Volg ons op Facebook

Uitvoere - 'n oorsig

Written by  Schalk van der Merwe
| in Landbou
| December 14, 2015

Vergeleke met lande soos Argentinië en Paraguay, waar landbou-uitvoere ‘n massale 90% van hierdie lande se totale uitvoere verteenwoordig, is hul Suid-Afrikaanse eweknie verantwoordelik vir ʼn meer beskeie 14% van ons totale uitvoere.

Dit is nie soseer te wyte aan die onderprestasie van ons plaaslike sektor nie, maar te danke aan ons veelvuldige minerale rykdom.

Ook moet mens in gedagte hou dat ons landbou primêr ingestel is op voorsiening aan plaaslike behoeftes – dink maar aan graangewasse, kanola en rooivleis, maar ook dat bestaanslandbou in groot dele van ons land toegepas word. Dit verklaar waarom ons volgens die Verenigde Nasies (VN) die wêreld se 32ste grootste landbou-produsent is, maar slegs die 46ste grootste landbou-uitvoerder – vergelykbaar met lande soos Noorweë, Pakistan en Roemenië. Chile – wat in heelwat opsigte met ons om noordelike uitvoermarkte meeding – voer ongeveer twee keer soveel uit as ons, en die VSA – die wêreld se grootste produsent en invoermark - ongeveer 18 keer.

Maar wat presies word onder landbouprodukte verstaan? Om as’t ware appels en pere met mekaar te kan vergelyk, is dit miskien die beste om gebruik te maak van die stelsel wat deur die WCO (World Customs Organization) gebruik word om internasionale handelsprodukte mee te klassifiseer. In terme van die WCO word produkte in drie vlakke (‘tiers’) verdeel, naamlik vyf oorhoofse produk-klusters, wat bestaan uit verskillende produk-groepe, en dié weer uit individuele generiese produkte op die laagste vlak.

decjan2016 landbou 1Volgens die WCO-indeling beslaan landbou-uitvoere vyf klusters, naamlik primêre landbouprodukte; visserye-produkte; verwerkte voedselprodukte; verwerkte nie-voedsel produkte; bosbou-produkte; en agri-insette. In terme van die WCO HSO2- standaard, verteenwoordig hierdie vyf klusters tesame 391 produk-groepe, oftewel 1 456 LVB-produkte waarmee internasio-naal wettiglik handel gedryf kan word.

“Suid-Afrika is sedert 2002 ʼn uitvoerder van ongeveer 1200 LVB-produkte – met ander woorde naastenby 85% van alle uitvoerprodukte waarin internasionaal mee handel gedryf word.”

Wat voer ons uit?

Suid-Afrika is ‘n netto-uitvoerder van LVB-produkte. Ons voer tans ongeveer 2.4 keer meer uit as wat ons invoer. In terme van die HSO2-standaard was, of is Suid Afrika sedert 2002 ʼn uitvoerder van ongeveer 1200 LVB-produkte – met ander woorde naastenby 85% van alle uitvoerprodukte waarin internasionaal mee handel gedryf word. Nie sleg nie.decjan2016 landbou 2

Maar in terme van waarde en volume word ons uitvoerprofiel veral oorheers deur die primêre-, verwerkte voedsel- en bosbou klusters. Volgens die jongste statistieke van die Departement Landbou, Visserye en Bosbou (DAFF) was vyf van die top-tien produk-groepe (per waarde) wat in 2014 uitgevoer is in die primêre-kluster gesetel, twee in die verwerkte voedsel-kluster, en drie in die bosbou-kluster (sien tabel regs). Geen van die twee oorblywende klusters was onder die top-tien verteenwoordig nie.

Sigarette is ʼn belangrike verwerkte nie-voedsel-uitvoer na veral buurlande, maar ons voer wesenlik geen tekstielstowwe of klerasie uit nie. Suid-Afrika is verreweg ʼn netto-invoerder van die meeste van sy agri-insette, maar voer ook ʼn beperkte aantal produkte soos onkruid- en pesdoders uit.

