Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Volhoubaarheid - Meer as net ’n gonswoord in die Boland

Written by  Nikki van Coller
| in Landbou
| December 1, 2015

Volhoubaarheid is nie meer ’n opsie nie; dis ’n absolute noodsaaklikheid wanneer dit kom by die sekerheid van die toekoms van boerdery in ons pragtige land. Ons kyk na van die landbou-inisiatiewe in Stellenbosch en omgewing, en veral na die wynplase in die Boland omgewing. 

Volhoubare landbou is landbou wat gegrond is op ’n begrip van ekosisteme; dit is in wese die lewering van veilige, gehalte-landbouprodukte wat so verbou word dat dit die natuurlike omgewing waarvan dit afhanklik is, beskerm en bevorder, terwyl dit terselfdertyd die sosiale en ekonomiese omstandighede van boere, hulle werkers en plaaslike gemeenskappe beskerm.

Die frase ‘volhoubare landbou’ is glo die eerste keer gebruik deur die Australiese landbouwetenskaplike Gordon McClymont, terwyl Wes Jackson, die huidige president van die Landbou-instituut, blykbaar die eerste persoon is wat die frase gepubliseer het; dit het in 1980 verskyn in sy boek ‘New Roots for Agriculture’. Sedertdien het die woord ‘volhoubaar’ ietwat van ’n gonsword geword – veral oor die afgelope 10 jaar – met alles van verhoudings tot toerisme en energie wat daarna streef om meer volhoubaar te raak. 

Die frase word egter nêrens meer gebruik as in die landbousektor nie, en met goeie rede. Die landbousektor oral ter wêreld is die vernaamste oorsaak van omgewingskade, wat grondomskakeling, habitatverlies, gronderosie en –afbreking, besoedeling, klimaatsverandering en genetiese erosie betref.

Volhoubaarheid in Suid-Afrika

Dit is belangrik om te verstaan dat die volhoubare verbouing van die grond nie bloot net beteken dat ’n mens ‘groen’ moet wees nie, hoewel dit ’n groot deel daarvan uitmaak.  En dit beteken ook nie net dat die toekoms van die plaas verseker moet word nie. In die huidige ekonomiese klimaat handel volhoubaarheid meer daaroor om die omliggende gemeenskap te bevoordeel en om oplossings te vind vir armoede en hongersnood , probleme vanweë watertekorte, ’n omgewing wat vinnig besig is om agteruit te gaan en gesondheidskwessies wat met swak gehalte voedsel en skadelike chemikalieë verband hou.

november 2015 volhoubaarheid 1In Suid-Afrika – en veral in die Wes-Kaap – word daar ’n groot aantal regerings-, korporatiewe, NWO-, NRO- en privaat inisiatiewe geïmplementeer in antwoord op die uitdaging om meer volhoubare landbougebruike te ontwikkel en omgewingsvernietiging te verminder. Baie daarvan is daarop gemik om hulpbronne te bewaar deur middel van die beste landboupraktyke, terwyl ander terselfdertyd daarna streef om sosio-ekonomies lewensvatbaar te wees. Navorsing wat in 2010 gedoen is (Green Choice Biodiversity Baseline Study), het getoon dat die Wes-Kaapse inisiatiewe gelei het tot meer as 400 000 ha wat onder beter grondbestuur is. 

Die Wes-Kaap het oor die laaste dekade of so ’n wêreldleier geword ten opsigte van rentmeesterskap op privaat grond. Die proses word bestuur deur Cape Nature met verbintenisse tot SANBI se biostreeksprogramme. Die Wes-Kaap het ook Conservation at Work, wat die sambreelliggaam is vir bewareas en bewaringsgesinde grondeienaars in die provinsie. 

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het begin met die Boereondersteunings- en ontwikkelingsprogram (FSD), wat daarop gemik is om te verseker dat daar volhoubare ondersteuningsmeganismes is vir nuwe en gevestigde boere, en dit sluit grondhervormingsbegunstigdes in, wat diens en raad aan boere verskaf.

’n Deel van die FSD-program is die baie suksesvolle Casidra (Kaapse Agentskap vir Volhoubare Geïntegreerde Ontwikkeling in Landelike Gebiede), wat dit ten doel het om “Landbou- en ekonomiese ontwikkelingsgeleenthede in landelike gemeenskappe te maksimaliseer deur puik projekbestuur”.

