en om die bome teen wind te beskerm. Wind kan beduidende skade verrig aangesien die heuwels hier redelik onbeskut is, en bye kan veroorsaak dat die Nardorcott pitte ontwikkel (redelik teenproduktief vir ʼn kultivar wat juis gesog is weens sy pitloosheid). Bye wat deur kontrakteurs ingebring word, word gebruik vir die bestuiwing van die pruime op die plaas.

Ons raak aan volhoubare boerdery en ook die energiekrisis vroeër vanjaar. Piet sê hy beplan om die stoor wat hy binnekort naby sy sitrusboorde gaan oprig ten volle met sonpanele aan te dryf. Al sy werkers se huise het reeds geisers wat met sonpanele verhit word.

Angus op Uitkyk

Volgende maak ons ʼn draai by Uitkyk waar Rudi Buys die landgoedbestuurder is. Die plaas bemark sy eie etiketwyn en behoort aan die Lusan Groep, wat ook Le Bonheur, Alto, Stellenzicht en Neethlings-
hof besit. Uitkyk is reeds in 1712 gekarteer en Rudi noem dat die plaas in 2012 (na 300 jaar) ʼn nuwe groeifase binnegegaan het met die vestiging van ʼn beesboerdery. Hy is juis met ons aankoms in die proses om sy beste stoetbeeste voor te berei vir die Agri-Expo Livestock-skou wat die naweek op Sandringham plaasvind. ʼn Werker is besig om twee van die topstoetbulle af te borsel en ons groepie is gretig om die opinie te beproef dat Angus van die rustigste beesrasse is. Die eerste bul, jonger en kleiner van struktuur, is nie te geneë met Jannie (Agrimark se takbestuurder nie), maar hy hou skynbaar van die skoner geslag, want vir Mia (die fotograaf) en vir my het hy jare se geduld. Hy laat albei van ons aan hom streel. Alles in ag geneem is dié diskrimi-nasie ʼn wenslike eienskap in ʼn bul. Die ander stoetbul – effe groter en ouer – kan hom egter aan nie een van ons steur nie; so uit ondervinding kan ek sê hierdie beeste is werklik rustig.  

november 2015 stellenbosch 9

Volgens Rudi is daar besluit op Rooi Angus juis oor die ras se geaardheid en ook omdat hulle ʼn kleiner struktuur het as ander gewilde Suid-Afrikaanse beesrasse soos Simmentaler. Hy verduidelik dat die winterreënval die weiding modderig maak en dat ʼn swaarder bees die kampe sou vertrap.
Die stoet wat as Lusan Premium Angus bekend staan, het bestendig gegroei die afgelope vier jaar en bestaan tans uit sowat 80 diere waaronder 10 bulle en sowat 36 koeie. Dan is daar ook ʼn kommersiële kudde van ongeveer 125 stuk.

Soos met baie ander wingerdboerderye in die omgewing is die beesboerdery deel van ʼn diversifisering-strategie wat dien as ʼn skans teen wisselvalligheid in die wynbedryf. Die benutting van marginale grond is ook een van die kernredes waarom beesboerdery besig is om toe te neem in Stellenbosch.
Wat Angus ʼn aanloklike vleisras maak, is die marmering van vet in die vleisweefsel. Hierdie marmering sorg vir verbeterde geure en ook sagtheid tydens die gaarmaakproses.  

Ikoniese Meerlust

ʼn Ander wynlandgoed wat vroeër vanjaar ook die skuif na beesboerdery gemaak het, is Meerlust, maar in dié geval sê die plaas se wingerdboukundige Roelie Joubert, is hulle aan die diepkant in. Hy en produk-
siebestuurder Joey Muller (wat ook Direkteur is van Faure Agri Village) het die beesboerdery as’t ware as troetelprojek ‘geërf’. Faure Agri Village en die beesteprojek is albei deel van Meerlust se bemagtigingsinisiatiewe.

In 2010 het die landgoed met behulp van staats- en ander befondsing  80ha van sy grond afgestaan om ʼn swartbemagtigingsprojek te begin ten bate van 72 plaaswerkers. Die Vriesenhof- en Ken Forrester-landgoedere is ook by die projek betrokke en by die Faure Agri Village word gepoog om privaat huise vir plaaswerkers op te rig.

november 2015 stellenbosch 10

Die Compagniesdrift Botteleringsaanleg en stoor is in 2010 gebou en aan die projek oorhandig. Tans het die aanleg meer as 50 kliënte wat die fasiliteit vir bottelering, etikettering, die stoor van wyne en versen-
ding gebruik. Daar word ook 9.6ha wingerd deur die projek verbou.

Om onbenutte grond te gebruik en die projek ʼn verdere hupstoot te gee is kampe opgerig en die eerste Nguni-beeste is in Maart daar gevestig. Roelie en Joey is gevra om die projek te bestuur totdat dit oorgedra word aan Faure Agri Village. Albei manne se agtergrond is egter in wingerdbou en die viervoetige besigheid het reeds steil leerkurwes en ʼn klomp uitdagings teweeggebring. Dis ʼn geval van “trial and error”, sê Roelie. Hulle het byvoorbeeld aanvanklik nie ʼn stelsel gehad om die beeste te identifiseer nie en eers vir elke kalf ʼn naam gegee. “Die eerste een was Uno”, skerts Roelie, “maar naderhand was daar so baie, en party lyk identies en toe is dit chaos.”

Stelselmatig is hulle darem besig om die mas op te kom en hulle werk baie nou saam met kenners soos ‘n veearts en voerkundige wat hulle gereeld uit hulle onkunde red.