“Suid-Afrika se top-10 produk-groepe het laasjaar bykans R100 miljard aan buitelandse valuta verdien.“

Suid-Afrika se top-10 produk-groepe het laasjaar bykans R100 miljard aan buitelandse valuta verdien, en 74% van die waarde van ons totale LVB-uitvoere verteenwoordig. Die top-2 produk-groepe was verantwoordelik vir 34% - ʼn koel R45.4 miljard – van verdienstes. Die eetbare vrugte- & neute-groep was verreweg die mees belangrike, en het R54.4 miljard - oftewel 23% van totale uitvoervaluta - in die sak gebring. Die drank-, spiritus- & asyn-groep was ongeveer die helfte minder (11%), terwyl die onderlinge verskille tussen die oorblywende agt betreklik kleiner was, met relatiewe bydraes van tussen 7% en 4%. 

Ongelukkig is geen DAFF-statistieke op produk-vlak beskikbaar nie. Die VN se Voedsel en Landbou-Organisasie (FAO) se FAOStat-databasis bied wel omvattende vergelykende invoer- en uitvoer-statistieke per land en landbouproduk. Die datastel fokus op primêre en verwerkte landbouprodukte, en sluit ongelukkig nie data vir visserye- en bosbou-produkte in nie. Alhoewel die inligting ietwat verouderd is – 2011 is die mees onlangse omvattende oorhoofse datastel – bied dit steeds ʼn goeie blik op die relatiewe belangrikheid van ons grootste uitvoerprodukte.

Volgens FAOStat was Suid-Afrika se mees waardevolle individuele uitvoerprodukte in 2011 mielies, wyn, lemoene, tafeldruiwe en appels (sien tabel regs). Uitvoere is oorheers deur produkte van plantaardige herkoms, met slegs een van dierlike herkoms - vetwol - onder die top-20. Slegs een nie-eetbare plantaardige produk – sigarette – het onder ons top-20 landbou-uitvoerprodukte getel. Ons is ‘n netto-invoerder van beesvleis, skaap, vark en hoender, en voer net klein hoeveelhede na veral buurlande uit.

Mielies was ons mees waardevolle uitvoerproduk, en verreweg die grootste uitvoerproduk in terme van volume. Maar andersins beklee graan- en ander akkerbou-produkte – verwer-kings van suikerriet, sonneblomsaad en sojabone – slegs plekke in die laaste kwartiel. Alhoewel Suid-Afrika relatief kleinerige hoeveelhede koring na buurlande uitvoer, is ons by verre ʼn netto-invoerder van koring – meer as die helfte van koring vir eie gebruik word ingevoer. Ons is ook ʼn netto-invoerder van gars, hawer en rys. Hoewel Suid-Afrika nie self rys verbou nie, is ons ʼn uitvoerder van verpakte rys na buurlande en Taiwan.

Soos mens reeds verwag was, produkte van die eetbare vrugte- & neute-groep verreweg die belangrikste. Uit die top-20 produkte, was 9 lede van dié groep. Sitrus, tafeldruiwe, steen- en kernvrugte was by verre die belangrikste bydraende produksie-sektore, met nis-neute ook belangrik. Laasgenoemde is veral te danke aan ons makadamia-bedryf wat die afgelope paar jaar Australië verbygesteek het om nou die wêreld se topprodusent te wees. Verwerkte produkte van druiwe (wyn, distillate) en steenvrugte (ingelê, vars & eetgereed) was ook onder die top-10 verdieners.

“Met die uitsondering van avokadopere is ons ʼn betreklik onbeduidende uitvoereder van subtropiese vrugte.”  

Geen subtropiese vrugte of hul verwerkte produkte het onder ons top-20 uitvoere getel nie. Met die uitsondering van avokadopere is ons ʼn betreklik onbeduidende uitvoereder van subtropiese vrugte. 