Die agentskap het ’n hoofkantoor in Paarl, drie satellietkantore op plekke in die Wes-Kaap en drie werkende plase onder eienaarskap. Die meeste van Casidra se projekte voorsien opkomende en SME- (klein en medium ondernemings) boere van ondersteuning, kennis, hulpmiddele, meto-
dologieë en toegang tot finansiering sodat hulle volhoubare boere kan word, vir hulle eie voedselsekuriteit kan sorg en inkomstes kan voorsien om ’n beter lewensbestaan te verseker.  

Kaap Agri Akademie

Daar is ook ’n groot aantal korporatiewe maatskappye betrokke by volhoubaarheidsprojekte en die  opheffing en ondersteuning van opkomende boere in die Bolandgebied. Kaap Agri het byvoorbeeld in 2005 hulle Landboudienste-afdeling begin om opkomende boere te help met die uitdagings waarmee hulle te kampe het. Dit sluit in die gebrek aan onderwys en vaardighede, gebrek aan netwerke, onvoldoende infrastruktuur, gebrek aan finansiering en onvoldoende dienslewering. Hierdie en ander omstandighede maak dit uiters moeilik vir opkomende boere om meer mededingend en ekonomies lewensvatbaar te raak.

november 2015 volhoubaarheid 2Sommige van die inisiatiewe wat daar gestel is, is afslag op produksie-insette vir opkomende boere, finansiële dienste, bemarkings- en produksie-advies en die oprigting van die Kaap Agri-akademie, wat opleiding aan plaaswerkers en opkomende boere voorsien. 

Die Akademie se intensiewe Boereontwikkelingsprogram behels onder meer teoretiese en praktiese opleiding wat daarop gemik is om bestaande en voornemende boere toe te rus met die praktiese en bestuurskennis om suksesvolle kommersiële boere te word. 

Sedert die Akademie se begin in 2009 het meer as 140 opkomende boere programme daar voltooi en is hulle gehelp deur middel van mentorskapprogramme deur Kaap Agri en ander diensverskaffers. Kaap Agri het in 2014 erkenning ontvang vir hierdie pogings deur eerste plek te behaal in die Media24-vaardigheidsontwikkelingskompetisie vir hulle werk ten opsigte van opleiding vir volhoubare boerderypraktyke.  

Volhoubaarheidsinstituut en Lynedoch Eco Village

Oral in die Wes-Kaap verrys daar nou ook ‘intensionele gemeenskappe’, en die meeste daarvan is gegrond op die beginsels van permakultuur en volhoubaarheid. Een so ’n gemeenskap is die Lynedoch Eco Village, net buite Stellenbosch.

Lynedoch is die geesteskind van Professor Mark Swilling, Afdelingshoof van volhoubare ontwikkeling by die Universiteit van Stellenbosch se Skool vir Openbare Leierskap, en Eve Annecke, wat ook die Volhoubaarheidsinstituut, wat by Lynedoch gehuisves word, gestig het. 

Die nedersetting huisves verskeie gesinne uit alle lewensterreine, waarvan talle werkers op nabygeleë plase is. ’n Laerskool asook ’n Montessori-kleuterskool is begin om in die behoeftes van die kinders te voorsien, en volhoubaarheid en eko-beginsels word van jongs af geleer. Elke huis in die nedersetting word met omgewingsvriendelike materiaal gebou, wat rousteen (klei en strooi), strooibale en sandsakke insluit.

Daar is ook ’n aantal energiebesparende projekte aan die gang. Die nedersetting is basies selfonderhoudend; huishoudelike afval word deur verskeie tegnieke behandel en herbenutte water word gebruik om die toilette mee te spoel.

Die Volhoubaarheidsinstuut bied ook – as een van talle projekte – ’n Meesterskursus in volhoubare ontwikkeling aan.

Volhoubaarheid en wynboerdery

Byna 95% van alle Suid-Afrikaanse wynvervaardiging vind plaas in die Kaapse Blommeryk, die rykste en tog kleinste planteryk ter wêreld. Oor die laaste 100 jaar het stedelike ontwikkeling, uitheemse indringerspesies en, natuurlik, die landbou baie groot dele van die geliefde Kaapse Blommeryk vernietig; teen 2004 was daar slegs 4% renosterveld oor en die fynbos-ekosisteem is ook ernstig bedreig.

november 2015 volhoubaarheid 3In ’n poging om hierdie drastiese resultate teen te werk, het die wynbedryf  ’n bewaringsvennootskap aangegaan met die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika, Conservation International en The Green Trust, om die Biodiversiteit-en-wyninisiatief (BWI) te vestig. Hierdie vennootskap tussen die wynbedryf en die bewaringsektor, wat gerugsteun word deur die World Wildlife Fund, is gemik op die beskerming
van die natuurlike habitat, terwyl dit terselfdertyd wynprodusente aanmoedig en ondersteun om op ’n volhoubare wyse te boer. 