Meerlust het ʼn tradisie van werkersbemagtiging. Werkers kry onder meer winsdeling en Roelie sê hy het ʼn baie lojale span: “Hulle sal van 4 uur in die oggend tot 11 uur in die aand spuit, nie omdat hulle gevra word nie, maar omdat hulle wil.” Weens die werkers se ywer moes Roelie al vure doodslaan tydens arbeidsoudits omdat dit op die oog af lyk of hy ʼn slawedrywer is.

Die landgoed het ʼn ryk geskiedenis en word deur die landgoedwet beskerm. Al die druiwe wat by Meerlust verbou word, word net vir sy eie wyne gebruik, en daar word ook geen druiwe ingekoop nie. Sy vlagskip-wyn, die Meerlust Rubicon, het al lank reeds ikoonstatus bereik. Die plaas dateer uit 1693, wat dit een van die oudstes in die Wes-Kaap maak. Die Myburgh familie het dit in 1756 bekom en Hannes Myburgh is die 8ste generasie op Meerlust. “Van die plaaswerkers se kinders is al 11de generasie”, sê Roelie.

Wêreldbekende kunstenaars en hooggeplaastes doen gereeld by die landgoed aan en baie van hulle word as gaste van die eienaar ontvang. Oorlede Prinses Diana het al hier oornag en Roelie vertel dat die mega-popster Usher eendag met hom ʼn praatjie aangeknoop het, terwyl hy besig was om ʼn band te ruil: “Ek het eers later uitgevind wie hy is.”

En dit betaam elke plek met soveel eeue se geskiedenis om ʼn inwonende spook of twee te hê. Een van hulle hou glo daarvan om blomme te rangskik.

Talana se buitengewone vrugte

In Suid-Afrika is daar minder as vyf produsente wat soet persimmons verbou en een van hulle is reg hier in Stellenbosch. Die plaas Talana behoort aan Johann Rupert se neef Jan Rupert. Die Ruperts het die plaas eers onlangs bekom (in 2013), maar die persimmon-boorde is al vir baie jare hier. Ek ontmoet Jan se seun J.P. wat die plaas bestuur en hy noem dat persimmonbome tot 200 jaar oud kan word en as mens hulle nie snoei nie, raak hulle ook reusagtig groot (5-12 meter afhangende van die variëteit).
Die meeste plaaslike verbruikers is meer vertroud met die vranker variëteit van persimmon wat as sharon fruit bekendstaan. Een van die redes waarom soet persimmons nie plaaslik op groot skaal verbou word nie, is dat die vrugte baie vinnig bederf. J.P. sê heelwat mense verkies egter die vrug as hy heeltemal oorryp is: “Hy raak so half jellierig. Hulle druk ʼn strooitjie in hom en drink hom.”

november 2015 stellenbosch 11

Tans word Talana se soet persimmons aan die Kaapstadse varsmark gelewer en ook na markte in Johannesburg en Durban gestuur. Nie baie kettingwinkels hou soet persimmons aan nie. As jy in die Kaapstad-omgewing is, is die volgende plekke jou beste kans om volgende seisoen ʼn soet persimmon in die hande te kry: Agrimark Stellenbosch; Paradyskloof Spar; Klapmuts Padstal; of die padstal by die Klipheuwel-kruising.

J.P. sê veral die Koreaanse gemeenskap is versot op dié vrugte en kom tydens oestyd direk na die plaas om vrugte te koop. Persimmons staan ook as tamatiepruime bekend –  hulle het nogal dieselfde vorm as ʼn tamatie en het ʼn skil soortgelyk aan ʼn perske.

Gedroogde persimmons kry al hoe meer aftrek veral in die Amerikaanse mark en die Ruperts versend al hul uitval vrugte na Jab Dried Fruits in Nelspruit in Mpumalanga wat die vrugte droog. Die gedroogde persimmons lyk vir my volksvreemd. Ek wed jy sal jou kuiergaste erg beïndruk as jy hulle by jou volgende dinee voorsit.

november 2015 stellenbosch 12Hoe meer ek en J.P. gesels hoe meer besef ek hoeveel nut mens uit ʼn persimmon kan kry. Hy gebruik dit vir konfyt in malvapoeding en sê jy sal nooit weer ander malvapoeding wil eet nie. Selfs ʼn dwelm- en alkoholrehabilitasiesentrum in Stellenbosch het by hulle aangeklop vir vrugte, omdat dit skyn-baar uitstekend is vir detoksifikasie. Die hout van die bome word vir meubels gebruik en mens kan tee maak van die blare.  

Ek sal beslis weer by Talana moet aanklop as die oesseisoen in middel Maart begin. Daar is 5 variëteite op die plaas om die seisoen tot ongeveer einde Mei te rek.

Buiten die persimmons word hier verskeie blomplante verbou – onder meer ruicuss, aspidistra en vergatus – waarvan die blare en takkies in blommerangskikkings gebruik word. Dit verskaf goeie kontantvloei vir die plaas in die tussenseisoen van Augustus tot Desember.

Die ruicuss, aspidistra en vergatus word onder net verbou. “Die plante soek skaduwee, so ons  gebruik ʼn 80%-skadunet struktuur,” verduidelik J.P.

Ek groet Talana want dis tyd vir my om te-rug te keer huis toe. Ek verkyk my vir oulaas aan die kleure en teksture van die Stellenbosch-berg en voel bevoorreg dat ek dié week soveel versteekte juwele kon ontdek. Ek woon in die omgewing en hou daarvan om te verken. Dis lekker om te weet dat ek nog lank nie als gesien het wat die natuur hier kan opdis nie.