Die belangrikheid van die nie-subtropiese sektore is natuurlik verstaanbaar as mens in gedagte hou dat die meeste van ons mees gesogte uitvoerprodukte seisoenaal in aanvraag is. Hierdie is boordprodukte wat meestal in gematigde-streek Europese, Asiese of Noord-Amerikaanse lande self verbou word – dinge soos appels, pere, druiwe, lemoene, suurlemone - maar met seisoenale produksie-gapings in die winter. Ons ding daarom meestal met ander suidelike halfrond-produsente – Argentinië, Brasilië, Chile, Peru, Australië, en Nieu-Seeland - mee om teen-seisoenale gapings in hierdie, meestal welvarende markte te vul. Ook verwerkte produkte – byvoorbeeld lemoensapkonsentraat en pomelosap – is seisoenaal belangrik om plaaslike produksie in hierdie noordelike lande – soos die VSA - aan te vul. 

Tafeldruiwe is miskien die beste voorbeeld. Die mees aantreklike verdienstevenster vir ons plaaslike en ons ewe-aansienlike naburige Namibiese bedrywe is wanneer tafeldruiwe nêrens meer in die noordelike halfrond geproduseer word nie – November en Desember. In die aanloop tot Kersfees is daar juis ‘n groot aanvraag en vanselfsprekend is dit ook baie eksoties, want dis die eerste geslag Europeërs en Amerikaners in die geskiedenis wat hierdie vrugte vars op die Kerstafel kan hê.

“Volgens die FAO tel ons onder die wêreld se top-10 produsente van mielies, le-moene, appels, tafeldruiwe, vetwol, pere, neute (makadamia), suurlemoene, pomelo’s en pruime.”

Rangwaarde

Hoe vaar ons vergeleke met ander lande? Volgens die FAO tel ons onder die wêreld se top-10 produsente van mielies, lemoene, appels, tafeldruiwe, vetwol, pere, neute (makadamia), suurlemoene, pomelo’s en pruime.

decjan2016 landbou 4Voorts tel Suid-Afrika ook onder die wêreld se top-20 produsente van ʼn aansienlike aantal verdere produkte waarop in kleiner maat mee handel gedryf word. Weer eens is die meeste produkte vars of verwerkte druiwe (rosyne, sap), steenvrugte (appelkose, perskes & nektariens), kernvrugte (appel-sider) en sitrus (veral pomelo-produkte, maar ook lemoensap). Hierdie keer sluit die lys ook ʼn subtropiese vrug in, naamlik avokadopere. Die totale hoeveelheid wat uitgevoer word, word egter verdwerg deur die volume van uitvoere vir tafeldruiwe, appels en sitrusvrugte.

Wol is die mees belangrike nie-plantaardige uitvoerproduk, met Suid-Afrika as beduidende uitvoerder van beide ontvette wol en wolafval. Die enigste eetbare dierprodukte waarin ons onder die wêreld se top-20 tel, is wildsvleis en skaapafval. Ons is veral ʼn beduidende produsent van wildsvleis.

decjan2016 landbou 5

Markaandeel

Hoe beduidend is Suid-Afrika se landbou-uitvoere in terme van totale wêreld-markaandeel? Ten spyte van die feit dat die waarde van ons uitvoere oor die afgelope twee dekades stewig toegeneem het – vanaf ongeveer R20 miljard in 1998 tot ʼn rapsie onder R140 miljard in 2014, het ons totale markaandeel sedert 1987 vanaf 0.87%  tot 0.53% gedaal.

Volgens die FAO het Suid-Afrika in 2011 ʼn 12% markaandeel in die wêreldhandel in lemoene gehad, 10% van dié in pomelo’s (‘grapefruit & pomelos’); 9% in dié van ingelegde perskes, 8% in dié van pruime en vetwol, 7% in dié van pere, grootmaat-wyn, en slagafval, en 6% elk in dié van suurlemoene, makadamianeute en tafeldruiwe.

Ander produkte waarin ons ʼn beduidende markaandeel gehad het, was bevrore kreef (5%), vrugtemengsels (5%), sonneblom-
olie, en druiwesap (4% elk). Vir ʼn verandering presteer Suid-Afrika ook goed in terme van ʼn aantal geprosesseerde nie-voedsel-produkte soos sigarette (5%), skaapvelle (4%), essensiële suurlemoen-olie (3%), en beesvelle (2%).