Een van die inisiatiewe wat deur die BWI begin is, is dat daar vir elke hektaar onder wingerd ’n addisionele hektaar natuurlike plantegroei vir bewaring toegewys moet word. Tot dusver is daar meer as 140 000 hektaar natuurlike omgewing bewaar en Suid-Afrikaanse wynmakers kry gevolglik wêreldwyd erkenning vir hulle produksie-integriteit, omgewingsvolhoubaarheid en -bewaring, terwyl hulle terselfdertyd van die wêreld se mees bekroonde wyne lewer.

Volgens die BWI-webtuiste is daar tans 160 wynkelders betrokke by hierdie program, en nog talle sluit gereeld by hulle aan. Voorlopers van die inisiatief sluit in Backsberg, Cloof Wine Estate, Delheim, Hidden Valley, Graham Beck Wines, La Motte, Vergelegen en Waverley Hills Organic Wines.

Suid-Afrika is ook uniek omdat dit die eerste land is wat regdeur die bedryf ’n stelsel aanvaar het om volhoubare wynboerdery te bevorder.  Geïntegreerde Wynproduksie (IPW) is ’n vrywillige omgewingsvolhoubaarheidskema wat in die laat 1990’s deur die wynbedryf in die lewe geroep is. Die produksiepraktyke op wynplase en in kelders word deur die raad geëvalueer en geoudit, en produsente met die IPW-stempel van goedkeuring dra die waarborg dat hulle voldoen aan internasionale kriteria vir omgewingsvolhoubaarheid in die wynbedryf, en dit sluit in die ‘Omgewingsvolhoubaarheidsbeginsels van die Wêreldwye Wynsektor’.

Spier-wynlandgoed

Spier is ook ’n voorstanderlid van die Biodiversiteit- & Wyninisiatief, en volg die kriteria van die Geïntegreerde Wynproduksie (IPW). Hoewel die Spier-wynlandgoed in Stellenbosch een van die grootste wynlandgoedere en toeristebestemmings is, is dit een van die volhoubaarste bedrywe met ’n sterk fokus op etiese boerderymetodes en die opheffing van die gemeenskap. Trouens, die landgoed is die eerste Suid-Afrikaanse sakeonderneming wat die Fairtrade-akkreditering ontvang het. 

Spier gebruik verantwoordelike en volhoubare boerderypraktyke en verkry soveel voedsel as moontlik direk van die plaas, terwyl hulle ander voedsel van betroubare, omliggende plase bekom.

Buiten die wingerde het die landgoed groot stukke grond waarop daar geboer word. Diere soos vee en hoenders word op die weiding grootgemaak, wat bydra tot grondvrugbaarheid en vleis en eiers lewer wat op etiese wyse verkry is.  Die vee vreet gras en kry geen hormone of antibiotika nie; die henne se eiers is egte plaaseiers aangesien hulle vry op die grond rondloop. Die organiese groentetuin voorsien aan die restaurante, en die spyskaarte word volgens die seisoene aangepas sodat slegs vars, plaaslik verboude vrugte en groente gebruik word. Slegs vis was gegradeer word as die ‘volhoubaarste’ deur die Suid-Afrikaanse Volhoubare Seekosinisiatief word by Spier se restaurante bedien. Om biodiversiteit te lewer, balanseer die plaas wingerdbou en voedselproduksie met die aanplant van ’n groot hoeveelheid inheemse struike en bome.

Boonop word 95% van die afval en 100% van die water herbenut; daar is waterbesparende toestelle in die storte, wasbakke en toilette oral op die plaas aangebring; en waar ook al moontlik word natuurlike en energiebesparende beligting gebruik. Hulle het selfs vullisdromme van herwinde wynvate gemaak en ligte van herbenutte bottels.