Eenheidwaardes

Wat is die mees waardevolle van ons sleutel-uitvoerprodukte? Van die land se top-20 mees waardevolle uitvoerprodukte (in terme van totale waarde verdien), is sigarette (US$8 804/t), gevolg deur vetwol (US$ 7 038/t), nie-gespesifiseerde neute (US$6 504/t), gedistilleerde alkoholiese dranke (US$2 858/t), en wyn (US$ 2 020/t).   

Van die produkte met hoë gerealiseerde eenheidwaardes waarin op kleiner skaal mee handel gedryf word, sluit ongespesifiseerde droëvrugte, gedroogte appelkose en dadels in. Laasgenoemde drie produkte het almal meer as US$5000/t gerealiseer, dus aansienlik meer as enige ander vars vrugte, wyn of alkoholiese drank.

Ons mees waardevolle uitvoerproduk in 2011 was egter wildsvleis (US$10 372/t). Ons wildsbedryf kompeteer veral met Wes-Europese en Nieu-Seelandse produsente om ʼn beskeie maar peperduur spesialismark in Wes-Europa, veral in lande soos België, Duitsland en Switserland. Nieu-Seeland, die wêreld se topprodusent, het ʼn ‘morele’ bemarkersvoordeel bo ander produsente, in die opsig dat hul produksie op die uitskiet van indringerherte bestaan, en gevolglik omgewingsvriendelik is.

Vernaamste markte

Ons uitvoere was tradisioneel op ryk lande in die noordelike halfrond gerig. Vanaf die 1970’s tot die laat 1990’s was die Verenigde Koninkryk (VK), Duitsland, die VSA en Japan ons belangrikste markte. Globalisering en die Mandela-era het alles verander.

Baie nuwe markte het vir ons toeganklik geword. So byvoorbeeld het die aantal uitvoerbestemmings van 14 in 1992 na 78 in 2011 toegeneem – naas Indië was ons trouens die land met die grootste groei ter wêreld vir hierdie periode. Lande wat onder die vorige bestel ontoeganklik was - om politieke redes - is nou van ons belangrikste handelsvennote: ons buurlande (SAOG), die res van Afrika, Sjina, Skandinawië, selfs Rusland. Terwyl tradisionele eerste-wêreldmarkte steeds belangrik is en bedien word, verskuif die fokus toenemend na die res van Afrika en Asië.

Alhoewel landbou ʼn fundamentele rol in baie Afrika-lande speel, is die kontinent ʼn netto-invoerder van landbouprodukte. Afrika se globale markaandeel aan uitvoere is ongeveer 2.6% - waarvoor Suid-Afrika vir meer as 25% pa staan (0.53%). Oor die afgelope dekade het uitvoere vinniger as invoere gegroei, maar die waarde van invoere oorskry steeds dié van uitvoere. Brasilië is in dié stadium die kontinent se grootste verskaffer. Brasilië lewer veral basiese middele soos suiker, mielies, bevrore hoender en hoenderafval. Frankryk, die VSA, Sjina en Thailand is die ander groot uitvoerders na Afrika, elk met ʼn aandeel van tussen 11% en 4%.

Van die Afrika-lande, is slegs Zimbabwe en Mosambiek lande wat die afgelope vyf jaar konsekwent onder die top-10 Suid-Afrikaanse uitvoerlande getel het. Namibië, Botswana, Lesotho en Swaziland is almal nuut, met uitvoere na dié lande wat sedert 2013 met tussen 448% en 488% toegeneem het. Aan die ander kant het Zambië, Kenia en Angola in hierdie vyf-jaar-periode in belangrikheid afgeneem. Angola en Kame-roen bly steeds belangrike invoerders van Suid-Afrikaanse visserye-produkte.

Die VK, Nederland, Zimbabwe en Mosambiek was konsekwent onder ons top uitvoerbestemmings in die vyf-jaar-periode tot en met 2014. Hierdie periode het veral ʼn groei in die belangrikheid van uitvoere na Sjina gesien, terwyl tradisionele markte soos Duitsland, die VSA en Japan in belangrikheid afgeneem het. Angola, Zambië, die Verenigde Arabiese Emirate (UAE), Meksiko en Indonesië was van episodiese belang gedurende hierdie periode.

Ontluikende en kwynende markte

Vergeleke met syfers vir 2013, was die land se belangrikste groeiende markte  in 2014 Hongkong (Vrye Ekonomiese Sone), Sjina en Zambië. Uitvoere van suurlemoene na Hongkong het met 436% toegeneem, dié van lemoene met 84%, en dié van tafeldruiwe met 64%. Met betrekking tot Sjina, het vismeel-uitvoere met ʼn skitterende 1172% toegeneem, terwyl dié van houtpulp (103%) en lemoene (58%) ook baie gesonde groei getoon het. Ons belangrikste groeiende uitvoerprodukte na Zambië was sojaboon-olie (331%), vrugtesap (74%) en verwerkte voedsel (36%).

Die mees beduidende kwynende markte was Japan (-19%), Frankryk (-19%) en Indonesië (-3%). Produkte wat veral hierdeur geraak is, was mielies (Japan), pomelo’s (Japan), houtpulp (Japan en Indonesië), brandewyn en wyn (Frankryk), afvalpapier (Indonesië) en appels (Indonesië). Kwynende aanvraag vir sitrus- en houtprodukte in tradisionele markte is egter deur-en-deur voor gekompenseer met uitvoere na Sjina en Hongkong.

Sleuteltendense

Waar staan ons nou? Syfers vir die langer termyn toon dat die waarde van Suid-Afrika se landbou-uitvoere oor die afgelope twee dekades aansienlik gegroei het. Baie van dié groei het in die periode sedert 2002 plaasgevind – gemiddeld 11% per jaar vir die 10-jaar periode 2002-2011. Alhoewel daar ʼn insinking na die finansiële krisis van 2008 was, het uitvoere teen 2011 goed herstel, en toon dit tans uitstekende groei. Die jongste beskikbare syfers is vir jaar-op-jaar groei van 2013 na 2014, en toon dat ons uitvoere met ʼn baie skaflike 37% gegroei het.

decjan2016 landbou 6

DAFF se statistieke toon voorts dat die totale waarde van ons LVB-uitvoere vanaf 1996 tot 2014 vanaf nagenoeg R30 miljard tot nagenoeg R140 miljard toegeneem het. Soos egter genoem, het ons totale markaandeel sedert 1983 met 0.34% gekrimp. Dit is veral te wyte aan globalisering met sy toenemend groter aantal mededingende produsente, maar ook  die reuse groei van markte soos Sjina. En natuurlik die ontwaking van die reuse Asiese en Indiese uitvoerbedrywe self.

2013-2014 het die grootste groei in ons uitvoere na Sjina ooit gesien, naamlik 38%. Vismeel, wol, sitrus en houtprodukte was veral in aanvraag. Danksy Sjinese aanvraag het houtprodukte die grootste groei van alle produkgroepe getoon, naamlik ʼn indrukwekkende 72%. Na afloop van Premier Xi Jinping se hoëvlak-besoek aan Suid-Afrika in die eerste week van Desember, kan verwag word dat ons uitvoere na dié land vir die afsienbare toekoms waarskynlik sal aanhou groei. Terselfdertyd kan ons danksy beloofde Sjinese hulp aan ander Afrika-lande – soos Zimbabwe en Kenia – waarskynlik skerper mededinging van hierdie lande ten opsigte van sekere produkte verwag.

Eetbare vrugte & neute

Hierdie produkgroep is al die afgelope 19 jaar Suid-Afrika se top LVB-uitvoergroep. Buitelandse verdienste het in 2014 R30.1 miljard beloop. Die waarde van groep-uitvoere het vanaf 2013 tot 2014 met 23% verstewig. Ten spyte hiervan is die groep se relatiewe aandeel aan LVB-uitvoere 2% minder as wat dit in 2012 was. Lemoene, tafeldruiwe, appels, suurlemoene en pere was verantwoordelik vir 66% van die groep se totale verdienstes in 2014. Vergeleke met 2013, het suurlemoene (97%) en tafeldruiwe (28%) die beste groei getoon.