Spier is ook baie betrokke by gemeenskapsontwikkeling, wat projekte insluit soos die Lynedoch-skool, Frieda’s Vine en die Treepreneurs Project, wat mense in die verarmde plaaslike gemeenskappe aanmoedig om bome te plant in ruil vir noodsaaklike goedere.

november 2015 volhoubaarheid 4

Laibach-wynlandgoed

Laibach was een van die eerstes wat volhoubaarheidspraktyke begin gebruik het, toe hulle in die jaar 2000 hulle wingerde geleidelik oorgeskakel het na organiese boerderymetodes. Van die praktyke was die uitskakeling van giftige landbouchemikalieë en die vermindering van hoogs oplosbare sintetiese kunsmisstowwe, die toevoeging van ’n wurmplaas, grondboupraktyke, die herwinning van mis en ander afvalprodukte en die verkwikking van grond met organiese materiaal. november 2015 volhoubaarheid 5Die ingesteldheid hier is om wyn te produseer met minimale ingryping. Om dit te vermag, gebruik hulle materiaal en praktyke wat die ekologiese balans van natuurlike sisteme bevorder en die verskillende dele van die boerderysisteem as ’n ekologiese entiteit te integreer. Die plaas gebruik geen besproeiing nie, maar vertrou op die ryk, rooi kleigrond om die wortels sterk en gesond te hou.

Laibach is ook trots daarop dat geen breimiddels wat van diere verkry word, soos gelatien, kaseïen of albumien in hulle organiese wyne gebruik word nie en dat hierdie wyne nou gelys word in die South African Vegan Directory. Die landgoed is ook lid van die BWI.

november 2015 volhoubaarheid 6

Neethlingshof-landgoed

Nog ’n BWI-lid en voorstander van volhoubaarheid is die Neethlingshof-landgoed. Die plaas is verbind tot eko-volhoubaarheid, en het ’n biodiversiteitsprogram op hulle grond in ’n poging om die natuurlike balans te herstel en natuurlewe (insekte, voëls, slange, klein soogdiere en rooikatte) na die area terug te lok. 28 Ha van die 110 ha-wynplaas is ook opsygesit vir bewaring en die herplanting van die inheemse renosterveldspesies.

Pleks van skadelike plaagbeheer en gif te gebruik, volg die plaas eerder die meer natuurlike, volhoubare roete. Tarentale, wat eens in groot getalle hier gewei het, is teruggebring, terwyl sekere beboste areas ongerep gelaat is om die rooikatte na die plaas terug te lok uit die heuwels van die naasliggende bewarea.

Hierdie pogings werp reeds vrugte af, en daar is tekens dat die rooikatte op die landgoed aanteel. Ter viering hiervan het Neethlingshof hulle Caracal Cabernet Sauvignon/Cabernet Franc/Petite Verdot/Merlot-versnit bekend gestel, wat reeds ’n  John Platter-, Michelangelo- en Decanter-toekenning ontvang het.

Die landgoed het ook ’n inisiatief begin om uile na die plaas terug te lok as ’n natuurlike manier van plaagbeheer en om ook die verdere gebruik van gifstowwe te vermy. Die uitdaging was om die uile sover te kry om weer te broei en ’n inwonende bevolking te vestig. Daar is begin met ’n program om uilpale op die wingerde op te rig waar muise die meeste skade aangerig het. Sedert hierdie program bekend gestel is, het die muisgetalle al aansienlik afgeneem en kan uile weer op die plaas gehoor (en soms gesien) word. 

Ter viering hiervan is die enkelwingerd pinotage, voorheen bekend as Lord Neethling, herbenoem na The Owl Post, en het dit, onder andere, ’n Veritas- en ’n Top 100-toekenning ontvang.

november 2015 volhoubaarheid 7

Backsberg

Backsberg is nog een van die Boland omgewing se wynlandgoedere wat daartoe verbind is om op ’n groen en volhoubare wyse te werk, en hulle het ’n omgewingsdeskundige asook ’n tuinboukundige op die perseel. Hulle staan bekend as Backsberg se ‘groen span’ en werk hard om ’n paradigma-verskuiwing te skep na volhoubare sorg vir die omgewing.

In 2006 is daar opdrag gegee vir ’n omgewingsbestuursplan vir die plaas, wat al die aspekte van die besigheid geanaliseer het en tasbare maniere geïdentifiseer en in werking gestel het waarop die plaas die natuurlike omgewing kon verbeter.

Groot inisiatiewe is begin om energieverbruik te verminder, wat energiebesparende toestelle insluit, asook maniere om natuurlike beligting te gebruik.

Die dieselstookketel is vervang met ’n osoonopwekker, en die fermentasietemperatuurbeheer van rooiwyne is heeltemal verander, met water van die dam wat nou gebruik word om die wyn tot die gewenste temperatuur af te koel. 10% van die grond is opsygesit vir nie-ontwikkeling en verskeie bedreigde plantspesies is al van uitwissing gered.

Die plaas het ook hulle voertuie verminder en groot trekkers vervang met kleiner, meer omgewingsvriendelike voertuie.

In 2010 het Backsberg die Tread Lightly- reeks wyne bekendgestel wat bemark word in plastiekbottels (PET) wat ten volle herwinbaar is.

Backsberg is lid van die Biodiversiteit- en Wyninisiatief en het Geïntegreerde Wynproduksie- (IPW) status ontvang. Hulle het ook die eerste wynprodusent in Suid-Afrika, en een van slegs drie ter wêreld geword wat koolstof-neutrale status verkry het deur hulle koolstofemissies met welslae uit te skakel.

Boschendal-wynlandgoed

Die plaas Boschendal is ook lid van die BWI en is vinnig besig om die 16de BWI-voorstander te raak. As deel van hulle omgewingsbestuurstrategie het hulle met ’n massiewe projek begin om van uitheemse plante ontslae te raak en meer as 100 hektaar is reeds besig om weer na die natuurlike toestand terug te keer.

Die wynlandgoed voldoen ook aan alle wynbou-, kelder en bottelary-standaarde soos uiteengesit deur Geïntegreerde Wynproduksie (IPW). Hulle het afstand gedoen van tradisionele bemestingprogramme en gebruik nou meer organiese en biologiese plaag- en siektebeheer, en hulle het hulle spuitbesproeiingstelsels vervang met baie meer doeltreffende druppers en Gereguleerde Tekortbesproeiing (RDI). 

Boschendal gebruik nou ook dekgewasse wat net elke drie jaar aangeplant word. Hierdie dekgewasse groei elke jaar deur saad van die vorige jare, wat grondlewe bevorder deur die opbou van organiese stowwe en voedingstowwe, en grondvog bewaar.

Die skuif in die rigting van meer volhoubare boerdery is oral op die plaas te sien, van lêhoenders wat vry rondloop tot die permakultuur van die groentetuine wat aan die Werf-restaurant voorsien, en die gesonde kudde Angus-beeste wat vry rondloop, word volgens etiese beginsels grootgemaak en voorsien die plaas van vars bief-snitte vry van enige hormone en antibiotika.

Die Nedbank Green Wine Awards

Daar is baie ander wynplase in die omgewing met soortgelyke inisiatiewe en programme as wat hierbo beskryf word, en boere in die streek kry al hoe meer erkenning vir hulle bydrae tot volhoubare landbou.

Die Nedbank Green Wine Awards, wat in 2009 die lig gesien het, erken en beloon gehaltewyne wat vervaardig word van organies verboude druiwe, asook wynprodusente wat bydra tot volhoubare boerdery en die bewaring van die Kaapse Wynlande. Hierdie jaar is 150 wyne in twee kategorieë beoordeel (Beste Wyne gemaak van Organies aangeplante druiwe en Beste Wyne in die Geïntegreerde Wynproduksiekategorie) deur ’n span beoordelaars onder leiding van die bekroonde wynbeoordelaar Fiona McDonald. Daar is ook toekennings gegee vir die Beste Boerderypraktyk, hoewel hierdie jaar se wenners deur hulle wynmaker-eweknieë aangewys is.  

Toppresteerders in hierdie kategorie is soos volg:

Leierskap in Gemeenskapsontwikkeling
Wildekrans-wynlandgoed
Leierskap in Eko-toerisme
Villiera Wines

Leierskap in Waterbewaring
Spier

Leierskap in Energiebewaring
Lourensford

Volhoubare vrugte-inisiatief

Vordering word ook in die vrugtebedryf gemaak, met die WWF- Volhoubare Vrugte-inisiatief wat volhoubare produksie regdeur die industrie in die Wes-Kaap bevorder (wat beste praktyke op die plaas insluit).

Die projek is daarop gemik om die produsente se omgewingsvoetspore en hulle impak op die omgewing te verklein deur te verseker dat daar voortdurend aanpassings gemaak word om meer veerkragtige boerderysisteme te skep en om energieintensiewe gebruike te vervang. Hulle doen dit deur boere en vrugteprodusente te voorsien van omvattende hulpmiddels om volhoubaarheid in vrugteboerdery te verseker.

Die inisiatief voorsien raadgewende uitbreidingsdienste, deelname aan studiegroepe vir boere, en verteenwoordiging in sleutelbedryf- en invoerverenigings.