Die top-vyf lande waarna Suid-Afrika in 2014 vars eetbare vrugte en neute uitgevoer het, was, in rangvolgorde: Nederland, die VK, Hongkong, die VAE en die Russiese Federasie. Uitvoere na Hongkong – hoofsaaklik dié van sitrus – het met 86% toegeneem, en dié na die VAE met 34%.  

‘Die twee produkte wat waarskynlik die mees emblematies aan Suid-Afrika is makadamianeute en pomelo’s.’

Die twee produkte wat waarskynlik die mees emblematies van Suid-Afrika is – waarvan ons die wêreld se swaargewig-produsent is - is makadamianeute en pomelo’s. Interessant genoeg is beide subtropiese gewasse, en is die swaartepunt van Suid-Afrika se produksie in die Laeveld en Limpopo gesetel. Met die uitsondering van sitrus en avokadopere is al Suid-Afrika se ander belangrike boordgewasse wesenlik plante van die gematigde Wes-Kaapse winterëenvalstreek (steenvrugte, kernvrugte en tafeldruiwe), of die Oranjeriviervallei (tafeldruiwe, dadels). Die Oos-Kaap is die land se belangrikste produsent van suurlemoene, koeler-weer lemoen-soorte, en sagte sitrussoorte soos nartjies en ander ‘easy-peelers’.

Suid-Afrika was in 2014 die wêreld se grootste produsent van vars pomelo’s, en ʼn belangrike verskaffer van pomelosap en –konsentraat. Pomelo’s is inheems aan die tropiese Karibiese Eilande, en een van die min kommersiële sitrussoorte wat nie inheems aan Asië of Oseanië is nie. Makadamianeute is die produkte van ʼn struikgewas wat inheems aan tropiese Queensland is, en ʼn lid van die Australiese vertakking van die protea-familie. Die plant is kommersieel veredel in Hawaii, en die VSA, Australië en Suid-Afrika is die wêreld se topprodusente van die immermeer-gesogte neute. Die afgelope drie jaar het Suid-Afrika met die wêreldkroon gespog, en ongeveer 12% van wêreldproduksie gelewer.

Ander belangrike uitvoerders van makadamianeute sluit Brasilië, Israel, Guatemala, Zimbabwe en Malawi in. Suid-Afrika voer ongeveer 90% van sy totale produksie in gedopte neute uit. Die VSA absorbeer ongeveer 31% van ons uitvoere, met Hongkong, Sjina en Nederland ander belangrike markte. Risiko’s verbonde aan oningeligte handel met Sjinese invoerders het vanjaar weer duidelik geword toe die Sjinese regering in Julie toegeslaan het op invoerders wat onder meer Suid-Afrikaanse neute via Hongkong en Viëtnam ingevoer het, ten einde Sjinese invoertariewe te ontduik. Dit het heelwat van ons niksvermoedende produsente - met aansienlike kontrakte in Sjina - in ʼn krisis gedompel.

Dranke, spiritus en asyn

Sedert 2006 is dranke, spiritus en asyn Suid-Afrika se tweede grootste uitgevoerde LVB-produkgroep. Die waarde van uitvoere het vanaf 2013 tot 2014 met 25% toegeneem, terwyl die groep se aandeel aan die land se totale LVB-uitvoere onveranderd op 11.5% gebly het. Die groep se top-produkte in 2014 was, in rangorde: wyn, etiel-alkohol, mineraalwater, appel-sider en bier. Tesame het hierdie top-5 73% van die groep se verdienstes ingebring. Die top-5 uitvoerbestemmings was die VK, Namibië, Duitsland, Mosambiek en Nederland. Vergeleke met 2013 het uitvoere na Mosambiek die skerpste toegeneem, naamlik met 74%. Interessant genoeg is ons op ons beurt die grootste invoerder van Namibiese bier - wat op sy beurt weer uit ingevoerde Suid-Afrikaanse gars gebrou word.  

Graangewasse

Danksy ons baie sterk mieliesektor, is Suid-Afrika ʼn netto-uit-voerder van graangewasse, alhoewel hy ʼn groot netto-invoerder van wintergraangewasse is. Die gerealiseerde waarde van die produkgroep het in 2014 VS$ 8.7 miljard beloop, en pa gestaan vir 6% van ons totale LVB-uitvoere. Groep-verdienstes het met ʼn stewige 27% gegroei vanaf die vorige jaar. Mielies was by verre ons belangrikste graan-uitvoerproduk. Ons was ook ʼn baie meer beskeie uitvoerder van koring na buurlande, en verpakte rys na Taiwan. Saam was hierdie drie produkte vir 93% van die groep se verdienstes verantwoordelik. Vergeleke met 2013, het uitvoere na Zimbabwe met 105% toegeneem, en dié na Taiwan met 42%.

Visserye

Omdat FAOStat nie visserye-statistieke insluit nie, het die bydrae van die visprodukte-kluster tot dusver onderbelig gebly. Suid-Afrika is ʼn netto-uitvoerder van seekosprodukte, maar redelike ‘small fry’ vergeleke met groot produserende lande soos Sjina, Japan, die VSA, Thailand en Spanje. Ons uitvoere berus grotendeels op ‘n handjievol finvis-, skaaldier-, skulpdier- en koppotige soorte. Ons waardevolste uitvoerprodukte is stokvis, Kaapse kreefsoorte en tjokka (inkvis), maar visfilette, perlemoen en vismeel lewer ook belangrike bydraes. Byna 85% van ons uitvoere kom van die Weskus en Suid-Kaap-streke.

Ons belangrikste seekos-uitvoerstreek is Europa, veral Suid-Europa. Spanje – een van die wêreld se grootste visetende nasies – absorbeer ongeveer 17.5% van ons uitvoere. Italië en Hongkong is die ander twee groot individuele markte, en absorbeer saam ongeveer 27.2% van ons uitvoere. Hierdie lande stel veral in lekkerbekkighede belang – dinge soos vis-filette, kreef, skulpvrugte en tjokka. Sjina is deesdae ʼn groot koper van ons vismeel. Groot invoerders van ons produkte in

Afrika is Angola en Kameroen.

Die stokvis-sektor is verreweg ons mees waardevolle vissery. Benewens stokvis lewer dit ook hoogwaardige byvangs-soorte soos koningklipvis, monnikvis en tongvis. Altesame genereer dié vissery ongeveer 50% van die waarde van ons visserye – ongeveer R5.4 miljard per jaar. Stokvis-filette is ook ons nommer een gespesifiseerde seekos-uitvoerproduk in terme van totale waarde -  maar ons voer ook ander stokvis-produkte uit. Altesame voer ons ongeveer 64% van ons stokvisvangs uit – ter waarde van ʼn fris R3.5 miljard per jaar.

Stokvis omsluit 18 soorte vis in die genus Merluccius, waarvan drie in ons waters gevang word. Ons stokvis-produkte word veral uitgevoer na Suid-Europese lande – Spanje, Italië, Portugal en Frankryk, maar ook na Australië en die VSA. Die VSA, Spanje, Australië, Argentinië en Peru is ons belangrikste stokvisprodusente. Ons is ʼn invoerder van minderwaardige soorte uit ander lande, soos Argentinië en die VSA.

Die Suid-Afrikaanse sektor is gesertifiseer in terme van die Marine Stewardship Council, en het daarom toegang tot die gesogte -  maar moeilik toeganklike – Amerikaanse en Skandinawiese markte. Namibië bedien die kleiner Duitse mark. Beide lande fokus veral op hoë-kwaliteit produkte met toegevoegde waarde, soos filette, en toenemend “PQ”-(prime quality) filette – tans so 8000 t/j.

Suid-Afrika se landbou-uitvoere sal na verwagting bestendig bly groei, veral weens toenemende verbruikersaanvraag uit ontluikende markte soos Sjina en Afrika. Hierdie groeiende aanvraag na voedselprodukte, sal kommersiële landbou in die toekoms nog sterker vestig as een van Suid-Afrika se belangrikste verdieners van buitelandse valuta.