In Suid-Afrika is die landbousektor ’n sleutelaandeelhouer in die bestuur van natuurlike hulpbronne. 80% van die land se grond is in landboubesit (wat kommersiële, kleinskaalse en opkomende boere insluit), en ongeveer 65% van al ons varswaterbronne word vir besproeiing in die landbou gebruik.

Maar gegewe die talle inisiatiewe, projekte en programme wat reeds ingestel is, blyk Suid-Afrika ’n leier te wees op die gebied van produksie-integriteit. Dit is belowend dat soveel organisasies, individue en produsente daartoe verbind is om in har-
monie met die omgewing te werk en langtermyn, volhoubare groei te verseker.

Die Universiteit van Stellenbosch se eerste studente in Volhoubare Landbou gradueer binnekort

Die Universiteit van Stellenbosch het in 2013 begin om nagraadse studies aan te bied in Volhoubare Landbou, en die eerste groep studente voltooi binnekort hulle twee jaar lange Meestersgraad. 

Professor Kennedy Dzama van die Fakulteit Landbouwetenskappe staan aan die hoof van die kursus en is opgewonde oor die impak wat dit reeds op die plaaslike gemeenskap het. 

“Ongelukkig word die meeste voedsel steeds op ’n onvolhoubare manier geproduseer”, sê Professor Dzama. “Ons produseer voedsel wat hierdie geslag kan verbruik, maar die volgende geslagte moet ook voedsel uit  presies dieselfde bronne kan produseer. Soos ons weet, is water, grond, ensovoorts beperk.”
Professor Dzama verduidelik dat ’n hoë vlak van navorsing en wetenskap nodig is om hierdie ingewikkelde probleem op te los – en dat alle navorsingsuitkomste met die bedryf gedeel moet word as ’n manier om werklik ’n verskil te maak. 

Die MSc is gegrond op ’n stelselsbenadering wat ondersteun word deur ’n trans-dissiplinêre beurs. Dit spruit voort uit die feit dat die boerderygemeenskap ’n stelsel is wat die somtotaal van sy komponente is – die grond, water, gewasse, diere, kapitaalbelegging, sosio-ekonomiese en ander komponente wat tot daardie holistiese stelsel hoort.

Die Meestersgraad behels ’n jaar se kursuswerk, gevolg deur ’n jaar van werk-geïntegreerde onder-rig, wat volgens Professor Dzama baie anders as ’n internskap is.
“Studente bring tyd deur op werklike werkende plase, assesseer die kwessies waarmee boere te kampe het en kom dan terug en werk daaraan om uitvoerbare oplossings te vind,” verduidelik hy.

Die eerste groep van vyf studente gradueer aan die einde van hierdie jaar; die tweede groep (in 2015) bestaan ook uit vyf studente, terwyl die 2016-groep tans op 15 staan, wat bewys dat volhoubaarheid al hoe meer belangstelling kry. Studente kan ook voortgaan en hulle PhD in Volhoubare Landbou voltooi.

Kleinhandelaars is besig om in te haal

Dit lyk of die kleinhandelsektor in Suid-Afrika – wat oor die algemeen tekortskiet ten opsigte van volhoubaarheid – eindelik ook hulle deel begin doen, met Pick n Pay en Woolworths wat die voortou neem.  Woolworths se Farming for the Future (FfF)-program is ’n inisiatief wat ondersteun word deur die World Wildlife Fund South Africa, en is daarop gerig om boere te help om gehalteprodukte te lewer terwyl hulle natuurlike hulpbronne bewaar en minder afhanklik is van chemiese bemestingstowwe, onkruid- en plaagdoders. Die meeste van hierdie kleinhandelaars se varsprodukteverskaffers boer volgens Farming for the Future-praktyke, met 96 plase wat onlangs geoudit is met ’n 86%-suksessyfer.

In 2014 is Pick n Pay se verbintenis tot volhoubaarheid erken toe hulle die Eco-Logic Award for Climate Change ontvang het; hierdie kleinhandelaar is ook vir die tweede keer ingesluit in die Dow Jones-volhoubaarheidsindeks.

In vissery is drie uit die vyf vernaamste kleinhandelaars verbind tot die Suider-Afrikaanse Seekos-inisiatief (SASSI) se Kleinhandelshandves en ondergaan hulle elke vier maande prestasie assessering; dit is Spar, Woolworths en Pick n Pay.